Lees deur internet, klik hier >>
15 Mei 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Gemeentes inspireer
In die meegaande videogreep vertel Nelis Janse van Rensburg dat gemeentes se reaksie op die COVID-19-pandemie ‘n inspirasie is. "Gemeentes benut die talle digitale opsies om die evangelie te verkondig. Maar dit is veral die diensbaarheid, vorming van netwerke, gemeenskapsgerigtheid en onselfsugtigheid van gemeentes wat ‘n mens diep raak."
Wat wys Badisa navorsing?
Blitsnavorsing is gedoen met veertien Badisa bestuurders wat ’n toesigfunksie verrig oor 250 maatskaplike werkers, hulpwerkers en gemeenskapsontwikkelaars van 79 programme wat tydens die grendeltyd essensiële dienste lewer.  Dit is opvallend hoe ooreenstemmend die belewenis, uitdagings, vrese én vreugdes van hierdie kollegas van die kerk is met die van ons eie kerkleiers. Is leraars en maatskaplike werkers nie beide gewoond aan naby verhoudings met mense oor diep emosies, trauma en die bou van vertroue en veilige ruimtes nie? Voel beide beroepe nie uitgedaag en hande vasgebind in hierdie moeilike werklikheid van afstand nie?
Werkers by familie- en gesinsorgprogramme vertel dat aanmeldings geweldig afgeneem het tydens die grendeltyd, maar dat dit eintlik ’n bron van kommer is. Die inperking verhoed waarskynlik mense om hulp te kom soek. Voeg hierby dat telefoniese en virtuele ondersteuning nou lugtyd of data vra en almal dit nie kan bekostig nie!
Talle maatskaplike kantore word deur die staat aangewend om assesserings t.o.v. voedselnood te doen. Die maatskaplike werkers doen dit, maar sê dat hulle nie verder betrokke is om te verseker dat kos wel by geïdentifiseerde persone uitkom nie. Daarom is Badisa kantore dankbaar wanneer daar ’n goeie netwerk met die plaaslike gemeente en ander rolspelers in die gemeenskap kan wees om te verseker dat honger mense kos kry. Net soos by die kerk staan voedselnood tans kop en skouers uit by die behoeftes wat deur ons maatskaplike werkers geïdentifiseer word. 
Die navorsing het net weer bewys dat maatskaplike werkers, met waardering gesê, ’n baie spesiale spesie is! Net soos baie ander, skemer daar kommer deur oor werksekerheid en blootstelling aan die virus, maar die oorwegende gesindheid uit die respondentegroep is ’n bereidwilligheid en begeerte om mense in hierdie tyd te help en te beskerm. Dit geld veral ook vir diegene wat met ons mees kwesbare groepe soos bejaardes en gestremdes werk. Net soos ons gemeenteleiers het hierdie groep kollegas ook ’n behoefte aan geestelike en emosionele ondersteuning. Kom ons reik uit na ons Badisa-familie in hierdie tyd!
Handige hulpbron vir gemeentes
Nico Mostert van NG Kerk Vrystaat skryf: "Hierdie tye van afsondering, humanitêre krisisse en hulpverlening plaas ons almal in ongekarteerde vaarwaters! Hier vanuit die Sinode Vrystaat, in samewerking met Wes-Kaap en Bybel-Media, het ons ‘n praktiese “toolkit” vir gemeentes saamgestel vir gebruik tydens krisistye soos nou met COVID-19.  Ons raak ook al hoe meer daarvan bewus dat hierdie krisismomente nie meer die uitsondering op die reël is nie, maar amper die reël begin word. Dit bring ons as kerk by die vraag: Hoe help ons mekaar om kerk te wees binne ons gemeenskappe (en ook in Suid-Afrika) in krisismomente? Wat staan ons te doen? Hoe help ons plaaslik, maar hoe help ons ook daar waar groter nood en minder hulpbronne is?"
Uit hierdie vrae het die “toolkit” die lig gesien om gemeentes se betrokkenheid by hulle gemeenskappe in krisismomente te help rig. Die idee is nie om al die antwoorde te gee of om al die hulpbronne te lys wat beskikbaar is nie. Ons wil wel gemeenteleiers en lidmate bemagtig met iets in die hand waarmee hulle hul roeping om kerk te wees, in krisistye kan uitleef. 
Gebruik hierdie skakel om die "toolkit" af te laai. Gebruik asseblief die artikels, webwerfskakels en video bydraes en moedig gemeentes aan om dit te gebruik. Lewer gerus julle eie bydraes en deel julle stories onder Aksie.
Predikantwees in die verre Oos-Kaap
Soos ons verlede week berig het, moet ongeveer 50% van ons VGK Streeksinode Kaapland-gemeentes sonder 'n predikant funksioneer; 'n reuse-uitdaging vir enige gemeente. Van die 106 gemeentes in die Oos-Kaap is 76 sonder 'n leraar; meer as 70%!  As dit nie was vir die gemeentes wat gekombineer het nie, was die totaal selfs meer.
Binne hierdie donker prentjie is daar gelukkig 'n goue randjie en is daar die afgelope twee jaar met behulp van Getuienisaksie en die VGK-bedieninge se ondersteuning vier nuwe predikante na die voormalige Transkei beroep. Verlede week het ons meer vertel van ds. Calvary en ds. Mountain en vandeesweek hoor ons van ds. Bloro, wat die gemeentes van Bambisana en Lusikisiki bedien (foto onder). Lees hier hoe hy sy bediening ervaar.
Hoop en Versoening
Wil jy ander help in hierdie tyd van nood? Maak 'n skenking aan die Hoop en Versoeningstrust en hulle sal die nodige kos aan gemeenskappe kan gee.
Bankbesonderhede: Hoop en Versoening Trust | Nedbank: 198765 | Rekeningnommer: 1169975933
Vir meer besonderhede, besoek die webwerf hier
Waarop moet ons nou fokus?
Die Sentrum vir Publieke Getuienis se taakspan het onlangs vergader om die werksaamhede van die sentrum in die lig van radikale veranderinge in ons konteks onder die vergrootglas te plaas. Dit het tot ‘n indiepte bespreking van ons huidige konteks gelei. Die feit dat ons uit verteenwoordigers van die NGK én die VGK bestaan, verruim die gesprek en het ons gehelp om inderdaad met ‘n ruim lens na die wêreld om ons te kyk. Klik hier om die belangrikste opmerkings wat gemaak is in Engels en Afrikaans te lees.
Skenk jou ou selfoon!
Gaan loer 'n bietjie in daardie spesiale kas en snuisterylaai in jou huis of daar nie dalk 'n ongebruikte selfoon wegkruip nie. Badisa se maatskaplike werkers regoor die Wes- en Suid-Kaap benodig dringend selfone om hulle te help om dringende dienste te lewer. Die foon hoef net basiese funksies soos bel, SMS en Whatsapp te kan hanteer. Daar word tans 38 fone benodig om ten minste te verseker dat daar een selfoon per kantoor is. As jy kan help, kontak vir Charl van Rensburg by charlvrensburg@gmail.com of skakel 082 880 2161.
GEMEENTENUUS
Gordonsbaai uitreik maak 'n verskil
Doreen Roberts skryf dat die Gordonsbaai Uitreikspan goed saamwerk met gemeenskapsleiers soos Edwina Hadfield van die belastingbetalersvereniging, Paula Lang van die Lions Klub, Frikkie en sy span van die buurtwag, Ian Campbell van die United Church en Leandra van Fairview gholflandgoed. "Ons het een doel voor oë: om hongerverligting te bied aan mense in ons gemeenskap wat weens die inperking ‘n skielike verlies van inkomste ervaar en nie vir hulself en hul gesinne kan voorsien nie.
Verlede week het ons vir 123 gesinne kospakkies voorsien, 550 gekookte etes in Temperance Town bedien, meer as 360 toebroodjies verskaf en 150 sopmengsel- en sojapakkies aan behoeftige gesinne in Gordon Villas uitgedeel (foto's onder).
Ek wil graag baie dankie sê aan die mense wat Gordonsbaai Uitreik moontlik maak. Ek voel geëerd om deel van hierdie span te wees en word oorweldig deur die welwillendheid, vrygewigheid en ondersteuning wat ons ontvang. Om verligting in ‘n tyd van soveel onsekerheid en swaarkry te kan bied, bring ons as ‘n gemeenskap nader aan mekaar as wat ek ooit gedink het moontlik is. God is aan die werk!"
Kontak ngkgordonsbaai@absamail.co.za om 'n bydrae tot die projek te maak.
Broodposbus in Paarl-Vallei
Paarl-Vallei het 'n innoverende manier geskep waarop gemeentelede 'n bydrae kan lewer tot die Manyano Sentrum se kosprojek. Manyano Sentrum maak twee maal per week 100 liter sop en deel dit saam met brood in behoeftige gemeenskappe uit. Die gemeentelede help deur brood vir hulle in te samel. Die proses is baie maklik: koop ’n ekstra brood of twee wanneer jy winkel toe gaan en laai dit dan by die “broodposbus” op die kerkterrein af! Die predikant Karel van der Westhuizen se twee jong seuns hou die posbus dop en haal gereeld die brood uit.
Manyano versamel ook kospakkies vir gesinne in nood en gemeentelede help ook om produkte en fondse hiervoor in te samel. Tony Litchfield van Manyano skryf: "I try not to focus on numbers, otherwise I lose focus on Jesus. I always bring it back to the one hungry child - the one leaning against the kombi door. What is his story? When was his last meal? Who is he?"
Vishoek maak ‘n verskil
Te midde van die nasionale inperking werk Vishoek se gemeentelede hard om die kinders in hulle gemeenskap se magies vol te hou. Die gemeente, in samewerking met die Ocean View Feeding Scheme (OVFS), voorsien daagliks voedsame etes aan tussen 140 en 180 kinders in Ocean View. 
Die Soppenaars, soos lidmate van Vishoek-gemeente hulself noem, ondersteun hierdie projek deur sop en toebroodjies te maak en kos en geld by te dra. Die Soppenaars bedien ook die projek se werkers elke weeksdag met ontbyt. 
Hierdie projek is van voor die grendeltyd al aan die gang, maar na die inperking aangekondig is, het die nood in die gemeenskap drasties toegeneem. Die gemeente doen ‘n beroep op die publiek om hulle projek te ondersteun. Stuur ‘n e-pos aan Gideon Roos indien jy ‘n bydrae wil maak. 
Helderberg versprei duisende maskers
Die groot tekort aan gesigmaskers het baie innoverende individue regoor die land geïnspireer om hul naaldwerkvaardighede te gebruik vir ‘n goeie doel. Herlderberg-gemeente se masker-stikspan is geen uitsondering nie.
Die gemeente se stikspan het reeds meer as 2900 kleurvolle maskers (sien foto) gemaak en na noodsaaklike dienste en behoeftiges versprei! Die stikspan maak staat op die gemeente vir skenkings van rek en materiaal om die projek aan die gang te hou. 
Graaff-Reinet sorg vir behoeftiges
Die gemeente dra by tot verskeie projekte wat help om kos te voorsien aan hulle gemeenskap. Hulle het onder andere ‘n kospakkieprojek, broodjieprojek en die gemeente ondersteun ook verskeie sopkombuise wat in die dorp funksioneer. Honderde mense kry elke dag iets lekker te ete. Die gemeente maak nie net staat op finansiële bydraes en kosskenkings nie, maar ook op gebed. “Ons vra ook dat elkeen sal saambid dat ons al die mense in werklike nood kan bereik.” 
Naastesorg by Durbanville-Bergsig 
Hierdie gemeente is betrokke by ‘n sopprojek (foto onder) wat die haweloses van die Noordelike voorstede voed tydens die tydperk van afsondering. Verlede week is meer as 450 liter sop geneem na MES ter ondersteuning van hierdie projek. 
Die projek is oop vir enige persoon wat belangstel. As jy graag wil deel wees van hierdie groep, klik hier om 'n e-pos aan die gemeente te stuur. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Badisa - Huis Groeneweide, Darling
Huis Groeneweide in Darling adverteer tans vir 'n geregistreerde verpleegster/stafverpleegster. Die geskikte kandidaat moet by SARV geregistreer wees. Lees verdere posvereistes hier. Aansoeke sluit op 31 Mei. 
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Inkopies sonder plastieksakkies - ons daag jou uit!
Dewald Hoffmann van ons Groen Span probeer inkopies doen sonder plastieksakkies – nie ’n maklike taak nie. Hy wys watter produkte maklik was om sonder plastiek te koop en watter uitdagings was, maar hy gee ook oplossings vir daardie taai toffies. Kyk na hulle weeklikse eko-wenk videogreep onder.
Honde snuffel Koronavirus uit
Navorsers by die Pennsylvania Universiteit in Amerika poog tans om agt honde van die Labrador Retriever ras te leer hoe om hulle sensitiewe reuksintuig te gebruik om mense wat besmet is met COVID-19 te identifiseer. Hierdie opleiding duur drie weke en die proses staan bekend as odor imprinting.
Honde is al suksesvol geleer hoe om ander dodelike siektes soos malaria, diabetes, sekere kankers en Parkinson-siekte met hul reuksintuig uit te ken. Navorsing staaf dus dat virusse unieke reuke afskei wat honde kan optel. 
Indien hierdie projek suksesvol is, sal die honde kan help om groot hoeveelhede mense in publieke ruimtes te filtreer. Prof. James Logan, hoof van Amerika se departement van siektebeheer, is optimisties oor hierdie projek. "Ons vorige werk het getoon dat honde reuke van mense met 'n malaria-infeksie met 'n buitengewone akkuraatheid kan identifiseer - bo die standaarde van die Wêreldgesondheidsorganisasie vir 'n diagnose."
Klik hier om te kyk hoe hierdie projek werk. 
Mensdom verantwoordelik vir COVID-19 
So skryf die bekende omgewingsjoernalis Elise Tempelhoff. Elise wys in die artikel onder andere waarom dit so belangrik is om te verstaan wat die mensdom aangevang het om die wêreld letterlik tot stilstand te ruk.
Ons gesondheid, sosiale interaksies en ekonomieë word deur hierdie pandemie vernietig. Haar artikel vorm deel van die Christelike Lektuurfonds se reeks oor pastorale sorg tydens die pandemie. Lees haar artikel hier.
PUBLIKASIES
Perspektiewe op die koninkryk
Hierdie reeks van Bybel-Media bestaan uit vier boeke met agt studies of gespreksgeleenthede elk. Elke gespreksgids gaan oor een spesifieke tema wat met God se koninkryk verband hou. Hierdie reeks deur Johannes Mouton daag gelowiges uit om elke dag met ’n nuwe perspektief te leef – ’n koninkryksperspektief.  ’n Koninkryk van Genade is die eerste boek in die reeks en is ook in PDF formaat beskikbaar. Klik hier vir die spesifieke gids, maar loer ook gerus by hulle aanlynwinkel vir talle ander bekostigbare aflaaibare PDFs (grafika onder).
LiG se nuutste uitgawe is op die rakke
In LiG se Junie-uitgawe kry ons inspirasie en bemoediging uit mense se verhale. Heinz en Aletté Winckler vertel van hul beloofde dogtertjie, Alannah.
Michael Mol vertel hoe hy sy deel doen in die Covid-19 gevegslinie. ‘n Oud-onderwyseres getuig hoe sy vreugde vind, al is daar elke dag nog ‘n stukkie van haar verlam en ‘n paar vroue vertel watter wyshede hulle oor ma-wees deur die jare geleer het.
Daar is ook handige wenke om jou kinders te help om hul vaardighede speel-speel te ontwikkel. 
Hoogtepunte uit Kerkbode
Lees die aangrypende brief van 'n predikant aan tieners. “Al verloor jy baie, kry jy méér by.” Só begin dié dominee sy mooi brief: “Aan die een kant, wil ek skryf dat ek jammer vir jou is. Jammer oor die matriekafskeid, die socials wat jy mis, die netbal- en hokkie- en rugbyseisoen, die tienertoneel en die koorkompetisies. Die grappies.” Lees hier verder.
Ter herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog 75 jaar gelede het die Duitse Katolieke Biskoppekonferensie ’n opmerklike skuldbekentenis afgelê. Leopold Scholtz kyk hier na die betekenis daarvan.
Stephan Joubert praat oor e-bediening met diepte en die moets en moenies van digitale kerkwees. Klik vir sy insette oor digitale bediening.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik op grafika vir mees onlangse nuusbrief.
ALGEMEEN
Badisa hou weer hul Tooi Turkoois veldtog
Elke jaar vanaf 15 Mei tot 15 Junie neem honderde mense deel aan Badisa se Tooi Turkoois veldtog.
Al kan die inwoners van ouetehuise nog nie besoekers ontvang nie, kan jy steeds deelneem aan Tooi Turkoois en ons bejaardes ondersteun met die volgende skenkings: boeke, bordspeletjies, legkaarte, tydskrifte, lap, rek, wol, verf en ander kreatiewe materiaal.
Badisa maak ook op die publiek staat vir kontantskenkings. "Op hierdie stadium is alle aktiwiteite vir fondswerwing gekanselleer a.g.v. die COVID-19 virus. Met meer as 50% van ons inwoners wat maatskaplike toelaes ontvang, maak ons tehuise staat op fondswerwing om hul begrotingstekorte aan te vul." Lees hier meer oor die projek.
Internasionale Dag vir Families - 15 Mei 2020
Elke jaar op 15 Mei word die Internasionale Dag vir Families gevier. Hierdie jaar se tema vir die dag is: Families in ontwikkeling
Hierdie dag was voorgestel deur die Verenigde Nasies (VN) se Algehele Vergadering in 1993 om sodoende die belangrikheid van families in ‘n internasionale gemeenskap te reflekteer. Die Internasionale Dag vir Families is die volgende jaar in Mei vir die eerste keer gevier. Hierdie dag bied ook geleenthede vir die bewusmaking van sosiale, ekonomiese en demografiese kwessies verbonde aan families regoor die wêreld. 
Die VN stel ook voor dat die term 'familie' breër gedefinieer word. Familie is nie noodwendig persone wat bloedverwant aan jou is nie. Dit is die mense in jou lewe wat jou ondersteun, aanvaar en onvoorwaardelik liefhet. 
Besoek gerus DinkJeug se webblad hier vir wenke oor hoe om hierdie dag te vier. 
Bybelgenootskap weer oop
Die Bybelgenootskap is amptelik oop na die verligting van beperkings. Personeel in al vyf streke is tans weeksdae beskikbaar van 09:00 tot 15:00. Die Bybelgenootskap is daartoe verbind om die verspreiding van COVID-19 te voorkom. Verskeie regulasies is ingestel om personeellede sowel as kliënte te beskerm. Besoek die Bybelwinkel vir aanlynaankope.
Nuwe maniere om te kommunikeer
Met beperkings op byeenkomste nogsteeds van krag, is daar gereeld nuwe tegnologie wat ons in staat stel om steeds met mekaar te kommunikeer. Ons deel graag hulpmiddels en riglyne in die hoop dat dit die proses kan vergemaklik. Ons is bewus dat alle gemeenteleiers en lidmate nie noodwendig toegang tot dieselfde tegnologie of vaardighede het nie.
Telkom het vandeesweek 'n nuwe pakket bekendgestel wat 'n gratis telekonferensie fasiliteit beskikbaar maak vir Telkom landlyne en selfone. Tot 40 deelnemers kan gelyk inbel. Ons het dit suksesvol vir 'n proeflopie gebruik. Skakel die nommer, kies 'n 5-letter pin gevolg deur # en stuur dan die nommer en pin vir diegene wat op die oproep moet inskakel. Sien grafiek onder vir meer inligting. 
Daar is nog handige hulpbronne vir Zoom, GoTo sowel as Microsoft Teams en Google Meet op ons webwerf beskikbaar. Klik hier vir 'n protokol vir aanlynvergaderings en 'n verskeidenheid van riglyne.
TEN LAASTE
15 Mei is Internasionale Dag vir Families. Ons dra elke familie (in elke vorm) op aan die Here en bid dat Hy julle deur hierdie tyd sal dra.
Ons sluit af met die pragtige liedjie Power to Redeem deur Amerikaanse gospelsanger Lauren Daigle en hoop dat julle die genade van ons ware Verlosser sal beleef. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.