Lees deur internet, klik hier >>
1 September 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Sinode logo
SINODENUUS
1. NG Wes-Kaapland Moderamenvergadering
1.1 Evangelisasie as kernbesigheid
Een van die belangrikste uitkomste van die afgelope week (29 en 30 Augustus) se moderamenvergadering, was ’n hernude besef dat evangelisasie die kerk se kernbesigheid is. Die moderamen het 'n vaste voorneme om 'n uitvoerbare strategie hiervoor te ontwikkel. 'n Interdiensgroep-taakspan is in die lewe geroep om die moderamen by sy volgende vergadering in Maart 2018 met ’n deurdagte evangelisasiestrategie te bedien. 
1.2 Wat is die evangelie?
Belangstellendes kan gerus oorweeg om te luister na Marius Nel, dosent in Nuwe Testament aan die US se Fakulteit Teologie, wat tydens Dinsdag 29 Aug se opening met die moderamen gepraat het oor wat die evangelie is. Die video is onder.
Marius Nel opening
Theunis Botha
1.3 Lééf vanuit Paasfees-perspektief
Theunis Botha, PSD: Predikantebegeleiding en die liturg tydens die opening van die moderamen se vergadering op Di 29 Augustus, herinner daaraan dat ons die geleentheid het om élke dag vanuit Paasfees te leef. "Die verwondering oor die lewe na geboorte is dalk baie naby aan dieselfde as die verwondering wat ons ook maar mag hê oor die lewe na die dood. Want ook die dood is die  begin van 'n nuwe geboorte en 'n nuwe lewe …"
Theunis deel onder meer 'n verhaaltjie deur Henri Nouwen en verwys na die gedig "Klokkespel" (IL de Villiers). Beide die moeite werd om te lees en herlees.

Frederick Marais
1.4 Stof tot dank en hoop
Die moderamen was opnuut onder die indruk van die bevoorregte situasie waarin ons as gemeenskap van gelowiges ons bevind. Getuienisse en verhale van hoop (dink bv aan Diaconia se suksesvolle en groeiende SmartStart en Nal'bali-vennootskappe!) het dit beklemtoon, terwyl ander bydraes by die moderamen 'n tydige wekroep was oor die kerk se rol in 'n wêreld wat dikwels hoop verloor het.
Die Diensgroep Navorsing en Toerusting se Marié Britz (voorsitter) en Frederick Marais (PSD) vra in hulle verslag dat die moderamen hoop sal skep uit die deurbrake wat gemaak is in ons nadenke, opleiding en begeleiding in die sinode. 
Lees ook hier. 
1.5 Navorsing oor klein gemeentes
Om predikante in uitdagende omstandighede in klein gemeentes te ondersteun, is navorsing gedoen oor die unieke uitdagings van hierdie gemeentes. Konsep boublokke is ontwikkel vir klein gemeentes om innoverende plaaslike antwoorde te vind om volhoubare koninkryksdiens in gemeenskappe te verrig.
Onder is enkele foto's van die moderamenlede wat hierdie boublokke (kaarte) as toetsgroep op die proef kon stel. Op ons Facebook is baie meer foto's van die moderamenvergadering. Gaan soek jou kerkraadslid of predikant gerus daar!
Derick, Rene en Jan
Derick Lambrechts (Grabouw), René Potgieter (Gamkavallei) en Jan Grobbelaar
(Wellington-Oos & voorsitter Getuienisaksie) 
Boy Janse van Rensburg
Boy Janse van Rensburg (NG Albertinia)
het nét die kaart om 'n klein gemeente met plaaslike oplossings te help
Jan, Tallie, Len en NJ dink diep
Jan Stadler (Beaufort-Wes), Tallie vd Heever (Boesmanland), Len Schreuder (Alexanderbaai) & NJ van As (Wellington-Oos) dink diep
Tinus, Dawid, Pieter en Riana dink saam
Tinus van Zyl (Durbanville), Dawid de Wet (Hartenbos), Pieter van Santen (George-Tuinedal) & Riana Furniss (Tulbagh) besin
1.6 Partnership with The Great Commission Network
Aaron and Mavis Makili from The Great Commission Network in Khayelitsha honoured the meeting with their presence on Wednesday. Frederick Marais shared information about the new Nehemia Bible Institute course, where pastors from the Great Commission can also participate - one way of supporting our brothers and sisters in this church community. Click here.
Frik Bosman, Aaron and Mavis Makili
Frik Bosman (moderatuurslid) & Aaron en Mavis Makili (Great Commission Network)
1.7 Hulpmiddels vir jeugbediening 
Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Familiebegeleiding) het die moderamen herinner aan verskillende hulpmiddels en bronne wat tot gemeentes se beskikking is om hulle met hul bediening aan die jeug te ondersteun. Meer inligting oor 'n bediening wat spesifiek op die naskoolse jeug fokus, is binnekort beskikbaar. Lees verder.
Jeug
Brande
Suid-Kaapse rampgebied: Herinnering
2. Barmhartigheidsmaand: Wat sal ware verandering bring?
Diaconia is die NG Kerk en VG Kerk se gesamentlike diensgroep wat gemeentes aanmoedig om meer sistemies betrokke te wees by die uitwissing van armoede in hul gemeenskappe. Saam met Badisa, wat die formele weldaadorganisasie van die twee kerke is, word daarna gestreef om die Suid-Afrikaanse samelewing te transformeer tot 'n samelewing wat gesond, voorspoedig, verdraagsaam, veilig, regverdig en inklusief is. Lees gerus hoe Sean Esterhuizen (PSD: Diaconia) skryf.
Badisa AJV
Bevestig jou teenwoordigheid vandag by info@badisa.org.za
Paul Colditz
3. Godsdiens in skole
Die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake (STLAS) deel inligting oor 'n gespreksgeleentheid rakende die onlangse hofuitspraak oor godsdiens in skole.
Die spreker is Paul Colditz, HUB van FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van SA Skole). Dit vind plaas om 19:15 op 4 September by die NG Gemeente Welgemoed en vorm deel van die ringsitting van die Ring van Bellville.
Daarna sal STLAS ook 'n inligtingstuk saamstel wat aan gemeentes gestuur sal word. Lees meer hier. Alle belangstellendes is welkom by hierdie gesprek.
Goudini spa
4. Gemeentes, neem kennis:
Sinode 2019

Die moderamen het hierdie week die datum vir 2019 se sinodesitting by Goudini goedgekeur. Die vergadering sal van 13-17 Mei 2019 plaasvind. Gemeentes word gevra om nou reeds kennis hiervan te neem en dit deel van hul beplanning vir 2019 te maak.
Predikante en afgevaardigdes wat nie in die omgewing woon nie, word by Goudini gehuisves.
5. Geskiedenis vir PPF met IFLA!
Donderdag 24 Augustus se vergadering van die trustees van die Predikante Pensioenfonds van die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika (PPF) was omtrent 'n besondere geleentheid!
Tydens hierdie spesiale vergadering is twee nuwe lede as trustees verwelkom: hulle is Theunis Smit (NG Gemeente Upington-Wes) en Annerina Viljoen (die sinode se finansiële bestuurder) en geskiedenis is gemaak toe die reëls en alle dokumentasie rondom die In-fonds Lewende Annuïteit-opsie (IFLA) goedgekeur is. Klik hier.
PPFspan
Vlnr Bossie Minnaar, Theunis Smit, Annerina Viljoen en Monty Sahd
Logo
6. Missionale Bedieningkursus by Communitas 
Op 12-14 September bied Communitas die MSI-kursus aan. MSI staan vir Mission Shaped Introduction, en die kursus fokus op maniere om gemeentes te help om die skuif van selfgerigte instandhouding na ʼn sterk missionale bediening te begin maak. ʼn Kerk wat op sigself ingestel is, is sterwend; die kerk en sy bediening moet gerig wees op die omringende omgewing.
Klik hier vir meer sowel as die inskrywingsvorm. Skryf in voor 5 September.
Kompetisie - VrydagNuus
Facebook-kompetisie ter ondersteuning van ons kommunikasie
ALGEMEEN
1. Raakgelees

1.1 “Geestelike Waardes” kry na 21 jaar nuwe skrywer

"Geloof is die vermoë om te sien wat ons nié sien nie, anders te kyk na ander, mekaar, onsself, omstandighede. Te onderskei wat waarlik saak maak. Dieper te leer kyk. Om waardigheid te sien waar dit glad nie opval nie. Vriende waar ander net vyande opmerk. Hoop waar die natuurlike hart net ellende waarneem.”
Die Burger-lesers is op Saterdag 26 Augustus begroet met die nuus dat prof Dirkie Smit* na 21 jaar se gereelde bydraes in die Saterdag-uitgawe se "Geestelike Waardes"-rubriek nou groet. Wat 'n besondere voorreg om weekliks hierin te kon deel.

En nou wens ons saam met talle ander vir prof Robert Vosloo, wat die rubriek voortaan sal behartig, baie seën toe. Ons glo die stokkie is in veilige hande oorgegee. Klik hier.

*VrydagNuus het in Februarie vanjaar berig dat prof Dirkie Smit aangestel is as Professor in die “Rimmer and Ruth De Vries” leerstoel vir Gereformeerde Teologie en Openbare Lewe by die Princeton Theological Seminary in Amerika.
Dirkie Smit
Dirkie Smit
Robert Vosloo
Robert Vosloo
Logo
1.2 Missionale kerkwees: radikale perspektief
“On Sunday mornings, Awaken Church probably looks a bit like what most people would expect from a church. There is singing, reading of Scripture, and prayer in a brick building where people can meet and encourage one another.
However, as pastor Mike Pumphrey says, ‘gathering on Sunday is really for the sending of the people back out into their mission fields.’ He claims that Awaken Church is less about Sunday gatherings and more about showing people ‘what the church looks like Monday through Saturday.’ The main way that they do this is through what they call ‘missional communities.’” Belangstellendes kan hier lees.
1.3 Jesus in films
E-Kerk se nuwe 360 sekonde-waarhede is ’n nuwe videoreeks waarin Roedolf Botha gesels oor hoe ’n mens se verhouding met Jesus ook deur films verdiep kan word en ons Hom in films kan vind. In die reeks is reeds ses video’s: Dirty Harry
August Rush

Collateral

The Princess Bride
Up in the air
Wonder Woman
Logo's
1.4 Nouer bande tussen kerke
Op 27 Julie het die moderamen van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk ontmoet.
Die moderature het in ’n baie goeie gees gesprek gevoer, en verklaar graag hulle voorneme om verder nou saam te werk. 
Sekere gemeenskaplike sake is geïdentifiseer om hierdie samewerking te bevorder: missionaliteit, barmhartigheidsdiens, teologiese opleiding, ekumene, gemeentes, kerkliedere en –musiek en die elektroniese media. Lees meer hier. (Met dank aan die NHKA se "Blitspos" van 24 Aug.) 
Logo
2. Kontekstuele teologie vir veranderende tye
Van ons kollegas in die Vrystaat ontvang ons inligting oor honneurs- en magisterprogramme in Theologia Praxis. Enige persoon met ’n toepaslike B-graad kan voor 30 September vir die honneursprogram aansoek doen.
Navrae: Annelize Dreyer by dreyera@ufs.ac.za. Lees meer.
Ringe
UIT ONS RINGE
1.1  Waar pas die ring in?
In ons Gereformeerde kerkbegrip is die ring ’n uitdrukking van die kerkverband wat gemeentes groepeer vir onderlinge samewerking en ondersteuning, sowel as kerklike dissipline waar nodig. Die Kerkorde onderskei onder meer die volgende funksies vir ringe: ’n pastorale funksie, toerustingsfunksie, begeleidingsfunksie en ’n opsig- en tugfunksie.
Meer hieroor is in reglement 7 van die Kerkorde. Klik hier vir inligting oor ons ringsamestelling. Ons deel graag inligting oor ringsittings en vra gemeentes se voorbidding vir elkeen van hierdie geleenthede.
Jannie Fourie
1.2 Ring van Oudtshoorn beweeg
Die Ring van Oudtshoorn het op Sondag 20 Augustus in die NG Gemeente Oudtshoorn-Welgeluk vergader.
Die tema van hulle sitting was: “Die kerk in Oudtshoorn saam aan die beweeg.” Saam aan die beweeg met Christus en saam met ander organisasies (sien onder) in die dorp wat elk op hul eie manier besig is met koninkrykswerk. Inspirerend
! Hier vertel Jannie Fourie, ringskriba, meer. 
Cansa logo Famsa logo ACVV logo IMSA logo
Anriëtte
1.3 Ring van Swartland: die kreatiewe God
Die Ring van Swartland beplan om vanjaar op Sondag 3 September te vergader, maar wil ook met die ringsitting lidmate innooi om by die gesprek betrokke te raak. Hulle  tema vir die ringsitting is: "God: Skep iets uit niks, Maak nuut, inspireer om te gaan skep en nuut te leef.” Lidmate in omliggende dorpe word ook hartlik uitgenooi na hierdie geleentheid. Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebegeleiding) sal die erediens en nagmaal waarneem. Meer inligting is hier beskikbaar. 
1.4 Wesland Verenigende Ring op Robbeneiland
Wesland Verenigde Ring is reeds sedert 2003 ’n verenigde ring. Die ringspredikante het op 17 Augustus ’n uitstappie na Robbeneiland onderneem (foto onder en hier). Al die predikante van die ring was teenwoordig. "Dit was heerlik om saam te kuier. Robbeneiland het ’n besondere geleentheid gebied om ons onderskeie verledes te konfronteer," vertel voorsitter Richard Holloway (NG St Helenabaai). Die ring vergader op 17 en 18 September vir die elfde keer.
Wesland ringslede
Wesland Verenigde Ring op Robbeneiland
Rina en CSO
GEMEENTENUUS
1. NG Heidekoppie: Erediens met Rina Hugo

Op Sondagaand 17 Sep om 18:00 tree Rina Hugo op by Heidekoppie - Die Gemeente met Oop Deure, Proteaweg, Proteahoogte, Brackenfell. 'n Besondere program van voorsang, gemeentesang en voorlesing word beplan. Toegang is gratis, en dankoffers is ten bate van die Christelike Seemansorganisasie. Navrae: Jackie de Klerk by  021 981 2690 of admin@heidekoppie.com.
2. Parow-Noord Gemeenskapskerk: Stry die goeie stryd
Parow-Noord Gemeenskapskerk, 'n geloofsgemeenskapsvennootskap wat bestaan tussen die NG gemeente en Revive Worship Centre, se volgende manne-ontbyt vind plaas op Saterdag 9 September om 09:00.
Almal is welkom by hierdie interkerklike en multikulturele geleentheid, waar George Rauch as spreker optree. Skakel 072 557 7437.
Rina Hugo optrede
Lizette Louw
PREDIKANTENUUS
1. Lizette Louw: Helderberg se liturgiekoördineerder
Lizette Louw (tot onlangs by die NG Gemeente Ottery) begin op 1 September as liturgiekoördineerder met leraarsverpligtinge by die NG Gemeente Helderberg in Somerset-Wes. Haar bevestiging vind op Sondag 3 September plaas en ons wens haar baie seën en vervulling in die nuwe omgewing toe. Lees gerus hier meer oor Lizette, wat ook as predikant beroep word. (Met erkenning aan Helderberg se webwerf.)
Hannes Ries
2. Hannes Ries, welkom in Montagu!
Ons verwelkom graag vir Hannes Ries terug in die Kaap as hy vanaf 1 September amptelik deel van die span van die NG Gemeente Montagu is. Hannes vertel dat hy, nadat hy sy doktorsgraad in 2012 voltooi het, vir ongeveer vier jaar in Harrismith predikant was in die Kerkenberggemeente. "Ek glo die Here is op reis met elkeen en dit was heerlik om vier jaar saam met Hom in die Vrystaat te kon deurbring. Een baie spesiale hoogtepunt was ʼn troue op Platberg naby ʼn kruis wat elke aand helder oor Harrismith skyn. Dit het my nogal aan die woorde van lied 509 laat dink ... 'Op berge en in dale en oral is my God.' Mag Hy ook so met ons hier in die Wes-Kaap wees!"
Hannes se intreepreek is op So 17 September. Baie seën in die gemeente!
EKOLOGIE
1. 
Seisoen van die skepping
Meer en meer kerke, vanuit verskillende tradisies regoor die wêreld, vier jaarliks ’n Seisoen van die Skepping in die tyd na 1 September. Die Wêreldraad van Kerke (WRK) moedig ook aan dat kerke jaarliks 1 September afsonder as ’n dag van gebed vir die skepping en volhou-baarheid. Op hulle webwerf  is bronne wat gemeentes hiermee kan help.
Die WRK se algemene sekretaris, Olav Fykse Tveit, nooi al 348 lidkerke uit om aan hierdie aksies tydens die Seisoen van die Skepping deel te neem. Klik langsaan op die foto vir die videoboodskap
Day of Creation
Sorg vir die skepping: gebedsbyeenkoms vir alle gelowiges
David Botha
3. Hoekom aanhou praat oor klimaatsverandering?
By die onlangse jaarvergadering van SAFCEI, was dit een van die vrae wat Kumi Naidoo, jare lange president van Greenpeace International en ambassadeur vir SAFCEI, aan-gespreek het. Dis immers een van die groot uitdagings wat mense het wat probeer om ander te oortuig dat ‘n nuwe leefstyl nodig is. Lees gerus ook David Botha, toegewyde lid van die Ekologie-taakspan en gereelde skrywer vir VrydagNuus oor hierdie saak, se persoonlike kommentaar hieroor. 
BEHOU DIE HUMOR
Humor
FAS
NUUSBRIEWE
Christelike Lektuurfonds: Fokus op FAS
Jaarliks op 9 September val die fokus op die hartseer van fetale alkoholsindroom wat soveel kinders in ons land ʼn permanente agterstand in die lewe gee. Volgens FARR – (Foundation for Alcohol Related Research) word ongeveer drie miljoen mense in SA daardeur geraak.
Bewusmaking as voorkomingsmaatreël kan ʼn positiewe invloed hê op die getal babas wat met FAS gebore word. Daarom wil Christelike Lektuurfonds (CLF) almal aanmoedig om van hul pamflette te bestel en ʼn impak daarmee in gemeenskappe te maak. Hier is meer inligting oor die verskillende pamflette.
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 8 September 2017.
Vakatures - Kerkbode
Mary-Anne Plaatjies-van Huffel
TEN LAASTE
Uit die Pen van ...
Mary Anne Plaatjies Van Huffel

Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Openbaring 21: 5.

Dit is immers waaraan gelowiges op hul pelgrimstog op aarde vashou, naamlik die wete dat Hy alles nuut sal maak. In ʼn wêreld vol pyn en lyding, droefheid, korrupsie en geweld en vasgeloopte situasies  kan die gelowige vashou aan dié hoop. Openbaring 21 handel uiteraard oor die nuwe hemel en die nuwe aarde. God  regeer die heelal van die begin van die tye af. Hy is uit die Een wat uit chaos die skepping voortgebring het en nog steeds deur al die eeue herskep. Midde ons omstandighede behoort ons sy stem te hoor wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Hy is die God van nuwe dinge.  Met Hom kan ons hoopvol die toekoms ingaan.
                                                                  ***

Prof Mary Anne Plaatjies van Huffel doseer Kerkreg aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, is die vorige moderator van die VGKSA en die Afrika President van die Wêreldraad van Kerke (WRK). 

Laaste gedagte
Het julle water? Plant gerus 'n boom!
Lentegroete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.