Lees deur internet, klik hier >>
27 Julie 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Club coaches by Madiba-standbeeld
SINODENUUS
1. Diaconia se SmartStarters blink uit!
SmartStart (een van Diaconia se vennote in VKO  [vroeëkindontwikkeling]) se eindjaarfunksie het vanjaar saamgeval met die herdenking van Madiba (foto) se 100ste verjaardag! Diaconia se bekendstelling as franchisor by dié funksie is op kreatiewe wyse uitgevoer met ’n dansie en gedig deur Sean Esterhuizen (klik hier vir meer.)
Tydens dieselfde geleentheid is daar erkenning gegee aan SmartStart-sterre tydens "The Night of the Stars". Diaconia is bekroon as wenner in die kategorie van gehaltebeheer, wat beteken dat hulle nie slegs fokus op die grootste getal SmartStarters en kinders in hul programme nie, maar op gehalte-onderrig. (Highest Proportions of Programme Quality Assurance Completed). (Onder spog die Diaconia "club coaches" met die sertifikaat!)
In die beoordeling van hierdie toekenning word die prestasie van 14 "franchisors" oor nege provinsies verspreid, in ag geneem. Dit is voorwaar 'n prestasie vir die Diaconia-span en getuig van hul hardwerkendheid! Kontak Diaconia by diaconia@kaapkerk.co.za of 021 957 7109 en word deel van hierdie inisiatief.

SmartStart club coaches
V.l.n.r. Rouxanne Opperman, Eureka Smit, Sean Esterhuizen, Nioma Venter, Mildred Josephs, Nicola Vermeulen, Anne-Marie Saffi, Hazel Herwel, Tesslyn McDonald, Meagan Benadie
Familienetwerk
2. Jeug- en Familiebegeleiding
Is familiebediening 'n afdeling van gemeente-wees of is 'n gemeente een groot familie?
Die Familie Netwerk-gesprek op 19 Julie het oor dié vraag gehandel aan die hand van die boek Passing on the Faith. A radical New Model For Youth and Family Ministry deur Merton P. Strommen en Richard A. Hardel. Eugene Malan, wat die gesprek gefasiliteer het, het verduidelik dat familiebediening beide insluit. Aan die een kant moet gemeentes individuele families versterk.  Aan die ander kant moet die gemeente self as een groot familie versterk word. Lees meer hier.
Op die meegaande foto is v.l.n.r. Pierre Burger, Jana Dickason, Nico Lochner, Eugene Malan, Anriëtte de Ridder en Ronel Viljoen. Meer foto's onder.
Gespreksgenote
V.l.n.r.: Lounette Engelbrecht, Schalk Kotzé, Jaco van Dyk, Jakkie du Preez, Tilana Meyer-Morkel
Gespreksgenote
V.l.n.r.: Luané McLachlen, Christi Thirion, Ruan Nieuwenhuizen, Annelet Slazus
3. Sabbatsrus ... pelgrimstap en stil retraite 
Predikantebegeleiding beplan 'n sabbatsrus pelgrimstap vir 30 September tot 20 Oktober 2018, asook 'n stil retraite as deel daarvan. 
Vir elke dominee wat nog beplan om 'n sabbatsrus gedurende 2018 te onderneem – hier is die ware Jakob!
Lees gerus verder ...
Kontak Adrienne Bester van die kantoor vir Predikantebegeleiding by 021 808 382 of bestera@sun.ac.za met navrae.

4. Kix-konferensie: Toegerus vir die toekoms!
Die wêreld verander so vinnig en soms voel ‘n mens oorweldig deur al die uitdagings wanneer jy kinders begelei. Die Kix-Konferensie “Toegerus vir die Toekoms” is ‘n ideale geleentheid vir jou en ander Kix-leiers, kategete, jeugleiers, ouers, jeugwerkers en predikante om oor die geleenthede van die toekoms na te dink.
Kom luister na relevante sprekers (soos Doris Viljoen, Hugo Theron, Gert van der Merwe, Siegfried Louw en vele meer - foto's onder), woon praktiese werkswinkels by, ontdek nuwe hulpbronne en netwerk met ander kinderbedieningsleiers. Hierdie geleentheid vind op 11 en 12 September by NG Kuilsrivier-Suid plaas. Vir verdere inligting kontak jeug@sun.ac.za of kry jou inskrywing en die program hier.
Kix Kinderkonferensie
Kobus en ana
5. Jeugkantoor help met 'n vars perspektief vir tienerberading
Hierdie kursus, aangebied deur die Jeugkantoor op 7 Augustus van 09:00 tot 16:00 by die NG Gemeente Bellville-Uitsig, dek temas en vrae wat in tipiese beradingsgesprekke, met veral tieners, na vore kom.
Die raamwerk vir die kursus is Dansend met die Lewe deur Kobus Anthonissen. Dié boek gebruik deurgaans die beeld van 'n danser as metafoor om 'n alternatiewe mens- en Godbeskouing voor te hou. Dit kan mense ondersteun om 'n gelukkige, vervulde lewe te leef te midde van gebrokenheid en lyding. Kobus Anthonissen bied teologiese perspektiewe en fasiliteer die gesprekke, terwyl Jana Dickason telkens praktiese terapeutiese hulpmiddels en voorbeelde sal deel. Ses VBO-punte is ter sprake. Skryf in by Madeleine Schutzler by 021 919 4220 of  getuienis@uitsigkerk.co.za
Koste: R500, wat die boek en middagete insluit.
6. Argiefnuus
6.1 Vriende van die Argief - al die pad van Makatini-vlakte!

Die Vriende van die Argief het op Vrydag 20 Julie weer by die Kerkargief besoek afgelê.
Andrew Kok vertel: "Vandag was dit die beurt van die sendelinge op die Makatini-vlakte in Noord-Kwazulu-Natal. Hulle het gehelp met die ontsluiting van sendingfoto’s uit hierdie gebied. Jannie de Bruin het ook  ’n groot versameling persoonlike dokumente oor hul werk daar aan die argief geskenk. Foto onder.
Word deel van hierdie groep vriende - kontak Andrew by argief@kaapkerk.co.za.
Vriende van die Argief
V.l.n.r. Jannie en Joretha de Bruin, Kobus en Ryna van Schalkwyk
en Dawid en Annemarie Conradie
6.2 Ring van Wynberg opgelei oor argivalia 
Op 18 Julie het Collette de Wet, argiefbeampte, opleiding in algemene kerkkantoorwerk ten opsigte van argivalia aangebied aan skribas van die Ring van Wynberg.
Dankie vir julle leerbare gees en positiewe gesindheid, kollegas! (Sien foto onder.)
Kontak die Kerkargief gerus by 021 882 9923 of argief@kaapkerk.co.za om ook so 'n opleidingsgeleentheid te reël of bloot om hierdie interessante afdeling van die kerk se werksaamhede te besoek.

Opleiding
V.l.n.r. Ida Williams (verversings), Corné Voss (NG Vishoek), Elsa Carstens (NG Plumstead), Koos Venter (NG Rondebosch), Ester Freeman (NG Rondebosch), Alet Viljoen (HoutbaaiGemeente)
en voor Collette de Wet van die NG Kerk in SA Argief in Stellenbosch
Dis Tyd om te Sing - kaartjies nou te koop
Bybel-Media en Sinode van Wes-Kaapland se massakoor-geleentheid - klik bo
reimagine matriekfees Noordhoek 28 Nov tot 5 Des 2018
Kontak Faani met navrae. Klik bo vir meer.
GEMEENTENUUS
NG Bellville-Uitsig: Huweliksvoorbereidingsklasse 20-22 Aug.
NG Bellville-Uitsig: Huweliksvoorbereidingklasse 20-22 Aug. 
2.1 Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep 
Die Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep se program vir die tweede semester is nou beskikbaar. Hulle vergader tweeweekliks op 'n Dinsdag in die kerksentrum van die NG Gemeente Stellenbosch-Sentraal, hoek van Martinsonstraat en Unielaan, Uniepark. Die aanbieding begin telkens om 17:00 met ’n bespreking daarna. Rig navrae aan die sekretaris, Piet Walters, by pew@sun.ac.za.
Daniël Louw
2.2 Oor geluk en die lekker lewe nagedink – met Daniël Louw
Die studiegroep skop op Dinsdag 31 Julie af met ’n gesprek oor die lekker en mooi lewe: prof. Daniël Louw spreek die groep toe oor die onderwerp “Pursuit of Happiness”. Prof. Louw was sedert 1978 verbonde aan die Fakulteit in verskillende hoedanighede, waaronder professor en hoof van die Departement Praktiese Teologie van 1995 tot 2001 en dekaan van die Fakulteit Teologie tussen 2001 en 2005. Klik hier om verder te lees.
Wellington re#imagine Jeugweek 29 Julie – 2 Augustus
Wellington re#imagine Jeugweek 29 Julie - 2 Augustus. Klik bo.
NG Stellenberg: Lewe in Kontak met Francois Carr
NG Stellenberg: Francois Carr 17-18 Aug. Klik bo.
UIT ONS RINGE
1. Ring van Clanwilliam
Visie en perspektief met Mission Shaped Ministry!
Die Ring van Clanwilliam het einde verlede jaar die besluit geneem om die Mission Shaped Ministry-kursus in die ring aan te bied. In oorleg met Philip Botha (Fresh Expressions) en Communitas is die kursus gereël vir drie blokke van drie dae elk by die VCSV Uitsig Kampterrein in Strandfontein teen die Weskus. Die kursus word bygewoon deur nege leraars uit die ringsgebied (foto onder). Lees enkele van die groep se getuienisse oor die waarde van die kursus hier - hulle beveel dit beslis vir ander ringe ook aan!  
Ring van Clanwilliam met MSM
Agter: Jacques Greyling, Elmo Evert, Jan Fourie, Christoff Koch en Cornis Botha
Middel: Wikus Lambrechts, Philip en Elmien Botha, Hendrik Saaiman, Anton Verwey, Nico Viljoen en voor: Andrie en Mari Killian
Rene Potgieter, Andries Cilliers, Eugene Malan en Philip Davids
Tydens 'n ontbyt op 25 Julie by die NG Gemeente Philadelphia is René Potgieter verwelkom in die Ring van Durbanville. Hier is René (NG Stellenberg), Andries Cilliers, Eugene Malan (beide NG Sonstraal) en Philip Davids (NG Gemeente Philadelphia).
Falck egpaar
PREDIKANTENUUS
1. NG Gemeente Melkbosstrand groet Marius en Wilna Falck
In die NG Gemeente Melkbosstrand word afskeid geneem van Marius en Wilna Falck, wat na 31 jaar in die gemeente op 31 Julie met vervroegde pensioen uittree. Marius skryf: "Ons gaan op Melkbosstrand aanbly, vanwaar ek musiekberading vanuit my eie praktyk gaan bedryf. Hier lê groot moontlikhede in hierdie veld opgesluit vanweë die geweldige emosionele seer waaronder ons land se mense gebuk gaan. Ek gaan ook betrokke bly by opleiding; daar is ook borgskappe wat my help om by agtergeblewe mense berading te doen. Ek hoop om steeds by gemeentes te preek en afloswerk te doen.
My vrou, Wilna, hou nog skool by ons plaaslike laerskool en maak DV in 2019 klaar. Ek sien die meeste daarna uit om net op my passie te fokus. Ek sal die kindertjies en hulle liefde die meeste mis. Ek bid dat die gemeente met liefde en omgee sal groei."
Marius ontvang sy demissie op Sondag 5 Augustus - ons seënwense aan die Falcks!

2.1 Francois en Liesbet Maritz na Pietermaritzburg
Op Sondag 22 Julie het die Ceres-omgewing afskeid geneem van Francois en Liesbet Maritz. Francois, wat 'n beroep na die NG Gemeente Hayfields, in die Sinode van KwaZulu-Natal, aanvaar het, skryf:
"Dit was vir ons 'n groot voorreg om in die Ceres-omgewing binne die Ring van Tulbagh te kon werksaam wees onder die jeug van Ceres Moedergemeente, Ceresvallei en PA Hamlet, asook Hoërskool Charlie Hofmeyr. Met 'n dankbare hart groet ons die Sinode van Wes-Kaapland vir eers, dankbaar vir soveel geleenthede vir groei. Groei nie net op kerklike terrein nie, maar ook in ons menswees. Mag ons almal altyd met 'n besef van die Alomteenwoordige leef, in ons kospotte, wynglase, berge en op ons kansels, mag ons bewus wees van Hom wat die pad saam met ons stap. Ons groet julle, die Maritze."

2.2 Getuienis met die groet: oorvloedige seën vir Maritze
Lucia Brand, skriba van die NG Gemeente Ceres, berig oor Sondag 22 Julie se afskeid van Francois en Liesbet: "Na ’n afskeid in die kerksaal met heerlike kolwyntjies en tee het Pierre en Mona Marais (predikantspaar) die middag van hul demissie vir Francois en Liesbet op ’n natuurlike manier gegroet deur saam te stap tot by die Koekedouw-dam (sien onder) wat begin Mei ongeveer 15% vol was en nou op 76% staan. 
Volgens Pierre Marais het hulle daar gebid dat die Here die Maritze op hulle nuwe pad ook só oorvloedig sal seën. 'n Getuienis van God se oorvloed en sorgsame trou ... mooi!

Francois en Liesbet
Francois en Liesbet Maritz
Mona en Liesbet
Mona Marais en Liesbet Maritz
Cornel en Alet Viljoen
3. Cornel en Alet Viljoen neem afskeid van Houtbaai
Cornel Viljoen het 'n beroep as leraar in die NG Gemeente Ellisras-Wes aanvaar.
Cornel, wat sedert 1 Julie 2017 in Houtbaai-Gemeente was, skryf: "Dit was 'n absolute voorreg om in Houtbaai te kon bedien en om iets van die mooi van die Kaap te kon proe. HoutbaaiGemeente is 'n spesiale en daarby 'n unieke en diverse plek waar ’n mens sommer lekker gemaklik en jouself kan wees. Ek glo en vertrou dat die Here die gemeente al hoe meer gaan gebruik om die visie 'Jesus vir Ander deur Ons' op 'n enorme skaal in Houtbaai uit te leef."
Ons beste wense aan Cornel en Alet en die seuns – mag Ellisras julle gesin eweneens gou tuis en geliefd laat voel!

René Joshua Dries en Jaden Potgieter
4. René en Dries Potgieter: welkom by Stellenberg!
In die NG Gemeente Stellenberg word René Potgieter op Sondag 29 Julie bevestig. Sy en haar man, Dries, sowel as die seuns, Joshua en Jaden, verruil die Karoo (NG Gemeente Gamkavallei) vir Durbanville. Ons wens hulle seën en geluk in die nuwe gemeente toe.
“Ek sien die kerk se rol beslis nie net na binne sodat ons gemaklik geestelik kan groei en in daardie ruimte tevrede kan wees nie. Ons groot taak is juis daar op die stofpad – ons sien dit tog duidelik in Jesus se bediening. As kerk moet ons uitgaan na mense, vir hulle gaan lief wees, gaan omgee en gaan ophelp, maar om dit te doen moet ons mekaar as die kerkfamilie van Christus versterk en in die geloof ondersteun,” sê René.” Lees hier meer.

GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke 27 Julie 2018
Phil Robinson
ALGEMEEN
1. Met medelye
1.1 Phil (P. J.) Robinson
(28.05.1932 - 20.07.2018)
VrydagNuus het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van 'n voormalige professor aan die Stellenbosse Kweekskool, prof. Phil (Philippus Johannes) Robinson. Hy laat sy vrou, Rensia, en hul vyf kinders (Ninell, Helette, Phil, Berdo en Amna) - met uitgebreide gesinne - agter. 
Sy besondere rol in ons kerkfamilie se geskiedenis is duidelik af te lei uit sy omvattende werk as dosent in missiologie, onder andere by die Stofberg Teologiese skool, Decoligny, Umtata, Transkei, UWK en Stellenbosch, vele publikasies, bydraes tot akademiese werksgemeenskappe, begeleiding van nagraadse kandidate en vele meer.
Hier is inligting oor twee dankdienste: Donderdag 26 Julie om 15:00 vanuit die VGK Sarepta en Vrydag 27 Julie om 10:00 in die NG Gemeente Durbanville. Ons bied ons innige simpatie aan die familie en dink in die besonder aan sy dogter, Helette van der Westhuizen van die Fakulteit Teologie, in hierdie tyd van verlies en rou.  
Prof. AB du Toit
1.2 Andries Bernhardus (Andrie) du Toit
- "Christen-gentleman" word onthou

Prof. Andrie (A.B.) du Toit, voormalige hoogleraar aan die UP se Fakulteit Teologie, is op Saterdag 21 Julie 2018 op 86 in Pretoria oorlede.
Op sosiale media word hy beskryf as "seker een van Suid-Afrika se bekendste professore in die Nuwe Testament en 'n kenner van Paulus (die apostel)". Onder diegene wat reageer het op die nuus van sy dood, was die oudmoderator van die NG Kerk en self 'n oudstudent van Du Toit, Nelus Niemandt. Hy noem dat Du Toit internasionaal bekend was onder teologiese akademici en oor "baie dekades betrokke by die opleiding van teologiese studente". - Netwerk24 se berig is hier beskikbaar.
'n Begrafnis vind plaas op Vrydag 27 Julie 2018 om 11:00 vanuit die NG Gemeente Valleisig in Faerie Glen, Pretoria.Ons innige simpatie aan sy vrou, Lydia, en kinders.

Gedenkboek
2. Nasionale Instituur vir Dowes (NID)
2.1 137 jaar van diens aan Dowes
Op 15 Junie het die Nasionale Instituut vir Dowes in Worcester 137 jaar van diens aan Dowes en persone met gehoorverlies gevier. Meer oor hierdie 137 jaar reis word vervat in die NID Gedenkboek 2 van 96 bladsye met treffende historiese foto’s en inligting. Dit vertel die trots Suid-Afrikaanse geskiedenis van Doofheid – ’n buitengewone verhaal van omgee en toewyding vanaf 1881 - 2016. Klik hier.
Plakker
2.2 Loslitdag 7 September
Vrydag 7 September is weer Loslitdag en die tema vanjaar is "Be an Everyday Hero with persons with disabilities!". Suid-Afrika het helde nodig, ons het gewone mense soos jy nodig om die buitengewone te doen! Wees asb. 'n held en ondersteun persone met gestremdhede deur jou plakker te dra. Die Nasionale Instituut vir Dowes neem aktief deel en is 'n trotse ondersteuner van die 2018 Loslitdagprojek. Om jou plakkers te bestel, stuur ’n e-pos na proposals.csp@nid.org.za of kontak 023 342 5555.
Righardt e.a.
3. Righardt le Roux, Diaconia en Nal'ibali se trots!
Suid-Afrikaanse Bibliotekarisdag word jaarliks op 10 Julie herdenk. Vanjaar het Kaapstad Stadsbiblioteke ’n seminaar aangebied waar-tydens ervare bibliotekarisse die geleentheid gebied is om hulle kennis met nuwe bibliotekarisse te deel. Kaapstad Stads-biblioteke het tien openbare bibliotekarisse gekies as voorbeelde van “leading out loud” in die biblioteekwese.
Righardt le Roux, tans die Nal’ibali-koördineerder by Diaconia, is as een van die tien aangewys. Ons is uitermate trots op hom, aangesien hy buite biblioteekgeledere steeds naam maak! Om te deel in Righardt se entoesiasme vir lees-met-genot saam met Diaconia en Nal’ibali, kontak hom hier en begin vandag nog ’n leesgroepie in julle gemeente! Op die foto is Righardt saam met Theresa de Young en Nicky Crowster.

Boeke
4. Boeke GRATIS beskikbaar
Hier is 'n vriendelike aanbod van dr. Quarta du Toit:
"Bybelse konkordansie en ander Christelike boeke, ens. GRATIS beskikbaar. Kom haal net self so gou moontlik in Welgedacht, Bellville af." 
Skakel egter asb. vooraf om te reël: 082 575 9305 of 021 913 7659.
Willem Nicol
5. Fokus op spiritualiteit met kursus as begeleier
Met spiritualteit as een van die hooffokusse van ons sinode, is dit goed om ook kennis te neem van geleenthede wat hierop fokus in ander sinodes van die NG Kerk. Een daarvan is 'n Excelsus-kursus om as spirituele begeleiers opgelei te word, aangebied deur Willem Nicol in sewe blokke van drie dae oor 'n tydperk van 15 maande. Dit vind meestal by Stellastraatgemeente in Pretoria plaas, maar ook naby Rustenburg. Lees hier en reageer voor 30 September.        
Sinode van Dordt
6. Gereformeerdes dink na oor Dordt
Om te luister en te gesels help ons beter verstaan. As deel van 'n konferensie waarin temas vanuit die Reformasie van die sestiende eeu behandel word, word die herdenking van die Sinode van Dordtrecht 400 jaar gelede op 21 Augustus in die Gereformeerde Kerk Bellville oordink. Die geleentheid duur van 19:00 tot 22:00 en enigeen is welkom. Sprekers sluit Victor d'Assonville, Gerard Meijer en Erik van Alten in. Rig navrae aan Gerard by gerardjmeijer@gmail.com of 012 332 1196.
7. Wees aktief op 1 September saam met Jan Kriel!
Jan Kriel bied jaarliks die eerste Saterdag van September - vanjaar dus op 1 September 2018 - ‘n 10km padwedloop en 5km pretdraf/stap in Kuilsrivier aan. Hierdie jaar bied hulle ook op 1 September 'n "Ride & Run" (MTB & "Trailrun") by Delvera aan. Klik onder vir meer inligting en skryf sommer vandag nog in!
Jan Kriel aktief op 1 September
Padwedloop, pretdraf en Ride & Run Saterdag 1 September. Klik bo.
Braam Hanekom
8. Raakgelees ... veg of onderhandel?
"Van die besluite waaroor mense deur die eeue die hewigste verskil het, is of 'n mens in tye van konflik en geweld moet veg of onderhandel. Die vraag is verlede week meermale op Hermanus gevra.
Die evangelie wat ek leer ken het, wil nie naiëf met die werklikheid omgaan nie. Dit wil beslis sag, tegemoetkomend en liefdevol wees, maar kan ook baie ferm en beslis wees. Jesus wat 'n sweep vat en mense die tempel uitjaag, is maar een voorbeeld.
Tog mag ons nooit ophou luister, probeer verstaan, praat en soek na oplossings nie."
Aan die woord is Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis, wat die afgelope maande by verskeie gesprekke oor die toekoms van gemeenskappe opgetree het. Lees sy volledige artikel, met erkenning aan Die Burger van 25 Julie 2018, hier. Rig navrae aan hom by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202. 
Gebed by Ps. 147
Klimaatsverandering
EKOLOGIE
1. Laat jou stem hoor oor klimaatsverandering
Die Departement van Omgewingsake het die konsep nasionale wetsontwerp rakende klimaatsverandering onlangs vir openbare kommentaar gepubliseer.
Die wetsontwerp erken dat klimaats-verandering 'n dringende bedreiging vir menslike samelewings en die omgewing inhou, en effektiewe, progressiewe en gekoördineerde reaksie vereis. Die doel van die wetsontwerp is om effektiewe oplossings vir klimaatsverandering te verseker, en voorsiening te maak vir ’n werkbare oorgang na 'n laekoolstof, volhoubare Suid-Afrika.
Om meer te lees oor die doelwitte van die voorgestelde wet, sowel as om te sien hoe kommentaar op hierdie wetsontwerp gelewer kan word, klik hier. Let asb. daarop dat kommentaar slegs tot 8 Augustus 2018 aanvaar word. Meer oor inligtingsgeleenthede oor hierdie wetsontwerp is hier.
Bloedmaan
2. Bloedmaan met 'n skaars maanverduistering sigbaar
Die langste totale maanverduistering van die 21ste eeu (altesaam 2 uur en 15 minute) vind op 27 Julie 2018 plaas en behoort, afhangende van weerstoestande, in beide Kaapstad en Johannesburg sigbaar te wees.
Dié verduistering skep 'n “bloedmaan” wat die naghemel rooi sal verlig. Volgens die sterrekundige Daniel Cunnama is dit die eerste verduistering sedert 2011 wat in Suid-Afrika sigbaar is, met die volgende een eers weer in 2025. Lees hier op watter drie plekke in die Wes-Kaap voorbereidings getref word om hierdie verskynsel ten beste te bekyk.
BEHOU DIE HUMOR
Diere uit die ark
KUIERKANS
Kuierkans
Kuierkans 27 Julie - klik bo vir meer
VAKATURES
Kerkbode vakatures
Pofadder
1. VGK Pofadder: Kontrakpos as hulpprediker
Die kerkraad van VGK Pofadder nooi gelegitimeerde leraars en proponente uit om aansoek te doen vir 'n kontrakpos as hulpprediker. Die pos is sedert 2014 vakant en die gemeente het 'n behoefte aan 'n geestelike leier wat die lidmate geestelik kan versorg en lei. VGK Pofadder is geleë in die hartjie van die Boesmanland en vorm deel van die Ring van Steinkopf. Daar is 'n lidmaattal van sowat 700 en vyf bedieningspunte. Lees hier meer en doen aansoek voor 8 Augustus.
Musieknoot
2. NG Gemeente Bloubergstrand: Orrelis
Die NG Gemeente Bloubergstrand wag aansoeke in vir die pos as orrelis met aanvang 1 September 2018. Vergoeding sal geskied aan die hand van SAKOV-riglyne.
Stuur 'n musiekverwante CV na elmarie@ngkbloubergstrand.co.za.
Aansoeke sluit 31 Julie; rig navrae aan Elmarie by 083 276 4944.

BSA-logo
3. Bybelgenootskap van SA:
Twee vakatures
Die Bybelgenootskap van SA beskik tans oor twee vakatures by hulle kantoor in Bellville: een as grafiese ontwerper en uitlegkunstenaar ("graphic designer and layout artist") - lees hier verder en reageer voor 31 Augustus 2018. Die tweede vakature is vir 'n digitale produk-ontwikkelaar ("digital product developer"). Reageer voor 14 September 2018. Lees hier meer
Logo
4. Badisa Wynberg: Maatskaplike werkers
Badisa Wynberg het twee voltydse betrekkings vir maatskaplike werkers om kinderbeskermingsdienste te lewer. Die sluitingsdatum is 31 Julie 2018 - klik hier vir meer inligting. 
Cobus Swanepoel
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Cobus Swanepoel
Nikos Kazantzakis begin sy boek, The Fratricides, só:

"I said to the almond tree: 'speak to me of God.' And the Almond tree blossomed."

In die afwesigheid van woorde kan die amandelboom slegs van die Skepper getuig deur eenvoudig te blom en vrug te dra. Dawid verwys na die gelowige as 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Die boom is mooi om te aanskou, bied skuiling, vrugte en koelte vir die omgewing.
Die onlangse gebeure in Thailand, waar 12 jong seuns van 'n plaaslike sokkerspan saam met hulle afrigter gered is uit 'n grot, het nie net die wêreld se verbeelding en hart aangegryp nie, maar is ook 'n teken van hoe dors die mensdom is na liefde wat geleef word. Vrywilligers wat opoffer en sodoende wys hoe liefde in praktyk lyk, is bome in volle bloei. Dit is liefde wat geleef word, wat weggegee word eerder as net geglo en gepreek word, wat die lewe mooi maak.
Saam met die heilige Francis van Asissi kan ons daagliks bid: "Laat, Heer, u vrede deur my vloei ..." 
                                                                  -0-0-0-
                                                                                                                                   
Cobus Swanepoel is sedert 2011 predikant in die NG Gemeente Goodwoodpark. Sy passie is mense, stories en verhoudings: om met verwondering te luister en sien hoe die Gees ons help om onsself in Hom te ontdek, mekaar en die skepping as deel van ons in Hom te leer ken. Cobus kan hier gekontak word.

Be quiet first - Andrew Murray
Vriendelike groete
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.