Lees deur internet, klik hier >>
3 Junie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Angsliturgie vir gemeentes
Na aanleiding van die tragiese dood van ds. Liezel de Jager verlede jaar het die Wes-Kaapse Sinode ʼn versoek gerig vir die ontwikkeling van ʼn “liturgie van angs” vir kerklike gebruik.
In ʼn verklaring skryf die moderatuur: “Die moderatuur skaar ons volledig by die ‘Thursdays in Black’-veldtog en hoop en droom en wil meewerk aan ʼn wêreld waarin daar nie enige geweld teenoor vroue, kinders en enige ander kwesbare persone in ons samelewing gepleeg word nie. Die moderatuur is gekant teen enige vorm van geweld teen vroue. Dit sluit fisiese geweld, taalgeweld, afbrekende en seksistiese grappe, seksuele teistering, asook kuberboeliegedrag (soos op sosiale media) in. Mag elkeen van ons ons beywer vir ʼn wêreld waarin vroue kan floreer, in die wete dat hulle veilig en geliefd is.” Op die oomblik haal verkragting ook die nuus deurdat dit nogeens as gewelddadige praktyk in oorlogvoering gebruik word in die Oekraïne.
Klik hier vir die liturgiese voorstel wat deur Cas Wepener en Marileen Steyn van die Departement Praktiese Teologie & Missiologie aan die Fakulteit Teologie van Stellenbosch Universiteit saamgestel is. Dit reageer met ʼn mengsel van woede, pyn en troos op ʼn uitdagende konteks met ʼn spesifieke fokus op geweld, asook die angs wat daarmee gepaard gaan.
Ons stel voor dat die liturgie in Augustus en spesifiek op ʼn Sondag naby aan Vrouedag 9 Augustus gehou word. Moedig deelnemers aan om swart klere na die diens te dra. Die erediensruimte kan ingerig word met ʼn visuele aanbieding (soos die collage deur Carl Lamprechts wat onlangse geweldslagoffers uitbeeld). Die liturgiese elemente wat ingesluit word in hierdie liturgiese voorstel is waarskynlik te veel om alles tydens een erediens te gebruik en gemeentes sal kan kies uit die elemente en ook hulle eie gekose elemente byvoeg. 
Badisa plaas klem op kinderbeskerming
Kinderbeskermingsweek (29 Mei - 4 Junie) bied ‘n uitstekende geleentheid om te besin oor ons rol in die beskerming van kinders en jongmense. Nasionale Kinderbeskermingsweek word jaarliks herdenk om bewustheid van die regte van kinders, soos verwoord in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en Kinderwet (Wet No. 38 van 2005), te verhoog.
Volgens Badisa is die beveiliging van kinders vir hulle 'n belangrike doelwit – nie net as 'n aangewese kinderbeskermingsorganisasie nie, maar ook as draer van die waardes van 'n geloofsgebaseerde organisasie. "Kinders moet beskerm word teen mishandeling, verwaarlosing, uitbuiting, vernedering of blootstelling aan nadelige gedrag. Die beskerming en veiligheid van kinders is eerstens die verantwoordelikheid van die ouer of versorger. Dit is egter ook die verantwoordelikheid van die gemeenskap en breër samelewing om te help om veiligheid in skole, op speelgronde, in kerke en in ander gemeenskaplike plekke te verseker. 
Badisa wil hê dat kinders veilig by hul families en in hul gemeenskappe en die breër samelewing moet voel. Badisa verstaan egter die talle redes waarom veiligheidstrukture vir kinders in gevaar is en kinders kwesbaar laat in die sorg van hul ouers of versorgers, of hulle in gewelddadige situasies tuis of in gemeenskappe vashou."
Klik hier om meer te lees oor die rol van Badisa se bestuursprogram, hulle handleiding vir kinderbeskermingsdienste en kuberveiligheid. Kyk ook na die volgende videos waar maatskaplike werkers van Badisa Tygerberg en Badisa Trio gesels oor kinders se deelname aan die proses asook die gemeenskap se betrokkenheid by kinderbeskermingsdienste.
Kinderbeskerming in die kerk
Melanie Thirion, ontwikkelingsbeampte by Little Seeds, lewer vandeesweek die volgende bydrae: "Ons neem aan dat die kerkgebou ‘n veilige omgewing vir kinders is. Die afgelope week se fokus op kinderbeskerming het wel die vraag laat ontstaan: Watter meganismes het gemeentes in plek om kinders se fisiese, emosionele en geestelike veiligheid te verseker? Volgens die Kinderwet 38 van 2005 (soos gewysig deur Wet 41 van 2007) word gemeentes se kategese, kampe, jeuguitreike en vakansieprogramme as 'partial care facilities' beskou. Kategete/vrywilligers tree in loco parentis op. 
Ons is dikwels desperaat om vrywilligers te werf om met die kleuter-, kinder- of jeugbediening te help en wil niemand wegwys nie. Die Kinderwet stel wel sekere vereistes waaraan vrywilligers/kategete moet voldoen, onder andere om ‘n polisieklaringsertifikaat te kry. ‘n Gemeente se leierskap is ook verantwoordelik om ‘n kinderbeskermingsbeleid in plek te stel."
Little Seeds werk tans aan ‘n raamwerk vir ‘n gemeentelike kinderbeskermingsbeleid, wat binnekort aan gemeentes beskikbaar gestel kan word. E-pos gerus vir Melanie Thirion by melanie@littleseeds.org.za indien jou gemeente die dokument wil ontvang. 
Vertel ons van julle netwerke
Ekumeniese netwerke is ’n pastorale strategie vir die getuienis en uitreikaksies van die kerk. Dit is die ‘hoe’ waaroor ons so dikwels praat. Dit is een van die moontlike bedieningsmodelle waarna ons so dikwels soek. Die uitdagings rondom ons is omvangryk en kompleks en hulpbronne is skaars. Verder het ons ’n brandende begeerte om diensbaar in God se koninkryk te wees en betekenisvolle gestalte aan sy omgee en sorg te gee. 
Diaconia wil graag gesprekke rondom die vestiging en funksionering van ekumeniese netwerke bevorder. Om hiermee te help, wil ons graag weet wat die ervaring van gemeentes met netwerke is. Is jou gemeente deel van ’n ekumeniese netwerk? Klik hier en vertel ons daarvan. Dui ook jou belangstelling aan as jy ’n persoonlike uitnodiging wil ontvang na twee opkomende werkswinkels oor plaaslike ekumeniese netwerke of op hoogte wil bly van toekomstige gesprekke? Ons sluit jou dan graag in by hierdie leergemeenskap wat aan die ontwikkel is!  
In die video hieronder vertel Janneke Marais van so 'n suksesvolle netwerk in die Paarl. Kyk gerus na ons Netwerknarratiewe snitlys op YouTube vir nog kort videogrepe oor inspirerende netwerke wat gemeentes tydens die onlangse streeksbyeenkomste met ons gedeel het.
Arbeidsbediening in die Tuin van Eden, Mosselbaai
Mosselbaai is een van die beste voorbeelde van ’n dorp waar ’n groot deel van die sakesektor met groot ywer die dienste van Arbeidsbediening in hul plekke van werk verwelkom. Hulle besef die waarde wat dié boodskap van Christus vir beide hul werknemers én werkgewers inhou. Dit is ook ’n riem onder die hart om te lees hoe van die boere en sakemanne by hierdie bediening betrokke raak. Lees meer daarvan hier
Ekumeniese liggaam dink diep oor die stand van ons kerk en nasie 
Die Western Cape Ecumenical Network het onlangs by die Andrew Murray Sentrum op Wellington vergader. Die netwerk bestaan uit verteenwoordigers van ‘n groot aantal kerke en geloofsgebaseerde nie-regeringsorganisasies. Dit sluit in die Anglikane, Presbiteriane, Metodiste, NG Kerk, VGK, Calvyn Protestantse Kerk, ‘n hele aantal onafhanklike kerke asook NRO’s soos die Bybelgenootskap en FORSA. Tydens die vergadering is daar vanuit ‘n kerklike perspektief besin oor die stand van die kerk en die nasie. Braam Hanekom was daar en gee ‘n opsomming van belangrike sake wat uitgelig is. Lees gerus sy volledige skrywe op Kerkbode se webblad
Nuwe leierspan vir Wes-Kaapse Raad van Kerke
Die SA Raad van Kerke Wes-Kaap het op 7 Mei hulle nuwe leierskap verkies. Nioma Venter van Diaconia en Richard Hollaway van St. Helenabaai is op die uitvoerende komitee van hierdie ekumeniese liggaam verkies en neem beide leiding in spesifieke fokusareas van die werksaamhede. Dr. Lionel Louw is vir ’n tweede termyn herkies as voorsitter. Die ander lede is Rodney Whiteman, Sikawu Makubalo, Betram Everts, Colleen Cunningham, Averell Rust, Leon Smith en David Daniels.
Nioma Venter het die portefeulje om plaaslike ekumeniese aksienetwerke as pastorale strategie op sosiale en maatskaplike nood in ons gemeenskappe te bevorder. “Hierdie fokus is heeltemal versoenbaar met die bedieningsvaardigheid waarmee ons in Diaconia ook graag gemeentes wil help. Ons het in die grendeltyd in 2020 wonderlike inisiatiewe rondom ekumeniese samewerking gesien en is oortuig dat dit een van die gawes is waarmee die Here ons geseën het in hierdie tyd van beproewing. Nou moet ons net daarop voortbou,” sê Nioma.  
Richard Holloway is as voorsitter van die Teologiese Refleksie en Profetiese Getuienisbediening verkies. Richard is vir ’n hele aantal jare reeds amptelik deur die moderatuur van die Wes-Kaap afgevaardig tot die ekumene en dien onder andere op die Western Cape Religious Leaders Forum (uitvoerende bestuurslid) en op die Western Cape Ecumenical Network. Averell Rust is natuurlik ook ’n bekende in ons kringe. Hy was die vorige hoof-uitvoerende beampte van Badisa en ons dink steeds met groot waardering aan die rol wat hy oor jare daar gespeel het. 
Verantwoordelike vernuwing rondom diakonaat 
Diaconia bied in Augustus 'n gesprekreeks saam met Stellenberg-gemeente aan. Omgee in 'n tyd soos nou plaas die soeklig op die hedendaagse gestaltes van omgee wat ons tipies as ‘barmhartigheid en diakonaat’ in gemeentebediening beskryf. Die gesprek neem ’n Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese vertrekpunt en luister na die insette van ander Bybelwetenskappe. Die gesprek word ingerig rondom gesprekstafels en ’n verskeidenheid van opsionele werkswinkels (gefokusde bedieningsmodelle).
"God het ’n brandende hart vir mense. Jesus het in Lukas 4 die goeie boodskap aan 'arm mense verkondig en onderdruktes bevry' en roep ons op om dieselfde te doen. Dié nood neem onder andere die gestalte van geestesgesondheid, siekesorg, rampgebeure, behuisingsnood, haweloosheid en verslawing aan. Die Heilige Gees lei ons en gee ons die verbeelding en insig om diensbaar in God se koninkryk te wees deur betekenisvolle gestalte aan sy omgee en sorg midde die komplekse aard van elk van hierdie uitdagings te gee." 
Diensorganisasies met soortgelyke doelwitte as die kerk vorm deel van uitstallings tydens die werkswinkel en daar word geleentheid gebied vir gesprek, interaksie en die bou van netwerke. Uiteindelik hoop ons om ’n dinamiese leergemeenskap rondom die diakonaat te begin wat deurlopend op verskillende platforms interaksie sal hê." Registreer hier
EKOLOGIE
Wêreldfietsdag
Op Vrydag 3 Junie vier ons Wêreldfietsdag. As jy nog nie een van die gereelde fietsryers is nie, kan jy gerus jou fiets ’n slag gaan afstof en in die pad val. Of nog beter – kry ’n paar vriende en ry saam werk toe. Dit waarborg nie net ’n baie gesonder lewenstyl nie, maar baat ook sommer die omgewing, aangesien ons dan minder brandstof verbruik. Lees meer hieroor by World Bicycle Day | United Nations en kyk na die kort video onder (inligting verskaf deur ons Groenspanlid Hanli Groenewald).
PREDIKANTENUUS
Francois Swart tree af
Bellville Uitsig-gemeente kyk met groot dankbaarheid terug na Francois Swart se bediening wat amptelik op Sondag 5 Junie ten einde loop. "Francois sal onthou word vir sy betrokkenheid by kerkmusiek. Hy het sedert sy studentejare groot groepe gelowiges met aanbiddingsorkeste begelei. Hy was van die eerste generasie leraars wat die Kaapse Sinode laat saamsing het met ‘n kitaar.
In die beginjare van Francois en Henriëtte se bediening het hulle veral met die jongmense gewerk, waar Henriëtte baie kinderharte deur middel van haar poppekas bereik het. Later sou Francois hom meer toelê op lidmaat- bemagtiging en volwasse geloofsgroei en was onder andere betrokke by die vestiging van die Tygerberg Bybel- en Lewensskool. 
Hy gaan aan met sy weeklikse gesprekke oor geestesgesondheid op Radio Tygerberg en sal nog op 'n deeltydse basis by Uitsig-gemeente betrokke wees. Hy beoog om saam met sy dogter Friedel in ‘n praktyk te wees waar hulle mense probeer help om hulle volle potensiaal te bereik. Francois en Henriëtte is intens bewus van soveel genade in hulle lewe en sien daarna uit om baie te reis en tyd saam met hulle kinders en kleinkinders te spandeer. Hulle is van oordeel dat die kerk soos altyd in uitdagende tye sy dienende gestalte in die wêreld moet behou soos Jesus ons geleer het. Gasvryheid en deernis vir alle mense vanuit die Woord bly steeds een van hulle fokuspunte.  "As gebroke mense laat die Here se koninkryk ons altyd welkom voel, veral in die uitsonderlike tye waarin ons ons op die oomblik bevind."
GEMEENTENUUS
Welgemoed se gebedstasies
Welgemoed-gemeente se gebedsbediening het spesiaal vir Pinkster gebedstasies in hulle kapel ingerig. Almal was welkom om te kom stilword, 'n kersie aan te steek en te bid.
Die gebedstasies is oop tot Pinkstersondag.
Kraaifontein-katkisante reik uit na bejaardes en gestremdes
Sondag 29 Mei was 'n wonderlike dag vir VGK Kraaifontein toe katkisante, kategete en ouers uitgereik het na bejaardes en gestremdes tydens 'n besoek aan die KSE tehuis.
Hulle laat weet: "Wat die uitreik besonders gemaak het, is dat die Gethsemane Pinksterbediening onder leiding van pastoor Kocks terselfdertyd ook 'n uitreik meegemaak het. Die jongmense het so spontaan deelgeneem aan die lof- en aanbiddingsgeleenthede onder leiding van Gethsemane se Pinksterbedieningsgroep. Ds. Vivian Jansen, een van die leraars van VGK Kraaifontein, het Matteus 9:35-38 op 'n besondere wyse behandel.
Die uitreik se doel was om 'n brug te bou tussen jonger mense en ouer mense. En dat jonger mense deur Jesus se bril sal kyk na bejaardes en gestremdes. Alle eer aan die Here vir hierdie besonderse geleentheid. We cannot always cure, but we can always care!"
Bevestiging by Stellenbosch-Noord
Elsje Büchner is op 22 Mei deur Theunis Botha in 'n termynbepaalde pos by NG Kerk Stellenbosch-Noord bevestig. Die geordende leraars by die geleentheid was (van links na regs) Ian Nell, Peet Taljaard, Pieter Franzsen, Elsje Büchner, Theunis Botha en Lambert Jacobs.
Ons wens vir Elsje seën toe met haar bediening in Stellenbosch.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Op besoek aan ons susterskerk in Kenia
Dr. Kobus van Zyl, verbonde aan die NG Kerk Reebok, gaan jaarliks in Maart op besoek aan ons susterskerke in Kenia en Suid-Soedan. Hy is tans besig om gemeentes te besoek en terugvoer te gee oor sy besoeke daar en hoe dit met ons medegelowiges in daardie lande gaan. Hierdie week deel hy met ons wat hy en sy vrou, Lizel, tydens hulle besoek aan ons susterskerk in Kenia, die RCEA, ervaar het. Lees gerus hier meer.
Foto (van links na regs): ds. Samuel Korir, sendingsekretaris van die RCEA, Kobus en Lizel van Zyl en dr. Ariko Ekitala, algemene sekretaris van die RCEA.
Op besoek aan ons susterkerke in Zimbabwe
Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, en Conroy Terblanche, predikant van die VGK Concordia, was verlede week op besoek aan ons susterskerke in Zimbabwe, die RCZ en die CCAP Harare Sinode. Die doel van hul besoek was om ons verbintenis met mekaar as susterskerke te herbevestig. Daar is in-diepte gesprekke gevoer en nuwe vriendskapsbande gesmee. Verlede week het ons meer vertel van hul besoek aan die CCAP Harare Sinode en CAVA; hierdie week vertel ons meer van hul besoek aan die RCZ en die NG Kerk in Harare. Lees gerus meer oor hul besoek hier.
Foto: Agter van links na regs: Ds. S Madanire (onder-algemene sekretaris), ds. Tafadzwa Masimba (algemene sekretaris), mnr. P Mhizha (rekenmeester), ds. Conroy Terblanche (VGK Concordia), dr. E Baloyi. Voor van links na regs: dr. Chistopher Munikwa (assessor), dr. Daniël de Wet (Afrika Ekumene), me. R Hwaire (hulpskriba) en ds. I Pandasvika (moderator).
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse predikant, VGK Huguenot
Die gemeente VGK Huguenot wag in biddende afhanklikheid aansoeke van gelegitimeerde predikante of proponente van die VGKSA in, vir  die permanente pos van voltydse leraar. VGK Huguenot is 'n gevestigde geloofsgemeenskap geleë in die Paarl-Vallei met 3860 belydende lidmate en 770 dooplidmate.
Die gemeente plaas 'n hoë premie op spanwerk en samewerking binne die gemeente en breër gemeenskap. Die ideale kandidaat moet 'n intense belangstelling toon in die sieleheil en vereningingswese van die gemeente. Kennis en deernis vir die bejaardes, siekes en noodlydendes asook begrip vir en belangstelling in die jongmense word vereis. Ervaring van kerkadministrasie, gemeentefondsinsameling en leierseienskappe is voordelig. Die gemeente vereis dat kandidate die Belydenis van Belhar 1986 onderteken het. Bewys van ondertekening kan aangevra word. Indien nie, moet kandidaat inwillig tot ’n gesprek wat sal lei tot ondertekening. Aansoeke sluit 24 Junie. Lees meer hier
Leraar, Albertinia
Die kerkraad van NG Kerk Albertinia wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in van gelegitimeerde bedienaars van die Woord, wat geroepe voel om vir die pos aansoek te doen. 
In aansluiting by die ampspligte soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, oordeel die kerkraad dat die gemeente graag ’n leraar wil beroep wat die gawes en toepaslike ervaring het om die gemeente vir die volgende aantal jare in spanverband te begelei op die pad van ’n eietydse bediening. Die verwagting van die kerkraad is dat die gekose kandidaat se lewe sal getuig van ‘n intieme verhouding met die Here en die roeping om sy of haar liefde vir Christus oral en altyd uit te dra. Verder is ’n getroue omgang en navolg van die Woord van God, ’n passie vir die koninkryk en ’n liefde vir die NG Kerk 'n vereiste. Aansoeke sluit 17 Junie om 12:00. Die volledige advertensie kan hier gelees word. 
Argiefbeampte, Stellenbosch
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature vir ’n argiefbeampte by die NG Kerk Argief te Stellenbosch.
’n Toepaslike nagraadse kwalifikasie saam met deeglike kennis aangaande die strukture, interne werkinge en geskiedenis van die NG Kerk-familie sal as ’n sterk aanbeveling dien. Verder word toepaslike ervaring van argivale werk, goeie kommunikasievermoë in beide Afrikaans en Engels, administratiewe vaardigheid en uitstekende rekenaarvaardigheid as vereistes gelys. Aansoeke sluit 20 Junie. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Musiekkoördineerder, Wellington-Oos
NG Kerk Wellington-Oos stel hiermee, in biddende afhanklikheid van God, ’n vakature bekend vir ’n geskikte aansoeker om as musiekkoördineerder in die gemeente te dien. Die ideale kandidaat is ’n toegewyde en meelewende NG lidmaat wat op proaktiewe wyse ’n pasgemaakte musiekbediening in die gemeente en tydens eredienste koördineer. ’n Toepaslike musiekkwalifikasie en die bewese vermoë om sangbegeleiding te doen, word vereis. 
Navrae kan aan pieterdutoit15@gmail.com gerig word. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 20 Junie 2022. Lees die volle advertensie op Wellington-Oos se Facebook-blad
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
ALGEMEEN
Raakgelees: SA Gebaretaal dalk 12de landstaal
Gebaretaal mag dalk binnekort as Suid-Afrika se twaalfde amptelike landstaal erken word. Die kabinet het verlede week die publisering van die 18de grondwetlike wysingingsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur.
Volgens presidensiële woordvoerders sal dit die kulturele aanvaarding van die taal bevorder. Die Departement van Onderwys erken reeds SA Gebaretaal as 'n huistaal en oorweeg die insluiting daarvan in skole se kurrikulum.
Klik hier vir BusinessTech se berig oor die aangeleentheid.
Ceres dagsorgsentrum vra ondersteuning
HM Beets is 'n dagsorgprogram in Ceres wat reeds in November 1969 geregistreer is. Die toegewyde personeel verskaf kwaliteitsorg aan kleuters van twee tot vyf jaar. Volgens Little Seeds word die sentrum gekenmerk deur hulle beleid om nie teen ouers wat in ekonomiese nood verkeer te diskrimineer nie. "Elke kind word met die grootste liefde en barmhartigheid vertroetel of hulle onder die armstes van ons armes is, kinders van seisoenwerkers is of hulle ouers finansieel swaarkry. Ons kinders raak volwaardige volwassenes wat 'n bydrae tot ons land se ekonomie lewer."
Die sentrum voel egter steeds die impak van die COVID-pandemie en sukkel om kop bo water te hou. Hulle doen nou 'n beroep op die Ceres-gemeenskap om ondersteuning. Toerusting vir die kombuis, muurverwarmers, opknapping van die gebou en fondse vir kos en salarisse word dringend benodig. Kontak asseblief vir Zylia Volschenk van Little Seeds as jy of jou gemeente betrokke wil raak.
KUIERKANSE
TEN LAASTE
Met Pinksterfees vier ons die uitstorting van die Heilige Gees – die Gees van liefde, van lewe en van krag. Volgens Woord en Fees vier ons die werklikheid, die wete en die geloof dat die Gees van God – die lewegewende, skeppende Gees – aan ons geskenk is. Die sleutelteks uit Psalm 104 is ’n lofsang aan God die Skepper wat die lewensasem gee en nuwe lewe laat voortspruit. 
Luister hier na Die Beste Van Die Liedboek se weergawe van Gees van God wat in my woon. Mag dit in hierdie dae ook 'n refrein in jou lewe wees en die Gees van God in ons elkeen woon.
Foto: Marek Piwnicki/Unsplash
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.