Lees deur internet, klik hier >>
17 Augustus 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Grondhervorming
Grondhervorming
"Ons land gaan deur 'n moeilike tyd. Die NG Kerk is 'n agent vir versoening, vrede en geregtigheid. Christus het ons op hierdie pad geplaas. Ons het daarom 'n sterk standpunt ingeneem oor grond-hervorming. Hierdie is ook 'n tyd van soeke na God se wil om ons optrede te bepaal, sodat ons bly getuig van ons lewe in Hom." Só skryf Nelis Janse van Rensburg. Lees hier verder.
Doen gerus moeite om Sondagoggend 19 Augustus vanaf 07:15 te luister as Nelis op Sondagjoernaal (RSG, 100-104FM) oor dié aktuele saak gesels.
SINODENUUS
1. Die Reformed Family Forum: kaleidoskoop van insigte
Die Reformed Family Forum (RFF) bestaan uit die algemene sekretarisse van ’n familie van Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Die forum het in 2015 tot stand gekom as gevolg van die behoefte aan skakeling tussen ons susterskerke in Afrika en bied ’n platform waar dié kerkfamilie saam kan besin oor wat die huidige rol en uitdagings van die kerk van Christus in Afrika is.
Hierdie jaar het hulle vanaf 3 tot 5 Augustus by die pragtige Lumko Instituut se Retreat- en Konferensiesentrum in Benoni vergader. Lees meer hier en sien die groepfoto onder.
Groepfoto
2. Finalejaarstudente op besoek aan sinode!
Dit was 'n voorreg om hierdie week 'n paar jong gesigte by die NG Kerksentrum in Bellville te ontvang: Fakulteit Teologie aan die US se NG Kerk-finalejaars het op Maandag 13 Augustus die geleentheid gehad om o.a. saam met Diensgroep Diaconia se PSD's, Sean Esterhuizen en Nioma Venter, 'n in-diepte gesprek oor die kerk se verstaan van armoede en sistemiese intervensie te voer. Nioma vertel hier meer.
Inligting oor die sinode se kommunikasiemedia is ook met die studente gedeel. Dinsdag is hulle by Communitas op Stellenbosch ontvang en dié week se besoek is Woensdag afgesluit met 'n kykie na Getuienisaksie se werk. Baie seën vir die res van die jaar - ons sien uit na 'n spesiale legitimasieplegtigheid oor 'n maand of wat! 

Melissa, Emelia, Tallitha, Le-anke, Gerhard
V.l.n.r. Melissa Ellis (NG Gamkavallei in Beaufort-Wes), Emelia Swanepoel (NG Franschhoek), Talitha Conradie (NG Lourensrivier-Strand),
Lé-Anke de Lange (NG Stellenbosch-Sentraal) en Gerhard Enslin (NG Lourensrivier-Strand)
3. Gemeentebegeleiers in Bloemfontein saam
Die netwerk van gemeentebegeleiers, ofte wel Gemeente Dienste Netwerk (GDN), het die afgelope week by Menuah-retraitesentrum buite Bloemfontein vergader. (Foto onder.)
Hierdie netwerk kom jaarliks bymekaar en deel die nuwe navorsing en ontwikkelingswerk van gemeentebegeleiding. 
Alle artikels en produkte word by www.gemeentes.co.za gelaai.
Gemeente Dienste Netwerk
Agter van links: Malan van Rhyn (GKSA), André Ungerer (NHK), Emsie Enslen (NGK), Chris van Wyk (Oos-Kaap), Hannes Janse van Rensburg (NHK). Voor van links is: Leon Venter (BM), Frikkie Labuschagne (NHK), Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding), Frederick Marais (PSD: Toerusting en Navorsing), Ben van Dyk (KZN), Danie Mouton (Oos-Kaap), Rupert de Koning (KZN) en Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebegeleiding)
4. Aksies van getuienis - om Christus sigbaar te maak
Getuienisaksie, gesamentlike bediening van die VGKSA Kaapstreek Sinode en die NG Kerk se Sinode van Wes-Kaapland sedert 1991, se ringsverteenwoordigers en vriende vergader elke jaar om te kyk hoe ons as navolgers van Christus 'n verskil in ons onderskeie gemeen-skappe kan maak (groepfoto onder).
Hierdie jaar was dit weer die geval. Lees hier oor 2018 se algemene jaarvergadering. Meer foto's van die geleentheid is hier op Facebook.
Getuienisaksie Algemene Jaarvergadering 2018
Badisa AJV
Badisa Algemene Jaarvergadering 4 September - klik bo
Llewellyn MacMaster, Mary-Anne Plaatjies van Huffel en Hendry Tromp
6. VGKSA Kaapstreek
6.1 Nuwe moderamen byeen

Die nuutverkose moderamen van die VGKSA Kaapstreek het op 2 Augustus 2018 vergader. Tydens hierdie geleentheid is die leierskap van die vorige moderamen aan die nuwe groep oorgedra.
Baie seënwense aan hierdie groep wat in uitdagende tye leiding moet verskaf. 
Ter ondersteuning van #ThursdaysInBlack was drie lede (regs) gepas in swart geklee. Hulle is Llewellyn MacMaster, Mary-Anne Plaatjies van Huffel en Hendry Tromp.
6.2 Herdelike brief: VGKSA Kaapstreek se sinodesitting 
Die Sewende Gewone Sitting van die VGKSA Kaapstreek se sinode het vanaf 24 Junie tot 1 Julie 2018 op die kampus van die Universiteit van Fort Hare by Alice in die Oos-Kaap plaasgevind. Dit was ’n historiese geleentheid: die eerste keer sedert die stigting van die VGKSA dat 'n sinodale sitting in die Oos-Kaap plaasgevind het. Die moderamen se herderlike brief gee aan gemeentes 'n oorsig van die sitting en versoek lede om aan te hou om vir die leierskap en al die bedieninge van die sinode te bid. Lees die brief (in Afrikaans, isiXhosa en Engels) onder Pastoral Letter - klik hier.
VGKSA Kaapland moderamen
V.l.n.r. Suster Mplatjie (add. lid), ds. DP Carelse (voorheen aktuarius), ds. Lucas Plaatjie (aktuarius), ds. Pieter Grove (voorheen moderator), prof. Mary-Anne Plaatjies van Huffel (add. lid), ds. Hendry Tromp (scriba synodi), dr. Llewellyn MacMaster (moderator), ds. Sam Dandala (add. lid)
Afwesig: Ds. Elbi Vinqi en ds. Janine Williams
Brugkursus - 'n getuienis
7. Brugkursus: 'n getuienis
"Baie keer wonder jy of dit die moeite werd is om nog ‘n kursus te gaan bywoon. Miskien het jy soos ek, baie agter die blad. Sal nog ʼn kursus nog enige waarde hê?  
Ek het vanjaar met vreugde ontdek niemand is te oud om te leer nie. Daar is weer ʼn vonkel in my oë, selfs al is ek diep in my vyftigs. Watter kursus kan soveel waarde en betekenis hê? Dit is natuurlik die Brugpredikantkursus. Hierdie kursus het my met nuwe oë na my bediening laat kyk." - aan die woord is Jurie Blom. Klik gerus hier vir meer en kontak Mathilda du Pisanie by mdup@sun.ac.za of 021 808 3265 om in te skryf.
Stefan Paas
8. Bekende missioloog Stefan Paas op besoek!
Communitas nooi almal uit na 'n lesing deur prof. Stefan Paas van die Vrije Universiteit in Amsterdam op 21 Augustus. Die lesing vind om 11:00 in die Attie van Wijk Ouditorium van die Fakulteit Teologie plaas en handel oor die noodsaak van kerkplanting in 'n sekulêre kultuur.
Stefan is een van die voorste missioloë in Europa met 'n passie vir evangelisasie in die gesekulariseerde Europa en het self ook 'n kerk in Amsterdam geplant. Toegang is gratis en twee VBO-punte sal toegeken word. Kontak Wilma by wler@sun.ac.za.

9. Kapenaars beleef Taizé-gasvryheid
'n Paar predikante uit die Skiereiland het die Taizé-broers onlangs gaan besoek waar hulle tans in Woodstock, Kaapstad woon. Hulle is deel van die Taizé-geloofsgemeenskap in Frankryk, maar hulle word telkens na 'n ander Afrikaland gestuur om 'n plaaslike Taizé-byeenkoms vierjaarliks te reël.
Die volgende een word beplan vir September 2019 in Kaapstad en word gemik op 18-35 jariges uit alle denominasies. Lees hier verder – en kry al die inligting om jou gemeente deel hiervan te maak!
Kapenaars en Taizé-broers
Agter: Hanno Ackerman, Brother Reynold, Annelet Slazus, Christi Thirion, Marileen Steyn, Brother Luc, Helené Fouché
Voor: Brother Claudio, Anriëtte de Ridder, Jana Dickason, Bianca Botha, Jandré Viljoen, Johan Steenkamp
Grafika
10. NPO, PBO en eiendomsbelasting
Die saakgelastigde se kantoor kry al meer navrae oor gemeentes se inkomstebelasting en/of die voordele verbonde aan 'n NPO (Non-profit Organisation) of PBO (Public Benefit Organisation). Volledige inligting is op Kaapkerkadmin se webwerf beskikbaar. Lees gerus hier hoe Bossie Minnaar, saakgelastigde, skryf ...
Logo
11.1 Diaconia dink oor rampondersteuning 
'n Herinnering: Ons Diensgroep Diaconia is deel van ’n ekumeniese rampondersteuningsgroep, RESPOND, en bied op 24 en 25 Augustus 2018 'n konferensie in Goodwood aan waar verskeie sprekers sal optree en ondervinding t.o.v. rampondersteuning deel. Hulle wil ook 'n projekspan vestig om ons eie rampstrategie verder te ontwikkel. Wil jy deel van dié projekspan wees? Wil jy die konferensie bywoon? Lees hier en reageer so gou moontlik.
11.2 SmartStart en LiG sorg vir blink ogies! 
Weet jy van hierdie spesiale vennootskap? By die onlangse LiG-lesersdag in Kaapstad was kryte en papier deel van die "toegangsfooi". En wás die lesers nie vrygewig nie! Pakke papier en kryte is spesiaal bymekaargemaak vir Diaconia, wat 'n besondere vennootskap met SmartStart het en die afgelope twee jaar 140 onderwysers opgelei het om deur middel van vroeëkindontwikkeling daagliks 'n verskil in meer as 1000 kinderlewens te maak!
Groot dank aan LiG-tydskrif en lesers! Hierdie foto's wys iets van die vreugde toe die papier en kryte by kleuterskole in die Boland uitgedeel is. 
Kontak Nicola Vermeulen by nicola@kaapkerk.co.za of 021 957 7188. (Foto onder met dank en erkenning aan LiG se Facebook.)
LiG en SmartStart deel kryte uit
Francine van Niekerk (LiG-redakteur), Nicola Vermeulen (Diaconia se SmartStart club coach koördineerder), Eureka Smit (SmartStart), Viona Ross, Lida Viljoen en Conette le Roux (LiG
12.  Kinderkonferensie: Toegerus vir die toekoms
Wou jy nog altyd die Bybelstorie teken terwyl iemand dit vertel? Soek jy praktiese idees om gebed sinvol en lekker vir kinders te maak? Wil jy tegnologie in kinderbediening inspan? Hierdie is drie van die Kinderkonferensie (11 en 12 September) se twaalf werkswinkels. Lees gerus meer en kry jou inskrywing by http://kix.bybelmedia.org.za/ of kontak jeug@sun.ac.za.
Kinderkonferensie
Mashoof
13. Die Eekhoring: welkom in die Kerkargief!
Die groeiende groep wat hulleself “Vriende van die Argief” noem, het nou nog ’n lekker bonus om na uit te sien: die eerste uitgawe van die splinternuwe nuusbrief van die Kerkargief op Stellenbosch het pas verskyn.
Ons Kerkargief herinner nogal aan eek-horings: hulle versamel argivalia, stoor dit onder ideale omstandighede, is altyd op soek  na iets nuuts en herontdek die oue, maar deel dit ook graag met ander. Klik hier vir allerlei nuusbrokkies!
Kontak Andrew Kok, bestuurder van die Kerkargief, om as vriend van die argief betrokke te raak: argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923. Die volgende byeenkoms is juis op 26 September ter viering van Erfenisdag.

Sosiale media
14. Kommunikasie: riglyne vir sosiale media
Die Sinode van Wes-Kaapland beskou sosiale media as ’n belangrike komponent van die skep en versterking van verhoudinge met lidmate en die wêreld. Sosiale media bied die kans om in voeling met lidmate en gespreksgenote se leefwêreld te wees; dit skep die geleentheid vir luister en gesprek.
Ons ondersteun vryheid van uitdrukking en die reg van assosiasie. Gebruikers moet hierdie regte egter op ’n verantwoordelike wyse uitoefen - en daarvoor is sekere riglyne saamgestel om nuttige en praktiese raad te voorsien. Dit staan gemeentes vry om hierdie riglyne as basis vir hulle eie nadenke te gebruik en dit aan te pas na gelang van eie omstandighede. 

Dankdag vir reën
Dankdag vir reën en gebede oor droogte – 2 September. Klik bo.
GEMEENTENUUS
Gelukwensing
1. Bothasig vier 50 jaar!
Ons deel graag in die vreugde en dankbaarheid van die NG Gemeente Bothasig, wat hierdie week 50 jaar oud is.
Hul feesvieringe begin Vrydag 17 Augustus met 'n gemeentebraai en Sondag word die geleentheid gepas met 'n nagmaal afgesluit. Alle oudlidmate en ander belangstellendes is welkom!
Aan Gustav Meyer (predikant), die kerkraad, Marlene Shearon in die kerkkantoor, elke ander personeellid, lidmaat en vrywilliger: mag die Here julle werk tot sy eer seën en julle toerus met krag en insig. Kontak die kerkkantoor by 021 558 1910 met navrae.

2. Moedergemeente Stellenbosch
Internasionale Studentebediening

Op Sondag 26 Augustus tree Akel,’n Siriese Christen, by die internasionale erediens om 10:30 in Die Khaya op. Hy gaan vertel van sy bediening onder vlugtelinge in Libanon.
Akel het in 2013 by "Stellenbosch International Fellowship" ingeskakel. Belangstellendes is welkom om die optrede by te woon in Ryneveldstraat, Stellenbosch.
Vir meer inligting kontak Jurie Goosen: 083 23 55920 of Magdaleen: 082 427 2924.
Logo
3. NG Durbanville-Bergsig
3.1 Kursus oor Heilige Gees

Tydens ’n kursus van vier weke bied Durbanville-Bergsig aan belangstellendes die geleentheid om te leer oor die Heilige Gees. Die eerste aanbieding is op 19 Augustus vanaf 17:45. Klik hier om meer te lees en skryf in by lbb@global.co.za
3.2 Bevryding- en beradingskursus
Die NG Gemeente Durbanville-Bergsig verskaf inligting oor 'n bevryding- en beradingskursus, aangebied deur Pieter en Helene Theron, wat van 24-26 Augustus by hierdie gemeente aangebied word. Die koste is R580; om in te skryf, kontak Liezl by 021 976 4106 of geestelikeversorging@bergsigdv.co.za.
Compassion
4. Getuig van gemeentes se omgee en barmhartigheid
Dis Barmhartigheidsmaand. Waar is jou gemeente hiermee besig? Hoe betoon julle sagte harte en hande? Deel dit gerus met ons as getuienis: stuur 'n kort vertelling van nie meer nie as 180 woorde na media@kaapkerk.co.za en sorg asb. vir 'n mooi foto of twee daarmee saam! Kom ons inspireer mekaar met stories van hoop en omgee.
Een so 'n mooi verbintenis is die NG Gemeente Parow-Panorama en House of Hope in Khayelitsha, waar beide verryk word deur die bande wat hulle smee (klik hier). Daar is soveel meer sulke stories - laat hoor asb. van jou!
UIT ONS RINGE
Grafika
1. Die ring se plek in ons kerk
VrydagNuus deel graag oor die volgende maand of wat inligting oor beplande vergaderings van ons ringe - en ons vra voorbidding vir elkeen van dié samekomste.
In ons Gereformeerde kerkbegrip is die ring ’n uitdrukking van die kerkverband wat gemeentes groepeer vir samewerking en ondersteuning, sowel as kerklike dissipline waar nodig. Die Kerkorde onderskei o.a. die volgende funksies vir ringe: ’n pastorale funksie, toerustingsfunksie, begeleidingsfunksie en ’n opsig- en tugfunksie. 
Meer hieroor is in reglement 7 van die Kerkorde. Lees hier meer oor ons ringsamestelling, sowel as wie die voorsitters en ringskribas is. 
2. Die Ring van Oudtshoorn in gebed saam
Op Sondag 29 Julie was die Ring van Oudtshoorn by die NG Gemeente Oudtshoorn-Park byeen. Ringskriba Jannie Fourie berig: "Ons het die hele ringsitting ingeklee deur wandel in die Woord en baie tyd vir gebed … ons het gebid vir die wêreld, ons land, gemeenskap en gemeentes. Ons het gelei gevoel om, siende die tye en gebeure om ons, as ring in gebed te tree. Dit was nodig en sinvol.
Die gesprek oor die Here se pad met die NG Kerk in Oudtshoorn (wat verlede jaar op ons ringsagenda was), is op Maandag 30 Julie deur die leraars voortgesit."  
Ons vra graag voorbidding vir hierdie gemeentes en die breë gemeenskap, wat tans ook 'n ernstige waterkrisis in die gesig staar. (Foto's onder.)
Jannie Fourie en Smuts Janse van Rensburg
Jannie Fourie (ringskriba) en Smuts Janse van Rensburg (voorsitter)
Ring van Oudtshoorn in gebed
Ringslede van Oudtshoorn
saam in gebed
Fanie Cronje
3. Armoede, politieke chaos, gebrek aan leiers: KOS vir kerk!
Die Ring van Hopetown nooi jou ...
Hierdie inligting is (veral) ter wille van ons gemeentes wat nader aan ons Noord-Kaapse buurgemeentes is. Die Ring van Hopetown het dr. Fanie Cronjé (NG Gemeente Riviera-Jakaranda) genooi om tydens die ringsitting van 2018 ’n teologiese gesprek te lei oor: "Armoede, politieke chaos, gebrek aan leiers: Kos vir die kerk! - ’n Bybelwetenskaplike kyk na hoe ongunstige omstandighede in die kerk se guns tel."
Die ring het besluit om dié geleentheid oop te stel vir enige belangstellende wat die aanbieding op eie onkoste wil bywoon. Dit vind plaas op Ma. 10 September van 07:30 tot 09:00  by die NG Kerk op Hopetown. 
RSVP voor/op 1 September by ds. DJ Muller – 083 420 2217 of djennadia@gmail.com.
(Met dank oorgeneem uit Noord-Kaapland se e-nuusbrief van 14 Augustus.)
PREDIKANTENUUS
Kollegas wat familie word  
Waar uiteenlopende persoonlikhede as span saamgegooi word, is dit regtig 'n seën as die span se dinamika die beste uit elkeen haal. En as die individue mekaar help om in hulle afhanklikheid van en geloof in God te groei, is dit inderdaad 'n besondere wonderwerk. Is jy deel van só 'n predikantespan (of ander werkkring)? Ag jouself gelukkig - dit is nie outomaties vir almal so nie.
Paul Barnard het hierdie week 'n mooi getuienis oor Helderberg (in Somerset-Wes) se predikantespan (foto onder) gedeel. Mag dit ons inspireer om te werk aan ons eie bydrae in ons verskillende werkkringe. Dankie, Paul!
Helderberg-predikante
Agter: Danie Möller, Lizette Louw, Danie O'Kennedy, Paul Barnard
Voor: Breda Ludik, Hannes Theron
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke
Frederick Marais
ALGEMEEN
1. Fakulteit Teologie: MTh in Praktiese Teologie
Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch bied 'n twee-jaar modulêre MTh in Praktiese Teologie (Bedieningspraktyk) aan.
Die program wil missionale leierskapkapasiteit bou deur leeswerk, teologiese dialoog, deelname aan geestelike dissiplines, eksperimentering met missionale leierskapuitdagings in die gemeente en deurlopende persoonlike refleksie m.b.v. joernaalskrywing. Lees hier meer en reageer voor 30 Oktober. (Foto: Frederick Marais, programbestuurder.)
Speakers
2. Faculty of Theology, US:
"Ending statelessness" 
Thousands of displaced communities live amongst us. The question is how should we as faith communities attend to the challenge of refugees, forcibly displaced communities and stateless people. The Faculty of Theology at Stellenbosch University, the Regional Office for Southern Africa of the Rosa Luxemburg Foundation (RLF), and the United Nations High Commissioner for Refugees (UNHCR) Regional Representation for Southern Africa, have the honour to invite you to a jointly organised conference on "Ending statelessness" taking place on 29 and 30 August in Stellenbosch. Students register for free. Read more.
Photos left: speakers Cezula Simon, Robert Vosloo and Simon Xolile. Confirm attendance before 24 August!
Logo
3. Fokus op 26 Augustus op menswaardigheid en persone met gestremdhede
Jaarliks word gemeentes versoek om tydens die laaste Sondag in Augustus (of ’n datum wat in die gemeenteprogram inpas) toegespits bewustheid te skep vir persone met gestremdhede. Vanjaar se tema fokus juis op die menswaardigheid van diegene met gestremdhede. RampUp verskaf hulp in die vorm van o.a.: 'n preekskets, stappe om 'n toeganklike kerk vir gestremdes te wees; voorstelle vir 2018 en inligting om persone met outisme ook welkom te laat voel. (Sien ook PUBLIKASIES in hierdie verband.)
Redes waarom ek glo
4. Redes WAAROM jy glo, met Roedolf Botha 
VrydagNuus het in die uitgawe van 3 Augustus berig oor Ekerk se jongste videoreeks, wat handel oor redes waarmee gelowiges kan verduidelik waarom jy glo. Behalwe vir sekere "geloofswaarhede" en "handelinge" het Roedolf Botha gehelp met die wortelstelsel: die God- en wêreldbeskouing waarin ons geloof gewortel behoort te wees. 
Die eerste video (met die eerste rede) is hier. Klik nou onder om die video's van redes twee tot vyf te sien. Soek Ekerk gerus op You Tube vir die res van die reeks.
Rede 2 Rede 3 Rede 4 Rede 5
Logo
5. WCC to celebrate 70th anniversary in the Netherlands
During a service on 23 August in the Netherlands in the Nieuwe Kerk, a 15th-century church in Amsterdam, WCC leaders will celebrate the WCC’s 70th anniversary at the very spot in which the organisation was founded. Read more ...
Our blessings to this fellowship of 350 member churches who together represent more than half a billion Christians around the world!

6. Raakgelees ...
6.1 Studentestemme vra om gehoor te word – ook in kerk
Netwerk24 gee Suid-Afrikaanse studente die kans om te vertel hoe hulle oor kwessies van die dag voel. ’n Hele paar van ons teologiese studente is deel van diegene wat hulle opinies oor aktuele sake op hierdie platform deel – en dit mag die kerk baat om kennis te neem van hierdie stemme en gedagtes.
Angelique Havenga, voorheen predikant in Wellington en tans voltyds besig met haar doktorsgraad in praktiese teologie aan die Leipzig Universiteit in Duitsland, lug haar mening oor gewone, dapper vroue en die viering van Vrouedag. Andere sluit in Wynand Breytenbach (Durbanville), Ashwin Thyssen (Elsiesrivier) en Melissa Ellis (Beaufort-Wes). Om ander studente se bydraes ook te lees, klik hier.
Skrywers
6.2 The State of Pastors: hoe is dit met jou gesteld?
Die gesaghebbende Barna-navorsingsgroep het pas 'n omvattende studie, "The State of Pastors", onder senior Protestante predikante in die VSA afgehandel. Onder die interessante bevindinge tel dat prediking en lering vir die meeste predikante die gunsteling deel van hulle werk is. Apatiese lidmate verskaf blykbaar die meeste frustrasie! Dalk kan jy self baat by 'n bietjie selfondersoek oor jou voorkeure en sterk punte in die bediening? Barna se artikel is hier.
Barna-statistiek
6.3 Nuut gedink: 'n diakonaat van saamleef
Ons moet dringend herbesin oor die amp van die diaken en die barmhartigheidswerk (diakonaat) van gemeentes. Só skryf Nelis Janse van Rensburg vir Kerkbode van 17 Augustus.
"Dit moet eerder verstaan word as 'n intensionele teenwoordigheid tussen lydende mense omdat God intensioneel by hulle is." Die uitkoms van diakonaat skuif gevolglik met hierdie benadering van 'n roeping tot volhoubare ontwikkeling na 'n roeping vir volhoubare gemeenskap. Hierdie benadering het radikale betekenis vir die amp van diaken. Klik hier.
Gemeentediakonaat
Om te sien

Barmhartigheid
"Mense wat navolgers van Jesus wil wees, 'n kerk wat missionaal wil leef, moet hierdie patroon verstaan. Ons moet ons oë oophou en ons ore spits vir die nood van mense."
Klik hier


Armoede
6.5 Barmhartigheidsmaand
Armoede en honger: sáám kom jy verder ...

"Fay sê as 'n mens so onder die indruk kom van hoe swaar mense kry, help dit om jou hart vir hulle oop te maak. Dit het hulle byvoorbeeld opnuut onder die indruk gebring van die waarde wat dit kan hê om groentetuine op die sypaadjies te plant, sodat arm mense daar vars groente kan kom pluk." - e-Kerkbode
Dit alles as deel van 'n insiggewende uitdaging: eet vir 'n week teen slegs R14 per dag, nadat Fay van Eeden (predikant van die NG Gemeente Lynnwood) Rwanda onlangs as NG Kerk-afgevaardigde na die All Africa Conference of Churches besoek het en besef het hoeveel mense van net meer as 'n dollar per dag moet leef. Klik hier.

Christo Wooding bevestig ds Dan Base
7. 'n Getuienis uit die Ooste van Transkei se Mount Ayliff
Na ernstige verdeeldheid in die VGKSA se gemeente by Mount Ayliff, wat selfs tot afsonderlike eredienste op Sondae gelei het, was die bemiddelaars soos Christo Wooding (konsulent) en die ringskommissie moedeloos.
Maar die Here was nie klaar met sy wonderdade op Mount Ayliff nie!
"Hou Christus self sy kerk in stand - vergeefs die hel se woede. Sal Hy wat sy gemeente bou, ons nie 'n toevlug wees nie? Hy, oor die toekoms Heer, waak oor sy Woord en eer.(Lied 477)."
Lees gerus hier verder - en skep moed!
Foto: Christo Wooding bevestig ds. Dan Base

Drie dinge om te onthou in kerkkommunikasie
Kommunikasie: klik bo vir wenke as jy gemeentekommunikasie behartig
PUBLIKASIES
1. CLF

1.1 Sondag vir persone met gestremdheid: pamflette
Die sinode se amptelike mediavennoot, Christelike Lektuurfonds (CLF), het ’n verskeidenheid pamflette oor sosiale/maatskaplike kwessies soos gestremdheid – ook as deel van die “Seisoen van Menswaardigheid”. Gemeentes wat beoog om rondom die voorgestelde datum van 26 Augustus te fokus op die insluiting van persone met gestremdheid, kan vroegtydig hier bestel.
From my own
1.2 Kom reis na interkulturele bewustheid
CLF stel die publikasie From my own to the unknown and back to my own bekend. In hierdie boek word die leser bekendgestel aan 'n reis of 'n proses om na positiewe interkulturele bewustheid te beweeg.
Die hoop is dat hierdie positiewe bewustheid kan lei tot 'n verbeterde begrip van ander kulture en wat voorts kan lei tot verdraagsaamheid tussen kulturele groepe sowel as 'n viering van die waarde van diversiteit wat interkulturele verhoudings sal transformeer. Klik hier.
2. Bybel-Media
2.1 In September se LiG:

- deel 'n drieling se ma - wat vrou-alleen boer - haar storie van hoop;

- is praktiese wenke vir slaaploosheid;

- kan jy lees hoe om jou baba beter te verstaan

- en jou kind geestelik te versorg.

Daar is ook drie waarhede vir geestelike groei deur Stephan Joubert, en hulp vir egpare.
Kry die gespreksgids vir selgroepe hier. Hierdie gids gebruik artikels uit LiG om selgroepe aan die gesels en dink te kry oor hulle geloof en hoe om dit uit te leef. 
Die September-uitgawe is reeds van 13 Augustus op die rakke. Klik hier om te bestel.
2.2 Kerkbode van 17 Augustus berig:  
hoe die pad van versoening ʼn NG dominee gebring het by vennootskappe met plaaslike leiers van die EFF en die ANC-vroueliga.
Daar is ook ʼn verhaal van dokters en ander mediese personeel wat hulle dienste gratis aanbied om te help waar die staat nie kan bykom nie.
ʼn Groepie jong werkendes in Pretoria het probeer om armoede beter te verstaan deur ʼn week lank soos armes te eet. Lees van hulle ervaring.
Kerkbode vertel ook hoe boere van Fochville wat voel dat die Here hulle so seën dat hulle nou ander boere help wat onder die droogte ly.
Lees hoe die Nehemia-Bybelinstituut se kursusse deur ʼn gemeente in Beaufort-Wes gebruik word, van ds. Arion Naidoo wat nou ʼn NG gemeente in die Kaap bedien, van ds. Nico de Klerk se vordering op sy pelgrimstog, van die aktuarius wat nou ook ʼn advokaat is, en van ʼn beeldhouer wie se geloof neerslag vind in sy konseptuele kuns.
Daarby bevat dié uitgawe van Kerkbode die derde aflewering in die reeks oor hoe die NG Kerk die Bybel verstaan.

2.3 Gesprekskaarte vir sinvolle groepsgesprekke 
Bybel-Media bied nou ook 'n netjiese reeks gesprekskaarte om groepsgesprekke na 'n dieper vlak te neem - Die meer as 100 gesprekskaarte is ‘n handige hulpmiddel vir elke gemeenteleier, predikant of jeugwerker.  Dit is 'n kreatiewe en speelse manier om gesprek aan die gang te kry of om gesprekke na 'n dieper vlak te laat oorgaan. 
Inligting, navrae en diensverskaffing:
• Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210
• Of stuur jou bestelling per e-pos na bestel@bmedia.co.za
• Of koop met jou kredietkaart op www.bybelmedia.org.za, klik dan op winkel. 
2.4 Vier jou kind se doop! 
Met hierdie nuwe publikasies met die doop as tema, fokus Bybel-Media op beloftes vir die baba wat gedoop word, riglyne vir gesprekke met doopouers, sowel as aktiwiteite en geloofsgewoontes wat ouers sal help om hulle kinders te help om die doop hul eie te maak.
Klik telkens op die grafika onder vir meer inligting.
Watermerk My Doopboek Doopjoernaal
Grafika
EKOLOGIE
1. Wees (steeds) waterwys!
Die Kaap se gemiddelde gesamentlike waterverbruik het verhoog tot 519 miljoen liters per dag, heelwat meer as die vorige week se 505 miljoen liters. Die droë begin van Augustus wys juis hoe belangrik dit is om aan te hou water bespaar ten einde ’n buffer vir die somermaande op te bou. Dink 50 liter per dag: wenke van Stad Kaapstad is hier beskikbaar.
Protea
2. Nie net mense na God se beeld geskep nie
"Ons as mense is geneig om net van die mens te sê dat ons na die beeld van God geskep is. Dit is 'n halwe waarheid wat uitsluitlik op 'n interpretasie van Gen. 1 se skeppingsverhaal gebaseer is. Die Bybelse boodskap oor God se beeld sluit egter die ganse skepping in. Ons ontmoet iets van God se beeld in ALLES. Hierdie waarheid bevry en transformeer ons. En dit is goeie nuus vir die skepping." Lees hier verder, soos ontvang van David Botha namens Projekspan Ekologie.
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Datums van gedrukte uitgawes van Kerkbode
Kerkgebou
1. NG Gemeente Swellendam: medeleraar
Hierdie plattelandse gemeente in die derde oudste dorp in Suid-Afrika, geleë aan die voet van die Langeberge, bestaan uit ongeveer 1343 belydende en 280 dooplidmate.
Swellendam het ’n vakature vir ’n medeleraar en wag aansoeke in tot en met 7 Oktober 2018. Lees verder.

Kerkgebou
2. NG Gemeente Durbanville-Bergsig:
Jeugbedienaar 
Hierdie makro-gemeente, wat in 1982 gestig is, bestaan uit ongeveer 3300 belydende en 1500 dooplidmate. Die gemeente wag aansoeke in van jong, energieke en innoverende persone met 'n passie om kinders na Jesus te lei. Let op die sluitingsdatum van 3 September met diensaanvaarding so gou moontlik. Klik hier vir meer inligting.
Logo
3.1 Badisa:
Koördineerder Bejaardesorg

Badisa benodig die dienste van ‘n geregistreerde maatskaplike werker met die opdrag om bejaardesorgdienste te koördineer (standplaas Bellville). Let op die sluitingsdatum van 17 Augustus 2018 en klik hier vir inligting oor die verantwoordelikhede en vereistes vir die pos.
3.2 Badisa Huis Aristea:
Geregistreerde verpleegkundige/stafverpleegster: nagskof

Huis Aristea, 'n tehuis vir bejaardes in Durbanville, het 'n vakature vir 'n geregistreerde verpleegkundige / stafverpleegster: nagskof. Die aangewese kandidaat moet geregistreer wees by die SARV as Professionele Verpleegkundige / Stafverpleegster. Aansoeke sluit 24 Augustus - lees hier meer.
3.3 Badisa Kuilsrivier: Maatskaplike werker
Badisa Kuilsrivier het ’n vakature vir ’n maatskaplike werker en wag aansoeke in van gemotiveerde persone wat Badisa se waardes onderskryf. Van die vereistes waaraan die kandidaat moet voldoen, is ’n graad of diploma in Maatskaplike Werk sowel as registrasie by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe. Lees hier meer - aansoeke sluit 27 Augustus.
Bossie Muller
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Bossie Muller
Kom ons moedig mekaar aan om as gestuurdes van die Vader, veilige ruimtes in ons onderskeie kontekste te skep, waar gelowiges oor verskillende grense mekaar op ’n menswaardige wyse kan ontmoet. Dink net wat kan die Gees doen as ons sulke ruimtes skep. Ons elkeen het die verantwoordelikheid om dit op grondvlak te doen.

My Godstorie is dat ek kan getuig dat waar sulke ruimtes bestaan, waar mense saam oor grense beweeg, wandel in die Woord, bring die Gees nie net begrip vir mekaar nie, maar ook genesing en hoop en word die diversiteit as ’n gawe gevier.

Iemand sê: Hoekom het ons nie al lankal gepraat nie? Dan het ons vandag baie verder gestaan.

                                                                  -0-0-0-
                                                                                                                                   
Bossie Muller is tans in ’n  deeltydse termynpos in Aurora in die Sandveld. Hy is 'n opgeleide mediator en is betrokke by Gemeentebegeleiding, asook by die ontwikkeling, aanbieding en navorsing van die brugbediening. Kontak hom hier.

Vredesduiwe
In my is daar donkerte;
by U is daar lig.
Ek is eensaam;
U verlaat my nie.
Ek voel nietig en bang;
U laat my nie alleen nie.
Ek is rusteloos;
by U is daar vrede.
Ek vind bitterheid in my hart;
U leer my geduld.
U weë is vir my onbegryplik;
U ken die pad waarop ek gaan.
- Dietrich Bonhoeffer
Vrede vir die week toegewens.  
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.