Die Clanwilliam Sakekamer het onlangs met Amor Venter ’n onderhoud gevoer om meer uit te vind oor haar. Amor is die bestuurder van House of Rooibos. Lees gerus die onderhoud hieronder:
Wat is spesiaal van die plek waar jy grootgeword het?
Ek het basies maar in die Kaap grootgeword, maar die plek wat seker die naaste aan my hart is, is my oom en tannie se plaas Lambertshoek, of soos baie van julle dit ken - Boegoeberg. Daardie plaas is verskriklik na aan my hart. As ek die voorreg het om daarheen te gaan, kry ek die gevoel van soos die Engelse sê “I have arrived”. Dit is ’n plek waar ek kan draf in die natuurskoon en God se grootheid ervaar. Die landskap is ongelooflik.
Wat is nog alles op jou toer “bucket list”?
Die eerste plek op my “bucket list’’ is Israel, verseker die toere deur die land om te sien waar Jesus was, maar glo dit of nie om die boerdery sektor te gaan ervaar. My hart is verseker in boerdery, so ek sal bitter graag dit wil gaan beleef. Duitsland en Italië ook. Een van my grootste wense, en ook verseker op my “bucket list”, is om die Camino te gaan stap.
Wat geniet jy die meeste van jou loopbaan?
Ek geniet dit om met mense van verskillende lande en kulture te werk. Dit is lekker om te hoor waar hulle vandaan kom. Iets wat ek moet bieg, is dat ek ’n “hopeless romantic” is. Ek het al baie mense ontmoet wat om een of ander rede met my gedeel het hoe hulle mekaar ontmoet het in verskillende lande, hulle was byvoorbeeld op toer.
Wat is jou gunsteling kossoort en/of drankie?
Sjoe, daar is so baie kosse wat my gunsteling is. As ek ‘n paar moet noem, wat ek heel eerste aan kan dink, is ’n lekker De Kelder pizza - enige een, want hulle is almal lekker. Wat gekookte kosse betref, verseker my ma se tamatiekos, breyani, rotis – die volksvreemde kosse soos Oubaas van 7de Laan sou sê. Ek is lief vir kosse/geregte wat so ’n bietjie van ’n byt in het, so een van die hoof bestandele by my kos is natuurlik die groen Tabasco. Ek koop sommer die grootste bottel wat jy kry.
Watter dag van die jaar is jou gunsteling?
Dit klink dalk bietjie na ’n cliché, maar ek het nie regtig so iets soos ’n gunsteling dag nie. Ek glo en leef elke dag as ’n nuwe dag gevul met nuwe genade en ’n tweede kans.