Subscribe to our email list
 14 Oktober 2016

Beste Leser
Vrugte van die Gees
SINODENUUS
1.1 Nuwe moderatuur vir VGKSA 2016-2020
Ons opregte seënwense aan die nuutverkose lede van die moderatuur van die VGKSA, soos verlede week tydens die algemene sinodesitting (van 3 - 9 Oktober 2016 by die Kopanong Hotel en Konferensiesentrum in Benoni) verkies.
Hulle is: prof LJ Modise (moderator, Suidelike Sinode), ds MG Betha (assessor, Phororo Sinode), ds WJ Julius (skriba, Namibiese Sinode), ds DP Carelse (aktuarius, Kaapland Sinode), met die volgende drie addisionele lede: prof C Landman (Noordelike Sinode), ds LP Fokase (Vrystaat en Lesotho Sinode) en ds TE Ngema (KZN Sinode).

VGKSA moderamen
Ds WJ Julius (skriba), ds DP Carelse (aktuarius), prof LJ Modise (moderator), ds MG Betha (assessor), prof C Landman (addisionele lid), ds LP Fokase (addisionele lid), en ds TE Ngema (addisionele lid)
1.2 VGKSA Algemene Sinodesitting
Nelis Janse van Rensburg het die groeteboodskap van die NG Kerk by die VGKSA se sewende algemene sinode verlede week in Benoni gebring. Lees gerus e-Kerkbode se berig hier.
Onder die betekenisvolle besluite was die aanvaarding van 'n tussenorde (wat reeds deur die NG Kerk aanvaar is en - volgens Neels Jackson in e-Kerkbode - die weg baan vir vereniging in "gemeentes, ringe en streeksinodes wat gereed is daarvoor". Meer hieroor is hier beskikbaar. (Met dank aan e-Kerkbode; foto: Neels Jackson)
Verder is 'n verslag oor homoseksualiteit ook voorgelê en bespreek. "Die aard van homoseksuele verhoudings, asook die legitimering van gay predikante hou daarmee verband. Uiteindelik is met 87 stemme teenoor 48 besluit die gesprek oor homoseksualiteit en of diegene wat binne homoseksuele verhoudings staan, selibaat moet bly of nie, moet verder op gemeentevlak gevoer word." Belangstellendes kan Netwerk24 se volledige berig (waarin dr Dawid Kuyler aangehaal word) hier kry.
2. Slim vir Aftrede!
Deon Bruwer (PSD: Hospitaalpastoraat) het van 11 tot 13 Oktober vir oulaas op Stellenbosch sy gewilde aftreewerkswinkel vir predikante wat beplan om binne die volgende vyf tot sewe jaar af te tree, aangebied. Dit was waarskynlik die grootste groep ooit wat die kursus bygewoon het - die laaste onder Deon se uitstekende en professionele hand voordat hy in Januarie 2017 as PSD aftree. Gaan maak gerus op die sinode se Facebook 'n draai om te kyk watter bekendes onder die 45 siele in die Hofmeyrsaal getel het!
NJ en Karen van As
NJ en Karen van As
(Wellington-Oos)
Frans Fouche (Askam), Annarie en Charel Nel (Hermanus)
Gert en Antoinette Kok saam met Eddie Orsmond
Gert en Antoinette Kok (Eendekuil), Eddie Orsmond (Simondium)
Kobus en Anna de Kock, Herman Burger
Kobus en Ansa de Kock (Langebaan) en Herman Burger (Merweville)
3. Teologiese Opleiding: Is daar Beurse beskikbaar?
Die NG Kuratorium glo dat mense wat die potensiaal het om suksesvol te studeer, sover moontlik die geleentheid daartoe moet kry. Daarom probeer die Kuratorium om diegene wat as studente tot die Universiteit toegelaat word, maar nie die nodige finansiële middele het nie, sover moontlik te ondersteun. 
Kyk na hierdie video om meer uit te vind oor die beurse wat beskikbaar is. 
Kontak Amanda van Niekerk by toerusting@sun.ac.za met navrae.
Teologiese Opleiding - Studies is duur
4. Toerusting Rondom die Doop
Van Pieter van der Walt (PSD: Teologiese Navorsing) ontvang ons hierdie aktuele inligting namens die Sinodale Taakspan Leer en Aktuele Sake.
Sommige gemeentes het reeds baat gevind by die toerustingspakket oor die doop wat in 2015 ontwikkel is. Die boek, Ontvang wat vir jou gegee is – Hoe die doop ons kan leer om met Christus te leef, gaan oor die eintlike bedoeling van die doop en wat tydens die doop en daarna gebeur. Ons is oortuig dat dit baie help om hiér te begin, in plaas van by die groot- of kleindoopkonflik.
As deel van die pakket, is ook beskikbaar:
♦ 'n 40-dae-program vir groepe of gemeentes en ’n kleingroepgids 
♦ Die totale pakket by Bybel-Media (info@bmedia.co.za of 021 864 8200)
Ses videos gemaak aan die hand van ses metafore wat die betekeniselemente van die doop belig 
 Die Baptism, Eucharist and Ministry (BEM) dokument wat die instelling, betekenis, bediening en viering van die doop uitlig, en vertaal is deur Andries Cilliers.
Doopreeks
5. Vigstaakgroep: DVD-vertoning
Die Vigstaakgroep rig 'n vriendelik uitnodiging aan belangstellendes en veral ook lidmate en predikante wat self met of naby aan MIV lewe:
Kom sluit by ons aan vir ons volgende vergadering op 20 Oktober om 09:30 in Bellville. Vir meer besonderhede oor die vergadering, klik hier
Tydens die vergadering sal die DVD “Ngiyaphila Spirituality and Sexuality” vertoon word, wat gaan oor ds Phumzile Mabizela se lewe met MIV.
Vir meer inligting oor die DVD, klik hier.
Die Vigstaakgroep vorm deel van die Diensgroep Diaconia. Rig navrae aan Aneleh Fourie Le Roux by 083 292 5358 of training@cabsa.org.za.
6. Getuienisaksie: Msinga Vennootskapswerkswinkel
In die begin van Oktober het die Paarl Ondersteunersgroep (verskillende NGK- en VGK-gemeentes in die Paarl) van die Msinga Vennootskap 'n werkswinkel met vyf geestelike werkers van die Msinga VG Gemeente en die Jubilani Trust in Ladysmith (KZN), by die NG Gemeente Toringkerk, Paarl, gehou.
Daar was ook verteenwoordigers van Bredasdorp, Struisbaai en die mediese studente-groep van Tygerberg. Lees meer. Die vrolike groep is onder op die foto.
Msinga-byeenkoms
7. Publieke Getuienis
Kerkleiersgesprek oor Ekumeniese eenheid

Op 29 en 30 September het 'n diverse groep senior kerkleiers op kort uitnodiging by in Harmonie, Franschhoek, vergader om behoorlike ekumeniese eenheid, kohesie en samewerking in die Wes-Kaap te bespreek.
Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) en Richard Holloway (NG St Helenabaai) het oa die gesprek bygewoon.
Die groep was in 'n gefasiliteerde proses waar hulle in afhanklikheid van God onderskei het wat die kritieke uitdagings, strategieë en strukture is wat nodig is vir hierdie tyd, en hulle het saam gedroom oor hoe die Here verhoudinge kan verdiep en versterk. Lees die volledige verklaring hier. Onder is 'n foto van die  groep.
Groep kerkleiers
Mnr AF Conradie
8. Argief Kroniek: Ware Durf
Onlangs is die Kerkargief op Stellenbosch verras met die besoek van die Argief se “oudste navorser nóg”: die op en wakker mnr AF Conradie wat met die taxi vanaf die Strand heen-en-weer rits vir sy navorsing getiteld "’n Soeklig op die Bybel – van du Plessis tot Deist en Vorster. 1910-1990’s".
Mnr Conradie (wat op Kersdag 'n rype 89 jaar oud sal wees!) is 'n Pretoriaanse historikus. Sy doktorale studieleiers is prof Sakkie Spangenberg en dr E Oliver.
Watter voorreg en inspirasie om iemand met soveel durf en kundigheid hier ontvang! Ons bid hom alle sukses met die studie toe.
(Met dank aan Isabel Murray van die Argief.)

Kontak die Kerkargief gerus by 021 882 9923 of liesl@kaapkerk.co.za.
Biddag vir Gesondheidsdienste
9. Biddag vir Gesondheidsdienste - So 16 Oktober
Biddag vir Gesondheidsdienste val jaarliks op die derde Sondag in Oktober; vanjaar dus op 16 Oktober 2016. Ons herinner graag aan die brosjure van die CMF, die Christen Geneeskundige Bond (die Christian Medical Fellowship) vir kerkvennote en ander ondersteuners. 
Die brosjure, deur verskillende Christelike gesondheidsorganisasies saamgestel, is op hulle webwerf beskikbaar, terwyl meer inligting oor hoe die kerk by gesondheidsorg betrokke kan raak, ook daar beskikbaar is.
Lees gerus ook Deon Bruwer, hospitaalleraar, se bydrae oor geestesgesondheid by "Ten Laaste" onderaan hierdie nuusbrief. Dankie, Deon! 
10. NG Kerk Oornaghuis kry Nuwe Baadjie
In Meimaand het ons berig oor die NG Kerk se Oornaghuis in Lincolnstraat, Boston, hulle hoë-kwaliteit geriewe en die tevredenheid van hulle gaste. Intussen het die Oornaghuis opknappingswerk gedoen en daar is onder meer binne en buite geverf. Nelia Botes noem ook dat daar nog akkommodasie beskikbaar is vir die Desember-vakansie. Besoek gerus hulle Facebook-blad, en kontak Nelia by 021 913 3733 of oornaghuis@telkomsa.net indien navraag gedoen wil word of 'n bespreking gemaak word. Lees hier meer. 
Vooraansig
Vooraansig NG Oornaghuis
Tuin en speelarea
Lieflike speelplek en tuin
Ontspanningsarea
Sonnige ontspanningsarea
Sitarea, gang
Gesellige sitarea; rolstoelvriendelike gang
Noord-Kaapland Agenda
11. Sinodesitting in Noord-Kaapland
“Here, doen dit weer ...”
Die sinode van die NG Kerk in Noord-Kaapland vergader op Ma 17 Oktober 2016 tot Do 20 Oktober 2016 by die NG Gemeente Kimberley-Vooruitsig.
Die tema van vanjaar se sinode is: “Here, doen dit weer...”.
Vier tafelgesprekke is geïdentifiseer, naamlik:
• Skrifbeskouing en Skrifgesag
• Selfdegeslagverhoudings
• Missionale transformasie
• Gemeente en Gemeenskap
Ons seënwense aan elke predikant en afge-vaardigde. Veilige reis en besondere wysheid en insig vir die vergadering!

Ds Erich Breytenbach
ALGEMEEN
Met innige Simpatie
1.1  Ds Erick Severis Breytenbach
10.05.1924 - 18.09.2016

Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds Erick Breytenbach, wat op 18 September 2016 oorlede is. Sy gade is reeds in 2013 oorlede.
Hy was werksaam in die volgende gemeentes voordat hy in 1989 emeritaat ontvang het: Piketberg, Douglas, Port Elizabeth-Oos, Alexandria en ten slotte Port Elizabeth Nooitgedacht. Ds Breytenbach was sy laaste jare woonagtig in Monte Rosa in Tuine. Hy word oorleef deur sy drie seuns, Wynand, Mauritz en Erich en vier kleinkinders.
Ons simpatie aan die familie met hul groot verlies.
Ds Eben Louw
1.2 Ds Ebenhaezer (Eben) Louw
15.12.1932 - 26.09.2016

Die sinode spreek graag ons innige simpatie uit teenoor ds Eben Louw se weduwee, Letitia, en kinders Stefan, Gerhard, Hilda en Letitia. Ds Eben is op 26 September in Kuilsrivier oorlede.

Ds Eben en Letitia was woonagtig in Andante, Kuilsrivier en was 58 jaar getroud. Sy gedenkdiens het op Vrydag 30 September vanuit die NG Gemeente Kuilsrivier-Suid plaasgevind en is gelei deur prof Piet Jonas. 
Ds Louw was 'n trotse "Donkie" en word beskryf as 'n baie beminde en innemende mens, meelewend by interkerklike bidure en meer. 
Mag die Here self by elkeen van hierdie familie in hulle hartseer en verlies wees.
Edison Queiros
1.3 Edison Queiros 
"Edison Queiros (67), bekend as sendingprediker in Suid-Afrika, is op 22 September 2016 in Sao Paulo aan breinkanker oorlede. Hy word onthou vir sy egte liefde, treffende lering, praktiese daadkrag en humor. Talle van die huidige sendelinge en ander dissipelmakers wat wêreldwyd dien, sowel as baie sendingondersteuners, is deur Edison beïnvloed. Een jaar in 'n Matie Sendingweek het Edison vir 6000 studente gepreek en 600 van hulle het hulself vir sendingdiens, naby en ver, aangebied.” So laat weet Murray Louw. Lees gerus meer oor hierdie groot hedendaagse mobiliseerder.
2. Op Besoek aan Missie Japan
VrydagNuus het in 'n vorige uitgawe berig oor die voorgenome besoek van drie NG Kerk afgevaardigdes wat vanaf 8 tot 14 Oktober by Missie Japan en in Kobe by die Reformed Church in Japan besoek aflê. 
Onder links is dr Gideon van der Watt (Missie Japan sekretaris), dr Gustav Claassen (NG Kerk algemene sekretaris), en prof Fanie Snyman (Dekaan van Fakulteit Teologie, UV) reg om te vertrek. Op Sondag 9 Oktober het Fanie die voorreg gehad om in die Kobe-gemeente van die RCJ te preek, terwyl Stéphan van der Watt (Missie Japan) as sy bekwame tolk opgetree het. Belangstellendes kan die NG Kerk se groeteboodskap, soos oorgedra deur dr Claassen, hier lees.
Gideon van der Watt, Gustav Claassen en Fanie Snyman Fanie Snyman preek en Stepan tolk
3. Loaves and Fishes - meer as Kos vir Haweloses 
Op 10 Oktober is Wêreldhawelosedag gedenk. Die Diensgroep Getuienisaksie stuur nuus oor Loaves and Fishes, 'n besondere bediening wat deur hierdie diensgroep ondersteun word.
Loves and Fishes is 'n nie-regeringsorganisasie geleë in Observatory, Kaapstad, wat hulle vir die afgelope 20 jaar reeds oor hawelose mense ontferm. Hulle bied ’n plek en ondersteunende ruimte vir behoeftige mense wat ’n nuwe lewe wil begin. Vanjaar is sover gemiddeld 35 mense per nag by hulle gehuisves. Lees meer van hierdie merkwaardige bediening. 
Kontak Ben Kotzé by loavesfishes@telkomsa.net of 021 447 7714 vir meer inligting.
Loaves and Fishes
Prof Jatti Bredekamp (voorsitter, Loaves and Fishes), Matthew Kotze en Heréza Kotzé, vrou van Ben Kotzé (hoof uitvoerende beampte, Loaves and Fishes)
Hugenote Kollege: logo
4. Nuwe Kursus by Hugenote Kollege
Spanleiers vir nuwe geloofsgemeenskapsontwikkeling

Hugenote Kollege bied vanaf 2017 ’n kursus aan vir die opleiding van leiers van spanne wat betrokke is by die ontwikkeling van nuwe geloofsgemeenskappe.
Die kursus fokus op vaardighede van die spanleier om na nie-gelowiges en kerklosmense uit te reik, hulle te dien, verhoudinge te bou en in ’n dissipelmakende proses op te neem. Die kursus strek oor twee jaar en studente sal ongeveer 16 Saterdae per jaar bymekaarkom vir formele onderrig. Lees meer hier en vir meer besonderhede oor die program en keuring van voornemende studente, kontak Ryk van Velden by rvanvelden@hugenote.com of 021 007 1830. 
WCC-logo
5. WRK-lidmaatskap: Welkom terug, Verlore Seun!
"When the Dutch Reformed Church (NGK) in South Africa re-joined the World Council of Churches (WCC) in June after 55 years, other churches in the country rejoiced at 'the return of the prodigal son'.
Dr Gustav Claassen, the general secretary of the NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk) as the church is known in South Africa, said, 'We were really overwhelmed by the reaction at Trondheim and back in South Africa. Our African brothers took special time and effort to share with us their joy in Trondheim,' said Claassen. They 'rejoiced with us in a way that was humbling.'”Lees Peter Kenny se artikel van 13 Oktober 2016, hier. (Met dank aan WCC-webwerf.)
6. Seisoen van Menswaardigheid
Konferensie oor Restitusie: 9 en 10 November
VrydagNuus het vantevore berig oor die konferensie oor restitusie wat op 9 en 10 November in Kaapstad gehou gaan word. Elize Morkel van die Seisoen van Menswaardigheid skryf soos volg oor hierdie konferensie: "Dit is geweldig relevant in die lig van die situasie van onrus in ons land op die oomblik en sluit natuurlik ook aan by die temas van die Seisoen van Menswaardigheid".
Maak nou reeds 'n nota van hierdie konferensie, wat onder meer in samewerking met die Groote Kerk in Kaapstad aangebied word deur die Restitution Foundation, die Human Sciences Research Council en die Kasteel van Goeie Hoop. Navrae kan gerig word aan Deon Snyman by deon.snyman@telkomsa.net en hier is meer.   
Konferensie oor Restitusie
7. Pelgrimstog van Hoop: Geskiedenis gemaak!
Die Pelgrimstog van Hoop gaan van krag tot krag. Vandeesweek was 'n historiese dag vir die roete: die eerste maal dat twee groepe gelyktydig op die roete gestap het! 
Die groep wat tans stap, is almal van die Wes-Kaap. Hulle het reageer op 'n artikel oor die staptog in die Buite-bylae van Die Burger. Michiel Strauss het ingewillig om as groepleier vir die groep op te tree. Hulle het op Sondag 9 Oktober die Argief en Stellenbosch Moederkerk besoek voordat hulle die roete na Pniel aangepak het. Die groep is die eerste groep wat die roete van Stellenbosch tot Agulhas stap en sal op Sondag 23 Oktober op Agulhas klaarmaak. Lees gerus op Facebook hulle terugvoer oor elke dag se stap.
Die handleiding van die pelgrimstap word tans herskryf en sal vanaf Desember beskikbaar wees by pelgrim@sun.ac.za. So berig Adrienne Bester van Communitas op Stellenbosch. Wat 'n unieke ervaring in ons eie land!
Pelgrimstog van Hoop
Liezel de Vos, Dalene van Zyl, Michiel Strauss, Maryth Meise, Julia Viljoen, Jan van Heerden en Pieter Mans met rooi pelgrimshoede op - maklik herkenbaar as pelgrimstappers

Willem Nicol
9. Retreat in Swakopmund Februarie 2017
Uit Pretoria stuur Willem Nicol inligting oor hierdie beoogde retreat (1 - 5 Februarie 2017 in Swakopmund), geskoei op sy boek, Oop vir die Oomblik, wat onlangs saam met 'n meegaande Bybel-studieboekie deur Bybel-Media gepubliseer is.
Willem lei self die retreat by die pragtige Be-Still-sentrum. Die onderwerp is 'n teenwoordige leefstyl en  predikante van die NG Kerk kan 25 VBO-punte vir bywoning verdien. Lees hier meer.

Faith
10. Raakgelees: Hoe glo jy?
Hoe sal jy "jou glo" aan jou sewejarige kind verduidelik? Met hierdie vraag prikkel Mossie Mostert (PSD, Sinode van Noord-Kaapland) sy lesers in Noord-Kaapland eNuus om oor hul eie geloof na te dink. Sou jý netjies kon verduidelik wat en waarom JY glo? Mossie haal die volgende Facebook-inskrywing aan:
"Mense vra gereeld hoe ek glo. Soms weet ekself nie. Ek is 'n Christen. Dalk nie 'n goeie een nie, maar ek is vandag redelik seker dat ek altyd een sal bly. Ek omhels my geloof se ou simbole en rituele en weet simbole en rituele vervang nooit dit waarvoor hulle staan nie. Maar ek is 'n moderne Christen ook. Die ego wat eis dat ek altyd reg moet wees en dit in oorloë moet bewys, het my gelukkig verlaat. My geloof en kerk was nie altyd reg nie. Maar solank daar mankemente blyk te wees in alle gelowe, sal ek maar by myne bly."
Lees hier verder as jy belangstel - met dank aan Mossie én die skrywer ...
Twitter Facebook
GEMEENTENUUS
1. Loeriesfontein hou Dankfees soos min!
Gedurende die naweek van 30 September tot 2 Oktober het Loeriesfontein hulle jaarlikse dankfees gehad en soos al die ander jare was dit weer 'n besondere geleentheid. Dit begin die Vrydag met die veeveiling en word Saterdag voortgesit met die basaar.
Vanjaar was ekstra besonders, met prof Malan Nel, Loeriesfonteiner in murg en been, as gasprediker vir die naweek en prof Awie van Wyk die gasorrelis. Gedurende die naweek word vyf dienste gehou, nl 'n voorbereidingsdiens die Saterdagaand en op die Sondag 'n vroeë biduur, nagmaal en kinderdiens (glo dit as jy wil om 15:30 die middag) en alles word afgesluit met 'n dankdiens om 18:30 die aand. "Baie dankie aan almal wat ons kom ondersteun het," skryf Nico van der Westhuizen. Klik hier vir meer asook enkele foto's.
Malan Nel preek
Prof Malan Nel
Awie van Wyk
Prof Awie van Wyk
Loeriesfontein Nagmaal
Nico vd Westhuizen, Marlèse en Malan Nel, Gina en Andri Eloff
NG Gemeente Tableview
2. Saameet, soos Jesus sou
Reeds die afgelope drie jaar organiseer Niel Steyn, predikant van die NG Gemeente Table View en betrokke by Echo, elke week gemeenskapsetes. Elke Maandagaand in die saal van die NG Kerk Table View eet gemeentelede en hawelose mense saam om dieselfde tafels. Joernalis Anika Marais het gaan aansit - lees haar berig, met dank aan Netwerk24, hier. Kontak Niel Steyn by niel@ngkerktableview.co.za.
B4J-logo
3. Brackenfell se B4J-inisiatief
Van die NG Gemeente Heidekoppie - Die Gemeente met Oop Deure - ontvang ons nuus oor 'n interkerklike inisiatief genaamd Brackenfell 4 Jesus (B4J). Verskillende kerke en instansies in Brackenfell vat gedurende 17 – 30 Oktober hande met 'n fokus op gebed, liefde, uitreik en diens. Dit sluit in gemeentes soos Logos, NG Heidekoppie, Familia Christi, NG Proteahoogte, NG Brackenfell-Wes, The Father's House en Rotsgemeente AGS.  Dit is egter nie beperk tot gemeentes nie; huishoudings, besighede, kerke, diensorganisasies, skole ens word ook aangemoedig om hiervan deel te wees. Lees hier verder.
4. Bybelnagte by NG Stellenbosch-Welgelegen
Die tema van Bybelnagte 2016 is: "Bybelse of Byderwetse Besluite? Oor hoe ons besluite neem." Verskeie sprekers van die Fakulteit Teologie US behandel die tema vanuit verskeie hoeke. Louis Jonker praat oor besluite in OT-verhale; Nadia Marais oor die NG Kerk se besluit in 2015 oor selfdegeslagverhoudings;  Chris Jones oor die kerk se besluite oor menswaardigheid. Dirkie Smit lewer repliek op al drie, gevolg deur 'n paneelbespreking. 
Bybelnagte 2016 vind plaas op Wo 26 Oktober by Stellenbosch-Welgelegen (Buitekringweg 6, Dalsig). Dit begin om 18:00 met 'n kaas-en-wyn. Dit is gratis – name vóór 12:00 op Ma 24 Okt by die kerkkantoor (021 886 5975) twv getalle. Die sprekers begin om 19:00. Navrae: Noëlline Lutz (021 886 5975) of Leon Fouché (021 887 2022).
Louis, Nadia, Chris, Dirkie
NG Welgemoed In gesprek
NG Welgemoed
In gesprek 
NG Kraaifontein Daniel-mannekonferensie
NG Kraaifontein
Daniël-mannekonferensie
Karlien van Wyk
PREDIKANTENUUS
Karlien beskikbaar vir Preekbeurte
Karlien van Wyk, leraar by die NG Gemeente Welgemoed, laat weet dat sy beskikbaar is vir preekbeurte in kleiner gemeentes in 'n radius van ongeveer 100km - waar daar van tyd tot tyd so 'n behoefte is. Kontak Karlien by karlien@ngkwelgemoed.co.za of skakel 084 250 2473.
EKOLOGIE
1. Eko-vriendelike plaagbeheer: Soos Water op 'n Eend se rug ...
Vergenoegd-plaas in die Stellenbosch-omgewing is 'n spesiale plek. Hier word eende eerder as chemiese middels gebruik om peste en plae in die wingerde te beheer. En met 'n eend genaamd Elvis - geen gewone ou eendstert nie - is dit beslis iets om te oorweeg! 
Vergenoegd-plaas se eende
2. Meer Reusepandas
Die status van die reusepanda is onlangs verander van "bedreig" na "kwesbaar". Hierdie goeie nuus is moontlik gemaak deur natuurbewaringsdeskundiges wat vir meer as 'n dekade hard gewerk het om te voorkom dat die panda uitsterf. In 2004 was daar minder as 1600 pandas in die natuur, en in 2014 het hulle getal toegeneem tot meer as 2000 in China.  
Lees die volledige artikel hier. Bron: www.ecology.com
Kiara Nirghin
3. Skoolmeisie wen met Droogtehulp
'n Sestienjarige skoolmeisie van Johannesburg, Kiara Nirghin, het in September 'n spesiale toekenning van Google se "Science Fair" gewen vir haar uitvindsel om droogte op 'n ekonomiese manier met behulp van lemoenskil te beveg. Lees die hele artikel hier. (Met erkenning aan www.iol.co.za).
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief

In Bybel-Media se jongste nuusbrief deel hulle nuus en inligting oor die November-uitgawe van LiG (sien elders in VrydagNuus meer), sowel as twee Bybelkor-publikasies: Droomlewe van Andries Cilliers en Hart vir Hillbrow van Elise Bosch.
Skakel 0860 26 33 42 of stuur jou bestelling na
bestel@bmedia.co.za. Jy kan ook direk op BM se webwerf met jou kredietkaart koop. 
Droomlewe Hart vir Hillbrow
2. Fuurhoutjie-nuusbrief
Uit die Flam-kantoor deel die span belangrike inligting na aanleiding van sommige gebruikers se vrae oor die splinternuwe webwerf wat nou reeds 'n volle maand oop vir sake is. Jy kan byvoorbeeld nou meer as een produk gelyk koop, jy hoef nie in te log nie - jou ou gebruikersnaam en wagwoord vir die vorige webwerf kan jy gerus maar vergeet.
Belangstellendes wat hulp en inligting oor kerkmusiek waardeer, kan hier meer lees.

Fuurhoutjie-nuusbrief mashoof
PUBLIKASIES
1. Jaarboek 2017

Gemeentes en ander belangstellendes kan nou reeds begin om bestellings vir Jaarboek 2017, wat gedurende Januarie 2017 sal verskyn, by Bybel-Media te plaas. 
Klik hier vir die bestelvorm.
BELANGRIK!
Geen bestellings word via die Wes-Kaapland sinodale kantore hanteer nie - gemeentes is self verantwoordelik om die nodige bestelling by Bybel-Media te plaas. Volledige inligting rakende koste, betaalwyse en meer word op die bestelvorm aangedui.
 
Jaarboek 2017
LiG-voorblad November 2016
2. LiG van November 2016
In die November-uitgawe van LiG...

-  is tien gebede vir jou huweliksmaat
- word die redes gegee waarom dit die moeite werd is om te stoei om jou kleuter by die kerk te kry

- is nege planne om kinders te leer om gesonde eetgewoonte aan te leer

- vertel Ivan Zimmerman van sy 145 dae en 13 000 km op sy fiets.
LiG is een van die amptelike mediavennote van die NG Kerk en as sulks ondersteun ons hulle graag. Klik hier om in te teken.

CLF-logo
3. CLF: Vir Bemagtiging van Landelike Vroue
Op 15 Oktober 2016 word landelike vroue internasionaal vereer vir hul rol in die versterking van landbou en landelike ontwikkeling en armoedeverligting. Christelike Lektuurfonds (CLF) se materiaal is ideaal om hierdie vroue te bemagtig en geestelik te versterk om hul rol as vrou, werker en moeder te verstaan en te vervul. Klik hier om meer te lees.
KUIERKANS
Geniet elke basaar, konsert en fees! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting. Ons Facebook het ook inligting hieroor. 
1. NG Toringkerk: Markietie
MARKietie, Toringkerk in die Paarl se jaarlikse feesmark, vind vanjaar hierdie naweek (vanaf Vr 14 tot So 16 Oktober 2016) plaas.
Lees hier meer en gaan maak gerus 'n draai by hierdie lekker geleentheid.
Die volledige program vir die naweek - wat So om 09:30 met 'n feesdiens in die kerk afgesluit word, is op Toringkerk se webwerf. Klik hier.
Foto: Ryno Els en kie is oorgehaal vir fees!
Jan Kriel Liggieboom
Jan Kriel Liggieboom
26 November 2016
Magdalene Huis Fondsinsamelingskonsert
Magdalena Huis
 Konsert 13 Nov 2016
Vredenburg-Akkerdyk Kersmark
NG Vredenburg-Akkerdyk
Kersmark 15 tot 23 Des 2016
Strooidak Williston Fees
Strooidak / Willistonfees 28 en 29 Oktober 2016
Lourensrivier Feesmark
Lourensrivier Mark
22 Okt tot 5 Nov 2016
Huis Aristea Basaar
Huis Aristea Basaar
15 Oktober 2016
Alta du Toit Klassieke Konsert
Alta du Toit Konsert 
30 Oktober 2016
PlumRus Basaar
Badisa PlumRus Basaar
26 November 2016
NG Clanwilliam Omgeefees
NG Clanwilliam Omgeefees
28-30 Oktober 2016
NG La Rochelle - Hond
NG La Rochelle "Hond"
5 November 2016
NG Durbanville
VAKATURES
1. NG Gemeente Durbanville: Leraarspos
NG Durbanville het tans 'n vakature vir 'n leraar. Aansoeke sluit op 30 November 2016 en CV's kan gestuur word na Jackie Pretorius by jackie@durbanvillegemeente.co.za. Meer inligting oor die pos is hier en lees gerus meer van die gemeente hier
Noord-Kaapland logo
2. NG Daniëlskuil: Aflosprediker
Uit die Noord-Kaap verneem ons dat NG Daniëlskuil ’n leraar benodig vanaf 20 November 2016 vir ongeveer drie maande om eredienste waar te neem. Belangstellendes kan vir Christa Erasmus (skriba, Daniëlskuil) skakel by 053 384 0044, of vir Bart Daffue by 083 406 0429.
Chrismar Villas-logo
3. Badisa Chrismar Villas (Bellville Senior Sentrum): Ontvangsdame
Bellville Senior Sentrum, 'n Badisa-program, het 'n vakante pos vir 'n ontvangsdame.
Matriek en rekenaarvaardigheid is 'n vereiste. Aansoeke kan aan die bestuurder gerig word en per hand afgegee word by Jessiestraat 25, Chrismar, Bellville.  Sluitingsdatum is 21 Oktober.
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Deon Bruwer
TEN LAASTE

Uit die Pen van ... Deon Bruwer

Deernis met Geestesgesondheidsprobleme
Jesus se lewe en lyding is tekenend van medelye, deernis en omgee vir enige lyding en swaarkry. Dit is so jammer dat hierdie voorbeeld nie altyd deel is van gelowiges se omgaan met mense wat sukkel met psigiatriese siektes nie. Wanneer iemand met ’n fisiese siekte (soos kanker of hartprobleme) gediagnoseer is, word ondersteuning onmiddellik en sonder voorbehoud aangebied; ongelukkig gebeur dieselfde nie noodwendig met psigiatriese siektes (soos depressie of skisofrenie) nie.
Ek vermoed dat die redes vir hierdie eeu-oue diskriminasie in onkunde setel. Wanneer mense sukkel om hul normale dagtake te vervul weens geestes-gesondheidsprobleme, word dit as ’n swakheid gesien. Wanneer egter in gedagte gehou word dat psigiatriese siektes direk met die brein verbind word, ontstaan daar meer deernis en begrip. Die menslike brein is die primêre setel van bewussyn en ’n wonderlike komplekse, maar baie sensitiewe orgaan. 

Kan ons dan nie maar as gelowiges onthou dat die brein deel is van die menslike liggaam en dat Jesus ook vir ’n stukkende brein gesterf het nie?

                                                                   ***
Deon Bruwer in is 1979 in Windhoek-Noord georden. In 1981 word hy hospitaalleraar van die SKDB in Oos-Kaapland en in 1989 hospitaalleraar in die Wes-Kaap. Hy het vir tien jaar diens gedoen by Durbanville Hospitaal en daarna by Stikland en in die pastorale spreekkamer van die Sinode van Wes Kaap gewerk. 
Met Deon se aftrede aan die einde van Januarie 2017 word die poste van hospitaalleraars beëindig - 'n era in ons kerk wat nou verby is.
As deel van sy opleiding was Deon so bevoorreg om tydens sy doktorale studies vir ’n jaar by Princeton Teologiese Seminarium navorsing te doen. “Dit het my lewe en lewensverstaan heeltemal verander,” vertel hy.
Kontak Deon by pastoraat@kaapkerk.co.za.
Die vermoë om die sakramente van God se teenwoordigheid óm ons in die lig van die son en die nattigheid van die reën te sien en te voel en te verstaan, maak God 'n werklikheid ... Want God ís magtig en werklik naby. - Ferdinand Deist
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za