navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 
Eredienste: Sondag 3 November 2024

Markus 12:28-34 | Liefde wat uitdagend is

Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn |  Ds. Potgieter (3)

Klouterkerk om 09:00 in die restaurant se tuin | Ds. Dietmann

Meditatiewe diens om 09:00 in die kapel en aanlyn | Ds. De Klerk

Kleuterkerk om 09:00 in die komiteekamer in die kerkkantoor

Aanddiens om 18:00 in die kerk en aanlyn | Mia v.d. Merwe

KATEGESE:

Annibrand Junior: kom na die oggenddiens in die kerk byeen.

  Annibrand Senior: graad 8 tot 11 verdeel na die aanddiens in kleingroepe.

Meer oor die gemeente se inkomste en besteding

Ons tiendemaandinsameling vorm 15% van ons gemeente se jaarlikse inkomste, saam met maandelikse dankoffers (47%), bankkollektes (8%), feesmark (22%) en verhurings (8%). Ons is dankbaar vir elkeen se bydrae wat ons in staat stel om die gemeente se bediening na binne en buite te bedryf.  Die huidige stand van die tiendemaandinsameling word in bogaande grafiek aangetoon.  Lees meer . . 

Ontmoet ons feesmarkuitstallers

Foto's van links: Melt van Heerden en Erika Gorgiew
Melt van Heerden met pasteie uit Loxton (foto links)

Melt is ’n skaapboer van Loxton.  “Die pastei-bakkery het begin toe ons van 2011 tot 2020 ’n groot droogte in die Karoo beleef het.  My vrou, Nicolette, het in daardie tyd ’n kompetisie, Kontreikok, gewen en toe al ons planne om die droogte te hanteer en ons geld ook opgeraak het, het sy daaraan begin dink om pasteie te bak," sê Melt. 

Mia van der Merwe neem afskeid van die gemeente


Liewe Stellenberg-gemeente

Wat 'n voorreg was dit nie om my gemeentejaar in hierdie besonderse gemeente te doen nie. Dit is voorwaar ’n gemeente wat meer as ’n gebou is – Stellenberg-gemeente is ’n groot familie, waar daar 'n plekkie vir almal is.  Lees meer . . .


Vroue-retraite in Noordhoek

Verlede naweek het 18 vroue van MES Parow, Klipheuwel se informele nedersetting, Ruyterwacht en Stellenberg ’n retraite op die Noordhoek-kampterrein bygewoon. Die naweek se tema was: Ek staan voor die Here. "Die vrouens wat die retraite bygewoon het, kry almal werklik baie swaar en dit was vir my verrykend om te ervaar in hoeveel afhanklikheid van die Here hulle daagliks lewe. Elke vrou het tydens die naweek weer diep onder die indruk van God se sorg in hul lewens gekom, " sê ds. René Potgieter wat die organiseerder en aanbieder van die retraite was.

Jars of hope

Ons wil graag ons sopkombuise en die mense in informele nedersettings, waar voedselnood ’n groot probleem is, met sopbestanddele gedurende die feesgety ondersteun.  Neem asb. ’n glasbottel in die voorportaal van die kerk en vul dit met die aangeduide bestanddele.  Bring die gevulde bottels weer saam na die Kerssangdienste toe.

VatVyf-program

Woensdag 13 November:  Ons besoek die bekende aarbeiplaas op die Polkadraaipad en vertrek 09:00 vanaf die kerk.  Koste: R65 per persoon, by die ingang betaalbaar.  Bespreek jou plek by Charlotte, kerkkantoorontangs 021 976 4519.

Woensdag 4 Desember:  Kersete in die kleinsaal.  Koste: R150 per persoon.  Bespreek by Charlotte, kerkkantoorontvangs.    

Gemeentestap op 16 November

Ons nooi almal jonk en oud om op Saterdag 16 November saam met ons vanaf Majik Forest tot by die D’Aria-wynplaas te stap.  Dit is ongeveer ’n 8 km-staptog.  Ons ontmoet mekaar om 07:00 by die kerk.  Bespreek by Charlotte, ontvangs@stellenberg.co.za/021 976 4519.

Basaarpoeding te koop op 10 November

Jy kan op Sondag 10 November na die oggenddiens ‘n bakkie heerlike basaarpoeding in die kafeteria koop.  Die verkope is ter ondersteuning van die 2025-uitreik na Namibië.

Graad 8-kamp | 10 tot 12 Januarie 2025

Stellenberg-gemeente, in vennootskap met Hoërskool Stellenberg, bied aan: Into The Unknown, 'n kamp waar ons jou gaan help om ’n gemaklike oorgang na die onbekende van hoërskool te maak.

Gemeentekamp | 6 tot 8 Desember - daar is plek!

Daar was ’n paar kansellasies: dus het die gewilde gemeentekamp nou weer ’n paar staanplekke beskikbaar.  Ons kampeer weer by die pragtige Goudmyn-kampeerterrein in Robertson.  
 Bespreek jou staanplek so gou moontlik deur die aanlyn vorm te voltooi.  Staanplekke beloop R1 300 vir maksimum ses persone en twee voertuie.

’n Nuwe dissipelskapgroep

’n Nuwe kleingroep word vir 2025 beplan.  Die groep sal saam ’n spesifieke dissipelskaphandleiding bestudeer met die doel om elke groeplid se verhouding met God te verdiep.  Indien jy belangstel om  weekliks by die kleingroep betrokke te raak, kontak asseblief vir Charlotte by ontvang@stellenberg.co.za/021 976 4519.

Stellenberg-sokkies te koop

Ons nooi alle drawwers, stappers, tuiniers en tekkieliefhebbers om ’n paar Versus-sokkies met die gemeente-embleem op, aan te skaf.  Sokkies in nommer 4 tot 7 en 8 tot 12 is teen slegs R150 per paar by die kerkkantoor te koop.  Kaartfasiliteite is beskikbaar.

Karwasdiens by die feesmark

Die deelnemers van die MES-program gaan weer beskikbaar wees tydens die feesmark om motors te was op die parkeerarea langs Edelweiss-dienssentrum. 

’n Motorwas beloop R120 vir ’n was aan die buitekant en bande poets, R120 vir veeldoelige voertuie en R130 vir groter voertuie soos bakkies en kombi’s.


Vierde kwartaal Bybelskool

Tema: Op pad na Kersfees!

Johannes en Jesus se geboorteverhale is vol vreugde en vrede. Wanneer ’n mens die verhale lees, voel dit kompleet of ’n mens in ’n pragtige tuin wandel, omring deur voëlgesang en natuurprag.  In die verhaal van Lukas 1 en 2 wat vol vrolikheid en afwagting is, is daar egter interessante kosbaarhede versteek – amper soos ’n soektog na versteekte paaseiers in ’n tuin.  Tydens die Bybelskool in November gaan ons die wonderlike en versteekte insig wat van toepassing is op ons moderne samelewing, binne die verhale ontdek. 

Datums: 5, 12, 19 en 26 November om 18:30 in die kerk

Aanbieder:
Ds. Schalk van Wyk  Handleidings: R30 (donasie)

Bespreek
by Charlotte 021 976 4519/ontvangs@stellenberg.co.za
 

Twee Kerssangdienste op 1 Desember

Maak nou reeds ’n aantekening in jou dagboek van die volgende geleenthede.  Dit verskil van die datum wat op die almanak aangedui word.

Op Sondag 1 Desember word twee Kerssangdienste aangebied:

Annibrand Junior bied ’n Kinderkerssangdiens om 09:00 in die kerk aan.

- Die tradisionele Kersangdiens om 19:00 in die kerk.

Annibrand Junior Kerssangdiens

Kyk asseblief na die uiteensetting van rolle in die onderstaande groepe om te weet waar jou kind gaan deelneem en watter kostuums hulle gaan benodig.

Breigroep

Ons ontmoet op 4 November om 09:30 by Edelweiss Dienssentrum.

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .

- Administratiewe posisie beskikbaar’n Kontrakpos vir die tydperk 18 November 2024 tot 30 April 2025, in Eversdal-omgewing.  Werksure: 09:00 tot 17:00. Vereistes en vaardighede:  Rekenaarvaardigheid met kennis van Excel en Word, goeie skriftelike en verbale kommunikasie in Engels en Afrikaans asook administratiewe noukeurigheid en professionele telefoonetiket.

WhattsApp jou CV so spoedig moontlik na: 072 759 3677.


- Tikwerk:  Is te veel tikwerk besig om u te oorweldig?  Ek kan help daarmee: kontrakte, verslae, take – enige tikwerk of dataprosessering.  Kontak Lizelle 082 325 7385.
- Skoonmaak van matte: Kontak Leon by 082 4482 438 vir ’n gratis kwotasie.
- Op soek na ’n eenslaapkamerwoonstel vir ’n meisiestudent wat by Eduvos Universiteit, naby die High Street-inkopiesentrum, gaan studeer. Kontak: Lidia Roux
082 704 3639 / vilroux@gmail.com indien jy ’n woonplek beskikbaar het.

- Behuising gesoek: ’n Dame wie se man in Edelweiss Dienssentrum versorg word, is op soek na 'n tuinwoonstel in die omgewing om te huur.  Sy wil graag in Stellenberg- of Eversdal-area woon om nader aan haar man te wees.  Sy is 76 jaar oud, maar gesond en werk steeds.  Indien jy woonplek beskikbaar het, kontak asb. vir Jackie by 082 830 5822.

- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486/ 079 590 1070.
Om juweliersware te herstel en/of te vervaardig, maar nie seker is waarheen om dit te neem nie, kan 'n uitdagende ervaring wees. Is u op soek na kundiges om u juweliersware te herstel, of nuwe juwele te vervaardig? 

Gold and Diamond Traders, Durbanville (GDT),
Palm Grove Sentrum, Winkel 8 &9b
Landlyn: 021-975 1835 / Selfone: 084 495 5639 & 084 607 7145

Ons dienste sluit die volgende in:
Lees meer . . .
Ons winkel se wins word ten bate van maatskaplike hulpverlening in plaaslike gemeenskappe aangewend.  Kom loer gerus in by ons openingsdag 25 Oktober 2024 by Durbanweg 176, Bellville.   Kontak Antoinette by 072 914 4676 / bellville@onswinkel.co.za.

Subscribe to our email list.