Lees deur internet, klik hier >>
20 Mei 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
God se lewegewende seën
Nelis Janse van Rensburg lewer die volgende bydrae vanuit die moderatuur: "Paastyd  is ’n heerlike deel van die kerklike jaar. Ons vier immers die opstanding van Christus. Dit is ook ’n tyd waarin Hy die lewegewende werklikheid van sy teenwoordigheid by ons bevestig.
In Handelinge 1 vertel Lukas dat Jesus oor die veertig dae na sy opstanding met onbetwisbare bewyse aan sy volgelinge getoon het dat Hy lewe. Dan in sy laaste gesprek met sy dissipels praat Hy vir oulaas  met hulle oor die dinge van die koninkryk. En dan verdwyn Hy buite sig. 
Terwyl ons in hierdie weke hierdie gebeure herdenk, weet ons ook wat  daarna gebeur het. Hoe die Heilige Gees uitgestort is en die kerk tot stand gekom het. Hoe die Gees ’n beweging op gang gebring het wat net aanhou en aanhou en tot op hierdie dag soos golwe oor die wêreld heen verbrei.
Eersdaags herdenk ons ook die Pinkstergebeure. Was dit nie Goddelike wonderwerke wat destyds gebeur het nie? En is dit nie buitengewone wonders wat steeds gebeur wanneer sondaars hulle byvoorbeeld tot God keer nie? En sien ons nie steeds tallose openbaringe van die koninkryk van Christus elke keer wanneer sy liefde, geregtigheid en vrede aanbreek in ons midde nie? Daarom leef die kerk steeds in verwondering oor die grootheid en die glorie van God. Daarom is ons bewussyn oor wat destyds gebeur het en oor wat steeds gebeur so inspirerend. 
Wanneer die lewe dan, soms vreugdeloos en kaalgestroop deur onreg en liefdeloosheid, ons van ons geloofsvreugde wil ontneem, is daar niks beter as om ons na die Pinkstergees te wend om sy troos, sy inspirasie, sy gawes, sy vrug, sy bevestiging, sy roeping weer nuut in ontvangs te neem nie. Dan bly ons lewend, dienend, singend vorentoe gaan, ongeag die kragte wat wil aftakel en doodmaak. My gebed is dat die Paas- en Pinkstertyd van 2022 vir elke gemeente ’n lewegewende tyd sal wees, waarin ons voluit sal deel in die opbrengs van God se voortgesette Pinksterseën."
Foto: Jon Tyson/Unsplash
Jubileumfees 'n heuglike geleentheid
Die Murray Jubileumfees is van 6-8 Mei by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington gehou. Volgens Andrew Kok was daar ʾn  borrelende atmosfeer en kon jy die stemme van opgewondendheid en blye weersiens voor Huis Samuel hoor.
"Dit was bykans soos 'n reünie van Murray-familielede en oud-sendelinge en daarmee saam 'n klomp opgewonde konferensiegangers. Almal deel in die vreugde van die besondere ervaring om deel te wees van die herdenking van die aankoms van ds. Andrew Murray van Skotland in 1822.
Vanjaar vier ons die 200-jarige herdenking van hierdie heuglike geleentheid. Nie net die gedeelde geskiedenis nie, maar ook die geestelike familieskap het konferensiegangers saamgebind. Verder het die gedeelde geskiedenis oor vele geslagte heen op die pad van die evangelie en die sending in hierdie groot vasteland van Afrika, waarin ons woon en waarvan ons deel is, mense verder saamgesnoer en opgewonde gemaak."
Lees Andrew Kok se volledige terugvoer oor die naweek se verrigtinge hier. Kyk ook gerus onder Publikasies vir meer inligting oor een van die boeke wat tydens die geleentheid bekendgestel is. Ander publikasies word volgende week bespreek.
Foto's: David Muller Photography
DinkJeug se hulpbronne vir Hemelvaart
Luister gerus na DinkJeug se podcast Eenvoudige maniere om Hemelvaart te vier en stuur dit ook aan ouers, kategete en onderwysers. 
Kyk ook hier na ‘n kort video vir kinders oor Hemelvaart en klik hier vir aktiwiteite vir kinders.  Volg DinkJeug op Facebook vir nog hulpbronne vir Hemelvaart en Pinkster. 
Verslag oor haweloses nou beskikbaar
Die volledige verslag oor die die kerk se reaksie op die uitdaging rondom haweloses is beskikbaar op die Sentrum vir Publieke Getuienis se webblad.
Dit is opgestel na aanleiding van die gesprek verlede week in die Groote Kerk tussen kerkleiers en nie-regeringsorganisasies wat in die sektor werksaam is.
Geïnspireerd deur Arbeidsbediening in George
Die afgelope paar jaar was moeilike tye, veral in ons plekke van werk. Daarom beteken dit vir werknemers baie as hulle weekliks deur die Woord van die Here in hul werksplekke bedien word. Floors Meyer, opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening in George, deel graag met ons ’n besondere getuienisstorie van hoe ’n werknemer hul weeklikse bedieninge laat oorspoel in sy eie omgewing en veral met daardie inligting op die geestelike versorging van jong seuns fokus. Lees meer daaroor hier
WCEN praat saam oor die stand van kerke en die nasie
Die Wes-Kaapse Ekumeniese Netwerk (WCEN) het die afgelope week op Wellington vergader om saam te gesels oor sake soos die geweldige polarisasie (ook wêreldwyd),  gebrekkige vertroue, verhoudinge en sosiale kohesie en ons jeug wat sonder hoop is. Verder is sake soos 'n samelewing en kerk wat hul koers en doel verloor het, disrespek en rassisme (soos die gebeure op Stellenbosch) en gebrekkige waardesisteme bespreek. Ander onderwerpe soos die groeiende hawelose-probleem, die krimpende geestesgesondheid van ons mense asook die verslegtende situasie by Binnelandse Sake en die Meester van die Hof se kantoor het ook ondermeer aandag geniet.
Braam Hanekom vertel dat daar ook geluister is na wonderlike stories van hoop. "Die kerk hoef en mag nie vir ‘n krisis of ramp te wag om in te skop nie. Haar profetiese stem moet gehoor word om die strukturele ongelykhede in ons samelewing aan te spreek en die regering tot verantwoording te roep. Ons moet egter konstant vra wat ons eie DNS is en nie in ‘n eie oorlewingstryd verval nie. Ons mag nie net ‘n 'barmhartigheidsisteem' bedryf  nie, maar moet die kernoorsake van armoede en ongelykheid beter ondersoek en profeties aanspreek."
'n Uitgebreide konferensie word vir September beplan waar van hierdie temas en ander relevante kwessies in meer in detail bespreek sal word. 
Foto van links na regs: Konferensiegangers Pieter Grové (VGK), Darrell Mackriel (Calvynse Protestantse Kerk), Michael Swain (FORSA), Mbulelo Bikwani (Metodistekerk), Joy Chetty (TEASAWC & Delft, Pastors Fraternal), Braam Hanekom (SPG), Mark Bloemstein (Concerned Clergy WC, Mitchell’s Plain) en Richard Holloway (NGK). 
Wat is vroeëkindontwikkeling?
Melanie Thirion, ontwikkelingsbeampte van Little Seeds, skryf dat vroeëkindontwikkeling nie (noodwendig) behels om ‘n dagsorgsentrum te begin nie. "Die persepsie bestaan dat vroeëkindontwikkeling (VKO) ‘n sinoniem vir ‘n dagsorgsentrum/crèche is. Hierdie persepsie lê lidmate en predikante lam, aangesien die staanmaak van ‘n goed-funksionerende sentrum  ‘n omvangryke proses is. Tog is VKO soveel meer as ‘n sentrum! Gemeentes kan met groot sukses met VKO besig wees sonder om ‘n sentrum te vestig.
VKO werk daarna om die boublokke, wat kinders nodig het om te floreer, te vestig. Dan moet dit in stand gehou en uitgebou word. Hierdie boublokke (liefde, veiligheid, gesonde voeding en stimulasie in die dampkring van goeie geestesgesondheid) bied eindelose geleenthede vir gemeentebetrokkenheid.
Die eerste vraag wat gemeentes wel moet vra, is hoekom hulle met VKO besig wil wees. Missionale diakonaat asook teologiese denke oor kinders en families lê in die hart van die kerk se VKO-strategie."
Hou die komende weke se VrydagNuus dop vir kort VKO-brokkies van die Little Seeds-span.
Klik op grafika vir inskrywingsvorm.
EKOLOGIE
Kom ons vier Biodiversiteitsdag! 
Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan het vandeesweek vir ons meer inligting oor Biodiversiteitsdag wat op Sondag 22 Mei gevier word. Biodiversiteit is die biologiese verskeidenheid van lewe op aarde. Vir 'n gesonde aarde het ons 'n gebalanseerde biodiversiteit nodig. 'n Lys van 22 biodiversiteitaksies is aan verskillende instansies vrygestel. Kyk gerus daarna hier en kies aksies waarvoor jy kans sien. Hierdie 22 aksies is ook in pas met die nuwe wêreldwye biodiversiteitsraamwerk. Op 22 Mei kan jy onderneem om enige van die 22 aksies aan te pak en uit te voer. Ter wille van bewusmaking kan jy dan asseblief foto's of video's van jou aksies op sosiale media met die hutsmerk #BiodiversityDay deel. Kyk ook gerus na ons bewusmakingsvideo hier.
Beskerm die bye 
Op 20 Mei word Wêreldbyedag gevier. Bye het hulle eerste dag van erkenning in 2018 gekry, danksy verskeie voorleggings wat deur Slovenië aan die Verenigde Nasies gedoen is.
Die rol wat bye speel in voedselsekuriteit word al hoe meer gewigtig. Bewusmaking rondom hierdie belangrike insek se bydrae tot biodiversiteit en volhoubare landbou moet dus dringend aandag geniet.
Besoek gerus die amptelike webblad vir meer besonderhede, hulpbronne en inligtingsvideo's.
GEMEENTENUUS
Durbanville se orrelis verstom
Dr. Devandré Boonzaaier het op 8 Mei as orrelis begin by Durbanville-gemeente. Die begaafde musikant het ook 'n doktorsgraad in filosofie. Die afgelope Sondag het hy die gemeente na die erediens verras deur die oorwinningslied op die trompet te speel, terwyl hy met sy linkerhand en die pedale die orrel ook speel!  
Kyk gerus hier na 'n videosnit van sy uitvoering. 
Jo Black kom Malmesbury toe
Malmesbury Moederkerk nooi musiekliefhebbers na 'n spesiale vertoning deur die gewilde kunstenaar Jo Black. "Sy konserte is soveel meer as net musiek. Dit is 'n getuienis van geloof en oorwinning. Moenie hierdie geleentheid misloop nie, kom beleef dit saam!"
Jo Black & Band tree op Vrydag 3 Junie om 19:00 by 
die NG Moederkerk, 5 Kerkstraat Malmesbury op. 
Kry jou kaartjies by Computicket óf by die kerkkantoor.
Kontak vir Denzil by 082 772 3417 vir meer inligting. 
Verpleegpersoneel bederf by Parowvallei-Oos
Die gemeente van Parowvallei-Oos het Sondag na twee jaar weer 'n Nurses’ Sunday gehad. Theo Swart laat weet dat dit lekker was om mediese personeel te kon bederf met ‘n dankie geskenkie en spesiale voorbidding!
Brackenfell-Wes bevestig proponent
Proponent Irenke Berko is op 15 Mei as tentmakerdiensleraar vir Jeug- en Familiebediening by die NG Kerk Brackenfell-Wes bevestig. 
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Nuus van Hefsiba, Mosambiek
In 1994 het ds. Wessel Bester ’n Bybelskool vir ons susterskerk in Mosambiek, die IRM, op Vila Ulónguè in Noordwes-Mosambiek begin. Ds. Manie Taute het later by hom aangesluit as die eerste rektor van die latere Hefsiba ISC (Instituto Superior Cristão – Instituut vir Christelike Hoër Onderwys). Tien jaar later het dit universiteitstatus in Mosambiek verwerf met dr. Kruger du Preez as die eerste akademiese direkteur. Tans bestaan dit uit vier fakulteite, naamlik Teologie, Psigologie, Ekonomie en Regsgeleerdheid met ds. Manasse Matiquele as die rektor. In 2016 is 'n verdere twee satelietkampusse op Milange en Mocuba gevestig waar Ivan Steven tot 2017 die leiding geneem het. Lees hulle jongste nuusbrief hier.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Koster, Proteahoogte
NG Kerk Proteahoogte adverteer tans 'n vakature vir 'n koster by hulle gemeente. Die pos behels die nodige bystand tydens eredienste en om na die instandhouding van die kerk en tuin om te sien. Die ure word bereken op ongeveer 20 uur per week en die persoon sal rapporteer aan die kantoorhoof (Saakgelastigde). Die ideale kandidaat het matriek as minimum kwalifikasie, beskik oor die vermoë om basiese praktiese herstelwerk te doen, het twee jaar ondervinding in ʼn soortgelyke aanstelling en is bereid om naweke en na-ure te werk. Verder word kommunikasievaardighede, inisiatief, rekenaargeletterdheid en vermoë om goeie menseverhoudinge te handhaaf as vereistes gelys. Die kandidaat moet verkieslik binne maklike bereik van die kerkgebou woon. Eie vervoer is ook noodsaaklik. Aansoeke sluit 20 Mei. Lees meer hier
Leraar, Albertinia
Die kerkraad van NG Kerk Albertinia wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in van gelegitimeerde bedienaars van die Woord, wat geroepe voel om vir die pos aansoek te doen. 
In aansluiting by die ampspligte soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, oordeel die kerkraad dat die gemeente graag ’n leraar wil beroep wat die gawes en toepaslike ervaring het om die gemeente vir die volgende aantal jare in spanverband te begelei op die pad van ’n eietydse bediening. Die verwagting van die kerkraad is dat die gekose kandidaat se lewe sal getuig van ‘n intieme verhouding met die Here, die roeping om sy of haar liefde vir Christus oral en altyd uit te dra, ’n getroue omgang en navolg van die Woord van God, ’n passie vir die koninkryk en ’n liefde vir die NG Kerk, liefde vir ’n plattelandse gemeenskap en begrip vir hul unieke behoeftes en omstandighede, liefde en omgee vir mense op alle sosiale vlakke, lidmate sowel as die groter gemeenskap. Aansoeke sluit 17 Junie om 12:00. Die volledige advertensie kan hier gelees word. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Book launch in Stellenbosch
The book Moving Methodologies, Doing Practical and Missional Theology in an African context will be launched at 17:00 on Wednesday 25 May at the University of Stellenbosch Faculty of Theology. The book was edited Johan Cilliers and published by Bible Media. It represents a colloborative effort to map some of these movements of methodologies within an African setting over the past few decades.
Please RSVP to maritasnyman@sun.ac.za by 23 May. Light refreshments will be served.
Murray - Gestuurdes van God
Hierdie koffietafelboek is saamgestel deur dr. Andrew Kok van die NG Kerk Argief en handel oor die stamvader, ds. Andrew Murray van Skotland en sy vrou Maria Stegmann en hul sestien kinders. Die boek begin met ‘n genealogie van die eerste drie generasies en daarna word gekyk na die predikante van die vierde generasie. Die boek ontsluit die argivale bronne wat by die NG Kerk Argief beskikbaar is en daar is ruimskoots gebruik gemaak van fotomateriaal uit die Argief. Die boek beskryf dan die nalatenskap van hierdie familie en hul invloed op terreine soos onderwys, sending en maatskaplike sorg. Die boek kan by argief@kaapkerk.co.za bestel word. 
LiG nou op die rak
Die winteruitgawe van LiG is vandeesweek op die winkelrakke. Gewilde aktrise en aanbieder Elsabé Daneel pryk saam met haar dogter Roeline op die voorblad en vertel van hulle spesiale band.
'n Regte mediese dokter gee wenke hoe om dr. Google te raadpleeg en daar is 13 aktiwiteite vir pa's en seuns om hulle verhoudings te versterk. 'n Nuwe emmerskoplys stel 17 doendinge voor om geestelik te groei.
Dan is daar nog stories oor kunstenaar Deon Meiring, 'n sendeling in Belarus en heerlike koesterkosresepte.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Onderlinge verskille oor Skrifgebruik en -gesag was ’n groot besprekingspunt by die onlangse streeksinode van NG Kerk Noord-Kaapland. Kerkbode berig egter dat dit ’n versoeningsgesinde saamtrek was. Lees hier meer oor wat in Kimberley gebeur het.     
Marileen Steyn gesels met Nuwe Testamentikus professor Elna Mouton oor die twee woorde: Skrif en spiritualiteit. Lees hulle gesprek hier
“Die realiteit is dat ons almal as gelowiges iemand se wonderwerk of geleentheid in ons hart en ons hand het. Ek dink dit is wat ek probeer sê as ek sê ons moet God se koninkryk bou op aarde,” sê Overbergse boer Kosie van Zyl. Lees/kyk sy getuienis oor hoe hy en sy vrou verskillende maniere gevind het om die lewe van mense in hulle omgewing te verbeter.  
ALGEMEEN
Skenk bloed en red 'n lewe!
Die Wes-Kaapse Bloeddiens (Western Cape Blood Service - WCBS) doen 'n dringende beroep op die publiek om so gou moontlik bloed te skenk, aangesien daar tans 'n kritieke tekort in die provinsie is. Premier Alan Winde het sy steun tot die veldtog verleen en skenkers gevra om te help, aangesien daar nog slegs een dag se voorraad beskikbaar is. Die WPBS poog om gewoonlik ten minste vyf dae se voorraad in elke bloedgroep te hê. Baie van ons gemeentes verskaf lokale vir bloedskenkingsklinieke. Loer gerus op die webblad of laai die WCBS selfoontoepassing af by GooglePlay of AppStore om te sien waar jou naaste donasiepunt is.
KUIERKANSE
TEN LAASTE
Woord en Fees se leesroostertekste vir die Sesde Sondag in Paastyd kom uit Openbaring 21 en 22, Handelinge 16 en Psalm 67. "Dit is gerusstellend om te weet ons is nie die stigters van God se koninkryk op aarde nie. Die stad daal van God af neer; die rivier stroom uit sy troon; die Vader het die Seun opgewek; dit alles is die werk van God. Ons kry wel daaraan deel. Daarom hoef ons nie moedeloos te bly nie; deins ons nie terug nie; vlug ons nie weg nie; is ons gretig om aan die werk te spring; raak ons kreatief. Daar is, met ander woorde, betekenisvolle en kragtige dinge aan die gang terwyl ons wag."
Luister hier na Francesca La Rosa se weergawe van O God, Let All the Nations Praise You, 'n verwerking van Psalm 67.
"Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy die lig van sy aangesig by ons laat skyn." (2020-Bybelvertaling)
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.