Lees deur internet, klik hier >>
15 September 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Verjaar
SINODENUUS
1. Veels geluk, liewe Communitas!

“Ons visie was om ’n span te wees wat die gemeente, die predikant, die jeug en die ontwikkeling van nuwe geloofs-gemeenskappe wil begelei en ondersteun. Met ons stigting was ons reeds baie duidelik daaroor dat ons met ’n missionale begrip van die kerk wil werk en gemeentes in hierdie rigting wou begelei.” So skryf Frederick Marais (PSD: Toerusting en Navorsing) oor die visie van Communitas, wat op 17 September 2017 hulle tiende verjaardag vier.
Lees hier hoe hy met dankbaarheid terugkyk ... én geniet ’n paar foto’s van 2007!
Ons hartlike gelukwense aan soveel mense wat oor die afgelope jaar tot die groei en geseënde Communitas-bediening bygedra het! Ons vier die genade saam!
Communitassers
Voor: Anriëtte deRidder, José Layman, Amanda van Niekerk, Sonia van Rooyen, Ankia du Plooÿ,  Divine Robertson, Sharon Naudé
Agter: Wilma le Roux, Adrienne Bester, Pierre Goosen, Peter Adams, Gielie Loubser, Mathilda du Pisanie
Communitas is a Latin noun commonly referring either to an unstructured community in which people are equal, or to the very spirit of community.
2. NG Kerk Droogtehulpfonds
Die NG Kerk het reeds in Januarie 2016 ’n nasionale droogtehulp-projek geloods. As jy tans op www.ngdroogtehulp.co.za klik, sal jy sien dat dit onder konstruksie is. Die rede is dat hierdie fonds met hernude ywer en baie meer spesifieke fokus bemark sal word. Daar word tans gekonsulteer waar en hoe die kerk droogtehulp moet bied. Die webwerf sal weer in die laaste week van September aktief wees met resente inligting. 
Intussen is donasies welkom en sal dit soos gebruiklik met die grootste verantwoordelikheid en deursigtigheid aangewend word om nood te help verlig. Kry volledige bankbesonderhede hier. Navrae oor droogtehulp kan gerig word aan Nioma Venter (PSD: Diaconia) by nioma@kaapkerk.co.za.
NG Kerk Droogtehulpfonds
3. Karoo-gemeentes kry besoek van PSD's
Vier predikante in sinodale diens (PSD's) besoek tans gemeentes in die Karoo-omgewing; hulle is Gielie Loubser (Gemeentebegeleiding), Theunis Botha (Predikantebegeleiding), Anriëtte de Ridder (Jeug- en Familiebegeleiding) en Nioma Venter (Diaconia).
Hulle is op Dinsdag 12 September hartlik ontvang in onderskeidelik Touwsrivier, Laingsburg en Merweville se gemeentes. Woensdagoggend het hulle die drie NG gemeentes op Beaufort-Wes besoek, met Richmond en Prins Albert Donderdag op die program. Lees gerus hier verder ...
Karoo-besoek
Agter: Dries Potgieter, Japie van Straaten (predikant Beaufort-Wes), Jan Stadler, Magda Hoon, Theunis Botha (PSD), Gielie Loubser (PSD)
Middel: Anriëtte de Ridder (PSD), Jean le Roux, Nioma Venter (PSD), Riani Spies, Roché van Romberg, Natie Lourens, Fanie Bailey, Frikkie de Jager, Emmie Cronjé
Voor: Susan Kriel, René Potgieter (predikant Gamkavallei), Albertus v Zyl (predikant Gamka-Oos)
Dewyk en Quintus
Gelukwense aan Dewyk Ungerer (links), nuutverkose aktuarius van die Algemene Sinode, hier saam met Quintus Heine
4. Algemene Sinode Moderamen
4.1 Sake op die tafel
Tydens die afgelope week se ASM (Algemene Sinode Moderamen), by eMseni buite Benoni, is onder meer deeglik gepraat oor die NG Kerk en die ekumene – een van die hooftake van die Algemene Sinode. Wonderlike stories oor hoe die ekumeniese wêreld vir die NG Kerk oopgaan en goeie verhoudings gebou word, is gedeel.
Ander sake op die tafel was die NG Kerk se rol in die verkleining van die gaping tussen ryk en arm in SA (sien 4.2 onder), prosesbesluite met die oog op kerkeenheid en voorstelle oor die toekomstige samestelling en funksionering van die Algemene Sinode. Lg is na die onderskeie sinodes verwys vir gesprekvoering. (Meer foto's is hier.)
Gedagtes
4.2 Gaping tussen ryk en arm
“Hoe kan gemeentes help om die groot gaping tussen ryk en arm kleiner te maak?” was die vraag as opdrag van die ASM aan die PSD: Teologiese Navorsing (Pieter van der Walt). Die doel is om aanbevelings aan die volgende Algemene Sinode te maak vir ’n beleidsraamwerk vir getuienis oor ekonomiese aangeleenthede.
Ekonome, predikante en gemeentes het reeds aan drie rondtes navorsing deelgeneem, vertel Pieter. Materiaal sal nou ontwikkel word om lidmate toe te rus om op hierdie terrein ’n verskil te maak. Die fokus sal veral op onderwys en VKO (vroeëkindontwikkeling) wees. Sien ’n grafiese opsomming van die proses hier.
Fokusverskuiwing in gemeentes
Gaping tussen ryk en arm - fokusverskuiwing in gemeentes
Uitnodiging
Emeriti-tee 1 November 2017
Bevestig by skriba@kaapkerk.co.za of 021 957 7155
Getuienisaksie-logo
6. NG Kerk-familie: groete aan susterskerk in Malawi
Op Woensdag 30 Augustus was Kobus Odendaal, bestuurder van die Diensgroep Getuienisaksie, teenwoordig by die sinodesitting van ons susterskerk in Malawi, die CCAP, Nkhoma Sinode. Dit is aangebied op die pragtige kampus van die Bunda College of Agriculture waar daar ongeveer 600 afgevaardigdes was. Kobus het groeteboodskappe namens die VGK Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland oorgedra, terwyl ds Banda, die assistentskriba, vir hom getolk het.
Dit was ’n riem onder die hart om die verwelkoming van jarelange ekumeniese vrienskap so hartlik te kon ervaar. Onder is 'n foto tydens die sitting geneem.
Sinodesitting
Andre en Anna-Marie Thiart
7. Noordoos-Mosambiek
Sterk leierskap maak harte oop

Sterk leierskap en ’n gees van versoening het veroorsaak dat die uitdagende evangelisasiewerk van André en Anna-Marie Thiart (foto) in Noordoos-Mosambiek die afgelope twee jaar ‘n skielike ommeswaai begin beleef het. Dit was te danke aan Tumbine Sinode se moderator, ds Herbath.
Lees hier meer van die Thiarts se bediening. Dankie hiervoor, Getuienisaksie!
Logo
ALGEMEEN
1. 
LET WEL: Reformasiekonferensie!
Die konferensie Crying for Life: Reformation today, wat van 11 – 13 Oktober 2017 by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch aangebied word, se sluitingsdatum vir registrasie word verleng tot Maandag 25 September 2017. Daar was heelwat veranderinge op die program en die nuutste weergawe word aangeheg. Die finale program sal aan alle geregistreerde persone versprei word.
Andries Cilliers
2. Wat beteken Reformasie vir die kerk vandag?
Andries Cilliers (NG Gemeente Sonstraal) het tydens die Ring van Durbanville se ringsitting op 4 September as gasspreker nagedink oor “die betekenis van die Reformasie vir die kerk vandag”. Sy bydrae word vanuit ’n interessante perspektief geskryf en verdien om wyer gelees en oordink te word. Klik hier. 
3. Reformasielied met Stefaans Burden en Flam!
“Vreugdevol bely ons: Sola Scriptura, Sola Fide, Sola Gratia, ons is vry! Sola Christo, aan U alle eer, Soli Deo Gloria, U is in beheer.”
Flam se lied F580 is geskryf en gesing deur Stefaans Burden (NG Worcester-Vallei) met die oog op die viering van Reformasie 500. Die bladmusiek is op www.flam.co.za beskikbaar. Luister gerus na die pragtige lied in die video onder.
 
Reformasielied
4. Reformasie: Evangelie as wáre skat van die kerk!
“Die evangelie is die evangelie van genade ... dit is 'n genade wat nie gekoop kan word nie, wat slegs ontvang kan word.  Die evangelie is die wáre skat van die kerk."
As jy wonder hoe jy oor Luther se beroemde 95 stellings moet dink, kan jy oorweeg om hier te lees wat Nadia Marais, dosent in sistematiese teologie aan die US Fakulteit Teologie, skryf. (Met dank aan e-Kerkbode.)
Lesing met Pearl Means
Lesing met Pearl Means op 21 September. Klik vir meer inligting.
Jeugforum
6. SARK Jeugforum
Tydens die South African Council of Churches (SACC) se Youth Forum (Suid-Afrikaanse Raad van Kerke [SARK] se Jeugforum) op 8 en 9 Sep het sowat tien kerke bymekaar gekom om saam te dink en gesels oor verskeie sake wat die jeug van Suid-Afrika raak. Beide jeug in leierskapposisies tussen die ouderdom van 15 tot 25 en kerkleiers wat daardie ouderdomsgroep bedien, is uitgenooi om deel te neem aan die forum.
Bianca Botha, regs voor op die foto, (NG Groote Kerk) en Annelet Slazus (NG Wellington-Oos) het die NG Kerk daar verteenwoordig. Lees hier.
Logo
7. UKZN: Masters in Religion/Theology
- with focus on gender, health
The School of Religion, Philosophy, and Classics at the University of Kwa-Zulu Natal, in cooperation with the Church of Sweden, is offering a unique opportunity for interested students to complete a Masters in Religion or Theology with a focus on gender and health. Please find all the relevant information attached and note the closing date for applications: 20 October 2017.
Malusi Mpumlwana
8. Raakgelees
SARK: nasionale konvensie oor waardes, standaarde kom
Die algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), biskop Malusi Mpumlwana, het onlangs nuus gedeel oor ’n konvensie oor die waardes waarop die SA-samelewing moet berus. Drie breë temas sal die fokus dra, nl versoening en heling, ekonomiese transformasie en die versterking van demokrasie. e-Kerkbode se berig hieroor is hier beskikbaar.
Doopkerse
Bid asb
Woordwolkie
 11. Kommunikasie: neem kennis
’n Vriendelike herinnering: die laaste uitgawe van hierdie kwartaal se VrydagNuus verskyn op 29 Sep, die dag wat die skole sluit.
Ter wille van beplanning, noem ons ook dat die laaste week van September 'n kort week is (dis vakansie op Maandag 25 September.)
Die eerste uitgawe van die vierde kwartaal verskyn in die week van 13 Okt. Ons help in die vakansieweek steeds waar moontlik deur ons webwerf en sosiale media met ander dringende  kommunikasie. 
UIT ONS RINGE
1.1  Seën vir ringsittings 2017  
Ons vra voorbidding vir die rol van die ringe, sowel as vir die nodige leierskap met gemeentes se uiteenlopende omstandighede en behoeftes, wat soms besondere eise aan die ringsvoorsitters en ringskribas stel.
1.2 Verenigde Ring van Caledon op Hermanus byeen
Foto’s van hierdie ringsitting (10 en 11 September) is op die sinode se Facebook beskikbaar. Op Sondag 10 September het Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebegeleiding) ’n gesprek oor die bediening aan 20- tot 35-jariges gelei, terwyl Pieter van der Walt (PSD: Teologiese Navorsing) Maandag gesels het oor die navorsing oor krimpende gemeentes.
Hierdie ring het ook 'n ringslied wat in 2005 verwerk is deur André Kotzé om uitdrukking te gee aan die gesamentlike, verenigende pad wat gestap word.
Caledon Ring
Bo: Gemeentelede uit die gasheerstreek
(Hermanus, Hawston en Onrusrivier)
Middel: Lofdansers uit Hawston en Onrus 

Onder: Anriëtte de Ridder, Jonathan Jonker (Hermanus),
Trevor Haynes (Suidpunt)
Pierre du Plessis
1.3 Ring van Kaap die Goeie Hoop 
"Die Ring van Kaap die Goeie Hoop het op 12 September by Tamboerskloof bymekaargekom vir ons jaarlikse ringsitting. Pierre du Plessis van Be Brave Consulting het ons toegespreek en gelei in ’n kort werkswinkel. Hy is ’n tendens-analis ('trend-analyst') wat ons gehelp het om bewus te word van die tendense in ons omgewing en goeie riglyne gegee het oor hoe om ons verskillende kontekste beter 'raak te sien' en te verstaan om sodoende ons bedieninge op gepaste wyse aan te pas." - Marietjie Steyn (NG Bloubergstrand)
Foto's van die ringsitting is hier op die sinode se Facebook.
1.4 Ring van Mosselbaai: Reformasie 500
Die Ring van Mosselbaai was op 12 September by Reebok byeen saam met gaste van die VGKSA en die Volkskerk. As gespreksleiers het Marnus en Angelique Havenga die ring help saamdink oor Reformasie 500. Willem Smit, ringsvoorsitter, getuig dat hulle aangeraak was deur die ontdekking hoe God besig is om sy kerk wêreldwyd byeen te bring. Onder is twee foto's wat tydens die sitting geneem is.
Ringslede
Vlnr Willem Smit (NG Hartenbos), Garret Moller (Volkskerk van Afrika), Charlton Crowley (VGK Mosselbaai), André Kritzinger (NG Mosselbaai-Suid), Angelique Havenga, Marnus Havenga, Bennie Roelofse (VGK Grootbrakrivier)
Gaste
Ring van Mosselbaai met gaste van die VGKSA en Volkskerk in Afrika
1.5 Ring van Riversdal: vreugdes en uitdagings vir platteland
Die Ring van Riversdal bestaan uit Albertinia, Heidelberg, Ladismith, Riversdal, Riversdal-Wes, Stilbaai en Vanwyksdorp. Ringskriba Deon Beyers (Riversdal-Wes) vertel dat hulle op Do 21 September as gaste van Albertinia by Skilpadgat Guest Farm vergader. Twee PSD’s, Gielie Loubser (Gemeentebegeleiding) en Theunis Botha (Predikantebegeleiding), besoek die ring, veral met die oog op ringsbesoeke die afgelope jaar by van die ringsgemeentes. 
Ons seënwense as julle nadink oor die vreugdes en uitdagings vir kleiner plattelandse gemeentes, kollegas!
Deon, Marius, Gielie en Theunis
Refo 500
GEMEENTENUUS
1. 
NG Stellenbosch-Welgelegen: 
Hervorminingsdaggetuienis
Van NG Stellenbosch-Welgelegen ontvang ons nuus oor die Hervormingsdaggetuienis wat hulle onlangs uitgereik het. Die herdenking van die Hervormingsbewegings is "vir ons as gemeente van Stellenbosch-Welgelegen 'n geleentheid om in 'n gees van dankbaarheid en verootmoediging ons Protestantse en gereformeerde nalatenskap te vier. Die fokus op die regverdiging deur die geloof uit genade alleen behoort tot die hart van dié erfenis." Lees gerus hier meer.
Intussen berig e-Kerkbode ook oor dié gemeente wat nou amptelik “doleer” (treur). Die berig is hier.
Lofsentrum
NG Gemeente Gordonsbaai: Lofsentrum inwyding
Dansend met die Lewe
3. NG Gemeente Hermanus: Dagseminaar oor “ryper jare”
Van NG Hermanus ontvang ons inligting oor 'n VBO-geakkrediteerde kursus oor "die ryper jare". Dit word op Sa 16 September deur dr Kobus Anthonissen, skrywer van Dansend met die Lewe aangebied.
Skryf VANDAG nog by die kerkkantoor in. Lees enkele resensies (onder meer deur prof Elna Mouton) en kry meer inligting: klik hier.
Logo
4. NG Bloubergstrand:
Seën en menswaardigheid met 'n handsak!
Die Bless my Bag-projek is een waarmee die NG Gemeente Bloubergstrand probeer om aan vroue menswaardigheid terug te gee. Dit is begin deur Thamar Jacobs, 'n maatskaplike werker verbonde aan die gemeente. Vrouens word genooi om hul handsakke wat nie meer gebruik word nie (maar steeds netjies en bruikbaar is) af te gee by die kerkkantoor. In elke handsak word vyf handige items geplaas voor Bless my Bag dit verder uitdeel. Vir meer inligting, besoek gerus hulle Facebook-blad en webwerf.
In die video onder vertel Thamar aan Rouchelle Liedemann meer oor die projek.
Onderhoud met Thamar Jacobs
Twitter Facebook
Kallie le Roux
PREDIKANTENUUS
1. Kallie nou ’n Londense “darling”!

Kallie le Roux (voorheen van NG Darling) is sowaar onlangs “ingevoer” Engeland toe om die predikante daar ’n welkome ruskans te gee! 
Toe Kallie by sy oorsese kinders gaan kuier, het sy seun, Driaan, dit as ’n lekker geleentheid gesien vir die plaaslike predikante om ’n welverdiende afnaweek of twee te geniet. Kallie, met sy energieke geaardheid, het die kans aangegryp! (Hy is net dankbaar dat hy die dienste in Afrikaans kon lei!) As jy dalk binnekort in Londen ’n draai maak: Kallie sal op 24 September in die Londen-gemeente ook die erediens lei. Beste wense!

2. Beskikbaar vir aflos

Kallie laat weet dat hy van Januarie tot Maart 2018 beskikbaar is vir afloswerk in ’n gemeente. Hy kan gekontak word by kallieleroux@yahoo.com. (Ons raai hierdie afloswerk is darem net binne ons landsgrense, maar met Kallie weet jy nooit!)
Kallie in Birminghamgemeente
Kallie le Roux preek in Birmingham-gemeente, Londen
Plantjie
EKOLOGIE
Dit is nou tyd vir hoopvol kreatief wees
Die waterkrisis in die Wes-Kaap kan ‘n mens laat boedel oorgee óf dit kan mens kreatief laat dink.  Is dit nog moontlik om tuin te maak met die streng waterbeperkings wat die Wes-Kapenaars het?  Daar is ten minste een gesin op Stellenbosch wie se kreatiewe planne hoop gee:  lees hier.
87 Liter water per dag wel haalbaar
Klik op grafika vir berig - met dank aan Die Burger
BEHOU DIE HUMOR
Humor
NUUSBRIEWE
Missie Japan Nuusflits
Stéphan van der Watt spreek in sy jongste nuusflits sy dankbaarheid uit oor 'n geseënde besoek aan Suid-Afrika sover, en deel 'n kortfilm van 14 minute wat die hele storie vertel van hulle lewe en werk in Kobe (onder).
Missie Japan
PUBLIKASIES
CLF: Dankbaarheid as geloofsgewoonte 
In die jongste pamflet van Christelike Lektuurfonds, word die feit dat God vir ons baie goed is, opnuut beklemtoon. Die "Wat die hart van vol is, loop die mond van oor"-gesegde leer ons dat, wanneer ons fokus op die negatiewe, ons hart daarvan vol raak. Met 'n praktiese oefening leer die pamflet ons hoe om 'n daaglikse dankbaarheidsgebaar te maak en so opnuut te besef ... daar is soveel om voor dankbaar te wees.
Die pamflet bevat praktiese idees/aktiwiteite oor dank-baarheid wat individue, gesinne of kleingroepe saam kan doen.

Vir verder navrae en bestellings, stuur 'n e-pos na order@clf.co.za of skakel 021 873 6964.

KUIERKANS
Kuierkans
Kerkbode-logo
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 22 September 2017.
Kerkgebou
1. NG Gemeente Ottery: Tentmaker leraar
Ottery-gemeente is 'n klein gemeente van 100 lidmate. Die gemeente is geleë in die suidelike voorstede van Kaapstad en die gemiddelde ouderdom van die lidmate is 60. Hier is ’n vakature vir ’n tentmaker leraar.
Kry meer inligting en reageer voor 31 Oktober 2017. 
Jan Kriel Instituut
2. Jan Kriel Instituut:
Assistent Direkteur

Die Jan Kriel Kommissie nooi gelegiti-meerde predikante van die NG Kerk-familie om aansoek te doen vir die vakature as assistent direkteur. Die Jan Kriel Instituut is ‘n program van Badisa wat die ontwikkeling van kinders met epilepsie en ander spesiale onderwysbehoeftes binne die konteks van Jan Krielskool in Kuilsrivier, ten taak het. Sluitingsdatum vir aansoeke: 31 Oktober - klik hier.
Logo
3. Badisa vakatures:
3.1 Maatskaplike hulpwerker: Villiersdorp
Aansoeke word ingewag van gemotiveerde persone vir die pos as maatskaplike hulpwerker. Lees hier verder oor die voordele, sowel as die vereistes waaraan die geskikte kandidaat moet voldoen. Diensaanvaarding: so gou moontlik. Aansoeke sluit op 20 September.

3.2 Badisa Koue Bokkeveld (Op-die-Berg): Maatskaplike werker
Die beheerraad van Badisa Maatskaplike Dienste,  Koue Bokkeveld (Op-die-Berg-Witzenberg) wag aansoeke in vir ’n 8/8ste maatskaplike werker. Diensaanvaarding is op 1 November en meer inligting is aangeheg. Reageer voor 22 September.  

3.3 Badisa Huis van Heerde: Kinder- en Jeugsorgwerker
Huis van Heerde, ’n Badisa Kinder- en Jeugsorgsentrum in Moorreesburg, het ’n vakante pos vir ’n ervare, inwonende kinder- en jeugsorgwerker. Lees hier verder en reageer teen 28 September.
Nico van der Westhuizen met sy geliefde motorfiets
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Nico van der Westhuizen
Ons beleef in die Hantam en Boesmanland die ergste droogtes in 'n lang tyd. Mense is bekommerd en moedeloosheid steek kop uit. Hoe gaan ons hierdeur kom?
In dié omstandighede troos Ps 40. Met ons hele hart glo ons dat die Here van ons hunkering na Hom en 'n uitkoms weet, en dat Hy na ons toe afbuig, omdat Hy ons geroep hoor. Die troos is, Hy sal iets doen. Dit skep nuwe moed en lewe. Dalk is die uitkoms anders as wat ons verwag, maar dit is seker. Ons weet aan wie ons behoort. Ons sal weer ‘n lied sing en as ons wil vertel wat die Here in dié tyd doen, sal woorde te min wees.
Ons bly hoop ... die uitkoms is elke dag, een dag nader. Die Here hou ons in sy hand. Dit is ons troos.
 

                                                                             ***                                                              

Nico van der Westhuizen is 32 jaar in die bediening. Sy vorige gemeentes was Warrenton en Delareyville-Oos en hy is van 2012 op Loeriesfontein. Hy is 'n motorfiets entoesias en ry die agterpaaie - en sy vrou, Riana, ry saam. Sy droom: om na aftrede van die Kaap tot in Kaïro te ry! (En omdat hy sy motorfiets "oneindig liefhet", moet dit saam met hom op die foto wees, het hy laat weet!)
Kontak Nico by njgvdw@lantic.net.

The God of love my shepherd is
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.