Lees deur internet, klik hier >>
22 Mei 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
In Memoriam
Nelis Janse van Rensburg skryf hierdie huldeblyk aan Professor Mary-Anne Plaatjies van Huffel: "Haar heengaan is vir ons almal ‘n reuseverlies. Sy laat op talle plekke ‘n leemte wat moeilik gevul sal word. Ons wil graag langs hierdie weg ons meegevoel betuig met ons broer, Dawid, hulle familie, met die VGK Kaapland en die VGKSA. Ons bede is dat die Here deur sy Gees vir julle sal troos en dra in hierdie moeilike tyd van verlies en hartseer.

Prof. Mary-Anne het as akademikus groot respek afgedwing. Haar doktorale proefskrif oor vroue in die kerk het ‘n blywende bydrae gelewer om die verontregting van vroue te karteer. Haar sensitiwiteit vir die menswaardigheid van alle mense is geïnformeer deur haar diepgaande studie en nadenke oor die onderwerp. Maar haar toewyding aan die menswaardigheid van alle mense het ook die stukrag van haar persoonlike oortuiging geniet dat God aan alle mense menswaardigheid gee. Haar tweede doktorale tesis was ‘n refleksie van haar omvattende kennis van die gereformeerde kerkreg. Sy het as akademikus baie bygedra tot die vorming van ons studente aan die Fakulteit Teologie, maar ook die groter akademiese wêreld verryk met met haar deeglike bydraes in vaktydskrifte, artikels, lesings en ander optredes. Haar kundigheid het oor ‘n breë spektrum gestrek. Sy het gesaghebbende bydraes gemaak oor die kerk se verantwoordelikhede ten aansien van die ekologiese krisis en die ekonomie en talle ander kontensieuse onderwerpe. Sy het die teologiese debat oor selfdegeslagverhoudinge met fyn onderskeiding  gevolg en met grasie binne die VGK daaroor gebalanseerde leiding gegee.

Ons sal haar mis as kerkleier. Ek het haar by meer as een geleentheid as voorsitter van ‘n VGKSA  sinode in aksie gesien, in Okahandja waar sy as eerste vroulike voorsitter verkies is in 2012 en in Kopanong in 2016. Haar kalmte, kennis van die kerkorde en weldeurdagtheid het almal in die vergaderings laat veilig voel. Selfs toe lede van die vergadering kwaad en opstandig was oor die eenheidsproses het sy met die grootste finesse die vergadering gelei. Haar geestelike en emosionele volwassenheid het my dikwels verstom.

Sy het ook ‘n deurslaggewende rol gespeel in die NG Kerk se hertoelating tot die Wêreld Raad van Kerke.  Dit het sy gedoen ten koste van die gewildheid wat sy in sekere kringe daaroor ingeboet het. Sy het prinsipieel oor sake gedink en haar nie van stryk laat bring deur kerkpolitiek nie. Sy het gestaan waar haar oortuiging haar geplaas het. So het sy die inisiatief geneem met die ontwikkeling van ‘n tussenorde vir die eenheidsproses tussen die VG en NG Kerk. Haar rol in die eenheidsgesprekke was deurslaggewend en rigtinggewend.

Ons het haar ook beleef as leier in die wêreldkerk. As Afrika-president van die Wêreld Raad van Kerke het sy haar stempel afgedruk, binne die sentrale komitee van die WRK, maar ook in ekumeniese liggame.

Mary-Anne het die merkwaardige vermoë gehad om haar standpunt duidelik te stel, maar terselfdertyd nie mense te vervreem nie, maar juis brûe na hulle te bou. Ek dink dit was haar outentieke toewyding aan Christus, haar dissipelskap, wat in haar verhoudings met haar studente, kollegas, lidmate en vriende en selfs diegene wat van haar verskil het, die deurslag gegee het. Haar liefde vir die Here en sy kerk het aan haar werk en mening gesag verleen. Voeg hierby haar deeglikheid en kennis, haar onvermoeide arbeid en omgee vir mense, en ‘n mens verstaan waarom elkeen van ons bevoorreg gevoel het om haar te ken en in haar dampkring te leef. Ons eer haar nagedagtenis en sal altyd aan hierdie baanbrekervrou dink as ‘n wonderlike geskenk van God aan sy kerk."
Barmhartigheid in aksie
'n Blitsondersoek wat deur Diaconia gedoen is, wys dat ons gemeentes waarlik barmhartig is soos ons Vader barmhartig is. Ons gemeentes dink in terme van netwerke en is goed onderweg met die vorming van omvattende netwerke. Tans is meer as 131 NG en VGK gemeentes by hulle plaaslike netwerke, wat bestaan uit ander gemeentes en nie-regeringsorganisasies, betrokke. Projekte fokus oorwegend op voedselsekuriteit met voorbereide kos, kospakkies en koopbewyse. Ondersteun asseblief die rampfonds sodat ons gemeentes kan help om hierdie krities belangrike uitreike vol te hou.
DinkJeug se hulpbronne vir Pinkster
DinkJeug het ’n verskeidenheid hulpbronne en idees vir gesinne om Pinkster tuis te vier. Daar is KIX se Kinderpinkster, die Hand in Hand huisgeloof Pinksterreeks, asook die Vier Pinkster Saam reeks,  wat daagliks op sosiale media uitgestuur kan word.
Sien grafika onder en besoek gerus DinkJeug se webwerf vir nog idees. 

Let’s Talk skop mooi af
Jaco Leeuwner van Arbeidsbediening het onlangs sy Let’s Talk-toep bekendgestel. Die gebruik van die toep is in Maart vanjaar geloods om ‘n geestelike aanlynplatform te skep en het alreeds baie goeie reaksie ontvang. 
Omdat die internet geen grense het nie en die Let's Talk-toep projek deur almal met internettoegang gebruik kan word, het dit die afgelope paar dae ook internasionaal aandag getrek met inwoners van 27 ander lande wat die platform besoek het.  Die meeste kykers van videogrepe was in die Wes-Kaap (482). Arbeidsbediening was bly om te sien dat selfone die gewildste medium was waarmee die toep besoek is, omdat meeste mense juis hierdie toegangsmedium daagliks saam met hulle dra. Jaco se vrou, Sandra, is ook deurgaans besig met beradingsgesprekke waarmee sy deur middel van die platforms mense ondersteun.   Sandra en Jaco  bestuur die projek tans vanaf hul grendelbestemming in Namakwaland
Die projek se jongste nuusbrief kan hier gelees word.
COVID-19 ruk teologiese opleiding in Afrika tot stilstand
Jurgens Hendriks, verbonde aan die Departement van Praktiese Teologie en Missiologie (Emeritus), Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch en programkoördineerder van NetACT, ‘n netwerk van meer as 50 teologiese kolleges en universiteite in Sub-Sahara Afrika, skryf hier oor hoe COVID-19 hierdie instellings raak. 
Die 2019 NetACT-groep tydens hul AJV in Nairobi, Kenia
Diaconia maak 'n lewegewende verskil
Dis wonderlik as ons nuus soos die volgende ontvang: “Canzibe congregation received COVID-19 support that amounts to R10 000 from Diaconia,” laat weet ds. Mountain van die VGK Canzibe gistermiddag. “We decided to buy food parcels for 24 families that were identified as the poorest of the poor.” Op die foto onder kan gesien word hoe die kospakkies uitgedeel word. Ons doen ‘n dringende beroep op bydraes tot Diaconia se ramphulpfonds wat al hoe belangriker gaan word om ons armstes van die armes te help oorleef in die komende maande. Bankbesonderhede: Naam: Diaconia, Bank: Nedbank, Rek nr: 1135900337, Takkode: 198765, Verwysing: Naam van individu/gemeente + RAMPFONDS
Selfoontoepassing vir kerk op pad
Die sinode van Wes-Kaapland is besig met die ontwikkeling van 'n selfoontoepassing. Die toepassing is veeldoelig en sal 'n platform vir gemeentes, sowel as sinodale diensgroepe wees. Die toepassing sal eersdaags by proefgemeentes uitgerol word en sal teen einde Augustus beskikbaar wees. 
Diaconia se SmartStart bring verligting in Noord-Kaap
Capespan Blue Hand berig dat hulle danksy Diaconia befondsing reeds 80 kospakkies direk aan SmartStart fasiliteerders en geregistreerde kinders in die Noord-Kaap kon verskaf het. Die pakkies is deur personeel van Capespan-plase verpak en in Kakamas, Lutzburg, Marchand en Vredesvallei naby Augrabies afgelewer. Familie-kospakkies is met addisionele fondse van Capespan ook aan 140 werkers en hulle gesinne in Mahikeng, Vryburg, Kuruman en Olifantshoek verskaf. Kinders van ongeveer 30 van hierdie gesinne is gewoonlik by SmartStart groepe op plase tydens die tafeldruiwe-seisoen.
COVID-impak op immigrante-lidmate
Dr. Christopher Munikwa, predikant van ons susterskerk in Zimbabwe, die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ), woon in Johannesburg en bedien ons RCZ-gemeentes in Gauteng en in die Wes-Kaap. Hy deel met ons die uitdagings waarmee hy en sy gemeentes te kampe het tydens grendeltyd. Hy het ook weer opnuut bewus geword van die diepere betekenis van die oproep tot mededeelsaamheid waarvan ons in die Bybel lees van die kerke in Masedonië. Lees hier meer. 
Geluk Wilmi!
Ons gelukwense gaan aan ons kommunikasiebeampte Wilmi Wheeler wat onlangs die prys as Jong Skrywer in die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie losgeslaan het. Wilmi is oorspronklik van Bultfontein in die Vrystaat en het in Maart by die sinode begin werk. Haar wendrama, die sielkundige riller Die Huisbesoek word Donderdag 21 Mei van 20:00 - 21:00 uitgesaai. Die bekende stemme van Rika Sennett, Cindy Swanepoel, Dawid Minnaar en Ria Smit kan onder die regie van Christelle Webb-Joubert gehoor word. 
Baie geluk met hierdie prestasie Wilmi.
GEMEENTENUUS
Blouberg woeker fluks
Thamar Jacobs van Blouberg Maatskaplike Dienste vertel dat hulle sedert die begin van die nasionale inperking bykans 13 000 maaltye bedien het. "Die getalle neem net toe, want selfs mense van buite herken nou die kerk se uitreikaksies. Die dinamika van ons hulpverlening het totaal verander. Dis kommerwekkend hoeveel middelklas families nou ook in nood is en by ons kom aanklop vir hulp. Ons ontvang ongelooflike ondersteuning uit ons bestaande netwerke van organisasies met wie ons al jare lank verhoudings opgebou het, maar kry ook nou waardevolle bydraes van privaat skenkers en maatskappye. Daar is 'n klein span vrywilligers wat hierdie reusetaak aanpak." Johann van Staden van Bloubergstrand-gemeente gesels oor die projek wat die groter Blouberg-gebied dek, maar ook uitreike na Philadelphia, Mamre en Atlantis behels.
Durbanville deel duisende kospakkies uit
Wynand Breytenbach van Durbanville-gemeente vertel in die video onder dat World United, die organisasie wat hy saam met Enrique Hermanus van El Shaddai gestig het, reeds 6500 kospakkies ter waarde van meer as R850 000 in die Durbanville omgewing uitgedeel het sedert die inperking begin het. Meer as 200 vrywilligers help om die pakkies bymekaar te sit en aan behoeftige gesinne af te lewer.
Ondersteuning vir internasionale studente
Die Internasionale Studentebediening is ʼn gesamentlike geloofsbediening van Stellenbosch Moederkerk/Kruiskerk en Helderberg Uitreik van Helderberg-gemeente. Jurie Goosen (op foto saam met sy vrou Magdaleen en Dr. Pascal van Rwanda) laat weet dat internasionale studente tydens die pandemie baie ondersteuning nodig het. “Omstandighede op Stellenbosch kampus met 4 200 internasionale studente het drasties verander en ons moes baie aanpassings maak. Diegene wat nie kon terugkeer na hul lande nie, is in ʼn situasie van isolasie en eensaamheid. Die internasionale erediens  is tydelik gekanselleer, maar sosiale media word benut om die gevoel van koinonia te behou. Bybelstudiegroepe en die erediens ontmoet aanlyn. Gedurende die week bly ons in kontak met mekaar deur WhatsApp boodskappe en so verhoog ons die omgee vir mekaar.” Lees Jurie se volledige skrywe hier
Waardering uit Oudtshoorn
VGK Môreson in Oudtshoorn is een van die gemeentes wat gebaat het by Diaconia se rampfonds. Christopher Maarman skryf dat hulle danksy die skenking kos aan 356 mense in 61 gesinne kon verskaf. Lidmate het ook bygedra en gebalanseerde kospakkies met kruideniersware en groente ter waarde van R200 is gepak. “Die gemeente wil langs hierdie weg vir Diaconia bedank uit die diepte van hulle harte uit.  Gesinne wat die kospakkies ontvang het, was hoofsaaklik gesinne wat nie enige vorm van staatstoelae kry nie, werkloses asook gesinne wat weens die COVID-19-pandemie nie kon gaan werk nie of wie se werksplekke selfs toegemaak het. Van die gesinne is groot gesinne wat uit tot 17 uitgebreide familielede bestaan. Op hierdie stadium help elke skenking om aan hulpbehoewende gesinne se behoeftes te voorsien.”
Kuilsrivier is bedrywig
Uit Kuilsrivier-Suid berig John Le Roux dat hulle kosprojek daagliks meer as 200 mense bereik. Nege verskillende kerke in die omgewing, liefdadigheidsorganisasies en plaaslike besighede span saam. Daar word selfs na 15 honde en 5 katte omgesien.
Die projek deel ook Bybels, maskers, serpe en musse uit. Bewusmaking rondom die Koronavirus en die belangrikheid van sosiale afstand en goeie higiëne word terselfdertyd gedoen.
'n Ywerige span van meer as 120 vrywilligers is betrokke.
Laat die klokke beier!
Johan Nieuwenhuizen, predikant by Worcester-Noord, het besluit om die kerk se klokke elke dag om 12:00 te laat lui tydens die Koronavirus-pandemie. Hierdie klokkespel duur drie minute en dien as ‘n bemoediging vir die gemeenskap. “Vandat die nasionale inperking aangebreek het in Maart, word die kerkklok elke dag om 12:00 gelui sodat ons herinner kan wees dat God leef, dat Hy in beheer is, dat Hy mag het met alles wat met ons gebeur, dat ons in hierdie tye nooit alleen is nie en veilig in die holte van sy hande is.”  
Die kerkklok dien ook as ‘n herinnering aan gebed. Nieuwenhuizen moedig mense aan om elke dag saam te bid vir Suid-Afrika en ons land se mense wanneer hulle die kerkklok hoor lui. 
Kenridge reik uit na weerlose mense
Kenridge-gemeente in samewerking met Sobambisana help om kos te versprei na die mense in die Crossroads-gemeenskap. Sobambisana (wat samesyn beteken) is 'n nie-winsgewende organisasie toegewy aan die ondersteuning en ontwikkeling van die mees kwesbare groepe in die gemeenskap. Die ondersteuning van gemeenskappe is baie belangrik vir hierdie gemeente. “Ons is dankbaar dat ons gemeente op so wyse ook betrokke kan wees om Sobambisana se hande sterk te maak vir hierdie belangrike taak.”  
V.l.n.r. Vatiswa Melane (Sobambisana projekbestuurder), Rachel Mash (predikant by die Anglikaanse kerk in Crossroads) en Melanie Thirion (voorsitter van Sobambisana). 
Oos, Wes, Hoop, bes
Hennie van Deventer van Wellington-Oos deel 'n storie van hoop uit sy ervaringe as sendeling in Malawi.
Porterville gemeenskap sorg vir mekaar 
Albé Theunissen van Porterville-gemeente gesels met Alletta Sittert, die koördineerder van die voedselprojek in die dorp. Hierdie projek het aan die begin van die grendeltyd behoeftige gesinne in die gemeenskap geïdentifiseer en gevra dat persone en besighede in die gemeenskap sal help om hulle te ondersteun in hierdie moeilike tyd.
Kyk die volledige onderhoud hier vir meer inligting oor die projek. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Badisa Trio - Maatskaplike werker, Bellville 
Badisa TRIO het ‘n voltydse betrekking vir ‘n maatskaplike werker om kinderbeskermingsdienste te lewer in die Bellville kantoor. Lees verdere posvereistes hier. Aansoeke sluit 26 Mei 2020. 
Badisa - Programbestuurder, Robertson 
Die Herberg kinder- en jeugsorgsentrum in Robertson adverteer tans vir 'n senior maatskaplike werker as programbestuurder vir vakkundige en kinderversorgingsafdelings. Lees verdere posvereistes hier. Aansoeke sluit 31 Mei 2020. 
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Alternatiewe vir kleefplastiek
Hierdie week gesels ons Groen Span se Marizanne Pfeil, predikant by Hoop Geloofsgemeenskap in Somerset-Wes, oor materiaaloortreksels as 'n alternatief vir kleefplastiek. Jy vermy die gebruik van plastiek en kan die oortreksels net so in die was gooi. Bio-afbreekbare plastiek is ook 'n opsie as jy nie anders kan nie. Kyk video onder.
Internasionale Dag van Biodiversiteit – 22 Mei
Hierdie week word die Internasionale Dag van Biodiversiteit herdenk. Die tema vir 2020 is: ons oplossings is in die natuur. Hierdie groter inisiatief, ingestel deur die Verenigde Nasies (VN) in 1993, moedig internasionale samewerking aan en handel oor verskeie onderwerpe wat verband hou met biodiversiteit. Hierdie onderwerpe sluit in kwessies soos volhoubare landbou, verwoestyning, voedselsekuriteit, volhoubare energie, stedelike veerkragtigheid, klimaatsverandering en die vermindering van ramprisiko’s.
Die VN moedig elke land aan om hierdie dag te benut en hulle bewustheid van biodiversiteit te verhoog. "Alhoewel daar ‘n toenemende erkenning is dat biologiese diversiteit van groot waarde is vir huidige en toekomstige geslagte wêreldwyd, word die aantal spesies aansienlik verminder deur sekere menslike aktiwiteite." 
Herfs en COVID-19 is ons leermeesters
“God het mens geword in Jesus van Nasaret, nie om ons van die dood te red nie, maar om ons van ons vrees vir die dood te red. Hy het nie die dood verwyder of tot niet gemaak nie, Hy het, soos Paulus sê, die dood se angel getrek (2 Kor 15:55). Vir homo sapiens het God die dood weer in perspektief gebring. Hy is nie die groot pretbederwer en oorwinnaar oor die lewe nie. Inteendeel, hy staan eintlik in diens van die lewe. Hy is die poort na 'n nuwe lewe." So verduidelik ons eko-korrespondent David Botha in hierdie week se bydrae. Lees meer daaroor hier.
PUBLIKASIES
CLF nou aanlyn
Die Christelike Lektuurfonds se aanlynwinkel is nou oop en bied 20% afslag op alle produkte gedurende die grendeltydperk!
Klik hier vir Christelike boeke, geloofsvormende materiaal, Bybels en nog baie meer.
Laai PDF-boeke vir Pinkster af
Bybel-Media het nou ‘n verskeidenheid aflaaibare boeke vir Pinkster beskikbaar. Die Gees maak alles nuut en Agente van die Gees neem lesers op ’n verkenningstog van die boek Handelinge, terwyl gee vreugde ’n leesreis van agt weke saam met Stefanus en Paulus is. Die boeke is in PDF-formaat beskikbaar en kan hier afgelaai word. 
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik op foto bo vir Missie Japan se jongste nuusbrief.
ALGEMEEN
Ontmoet Sam 
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het 'n video vrygestel om die belangrikheid van sosiale afstand te beklemtoon. Die animasiekarakter Sam verduidelik hoe die koronavirus kan versprei of beperk word. Klik hier om die video in enige van ons 11 landstale af te laai.
Haelstene in Mexiko lyk soos die koronavirus
Inwoners van Montemorelos, Mexiko is in rep en roer nadat haelstene wat soos die koronavirus lyk hulle stad getref het. Menigte bygelowige mense sien dit as ‘n teken vanuit die hemele dat die inwoners tuis moet bly tydens die Covid-19-pandemie, om sodoende verdere verspreiding heeltemal te staak.  
                                                                     
Meteoroloog en konsultant van die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO), Jose Miguel Vinas, sê dat sulke haelstene eintlik redelik normaal is.  “Tydens sterk storms, wanneer haelkorrels al redelik groot is, smelt baie van hulle saam of stukkies van die korrels breek af wanneer hul in die lug bots en vorm dan ysspikkels wat die haelstene ‘n stervormige vorm gee.” 
Applications now open for MTh programmes 
The Faculty of Theology at Stellenbosch University is now accepting applications for two-year Masters programmes in Practical Theology (pastoral care) and Clinical Pastorate commencing in 2021. Applications close on 31 October. Click here for more information.
TEN LAASTE
Ons wens al ons lesers 'n geseënde Pinkstertyd.

VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.