Lees deur internet, klik hier >>
27 November 2015
Beste Leser
Advent
"En die Woord het mens geword
en onder ons kom woon,
en ons het sy heerlikheid aanskou,
'n heerlikheid soos dié van die
enigste Seun van die Vader,
vol genade en waarheid." (Joh 1:14 - BDV)
SINODENUUS
1. NG Wes-en-Suid-Kaapland: Emeriti Kuier in Somerset-Wes
'n Pragtige blou lug somersdag, spesiale gaste, keurige eetgoed, heerlike geselskap, groot genade. Dit spel Dinsdagoggend se emeriti-tee by NG Helderberg, waar die moderatuur 'n groep van bykans 80 afgetrede predikante en gades/weduwees, verwelkom het.
En watter besondere groep is dit nie waarmee die Here die kerk geseën het nie!
Frederick Marais, assessor, het die emeriti geloof vir dit wat hulle oor jare in die NG Kerk-familie opgebou het, maar ook vir wat hulle "afgebreek" het as deel van die lewenskragtige vermoë om te reflekteer, om weer te dink, om weer na die Skrif te gaan. Hy het spesiale voorbidding gevra dat die kerk se arms wyer oop sal gaan, dat ons 'n breë perspektief sal behou, omdat ons almal in diens van die koms van die koninkryk staan. (Sien meer foto's op die sinode se Facebook.)
Bossie en Benita Minnaar
Bossie en Benita Minnaar
Alta en Frederick Marais
Alta en Frederick Marais
Saakgelastigdes
Christo Albertyn, Christo Alheit & Bossie Minnaar - Drie Saakgelastigdes
Nettie, Dawid Botha, Dirk Hattingh
Nettie en Dawid Botha groet Dirk Hattingh, voormalige moderator
Bennie Fourie
Bennie Fourie tel in hoeveel gemeentes hy was
Kietie Smit sing
Kietie Smit sing blymoedig
Ockie Raubenheimer
Ockie Raubenheimer (91),
oudste predikant teenwoordig
Kobus en Hanlie van Zyl met Charl Stander
Kobus en Hanlie van Zyl,
met Charl Stander wat toekyk
Kobus Gerber en Nelus Niemandt
2. Kobus Gerber Emeriteer
Op 30 November is dit tyd om dr Kobus Gerber te groet. Dr Gerber is reeds vanaf 1 Januarie 2005 die algemene sekretaris van die NG Kerk. Dit beteken dat hy reeds 5 maal ten nouste betrokke was by die reëlings van Algemene Sinodes ... en dit nadat hy in 1994, 1998 én 2002 lid van die notulespan van die Algemene Sinode was!
Oor hom skryf prof Nelus Niemandt, voormalige moderator van die NG Algemene Sinode: 'Kobus is ’n uitmuntende boumeester. Hy kan kragtige en produktiewe vergaderings ontwerp uit die swetterjoel boublokkies van die kerklike lewe." Lees gerus hier meer.
Mag die nuwe fase saam met Marti geseënde, spesiale paaie inhou. Hier uit die Wes-en-Suid-Kaap groet ons met groot waardering! Mooi loop!
Quintus Heine
3. Advies oor Praktiese Implikasies: AS-besluite
Quintus Heine, NG Wes-en-Suid-Kaapland sinode se aktuarius, skryf dat hy baie navrae oor die implikasies van die appèl op die Algemene Sinode se besluite ontvang. In die aangehegte dokument verskaf hy advies vir diegene wat navrae hieroor het.
Quintus se kontakinligting is quintus@heine.co.za.
4. Konferensie: Selfdegeslagverhoudings
Do 12 November se konferensie oor selfdegeslagverhoudings (gereël deur STLAS en aangebied by die Fakulteit Teologie, US) is uitstekend bygewoon en die verrigtinge is ook lewendig gestroom via YouTube.
Soos beloof is YouTube-video's van elke spreker se bydraes gemaak en nou beskikbaar op die Sinode van Wes-en-Suid-Kaap se YouTube-rekening. Verder is 'n gespreksdokument saamgestel uit opsommings wat van die onderskeie sprekers ontvang is: kry die dokument hier
Die doel van beide hierdie video's en die gespreksdokument is om gesprek oor selfdegeslagverhoudings op sinodale, rings- en gemeentevlak te dien.
Lidmate en predikante word aangemoedig om hierdie materiaal op so 'n manier te gebruik dat dit getuig van 'n teologies verantwoordbare gesprek oor selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse.
In die video-insetsel hieronder gesels dr Coenie Burger tydens die konferensie oor hoe ons die gesprek en die verskille oor selfdegeslagverhoudings binne een kerk sal kan hanteer op 'n manier wat waardig van die evangelie is.
Dr Coenie Burger
Pierre Goosen
5. Predikantebegeleiding: Hoe gaan dit, dominee?
Hoe gaan dit met ons dominees hier in die Wes-en-Suid-Kaap? ... met jou? Dit was ons hier by Predikantebegeleiding se opreg-ernstige, nuuskierige vraag wat gevra is toe ons onlangs ‘n vraelys uitgestuur het aan almal om ons op dié vraag te antwoord. Lees hier verder wat die verslag uitgewys het.
Enige predikant wat die behoefte het om iets re die verslag of iets anders te bespreek is welkom om Pierre Goosen (PSD: Predikantebegeleiding) te kontak by pmgoosen@sun.ac.za of 021 808 9098.
6. Getuienisaksie
6.1 KIX-kleuterskool Malawi

Getuienisaksie was gedurende September 2015 op besoek aan die KIX Kleuterskool op Malingunde, Malawi. Die projekbestuurder, AnnaMarie de Klerk, het vertel hoe die skooltjie tot stand gekom het en ook hoe dit ‘n verskil aan tientalle kinders in Malawi maak. Seën op julle wonderlike werk toegebid, AnnaMarie!
KIX-kleuterskool
KIX-kleuterskool
Apha Youth Film Series
6.2 Alpha-blitstreffer:
Jeug aan die praat in Lusaka, Accra
& Mitchell's Plein

Die antwoorde in Mitchell’s Plein, Khayelitsha, Nyanga, Accra en Lusaka is min of meer dieselfde as jy hulle vra oor die Youth Film series van Alpha (sien hier). Die nuwe produk wat deur Jason Ballard en Ben Woodman ontwikkel is om met jongmense oor die ABC van die evangelie en die verlossingsplan van Jesus Christus te praat, is ‘n blitstreffer. Lees meer.
Midde-Ooste
7. Publieke Getuienis
Braam Hanekom skryf: "Daar is baie wat dalk meen dat die gebeure in die Midde-Ooste ons in SA nie direk raak nie. Dalk is hulle reg as hulle meen dat die 1300 jaar oue konflik tussen Soenies en Sjias, en die afgelope 100 jaar se gebeure sedert die Ottomasanse Ryk in duie gestort het, ons nog nie direk geraak het nie. Maar dinge is aan die warm word. Die opkoms van kleiner state, olie, groeiende tegnologie, terrorisme en die inmenging van magsmoonthede met bepaalde belange, het dinge baie verander. Ekonoom Cees Bruggemans het onlangs opgemerk dat dit nie onmoontlik is dat daar in die nabye toekoms weer 'n nul of wat by die goud en olieprys gevoeg kan word nie. Lees ook hier wat Leopold Scholtz vir ons skryf oor die gebeure in die Midde-Ooste. "
Kersversierings
8. NGK/VGK Kersvakansie 2015
Die verskillende afdelings (diensgroepe, taakspanne en kommissies) van die NG Kerk-familie word in die sinodale kantore in Belhar, Bellville en op Stellenbosch gehuisves.
Die meeste afdelings sluit vanjaar vanaf 15 Desember vir die Kersvakansie. Spesifieke datums vir die sluiting vir die Kersvakansie word aangeheg vir elkeen se gerief. Let asb daarop dat Wo 16 Desember ’n openbare vakansiedag is.
Dankie vir individue se gebede, ondersteuning, kundige raad en vriendelike hulp aan die sinodale kantore. Ons sien daarna uit om in 2016 selfs beter diens te lewer!

Dick Terblanche
ALGEMEEN
1. Met simpatie: Dr Dick Terblanche
Ons innige simpatie aan mev Cora Terblanche en gesin met die heengaan van dr Dick (DJM) Terblanche, emeritus, op 16 November 2015 in die geseënde ouderdom van 96 jaar.
Dr Terblanche was voorheen predikant in Pietersburg, Woodstock, Die Vlakte, Goodwood en Simondium. Hy was ook van 1956 tot 1967 Organiserende Sekretaris van die Kerk Jeug Vereniging (KJV). Dr Terblanche word oorleef deur sy vrou, hulle vier seuns, drie skoondogters en kleinkinders. Sy seun Riaan, verbonde aan die Veritas Kollege, het die troosdiens op Di 24 November in die NG Gemeente Strand-Noord waargeneem. Genade en vertroosting word die familie toegebid.
2. Legitimasie op Stellenbosch
Ons opregte seënwense aan elkeen wat Woensdagaand om 19:00 in die NG Moederkerk gelegitimeer is, waar dr Coenie Burger as prediker opgetree het. 
Eksaminering deur die onderskeie proponentskommissies het vandeesweek (op 23 en 24 November) plaasgevind, met die kuratoria wat op Wo 25 November vergader het. 
Spesiale gelukwense gaan aan Michiel de Kock (Onrusrivier) en Why Duvenage (Stellenberg), wie se dogter en seun deel van hierdie groep uitmaak. Die lys van kandidate wat aansoek gedoen het om gelegitimeer te word, is hier beskikbaar. Kom ons dra hierdie entoesiastiese groep - en hulle toekoms - getrou in gebed aan die Here op.
US Teologie Legitimasie
Agter vlnr: Anton Duvenage, Stephan Naude, Jaco Botha, Siyabulela Potwana, Marnus Havenga, Schalk Treurnicht; Voor vlnr: Jaco Visser, Rozelle Robson, Angelique Esau, Maryke Uys,
Odile Joubert, Annemarie De Kock-Malan. Afw: Regina Bessick
Quintus Heine tydens legitimasie
Quintus Heine (aktuarius) hanteer die legitimasie van die NG-studente.
NG-studente gelegitimeer
WCRLF-logo
3. Western Cape Religious Leaders' Forum 
Frederick Marais (assessor en PSD: Kerklike Opleiding) het verlede week die voorreg gehad om die Western Cape Religious Leaders' Forum (WCRLF) namens die sinode by te woon. Die forum bring godsdienstige leiers byeen om op ‘n inklusiewe basis te besin oor samelewingsaangeleenthede; verskillende temas word aangeraak om onderlinge begrip tussen  die verskillende geloofstradisies te stimuleer en byna al die hoofstroomkerke en godsdienste word hier verteenwoordig. Klik hier ...
WCRLF Frederick by WCRLF
Holy Trinity Theological College Addis Ababa
4. US Fakulteit Teologie
Samewerking met Etiopië

'n Afvaardiging van die Holy Trinity Theological College (HTTC) van die Etiopiese Ortodokse Tewahedo (“Eenheids”) Kerk (EOTC) in Addis Ababa, besoek Stellenbosch en die Fakulteit Teologie vanaf 28 November tot 5 Desember.
Met die oog op moontlike nouer samewerking, word 'n werkswinkel aangebied op Woensdag 2 Desember om 8:30 – 15:30 in Lokaal 1006 by die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Belangstellendes moet teen 30 Nov reageer; klik hier en kry die program hier op www.kaapkerk.co.za.
Huis Izak van Tonder-logo
5. Badisa Huis Izak van Tonder
Badisa se Huis Izak van Tonder in Ladismith is 'n bekostigbare tehuis vir bejaardes in 'n veilige omgewing en lewer 'n uitstekende diens. Hier is tans plek beskikbaar:
Woonstelle/kamers vir onafhanklike persone - met dienste soos benodig
Kamers vir diegene wat ondersteuning benodig - met sekere dienste
Siekeboeg met volledige dienste
Kontak gerus vir Francois Nel by 028 551 1075 of bestuurivt@telkomsa.net vir persoonlike aandag of skryf aan hom: Posbus 150, Ladismith, Wes-Kaap 6655.
6. Raakgelees
6.1 Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders

"Intussen is dit ons almal se taak om dié boodskap uit te dra: Moenie stilbly nie; nooit nie. Of jy by huishoudelike geweld nou die slagoffer of die oortreder is, praat met iemand. Om ’n probleem te erken, is die eerste stap na ’n oplossing. LifeLine se hulplynnommer vir gesinsgeweld is 0800 150 150." - met erkenning aan Die Burger van 25 November se "Kommentaar".
Nico Koopman
6.2 Oor eng Grense ...
"'n Klassieke Christelike formulering lui dat die Here nie anders is as sy openbaring nie, maar dat die Here meer is as sy openbaring. Wie die Here beter wil verstaan, moet ruimte laat vir hierdie heilige 'meer'. Wie menswees beter wil verstaan en geniet, moet eweneens hiervoor plek maak."
- Prof Nico Koopman in "Godsdiens Aktueel", Die Burger van 25 November. Belangstellendes kan dit hier lees.
Roy en Chrissie Thorne
PREDIKANTENUUS
1. Calvinia Groet Roy Thorne

Kollega Roy Thorne groet Calvinia eersdaags. Hieroor skryf hy: "Ek het die voorreg om na 23½ jaar op Moorreesburg en 8½ jaar op Calvinia op 6 Desember  af  te tree. Wat ‘n voorreg om - soos prof Flip Theron lief was om te sê - “ His Master's voice” te wees, om deel te wees van baie mense se lief en leed, om aanhoudend na Jesus te kan wys as ons Verlosser ens. Dit was ‘n voorreg om verskeie uitreike plaaslik en in Afrika te lei en om vir 17 jaar met jongmense te werk.
Ek en Chrissie gaan terug na ons huis op Moorreesburg, waar heelwat herstelwerk wag. Ons  wil graag vorentoe sendelinge in Afrika ondersteun en betrokke wees by opleiding van kerkrade. Dan wil ons ook afloswerk in gemeentes doen, aangesien die Here ons nog seën met goeie gesondheid.
(Ns: Ek sien baie daana uit om langs my vrou in die kerk te sit na 32 jr)." Roy se afskeidspreek is op So 6 Desember om 09:30. Almal welkom. Mag dit 'n geseënde nuwe koers vir julle wees, Roy en Chrissie!
2. Standplaasruiling tussen Kleinmond en Gamtoosvallei-Oos
Met 'n proses van standplaasruiling begin ds Steven Sass van die NG Gemeente Gamtoosvallei-Oos op 1 Desember in die NG Gemeente Kleinmond en ds Barry Lordan begin dan in Patensie by Gamtoosvallei-Oos.
Steven se intreepreek is op So 6 Desember om 09:30 in die kerkgebou in Kleinmond. Ds Deon Oelofse van Humansdorp Moedergemeente hanteer die bevestiging. Steven en Marina én die pragtige twee seuns, Karl en Fredrich, julle is almal sommer baie welkom hier in die Wes-Kaap!
Sass-gesin
Cassie Wait
3. Sonstraal groet Cassie en Annatjie Wait
VrydagNuus het aan Cassie Wait (NG Gemeente Sonstraal, Durbanville) gevra wat lê in die nuwe fase van sy lewe, na aftrede, voor. 
"Ek het nog nooit getwyfel aan my roeping om die evangelie te bedien nie. Nee, soos met ons vader Jona van ouds, het die Here meer as een keer se praat nodig gehad om my te laat hoor. Ek was nog altyd van my roeping as dominee verseker! In die onlangse verlede het ’n ander vraag by my opgekom: Geroep ja, maar hoe lank duur die roeping? Wanneer kan ek ophou? Wanneer kan dit meer om myself gaan en minder om die lewens van ander? Lees gerus verder.
Cassie en Annatjie: baie seën op die nuwe paaie wat op 1 Januarie 2016 begin. (Cassie se afskeidspreek is op So 6 Des om 08:45 in die Sonstraal Kerksentrum.)
4. Welkom in George, André en Theresea Pieterse!
In die NG Moedergemeente George lui die vreugdesklokke tans alte vrolik. Hulle verwelkom op 1 Desember vir André Pieterse as leraar in die gemeente. Hy het sy doktorsgraad in 2010 in sistematiese teologie oor Goddelike handeling in die wêreld en die gesprek tussen wetenskap en geloof voltooi. André en Theresea, met hulle dogtertjie Theandri en babaseuntjie André, was voorheen aan die NG Gemeente Krokodilrivier in Brits (Noordelike Sinode) verbonde.
André se intreepreek is op So 6 Des om 09:00. Seënwense in die mooie George met sy hartlike mense! 
Pieterse-gesin
Roucher du Toit
GEMEENTENUUS
1. ATKV oorkonde vir Groote Kerk se Orrelis
Die befaamde en begaafde orrelis van die Groote Kerk in Kaapstad, Roucher du Toit, is vereer vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse en internasionale musiekbedryf.
Hy het op Sondag 22 November die ATKV se Andrew Murray- spesiale oorkonde vir sy bydrae tot kerkmusiek en orrelspel ontvang. Dit is die eerste keer dat dié prys aan ’n musikus toegeken word. Belangstellendes kan gerus Die Burger se berig verder lees.
Kersvakansie
2. "Vakansiedorpe", Help asb
'n Vriendelike versoek aan gemeentes in dorpe of stede wat jaarliks gedurende Desember baie besoekers ontvang: stuur asb inligting oor julle vakansie eredienste se tye en plekke, sodat die sinode se Facebook inligting daaroor kan plaas.
Dit help ook as gemeentes vroegtydig hulle webwerwe bywerk om daardie inligting sommer maklik op die tuisblad beskikbaar te stel vir vakansiegangers. 'n Voorbeeld is Hartenbos se inligting wat sommer vroeg-vroeg beskikbaar is. Dankie, kollegas!
EKOLOGIE
Advent-kalender met 'n verskil
Hope for the World

A Rocha, 'n organisasie wat in 20 lande werk, moedig Christene wêreldwyd aan om om te gee vir die skepping deur betrokke te raak by omgewingsprojekte en –opvoeding. Belangstellendes kan gerus kyk na die besondere Advent-kalender wat A Rocha bekendgestel het.
Die tema, "Hope for the World" is veral gepas in die lig van die belangrike gesprekke oor klimaatsverandering, geskeduleer om gedurende die eerste twee weke van Desember in Parys plaas te vind. Klik hier.
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuus
Dié week is die fokus op die Bybel-Media/Cordis Trust-inskrywings en drie (3) kraakvars Bybelkor-publikasies.
Lees die nuusbrief hier.
Bybelgenootskap van SA-logo
2. Bybelgenootskap: Die Saaier
Die Saaier is die amptelike blad van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Ingesluit in die Somer-uitgawe is onder meer die Gebedsgids van 2016, opgedeel in voorbidding sake vir elke week van 1 Jan tot 2 Apr. Belangstellendes kan hier aanlyn lees.
PUBLIKASIES
Enkele van die jongste Bybel-Media-publikasies. Klik op die prente vir meer inligting. Dis sommer lekker Kersgeskenke ook! 
Tien Gebooie Radiate Living sacrifices
Uit die Beek 2016 Handboek by die Bybel Reis deur die Bybel
KUIER-KANS
Jy kan op die advertensie pamflette klik vir meer detail in 'n groter weergawe
Alta du Toit Nasorg Basaar
Alta du Toit Nasorg
Omgee Basaar
NG Tamboerskloof Kerssangdiens
NG Tamboerskloof
Kerssangdiens
Hermanus Kersmark
NG Hermanus
Kersmark
Proteahoogte Kersmark
NG Proteahoogte
Kersmark
NG Suider-Strand Kersmark
NG Suider-Strand
Kersmark
Strooidak Feesmark
NG Strooidak
Feesmark
NG Gemeente Hofmeyr
VAKATURES
1. NG Gemeente Hofmeyr: Kontrakpos
Die NG Gemeente Hofmeyr  is 63km noord van Cradock, 320km noord van Port Elizabeth en 350km suid van Bloemfontein. Die gemeente vier eersdaags sy 140ste bestaansjaar.
Hofmeyr is reeds 14 jaar sonder 'n voltydse predikant, wat die toegewydheid en hoë geestelike peil van die gemeente weerspieël. Hier is tans 'n vakature vir 'n kontrakpos vir twee jaar.
Lees gerus hier verder
Maitland-kerk
2. Maitland Gemeenskapskerk
2.1 Aanbiddingsleier
'n Herinnering aan die vakature vir 'n Aanbiddingsleier – (slegs vir Sondae). Kontak Amanda Wileman by 083 550 1920 of maitlandkerk@mweb.co.za
2.2 Evangelis
Meer inligting oor hierdie nuwe vakature in die Maitland Gemeenskapskerk is aangeheg en belangstellendes moet voor 1 Desember reageer.
Badisa Viliersdorp
3. Badisa
3.1 Villiersdorp: Gemeenskapsontwikkelingswerker

Die Beheerraad van Badisa Villiersdorp het tans 'n vakature vir 'n gemeenskapsontwikkelingswerker. Hulle wag voor 4 Desember aansoeke in van entoesiastiese persone wat Badisa se waardes onderskryf. Lees gerus hier verder. 
3.2 Badisa Overberg Tehuis: Admin/Boekhouer
Overberg Tehuis in Riviersonderend is 'n program van Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en die VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word voor 11 Desember vir die betrekking as administratiewe beampte/boekhouer ingewag. Lees hier meer.
3.3 Ruyterwacht Senior Sentrum: Vervoerkoördineerder
Ruyterwacht Senior Sentrum, 'n program van Badisa, benodig ‘n vervoerkoördineerder om by hulle span aan te sluit.  Lees hier verder oor die vereistes vir aansoeke om oorweeg te word en reageer so gou moontlik.
Christo Benade
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van ... Christo Benadé
Hebreërs 13: 12 "Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig."

Die woorde van Hebr. 13:12 vorm die denke van die missioloog Orlando Costas in sy werk Christ Outside the Gates: Mission beyond Christendom (1982). Hy plaas die fokus op Jesus se groot offer, nie in die tempel wat die hart van die geestelike wêreld van die Jode was nie, maar juis op die periferie - buite die stad. Hier ontdek die wat saam met Jesus op die periferie staan, ook dat Jesus die Christus is. Die evangelie van Jesus se beweging begin op die periferie en werk deur na die kern van die samelewing. 

Moet ons nie juis die missio Dei ook hierin volg deur die liefde en genade van Jesus te leef saam met die wat nog buite staan nie?

****
Christo Benadé is leraar van die NG Gemeente Suider-Strand en was voorheen in Vaalpark (1997-2007) en SA Gemeente London (2007-2013).
Hy is tans besig om ʼn PhD te voltooi met die titel “Church after God’s heart – A missional ecclesiology for the DRC” by the Radboud Universiteit: Nijmegen. Sy belangstelling is missionale kerkwees, leierskapsontwikkeling en pastoraat (Imago Fasilliteerder). Kontak Christo gerus 
by christo@ngss.co.za.
Mag 'n hernieude fokus op die koms van die Kind van Bethlehem vir elke leser iets van die vrede bring waarvan die engele op die ope velde destyds gesing het ...

Groete, voor die laaste uitgawe van VrydagNuus volgende week.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.