Lees deur internet, klik hier >>
2 April 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Paasboodskap - meer as ‘n herdenking
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland, skryf die volgende: "Die Paasgebeure van 2000 jaar gelede het radikale gevolge gehad vir die wêreld. Die aard van ons bestaan is verander deur dit wat destyds gebeur het. Ons leef nou in die lewegewende ruimte van Christus se genade en ewige hoop. Romeine 6:6 vat dit kernagtig saam: “Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.”
Ons dink daarom in hierdie week ook oor die lewe na die Pase. Dit is die lewe van mense wat gehoor het, en nou gehoor gee aan Christus. Dit is die lewe van mense wat die oop graf gesien het en nou nuwe verbeelding het. Dit is die lewe van mense wat Christus se opstanding bedink en beleef het en nou met opstandingskrag leef. Dit is mense wat nie deur beproewing en lyding gebreek word nie, maar kennis het van die lewe te midde van en anderkant lyding. Dit is die lewe van mense wat na die onreg wat Jesus aangedoen is, nooit weer dieselfde kan dink oor onreg nie. Ja, Christus Jesus se lyding en opstanding het inderdaad alles verander. Ds. Attie van der Colf se woorde van Lied 591 (Die boekrol in God's regterhand) gee aan die grootsheid van Christus se heilswerk heldere erkenning:
Die boekrol in God’s regterhand is sewe keer verseël;
dis vol geskryf aan elke kant met oordeel en met seën;
maar niemand kan die seëls breek!
Wie sal die boek van God laat spreek?
‘n Leeu kom uit Juda-stam, voortreflik, soos ‘n koning.
Hy staan daar as geslagte Lam en só bring Hy oorwinning -
Hy het ons met sy bloed gekoop; Hy neem die boek en maak dit oop.
Sing almal, sing die nuwe lied van Jesus se oorwinning;
bring aan Hom lof en heerlikheid en prys Hom in aanbidding:
U het ons met u bloed gekoop - U sterwe breek ‘n toekoms oop!
Terwyl ons dan in hierdie tyd leef, hierdie moeilike tyd van 2021, mag die herdenking en herbelewenis van die Paasgebeure ons inspireer om getroos en geïnspireerd, voluit en met nuwe verbeelding te bly leef. Daar is hulp, daar is troos, daar is hoop, daar is lewe, daar is moontlikhede, daar is krag, daar is nood, daar is geleenthede, daar is werk, daar is betekenis, daar is Christus - die opgestane Heer.
Mag die Paasfees van 2021 jou ook weer nuut laat leef en sing."
Nuwe COVID-regulasies
Nadat President Cyril Ramaphosa die nasie Dinsdagaand toegespreek het, is daar nuwe riglyne in plek. Die goeie nuus is dat getalle vir eredienste tydens Paasnaweek aangepas is na 250 binneshuis en 500 buite, mits dit nie 50% van die lokaal se kapasiteit oorskrei nie. Begrafnisse word steeds tot 100 persone beperk. Dit is egter krities belangrik dat alle COVID-19-protokolle soos die dra van maskers, sanitasie, handewas en sosiale afstand streng gevolg moet word. Samedromming by byeenkomste moet ten alle kostes vermy word. Klik hier vir die belangrikste aanpassings, geldig vanaf 30 Maart. Lees die nuutste uitgawe van die Staatskoerant (nr. 44367) hier.
Legitimasie in Stellenbosch
Dertien NGK diensleraars is vandeesweek tydens 'n seremonie by Stellenbosch-Wes gelegitimeer. Kyk gerus na die uitsending van die geleentheid hier.
Foto: voor van links na regs Christelle Bekker, Elmarie van Huyssteen, Bettie-Madré Terblanché, Hester van der Watt, Cecilia Murray-Louw en Lisa Schmidt. Agter: Sarel Eloff, Douglas Stanley, Irenke Berko, Petria Theron, Lizl Botha, Petrus du Plessis, Rion van Niekerk.
Ons seënwense vergesel hierdie spesiale groep en ons wens hulle alles van die beste vir die toekoms.
Klagtes oor registrasie van huwelike
Die Sentrum vir Publieke Getuienis ontvang steeds klagtes oor lang toue by die registrasie van huwelike. Graag wys die sentrum weer op die skrywe wat hulle van Bongiwe Sakawuli (streeksbestuurder van Kaapstad-metro en Overberg) ontvang het:
"I have asked all offices in Cape Metro and Overberg to have a separate queue for marriage officers as they do for death registrations. If you experience any problems in any of the offices in Cape Metro and Overberg, please feel free to contact me on 066 478 4060."
Sakawuli het op Dinsdag 30 Maart opnuut onderneem dat daar van 1 April twee aparte toue vir sterftes en huwelike by die kantoor in Bellville sal wees. Ons hoop nie dis net ‘n 1 April storie nie.
Berei voor vir Pinkster by Andrew Murray
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington bied van 12 - 16 April 'n Pinkster Voorbereidingsretraite aan. Predikante word genooi om inspirasie vir hulle 2021 Pinksterreekse uit die stilte van die sentrum te put. Deelnemers kan inskakel by die daaglikse ritmes van die kapel en ook 'n begeleidingsgesprek (spiritual direction) ontvang.
Sien meer inligting hieronder.
Wetgewing op beskerming van persoonlike inligting
Die argivaris en aktuarius het opdrag gekry om ’n handleiding saam te stel oor die hantering van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, die sogenaamde POPI-wet (bekend as POPIA). Die handleiding is nou op die Algemene Sinode se webwerf beskikbaar. Klik hier om die handleiding af te laai. 
Neem asseblief kennis van die volgende:
Dit is die eerste uitgawe van die handleiding.  Gebruik dit asseblief as ’n werkdokument en lewer kommentaar of rig navrae aan Andrew Kok (argief@kaapkerk.co.za) of Dewyk Ungerer (dewyku@iafrica.com). Die handleiding is spesifiek vir gebruik deur gemeentes (kerkkantore) saamgestel. In April 2021 sal daar ook ’n handleiding aan sinodale kantore beskikbaar gestel word. Die handleiding sal ook aan sinodale kantore gestuur word vir verspreiding in elke sinodale gebied. Die regulasies bepaal dat elke gemeente voor einde Maart 2021 ’n inligtingsbeampte by die Inligtingsreguleerder moet registreer. Ons het kennis gekry dat hierdie proses eers uitgestel is. Sodra ons ’n finale datum het, sal ons dit aan gemeentes kommunikeer. Moet dus nie nou die gemeente se inligtingsbeampte probeer registreer nie.
Alle dokumente is beskikbaar by https://www.kerkargief.co.za/inligtingswet/#popia.
Wie is God?
Predikante in die middelfase van hulle bediening word uitgenooi om in te skryf vir die Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling se volgende sertifikaatkursus in bedieningsvernuwing. Die Godsvraag is een van universele kwessies wat mense van alle tye besig hou. In ons tyd met sy sterk beklemtoning van wetenskaplike rasionaliteit word hierdie vraag met nuwe dringendheid gestel. In hierdie module word die Christelike Godsbeskouing en die implikasies daarvan vir ons lewe en bediening onder oë geneem. Die kursus word van 12 - 14 April aanlyn via Zoom aangebied. Voltooi die aanlynvorm en skryf in voor 8 April. Vir navrae, kontak Rika by excelsus@up.ac.za.
Bros - 'n lewe gebou op 'n vaste Rots 
Luister gerus na die derde podcast in die BROS-reeks wat saamgestel word deur die Taakspan vir Gendergeregtigheid. 
Hierdie week se podcast met die titel: Jesus, Rots vir my geslaan word aangebied deur Ankia du Plooÿ.
Werkloosheid en armoede in SA
Die Western Cape Ecumenical Network (wat bestaan uit verteenwoordigers van meer as twintig denominasies/kerke en para-kerklike organisasies in die Wes-Kaap) het onlangs ‘n dagkonferensie gehou waar ‘n aantal sake van groot belang vir die toekoms van Suid-Afrika bespreek is. 
Klik hier vir ‘n kort opsomming van belangrike punte wat gemaak is. Van die punte is bekend, maar word duidelik nog nie genoegsaam deur die regering gehoor en toegepas nie. Die kerk sal in die opsig volhardend haar profetiese stem moet laat hoor.
VrydagNuus soek jou mening
Dankie aan al ons lesers wat reeds die meningspeiling oor VrydagNuus ingevul het. Julle bydraes word opreg waardeer. As jy dalk tydens die langnaweek 'n paar minute het, neem gerus deel en laat weet ons hoe ons die nuusbrief kan verbeter. Klik hier om die vraelys in te vul.
Beginsels van intergenerasie geloofsvorming
DinkJeug en die Emmaus Sentrum bied op 8 April die agtste webinaar in hulle reeks aan. John Roberto gesels oor die tema: Principles of intergenerational faith formation.
Klik hier om gratis boeke en materiaal oor die onderwerp af te laai. Registreer deur op hierdie skakel te klik.
Dankie oom Frans!
Die sinodale sentrum in Bellville het vandeesweek 'n waarderingsgeleentheid aangebied om vir oom Frans du Bois te bedank vir sy onbaatsugtige diens. Hy bly in die omgewing en spandeer sy vrye tyd, sedert 2003, om seker te maak dat die omgewing om die gebou altyd netjies lyk deur die sypaadjies te vee en vullis om die gebou op te tel. 
Oom Frans, wat sku is vir enige publisiteit en glad nie erkenning vir sy werk soek nie, wys dat om afgetree te wees, beteken nie dat mens nie meer vir God met woord en daad kan dien nie. Hy sê dat hy sy lewe as afgetredene wy om die Here met hierdie daad van goedhartigheid en liefde te dien. 
“Wanneer mens in ‘n gemeenskap woon, sien mens dinge raak. Jy sien raak waar jy ‘n verskil kan maak. Ek het in 1968 my hart vir die Here gegee en belowe dat ek Hom sal dien. Om seker te maak dat die omgewing rondom die kerkgebou en sinodale sentrum altyd netjies en goed versorg is, is ‘n manier waarop ek Hom dien.” 
Foto v.l.n.r. saakgelastigde Bossie Minnaar, oom Frans du Bois en fasiliteitsbestuurder AJ (Schalk) van Schalkwyk. Maskers was slegs vir die foto afgehaal. 
EKOLOGIE
Jesus as die liefdevolle Tuinier-broer
“Hoe ons oor die skepping en Jesus Christus dink, het verreikende gevolge vir ons verstaan en viering van Paasfees en vir ons hantering van die skepping,” skryf ons eko-korrespondent David Botha.
“Dit baat ons, op meer as een manier, om te luister na hulle wat in die geskiedenis anders hieroor gedink het as die hoofstroom in die kerk. Iemand wat besonder mooi en helder hieroor skryf, is Thomas Merton.” Lees hier meer. 
Sinaiwoestyn word dalk die Sinaiwoud 
Die baanbrekende Nederlandse landingenieur Ties Van der Hoeven maak planne om die Sinaiwoestyn na die Sinaiwoud te verander.
Van der Hoeven is deur sy Egiptiese kollegas gekontak en hy is gevra of dit moontlik is om die Bardawilmeer in die Sinaiskiereiland te restoreer. Die meer was op ‘n tyd 20 - 40 meter diep, maar nou het dit so met sediment gevul dat dit nie veel dieper is as 'n gemeenskaplike swembad nie.
By die opmeting van die projek het Van der Hoeven besef dat die bodem van die meer vir duisende jare al as 'n rioolpyp vir die grondafloop van die hele skiereiland dien. Hierdie afloop is 'n bewys van 'n opkomende wetenskaplike teorie dat Sinai, en in werklikheid die hele Noord-Afrika, op 'n stadium groen was. Van der Hoeven se ontdekkings van antieke kloosterverslae wat houtuitvoere rapporteer en grottekening van bome en gras staaf hierdie teorie.
Daarom wil Van der Hoeven met die herstel van die siklus van water in Sinai begin. Nadat die meer herstel is, wil hy werk om vleilande in die area te skep om te verseker dat die landskap ten minste 'n bietjie water kan behou. "Gebiede bedek met plantegroei verminder die algehele temperatuur en sonweerkaatsing. So word ‘n stabiele klimaat geskep. As ons iets aan aardverwarming wil doen, moet ons iets aan woestyne doen."
Lees die volle artikel hier
GEMEENTENUUS
Bellville predikante-orkes
‘n Groep predikante uit die Ring van Bellville het verlede week hulle musiekvernuf ten toon gestel en die lofprysing by hulle nuutste kollega Karlie Liebenberg se bevestiging met pragtige akkoorde gelei.
Kobus van Rooyen (Bellville-Noord) en Christiaan Wheeler (De La Bat en La Belle) was op kitaar, Danie Jacobs (koster by Bellville-Wes) het die baskitaar vasgevat en sy seun Matthew het dromme gespeel, Leon Durie (Bellville-Oos) het gesing en sy vrou Ida het die klawers gekielie. Die groep het vooraf besluit om hierdie spesiale orkes bymekaar te stel sodat hulle vir Karlie behoorlik welkom kon heet by Bellville.
Klik hier vir ‘n video van die bevestiging en om die orkes in aksie te sien. 
Karlie het reeds in Februarie by die gemeentes van Bellville-Wes en Bellville-Vallei aangesluit, maar weens COVID-19-inperkings kon die bevestiging eers hierdie maand behartig word. Haar mentorpredikant van Franschhoek, Peet Bester, het die bevestiging se preek gelei.  
Word stil op die Lydenspad
Paasnaweek is om die draai en daarom gee NG gemeente Fraserburg hierdie week aan elkeen die geleentheid om stil te word in die teenwoordigheid van die Here. Stilwordplekke is in die kerk opgerig, elkeen met 'n verskillende tema, wat jou lei om na te dink oor dít waarmee God in jou lewe besig is en waarheen Hy met jou op pad is.
“Stap jou pad deur die twaalf stasies, begin by die Tuin van Getsemane. Kry die geleentheid om te bid vir ons gemeenskap, om jou sondesak by Jesus se voete te kom plaas, self 'n spyker in die kruis te slaan. Raak stil by sy graf en vier uiteindelik fees: die graf is leeg en Jesus leef!”
Paasfees skattejag
La Rochelle-gemeente het gesinne hartlik uitgenooi om verlede naweek saam die skatte van die Paasverhaal te ontdek! Die skattejag was in gesinsverband gedoen en die ouers het heerlik hulle kinders vergesel in die soektog.
"Wow, wat 'n wonderlike belewenis om te sien hoe gesinne die Paasverhaal saam lees en doen! Ons Paasfees-skattejag was groot pret! Prys die Here!" skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. Klik hier vir meer foto's van die prettige geleentheid. 
Palmsondag by Laaiplek
Palmsondag was ‘n belewenis vir elkeen wat die diens by Laaiplek-gemeente bygewoon het. ‘n Spesiale diens is gehou en baie moeite is gedoen om die boodskap ‘n werklikheid te maak. Die kerk se ingang was bedek met palmtakke, ‘n donkie het die erediens bygewoon en ds. Charl van Rensburg het die rol van Jakob vertolk om te vertel hoe hy die donkie met Jesus op die rug na Jerusalem gelei het.
“Die donkie Vyetjie het vir ons kom kuier om vir ons die boodskap te verryk. Die teks was uit Lukas 19 en Jakob het die storie vir ons kom vertel.”
Klik hier vir meer foto’s van die spesiale diens. 
Helderberg getuienisgeleentheid
Dit was Sondag 28 Maart Helderberg Uitreik se Seniorsorg-projek se beurt om te vertel van hulle uitreike. 
“Ons is 12 lede wat intens gemoeid is met die senior burgers van die gemeente, asook die inwoners van drie tehuise vir bejaardes (Huise Marie Louw, Huis Esperanza en Zandvliet Care Center). Vroeg in 2020 het ons al ons kuiers by die tehuise beplan, asook flink aandag gegee aan wenslysies van die tehuise."
Plaaslik het die span by drie geleenthede senior burgers in die gemeente geskakel om hulp aan te bied. "Tydens die grendeltyd het ons ook eetgoed gereël vir die personeel en inwoners van die tehuise. Dit was vir ons hartsverskeurend om nie ‘n besoekie te mag bring nie, wetende dat die inwoners tot hul kamertjies beperk is vir elke uur van die dag. Maandeliks ondersteun ons ook die tehuise om hulle te help hulle begrotings te laat klop.” 
Klik hier om die volle berig te lees. Navrae kan gerig word aan: Ina van Niekerk by 082 578 9893 of Marita Human by 079 677 6335.
Foto's onder: Links tydens 'n besoek aan Frieda Jordan (97) en regs word Danie Krynauw (91) besoek. 
GEBEDSVERSOEK
PREDIKANTENUUS
Helderberg verwelkom vir Deon Els
Deon Els en sy gesin het hierdie maand aangesluit by Helderberg-gemeente en hy laat weet dat hulle baie opgewonde is vir die pad vorentoe.
"As gesin is ons oorweldig met die vriendelike ontvangs in die Helderberg-familie. Ons kan net tuiskom. Ons vind nog ons voete en soek nog die Kwik Spar. Ek sien uit om saam met die Helderberg-span en plaaslike gemeentes die nuwe topografie van kerkwees in ’n post-COVID tyd te verstaan en te navigeer. Dit maak my opgewonde om te sien hoe die Here die digitale ontwaking in die kerk gebruik om sy Koninkryk te bou in soms anders onbereikbare ruimtes. Ek glo dat ons as NG Kerk ideaal geposisioneer is om by mekaar te leer in die ondersteuning en bediening van families in hierdie tyd."
Deon se intreepreek is Sondag 11 April 2021. Eredienste sal digitaal beskikbaar wees. Hou gerus die gemeente se Facebook-blad dop vir meer inligting.
Voorspoed en seën vir julle pad vorentoe! 
Foto: Deon en sy vrou, Liesel, saam met hulle dogters, Olivia (3 jaar) en Emily (4 maande).
Koelenhof verwelkom die Pedros
Getuienisaksie laat weet die volgende: "Hiermee wens ons vir Stephen Pedro, Predikant in Sinodale Diens (PSD), hartlik geluk met sy bevestiging as medeleraar van die VGK Koelenhof met opdrag Sinodale Diens: Getuienisaksie toegespits op getuienis in en deur gemeentes.  Die besondere geleentheid het plaasgevind op Sondagoggend 28 Maart waar prof. Nico Koopman die bevestigingsrede gedoen het. Die hartlikheid waarmee  Desmond Meyer vir Stephen en sy vrou, Cicelia, asook hul dogter Rushké en seun Stephan verwelkom het, was aangrypend.
As deel van Stephen se bevestiging, het die gemeente ook opgestaan en hulleself daartoe verbind om hom in die uitvoering van sy groot taak te ondersteun. Dit behels dat hy in die besonder ondersteuning en begeleiding aan ‘vakante’ gemeentes ten opsigte van veral die ontwikkeling van hul missionale roeping bied. Ter bevordering hiervan is hulle tans besig om een van hul kernprojekte, naamlik Kontekstuele Bybellees  te loods."
Stephen, ons bid dat die Here jou in die uitvoering van hierdie groot taak in alle opsigte sal seën.
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Nuus uit Zimbabwe
Lees gerus die jongste nuusbrief van CAVA (Christian Audio-Visual Action), ’n nie-winsgewende bediening wat in die 1970’s in Zimbabwe ontstaan het en steeds groot waarde toevoeg tot ons susterskerk daar. Lees meer van CAVA se sewe voornemende NBI-leersentrums, die vertaling van NBI-modules in Shona en ‘n reuseskenking van Christelike literatuur om aan gemeentes te versprei.
Lees die volledige nuusbrief hier
VAKATURES
Office Administrator, Kraaifontein
Badisa Trio Kraaifontein has one vacancy for an administrative officer. Minimum post requirements include: Grade 12, bilingual (Afrikaans and English), relevant experience, ability to work under pressure and a valid driver’s license. A qualification in administration or office management will be to your advantage. Closing date: 12 April. Click here for more information. 
Voltydse leraar, Saron
Die kerkraad en gemeente van die VGKSA gemeente Saron maak in afhanklikheid van en in afwagting op God die vakature van ‘n leraarspos aan die breë kerk bekend.
Die ideale kandidaat is ‘n persoon wat na aan die Here lewe, ‘n  Skrifgetroue prediker en iemand wat goed in spanverband kan werk. Aansoeke sluit 30 April. Klik hier vir die volledige gemeenteprofiel en behoeftes binne die gemeente. 
Kommunikasiebeampte, Heidelberg Wes-Kaap
Die NG Kerk Heidelberg Wes-Kaap adverteer 'n halfdagpos vir 'n kommunikasiebeampte.
Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir alle kommunikasie in die gemeente,  skakeling tussen die gemeente, kerkkantoor, kerkraad en leraars asook administratiewe pligte in die kerkkantoor.
Goeie menseverhoudinge is van kardinale belang en die kandidaat moet 'n meelewende lidmaat van die gemeente wees. Kreatiwiteit, rekenaarvaardighede en kennis van sosiale mediabestuur sal as aanbeveling dien.
Kontak ds. Heinie Vermeulen vir meer inligting en stuur aansoeke met kort CV en motiveringsbrief aan heinz@mighty.co.za of quintin1nel@gmail.com.
Kinderversorger, Robertson
Herberg Kinder- en Jeugsorgsentrum wag aansoeke in van gemotiveerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid vir hierdie betrekking. Die aangewese kandidaat moet oor die volgende beskik: ‘n FETC Sertifikaat in Kinderversorging, goeie interpersoonlike verhoudinge, adminvaardighede en ‘n geldige kode B-rybewys. Inwoning vir kinderversorgers is verpligtend. Aansoeke sluit 11 April. Lees volle posbeskrywing hier
Administrator/fundraiser, Bellville
Badisa Bellville invites applications from candidates with a genuine interest in charity and fundraising for this half-day position. Strong organisational and communication skills, competence in IT and standard office software programmes and experience with social media platforms are requirements. Closing date: 9 April. Click here for more information. 
Maatskaplike hulpwerker, Villiersdorp
Die Beheerraad van Badisa Villiersdorp wag aansoeke in van entoesiastiese persone wat Badisa se waardes onderskryf. 'n Relevante kwalifikasie, geldige rybewys en goeie kommunikasievaardighede is vereistes. Registrasiesertifikaat en kwitansie by SACSSP vir 2021/2022 is noodsaaklik. Aansoeke sluit 6 April. Lees volle posbeskrywing hier
Hoofverpleegkundige, Kuilsrivier
Huis De Kuilen in Kuilsrivier adverteer tans die bogenoemde pos. Goeie kennis van bejaardes se fisiese, psigiese en liggaamlike gesondheidstoestande, sterk leierseienskappe en goeie rekenaarvaardighede is vereistes. Registrasie by SARV as professionele verpleegkundige is noodsaaklik. Aansoeke sluit 31 Maart. Lees meer hier.  
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Gebedeboeke vir oud en jonk
Bybel-Media stel die onderstaande gebedeboeke bekend om oud en jonk te help om geestelik te groei en te bid.
Suria Scholtz se versameling van 365 gebede is geskryf met die uitsluitlike doel om wyer, dieper en kragtiger te bid, terwyl My eerste gebede vir kleingoed wil leer hoe om hulle lewe met God te deel met eenvoudige, pragtig geïllustreerde gebede vir ’n verskeidenheid situasies en onderwerpe.
Hierdie publikasies en vele meer is te koop in Bybel-Media se aanlynwinkel.
NUUSBRIEWE
Click above for the latest news from the SA Depression and Anxiety Group.
ALGEMEEN
Raakgelees: Hoe om ons voedselstelsel ingrypend te verander
Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum is ons verhouding met voedsel in wanbalans. Daar word gereken dat bykans 'n derde van alle voedsel wat produseer word, sowel as die natuurlike hulpbronne wat vir produksie gebruik word, vermors word. Terselfdertyd ly een uit tien mense honger en kan meer as 3 biljoen mense nie 'n gesonde dieet bekostig nie. Die steeds-groeiende globale bevolking benodig meer veerkragtige en billike voedselstelsels en die forum kyk na vyf maniere om hierdie stelsel te transformeer deur onder andere na plaaslike en sirkulêre voedselstelsels en herskeppende landboupraktyke te kyk. Lees die volledige artikel hier.  
Seeking for Hope online webinar
The Department of Practical Theology and Missiology of the Faculty of Theology at Stellenbosch University is hosting a free online webinar on Wednesday 26 May. Between trust and justice: Seeking for Hope examines how trust and justice are fundamental concepts for meaningful and responsible dialogue. Click here to register. 
Sponsored data bundles are available for students. Please indicate on the registration form should you need data to be able to attend. Find the event programme and more information here
Geloofsreise vir predikante
Die Sentrum vir Geloofsvorming bied die Geloofsreis 1 Retraite vanaf 12-15 April by Sonder Einde in Greyton aan. Die Geloofsreis het 'n aanvanklike kurrikulum van drie jaar, waartydens predikante op 'n 4-dag retraite gaan om begelei te word om op verskeie vlakke te groei. Van die kernaspekte kyk na die herontdekking van Jesus Christus, dissipelskap en selfkennis. Die eerste retraite fokus op emosioneel gesonde spiritualiteit. Kry meer besonderhede hier
Die Geloofsreise word as VBO-beurse aangebied. Registreer asb. vroegtydig om hiervoor in aanmerking te kom. Klik hier om te registreer.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Groei-geleentheid met Amanda Kuit
Watter kosse moet ek en jy eet om ons immuniteit te bou en ons grendeltyd-lyfies gesond en sterk te hou?
Luister gerus na kenner Amanda Kuit (dieetkundige) wanneer sy haar praktiese wenke met die gemeente van Parow-Welgelegen deel. Enige persoon is welkom om aan te sluit. Klik op die grafika om te registreer.
TEN LAASTE
Ons wens aan al ons lesers 'n geseënde Paasnaweek toe. Mag julle Jesus se grootste opoffering onthou en ook sy groot oorwinning vier. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh 11:25). Deur sy opstanding het Jesus die dood oorwin en kan die gelowige uitroep: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:54).
Mag julle hierdie Paastyd die liefde, genade en vrede van Jesus Christus ondervind. 
Kunswerk: Fra Angelico
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.