Lees deur internet, klik hier >>
25 Junie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Social Justice Walk on Youth Day
The inaugural Dwarsrivier Social Justice Walk was presented on Youth Day by Visit Stellenbosch and Dwarsrivier Tourism in conjunction with Pilgrimage of Hope. Set against the backdrop of South Africa's turbulent history, it aspires to embrace social justice. While acknowledging past injustices, it also served as a commitment to create an environment in which all the communities of Stellenbosch can enjoy the immense benefit of their tourism potential. The 16 km route of “hope and healing” started from the Rhynse Sendingkerk in the historical center of Stellenbosch to the beautiful Dwarsrivier Valley, an outlying area of Stellenbosch and home to communities of former freed slaves. Participants traversed the Helshoogte Pass, passed through Kylemore to finish at Pniël. Professor Thuli Madonsela delivered the inspirational keynote address. Click below to watch the video.
Visit www.pelgrimstogvanhoop.com for more information. Read the press release issued by Visit Stellenbosch here.
Nuusflits oor POPIA
Die volgende skrywe is van die Algemene Sinode ontvang: "Landswyd gons dit die afgelope paar weke oor die implementering van POPIA-wetgewing in kerkkantore. Inligtingsbeamptes is aangestel, ’n aanvang is geneem in die saamstel van POPIA-handleidings en almal probeer meer verstaan waaroor POPIA gaan. Die afgelope week het baie kerkkantoorpersoneel met groot moeite probeer om te registreer as inligtingsbeamptes in terme van die POPIA-wetgewing. Die groot druk op die registrasiestelsel het egter veroorsaak dat die registrasies nie kon plaasvind nie en dit het tot groot frustrasie by gebruikers gelei. Die Inligtingsreguleerder het so pas aangekondig dat daar nie nou registreer hoef te word nie, maar dat nuwe datums later gekommunikeer sal word. Dit haal gelukkig nou baie druk af van die stelsel.
Kerkkantore moet egter asseblief daarop let dat die Wet wel op 1 Julie 2021 in werking tree en daar moet so spoedig moontlik aan die agt vereistes wat die wet stel, voldoen word. Kerkkantore moet toesien dat die volgende so spoedig moontlik gedoen word:
  • Die voltooiing van u POPIA-handleiding
  • Bewusmaking van POPIA onder u personeel en kerkraad (VBO-kursus en Winkerk-kursusse is beskikbaar)
  • Aanpassing van u nuwe intrekkervorm
  • Bevestiging deur bestaande lidmate dat hul data gebruik mag word
  • Indien u ’n webblad het, moet die nodige skakels na u handleiding en proses om navraag te doen daarop aangebring word
Elke gemeente het prosesse in plek om lidmaatinligting op te dateer en te beveilig en lidmate word ook vriendelik versoek om so spoedig moontlik te reageer op versoeke van hul kerkkantore."
Isibindi help jongmense in nood
Wat maak jy as jy vanaf ’n beskermende omgewing soos ’n Echo-huis as volwassene moet aanbeweeg, maar jy sukkel om jou maandelikse huur te betaal? Of dalk is jy ’n hoërskoolleerling wat nie die mees indeale omstandighede het om na skool jou huiswerk te gaan doen of ’n gebalanseerde maaltyd te kry nie.
Isibindi Initiatives wat in vennootskap met Echo Youth hier in die Wes-Kaap werk, bied ‘n tuiste vir jongmense in nood en is tans besig om drie van vier skeepsvraghouers in woonbare eenhede te omskep. Lees meer oor hierdie opwindende projek hier
Red 'n Plaas op Dankie Lottoland
Die Red 'n Plaas-span nooi jou uit om ‘n rukkie saam met hulle deur die Boesmanland te stap soos gesien deur die lens van Dankie Lottoland! Die episode word hierdie Saterdagaand om 18:00 op KykNet uitgesaai en die program is opgewonde om hul eerste seisoen met hierdie droogtehulpveldtog af te sluit. 
“In die seisoenfinaal van 26 Junie trek die radio-omroeper Amore Bekker haar loopskoene aan en pak die Boesmanland Camino, 'n 313,9 km lange grondpadstap gedurende vyftien dae om die droogte in die streek en die Red 'n Plaas-veldtog bewus te maak, wat Lottoland ter waarde van R300 000 ondersteun.”
Die doel van Dankie Lottoland is om hulpbehoewende individue en liefdadigheidsorganisasies te identifiseer, sodat Lottoland Suid-Afrika kan ingryp, moue oprol en hul ondersteun en bystaan. 
Klik hier om ‘n voorskou van die episode te kyk.   
Ithemba
Dit is met groot opgewondenheid dat die Sentrum vir Publieke Getuienis aankondig dat die tweede uitgawe van hul eie nuusbrief, Ithemba (die Xhosa woord vir hoop), eersdaags beskikbaar sal wees. Hierdie nuusbrief, propvol stories van hoop en verslaggewing oor aktuele kwessies soos haweloosheid en bendegeweld, word kwartaalliks uitgereik.
"Ons weet dat Suid-Afrikaners wat saamstaan 'n verskil kan maak en ons hoop om samewerking en 'n gevoel van gemeenskap met hierdie nuusbrief te bewerkstellig," vertel Braam Hanekom.  
Klik hier om vir die nuusbrief in te teken. 
Innovation bou voort op 140 jaar
Innovation for the Blind, ’n organisasie sonder winsbejag wat sedert 1881 in die allesomvattende behoeftes van visueelgestremde persone asook persone met addisionele gestremdhede voorsien om ’n meetbare verbetering in hul lewenskwaliteit te maak, vier vanjaar sy 140ste bestaansjaar.
“Wat ’n groot voorreg om hierdie mylpaal saam met ons visueel- en gehoorgestremde ‘familie’ te kan vier,” sê Stephné Botha, uitvoerende hoof van Innovation for the Blind. “By Innovation for the Blind bied ons dienste aan meer as 350 persone met visuele gestremdhede asook persone met addisionele gestremdhede, waaronder 50 doofblindes. Hierdie dienste sluit in residensiële sorg, mediese en terapeutiese dienste, vaardigheidsontwikkeling, beskutte arbeid asook ander ondersteuningsdienste soos oriëntasie en mobiliteit. 
Lees hier meer oor die organisasie en die vlagskipprojek wat eersdaags geloods word.
Hugenote Kollege  
Fanie Herholdt van Hugenote Kollege ontgin nog 'n paar interessanthede rondom hierdie kollege in Wellington se ryk geskiedenis:
  • Weet jy hoekom die pragtige ou geboue op die Wellington Kampus sulke Engelse name dra soos Ferguson, Cummings, Bliss, Goodnow, Mary Lyon en Mt Holyoke?
  • Al ooit gewonder wie is Erwin Schwella en wat hy doen by Hugenote Kollege?
Klik gerus hier vir die antwoorde.
GEMEENTENUUS
Winterhoop-projek in Stellenbosch
Die gemeente van Stellenbosch-Wes skryf op hulle Facebook-blad dat hulle in hierdie maand ’n bakkievrag vol beddegoed, handdoeke en klere vir volwassenes en kinders kon afgee vir Jeuguitreik in Stellenbosch! Hulle het ook in Junie 42 komberse, 10 winterslakens en twee duvets vir die Nagskuiling op die dorp geskenk. 
“So het die vreugde van uitdeel met ons Winterhoop-projek begin. Dis lekker om as gemeente die gemeenskap te kan dien!”
Garies begin nuwe droogtehulpprojek
Die dames van Garies se DaisyDonkey4Drought droogtehulpspan het onlangs 'n nuwe projek van stapel gestuur om etenstye makliker te maak vir ouer persone. Hulle oogmerk met hierdie projek is om ‘n inkomste te genereer om voer aan te koop vir die boere asook om hul gemeenskap deur werkskepping te ondersteun.
Die spesiale borslappe is deur die span ontwerp en word gemaak vir persone wat sukkel om kos vanaf hul bord tot by hul mond te bring, sonder om te mors. Hierdie borslap trek soos ‘n t-hemp oor die kop aan en kan vinnig in die was gegooi word indien daarop gemors word. Dit keer ook vlekke op klere. 
Belangstellendes wat borslappe wil koop om te skenk aan ouetehuise, vriende of familie  kan vir Drienie Visser kontak by 027 652 8708, ‘n WhatsApp na 083 825 2060 of e-pos aan daisydonkey4drought01@gmail.com stuur.
Digitale generasie kies kerk in persoon
Lionel Hutton, jeugleraar van Stellenbosch Moedergemeente, skryf in 'n onlangse gemeentebrief dat hulle aanlyn-eredienste baie entoesiasties deur hulle tieners ontvang is, maar dat dieselfde aanlynkykers hulle teruggehaas het toe eredienste heropen is. 
"Ons almal leef met die vrees dat sosiale media die wêreld al hoe meer onpersoonlik gaan maak, dat jongmense nie meer gaan weet hoe om vir lang periodes te konsentreer of om ingeligte en betekenisvolle gesprekke te hê nie. In die lig van die tieners se beweging terug kerk toe, sou ons nie dalk kon sê dat daar ’n terugkeer na gemeenskap, saamwees en dieper intellektualiteit in ons verhouding met Christus is nie? Waarom kies ’n digitale generasie kerk in persoon? Dalk is dit omdat die waarde van ’n geloofsgemeenskap geensins verlore by tieners is nie. Of is dit dalk omdat hulle eerder ’n generasie is wat geken kan word aan hul verlange na saamwees?"
Lees gerus Lionel se volledige artikel met insette van talle tieners hier.
Toringkerk kuns
Toringkerk skryf op hulle Facebook-blad dat leerlinge van Paarl Gimnasium in 1987 die Toringkerk kerkgebou geteken het as deel van 'n kunsprojek vir Paarl se 300ste bestaansjaar. 
Blykbaar kon die beoordelaars nie op een wenner besluit nie en beide prente (foto's onder) is toe aangekondig as wenners. Jy kan nou afdrukke van hierdie prente koop en in jou huis ook hang teen R500 (geblok) of R200 (gewone afdruk). Daar is beperkte hoeveelhede.
Kontak gerus die kerkkantoor (021 872 6730) om jou stukkie Toringkerk te bestel!
PREDIKANTENUUS
Kleinmond groet Steven Sass
Steven Sass ontvang op Sondag 27 Junie demissie na sy afskeidsboodskap. Hy was byna ses jaar leraar by die NG Kerk Kleinmond en was ook voorheen werksaam by die NG Kerk Elliot en NG Kerk Gamtoosvallei-Oos.  Die gemeente skryf dat Steven veral gemis sal word vir sy humor en wonderlike menseverhoudinge. Ons bid hom en Marina en die kinders groot vrug op hul werk in Skotland toe.
Piketberg verwelkom Pretorius-familie
Piketberg-gemeente het op 13 Junie vir Driaan Pretorius as deeltydse diensleraar verwelkom. Martin Goosen het die bevestiging waargeneem.
Driaan is oorspronklik van Namibië, waarna hulle na Modderfontein en later Richardsbaai verhuis het. Hy het as hawesendeling by Biblia Richardsbaai gewerk voordat hy jeugwerk by UNISA studeer het.
Nadat hy sy BDiac graad verwerf het, het hy onderwys gegee en twee jaar gelede as jeugwerker by Piketberg begin.
Ons seënwense aan vir Driaan, sy vrou Annaleen en dogter Anandri.
Ek vier nie Vadersdag nie...
Karien Muller, leraar by VGK-gemeente Durbanville, wil graag jongmense inspireer, maar tog ook afwesige vaders aanspoor om te belê in hul kinders. Om ruimte te skep vir sulke mense skryf sy die volgende:
"Ek vier nie Vadersdag nie... Want ek het nooit my pa geken nie. Of soos sommige sal sê, hy't seep gaan koop.
Vadersdag was nog nooit vir my 'n spesiale dag nie, wel altans so het ek gedink. 
Ek weet nie hoeveel daar van julle is, soos ek, wat nooit regtig êrig iemand daddy, pappie, pa of dêrra kon noem nie (behalwe nou my oupa, my ooms en ander vaderfigure wat ek "dêrra" genoem het), maar tog was daai verlange om my eie pa te kon hê in my lewe tog daar.
Ek is bly vir diegene van julle wat bevoorreg was om julle pa's te ken, drukkies te ontvang, opgetel te word, op sy skoot te sit en sommer net geliefkoos te word. Maar ek het vandag veral gedink aan diegene soos ek wat nooit hul eie pa geken of ontmoet het en nie weet wie hul pa is nie.
Ek het aan julle gedink wat in die kerkbanke gesit het, wat nie 'n gebed kon ontvang oor 'n pa wat nie meer "daar" is nie. Ek het aan julle gedink wat nie weet wie julle pa is nie. Ek het aan julle gedink wie wat sou gee om jou eie pa te kon ken. Ek het aan julle gedink wie graag sou wou weet hoe jou verhouding met hom sou wees. Ek het aan julle gedink wat soos ek graag net 'n eie pa in die lewe sou wou hê. Ek weet die gedagtes is bietjie morbied en vrek seer om daaraan te dink.
Dankie aan al die predikers wat my en soveel ander herinner het aan 'n Hemelse Vader wat nog altyd daar was, is en sal wees. Hy is die een Vader wat ek ken, wat my styf teen Sy bors vasdruk, wat my optel op Sy skoot en my hartseer heel. Ek en soveel ander het 'n Pa en Hy is altyd daar... Pappa God!"
Lees meer van ds. Karien Muller se verhaal hier
EKOLOGIE
Ons Groenspan soek JOU eko-stories van hoop!
Volgende week begin die jaarlikse veldtog Plastiekvrye Julie/Plastic Free July. Die veldtog wil mense inlig oor die skade wat plastiek aan die omgewing doen en wil ook mense help om ‘n wêreld te verbeel wat nie so afhanklik van plastiek is nie. Ons bid in hierdie tyd dat die Here ons oë sal oopmaak vir ons eie gebruiksgewoontes. Is jy of jou gemeente dalk betrokke by ’n groen aksie of ’n eko-projek? Ons wil graag daarvan hoor!
Ons is op soek na ekologiese stories van hoop binne gemeentes. Ons wil hoor waarby julle betrokke is en hoekom julle dink ekologiese kwessies is belangrik vir die kerk. Ons is gretig om hierdie stories te deel sodat ons mekaar kan aanmoedig (en bemoedig!) om aksie in ons gemeenskappe te neem rondom ekologiese kwessies. As jy graag ‘n storie wil deel of enige navrae het, kontak gerus vir Dewald Hoffmann by ds.dewaldh@gmail.com.
Penguin Town
"Daar is baie films oor pikkewyne... en dan is daar hierdie voëls. Ontmoet die bedreigde Afrika-pikkewyn." So begin die nuwe Netflix dokumentêre reeks Penguin Town wat in Suid-Afrika verfilm is.
Die dokumentêr word opgedeel in agt episodes en vertel die verhaal van die pikkewynkolonie rondom Boulders Beach in Simonstad soos hulle liefde, kos en skuiling soek. Volgens inligting wat deur Netflix bekend gemaak is, het die span 80 neste regoor die gebied gemonitor. “Om so na die pikkewyne te kyk, was soos om na 'n werklikheidsreeks soos Love Island te kyk,” vertel van die vervaardigers laggend.
Hierdie reeks is bekoorlik, maar soos met ander natuurdokumentêre, is daar ook 'n boodskap oor hoe die mens in harmonie saam met die natuur moet leef en hulle bes moet doen om hierdie dier te beskerm om hul voortbestaan te verseker.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Geloofsfamilie van Malawiërs loer in
Ons almal ken die hartverwarmende gevoel as geliefde vriende of familie die moeite doen om jou te kom besoek. So was dit dan ook verlede week toe Kobus Odendaal, bestuurder van Getuienisaksie, deur predikante van ons susterskerk in Malawi, die Church in Africa Presbyterian, besoek is. Eers deur ‘n predikant verbonde aan die Livingstonia Sinode en toe drie predikante van die Nkhoma Sinode. Lees meer van dié vrolike en opwindende besoek hier
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Verpleegkundige poste, De Doorns
Huis Mimosa, Tehuis vir Bejaardes in De Doorns, verlang die dienste van ‘n stafverpleegkundige en assistent verpleegkundige. Die volgende vereistes word vir beide poste gelys: registrasie by SA Raad vir Verpleegkundiges, toepaslike opleiding, kennis van versorging van bejaardes, bereidwilligheid om skofte te werk en goeie menseverhoudings. Aansoeke sluit 15 Julie. Klik hier vir meer inligting. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Sien Missie Japan se nuusbrief met datums van besoeke aan plaaslike gemeentes.
PUBLIKASIES
CLF hulpbronne nou aanlyn beskikbaar
Die Christelike Lektuurfonds laat weet: "Weens die pandemie het die elektroniese media 'n baie groter rol in mense se lewens begin speel. CLF se dinamiese webtuiste het dit vir ons moontlik gemaak om steeds in 'n tegnologiese wêreld relevant te bly en ons materiaal meer toeganklik te maak. CLF se gratis literatuur – ons bekende pamfletbediening – kan nou maklik van die webtuiste afgelaai word.
Daar is ook nuwe toerustingsmateriaal/hulpbronne vir die bediening beskikbaar. Dit fokus op geloofsvorming en dissipelskap, die toerusting van gesinne en geloofsgemeenskappe, die heling van ons gebroke gemeenskappe, gesins- en geslagsgebaseerde geweld en die ekologiese uitdagings. Daar is oordenkings en preekreekse asook aktuele materiaal vir kerkleiers beskikbaar. 
Besoek www.clf.co.za  en klik op Resources/Equip communities en daarna op die kategorie van u keuse.
ALGEMEEN
Geestesgesondheid in die soeklig 
'n Onlangse verslag deur Momentum beklemtoon dat die geestesgesondheid van Suid-Afrikaanse werknemers toenemend onder druk is. Die maatskappy se 2021 Connect Insights dui daarop dat afstandwerk, volgehoue isolasie, kommer oor werksekuriteit en die verlies van geliefdes van die onderliggende oorsake is. Terselfdertyd kan werknemers nie volhou met die "uitnemendheid onder krisis"-filosofie waarmee baie maatskappye 2020 hanteer het nie. Die versekeraar het gevind dat 32% van werknemers sedert Junie 2020 die risiko loop om stresverwante gesondheidsprobleme te ondervind.
Die internasionaal erkende lewensafrigter dr. Alex Granger noem dat die druk waaronder organisasies en hulle werknemers sedert die grendeltyd was om te presteer en te oorleef, nie op die langtermyn volhoubaar is nie. Hy reken inderdaad dat hierdie fase reeds te lank geduur het en dat mense van veerkragtigheid na getraumatiseerd oorgaan.
'n Studie deur die Universiteit van Stanford oor Zoom-uitputting het Granger se mening ondersteun. Lees gerus hier meer.
Raakgelees: Crocs het nou hoë hakke
Crocs met 'n stiletto-hak - ‘n skoen wat niemand in hulle wildste drome sou dink bestaan nie, is volgende jaar beskikbaar in ‘n verskeidenheid van kleure (swart, grys, pienk en heldergroen). Dié skoen is ontwerp om soos ‘n tipiese Croc te lyk, gemaak uit rubber, vol gate en met ‘n band agter, maar met ‘n hoë hak by.
Hierdie skoen is bekendgestel in modehuis Balenciaga se lente 2022-versameling en kos ongeveer $1000 per paar! Dit is gelykstaande aan amper R14 000.
As jy 'n paar wil koop, sal jy moet wag totdat hulle in 2022 op die rakke is. 
KUIERKANSE
Bestel nou vetkoeke by Oostersee-gemeente by Tandi 073 679 8770 of bel die kerkkantoor op 021 939 3830.
TEN LAASTE
Ons het hierdie week gehoor van talle kollegas, gemeentelede en gemeenskappe, wat erg deur die derde vlaag COVID-infeksies getref is. Ons bid vir krag, moed, beterskap en vertroosting vir diegene wie hierdeur geraak word.
Ons dra Elvis Blue se weergawe van O Heer my God aan julle almal op.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.