Lees deur internet, klik hier >>
3 Desember 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Moderature ontmoet
Die moderature van die Sinode van Wes-Kaapland en die VGK Streeksinode Kaapland het op Donderdag 25 November in Belhar ontmoet. Die doel van die ontmoeting was om opnuut  ons verbintenis tot kerkhereniging te bevestig.
"Ons is dit eens dat dit die Here Jesus is wat ons daartoe roep en aanmoedig om in eenheid te leef. Die Here as Drie-Eenheid wys vir ons die pad. Die moderature het weereens die waarde besef van gereelde persoonlike ontmoetings waar ons eerlik en openlik kan saamdink oor ons gedeelde roeping in Suid-Afrika. Ons behoort ook goed te besin oor die lesse wat ons uit die verlede kan leer sodat ons nalatenskap as leiers vir `n volgende generasie `n goeie fondament bied om verder op te bou. 
Die tussenorde van die NG Kerk en VGK bied ook ruimte op verskillende vlakke om ons eenheid sigbaar te maak. Ons het weer opnuut besef dat struikelblokke en praktiese uitdagings nooit genoeg rede is om ons Godgegewe roeping tot eenheid te laat vaar nie. Die afgelope uitdagende twee jaar het ons juis geleer dat ons mekaar nodig het en dat ons saam `n beter verskil in die wêreld kan maak. Gevolglik het ons ons verbind om ons verhouding met mekaar as leierspanne te versterk en te versorg. `n Volgende samekoms word beplan vir die eerste kwartaal van 2022 met die doel om `n verdere tree te gee op ons eenheidspad.
Ons is opnuut bemoedig deur die gesamentlike legitimasiegeleentheid wat op 24 November plaasgevind het en is dankbaar vir elke teken van groei na hereniging."
Foto van links na regs agter: Charl Stander, Llewellyn MacMaster, Lucas Plaatjie, Nelis Janse van Rensburg, Bossie Minnaar, Christo Benadé, Janine Williams, Marinus Theron. Voor: Nioma Venter, Miriam Mplatyi en Hendry Tromp. (Maskers is slegs vir fotosessie afgehaal)
16 Dae van Aktivisme en Wêreldvigsdag
Met dank ontvang van die Taakspan Gendergeregtigheid: "Ons is net so verby die halfpadmerk vir die 16 Dae van Aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders. Het jy al daaroor begin praat?
Gendergebaseerde geweld floreer wanneer ons dit ignoreer, ander kant toe kyk en stilbly daaroor. Miskien moet ons daarom juis die lig werp op die gewelddadige verhale in die Bybel - wat die stories van soveel mense in ons gemeenskappe en kerkbanke verteenwoordig. Deur dié verhale saam te lees in ruimtes wat broosheid en ongemak verwelkom, en waar ons so sagmoedig moontlik met mekaar omgaan, breek ons die stilte. Dit is ‘n eerste tree op die pad van herstel vir dié wat gendergeweld oorleef het; dié wat dit pleeg/gepleeg het en die wat omstanders is/was." Sien grafika met wenke onder.
Klik hier vir ‘n meer in-diepte bespreking oor die Bybel en gendergeweld of kyk na hierdie video deur die Yale Divinity School. Volg die Taakspan Gendergeregtigheid op hulle Facebook-blad  vir daaglikse gebede en nuttige bronne rakende die 16 Dae-veldtog.
Foto onder: Personeel van Badisa en die Sinode van Wes-Kaapland het hulle steun aan #ThursdaysInBlack gewys deur swart te dra.
Gesamentlike legitimasie in Stellenbosch
Vyftien kandidate is verlede week tydens 'n gesamentlike erediens in die Stellenbosch Moederkerk gelegitimeer. Volgens Frederick Marais van die NG Kerk Kuratorium het ds. Walter Philander ‘n boodskap gebring van die profetiese hoop wat daar in die eenheid van die kerk geleë is. Hy het ook die klas bedank vir hulle getuienis en dapperheid om eenheid en geregtigheid na te strewe en te beliggaam.
Ons seënwense vergesel Derick Boonzaaier, Anthony David Cloete, Shaneeze Dilgee, Harold Christopher Engelbrecht, Mareli Engelbrecht, Stefan Fourie, Jayson Gribble, Dewald Elrico Jacobs, Randow Sabatha Jantjies, Ruiter Julies, Mtyana Mzukisi, Ashwin Thyssen, Ntsika Tyityi, Micaela Wahl en Michael Richard Wildeman.
Kyk gerus na die video van die legitimasiediens en sien meer foto’s van die geleentheid op Moederkerk se Facebook-blad
Sutherland bak dat dit klap
Twee duisend twee-en-veertig emmertjies koekies. Dis presies hoeveel bestellings die groep Karoo-vroue vanuit ons gemeentes gekry het vir hulle Save-the-Sheep droogtehulpprojek. Hierdie geesdriftige koekiekopery het die vlytige Sutherland-span aan die werk laat spring om meer as 1,2 ton koekies gereed te hê voor die Desember-vakansie. Die kranige bakkers wissel van 'n 78-jarige baasbakster tot handige kleuterhelpers. Sowat 650kg meel, 300kg margarien, 400 eiers en 250kg suiker is maar net van die bestanddele wat vir die massiewe bakkery gebruik is.
Matriekfees 8-15 Desember  
Is jy bekommerd oor jou kind se matriekvakansie? Daar is nog plek by die Noordhoek Matriekfees. Matrieks sal vanaf 8 - 15 Desember in ‘n veilige bio-borrel kan ontspan. Hierdie kleiner groep bied ‘n veilige alternatief tot massa-byeenkomste. 
Kontak jeug@kaapkerk.co.za om in te skryf of kontak ds. Faani Engelbrecht by 083 856 1951.
Arbeidsbediening oor storm in George
"Die hewige donderstorms en gepaardgaande swaar reën wat George in die Suid-Kaap tydens die vroeë oggendure van Maandag 22 November getref het, het veral die sakewêreld ernstig ontwrig," vertel Floors Meyer, Arbeidsbediening se opleidingskoördineerder en geestelike werker by ons tak in George. Lees meer daarvan hier.
Ithemba nou beskikbaar
Dit is met groot opgewondenheid dat die Sentrum vir Publieke Getuienis aankondig dat die derde uitgawe van hul eie nuusbrief Ithemba (die Xhosa woord vir hoop) nou beskikbaar is. Hierdie nuusbrief, propvol stories van hoop en verslaggewing oor aktuele kwessies soos haweloosheid, politiek en ekologie, word kwartaalliks uitgereik.
"Ons weet dat Suid-Afrikaners wat saamstaan 'n verskil kan maak en ons hoop om samewerking en 'n gevoel van gemeenskap met hierdie nuusbrief te bewerkstellig," vertel Braam Hanekom. 
Klik hier om die nuusbrief af te laai en te lees of hier om vir die nuusbrief in te teken.  
IMPAK neem afskeid
Op Vrydag 26 November is daar na 35 jaar diens aan IMPAK (Industrial Ministry Plaaslike Aksiekomitee) van ds. Jannie Booysen afskeid geneem. Dit het plaasgevind by die Groote Kerk Sentrum in die Tuine, Kaapstad, waar IMPAK se hoofkantoor geleë is. Ds. Booysen is nou 68 jaar oud en het na sy aftrede as VGK-predikant van Delft steeds volgehou om in diens van Arbeidsbediening te staan. Van die waardevolle werk wat hy gedoen het, was veral sy BrightStar-opleiding wat met groot sukses aan VGK-katkisante, plaasarbeiders en besighede aangebied is (lees hier) en ook aan gevangenes (lees hier). Dr. Francois Swart, predikant van die NG Gemeente Bellville-Uitsig en komitee-voorsitter van IMPAK, het ook die geleentheid bygewoon om sy dank namens IMPAK teenoor ds. Booysen uit te spreek. Bellville-Uitsig is ook die ankergemeente van IMPAK. Ds. Booysen se vrou, mev. Jeanette Booysen het ook die afskeid bygewoon. Lene November wat voorheen die sekretaresse van ons streeksbestuurder, Carin Brink was en ds. Booysen ook dikwels in sy BrightStar-aanbiedinge bygestaan het, was ook teenwoordig,  asook die IMPAK-koördineerder, Jaco Leeuwner. Ons wens ds. Booysen en sy vrou ’n baie geseënde aftrede toe en bedank hom van harte vir sy waardevolle werk vir IMPAK oor die afgelope drie en ’n half dekades.
Foto: V.l.n.r. agter: Jaco Leeuwner, dr. Francois Swart, ds. Anthony Brown en sy neef, Frans Booysen. Voor: Mev. Jeanette Booysen, ds. Jannie Booysen en me. Lene November.
HVT staan kleuterskool by
Khayalabantwana Crèche, 'n organisasie in Gqeberha wat betrokke is by vroeë- kindontwikkeling en -sorg, kon danksy 'n donasie van R10 000 deur die Hoop en Versoening Trust hulle skool se speelgronde opdateer. "Ons spreek groot waardering uit vir die donasie. Die finansiële ondersteuning het 'n groot impak op ons kleuterskool en leerders gemaak, veral nou tydens die COVID-19-pandemie," vertel een van die skool se woordvoerders.
Klik hier om meer foto's van die projek te sien. 
Ontmoet prop. Shaneeze Diljee
Op Woensdag 24 November is tien VGK-finalejaar teologiestudente saam met ons NG Kerk-studente gelegitimeer. Ons stel hulle graag oor die volgende weke aan julle bekend. Ons skop af met die bekendstelling van een van ons kinders wat grootgeword het in Lavender Hiil aan die buitewyke van die Kaapse Vlakte, proponent Shaneeze Diljee. Lees meer van dié energieke vrou hier.
EKOLOGIE
GROEN geskenke vir Kersfees!
Op die oomblik is die meeste van ons nog besig om te skarrel om betyds al ons Kersfeesgeskenke vir ons geliefdes aan te koop. Rudolph Scharneck van ons Groenspan het hierdie week wonderlike idees van hoe ons hierdie jaar GROEN GESKENKE kan maak. Maar dis nie al nie - watch this space - volgende week deel ons heerlike kos-idees!
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Nairobi: Konferensie oor kerkgroei en teologiese opleiding in Afrika
Daniël de Wet, die VGK Streeksinode Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Nico Mostert, Vrystaat Sinode se direkteur van Vennote in Getuienis en Hannes Theron wat op 1 Januarie 2022 as NetACT-programkoördineerder by Jurgens Hendriks sal oorneem, is tans op besoek aan ons susterskerk in Kenia, die Reformed Church in East Africa. Vanaf 24 tot 28 November het hulle die All Africa Conference of Churches by die Desmond Tutu Konferensiesentrum in Nairobi bygewoon het; ’n ervaring wat wat vir hulle baie beteken het, veral ten opsigte van kerkgroei in Afrika. Lees meer hier
Foto van links na regs: Daniël de Wet, Hannes Theron, prof. Nathan Chiroma (Pan-African Christian University Nairobi, Kenia en ondervoorsitter van NetACT), prof. Sunday Agang (ECWA Theological Seminary, Jos, Nigerië en voorsitter van NetACT) en Nico Mostert.
PREDIKANTENUUS
Pieter Hendrik Louw: 26.08.1949 - 08.11.2021
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van Pieter Louw. Pieter was by gemeentes in Tsumeb-Suid, Barkley-Wes, Alexanderbaai en Heidelberg Wes-Kaap. Daarna het hy ingestaan by Riversdal-Wes, Hobhouse en later as brugleraar by Fraserburg en Koës. Hy en sy vrou Dorena het in 2017 in Stilbaai afgetree.
Hy laat drie kinders en vyf kleinkinders agter. Sy roudiens het op Vrydag 12 November in Stilbaai plaasgevind.
Ons innige simpatie aan Dorena en die res van sy familie.
Helderberg verwelkom Lizl Botha
Helderberg-gemeente laat weet dat Lizl Botha, hulle jeugwerker vir kinderbediening, beroep is as diensleraar vir familie- en jeugbediening.
‘n Diensleraar is ‘n persoon wat na verdere opleiding vir ‘n spesifieke verantwoordelikheid of bediening as predikant bevestig kan word. "Ons is baie trots op haar. Lizl gaan voort met haar huidige pligte ten opsigte van die kinderbediening."
Baie geluk Lizl - ons beste wense vergesel jou met jou bediening.
Kuilsrivier-Suid groet die Le Rouxs
John le Roux was Kuilsrivier-Suid se langsdienende leraar en was 37 jaar by die gemeente. Sy kollega Hennie du Pisanie skryf as volg: "Met sy vlymskerp intellek en bestuursvermoë kon John maklik enige groot korporatiewe organisasie bestuur het. Ons was bevoorreg dat John eerder met liefde, deernis en empatie ons gehelp het om die drie-enige God te leer ken en  dien. Ons wens John ‘n rustige en vreugdevolle aftrede toe, met dankbaarheid in ons harte vir dit wat hy oor soveel jare vir  baie mense beteken het tydens sy bediening."
Mag John en Jeanie ‘n ryk en genotvolle rustyd betree.
Caledon neem afskeid van Theron-familie
Marinus Theron lewer eerskomende Sondag sy afskeidspreek by NG Gemeente Caledon. Hy is sedert 2012 by die gemeente. Marinus is ook die huidige skriba van die Sinode van Wes-Kaapland. Na die erediens sal hy en sy familie met 'n familiefees vingerete gegroet word. 
Marinus het 'n beroep na Stellenbosch-Wes aanvaar. Ons wens vir hom, sy vrou Gesie en hulle twee dogters Gita en Nina alle voorspoed toe in Stellenbosch.
GEBEDSVERSOEK
GEMEENTENUUS
Volmoed se eeufeesvieringe
Die 100ste bestaansjaar van die NG Gemeente Volmoed in die distrik Oudtshoorn is verlede naweek op luisterryke wyse gevier.
Hulle laat weet: "Die hoeksteen van die kerk was reeds in 1910 gelê en die kerk is in 1911 amptelik as 'n wyk van die NG Kerk Oudtshoorn ingewy. Gedurende 1921 het die kerkraad van die NG Gemeente Oudtshoorn uiteindelik toegestem dat die Armoedwyk kon afstig en op 29 November 1921 het die NG Gemeente van Volmoed tot stand gekom."
Lees hier meer oor die feesnaweek.
Ring van Kaapstad staan saam teen geweld
Tydens die 16 Dae vir geen geweld teen vroue en kinders veldtog wil die Ring van Kaap die Goeie Hoop geleenthede skep vir gemeenskappe om saam met hulle bewustheid vir hierdie belangrike kwessie te verhoog. "Geen geweld vir sestien dae lank - dit behoort eintlik elke dag te wees. Ongelukkig verduur vrouens en kinders dit vir dekades en as ons stilbly hieroor word dit onvermydelik. Ons as gemeente wil hierdie jaar op verskillende maniere bewustheid skep. Daarom het ons hande gevat met die kerke in ons Ring om ons bewusmakingsveldtog verder te laat strek. Ons het vir elke dag van die week iets anders beplan." Die gemeentes nooi almal graag uit om hieraan deel te neem. 
    Besoek die gemeente van Bloubergstrand se Facebook-blad vir meer inligting oor die aktiwiteite soos selfverdedigingsklasse, Woensdagnagmaal, #ThursdaysInBlack, 'n Stil Protes, Tag-Run en Die Rooibank podcast. Die Ring se Tag-Run, waar daar tussen veertien gemeentes gestap of gehardloop word, begin hierdie Saterdag om 06:00 vanaf NG Kerk Ysterplaat. Kyk na die grafika onder vir meer inligting daaroor.   
    Paarl-Vallei se Kaalvoet Kersfees
    NG Gemeente Paarl-Vallei het volstoom aan ‘n buitelug Kerssangdiens vir 28 November beplan, maar moes toe vinnig ‘n ander plan maak toe die reën kom...
    “Tydens ons Kerssangdiens vier ons altyd dinge waarvoor ons dankbaar is. Hierdie jaar is ons dankbaar vir naastes soos Toringkerk wat vir ons hulle gebou beskikbaar gestel het!
    As gevolg van die reën wat voorspel is en ons gebou wat ‘n beperkte hoeveelheid mense kan neem met COVID-19-maatreëls, het ons Kaalvoet Kersfees Kerssangdiens na Toringkerk geskuif. Die kinders het ook in die weke vooraf geskenkies gemaak en dit met die Kerssangdiens aan families uitgedeel.
    Ons het Sondagaand so bietjie vergeet van die wêreld en kon meer beleef van Christus se heerlikheid deur sang, snaar en instrument!"
    VAKATURES
    Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
    Voltydse medeleraar, Durbanville-Bergsig
    Die  gemeente van  Durbanville-Bergsig nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om aansoek te doen vir ’n voltydse medeleraarspos. 
    Durbanville-Bergsig bedien ongeveer 5000 belydende- en dooplidmate. ‘n Groot persentasie van die gemeente  bestaan uit gesinne met kinders, maar alle ouderdomme word goed verteenwoordig. Kandidate moet voldoen aan en uitvoering gee aan alle verantwoordelikhede van die amp van predikant soos vervat in die Kerkorde en Reglemente 2019, Kerkorde Artikel 9. Klik hier om die volledige gemeente- en leraarsprofiel te lees. Aansoeke sluit 31 Desember. 
    BEHOU DIE HUMOR
    PUBLIKASIES
    Hoogtepunte uit Kerkbode
    ’n Netwerk dagstappe rondom Clarens, geselsies met ’n verskeidenheid plaaslike inwoners en sakelui asook – in pelgrimstradisie – die eet en uitspan na ’n lang dag. Lees hier meer oor die nuwe Clarens Hermitage pelgrimservaring wat in die Oos-Vrystaat beoog word.
    Bid met hulp van ’n aflaaibare Adventkalender vanuit die spreekwoordelike stalle van Betlehem, wat oral oor Suid-Afrika aangetref word. Die kalender is op Kaapstad geskoei, maar vat wat jy daar kry na jou eie dorp of stad. 
    ‘Julle ma en julle is kosbaar’ is die boodskap wat ‘n groep leraars met ‘n video en ‘n brief wil oordra aan die dogtertjies van die vermoorde leraar Liezel de Jager sodat wanneer hulle eendag hul ma se naam google daar nie net ‘lelike’ nuusberigte is nie.
    Pryse-partyjie op kykNet
    Die Andrew Murray-prysfonds, wat pryse toeken vir Christelike en teologiese media in amptelike tale van Suid-Afrika, bestaan al langer as veertig jaar. Dit het algaande  prestige-pryse geword en die koppeling van Andrew Murray en Desmond Tutu se name aan een van die pryse, is ook ‘n teken van versoening – en van God se sin vir humor, soos emeritus-aartsbiskop Tutu daarna verwys.
    As gevolg van die COVID-19-pandemie en die inperkings van die afgelope twee jaar, kon die gebruiklike oorhandigingsfunksies nie gehou word nie. Vanjaar is ‘n goeie alternatief gevind. Op Sondag 5 Desember om 10:30 saai kykNET (kanaal 144) ‘n pryse-partytjie uit met 2020 en 2021 se wenners. Die program word om 12:00 op kykNET Nou! (kanaal 146) herhaal. In die program praat die bekende akteur Hykie Berg oor sy oorwinning oor dwelmverslawing. Piet Meiring van die destydse Waarheids-en-versoeningskommissie praat oor versoening. Ernst Conradie, skrywer van boeke oor omgewingsbewaring, gesels oor aardverwarming en Ivor Swartz, wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk, vertel van sy ellendige grootwordjare in Grabouw se omgewing. Wyle Annalise Wiid, aan wie ‘n spesiale toekenning kort voor haar dood gemaak is, sing nog ‘n keer, so ook Jan de Wet, vanjaar se wenner van die Andrew Murray-FAK-toekenning. Roucher du Toit en Zorilda Themmingh, ook vorige wenners, bespeel die orrel.
    Die program sal ook van 6 Desember op Kerkbode se webblad beskikbaar wees.
    Vertel - Deel die Goeie Nuus
    In Vertel luister ons met aandag na die Goeie Nuus om dit self nuut te ontvang en dit met ander te deel. Ons oefen om tye raak te sien wanneer ons die Goeie Nuus met ander kan deel. En ons leer hoe om sulke gesprekke op ’n respekvolle manier te voer.  Vertel is ’n kombinasie van hoe ons die Goeie Nuus van die evangelie verstaan en hoe ons dit prakties kan deel met mense wat oor ons pad kom. Dit is nie in die eerste plek ’n verstaan-boek nie, maar ’n doen-boek of, dalk liewer, ’n oefen-boek. ’n Boek wat ons weer passievol kan maak oor die deel van die Goeie Nuus van die evangelie met mense wat God oor ons pad bring.

    Kyk gerus hier na Pieter van der Walt (Diensgroep Toerusting en Navorsing) se videogesprek met Karlien Becker, die redakteur van VERTEL en predikant by Nuwerus-gemeente. VERTEL is beskikbaar in Bybel-Media se aanlynwinkel.   
    Bybel-Media en Kerkbode vier nuwe tuiste
    Maandagaand 22 November het Kerkbode en LiG saam met al die ander publikasies in die stal van die Christelike uitgewer Bybel-Media hulle intrek gevier in hulle nuwe tuiste by Boekhuis op die kampus van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington.
    Dié verhuising, so midde-in die pandemie, bring meer as net ’n einde aan die verbintenis met die organisasie se vorige adres, die Ferguson Hall-gebou in Kerkstraat. Dié trek na Boekhuis (voorheen Huis Gawie Hugo) is ook in pas met die digitale transformasieproses waarmee Bybel-Media die laaste 18 maande besig is.
    NUUSBRIEWE
    Lees die jongste nuus van Missie Japan hier.
    ALGEMEEN
    Raakgelees: KFC se Doughnut Zinger-burger
    As jy jouself as ‘n avontuurlustige eter beskou of daarvan hou om nuwe koskombinasies te probeer, het KFC goeie nuus vir jou. Ter viering van hulle vyftigste bestaansjaar het hulle ‘n lys nuwe items by hulle spyskaart gevoeg, waarvan een ‘n oliebolburger is.
    Dié vreemde kombinasie is beslis ‘n aangeleerde smaak aangesien dit gemaak word uit twee stroopsoet oliebolle met 'n KFC-Zinger hoenderborsie, wat berug is vir sy brand, in die middel saam met 'n sousie van jou keuse. 
    Hierdie Doughnut Zinger-burger is slegs in Gauteng beskikbaar tot 5 Desember 2021, maar afhangende van sy verkope, mag hierdie item dalk ook in ander provinsies verkoop word. 
    Vierde vlaag en verpligte inentings?
    Wetenskaplikes voorspel dat Suid-Afrika teen die einde van die week 10 000 positiewe gevalle per dag kan verwag en dat die vierde vlaag van die COVID-19-pandemie beslis op pad is. President Cyril Ramaphosa het tydens sy onlangse familievergadering weereens 'n beroep gedoen op Suid-Afrikaners om hulle te laat inent. Verpligte inentings word tans deur 'n presidensiële taakspan ondersoek, terwyl sake-organisasies soos B4SA en sekere vakbonde soos Cosatu daarop aandring en voorstel dat toegang tot sekere plekke met inentingsertifikate gereguleer moet word. 'n Studie wat in Denemark, Israel, Italië, Frankryk, Duitsland en Switserland gedoen is, het getoon dat inentingsyfers beduidend styg sodra 'n geldige inentingsertifikaat verpligtend word om toegang tot restaurante, byeenkomste en openbare vervoer te verkry.
    Die identifisering van die Omicron variant het vandeesweek daartoe gelei dat talle lande 'n vlugverbod teen Suid-Afrika en ander buurlande ingestel het. Hierdie verbod het die toerismebedryf veral in die Wes-Kaap laat steier met miljarde rande se verlies in inkomste oor hulle hoogseisoen.
    Die feit dat die pandemie deel van ons alledaagse bestaan geword het, is ook beklemtoon nadat Merriam-Webster woordeboek vaccine as hulle woord van die jaar vir 2021 aangedui het. Daar was 'n 600% styging in die hoeveelheid keer wat die woord op hulle aanlynplatform gesoek is.
    Foto: Spencer Platt/Getty Images
    KUIERKANSE
    Klik bo vir meer inligting. 
    TEN LAASTE
    Vrede vorm 'n kerndeel van die Adventboodskap en hierdie week lig Woord & Fees dit uit die leesterroosterteks in Filippense 1:3-11. "As kerk kom staan ons in ’n vredelose wêreld en probeer ons vandag – met nuwe woorde – om lig te bring en van vrede te getuig. Mag, Heer, u vrede deur ons ook vloei!"
    Luister gerus hier na Matt Maher se weergawe van Let there be peace en mag die vredesboodskap ook in jou hart plek vind.
    Volgende week is ons laaste uitgawe van 2021. Onthou om nog julle 2022 kerkkalenders se voorblaaie vir ons deur te stuur. Die volgende VrydagNuus sal op 21 Januarie 2022 verskyn.
    VrydagNuus-groete
    Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


    kommunikasie@kaapkerk.co.za


    Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
    Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
    NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
    Subscribe to our email list.