Lees deur internet, klik hier >>
2 Oktober 2015
Beste Leser
As gestuurde gelowiges is ons sout van die aarde en lig vir die wêreld.
Ons staan in diens van die koms van God se koninkryk.
Ons buig voor die Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Ons is gestuurdes.
Aan God al die eer.  
(Uittreksel uit die NG Kerk Roepingsverklaring 2007)
NG Kerk-logo
SINODENUUS
1. NGK Algemene Sinode
1.1 Voorbidding

Die kantoor van die Algemene Sinode versoek dat lidmate en gemeentes spesifiek voorbidding doen vir wysheid en 'n Christus-gesindheid by elkeen wat by hierdie vergadering betrokke is. Dankie aan elke individu, gebedsbediening of bybelstudiegroep wat saam met ons hiervoor bid.
1.2 Waarom 'n Algemene Sinode?
'n Vergadering van ʼn Algemene Sinode is 'n vergadering van die kerkverband: afgevaardigdes van die 10 samestellende sinodes (wat 1100 gemeentes en hulle lidmate verteenwoordig) kom as 'n kerkvergadering in eie reg saam om as mense-in-verband te onderskei hoe gestalte gegee moet word aan die werk wat eie aan die opdrag van hierdie vergadering is (Artikel 43 van die Kerkorde). In die hart van die werk van hiérdie kerkvergadering lê die taak om beleid te bepaal. (Uittreksel uit die Voorwoord, Agenda van die Algemene Sinode 2015.)
Pieter van Santen
1.3 Ring van George Proaktief oor Nuus
Uit die Ring van George laat weet Pieter van Santen dat hulle, in die lig van onlangse eensydige beriggewing in die media, proaktief optree deur hulle lidmate te versoek om (ook) die amptelike kommunikasiekanale van die NG Kerk te raadpleeg ten einde 'n gebalanseerde opinie te vorm. 
Belangstellendes kan Pieter se brief aan gemeentes in die ring hier verder lees. Dalk is daar ander ringe en gemeentes wat wil oorweeg om soortgelyk op te tree in die aanloop tot die Algemene Sinode volgende week.

Braam Hanekom
2. Publieke Getuienis: Die krisis in ons Tronke
Het jy geweet dat:
Daar 161 000 gevangenes in tronke in SA is.
Daar jaarliks ongeveer 30 000 gevangenes vrygelaat word.
78% van hulle binne 2 jaar weer in die tronk sal wees. Daar is talle redes hiervoor.
Alpha (lees Fanie Heyns se artikel oor wat Alpha is, hier) soek dringend vrywilligers om die Alpha-kursus in tronke aan te bied. Terselfdertyd word mentors gesoek om na opleiding op individuele basis van die gevangenes in 'n gekontroleerde omgewing te begelei voor en na vrylating.
Jy kan beslis 'n verskil help maak Kontak Salomi of Braam as jy wil help of as jou gemeente 'n ontbyt wil help aanbied om meer inligting hieroor uit te dra: spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.
#imagine ignite
4. Biddag vir Bejaardes: 4 Oktober
Die Jaarboek van die NG Kerke dui Sondag 4 Oktober aan as die dag waarop spesifiek voorbidding vir ons bejaardes gedoen word.
Badisa is ten nouste betrokke by omvattende dienste aan ouer persone. Diegene wat hulle op 'n praktiese manier hierin wil ondersteun, kan onder meer oorweeg om toiletware, etes en klere vir ouer persone te skenk of te borg. Sien www.badisa.org.za. Stuur 'n e-pos na info@badisa.org.za of skakel 021 957 7130 vir meer inligting en kontakbesonderhede van 'n Badisa-program naby jou. 
Kers
ALGEMEEN
1. Opregte Simpatie: Willie en Lizette Cilliers

Ons treur saam met kollega Willie Cilliers (NG Kuilsrivier) en sy vrou, Lizette. Hulle jongste seun, Divan (30) is Saterdagoggend in sy slaap oorlede. Divan laat onder andere 'n suster, Ansu, en 'n broer, Gion, en skoonsuster, Michelle, agter. Wees verseker van ons diepste medelye en voorbidding. Mag die troos van die Heilige Gees, die liefde van Christus en die sorg van God, waarmee julle self al so baie mense vertroos het, vir julle 'n werklikheid wees in hierdie dae.
Die troosdiens vind op Sa 3 Oktober om 12:00 vanuit die NG Moedergemeente Kuilsrivier plaas en word gelei deur ds Helené Fouché
.
Theo Swart
2.1 Predikante se Ouderdomsontleding
Dis belangrik om ook die ouderdomsontleding van ons predikante in ag te neem as ons nadink oor die kerk en die rol van die kerk in die samelewing. 
Volgens Theo Swart (Ondervoorsitter, Algemene Sinode se Steunspan Predikantesake) dui hulle syfers tans aan dat meer as 300 van die ongeveer 1600 predikante van die NG Kerk in die tydperk 1 Julie 2015 tot 30 Junie 2020 sal aftree.
Die grafiek hieronder toon die ouderdomsontleding van die aktiewe bydraende lede van die Predikante Pensioenfonds van die NG Kerk in SA (met Noord-, Oos-, Wes-en-Suid-Kaapland en KwaZulu-Natal sinodes as lede) in die September 2015 nuusbrief. Theo meen dit is 'n redelike goeie aanduiding van die totale kerk se tendense. (Dankie, PPF!)
Ouderdomsontleding
2.2 Rol van (veral jonger) Predikante?
"Terselfdertyd glo ek dat ons nou dringend die energie, insigte en entoesiame van 'n nuwe geslag jong predikante nodig het. Ouer dominees soos ek weet dat ons eintlik elke vyf jaar moet heroriënteer tov die konteks waarin ons leef en onsself moet laat heroplei en herontgin." So skryf Braam Hanekom in die jongste Kerkbode oor die rol van predikante in die kerk.
Diegene wat Ben du Toit (uittredende PSD: Teologiese Navorsing) se boodskap vir (veral jonger) predikante, wil hoor, kan onder klik.
Die volledige onderhoud wat Mariëtte Odendaal met Ben gevoer het, is ook as You Tube-video (10 min)
beskikbaar. Kry dit hier.
Ben du Toit gesels - uittreksel
MES-logo
3. MES: Wêreld Hawelose Dag: 6 Dae vir Nuwe perspektief
Met die oog op Wêreld Hawelose Dag op 10 Oktober, nooi MES belangstellendes om die "Give a little"-uitdaging te aanvaar deur vir 'n paar dae in die spreekwoordelike skoene van 'n hawelose persoon te stap en iets van hierdie lewenswyse eerstehands te ervaar. Lees hier meer en skakel Clarina Hanekom by prcapetown@mes.org.za of 021 949 8736 vir inligting.  
4. Camino ... 'n Piekniek!
"Kort voor ek en ons jongste dogter, Menanteau, vroeër vanjaar die Portugese Camino aangedurf het, het iemand gesê dié roete is sommer ’n piekniek. Na tien dae se stap van Porto na Santiago en byna 250 km agter die rug, besef ek die opmerking kan op verskillende maniere verstaan word.
Gewoonlik word daar met die opmerking bedoel dat dié Camino ’n maklike pelgrimstog is. Of die Portugese Camino makliker as die Franse of een van die ander Caminos is, weet ek nie. Die Portugese roete was die eerste en enigste Camino wat ek al aangedurf het." As jy die Camino al beleef het, of oorweeg om dit te doen, klik hier om meer te lees wat Carl Swart (voorheen PSD: Armoede en Sorg) skryf. (Klik op onderstaande foto's vir die groter weergawe.)
Carl en Menanteau in Padron
Carl en Menanteau in Padron
Piekniek onder prieel
Piekniekplek onder wingerd-prieel
5. Wie ken hierdie Preekstoel?
Die Argief is besig om sy fotoversameling te sorteer en te beskryf.
Een van die foto’s waarop afgekom is en wat ons baie graag wil identifiseer, is dié van die baie besondere preekstoel op die foto. Agterop die foto staan net dat die preekstoel geskep is deur Anton Anreith (dieselfde persson wat die Groote Kerk se preekstoel ontwerp en gemaak het).
Is daar dalk iemand wat vir ons kan sê in watter kerkgebou dit staan en in watter jaar dit gemaak is?
Kontak gerus vir Alta by die Argief: 021 882 9923 of alta@kaapkerk.co.za. (Klik op foto vir detail.)
6. VGK Ring van Sarepta verkies Ringsbestuur
Op 'n gewone VGK Sarepta Ringsitting te Macassar vanaf 09-13 September is die volgende leraars verkies: ds Jetro Cloete as voorsitter, ds Gerald Swartz as quaestor (tesourier) en Adam Kotze as scriba. Hartlik geluk!
Jetro Cloete Gerald Swartz Adam Kotze
Jan Theron
PREDIKANTENUUS
Jan Theron Predikant by NG Caledon-Wes!
Ons ontvang die goeie nuus uit Caledon dat Jan Theron, voorheen Jeugwerker, sedert 1 September in 'n volle leraarspos aangestel is.
Betroubare bronne vertel dat die enigste liefde in Jan se lewe (tans nog) 'n drie-maande oue Jack Russel-hondjie met die naam Tau is! 
Jan, mag jou nuwe taak en verantwoordelikhede baie seën inhou.
Shimcha Tora-fees
GEMEENTENUUS
Vreugde in die Wet!
Eerskomende Sondag, 4 Oktober, vier die Messiaans-Joodse gemeente Beit Ariel Simcha Tora – die Vreugde in die Wet-fees, om 18:15 in die kerksaal van Groote Kerk, Kloofstraat 55, Tuine, Kaapstad. Lees verder ...
Navrae:  Francois Wessels 060 961 3071 of Cecilia Burger 083 232 0628.
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media: Nuusbrief
Hierdie week is die fokus van Bybel-Media se nuusbrief op die jongste Kerkbode, 'n aktuele Bybelkor-publikasie en twee jeugprodukte. Lees hier verder en sien onder.
1.1 Kerkbode van 2 Oktober
Die Kerkbode van 2 Oktober 2015 vertel hoe vreemdelinge van reg oor die Wêreld op Stellenbosch 'n geestelike tuiste kry. 

Lees ook hoe van die reis waarop die Here NG Randfontein-Noord geneem het nadat hulle tussen plakkers gaan "plons" het. 

Prof Kobus Kok vertel waarom hy sy pos as Nuwe Testamentikus by Tukkies verruil het vir 'n pos in Leuven, België. 

En die voorbladberig vertel waar die NG Kerk, op die vooraand van die Algemene Sinode, hom bevind in die gesprek oor homoseksualiteit.
1.2 Jeugbediening-videogrepe
Vuur&vlam se Jeugbediening-videogrepe hanteer verskillende aspekte van jeugbediening. Dit sluit onderhoude met kenners, jongmense en vrywilligers in. Hulle deel hulle ervaring van en wysheid oor die jeugbediening ten opsigte van kampe, uitreike, pastoraat, selfoon-fotografie, ervaringsleer, ens.
Vuur&vlam het ook gespreksafskoppers ideaal vir mense wat nuwe inisiatiewe in die jeugbediening van hulle gemeente wil vestig of nuwe dinge wil begin doen. Die videogrepe (ongeveer 4 tot 7 min) kan gebruik word vir jeuggroepe, beplanningspanne en meer. Prys: R150,00 - bestel hier.
1.3 Skokkend Positief: Navorsing oor Kerkjeug
Hierdie boek van Malan Nel en Zander van der Westhuizen is gegrond op die data van 'n multikerklike navorsingsprojek oor hoe jongmense (ouderdom 16-35) oor die kerk voel.  
'n Boek wat aan kerkleiers riglyne gee vir die kerk se toekomstige jeugbediening. Dié publikasie word by die Algemene Sinode vrygestel en bespreek. Gewone prys:  R160,00 (BTW en posgeld ingesluit). Spesiale prys: R130,00 geldig tot en met 30 Okt. 
Spesiaal! Die voorwoord van dié aktuele publikasie is nou gratis aanlyn beskikbaar as motivering om die publikasie te bestel.
1.4 #imagine 2015 Lof en Aanbidding
'n Herinnering! Na 2015 se drie #imagine-feeste (in Pretoria, Bredasdorp en Jeffreysbaai) is die beste muso’s van elk van die drie bands saam met 500 #imagineers by die Barnyard, Willowbridge, saamgetrek om die gewildste liedere wat tydens die fees gesing is, op te neem. Mag die album die eerste klankbaan van hierdie beweging wees! Prys: R100,00 (BTW en posgeld ingesluit). Lekker vir Kersfees! Klik hier.
2. ONTHOU! Volg die Algemene Sinode só!
Diegene wat gebeure by volgende week se Algemene Sinode wil volg, sal ʼn verskeidenheid kanale hê waardeur hulle die nuus kan kry. Dit sluit Twitter, Facebook, die Sinodebode-webwerf en daaglikse nuusbrief in. Lees meer ...
Onthou: Teken HIER in om Sinodebode direk te ontvang. Jy wil dit nie mis nie!
Hou gerus ook Wes-en-Suid-Kaap se Twitter en Facebook vir nuus en inligting dop.
Twitter Facebook
KUIER-KANS
Klik gerus op die advertensie pamflette om 'n groter weergawe oop te maak. 
1. NG Gemeente Parow-Panorama: Snuffelmark
Gaan geniet gerus die Snuffelmark op Saterdag 3 Oktober vanaf 09:00 tot 12:30 by NG Parow-Panorama, Rembrandtsingel 14, Panorama.
Allerlei wit olifante, asook stalletjies soos: pannekoek, kerrie-en-rys, beskuit, konfyt, tuisgemaakte lekkers, poeding, juwele, kussings, sowel as speletjies vir die kinders. 
NG Toringkerk Markietie Kuilsrivier De Eike Lentemark NG Caledon Kersmark
5. VGK Caledon: Fondsinsamelingsnaweek
Die VGK in Bergsig, Caledon, se Fondsinsamelingsnaweek is van 2 tot 4 Oktober.
Vrydagaand om 19:00: Mej VGK Caledon in die kerksaal. 
Saterdag 3 Oktober vanaf 10:00 is dit basaar op die kerkgronde!
Die dag skop om 09:00 af met 'n optog deur tamboernooientjies. Heerlike gebak, skaap en beesvleis, braaivleis en allerhande lekkernye te koop.  Volop ontspanning en vermaak vir kinders, sowel as jongmense.
Sondag 4 Oktober om 10:00 sal die Kaapse Sanggroep "Die Smit Susters" die naweek afsluit met 'n Sang- en Getuienisdiens.  Toegang is gratis - almal is welkom.
NG Paarl Halleluja Modeparade
Die Klaagliedere van ds Tienie Benade
7. Ds Tienie Benade in die Kaap!
Frank Opperman tree binnekort sommer by meer as een geleentheid in ons sinode op! Dis 'n lekker geleentheid vir diegene wat hom nog nie gesien het in Die Klaagliedere van ds Tienie Benade nie, om nou kaartjies te bekom.
Dié eenman verhoogstuk is op Do 15 Oktober om 20:00 by die NG Kerk Drieankerbaai (Hoofweg 265, Seepunt). Kaartjies is by www.quicket.co.za of skakel Martin vir navrae by 083 321 8130.

In die Overberg-streek nooi NG Kerk Caledon-Wes almal op Wo 21 Oktober om 18:30 na hierdie vertoning. Vir navrae, kontak die kerkkantoor by 028 212 1973.
NG Stellenberg-logo
VAKATURES
1. NG Gemeente Stellenberg: Proponentspos Jeugbediening
Stellenberg is 'n makrogemeente in die noordelike voorstede van Kaapstad met ongeveer 4250 belydende lidmate. Die jeugbediening bestaan uit ongeveer 1150 lidmate en die naskoolse en jongwerkende lidmate is 750. 
Hier is tans 'n kontrakpos vir twee jaar, waarin 'n proponent die geleentheid kry om in jeugbediening te ontwikkel. Sluitingsdatum: 30 Oktober - lees hier verder.
Badisa-logo
2. Badisa Huis Ravenzicht: Ingeskrewe Verpleegkundige 
'n Ingeskrewe Verpleegkundige (Stafverpleegster) word vanaf 1 Desember 2015 by Huis Ravenzicht, Kraaifontein, benodig. Rig navrae aan Suster Steyn by 021 988 7454 voor 16 Oktober 2015.
Die Van der Watt's van Missie Japan
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Stéphan vd Watt
Oorgangstye
Die lewe kan partykeer onvoorspelbare en verrassende oorgange insluit. Ruimtes vir groei. Dit was in ons geval so, met 'n onverwagse roeping om in Japan te kom dien en getuig. Dit vra gefokusde volharding en soepelheid, diep oortuiging en geduld.

Almal van ons deurleef gereelde oorgange: in verhoudinge en werksituasies, binne gemeentes en families, tydens aftredes of verliestye. Oorgange bring unieke geleenthede in sig, met vars verhoudingspotensiaal en selfs veranderde leefruimtes. Maar dit skep ook onsekerheid en laat jou soms oorweldig voel: ontwrig. 

Ons as gesin beleef nou so 'n oorgang, en voel soos 'n akrobaat hoog in die lug, wat een sweefstok los om 'n ander raak te vat. Tegelyk angswekkend én opwindend. Waarop kan jy terugval? God se vangnet vol liefdestrou hang stewig onder elkeen (Ps 94:18). Wat 'n troos!

Stéphan Van der Watt begin in April 2016 amptelik as voltydse dosent in Praktiese Teologie by die Kobe Reformed Theological Seminary. Hy is sedert April 2009 (as deel van Missie Japan) samewerkende sendeling in Tokushima, werksaam binne die NGK se susterskerk, die Reformed Church in Japan.
Belangstellendes kan vir Stéphan 'n e-pos stuur na stephan@missiejapan.co.za 
Hartlike groete tot VrydagNuus van 16 Oktober.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.