Lees deur internet, klik hier >>
27 Mei 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Afrikaanse Bybel nou op jou foon!
Het jy geweet dat daar ‘n selfoontoepassing (app) is wat net die Afrikaanse Bybelvertalings het? Die 1953; 1983; 2020-vertalings asook die Bybel vir Almal is nou in een toepassing beskikbaar. Die onderskeie vertalings kan gelyk oopgemaak en vergelyk word. Jy kan ook verse op sosiale media deel. Die selfoontoepassing kan aflyn gebruik word en dit neem nie baie spasie op jou foon nie. 
Om dit af te laai, besoek die app-winkel (Google Play, Apple Store of Huawei gallery). Tik “Bible Society of South Africa” in die soekblok. Kies die Afrikaanse Bybel-toepassing (Die Bybel ’53, ’83, ABA, 2020) en installeer dit op jou foon. Registreer om die app oop te maak en die Bybel te lees.
Die 2020-vertaling is ook op die internet beskikbaar by https://biblesa.co.za sodat  gemeentes, leraars en lidmate dit kan  lees en selfs kopieer vir Powerpoint doeleindes. Dit het ‘n soekfunksie wat soos ‘n konkordansie (indeks) funksioneer. 
Ons almal moet dieper dink wanneer kinders struikel
Braam Hanekom skryf in hierdie week se Godsdiens Aktueel oor die onlangse gebeure by die Huis Marais-koshuis op Stellenbosch. "Die reaksie het opnuut geïllustreer hoe verdeeld ons samelewing is. Jy hoef maar net na die verskillende reaksies, veral op sosiale media te kyk, om tot hierdie gevolgtrekking te kom. 
Laat ek dit eers duidelik stel. Terwyl ons wag op bevindinge van die ondersoek, moet die insident in die sterkste moontlike taal veroordeel word. Niks wat hierna gesê word, mag gelees word asof die erns van die gebeure gerelativeer word nie. Wat gebeur het, was onverskoonbaar.
Soos met alle gebeure moet ook hierdie insident egter in konteks gesien word. Dit het plaasgevind binne ‘n toksiese dampkring van onderliggende rassisme wat steeds hoogty vier. Dit het ook plaasgevind in ‘n konteks waar drankmisbruik onder studente handuit geruk het en disrepek oor die algemeen hoogty vier in ons samelewing. Laat ons dit reguit stel. Dit wil voorkom of mense deesdae oral urineer. In elk geval langs ons nasionale paaie. Om te aanvaar dat mense maar stormdronk kan word, solank hulle net nie iemand seermaak nie, is amper soos om ’n gelaaide vuurwapen in ‘n kind se hande te sit en te sê: Moet tog net nie iemand skiet nie. 
'It takes a village to raise a child', lui die spreekwoord. Voor ons dus te vinnig die morele hoër grond vir onsself toe-eien en die lang messe uithaal, is dit dalk tyd vir die ganse samelewing om onsself af te vra wat ons aandeel aan gebeure soos dié is. Dit roep om diep selfondersoek oor wat die werklike breë waardesisteme is wat ons lewens rig en wat ons vir ons kinders modelleer. Voeg hierby die feit dat ‘n student ook blykbaar enkele dae later in ‘n koshuiskamer verkrag is. Dit het relatiewe min aandag en dekking gekry en ons moet vra hoekom?  Ons maak maklik ‘n onderskeid tussen groot en klein sondes, maar dit laat jou ewe maklik op ‘n glybaan beland. 
Hoër onderwysinstellings het ‘n groter verpligting as blote akademiese oordrag. Ons is dankbaar dat “respek” een van die waardes is wat die Universiteit van Stellenbosch wil vestig. Duidelik is die werk nog nie klaar nie."
Praat saam oor geslagsgebaseerde geweld
Faith Action to End GBV nooi die publiek uit na 'n webinaar op 31 Mei om 09:00 om idees te bespreek oor hoe ons kan saamwerk om 'n Suid-Afrika vry van geslagsongeregtigheid en geslagsgebaseerde geweld te skep.
Hierdie organisasie is gebore uit 'n gedeelde besorgdheid oor die kommerwekkende toename in GBV-voorvalle tydens COVID-19-inperkings en in reaksie op die bekendstelling van die Nasionale Strategiese Plan oor GBV en Vrouemoord (NSP). In 2017 is byna drie uit vyf vroue wat wêreldwyd vermoor is deur hul lewensmaats of familielede vermoor. Die webinaar sal dus belanghebbendes vra om die volgende sleutelvrae te oorweeg:
  • Hoe het die vinnige verstedelikingskoers van die 20ste eeu die maniere waarop gesinslede met mekaar verband hou en die ondersteuningstrukture wat beskikbaar is, beïnvloed?
  • Hoe dra nuwe tegnologieë by tot die lewenstyl wat seksuele en geslagsgeweld in die stad en stedelike nedersettings dryf?
Andiswa Toyi (Departement van Menslike Nedersettings), Wilna de Beer (Tshwane Leadership Foundation), Kerileng Motsamai (DSD) en Cookie Edwards (KZN Network on Violence Against Women) sal die gesprek lei. Die gesprek sal aanlyn plaasvind via Zoom. Gebruik die wagwoord 841743 om toegang tot die aanlynsessie te verkry. 
Gemeentegetuienis besoek VGK Richmond
Die taakspanbestuurder van Gemeentegetuienis, Stephen Pedro, was die afgelope naweek op besoek aan die VGK Richmond. Hiermee het hy die begeleidingsreis met die gemeente afgeskop wat ook ondersteuning aan die leierskap kan verleen met die beroeping van ’n nuwe leraar. Die gemeente is nou al vir 25 jaar vakant. Lees meer oor sy besoek hier.
Foto: Die VGK-groep wat die werkswinkel bygewoon het. Ds. Morné Deelman sit reg voor in die middel en Stephen Pedro staan heel agter in die middel (met die bril).
Stories van inspirasie
Tydens die onlangse streeksbyeenkomste is roeping, netwerke en kreatiwiteit as temas uitgelig. In ons roepingsverhale vertel verskeie mense in kort videogrepe hoe God hulle inspireer om sy werk te doen.  Jan Stadler van Beaufort-Wes, Adri Vlok van Sutherland, Sashja Mostert van Kuilsrivier-Digtebij en Lisa Schmidt van Dordrecht deel hulle stories. Gaan kyk gerus na die snitlys op ons YouTube-kanaal.
EKOLOGIE
Wêreldomgewingsdag - 5 Junie
Op 5 Junie vier ons Wêreldomgewingsdag. Maar hoekom is dit nodig? Hoe bewys ons respek aan ons omgewing wat aan ons lewe gee? Sonder water, suurstof en skoon lug kan ons nie lewe nie. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om dit so suiwer moontlik te hou – elke mens het die verantwoordelikheid om die omgewing te help bewaar. Daar is baie maniere waarmee ons die aarde kan help bewaar. Vandeesweek gee Noxolo Fihla van die Groenspan vir ons lekker praktiese idees van hoe jy uit jou kombuis  en erf ’n plan kan maak. Kyk na die video onder.
PREDIKANTENUUS
Jurie Blom bevestig by Namakwaland
Jurie Blom het die beroep na NG Kerk Namakwaland (Springbok) aanvaar. Sy bevestiging het op 2 April plaasgevind. Ds. Willie van Zyl, sy mentor en vriend sedert 1988, het die bevestiging waargeneem. Jurie skryf op sy Facebook-blad dat hy opgewonde is vir die pad vorentoe.
"Op 1 April het 'n nuwe seisoen in ons gesin se lewe begin. Hierdie begin word amptelik met my bevestiging as leraar van Namakwaland-gemeente. Ons sien uit na die volgende twee jaar se reis saam met die gemeente. Nogmaals dankie aan Bethal Moedergemeente vir sewe jaar en sewe maande. Ons sal julle altyd koester." Alles van die beste met jou bediening in Springbok, Jurie! 
Foto: Jurie en sy vrou Corlea. 
NG Montagu groet Hannes Ries
Hannes Ries het einde April NG Kerk Montagu verlaat nadat hy 'n beroep in Kanada aanvaar het. Elsabé Wright, skriba van die gemeente, skryf die volgende bydrae oor Hannes:
"Hy is weg, sommer net so vining! Breipenne is uitgehaal om musse en serpe te te brei vir Kanada se koue. Reeds vanaf 2017 was hy en sy ma Annette deel van Montagu-gemeente se kerklike lewe.
Dr. Ries was ‘n meelewende en aktiewe leraar vir oud en jonk.  Hy was bekend en gewaardeer vir sy stil, opregte omgee en meelewing in die seer en swaar in baie van ons gemeentelede se lewens. Kenmerkend was sy groet 'suster Els, geseënde dag vir julle!' Ons het elkeen (kosters en skriba) ‘n aanspreekvorm gekry vir waardering wat gedoen word.
Ons wou hom nog leer bak en brou, maar die weggaan het vinnig gekom. Mag jy en tannie Annette Thornbury Ontario in Kanada geniet en Jesus se liefde daar beleef. Die kerkraad wens Hannes en tannie Annette God se ryke seën toe, ons bly bid vir julle."
GEMEENTENUUS
Louis Brittz hierdie naweek by Vredelust
Louis Brittz kuier hierdie naweek by Vredelust-gemeente en hy bring ook van sy Amerikaanse musikante saam. In die oploop na Pinkster besoek Louis Suid-Afrika vir lof, aanbidding en musiekbediening saam met gesalfde musikante Hannah Voudrie en Ashton Brown uit die VSA asook Andries Visser. Moenie hierdie geleentheid misloop nie! Dit begin op 29 Mei om 18:00 in die Vredelust Ouditorium. Verversings is na die optrede te koop. Kyk gerus na hierdie video vir meer inligting.  
Twee (bokse) by Toringkerk
Zander van der Westhuizen en Leon Gropp tree musikaal in gesprek met stem, klavier en kitaar. Hulle benader vanuit twee verskillende kante die temas van dualisme, geloof, die kerk en die boksies waarin ons mekaar plaas.
Soms kunstig, soms abstrak, soms intellektueel, maar altyd met die nodige sweem van humor en tong-in-die-kies satire.
Pak 'n piekniekmandjie en gaan lag en kuier saam! Saterdag 4 Junie om 18:30 in die Toringkerk kerksaal.
Sitplekke is beperk, so bespreek so gou as moontlik by www.toringkerk.co.za.
Sonstraal verjaar
Sonstraal-gemeente het Dinsdag hulle 35ste verjaarsdag gevier. Lidmate, kollegas en die breër gemeenskap is uitgenooi om dit saam met hulle met koek en koffie/tee te vier.
Foto: Die flinke span wat reggestaan het om gaste te onthaal, was (van links na regs) Esta Barnard, Rolana de Bruyn, Belinda van Vuuren, Maria Hlahane en Lynette Bekker saam met gemeenteleraars Eugene Malan en Johan Conradie.
Plumstead verwelkom ampsdraers  
André Agenbag (PSD: Gemeentebegeleiding) het die afgelope Sondag vir Allie van der Westhuyzen (regs) en Francois Human (links) voorgestel op die kerkraad van die NG Kerk Plumstead. Volgens die kerkkantoor word hulle spesiaal getaak met diens en pastorale bediening aan die gemeente. "Ons verwelkom die ampsdraers en hul gades."
Pinkster is eenheid by Sonnekus
Sonnekus-gemeente vier al vir meer as 15 jaar Pinkstertyd saam met verskeie ander denominasies in Milnerton soos die Baptiste-, Katolieke-, Anglikaanse-, Presbiteriaanse en Metodistekerk.
Die kerkkantoor laat weet: "Dit is ‘n heerlike samekoms waar predikante van elke kerk ‘n preekgeleentheid kry en die verskillende kerke lofprysing doen. Na die tyd kan besoekers lekker koffie en tee met ‘n ligte versnapering geniet. Dit is besonders om ander kerke se tradisies te beleef. Die dankoffers en fondse wat ingesamel word, word geskenk aan ‘n behoeftige organisasie in Milnerton. Almal is meer as welkom om die dienste saam met ons te geniet."
Die Pinksterdienste word van 30 Mei tot 3 Junie om 19:00 by Sonnekus-gemeente in Beaufortstraat 12, Milnerton gehou. Skakel die kerkkanoor by 021 552 2689 vir meer inligting.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Op besoek aan ons susterkerke in Zimbabwe
Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, en Conroy Terblanche, predikant van die VGK Concordia, was verlede week op besoek aan ons susterskerke in Zimbabwe, die RCZ en die CCAP Harare Sinode. Die doel van hul besoek was om ons verbintenis met mekaar as susterskerke te herbevestig. Daar is in-diepte gesprekke gevoer en nuwe vriendskapsbande gesmee. Lees gerus meer oor hierdie besoek hier.
Foto van links na regs: Ds. Conroy Terblanche (VGK Concordia), ds. Cosmas Pamaso (moderator, CCAP Harare Sinode), dr. Daniël de Wet (Ekumeniese Vennootskappe in Afrika) en ds. Kingstar Chipata (algemene sekretaris, CCAP Harare Sinode).
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Leraar, Albertinia
Die kerkraad van NG Kerk Albertinia wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in van gelegitimeerde bedienaars van die Woord, wat geroepe voel om vir die pos aansoek te doen. 
In aansluiting by die ampspligte soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, oordeel die kerkraad dat die gemeente graag ’n leraar wil beroep wat die gawes en toepaslike ervaring het om die gemeente vir die volgende aantal jare in spanverband te begelei op die pad van ’n eietydse bediening. Die verwagting van die kerkraad is dat die gekose kandidaat se lewe sal getuig van ‘n intieme verhouding met die Here en die roeping om sy of haar liefde vir Christus oral en altyd uit te dra. Verder is ’n getroue omgang en navolg van die Woord van God, ’n passie vir die koninkryk en ’n liefde vir die NG Kerk 'n vereiste. Aansoeke sluit 17 Junie om 12:00. Die volledige advertensie kan hier gelees word. 
Argiefbeampte, Stellenbosch
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature vir ’n argiefbeampte by die NG Kerk Argief te Stellenbosch. 
’n Toepaslike nagraadse kwalifikasie saam met deeglike kennis aangaande die strukture, interne werkinge en geskiedenis van die NG Kerk-familie sal as ’n sterk aanbeveling dien. Verder word toepaslike ervaring van argivale werk, goeie kommunikasievermoë in beide Afrikaans en Engels, administratiewe vaardigheid en uitstekende rekenaarvaardigheid as vereistes gelys. Aansoeke sluit 20 Junie. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Musiekkoördineerder, Wellington-Oos
NG Kerk Wellington-Oos stel hiermee, in biddende afhanklikheid van God, ’n vakature bekend vir ’n geskikte aansoeker om as musiekkoördineerder in die gemeente te dien. Die ideale kandidaat is ’n toegewyde en meelewende NG lidmaat wat op proaktiewe wyse ’n pasgemaakte musiekbediening in die gemeente en tydens eredienste koördineer. ’n Toepaslike musiekkwalifikasie en die bewese vermoë om sangbegeleiding te doen, word vereis. 
Navrae kan aan pieterdutoit15@gmail.com gerig word. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 20 Junie 2022. Lees die volle advertensie op Wellington-Oos se Facebook-blad
Studenteleraar, Universiteitsoord
Universiteitsoord-gemeente in Pretoria is op soek na 'n studenteleraar. Die ideale kandidaat is ‘n gelegitimeerde van die NG Kerk wat hom/haar vereenselwig met en kan uitleef in ´n gereformeerde spiritualiteit. Hy/sy het gevorderde toepaslike teologiese kennis asook kennis van studentekultuur en -psige en sal daarom effektief met studente kan kommunikeer en verhoudings kan bou en onderhou.
Die gemeente is op soek na ‘n gebalanseerde en geïntegreerde persoon met kreatiewe en vernuwende denke (met respek vir tradisies). Goed-ontwikkelde sosiale vermoë, interpersoonlike vaardighede, effektiewe prediking vir die teikengroep en die vermoë om effektief in spanverband te kan funksioneer, is vir die gemeente belangrik. Aansoeke sluit 15 Julie. Klik hier vir meer inligting.  
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
IMSA nuusbrief
Lees gerus die jongste nuusbrief van IMSA (Industrial Ministry SA), ook bekend as Arbeidsbediening, se werk wat in die Kaapstreek gedoen word. Hierdie bediening bring vir tientalle mense die Woord van die Here na hul plekke van werk, dit help bemagtig hulle deur middel van verskeie lewensvaardigheidsprogramme en ondersteun hulle ook om persoonlike lewensuitdagings te help oorkom, soos traumaberading en selfs hospitaalbesoeke.
In hierdie uitgawe het ons soveel moontlik die mense sélf laat praat, wie se lewens deur die IMSA-bediening geraak is. Lees gerus dié inspirerende uitgawe hier
Klik op grafika vir die jongste nuus van Inclusive & Affirming Ministries.
PUBLIKASIES
Nuwe boek oor Andrew Murray sien die lig
Een van die publikasies wat tydens die Murray Jubileumfees bekendgestel is, is Andrew Murray - Letters to his children
Skrywer Isabelle Murray beskryf dit as 'n "exposé of a vulnerable father" en verduidelik dat die briewe aan sy kinders 'n unieke blik op Andrew Murray bied. "Delikate verhoudings en lewenskrisisse word blootgelê, maar die oorhoofse storie wat vertel word, is een van God se onvoorwaardelike liefde."
Kyk gerus na hierdie video waarin Isabelle meer oor die boek vertel. Bestel die boek deur 'n e-pos aan isabellemurray73@gmail.com te stuur.
ALGEMEEN
Klik op die grafika vir meer inligting oor hierdie veldtog.
Raakgelees: Koskunstenaars aan die brand
Die koskunstenaars Bompas & Parr, wat wêreldwyd bekend is vir hulle kundigheid in multi-sensoriese koservarings en uiterste wetenskaplike kookkuns, het onlangs in Saoedi-Arabië lawa gebruik om kos voor te berei.  
Die gaste het in The Shlal Canyon by AlUla gesit waar geregte bedien is nadat dit gaargemaak is met behulp van die intense 1350°C hitte van lawa wat vanaf 'n vulkaan gekanaliseer is. Koffie en tee, wat deur die lawa verhit is, was ook beskikbaar en sjokolade-lawakoek was bedien as nagereg. ’n Maaltyd sou jou R3000 uit die sak jaag. 
Hul vorige projekte sluit onder andere 'n gloei-in-die-donker alkoholiese jelliegereg in asook ‘n Willy Wonka-styl kougom wat van geur verander wanneer dit gekou word. Klik hier om meer van hulle verskillende projekte te lees. 
Ramot reik uit na die jeug
Die Ramot rehabilitasiesentrum glo dat die jeug die toekoms van ons land is en het onlangs 'n uitreikaksie na Proteahoogte Akademie gedoen. Een van hulle maatskaplike werkers het met leerders oor middelafhanklikheid gesels. "Die oggend was gevul met ‘n kombinasie van lag, motivering, erns en selfs kwesbaarheid. Ons glo dat dit ‘n groot impak gehad het op die kinders se lewe.  Ons hoop hulle het ‘n boodskap ontvang waar hulle ‘n lewensveranderende besluit geneem het om nie betrokke te raak by die misbruik van alkohol en dwelms nie."
Foto van links na regs: Karina Schreuder, departementshoof by die Proteahoogte Akademie, Sonja Basson en Clyde Schroeder van Ramot en die akademie se opvoedkundige sielkundige Whitney Le Fleur.
CLF verjaar!  
Die Christelike Lektuurfonds is reeds in 1957 as fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur. Maar as instansie wat Christelike lektuur in verskeie Suid- Afrikaanse tale skep en versprei, is die CLF natuurlik veel ouer. Die ikoniese ou tikmasjien waarop die eerste literatuur getik is, is al in 1919 bekom – meer as 100 jaar gelede! 
Teken in op hulle jongste e-nuusbrief en lees meer oor CLF se verjaarsdagvieringe en besondere mylpale.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting oor die lekker kuiergeleenthede.
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag is die laaste Sondag in Paastyd. Woord en Fees se sleutelteks kom uit Openbaring 22 en beklemtoon dat God as die Een op die troon in beheer van alles is en dat ons toekomsverwagting hierop berus.
"Vir ons om met verwagting en hoop te leef, is dit belangrik om nie ons fokus op die Een wat weer kom te verloor nie. Ons toekoms is nie iets nie, maar Iemand. Hierdie Iemand beloof om hierdie wêreld nuut te maak en roep ons op om aktiewe medewerkers in diens van God se komende wêreld te wees."
Luister hier na die Urker mannekoor se weergawe van Schubert se Heilig, Heilig, Heilig.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.