Subscribe to our email list
 12 Februarie 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. Publieke Getuienis: Besin saam oor die Toekoms van ons Land
Vanaf 25 Februarie begin daar ’n reeks interaktiewe gesprekke oor die uitdagings van SA by “In Harmonie” te La Motte, Franschhoek. Hier gaan jy die gulde geleentheid kry om te hoor hoe ’n uitgelese groep kundiges onderskeidend oor die toekoms van Suid-Afrika saampraat en -dink. Braam Hanekom vertel meer in die volgende video. Bespreek by Salomi by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.
Braam Hanekom oor die In Harmonie-gesprekke
Communitas-logo
2. VBO-kursusse het Iets vir Elkeen
Vanuit die VBO-kantoor op Stellenbosch stuur Wilma le Roux nuus oor kursusse vir die res van die kwartaal.
Dit wissel van die Fresh Expressions Internasionale Konferensie, 'n bedieningsvernuwingskursus, 'n kursus in egskeidingsherstel, 'n werkswinkel oor trauma en hoop EN 'n vaardigheidskursus oor hermeneutiek om tekste histories, literêr en sakramenteel uit te lê. Beslis die moeite werd om hierna te kyk. Kontak Wilma by wler@sun.ac.za of 021 808 3624 vir meer inligting en inskrywingsvorms.
3. #imagine Experience 1-3 April 2016
Almal wat 'n hele paar vrae oor #imagine Experience (1-3 April by Megapark in Bredasdorp) het, moet asb hierdie inligting kry.
Dis vrae soos "Wat kos dit? Wie reël dit? Hoe werk die verblyf? Is daar elektrisiteit? Is daar groepleiers? Wat van eetgerei ... en ablusiegeriewe?! Hoe werk vervoer? Wie is die sprekers? Hoe lyk die program? Hoe kan ek inskryf? - tot selfs die belangrike "Hoe kan ek my selfoon herlaai?!" Hier is antwoorde in Afrikaans en Engels.
Besoek ook www.imaginemovement.co.za of Facebook. Stuur 'n e-pos na info@imaginemovement.co.za as jy selfs meer inligting nodig het.
#imagine Experience
4. Arbeidsbediening bring LIG na Plekke van Werk
Baie mense kom nie meer in die kerk nie, of kom nie daarby uit om tyd vir hul geestelike welsyn in te ruim nie. Om in hierdie onontbeerlike behoefte te voorsien, fokus Arbeidsbediening met behulp van vrywilligers en ook geestelike werkers, op vier werkplek-areas, naamlik Biblia Hawesending, Handel en Nywerheid, Transnet en Vissers. Carin Brink, Streekbestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, vertel in die onderstaande video kortliks wat hierdie wonderlike bediening behels.
Carin Brink vertel van Arbeidsbediening
Kuratorium-wapen
5. Kuratorium en Fakulteit Teologie se Taalbeleid
Die kuratorium (die kerklike liggaam wat omsien na die teologiese opleiding van NG-studente aan die Universiteit Stellenbosch) het navraag ontvang oor die taalbeleid aan die Fakulteit Teologie. Frederick Marais, skriba, reageer: “Dit is in die belang van die NG Kerk dat studente tydens hulle studies onderrig in Afrikaans ontvang en dat hulle praktiese werk, soos pastoraat en prediking, in Afrikaans sal wees sodat hulle 'n vaardigheid ontwikkel in dié taal waarin hulle eendag sal bedien.
Dit is ook vir ons belangrik dat ons studente 'n besliste taalvaardigheid in Engels sal ontwikkel om in die toekoms hulleself in die publieke en ekumeniese lewe uit te leef en te handhaaf. Die reëling met die fakulteit is dat studente take voltooi en eksamens kan aflê in hul voorkeurtaal. Die raamwerk van kursusse en PowerPoints is ook in beide Afrikaans en Engels beskikbaar.” Belangstellendes kan hier meer lees, en vir Frederick kontak indien hulle verdere navrae hieroor het. 
ABC
6. Biddag vir Opvoeding en Onderwys: 14 Februarie
Op Sondag 14 Februarie doen ons spesifiek voorbidding vir Opvoeding en Onderwys. Oorweeg gerus om 'n afspraak te maak met 'n skoolhoof in jou omgewing, gaan besoek haar/hom by die skool en bid vir die hele personeel. Sake waarvoor voorbidding gedoen kan word, sluit in:
* Die minister van onderwys en plaaslike onderwysstrukture
* Pogings om geskikte onderwysstudente te identifiseer en te werf
* Dankbaarheid vir toegewyde skoolhoofde, onderwysers, dosente en leerders
* Plaaslike skole, skoolhoofde, beheerrade, onderwysers, ouers en leerders
* Die rol van organisasies soos Fedsas en SAOU om gehalte onderwys te verseker
* 'n Fokus vir gemeentes en lidmate om plaaslik betrokke te raak en te ondersteun.
7. Nuus uit Noord-Kaapland
Plant 'n Boom vir Luther

"27 Januarie 2016 het 'n blywende indruk gelaat. Ek is in Lutherstadt-Wittenberg om inligting en materiaal vir die viering van Reformasie 500 in 2017 te versamel.
Daar ontmoet ek vir Hans-Wilhelm Kasch, direkteur van die Lutherischer Weltbund. Hy is bly oor my besoek daar – die eerste gereformeerde uit Afrika. Wil ek nie asseblief 'n boom in die Luthergarten plant nie?
My kop duisel. Werklik? 'n Boom vir die Ned. Geref. Kerk in Noord-Kaapland? 'n Eerste? 'n Boom vir Noord-Kaapland in Wittenberg, in Luther se tuin?
Natuurlik. Ja. En asseblief tog. Graag."
Lees gerus meer oor Gert Duursema se  besonderse ervaring - met dank oorgeneem uit Noord-Kaapland eNuus. En onthou om na dié boom van ons Noord-Kaapse familie te gaan kyk: klik hier, gaan na "List of all trees" en soek 279.
Teyo Smit
ALGEMEEN
1. Met Innige Simpatie
1.1 Teyo Smit 

Die bekende ds Teyo Smit (68) is op Do 4 Februarie oorlede terwyl hy sy geliefde daaglike swem in die Stilbaai-see geniet het.
"Vir ons hier was Teyo ’n groot boom, letterlik en figuurlik. Oor die twee meter lank het hy sy nommer 14-skoene goed vol gestaan en diep spore in mense se harte getrap vir 20 jaar in die Durbanville-gemeenskap. ’n Gebore leier wat ook daarvoor bekend was dat sy evangeliese spore ver uitreik." So reageer NG Durbanville-Bergsig op sy dood.

'n Gedenkdiens vir Teyo vind op Vrydag 12 Februarie om 10:00 by Durbanville-Bergsig olv Philip Scholtz plaas. Lees hier verder.
Ons opregte meegevoel met Marguerite, die kinders en ander familielede. "Hy was in alle opsigte 'n reus," som een kollega en jarelange vriend Teyo op - ons eer hierdie nagedagtenis. En steek 'n kers aan ...
Philip de Bruyn
1.2 Ds Philip de Bruyn
Ons het ook met medelye kennis geneem van die dood van ds Philip de Bruyn (81) op 2 Februarie.
Ds De Bruyn was voorheen predikant in NGKA Stutterheim, Wolseley, De Doorns, Richmond, Kimberley-Noord, Oudtshoorn-Wes en van 1982 tot 1993 in Oudtshoorn-Park. Ons spreek graag ons innige simpatie uit teenoor sy vrou, Anna, steeds woonagtig in Oudtshoorn.
'n Jarelange vriend en kerkraadslid van ds De Bruyn, Pieter Retief, het 'n kort huldeblyk verskaf - lees dit aangeheg.

1.3 Ds Gert (Gehardus Alfred) Botha
Die sinode betreur ook die dood van ds Gert Botha (89) op 8 Februarie 2016. Ds Botha is op 4 Augustus 1951 bevestig as die eerste leraar van die NG Gemeente Blanco. Hy was hier predikant tot 1960, waarna hy in Wespoort (Noordelike Sinode) en Brakpan-Noord (Hoëveld Sinode) in die bediening was. Sy troosdiens is op Donderdag 11 Februarie om 12:00 vanuit die NG Moedergemeente Swellendam. Aan sy vrou, Erica, kinders en kleinkinders, ons opregte meegevoel.
Kobus Gerber
2. Hervormers groet Kobus Gerber, Vriend van NHKA
In die jongste uitgawe van Die Hervormer (amptelike mondstuk van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika) berig ds Etienne Fourie baie raak oor die besondere rol wat dr Kobus Gerber, voormalige algemene sekretaris van die NG Algemene Sinode, oor jare in die positiewe verhouding tussen die NG Kerk en die NHKA gespeel het. Lees gerus hier meer.
3. Woordfees: Geloof op Markplein
As deel van die US Woordfees (4-13 Maart 2016) word 'n gespreksreeks met die titel Geloof op die Markplein deur die Moederkerk op Stellenbosch aangebied. Johan van der Merwe is die gespreksleier.
Kry aangeheg meer inligting oor hierdie gesprekke, wat op 8, 9, 10 en 11 Maart gratis in die ATKV Boeketent plaasvind.
Met sprekers soos Julie Claassens, Stephan Joubert, Piet Naude, Nadia Marais en Jannie le Roux is dit iets om nou reeds aan te teken.
Boeke
4. Raakgelees ...
4.1 Leesstof om te oorweeg

Christianity Today het uitgewers gevra na watter teologiese en Bybelgebaseerde boeke hulle vanjaar die meeste uitsien om te publiseer.
Hier is 'n lys van boeke, met omskrywings deur die skrywers om aan te dui hoe hulle boeke vrae en kwessies van Christene aanspreek. Dalk het die lys iets waarby jy ook aanklank vind - klik hier om self te kyk.
Jan Lubbe
4.2 Tel jou Woorde ...
Ons sal ons woorde vanjaar moet tel. Só skryf Jan Lubbe in 'n artikel op Netwerk24. Dit is die uitdaging vandag, onder meer in die aanloop tot 'n verkiesing.
"
Wie die taal van liefde – soos Jesus dit gepraat het – praat, praat reguit, maar met respek; praat ingelig, maar kalm. Eintlik is iemand wat die taal van liefde praat, veral iemand wat éérs goed kan luister. Groot genoeg van hart om te vra: waarom is jy so kwaad?" 
 Die volledige artikel is hier. (En allerlei ander artikels rondom kerksake is hier.)
Elanza en Dewald du Toit
PREDIKANTENUUS
Welkom in Caledon, Dewald en Elanza! 
Dit is lekker om Dewald du Toit (voorheen by die NG Gemeente Koringberg en van 2012 by die NG Gemeente Lichtenburg-Oos in die Wes-Transvaal Sinode) as deel van die NG Gemeente Caledon te verwelkom!
Dewald is sedert 1 Februarie amptelik by Caledon en sy intreepreek was reeds op So 7 Februarie.
Van die sinode se kant: mag julle, Dewald en Elanza, tesame met julle kinders, Sebastiaan en Ella Sophia, die Overbergse hartlikheid oral om julle ervaar! Julle is baie welkom.
Twitter Facebook
Prof Dirkie Smit
GEMEENTENUUS
1. NG Durbanville en Sonstraal  
Prof Dirkie Smit oor Verskille in Lees van dieselfde Bybel

As deel van dié twee gemeentes se gespreksreeks oor selfdegeslagverhoudings, het prof Dirkie Smit op Sondagaand 7 Februarie by Durbanville gesels oor hoe dit gebeur dat gelowiges dieselfde Bybel lees en tot verskillende gevolgtrekkings kom.
Hy haal oa vir Calvyn aan, wat aan die begin van sy groot werk, die Institusie (1559-uitgawe), geloof as faciem Dei contemplari beskryf - "Geloof is om elke dag oor die aangesig van God na te dink."
Belangstellendes  kan aangeheg lees hoe prof Smit verder hierop uitbrei.
Sy insiggewende bydrae van Sondagaand kan as MP3 afgelaai word. 
Kruisdra
2. Toringkerk voer Passiespel op
Op Sondagaand 21 Februarie 2016 om 19:00 voer Toringkerk 'n aangrypende passiespel in hulle kerk op, en hulle nooi almal vriendelik daarheen uit. Daar is ook heelwat gemeentesang wat deel uitmaak van die passiespel.
Toegang is gratis, en daar sal 'n kollekte opgeneem word vir die kerk se Droogtehulpfonds. "Kom in die gees van Lydenstyd en word opnuut aangegryp deur Jesus se oorwinning op Golgota!" nooi hulle.
Stellenberg-logo
3. Toerusting by NG Stellenberg
Van Stellenberg ontvang ons inligting oor drie verskillende toerustingsgeleenthede wat in Maart by hulle aangebied word.
Dit sluit in: Huweliksvoorbereiding vir verloofdes (7-9 Maart), huweliksverryking (16, 17 Maart) vir pare wat hulle huwelik wil uitbou (beide deur dr Francois Swart), sowel as 'n gesprek op Di 1 Maart om 19:00 oor die konstruktiewe hantering van verskille onder gelowiges (deur dr Coenie Burger).
Belangstellendes kan hier meer inligting kry. Bespreek by karin@stellenberg.co.za.
4. Bybelskool by Brackenfell-Wes
Brackenfell Bybelskool skop 2016 af met ‘n unieke kursus vir gelowiges wat hulle leierskapsvaardighede in hulle bediening en hulle loopbane wil verbeter. Die kursus is oor 20 jaar ontwikkel deur prof Christo Nel, dosent by die US Bestuurskool. 
Dit vind vanaf 11 Februarie 2016 elke Donderdagaand plaas by die NG Kerk Brackenfell-Wes (die eerste aand is slegs ‘n inligtings- en registrasiegeleentheid) en word aangebied deur dr Guillaume Smit. Lees hier verder ...
NG Moorreesburg Mannekamp
Ester Konferensie
6. De Rust: Ester Konferensie
Onthou! De Rust nooi graag almal, mans EN dames, na die Ester Konferensie op 27-28 Februarie in die NG Gemeente De Rust. Die aanbieder is ds Elza Meyer. Saterdag se program begin om 09:00. Sondag die 28ste tree Elza as prediker op. Kaartjies kos R150.00 pp en is verkrygbaar by Stella Botha by 072 248 7974.
EKOLOGIE
1. SAFCEI het Nuwe Interim Uitvoerende Direkteur
Die Southern African Faith Communities' Environment Institute (SAFCEI) laat weet dat hulle 'n nuwe interim Uitvoerende Direkteur aangestel het. Sy is Ani Tsondru, wat met haar aanstelling waardevolle kennis as omgewingswetenskaplike en prokureur in veral die nie-winsgewende sektor saambring. Lees hier verder
2. Vier die Skepping saam met SAFCEI
Ons herinner graag aan hierdie konsert wat op Do 18 Februarie in samewerking met SAFCEI by die Sentrale Metodiste Kerk op Groentemarkplein, Kaapstad, aangebied word. 
Dit beloof om 'n uitsonderlike viering van die aarde en ons Skepper te wees. Deur liedere van oraloor die wêreld word die verhouding tussen die mensdom en die aarde gevier en betreur. Dit sal 'n aand van musiek, fotografie en poësie wees. Kom vier die Skepping saam met ons!
Bespreek kaartjies aanlyn, of koop dit die aand by die vertoning.
Badisa-logo
NUUSBRIEWE
Badisa E-Nuus
In hulle jongste nuusbrief, skryf Averell Rust, Hoof Uitvoerende Beampte van Badisa, oor die jaar wat voorlê: "Ek het sedert verlede jaar weer van die deug van volharding bewus begin word. Iemand het ’n omskrywing van ’n suksesvolle onderneming baie eenvoudig gestel: Die basiese reëls van sukses kan as volg gedefinieer word: Weet wat jy wil hê. Vind uit hoe om dit in die hande te kry. Doen iets daaromtrent en volhard.
Die pragtige beeld van volharding word as volg deur Hugh Latimer gestel: 'Die waterdruppel maak 'n gaatjie in die klip, nie deur geweld nie, maar deur aanhoudend daarop te drup'."  Die volledige nuusbrief kan hier gelees word.
KUIERKANS
1. H2O Aid: Konsert vir NG Droogtehulp!
Neem gerus kennis van hierdie spesiale konsert op 28 Februarie om 16:30 in die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen. Toegang GRATIS, maar donasies versoek ten bate van die NG-Droogtehulpfonds. Help adverteer en gaan geniet ligte musiek ter ondersteuning van almal wat swaarkry in die droogte.
Van die bekende kunstenaars wat optree, sluit in Winand Grundling, Johann Nel, André Terblanché, Marlie Katzke, Gemayel Kroukamp en Schalk Wasserman. Inderdaad 'n spesiale geleentheid om topkunstenaar se werk te geniet EN 'n verdienstelike saak te ondersteun! Navrae: 021 886 5975.
Winand Grundling H2O Aid Concert
Chelsea Mark NG Wynberg Plettenbergbaai Suiderkruis Basaar NG Paarlberg Basaar 5 Maart
Echo Youth-logo
5. NG Bloubergstrand (Draf)Stap vir Echo!
Die NG Kerk Bloubergstrand hou jaarliks ʼn Pretstap/Draf ten bate van Echo Jeug Ontwikkeling. Hierdie jaar benader hulle dit meer professioneel: hulle verander die 8km afstand na 10km (en behou steeds die 3km en 5km), doen aanlyn inskrywings en elke deelnemer ontvang sy/haar tyd per sms na afloop van die wedloop.  
Teken gerus 27 Februarie 2016 om 07:00 aan. Skryf hier in en kontak Franselene met navrae by kommunikasie@ngkbloubergstrand.co.za of 021 554 1290. Vir meer oor Echo, kontak Niel Steyn by niel@echoyouth.co.za of 084 688 1080.
VGK-logo
VAKATURES
1. VGK Gemeente Wolseley: Leraar
Van die VGK Gemeente Wolseley ontvang ons inligting oor 'n vakature vir 'n leraarspos. Belangstellendes kan aangeheg meer lees oor die gemeente- en leraarsprofiel, vergoeding en die aansoekproses. Aansoeke sluit op 29 Februarie. 
Springbok
2. VGK Springbok: Leraar
Ons herinner aan die VGKSA Gemeente Springbok se vakature vir 'n leraarspos. Die gemeente is op die vooraand van 'n opwindende nuwe fase van gemeente-wees.
Lees aangeheg meer en reageer voor die sluitingsdatum van 19 Februarie. 
NG Bellville-Wes-logo
3. NG Gemeente Bellville-Wes: Kerkmusiek Konsultant
Die NG Gemeente Bellville-Wes is op soek na 'n dinamiese persoon om aan die stuur van die gemeente se musiekbediening te staan. Die gemeente wil musiek van kwaliteit en uitnemendheid bied - belangstellendes kan aangeheg meer oor hulle aanbiddingstyle en vereistes lees. Aansoeke sluit op 2 Maart. 
Marietjie Steyn
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Marietjie Steyn
Die meeste van ons is waarskynlik lank reeds klaar met die “lawwigheid van verliefdheid en Valentynsdag.”
En ek praat nie net van verhoudings nie, ek praat sommer van alle irrasionele, hals-oor-kop, onlogiese besluite – die tipe wat ook deur verliefdheid gekenmerk word. Hoe meer rasioneel, logies en realisties ons kan wees, hoe beter. Veral die huidige politieke en ekonomiese klimaat in ag genome.
En tog kan ek nie anders as om met dankbaarheid, daagliks bewus te word van God se irrasionele, onlogiese, goedgelowige liefde vir my nie! Waar sou ek wees sonder sy “verliefdheid” op my? Dalk is dit nou juis die tyd om op ’n naïewe manier lief te raak vir die mense rondom ons?
***
Marietjie is sedert 2013 verbonde aan die NG Gemeente Bloubergstrand. Sy is getroud met Niel, predikant van die NG Gemeente Table View wat by Echo Jeug Ontwikkeling betrokke is. Kontak Marietjie by marietjie@ngkbloubergstrand.co.za.
"Wie is Hy vir jou?
Dit is die vraag waaroor jy en ek (dalk veral in Lydenstyd) helderheid moet kry. Want Hy is veel meer as net die Een wat ons skuld vergewe.
Hy is die lig,
die bron van die lewe,
die fontein waaruit alles wat goed is, vloei;
Hy is liefde,
Hy is kunstenaar by uitnemendheid,
Hy is vol verrassings …" - Jaco Thom
VrydagNuus-groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za