Lees deur internet, klik hier >>
17 Januarie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Gedig vir die Nuwe Jaar
Ons dank aan die Argief vir hierdie gepaste bydrae om 2020 in te lei.  Hierdie anonieme gedig is in die 1897 almanak van die Young Woman’s Branch of the World Woman’s Christian Temperance Union gepubliseer.
2020 VBO program nou beskikbaar
Die volledige VBO (Voortgesette Bedieningsontwikkeling) program vir 2020 is nou beskikbaar. Dit sluit onder meer inligting oor konferensies, kwalifikasies, retraites, gemeentebegeleiding, predikantebegeleiding asook gestruktureerde VBO sessies in.

Laai dit hier af en beplan solank jou jaar. Maak seker dat FlashPlayer geaktiveer is op jou rekenaar of laai dit op jou selfoon af. Registrasievorms sal kwartaalliks uitgestuur word en sal ook vanaf Februarie elektronies beskikbaar gestel word.
Vir meer inligting, kontak VBO koördineerder
Bridget Leibbrandt by 021 8083624 of stuur 'n e-pos na bleibbrandt@sun.ac.za.

Koop koffie vir 'n goeie doel 
Badisa se Koffie is Omgee-projek is steeds volstoom aan die gang ter ondersteuning van verskeie programme in die Noord-Kaap, waarvan etlike op die sorg van gestremdes en bejaardes fokus. Hierdie programme word deur hul gemeenskappe ondersteun, maar in tye van swaarkry is hul dikwels die mees kwesbaar. Annemarie Bezuidenhout vertel hieronder meer oor die projek. 
Vir die prys van een pakkie koffie (wat net R66 kos), gee jy liefde, hoop en finansiële ondersteuning aan ‘n groep ongelooflike mense wat ons so baie van krag, dankbaarheid en geloof leer.  Koffiebestellings kan geplaas word by 021 957 7145 of coffee@badisa.org.za. 

SPG by Anglo beraad
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het einde verlede jaar aan die tweede Anglo American Tripartite Summit oor veilige en volhoubare mynbou deelgeneem.  Die beraad is deur Anglo American, vier mynvakbonde en relevante regeringsdepartemente by Gallagher Estate bygewoon. Braam Hanekom van die SPG was een van die sprekers.
Die fokus was onder andere gerig op die dinamika in nuwe (myn-) gemeenskappe en hoe ons denke sal moet skuif om gesonde en volhoubare gemeenskappe in die toekoms te vestig. Hoewel myngemeenskappe ’n unieke karakter het, het grootskaalse migrasie veroorsaak dat baie van die veranderende dinamika in gemeenskappe nou oral in Suid-Afrika aangetref word. Ons kan óf magteloos toekyk óf konkreet meewerk aan ’n nuwe en volhoubare, veilige toekoms. Kontak die Sentrum by spg@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Splinternuut in 2020 - die DinkJeug Podcast!
DinkJeug skop die jaar op 'n hoë noot af met die bekendstelling van hulle potgooi gemik op kategete, kleingroepleiers, jeugleiers en ander wat geloof help vorm by kinders en tieners.  Daar is hulpmiddels en toerusting vir geloofsvorming. Deel dit gerus met enige iemand wat by kinder- en tienerbediening betrokke is.  Dit kan maklik in MP3-formaat op Whatsapp aangestuur word. Gaan na DinkJeug Podcast op SoundCloud en luister sommer nou na die "intro podcast" - dit is ook op die webwerf en op DinkJeug se Facebook bladsy beskikbaar.  
Kontak jeug@sun.ac.za of 021 808 9050 indien jy vashaak! Predikante of jeugwerkers wat dit weekliks via Whatsapp wil ontvang, kan direk daarvoor inskryf by jeug@sun.ac.za.
Woon gerus die #imagine2020 inligtingsessie op 20 Januarie van 09:00-12:00 by Communitas in Stellenbosch by vir meer inligting of as jy deel van die span wil word. RSVP teen 17Januarie by jeug@sun.ac.za
DinkJeug woeker in 2020:
Kerk van die Toekoms netwerk 2020
Bou die brug tussen die kerk en millennials... hierdie is die eerste van vier byeenkomste hierdie jaar om saam te dink oor die kerk van die toekoms. Ontmoet DinkJeug op 22 Januarie van 10:00 - 13:00 by Bootleggers koffiewinkel in Stellenbosch.  VBO punte word toegeken. RSVP teen 20 Januarie by jeug@sun.ac.za om deel te word van die netwerk en om die leeswerk vir die gesprek te ontvang.
Jeugbediening inligtingsessie
Die Taakspan: Jeug- en Familiebediening nooi belangstellendes uit om te kom luister na die nuutste tendense in jeugbediening. Kry ook hulpmiddels en inligting wat jou in jou gemeente kan help.  Maak 'n nota in jou dagboek vir Dinsdag 28 Januarie van 09:00 - 15:30.  Die sessie word by Communitas in Stellenbosch aangebied en VBO punte kan verdien word.  Bevestig asseblief bywoning teen 20 Januarie deur 'n e-pos aan jeug@sun.ac.za te stuur.
EKOLOGIE
Hoe praat ons met mekaar oor klimaatsverandering – veral as ons van mekaar verskil?
Ons het nodig dat wetenskaplikes hul standpunte op so 'n wyse stel en verdedig, sodat ons wat nie wetenskaplikes is nie ingeligte en nugter besluite kan neem wat op feite gebaseer is. Niemand van ons het egter die reg om diegene van wie ons verskil, te verkleineer, verdag te maak en hul integriteit te bevraagteken nie. Watter uitgangspunte moet ons dan volg? Lees meer hier.
Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
Miljoen spekbome vir wynplaas
Die bekende Boplaas in die Karoo beoog om oor die volgende vyf jaar 'n miljoen spekbome te plant om te help om klimaatsverandering teen te werk. 
Volgens Rozanne Nel (regs) word spekbome (Portulacaria afra) as ’n wonderwerkerplant beskou omdat dit baie doeltreffend is om koolstofdioksied in suurstof om te skakel.  Spekbome is een van die doeltreffendste koolstofneerleggers ter wêreld en ‘n enkele boom kan tonne koolstof in die grond neerlê. Navorsing toon dat die wereld tans 1331 ton koolstofdioksied per sekonde produseer. Boplaas beplan om binne die volgende vyf jaar nog ‘n miljoen spekbome op die plaas aan te plant.
Lede van die publiek kan gratis spekboomsteggies op die plaas of by hulle proelokaal in Klein-Brakrivier afhaal.
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae
Versoeningsete in Swellendam
Swellendam het 2019 op 'n gesellige noot afgesluit met 'n versoeningsete waarheen alle Christelike gemeentes op die dorp, sowel as van Buffeljagsrivier en Zuurbraak uitgenooi is.  Ongeveer 22 gemeentes het hulle geestelike leier en 'n afgevaardigde na die geleentheid gestuur (foto's onder).  Gawie Gouws skryf: "Ons het onderleiding van Michelle Boonzaaier mekaar letterlik in die oë gekyk en gepraat oor hoe ons nader aan mekaar kan kom. Ons het saamgeëet, gepraat en saam die nagmaal gebruik. Dit was 'n geleentheid met baie risiko, maar die Gees het werklik gewerk en ons na mekaar laat luister en nuwe vriendskappe laat bou oor gemeentegrense heen."
Hoeksteenfees in Springbok
Die NG Gemeente Namakwaland (Klipkerk) hou van 24-26 Januarie 'n hoeksteenfees ter herdenking van die hoeksteenlegging van hulle kerkgebou wat op 25 Januarie 1920 plaasgevind het.  Die propvol kalender vir die feesnaweek sluit in ‘n sokkie en fliek vir die jeug op Vrydagaand, ‘n herdenkingseremonie om 10:00 Saterdagoggend gevolg deur ontbyt in die kerksaal.  Saterdagaand is potjiekos en stories op die spyskaart.  Sondagoggend word die erediens om 09:00 deur Steyn McCarthey behartig. 
Kaartjies is by kerksraadlede of die kerkkantoor beskikbaar.  Skakel die kerkkantoor by 027 712 2311 vir meer inligting.
Ysterplaat vier eenwording
Die gemeentes van Ysterplaat en Ysterplaat-Suid het op 1 Desember een geword.  ‘n Feesdiens word op Sondag 26 Januarie gehou om hulle eenheid te vier.  Die diens begin om 09:30 by Ysterplaat NG Gemeente in Bowerstraat. Alle oud-lidmate en oud-leraars word hartlik uitgenooi om die geleentheid saam te vier. Verversings sal na die diens bedien word. Ons wens hulle voorspoed toe vir die gesamentlike pad vorentoe.  
Opleidingsgeleentheid by Parow-Panorama
Parow-Panorama nooi ander gemeentes uit na 'n opleidingsessie wat op Sondag 9 Februarie aangebied sal word.  Skrywer van die ODOS reeks Fred Louw sal byderhand wees om insette te lewer hoe die reeks optimaal benut kan word.  Registreer asb. aanlyn teen 31 Januarie.  Kontak Stefan Fourie by 021 930 3100 vir navrae. 
Beaufort-Wes staan saam
Vroeg in Desember het gemeentes in die Beaufort-Wes omgewing 'n gesamentlike plaasbiduur by Meyerspoort bygewoon.  Kerksraadlede van die VGK Beaufort-Wes Oos was ook by die geleentheid en het 'n sangitem gelewer. 
Albertus van Zyl van NG Gemeente Gamka-Oos vertel:  "Met die byeenkoms het ons besef dat ons sáám in die droogte is en dit het ook ons geloof versterk!  Ons het almal mekaar nodig in hierdie krisistyd en ons is dankbaar vir elke skenking wat ons ontvang."
Nagmaal is bedien en elke vrou het 'n geskenkpakkie van die VLV se boksieprojek ontvang. 
PREDIKANTENUUS
Van der Westhuizens groet
Nico en Riana van der Westhuizen neem hierdie naweek afskeid van hulle gemeente in Loeriesfontein, nadat hy 'n beroep na Steytlerville aanvaar het. "Wat ‘n voorreg was dit nie om vir amper ag jaar deel van Loeriesfontein en sy mense te kon wees nie," skryf Nico. Lees Nico se afskeidsbrief hier. Ons beste wense vergesel Nico en Riana met hulle verhuising.
Engelbrechts word ontvang by Melkbosstrand
Faani  Engelbrecht word op Sondag 19 Januarie om 09:00 deur Gielie Loubser by die NG Gemeente Melkbosstrand as leraar bevestig en lewer daarna sy intreepreek.  Faani was vir vyftien jaar by Goodwoodpark.  Ons wens hom en sy vrou Hanneke en dogters Anrika, Luhani en Niané hartlik welkom.

Gordonsbaai verwelkom Botes-familie
Johan Botes is opgewonde oor familiebediening en is ook deel van die Wes-Kaapland se sinodale taakspan vir familie en jeug.  Vir die afgelope sewe jaar het hy sy roeping uitgeleef as aangestelde jeugwerker by NG Gordonsbaai. Johan is getroud met Adele, ‘n onderwyseres, en het onlangs die trotste pa geword van Jack.  
Johan word op 19 Januarie om 09:30 tydens die familiediens in die lofsentrum bevestig en sal daarna sy intreepreek lewer. Seënwense met jou bediening.
Parow-Welgelegen bevestig Jako Visser
Jako en Johannie Visser word vanjaar deel van die Parow-Welgelegen gemeente. "Ek is baie opgewonde oor die geleentheid wat moontlik gemaak is deur die sinode se internskapprogram. Ek sien met opwinding uit na die volgende twee jaar en kan nie wag om die reis saam met die Parow-Welgelegen span mee te maak nie. Ek gaan nietemin my Kenridge familie mis en is ook dankbaar vir die vorming wat daar plaasgevind het onder Willem Lötter." Jako word op 19 Januarie om 09:00 deur Alwyn Carstens en Divan Vrey bevestig en lewer sy intreepreek op 26 Januarie. Ons wens julle alle voorspoed toe.
Internskap vir Marizanne Pfeil
Helderberg Gemeente het vandeesmaand vir Marizanne Pfeil verwelkom.
"Ek is ongelooflik opgewonde oor my beroep by Helderberg. My spesifieke taak is die Hoop Geloofsgemeenskap en dit is vir my vreeslik opwindend om die mense te kan leer ken en saam met hulle 'n pad te stap. Die Geloofsgemeenskap het soveel potensiaal en dit is 'n voorreg om deel van hulle te kan wees," vertel Marizanne. 
Seënwense vir die pad vorentoe.
Paarlberg verwelkom Mardi Badenhorst 
Mardi Badenhorst begin vandeesmaand haar internskap by Paarlberg gemeente.  Sy lewer op Sondag 19 Januarie om 09:00 haar intreepreek.  Baie welkom in die Boland, Mardi.
Nuwe jeugleraar vir Sonstraal
Ruan Janse van Rensburg word op 26 Januarie om 09:00 as jeugleraar by Sonstraal gemeente bevestig.  Ruan is oorspronklik van Harrismith en het in Bloemfontein by Voortrekker Hoërskool matrikuleer voordat hy teologie by die Universiteit van die Vrystaat studeer het.  Sonstraal is sy eerste gemeente en hy voel sommer klaar tuis in die Kaap nadat hy sy nuwe kollegas ontmoet het. Welkom in die Kaap, Ruan en alle sterkte met jou bediening. 
Mullers verwelkom in Simondium
Nadia Muller word die naweek by NG Gemeente Simondium bevestig.  Sy skryf dat hulle baie opgewonde oor die skuif Wes- Kaap toe is. "Die Noord-Kaap was vir ons goed, maar dit is nou tyd om die stof af te skud en te verruil vir die Paarlvallei. Die besluit het nie maklik gekom nie, ons het baie gebid om op 'n punt te kom waar ons seker was die Here roep ons uit Prieska uit. Die waarheen was toe 'n saak van vertroue, dat die Here weet waar ons moet wees. Simondium was die eerste gemeente waarvoor ek aansoek gedoen het en dadelik het ons begin droom. Om die pos toe te kry, was ongelooflik. My man DJ was ook 'n predikant, maar het die kansel geruil vir die verhoog, so ook vir sy werk gaan die skuif Kaap toe baie beteken. Altwee ons kinders is ook reeds opgewonde oor die skuif, want ons het 'n naweek in die Kaap gaan kuier en die huis gaan wys." Mag julle as gesin die Kaap geniet.
GEBEDSVERSOEK
ALGEMEEN
Jaar van die Bybel
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier hulle 200ste bestaansjaar en het 2020 as die Jaar van die Bybel aangekondig. 'n Boekie genaamd Die Bybel Hoop vir Almal word tans na gemeentes versprei. Uitvoerende hoof Dirk Gevers skryf:  "Die Skrif, Ou en Nuwe Testament, is reeds vir eeue vir miljoene mense in elke deel van die wêreld en onder alle moontlike omstandighede, 'n bron van hoop. Die Bybel, God se lewende Woord, gaan steeds voort om, ten spyte van enige grense en beperkinge wat mense daar mag stel, deur die ewige gawes van geloof, hoop en liefde te inspireer. Vir die afgelope 200 jaar hier in Suid-Afrika, en 215 jaar wêreldwyd, is Bybelgenootskappe bevoorreg om 'n rol te speel om die Bybel toeganklik te maak en teen 'n bekostigbare prys beskikbaar te stel aan mense oraloor en onder alle omstandighede. Die Bybel bring werklik ware Hoop vir almal en dit is met groot blydskap dat ons graag hierdie boekie met jou wil deel in die hoop dat dit jou sal help om die lewende boodskap van die Bybel op 'n nog dieper vlak te ervaar. Soos die geval met die twee Emmausgangers (en terug na Jerusalem) is jou persoonlike reis met Gods Woord die sleutel!" Bestellings vir die boekie, wat ook in Engels beskikbaar is, kan by biblia@biblesociety.co.za gedoen word.
Raakgelees:  Oor onverwagse vrede en versoening
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf verlede week in Die Burger se Godsdiens Aktueel kolom dat vrede en versoening soms onverwags kom. Hy reflekteer oor Jean Paul Lederach se boek The Moral Imagination – The art and soul of building peace en vind talle raakpunte wat binne die Suid-Afrikaanse konteks geldig sou wees. "Ek is vas oortuig dat die bitter broos situasie waarin ons ons in Suid-Afrika bevind, deurbreek kan word wanneer gewone mense hul rol as vredemakers op voetsoolvlak begin verstaan," skryf Braam.  Lees die volledige artikel hier.
Nooi DoofblindSA na jou gemeente
Johan Pretorius van DoofblindSA vertel dat hulle graag na gemeentes uitreik om meer te vertel oor die wonderlike werk wat hierdie organisasie doen.  Nooi hulle gerus om julle gemeente, kinderkerk of katkisante toe te spreek.  Sien 'n video-onderhoud met Johan hieronder en kontak  Ryno Eksteen by 072 478 2547 of ryno@deafblindsa.co.za vir uitnodigings. 
Beurse nou beskikbaar 
Die Helpmekaar Studiefonds is ‘n maatskappy sonder winsmotief wat alreeds vir meer as 100 jaar studiehulp aan voornemende studente bied. Sedert 2011 kon gemiddeld 250 nuwe lenings per jaar toegestaan word.
Studente wat nog befondsing vir 2020 benodig, word aangemoedig om die fonds so spoedig moontlik te kontak by 021 930 8155.
Voornemende studente kan ook direk op hulle webtuiste aansoek te doen.


Eerstejaarskamp in Wellington
Voornemende studente van Wellington se Cape Peninsula University of Technology word hartlik uitgenooi om die eerstejaarskamp van 24-26 Januarie by te woon.  Die kamp word by die Bainskloof VCSV kampterrein aangebied. 
Gemeentes word gevra om hulle eerstejaarstudente aan te moedig om die kamp by te woon en hulle studieloopbane sodoende met 'n soliede fondasie te begin. 
Belangstellendes kan Lourens Bester kontak deur 'n e-pos aan lourens@wellingtongemeente.co.za te stuur.
International Bonhoeffer Congress 
The XIII International Bonhoeffer Congress will be hosted in Stellenbosch from 19-23 January. The full congress programme is now available online. The central registration desk is located in the foyer of the Theology building, with its main entrance on 171 Dorp Street. The desk will be open for registration on Sunday 19 January 2020 from 16:00-17:30 and on Monday 20 January from 08:00-09:00. During registration, you will receive your congress bag with a name tag and lanyard as well as a printed programme book. There is thus no need to print out the programme yourself. Please remember to wear your name tag and lanyard during the whole congress (evening events included). Day visitors can still complete a registration form on the website.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Missie Japan deel 2020 indrukke
Stéphan van der Watt skryf in Missie Japan se Nuwejaarsflits oor die sonsopkomsritueel waaraan baie Japanese deelneem om die nuwe jaar te verwelkom.  Hy vertel ook meer oor die begin van hulle akademiese kwartaal en hulle prioriteite vir die jaar.  Lees die nuusbrief hier
Ons wens die Van der Watt gesin 'n geseënde 2020 toe.
Lees Kix se eerste digitale nuusbrief
KiX Kinderbediening se eerste e-nuusbrief is hier. Dis propvol KiXpirasie, nuus oor hulle Kenia-projek, wenke hoe om 'n KiX-groepie te stig en die nuutste kwartaaltemas. Kliek hier om die nuusbrief te lees en stuur 'n e-pos na jeug@sun.ac.za indien jy dit elke kwartaal wil ontvang.
VAKATURES
Kommunikasiebeampte (voldagpos)
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) beskik tans oor 'n vakature vir 'n kommunikasiebeampte by die sinodale kantoor in Bellville. Uitstekende kommunikasievaardighede en vernuf met sosiale media sal 'n aanwins wees. Lees hier meer oor die vereistes van die pos. Stuur 'n volledige Afrikaanse CV teen 3 Februarie. 
Persoonlike assistent/admin koördineerder
Die geskikte kandidaat moet oor onder meer die volgende vaardighede beskik: goeie interpersoonlike en telefoonvaardighede; bewese taal- en skryfvaardighede (Afrikaans en Engels); die reël van vergaderings en 'n kennis van en aanvoeling vir die kerklike omgewing. Aansoeke sluit 30 Januarie - lees hier verder.
ACVV - nasionale bestuurder (ouer persone)
Aansoeke word ingewag vir ’n voltydse pos as nasionale bestuurder (ouer persone by die ACVV hoofkantoor in Kaapstad.  Vir die volledige posbeskrywing en diensvereistes, kliek hier.
Aansoeke sluit op Maandag 20 Januarie 2020.
Opwindende geleenthede by Bybel-Media 
Bybel-Media in Wellington is op soek na dinamiese lede om hulle groeiende span uit te brei.  Kliek vir meer inligting oor die posbeskrywing en vereistes vir 'n junior webontwikkelaar en junior videojoernalis.  Stuur jou CV aan adele@bmedia.co.za.  Sluituingsdatum vir aansoeke is Vrydag 24 Januarie. 
Geregistreerde verpleegkundige:  Stilbaai 
Stilbaai Bejaardesorg het twee poste beskikbaar vir geregistreerde verpleegkundiges.  Registrasie by SARV en goeie kennis van bejaardes is noodsaaklik.  Kliek hier vir meer inligting.
TEN LAASTE
Ons wens al ons lesers 'n voorspoedige en geseënde 2020 toe. Mag ons veral tydens hierdie Seisoen van Epifanie in Jesus Christus se voetspore stap en daagliks ons seëninge tel.
Spesiale sterke aan al ons opvoeders en leerders wat 'n nuwe kwartaal afskop.  Ons bid vir insig, geduld en sukses vir al die nuwe uitdagings van 'n nuwe jaar.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser 


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.