Lees deur internet, klik hier >>
31 Julie 2015
Beste Leser
My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie.
Daar waar dit groen in oorvloed is, daar mag ek wei.
Hy sorg vir my, laat my nooit in die steek nie.
Na waters van die rus word ek deur Hom gelei.
- Ps 23, TT Cloete (31-05-1924  - 29-07-2015)
SINODENUUS
1.1 NG Kerkfamilie groet Johan Botha    
Daar is oor die afgelope week of wat in verskillende kringe van dr Johan Botha afskeid geneem. Op 31 Julie ontruim hy sy pos as Predikant in Sinodale Diens van die KGA, wat hy vanaf 2007 beklee het in hierdie verenigde werksaamheid van die NG Kerkfamilie in Kaapland.
Lees gerus aangeheg wat Eddie Orsmond (voormalige KGA-voorsitter) skryf.
Ook Bossie Minnaar (saakgelastigde) se groetwoorde en raak opsomming van hierdie gewaardeerde en gerespekteerde kollega skets 'n spesiale prentjie ... Hy gebruik aan die hand van Hand 20 ses woorde om Johan op te som:
Broer - 'n broer vir ons
Omgee - wat omgee
Tyd - en tyd maak
Herder - 'n herder wat versorg
Apologeet - 'n suiwer apologeet vir reg en geregtigheid
 
Sy voorletter, J, wys op Jesus Christus, die een wat in Johan se eie woorde na aanleiding van Kol 1, "die Skepper, Versoener en Onderhouer van alles is."
Selma en Johan Botha
Selma en Johan Botha
1.2 Johan Botha oor sy Aftrede ...
Luister gerus in die onderstaande video hoe Johan Botha met kollega Mariëtte Odendaal oor sy nalatenskap en toekoms gesels. 
Johan Botha gesels met Mariette Odendaal
2. Francois Wessels: die Joodse Bediening en Meer ...
Tydens verlede week se KGA Jaarvergadering is ook amptelik afskeid geneem van dr Francois Wessels. Kollega Mariëtte Odendaal het hom daar uitgevra oor sy nalatenskap en nuwe fokus. Francois het aan die einde van Mei emeriteer as PSD: Bediening aan die Jode, maar is steeds in 'n vaste termynpos betrokke by die Cape Peninsula Reformed Church (CPRC) in Kaapstad. 
Francois Wessels gesels
Heerden van Niekerk
Heerden van Niekerk
Nioma Venter
Nioma Venter
3. Wes-en-Suid-Kaap Beplan Strategies
Verlede week het die moderatuur en die Sinodale Koördineringspan (SKS) by Goudini Spa byeengekom vir strategiese beplanning.
Wat het dit met soldate op 'n paradegrond te doen? Met kaarte in die hand van 'n kaartspeler?
Hoe sluit dit by 'n groentjie motorbestuurder aan?
Lees gerus hoe 'n paar kollegas hulle indrukke van daardie gesprekke, en dit wat hulle motiveer, saamgevat het.
Aan die woord is Quintus Heine (aktuarius): klik hier; Bossie Minnaar (saakgelastigde): klik hier; Heerden van Niekerk (Diensgroep Toerusting): klik hier en Nioma Venter (SKS-lid): klik hier.
Hulle opmerkings gee inderdaad hoop en verdien om gelees te word.
Belangstellendes kan meer oor die moderatuur (dagbestuur van die moderamen), die moderamen en die SKS op www.kaapkerk.co.za lees. Klik hier.

Koeberg Kernkragsentrale
4. Publieke Getuienis
4.1 Kernkrag
Die hele kwessie oor kernkrag is tans groot nuus. Lees gerus Braam Hanekom se Godsdiens Aktueel-bydrae hier. Onafhanklike kommentator Andrew Kenny se aanbieding voor NERSA (sien hier), sowel as sy artikel vir @Liberty van die SA Institute of Race Relations (IRR) kan ook help om met 'n meer ingeligte standpunt te leef.

4.2 Publieke Getuienis-gesprek op Beaufort-Wes
Predikante van alle denominasies word uitgenooi na 'n middagete-gesprek op Beaufort-Wes op Donderdag 6 Augustus van 12:00 tot 14:00. Daar sal onder meer gepraat word oor groter sosiale kohesie en spesifieke maatskaplike uitdagings op plattelandse dorpe. Bywoning is gratis. Vir meer inligting, skakel Salomi by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za.
Esther Blackaller
5. Kantoor vir Vrouebegeleiding
5.1 Esther Blackaller Gegroet

Esther Blackaller (Administratiewe Beampte) se lang en vrugbare diensjare (vanaf 1 Januarie 1992) word gekenmerk deur TOEWYDING en BETROKKENHEID.
Die sagte stem wat die telefoon die afgelope 22 ½ jaar in die kantoor van die Sinodale Taakspan vir Vrouebegeleiding (en later ook vir GKS) beantwoord het, behoort aan 'n fyn, versorgde dame wat haar Here graag dien. Sy het ‘n omgee-hart vir vroue (sy word jou vriendin!) en vir vroueprojekte (verrykingskampe, netwerk tussen gemeentes, kursusse en hulp aan ander soos geletterheidspojekte). Om saam met vyf verskillende voorsitters te werk en drie keer na verskillende kantore te trek, wys Esther se aanpasbaarheid.
Die NG Gemeente Durbanville kry in hierdie maatskaplike werker 'n juweel. Seënwense vorentoe!  - Ilsa van Schalkwyk
* Lees gerus meer in Interaksie, skakelbrief van die Kantoor vir Vrouelidmate. 
Ankia du Plooy
5.2 Vrouebegeleiding: Kontakinligting
Ds Ankia du Plooÿ, tans voorsitter van Vrouebegeleiding, is vir die volgende sewe maande gekontrakteer om in Esther se plek voort te gaan met skakeling en die werksaamhede van Vrouebegeleiding. Enige navrae, ook in verband met "Vroue met Vlerke" kan aan haar gerig word. Sy gaan fleksie-ure werk, maar e-pos of laat 'n boodskap sodat sy u kan kontak indien sy nie dadelik beskikbaar is nie.
Die huidige e-posadres estherb@sun.ac.za sal nog vir ʼn paar maande aktief wees, maar gebruik gerus Ankia se e-posadres ngkvroue@sun.ac.za.
Kontak haar vanaf 13 Augustus op kantoor by 021 808 9060  of 084 456 5618.  
6. Lidmaatpredikerkursus
As jy nie teologies opgelei is nie, maar jy word toenemend gebruik (of jy voel die roeping daartoe) om groepe mense te bedien met God se Woord deur prediking of verkondiging, is hierdie kursus vir jou bedoel.
Dit is vir enige gemeente- of kerkraadslid, kleingroepleier of enigiemand wat betrokke is by die bediening van sy/haar gemeente. 
Die kursus, aangebied deur Guillaume Smit en Brian Handel, se eerste kontaksessie is op 16 en 17 Oktober op Stellenbosch. Lees hier.
NG Kerkseel
7. NGK Erediensopname
Prof Kobus Schoeman (UV) onder wie se leiding navorsing in die NG Kerk gedoen word, skryf: "Goeie en betroubare inligting help gemeentes om hulle eie posisies beter te evalueer en na te dink oor die gemeente se taak en roeping.
Die erediensbywoneropname is ’n opname onder lidmate en kan help om gewone lidmate hoorbaar te maak. Die eerste rondte van hierdie opname is gedurende Augustus 2014 suksesvol afgehandel.
Die terugvoer oor die opname was so positief dat ’n tweede geleentheid gedurende Augustus en September aan gemeentes gegee word om aan die opname deel te neem. Kontak Ester Steyn by kerkspieel@ngkerk.org.za of 012 342 0092 en lees aangeheg meer.
Leana Steffen
8. Ons groet Leana Steffen
Na 'n volle 38 jaar en 10 maande is dit nou ook tyd om ons kollega, Leana Steffen, te groet.
Mej Aletta Johanna Gelderblom is as 21 jarige op 1 November 1976 as bode/klerklike assistent in diens van die Diens van Barmhartigheid/SKDB aangestel. Beslis 'n besondere dienstydperk en prestasie!
'n Voormalige kollega, Gerdaline Smit, vertel meer oor Leana: lees hier.
Ons wens jou en Gerhard 'n baie vreugdevolle aftrede  toe, Leana!
ALGEMEEN
1. Hulp vir jou Bediening: Gratis Doopvideo's

'n Herinnering aan die reeks gratis doopvideo's wat in opdrag van die sinode se Taakspan Leer en Aktuele Sake saamgestel is vir gebruik in die bediening. Belangstellendes kan dit op Mema-media ('n afdeling van Bybel-Media) se webblad aflaai.
Tydens die vervaardiging van die video's is die hoop uitgespreek dat dit rustigheid in nadenke oor die doop sal bring en dat dit vir mense sal help om die seën van die doop te ontdek. Skakels na video's:
Verhoog - klik hier
Tafel - klik hier
Sleutel - klik hier
Bankie - klik hier
Liedjie - klik hier
2. Seisoen van Menswaardigheid
Die waardes waarop in die besonder gedurende hierdie seisoen gefokus word, is RESPEKTEER, LUISTER, LIEFHÊ en OMARM
Die bevestiging van die menswaardigheid van alle mense in die gebroke samelewing waarin ons leef, is ook tydens die onlangse sinodesitting beklemtoon. Waar ons oor grense na mekaar kan uitreik, en leer om mekaar met respek en liefde te hanteer, dáár kom die herstel van menswaardigheid. 

Belangstellendes kan meer inligting op www.menswaardigheid.co.za kry. Die pragtige plakkate en baniere, ontwerp deur Nico Simpson, is ook daar beskikbaar om gratis af te laai. Dit is 'n handige hulpmiddel tydens gesprekke oor menswaardigheid. Sien enkele voorbeelde hieronder.

Respekteer Luister
Liefhe Omarm
3. Badisa Alta du Toit Nasorg: Herwinning
"Ons is besig met herwinning hier by Alta du Toit Nasorg Sentrum.  Vanaf e-afval, alle wit papier, tydskrifte, kartonne, koerante en deurskynende plastiek!  Alles kan na die Sentrum gebring word tydens kantoorure van 08:00 tot 16:00. Ons beskik uiteindelik oor die fasiliteite om dit op 'n daaglikse basis te ontvang. Vir meer inligting hieroor of enige navrae/reëlings, kontak Mariaan by mariaan@altadutoit.org.za of 021 913 2106." So laat weet bemarker Lelani Vermaak. Ondersteun hulle gerus. 
4. Sondag vir Persone met Gestremdhede: 30 Augustus
Vir diegene wat nou reeds gaste en sprekers wil uitnooi. RampUp nooi alle kerke om deel te neem aan dié spesiale dag om die insluiting van persone met gestremdheid te vier. Die tema vir hierdie jaar “Die mooiste van vriendskap”, wil fokus op die verrykende ervarings wat moontlik is waar gestremde en nie-gestremde persone op gelyke vlak deelneem in vriendskappe van egte wederkerigheid.
Op die RampUp webwerf is daar 'n aflaaibare pamflet met vars inligting en idees oor hoe hierdie Sondag vir Persone met Gestremdheid gevier kan word. Dit sluit in:
• Feite oor gestremdheid in die wêreld asook in kerke  
• Voorstelle vir die erediens op hierdie dag 
Twee preke oor vriendskap 
• Idees oor interaksie tussen gestremdes en nie-gestremdes 
• Jeugaktiwiteite wat bewusmaking bevorder. 
Julie Claassens
5. Raakgelees 
5.1 Oor Godsbeelde ...

Die beelde wat ons vir God gebruik, maak saak. Beelde wat 'n ruimer visie op God bied, kan ons ook help om dalk nuut te kyk na die mense om ons.
God word in die Ou Testament uitgebeeld as arend, rots, ma-beer, ma, pa, pottebakker, soldaat, koning, herder, regter en nog vele meer. Dit is asof die Bybelskrywers wil sê dat ons God nie kan vasvang in net een beeld nie. En hierdie veelvoud van Godsbeelde moedig ons aan om ook vandag op meerdere maniere oor God te praat.
S
ó skryf prof Juliana Claassens (Ou Testament, Fakulteit Teologie aan die US) in "Godsbeelde wat saak maak", die hoofberig in Augustus 2015 se Die Hervormer (amptelike mondstuk van die NH Kerk van Afrika).
Belangstellendes kan hier verder lees.

5.2 En oor Geloof en Wetenskap ...
Die gesprek oor geloof teenoor wetenskap kom al 'n lang pad – en sal sekerlik nog lank met ons wees. Belangstellendes in hierdie saak kan oorweeg om Wilhelm Jordaan se perspektief te lees.
Hy skryf: “Die wetenskap is nie bedoel om korreksies aan te bring op Bybelse onjuisthede óf om grondwaarhede oor geloof te betwis nie. Wetenskap verbreed die mens se verstaanmoontlikhede juis oor dié dinge wat deur geloof, as ’n keuse, omgewerk kan word: vanaf blinde goedgelowigheid, verby alte maklike, verwerpende skeptisisme tot ’n volslae verbondenheid aan die misterie van die moontlikheid van God. Klik hier. (Met erkenning aan Netwerk24).
6. TT Cloete 31-05-1924 - 29-07-2015
Belangstellendes kan die volledige teks van TT Cloete se omryming van die welbekende Ps 23 (soos bo-aan VrydagNuus) hier lees - met erkenning aan Volksblad van 30 Julie 2015.
VGK Ceres
PREDIKANTENUUS
Bevestiging: Sean Esterhuizen
Almal word hartlik uitgenooi na die bevestiging van ds Sean Esterhuizen, Predikant in Sinodale Diens SKDD in die VGK Ceres gemeente, Lyellstraat 29, op Sondag 2 Augustus om 10:00.
Die bevestiging sal deur Mario Ferris (VGK Koue Bokkeveld) hanteer word. Hy is ook die konsulent. Broer Gerome Haupt (VGK Caledon en SKDD-voorsitter) sal die bevestigingsrede waarneem. 
Seënwense toegebid - red.
Jac Laubscher
Amanda Gouws
GEMEENTENUUS
1. NG Durbanville Dink na oor Armoede en Ongelykheid
Om die moeilike vraag "Hoe maak jy 'n verskil aan armoede en ongelykheid?" te beantwoord hou die NG Kerk Durbanville 'n reeks gesprekke op Sondagaande, wat begin op 16 Augustus om 18:30.
Die eerste aand is 'n paneelbespreking waarin kenners vanuit verskillende velde sê hoe hulle die probleme van armoede en ongelykheid sien vanuit hulle veld van kundigheid. Die paneel bestaan uit die ekonoom, Jac Laubscher, die politieke wetenskaplike, Amanda Gouws, die teoloog en etikus, Nico Koopman, en die voorsitter van Badisa, een van die grootste maatskaplike organisasies in Suid-Afrika, Averell Rust.
Lees aangeheg meer oor hierdie baie relevante gesprekreeks.
2. NG Kuilsrivier-De Eike se Winter Uitreik bring Seën
Chris Barnardo stuur inligting oor NG Kuilsrivier-De Eike se uitreik na Laerskool Vergenoegd in Delft. (VrydagNuus van 17 April het daaroor berig.)
"Wat 'n lewensveranderde ervaring was dit nie! Die skoolhoof, mnr Roman, die onderwysers en leerders het ons by die laerskool ingewag en ons op die hande gedra. Ons het daarheen gegaan om sin in kinders se lewens te bring, maar ONS het sin ontvang! In eenvoud en met opregte dankbaarheid het hierdie mense ons in verbasing laat staan. Hulle energie is aansteeklik en dit was een groot vreugde om daar weg te ry en te besef: 'Ons is gestuurdes!'
Die skoolklere is afgelewer en nou gaan die aanpas en uitdelery plaasvind. Soveel kinders se lewens is met die liefde van Jesus aangeraak. Vandag het ons nie aan hulle 'n guns bewys nie. Hulle het aan ons 'n guns bewys. Aan God al die eer! "
NG Kuilsrivier-De Eike in Delft
Kollegas Chris Barnardo en Johan Morkel van Kuilsrivier-De Eike
saam met Laerskool Vergenoegd-personeel.
Danielkonferensie
NUUSBRIEWE
Missie Japan Nuusbrief
Stéphan, Carina en die kinders se somerverlof is om die draai, maar in hulle jongse nuusbrief deel hulle eers 'n aantal belangrike gebeure. 
Die Van der Watts staan voor 'n groot skuif - Stéphan is amptelik beroep as voltydse dosent na Kobe Reformed Theological Seminary. Kom ons bid vir hulle hierin.
1. Daar is 'n nuwe ses-minuut video oor hulle familie-lewe en 'n paar bedieninge waarin hulle die afgelope twee maande betrokke was. Deel dit gerus.

Video oor Van der Walts in Japan
2. Carina is aan die woord met gedagtes oor tuis-onderrig: klik hier.
3. Hulle vra met vrymoedigheid dat ons saam met hulle en vir hulle bid. Lees Missie Japan se maandelikse gebedsflits hier.

KUIER-KANS
Klik op die pamflette hieronder ...
Alta du Toit Nasorg Damesoggend Kenridge Vroue met Vlerke
Roosterkoek
3. NG Bellville-Oos: Roosterkoek en hamburgers!
Lekker hamburgers en roosterkoeke weer Donderdag 6 Augustus by NG Bellville-Oos te koop! Hamburgers @ R15 en roosterkoeke @ R5 sal dié middag om 18:00 by die kerk (hoek van Park- en Constablestraat, De La Haye) afgehaal kan word.
Belangrik: bestel nie later nie as Woensdag 5 Augustus by die kerkkantoor (021 948 5785), óf by Hennie Pienaar by 082 499 4159. Voorkom teleurstelllings en bestel nou. Bestellings kan ook ge-sms word na 082 499 4159 met jou naam, kontaknommer en die hoeveelheid hamburgers en/of roosterkoeke wat bestel word. Die inkomste word aangewend vir die kerk se onderskeie projekte ten opsigte van behoeftiges.
NG Kerk in SA-logo
VAKATURES
1. NG Kerk in SA: Sekretaresse
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode Wes-en-Suid-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature by die Diensgroep Toerusting te Stellenbosch. Die Diensgroep is verantwoordelik vir die kerklike opleiding en navorsing. Die aangewese kandidaat sal verantwoordelik wees vir sekretariële ondersteuning en administratiewe pligte. Reageer voor 18 Augustus - lees aangeheg meer.
Badisa-logo
2. Badisa Huis Lückhoff: Bestuurder
Huis Lückhoff in Rosebank is 'n program van Badisa, die gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met 'n postiewe ingesteldheid teenoor bejaardes word voor 7 Augustus ingewag. Meer is aangeheg

3. Badisa Vrederus Tehuis: Bestuurder
Vrederus Tehuis in Villiersdorp in ’n program van Badisa. Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking ingewag. Reageer voor 12 Augustus en klik hier vir meer besonderhede oor verantwoordelikhede en vereistes.

4. Badisa Huis Ravenzicht: Bestuurder
Huis Ravenzicht in Kraaifontein is 'n program van Badisa, die gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met 'n postiewe ingesteldheid teenoor bejaardes word voor 14 Augustus vir die vakature as bestuurder ingewag. Meer is hier beskikbaar
Johan Botha
TEN LAASTE ... 

Uit die Pen van
... Johan Botha

Van kleins af, in die 1950's, het Pa en Ma ons uit die Bybel geleer; "elkeen wat by ons voordeur inkom, is broer en suster". Huis, vir my eerste tien jaar, was die pastorie van die NG Sendingkerk in Wynberg. Aanvanklik was ons "broers en susters" die lidmate. Later almal in die gemeenskap, vir my. In 1978, toe ek predikant word, was "broer en suster" vreemder wordende groetwoorde in ons polariserende konteks.

Genadiglik in 1979 kom SACLA (South African Christian Leadership Assembly) in Pretoria. Ek gaan toe met Pa en broer David en 5000 ander Christen kerkleiers van binne en buite SA. Die woorde van die geregtigheidsoekende biskop van Johannesburg, Desmond Tutu, ontroer ons destyds diep. Dit troos, bemoedig en rig hopelik steeds. "Goeienaand, Broers en Susters", het hy ons gegroet. "Ja, ons is broers en susters, nie omdat ons mekaar gekies het nie, máár omdat ons vir mekaar gegee is". Jy kon 'n speld tussen ons bonte verskeidenheid hoor val. Toe, diep betekenisvol, trek hy die konsekwensie: "En daarom, PW Botha is my broer".   

Belangstellendes kan Johan Botha by jbotha707@gmail.com kontak.

VrydagNuus-groete.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.