Lees deur internet, klik hier >>
27 Augustus 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Bybelsondag - 29 Augustus
Die Algemene Sinode het jare gelede die laaste Sondag in Augustus as Bybelsondag uitgeroep en dit word ook so op die kerkkalender ingesluit. Dit was uit dank gedoen omdat die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel op 27 Augustus in gebruik geneem is. Vanjaar word Bybelsondag deur die Bybelgenootskap, gemeentes en sinodes landswyd gevier op 29 Augustus.
Daar word gefokus op die Bybel en die invloed wat die Bybel op elke Christen se lewe het. Quintus Heine noem dat dit is ook ʼn tyd is wanneer ons vir die Here dankie sê vir al die vertalingsprojekte. "Dat ons ʼn Bybel in Afrikaans het en dat daar steeds nuwe vertalings gedoen word. Dit word gedoen sodat alle mense die Bybel in hulle eie taal kan lees. Daar is nog verskeie inheemse tale wat nog nie ʼn Bybel in hulle eie taal het nie. Op die oomblik is ons besig met die Khoisan tale Xun en Kwedam."
Besoek Bybelgenootskap se webtuiste vir hulpmiddels soos preeksketse, gebede en grafika.
Seksualiteit en intimiteit
Die Taakspan Gendergeregtigheid kyk na seksualiteit en intimiteit en deel die volgende hulpbronne vir die laaste Sondag van Vrouemaand. "Slegs een teksgedeelte uit die boek Hooglied is opgeneem in die RCL en dit is nou komende Sondag een van die tekste en die fokusteks van Woord en Fees. 'n Pragtige gepaste teks vir Vrouemaand, veral aangesien Hooglied een van die min dele in die Bybel is wat vanuit 'n vrou se oogmerk geskryf is. Jan Coetzer help met 'n artikel oor die belangrikheid van Hooglied - selfs vir kinders. Lees ook Mias van Jaarsveld se liturgiese en preekvoorstel wat hy vir Woord en Fees geskryf het hier.

Skildery: The Song of Songs deur Elena Kotliarker, Fine Art America
Barmhartigheid kring wyer uit
In die laaste week van Barmhartigheidsmaand gesels Badisa en Diaconia saam oor die onderwerp.
Dom Helder Camara, ‘n Brasiliaanse Rooms-Katolieke biskop, het in die 1960’s die volgende gesê:  “When I feed the poor, they call me a saint. When I ask why they are poor, they call me a Communist.”
In die kerk is dit makliker vir ons om van barmhartigheid as alimentasie (liefdadigheid) te praat as van barmhartigheid as geregtigheid (justice).  Vir Jesus was barmhartigheid die sleutel tot die karakter van God en dit behoort daarom ook sentraal te staan in die uitleef van ons geloof en ons aansluiting by die Missio Dei. Jesus verkondig 'n teologie van medelye gebaseer op 'n alternatiewe karakterisering van God se wese: "Julle moet soos God wees:  maak julle harte en julle hande oop vir ander mense.  Gee regtig vir hulle om." (Luk 6:36 Die Boodskap) Barmhartigheid na die karakter van God beteken dus dat dit progressief wyer en wyer sal moet kring en dat ons as sy verteenwoordigers daarin instrumenteel moet wees.
Deernisvolle optrede neem gewoonlik drie vorme aan: liefdadigheid, diens en geregtigheid. Alhoewel liefdadigheid 'n vrygewige aard toon, bly ons dikwels ver van diegene wat ons wil help. Diens bring ons egter van aangesig tot aangesig met behoeftiges. Dit kan 'n uiters transformerende ervaring wees wat verandering kan bring in ons natuurlike toestand van selfgesentreerdheid na mense wat toenemend onbaatsugtig leef. Alhoewel vrygewigheid soms tot selfbevrediging lei, word diens dikwels 'n baie nederige ervaring. Liefdadigheid en diens is beide persoonlike vorme van deernisvolle optrede. Hulle doel is om die gevolge van lyding in die wêreld te verlig. Geregtigheid, aan die ander kant, probeer die hoofoorsake van lyding uitskakel. 
Geregtigheid fokus daarom op die transformasie van die sosiale en ekonomiese strukture en stelsels wat armoede en lyding veroorsaak. Geregtigheid, sou ons dus kon sê, is die sosiale vorm van deernisvolle optrede. Dit is die politieke manier om die onder ons wat die minste het, meer as te versorg. Die verskil tussen liefdadigheid en diens aan die een kant en geregtigheid aan die ander kant is dit: liefdadigheid en diens poog om wonde te genees, terwyl geregtigheid poog om 'n einde te maak aan die ongelykheid en ongeregtigheid in ons samelewing wat in die eerste plek mense verwond.  
Dit maak dus van ons as kerk die deurwagter van die barmhartigheid van God en dit is ons taak om deurentyd onderskeidend te luister en onsself beskikbaar te stel om God se koninkryk te laat kom vir alle mense.
Badisa deel ook hierdie video waar hulle gesels met dr. Willie van Rooyen, voorsitter van die beheerraad, en Theresa Williams, ‘n aanneemouer oor hoe Magdalenahuis hoop gee vir swanger vroue en aanneemouers.
Noord-Kapenaars vind rus by Andrew Murray
Theunis Botha, PSD Predikantebegeleiding, het verlede week 'n groep predikante en hulle gades uit die Noord-Kaap ontvang by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington. Die groep het van so ver as Van Zylsrus, Kimberley, Vryburg, De Aar, Postmasburg, Deben, Kathu, Brandvlei en Upington gekom.
Esté van der Merwe van Caritas skryf as volg: "Introspeksie - 'n woord of gedagte waaraan min van ons aandag gee. By die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit het hierdie woord weer betekenis gegee aan die uitdrukking spirituele retraite. Hier waar jy jouself en God weer vind. Waar die alledaagse geruis en gedruis uitgeskakel word en jy weer een word met jou Skepper. Waar Hy jou siel weer vernuwe en jy een raak met God. Waar jy toegee aan die stilte en God weer hoor. Waar rus, stilte en afsondering weer vir jou tyd alleen gee met God. Waar jy werklikwaar weer spiritualiteit ervaar.
Droogte, COVID-19, personeelvermindering en die armoede in die plattelandse gemeenskappe plaas groot druk op die predikante van dié deel van die land, wat baie swaar kry. Hier kon hulle weer deel word van die ritme van die sentrum deur kapelsessies, stilte, gebed en afsondering voor die aangesig van God.
Dit was ook 'n emosionele tyd, aangesien ds. Henry Williams van De Aar-Noord sy vrou Erika aan die dood afgestaan het.
Andrew Murray se woorde bly ons by: 'May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God's presence. And not a moment without the entire surrender of  myself as a vessel for Him to fill full of His Spirit and His love.'  Wees stil en wees."
Deernisvol-Bewus Retraite
Die samelewing plaas geweldig baie druk op ons om te presteer. Ons dryf onsself om beter te wees, om take vinniger af te handel en in die proses vergelyk ons onsself met ander – net om nog moeër, meer opgewen en gestres te wees. Dit beïnvloed ons gesondheid  en laat ons uit voeling met die oomblik.
Tydens hierdie retraite word deelnemers blootgestel aan verskillende vorms van meditasie en bewuswordingsoefeninge onder leiding van Jan van Zyl van Stellenbosch Moederkerk. Hierdie oefeninge of dissiplines stel jou in staat om met deernis met jouself om te gaan en met ‘n groter teenwoordigheid by mense op te daag.
Gedurende die retraite word deelnemers met vaardighede toegerus om spanning, pyn en alledaagse uitdagings beter te hanteer. Leer hoe om in plaas van uit moeilike en uitdagende situasies te vlug, eerder daarna te draai en met deernis en grasie daarmee om te gaan. Ervaar hoe om ten volle teenwoordig en lewendig te wees in die oomblik.
Die retraite is van Maandag 13 September tot Vrydag 17 September. Vir predikante wat inskryf, kan dit deel uitmaak van hulle een gesubsidieerde retraite vir die jaar. Kontak vir Derine Piek by 021 873 2151 of admin@andrewmurraysentrum.co.za
Spesiale uitnodiging van Badisa
September is die tydstip op ons kalender wanneer Badisa se algemene jaarvergadering plaasvind. Hierdie jaar word u egter uitgenooi na ‘n besondere virtuele byeenkoms. ‘n Kerkdiens waar ons besin oor ‘n Oomblik in Tyd: Die verwarring, pyn, trauma, aksie en HOOP van ons COVID-19 realiteit
Die COVID-19-pandemie is meer as net ‘n virus – dit  het deel van ons leefwêreld geword. Ons huise, ons manier van werk en lewe, hoe ons kyk na mekaar, ons denke en geloof in God, asook ons emosies, hoop en gedrag word deur die pandemie geraak. Dit sluit al ons werksaamhede by Badisa in. Kom ons gee met hierdie byeenkoms erkenning aan waar ons is, asook die gepaardgaande verwarring, pyn, onsekerheid en trauma wat ons tans ervaar. Kom ons help mekaar ook deur die geleentheid om steeds te bly hoop. Sien meer besonderhede hieronder. Besoek Badisa op Facebook vir die skakel na die uitsending.
EKOLOGIE
Wêreldbiddag vir die Skepping: aanlyn
Die Seisoen van Skepping word op 1 September ingelei deur ‘n aanlyndiens, wat deur ons eie Groenspan se Dewald Hoffmann waargeneem gaan word. Klik hier om Woensdagaand om 19:00 in te skakel via Facebook Live @Together4Creation. 
Klein begin raak groot gewin
Een van ons Groenspanlede, Hanli Grové, dink vandeesweek diep oor waar en hoe ons op ons planet as enkeling ’n impak kan maak. Wat staan ons te doen as ons só deur die ekologiese uitdagings oorweldig word dat ons in moedeloosheid verval en dit ons totaal verlam. Hoe behoort ons hierdie berge van probleme aan te pak? Lees gerus hier meer. 
Tuinpret vir Lentedag
Lentedag is om die draai en KIX Kinderbediening gaan tuin toe en gee idees om ‘n badjie vir bye te maak. Dit is in Afrikaans en Engels beskikbaar op KIX se webblad.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
’n Hartlike ontvangs in Zimbabwe
Kobus Odendaal, diensgroepbestuurder van Getuienisaksie, was verlede week op besoek aan Zimbabwe waar hy namens die VGK Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland met van ons belangegroepe vergader het. Dit was weer eens ’n groot vreugde om sy broers en susters, waarmee hy oor die afgelope 14 jaar ’n mooi verhouding opgebou het, weer te kon sien en saam te ontdek hoe God op verrassende maniere elke dag werk. Lees meer oor sy besoek hier.
Foto (van links na regs) agter: Kobus Odendaal, Alwyn Francis, Deon Theron, George Pio. Voor: Margo Odendaal, ds. Juma en Christine Chanza.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Bespreek nou vir die 2021 Lentekonferensie
Die ses fakulteitwegbreeksessies vir vanjaar se Lentekonferensie is vandeesweek bekendgemaak. Die sprekers sluit in dr. Handré Janse van Rensburg en professors Johan van der Merwe, Christo Lombaard, Sias Meyer, Danie Veldsman en Jaco Beyers. Besoek die webwerf http://www.excelsus.org.za/ vir meer inligting en die volledige brosjure. 
Click on the image for more information. 
PREDIKANTENUUS
Parow-Panorama verwelkom Smalls
Alwyn Small het die beroeping na Parow-Panorama aanvaar en doen op 5 September sy intreepreek by die gemeente.
Alwyn kom oorspronklik van Germiston in Gauteng en het sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Vanaf 1995 - 2001 was hy die voltydse leraar by Jamestown-gemeente in die Oos-Kaap. Daarna was hy by Ballito Gesinskerk - NG Kerk Noordkus.
Alwyn en sy gesin (vrou Esna, seun Alwyn en dogter Alana) is baie opgewonde oor hulle Kaapse skuif. "Ons sien met groot verwagting en afwagting uit na ons bediening daar in Parow-Panorama. Van ons eerste ontmoeting met die gemeente het ek en Esna dadelik tuis gevoel en ook diep onder die besef gekom dat ons met groot vreugde en dankbaarheid saam as 'n span ons bediening sal voortsit. Ons het ook 'n warm liefde met oop harte ervaar. Dit is 'n voorreg om my roeping in die woorde van Jesaja 42:6 in die gemeente uit te kan gaan leef."
Ons wens die Small-familie seën toe vir hierdie nuwe hoofstuk op hulle lewenspad.
GEMEENTENUUS
Wellington-Oos kweek vir die Here
Die gemeente van Wellington-Oos het onlangs ‘n opwindende projek aangepak waar lidmate en gemeenskapslede die kans gehad het om die mooiste en mees bekostigbare plantjies vir hulle tuin te koop.
“Daar was ‘n planteliefhebber in die gemeente wat met die idee vorendag gekom het en ons het dadelik hierdie idee aangegryp en uitgevoer. Dit is so ‘n lieflike en positiewe projek wat baie mense met ‘n glimlag op die gesig laat! Daar was dadelik mense wat wou help, mense wat plante vir ons begin kweek het en selfs iemand wat vir ons spesiaal die pragtige houtrak gebou het vir hierdie kosbare projek!
Ons is so opgewonde oor hierdie projek en om te sien hoe dit ook 'community' bou! Die plante pronk weeksoggende op ons sentrum se stoep by NG Wellington-Oos.”
Kweek vir die Here is ‘n projek wat geld insamel vir die gemeente se kinderbediening en as daar weer kampe of iets soortgelyk van die kerk se kant af mag plaasvind, hoop hulle om ook ‘n paar kinders wat dit nie kan bekostig nie met hierdie fondse te borg. 
Trokkie-kerk, pannekoek en warm harte
Te midde van die COVID-19-pandemie het Helderberg-gemeente buite die boks begin dink oor eredienste. So is hulle Trokkie-kerk gebore en Deon Els deel die storie.
"Trokkie-kerk is ‘n inry-radio erediens wat gebore is uit ‘n diepe verlange na saamwees in die teenwoordigheid van die Here. Ons het besef dat ons gemeente se saamwees naas die erediens soos ‘n tweede hartklop funksioneer. Ons het nodig gehad om buite die gewone patroon van kerkwees te breek om uit te reik na ‘n wêreld in nood. Dis ‘n eenvoudige spasie waar gemeentelede in hulle motors verwelkom word met ‘n vriendelike geselsie, warm pannekoek en seëngebed in die hand. Elke motor skakel dan in op ons radiokanaal om na die erediens te luister. In ons motors sing ons uit volle bors, waai vir mekaar en flits ligte. Die afgelope naweek het ons nuwe kerkraadslede bevestig en binnekort beplan ons om aan te gaan met die bediening van die doop agter op die trokkie. 
Trokkie-kerk het ons geleer dat ons bediening ver meer vloeibaar en aanpasbaar behoort te wees. Gemeentelede is hoogs aanpasbaar, ontvanklik en bereid om ‘n gebroke wêreld te dien. Oor die laaste paar weke het ons weer die krag van kerkwees onder ons beleef. Ons het mense sien sing met trane oor hulle wange, ons het kinders sien rolskaats terwyl hulle kollekte opneem en ons het mekaar weer gevind in Sy naam." 
Vrouemaand by Parow-Welgelegen
Die gemeente van Parow-Welgelegen laat weet dat dit die laaste week van insameling vir sanitêre doekies is. Hierdie projek het in Julie afgeskop om gemeente- en gemeenskapslede aan te moedig om op so 'n manier saam liefde en omgee uit te leef. Weens 'n gebrek aan sanitêre doekies mis talle skoolmeisies tot 52 skooldae per jaar. Wees deel van die verskil; jy het nog tot 28 Augustus kans om 'n skenking te maak!
Die gemeente laat weet dat daar 'n houer vir die produkte by ingang 1 se hek beskikbaar is. Die houer staan buite tussen 08:00 - 16:00. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraar - Tulbagh
Die NG Kerk Tulbagh is die vierde oudste gemeente in Suid-Afrika en adverteer tans hierdie betrekking. “Ons is ʼn klein gemeente in ʼn dorp en vallei wat voortdurend besig is om te verander. ʼn Beduidende groep van ons lidmate is jonger gesinne. Ons besef dat die toekoms nie ʼn blote voortsetting van die verlede kan wees nie. Ons glo dat ons op die drumpel staan van die nuwe toekoms wat God besig is om vir ons te skep.” Aansoeke sluit 10 September.
Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Finansiële beampte - Kenridge
ʼn Halfdag betrekking bestaan vir ‘n persoon om die gemeente se finansies te bestuur en deel te vorm van ‘n dinamiese kerkkantoorspan. Kenridge-gemeente bestaan sedert 1981 in die Noordelike Voorstede van Kaapstad en is vandag ‘n diverse geloofsgemeenskap met meer as 6 000 ingeskrewe lidmate met ‘n gemiddelde ouderdom van 36 jaar.
Hulle omhels diversiteit en is ‘n tuiste vir alle generasies. Hulle glo hul is deur Jesus geroep vir die wêreld en nie vir hulself nie. Die ideale persoon beskik oor die volgende kwalifikasies en ervaring: matriek, minstens 5 jaar ervaring in boekhouding, bewese ervaring in Excel, Pastel, VIP en ervaring in ‘n kerklike omgewing sal voordelig wees. Aansoeke sluit 15 September. Klik hier vir meer inligting. 
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
In die derde aflewering van Kerkbode se Vrouemaand-rubriekreeks vra Elmarie Dercksen dat gemeentes spasie maak vir die Rut-stories in hul midde. Die reeks word in samewerking met die Sinode van Wes-Kaapland se Taakspan Gendergeregtigheid aangebied. Klik hier vir die artikel.
Die gesprek oor kerkverband het in die NG Kerk skielik momentum gekry, skryf Johan van der Merwe. Lees meer hier.
Nelis Janse van Rensburg vra in sy maandelikse Kerkbode-rubriek dat ons as gelowiges “mekaar sal nader trek, in die oë kyk, vergewe, nie veroordeel nie, aanhoor en nie name noem nie, mekaar se menswaardigheid beskerm”. Lees sy skrywe hier
Nuutste LiG op die rak
Die Lente-uitgawe van LiG is tans op die rak. Aktrise en sakevrou Pascal Pienaar pryk op die voorblad en vertel hoe belangrik dit is om elke dag aan te gryp, omdat môre minder gewaarborg is as ooit tevore.
Het jy geweet dat om te skaterlag dalk die geheim tot goeie gesondheid kan wees? Help jou kind om vaardig met vriendskappe te raak. Lees ook watter waardevolle lesse daar uit 'n eerste huwelik geleer kan word.
Ma en seun Irma en Jan-Jan Joubert vertel hulle storie en daar is wenke om jou finansies in orde te kry en hoe om veerkragtigheid op te bou.
ALGEMEEN
Raakgelees: Verlowingsfoto's as dinosourusse
Jenna Krupar en Josh Rettig wou iets effens anders doen met hul verlowingsfoto's. "Ek het soveel pragtige fotosessies op Facebook en trouwebwerwe gesien en die foto's is pragtig, maar dit is net nie ons nie," het Krupar aan Insider vertel. Hulle wou graag foto’s neem wat nie soos tradisionele verlowingsfoto’s voel nie, maar eerder die essensie van hulle verhouding op ‘n kreatiewe manier vasvang.
Wat gevolg het, was 'n fotosessie reguit uit Jurassic Park... Indien Jurassic Park 'n romantiese komedie was. Krupar het aangetrek as 'n triceratops - haar gunsteling dinosourus - en haar verloofde het 'n Tyrannosaurus rex geword. "Ons het saam deur die bos gehardloop vir die foto’s en dit was soveel pret! Dit was moeilik om vir van die foto’s te poseer, want ons het net te veel gelag!" Klik hier om na hulle foto’s te kyk. 
Get your Casual Day sticker now
Friday 3 September is Casual Day. The campaign is going digital this year and you can buy a personalised digital sticker for only R20. 
Support NID by following these steps: Click on the unique NID link and click on Personalised Digital Sticker to buy yours. Once you receive your sticker, email it to fr.nid@nid.org.za, WhatsApp it to 071 375 1426 or post it in the comment section of their Facebook page. 
Challenge a friend to do the same by tagging them in the comment section of the Facebook post, to receive an additional entry. Two lucky participants will each win R250 cash (open to all SA residents). An additional R100 gift voucher is also up for grabs from Wimpy Mountain Mill Mall in Worcester for local residents. The competition closes on Thursday 2 September. Winners will be announced on Casual Day.
KUIERKANSE
Klik op die grafika vir meer inligting.
TEN LAASTE
Die registrasieproses vir COVID-inenting vir die ouderdomsgroep 18 en ouer het verlede week oopgemaak. Die nasionale departement van gesondheid het 'n oproep gedoen dat hierdie ouderdomsgroep deel van die inentingsveldtog moet raak en jongmense het by hul derduisende opgedaag by verskeie inentingstasies landswyd. Danksy die goeie opkoms van jongmense wat hulle sedert Vrydag geregistreer en laat inent het, staan die Wes-Kaap tans op meer as 1,7-miljoen inentings. In dankbaarheid dra ons Tremble van Lauren Daigle aan ons jongmense op. Volg gerus hulle voorbeeld en registreer vir jou inenting - en neem 'n vriend, familielid of iemand uit jou gemeenskap saam. So beskerm jy nie net jouself nie, maar ook die mense om jou.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.