Lees deur internet, klik hier >>
 16 Oktober 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Die wêreld verlang na regte leiers
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf in Godsdiens Aktueel in Die Burger en Beeld dat dit wil voorkom asof ons onsself in 'n leierskapkrisis bevind.
 
"Dit is inderdaad ‘n tyd om veel meer vir ons leiers te bid. Die vraag is al baie gevra hoe ons hier beland het. Die eenvoudigste antwoord is om te sê dat leiers nie sommer uit die lug val nie, maar meestal die produk van ‘n samelewing isOns het nou slim én wyse leiers bitter nodig wat dit kan doen. Leiers wat voor God stil word, sal vind dat daar steeds baie stemme deur jou maal. God kan egter ‘n wyse, onderskeidende harmonie in jou skep, wat lig en koers in ‘n donker tyd bring." Lees Braam se volledige artikel hier of op hulle webblad www.publieketuienis.org.
Louis Jonker aangewys as Uitgelese Professor
Met dank ontvang van Diensgroep Toerusting en Navorsing: Louis Jonker van Ou Testament by die US Fakulteit Teologie, is pas benoem as Uitgelese Professor (Distinguished Professor). Die aanstelling as Uitgelese Professor is ’n seldsame eerbewys wat akademiese uitnemendheid erken. ‘n Uitgelese Professor het internasionale statuur en impak en het bewys gelewer van uitsonderlike prestasie en leierskap in die hoër onderwys, veral op die gebied van navorsing en publikasies, nagraadse studieleiding, leer en onderrig en sosiale impak. Klik hier om meer te lees. 
Louis, baie geluk met die besondere en waardevolle aanstelling. Dankie vir die wyse waarop jy in die kerk betrokke bly en ‘n verhelderende, verdiepende gesprek stimuleer oor die wonder van die Bybel as Gods Woord. 
Bedienaars en diensleraars gesels 
Na 'n onlangse afrondingsretraite by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit het DinkJeug met van die kandidaat bedienaars en diensleraars gesels oor hulle reis en roeping ten opsigte van jeugbediening en hoe hulle God tydens hierdie geleentheid beleef het.
Lees hulle inspirerende antwoorde en insigte hier op DinkJeug se Facebook-blad.
#Hope4NGkerk
Word gerus deel van hierdie Facebook-groep, waar positiewe en inspirerende stories van die NG Kerk en ons gemeenskappe gedeel word. 
Hierdie groep wil 'n ruimte bied vir mense om getuienisse van hoop te deel en is 'n geleentheid om ons eenheid in Christus te vier. Ons nooi enige persoon om 'n verhaal te deel van hoe die NG Kerk 'n verskil in mense se lewens gemaak het. Deel stories van plaaslike gemeentes, projekte of individue. Ons wil 'n lewegewende ruimte skep, daarom: geen haatspraak, klagtes, teologiese debatte of geen kritiek teen persone, gemeentes of denominasies nie. Klik hier om by die blad aan te sluit. Onthou om die groep se reëls in ag te neem.
#imagine se Oktobersessie
Sluit by die maandelikse #imagine Connect sessies aan om met leiers regoor Suid-Afrika kennis te maak! Hierdie geleentheid is vir alle leiers in die #imagine netwerk.  
Registreer hier vir die volgende sessie op 21 Oktober.
EKOLOGIE
Wêreldvoedseldag - 16 Oktober 2020
Hoeveel van ons doen ons dankgebed aan etenstafel mindful? As jy deur die wuiwende koringlande in die Swartland of die goudgeel canolalande in die Overberg ry, raak dit mens baie diep om die kosmandjies weer so vol in die Wes-Kaap te sien. Op 16 Oktober word ons aandag gevestig op meer volhoubare landboupraktyke asook die impak van voedseltekorte in ons agtergeblewe gemeenskappe. Maar waar kom hierdie idee vandaan? Hoekom is dit belangrik? En wat kan ons hieromtrent doen? Lees meer wat ons Groen Span se Dewald Hoffmann hieroor skryf. 
Week van aksie vir kos 
Ondanks die wonderlike vordering in soveel sektore van die samelewing, is hongerte steeds 'n werklikheid vir meer as kwart van die wêreldbevolking.
Daarom bemark die Wêreldraad van Kerke hulle "Week of Action on Food" van 11 - 17 Oktober om sodoende bewustheid oor hongerte in die wêreld te verhoog en lewer ook ‘n bydrae in die ontwikkeling van nuwe, volhoubare modelle van die produksie en verspreiding van kos. Die tema wat gekies is vir hierdie week is "Groei, voed, hou vol."
Die Hoop en Versoening Trust en Diaconia se GROEI-projek vier saam met kerke regoor die wêreld hierdie week van aksie! Maar hulle verleng die viering met ’n week en nooi GROEI-ondersteuners om foto’s van hul groentetuine op Facebook te plaas met die hashtag #groei om bewustheid oor volhoubare voedselvoorsiening te bevorder. 
Klik hier vir meer inligting. 
GEMEENTENUUS
'n Kruik vol Hoop op Eendekuil
Nadat Nioma Venter ‘n erediens in Eendekuil gelei het, vertel sy van hulle gemeenteprojek ‘n Kruik vol Hoop, wat deur 2 Konings 4: 1-7 geïnspireer is. Die gemeente het tydens COVID-19 aansoek gedoen vir rampfondsondersteuning om met voedingsprojekte na die gemeenskap uit te reik. Hulle praktiese plan was ‘n geskenkpakkie met al die bestanddele vir ‘n sopresep. Saam met die pakkie kom daar ook ’n pragtige kaartjie met die naam van die projek, die Skrifgedeelte, die resep en ’n bemoedigende gedagte uit die Woord.
Die pakkie bestaan uit ‘n halwe koppie rys, ‘n halwe koppie sopmengsel, ‘n halwe koppie lensies, een blokkie aftreksel (bees of hoender) en ‘n pakkie soppoeier. Dit word by ‘n houer met 2,5 liter kokende water gevoeg en geroer tot gaar.
“Soos met al hierdie deernis-uitreike, getuig die vroue van Eendekuil dat die kontak met ander, die gebaar van belangstelling en ondersteuning, die oogkontak en die uitruil van ’n paar woorde, amper die belangrikste gebeure is. Tog is daar diegene wat met trane in die oë die pakkie met albei hande neem en getuig dat hulle vanoggend gebid en gevra het dat die Here sal voorsien!” skryf Nioma.
V.l.n.r. Gert Kok en Nioma Venter saam met Marie Grobbelaar en Rianna Eksteen van die barmhartigheidsbediening.
Feesnaweek in Beaufort-Wes
Die gemeente van Beaufort-Wes vier vanjaar hulle 200ste bestaansjaar, maar COVID-19 het hulle feesplanne ingekort. Nou is daar besluit om 'n feesnaweek van 29 Oktober tot 1 November aan te bied. Hulle jaarlikse basaar is op 29 -30 Oktober en 'n spesiale feesdiens met koorsang word op Sondag 1 November gehou. Lidmate kan onder andere inskryf vir die koekkompetisie om 'n koek te bak en te versier wat soos die kerk lyk. Daar word ook 'n middagete na die erediens aangebied. Oudlidmate word hartlik uitgenooi om by die feesnaweek in te skakel, maar moet net hulle eie verblyf organiseer.  
Poppespel in Die Vleie
Die predikantspaar Dawie en Elaine Le Roux van Die Vleie-gemeente in Hoekwil het 'n vindingryke manier uitgedink om die verbeelding van die jongspan tydens Sondagskool vas te vang. Vlam en Oupa Ola vermaak die kleingoed met al hulle avonture en spitsvondighede. Besoek gerus die gemeente se Facebook-blad hier en kyk na hulle jongste manewales.
R10-basaar van hoop
Laaiplek-gemeente het onlangs ‘n basaar soos nog nooit tevore gehou. Wat hierdie basaar so uniek gemaak het, is dat alles wat te koop was maar net R10 gekos het. Van braaivleis tot koeke, slaptjips, jaffels, seekospaella, boereworsrolle en vele meer! 
Die gemeente het laat weet dat hul R10-basaar wat hoop gee, ‘n reusesukses was. “Om te dink alles was R10 en die Here het ons geseën met amper R60 000! Dankie aan almal wat gehelp het, gewerk het, gegee het en gekoop het.” Meer as 2000 mense het die basaar bygewoon.
Klik hier om meer foto’s van hierdie geleentheid te sien. 
Bike Breakfast Run by Bloubergstrand
Die gemeente van Bloubergstrand het vandeesweek ‘n Bike Breakfast Run van hulle kerkgebou tot The Grill Shack in Citrusdal gehou. Hulle skryf op hul Facebook-blad dat almal hierdie geleentheid vreeslik geniet het. “Dit was 'n heerlike oggend saam met awesome mense! Dankie julle, ons maak gou weer so.” 
Foto's van hierdie uitstappie kan hier besigtig word. 
Op die Berg Karoostap
Die gemeente van Op die Berg laat weet dat hulle lidmate lekker saamgekuier het op hulle onlangse Karoostap. “Ons kon hierdie afgelope naweek weer ons jaarlikse Karoostap aflê. En wat ‘n fees! Dankie aan Oppi Berg Spyseniers vir die heerlike kos, die Hanekoms vir hul gasvryheid en elke stapper wat die pad saam met God gewandel het.”
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Ons familie in Afrika: Mosambiek
Die verhaal van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), is aangrypend; dis ’n kerk wat te midde van baie weerstand en stryd gestig is. Di. AG en WH Murray het in 1908 vanuit Malawi die eerste sendingstasie van die NG Kerk in Mosambiek by Mphatso in die Tête-provinsie (Noord-Mosambiek) gevestig. Inheemse evangeliste uit Malawi het ook kom help evangeliseer en in 1910 is die eerste drie volwassenes gedoop.
In 1922 is hulle evangelisasiewerk egter deur die Portugese regering verbied en Protestantse gelowiges is vervolg. Die klein groepie jong gelowiges van 342 is sonder predikante agtergelaat, maar vyftig jaar later, toe predikante van Malawi weer toegang daarheen verkry het, het die kudde tot ongeveer 4 000 gegroei! Mosambiek was in die 20ste eeu ’n oorloggeteisterde land – eers deur ’n vryheidsoorlog (1964 tot 1974) en daarna ’n burgeroorlog (1977 tot 1992), maar ten spyte daarvan, het die kerk bly groei.
Vandag bestaan die IRM uit ongeveer 80 000 lidmate, 75 gemeentes en 86 predikante. Die drie sinodes Tumbine, Mphatso en Novo vorm saam een Algemene Sinode. Tans word veral die noordoostelike gedeelte van Mosambiek weer swaar getref deur terreurkrisisse waar ons sendelinge en kerkleiers ’n groot rol speel om ons medegelowiges daar te ondersteun. Bid asseblief vir hulle.  Lees hier meer van ons susterkerk in Mosambiek.
Afkondigings word tydens ‘n erediens in die Ring van EntreLagos, Sinode Tumbine gedoen (voor COVID-19).
Publieke Getuienis fokus op Afrikalande
Gedurende Oktober wil die Sentrum vir Publieke Getuienis graag die publiek se aandag vestig op die volgende vier Afrikalande: Mosambiek, Zimbabwe, Zambië en Rwanda. 
Hulle gaan deur die maand gereeld plasings op hulle sosiale media en webblad deel om mense in te lig oor die huidige kommerwekkende gebeure in hierdie lande. Verder vra die sentrum dat mense saam met hulle sal bid vir ons broers en susters in Afrika hierdie maand!
Hierdie week is hulle fokus op Mozambiek. Klik hier om 'n skyfiereeks te lees waarin hulle poog om bewustheid van die terreurkrisis in ons buurland te bevorder.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Boekhouer/Finansiële beampte: Stilbaai
Stilbaai Bejaardesorg beskik oor 'n vakature vir 'n boekhouer/finansiële beampte. Goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede word vereis. Vir meer inligting, klik hier. Aansoeke sluit 23 Oktober.

Maatskaplike werker: Tygerberg
Badisa Tygerberg het 'n vakante posisie vir 'n maatskaplike werker. Die geskikte kandidaat moet by die SAMDB geregistreer wees. Sien posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 23 Oktober.
Maatskaplike hulpwerker: Bellville-Suid
Badisa Bellville-Suid adverteer die pos vir 'n voltydse maatskaplike hulpwerker om kinderbeskermingsdienste te lewer. Klik hier vir die posvereistes. Aansoeke sluit 26 Oktober.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Bybelgenootskap stel Bybels in Zoeloe bekend 
Die 2020 vertaling van die Bybel in Zoeloe word op 18 Oktober in Ulundi bekendgestel. 
Koning Goodwill Zwelithini is die beskermheer van die bekendstelling en sal die gehoor by die geleentheid toespreek. Die bekendstelling sal terselfdertyd aanlyn by www.biblesa.co.za en op die BibleSA toepassing uitgesaai word.
Virtual book launch by African Sun Media
The book Reconciliation, forgiveness and violence in Africa was introduced during a virtual book launch earlier this week. Co-edited by Marius Nel, Dion Forster and Christo Thesnaar, this volume of essays seeks to engage these complex, contested and ethical issues from Biblical, pastoral and ethical perspectives.
According to Len Hansen, senior editor at the Beyers Naudé Centre for Public Theology, the volume contains "a variety of rich and challenging essays that contribute to the wider discourse on public theology on the African continent as it related to reconciliation, forgiveness, violence and human dignity.
LiG se November-uitgawe nou beskikbaar 
Die November-uitgawe van LiG tydskrif is nou landswyd op winkelrakke beskikbaar.
Voorbladnooi Donnalee Roberts vertel hoe die geboorte van haar en haar man Ivan se seuntjie Cameron haar lewe vir altyd verander het.
Daar is raad hoe om te vergewe na verraad binne die huwelik en wenke hoe om hegter verhoudings met jou kinders te bou.
Lesers vertel ook hulle stories van opstaan na verlies. Moenie November se LiG misloop nie.
Nuut van CLF 
CLF stel hulle jongste publikasie Destined to be change-agents '
Ordinary’ people serving significantly  bekend.
Geskryf deur Fanie Richter en Laetitia Bull vertel die buitengewone boek die verhale van besonderse mense wat 'n groot verskil maak in diens van die koninkryk van God.
Hulle gee ons ook ’n intieme blik op dit wat hierdie ‘agente van verandering’ motiveer om op so ’n offervaardige en betekenisvolle wyse te dien
Klik hier om die boek in hulle aanlynwinkel aan te koop.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik op grafika bo vir LiG se nuusbrief en inligting oor hulle lesersdag.
VIRTUELE KUIERKANSE
Ondersteun asseblief ons gemeentes!
Ons hoor gereeld van die geweldige finansiële impak wat die COVID-19-pandemie gehad het - ook op ons gemeentes en hulle plaaslike gemeenskappe. Ondersteun dus gerus hulle onderskeie fondsinsamelingspogings.
Hartenbos gemeentefees
Dis amper weer tyd vir die gemeente van Hartenbos se jaarlikse basaar. Hierdie jaar gaan daar ‘n gemeentefees op 24 Oktober plaasvind soos wat die gemeente en die hele gemeenskap van Hartenbos nog nooit gesien het nie! 
Die gemeentefees van 2020 gaan ‘n manier wees vir Hartenbos-gemeente  om fees te vier en vir die Here dankie te sê dat Hy die gemeente so geseën het tydens hierdie moeilike jaar. Klik hier om vir meer inligting. 
ALGEMEEN
Kom ons help kos gee
Tydens COVID-19 het 85 verskillende kerke, NRO’s en diensorganisasies die Greater Retreat CAN (community action network) in Retreat, Hill View, Sea Winds, Lavender Hill, Cafda en Steenberg gevorm. Die NG Gemeente Constantia is deel van die inisiatief deurdat hulle kerksaal as ‘n sentrale logistieke punt dien. Sopkombuise in hierdie area gaan voort tot einde Desember en daar word daagliks aan 5000 - 8000 persone kos voorsien. Die realiteit van werksverlies en ekonomiese druk is net so groot in hierdie area.
Danksy baie goeie verhoudings wat in die tyd gesluit is, wil ons hulle graag help. Donasies raak al hoe minder. Wil julle gemeente nie ‘n eenmalige insameling vir die Groter Retreat CAN oorweeg nie? 
Alle donasies sal op 2 November by u gemeente afgehaal word. Hier is ‘n lysie van wat benodig word: rys, lensies, sojavleis, kookolie, gemengde groente (blikkies), geblikte vis, grondboontjiebotter, konfyt, langlewe melk, pasta, enige sanitêre en persoonlike higiëne benodighede sowel as babadoeke. In terme van bederfbare kos, word sopbene en hoendernekkies benodig vir sop.
Om te help, stuur ‘n e-pos aan Ria by diaconia@kaapkerk.co.za vir reëlings rondom die insameling en afhaal van die donasie. Gemeentes kan ook ‘n kontantbydrae oorweeg.
Met dank ontvang van Nioma Venter van Diaconia. 
Raakgelees: VKO-bedryf in krisis
Die jongste verslae uit die vroeëkindontwikkelingsektor (VKO) dui dat die COVID-19-pandemie verreikende gevolge gehad het. 'n Studie wat in April deur 'n groep belanghebbendes in die sektor gedoen is, het die krisis in die bedryf uitgelig met statistieke wat getoon het dat duisende diensverskaffers beduidende verliese aan inkomste getoon het.
Verligting uit staatsbronne was ook ontoeganglik aangesien baie VKO-verskaffers nie kwalifiseer vir TERS verligting nie. Uit bykans 4 000 diensverskaffers wat aan die studie deelgeneem het, het 68% aangedui dat hulle twyfel of hulle weer operasioneel gaan wees na die verslapping van nasionale inperkings. Bywoning by VKO-fasiliteite het gedaal tot 13% in die Julie/Augustus tydperk - die laagste in die afgelope 17 jaar.
Meeste fasiliteite was vir ongeveer sewe maande gesluit sonder enige inkomste en daar word gevrees dat die bedryf meer as 100 000 werksverliese kan ervaar en sowat 1,8-miljoen kinders ontneem kan word van VKO-programme. Klik hier vir die verslag oor die studie wat deur Ilifa Labantwana, Bridge NECDA, SmartStart and the South African Congress for ECD onderneem is. 
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag is Biddag vir Gesondheidsdienste en ons dra hierdie uitgawe op aan ons mediese personeel, gesondheidsorgwerkers en alle personeel wat in klinieke, hospitale en labaratoriums werk. Ons is deeglik bewus van die ongelooflike uitdagings wat COVID-19 aan hulle gestel het en die talle opofferings wat hulle moet maak.
Help ons gesondheidswerkers deur jouself en jou gemeenskap te beskerm. Dra jou masker, was jou hande gereeld en handhaaf 'n veilige afstand.
Ons dra hierdie weergawe van The Prayer deur Josh Groban en Charlotte Church aan al ons gesondheidswerkers op.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.