EREDIENSTE EN COVID-19
EREDIENSTE EN COVID-19
Lees deur internet, klik hier >>
 18 September 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Eredienste en COVID-19: Gemeentes gee die volgende tree
Grendeltyd is ook ‘n tyd van kreatiewe gemeenteplanne. 125 gemeentes het pas deelgeneem aan ‘n opname oor aanlyn- en openbare eredienste. 40% is nog toe en 60% het begin oopmaak. Van die gemeentes wat nog toe is, hou ‘n groot meerderheid aanlyndienste. Van dié wat oopgemaak het, gaan die meeste voort met aanlyndienste. Ander hou inrydienste en sommige het al inry-nagmaaldienste gehou. Klik hier vir die uitslae van hierdie blitsnavorsing.

Vroeg in die grendeltyd het ‘n Kerkspieël-opname getoon dat predikante se studeerkamers ateljees geword het. Byna alle predikante was positief oor die hulp wat die tegnologie bied om te kan voortgaan met eredienste en liturgie. Byna niemand het egter gedink dit kan die persoonlike kontak van die gemeenskap van gelowiges vervang nie.

Cas Wepener skryf oor die terugvoer van kerkkantore hierdie week en noem dat dit hom laat dink aan Mirjam en die vroue in Eksodus 15 se lied en dans. Teen die tyd wat hulle sing en dans, lê daar bitter tye agter die Israeliete, maar ook ʼn stuk redding en oorwinning. Hulle het ʼn ent gevorder en daar is baie om vier, maar voor hulle strek ʼn lang pad in ʼn ruwe landskap uit. Daar is dus die mengsel van die klein opwinding van ʼn mylpaal wat behaal is en tog bly daar ʼn verlange, ʼn uitsien na meer en oorlewing in ʼn onbekende landskap.

Die navorsing help almal met onderskeiding in hierdie dae. Groot besluite moet op ’n weeklikse basis in gemeentes rondom die erediens geneem word. Ons het al ’n hele ent gevorder sedert Maartmaand, maar ons het ook nog ’n afstand om af te lê. In die tussen-in tyd is ons dankbaar vir tegnologie, terwyl ons droom van die liggaamlike saamwees in ons kerkgeboue in die toekoms. Lees Cas Wepener se volledige opiniestuk hier.

As jy ‘n storie of opinie wil deel oor eredienste tydens en op pad uit die grendeltyd, stuur dit asb aan kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Inskrywings vir M.Th program nou oop
Ons weet nou dat COVID-19 verrassende geleenthede vir gemeentes skep om missionaal te versnel! Dalk is dit nou die geleentheid om jou kapasiteit vir missionale leierskap te ontwikkel.

Die Fakulteit Teologie by Stellenbosch bied al oor die afgelope dekade ʼn gestruktureerde 
M.Th in bedieningspraktyk met die fokus op missionale leierskap in 'n Afrika konteks. Kyk gerus na die video met getuienisse van ʼn ekumeniese groep predikante oor waar hulle in hulle bediening was toe hulle ingeskryf het en wat met hulle gebeur het tydens en na die kursus. 

Inskrywings vir die 2021 kursus is nou oop. Daar is plek vir ʼn beperkte aantal inskrywings. Registreer gerus op Universiteit Stellenboch se webwerf. Stuur na registrasie asseblief jou studentenommer, inskrywingsvorm en kort CV na Divine Robertson van administratiewe ondersteuning.

Vir meer inligting, kontak akademiese koördineerder Ian Nell of M. Th bestuurder Frederick Marais.
Huisgeloof: DinkJeug families
Reis vanaf 16 September tot 2 Oktober saam met DinkJeug Families deur Moses se lewe en ontdek elke dag iets anders oor God se karakter.

Laai die app af op Google Play of Apple iStore

#imagine
Hierdie geleentheid is vir alle leiers in die #imagine netwerk – sluit by die maandelikse #imagine Connect sessies aan om met leiers regoor Suid-Afrika kennis te maak!
Registreer hier vir die eerste sessie op Woensdag 30 September.
Vlak 1 is hier. Hoe moet ons nou oor die koronavirus dink?
Braam Hanekom was Dinsdag in gesprek met dr Beth Engelbrecht, tot onlangs hoof van gesondheid in die Wes-Kaap. Daar is toe reeds bespiegel dat ons na Vlak 1 sal beweeg. Dit het nou werklikheid geword. Hou dus in gedagte dat die opname ‘n dag voor die president se aankondiging gemaak is.  Hierdie gesprek poog om ons breë riglyne te gee oor hoe ons nou sonder vrees en angstigheid, tog verantwoordelik kan bly optree. Kyk gerus hieronder na die gesprek.
Arbeidsbediening se BrightStars skiet ver!
Gedurende die streng grendeltydfases kon Arbeidsbediening se treffende BrightStar-program uiteraard nie aangebied word nie, maar hulle het nie stilgesit nie. In die stiller tye is nuwe geleenthede gesoek om, sodra die grendels ligter word, dadelik met hierdie bemagtigende program voort te gaan. Hulle begin alreeds volgende week met die eerste BrightStar-opleiding. Lees meer hier.
Katkisante van VGK Riebeek-Kasteel wat die BrightStar-program voltooi het.
Leer meer oor nuwe Bybelvertaling
Die vertaalspan van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans deel uitdagings en interessante staaltjies rondom  hierdie vertaling. Die bekendstelling vind op 29 November plaas. Registreer hier om deel te wees van die bespreking onder leiding van Bernard Combrink.
Boomplantdag in Wellington
Die Andrew Murray Sentrum se beheerraadslede het saam met Calvin Newman (tweede van links op foto links) elkeen op 31 Augustus ‘n boom geplant op die terrein om saam te val met Nasionale Boomplantweek. Daar is drie Ekebergia Capensis bome geplant, wat vanjaar die boom van die jaar is. Daar is ook weer ‘n vyeboord gevestig wat gekweek is van lote van die oorspronklike vyeboord wat op die terrein was. Die sentrum laat weet: "Ons kon met die plant van die bome ons eerste eie kompos gebruik wat ons gemaak het van al die blare en takke van die terrein. Met hierdie inisiatief probeer die Andrew Murray Sentrum ‘n bydrae lewer tot ‘n groener, eko-vriendelike bestaan op die stukkie aarde waar ons ‘n verskil kan maak."
Op die middelste foto is (van links na regs): Derine Piek, Adrienne Bester, Charl Stander, Nelus Niemandt, Frederick Marais, Peet Bester, Nelis Janse van Rensburg, Herman Bailey, Theunis Botha.
EKOLOGIE
#Together4Creation-projek
Dewald Hoffmann vertel meer oor die lekker #Together4Creation-projek wat mense aanmoedig om mooi kuns te maak van dinge wat jy normaalweg sou weggooi. Hy wys hoe maklik dit byvoorbeeld is om 'n mooi potplanthouer uit herwonne plastiek te maak. Plaas #Together4Creation en #season4creation daarby. Dis ook deel van 'n kompetisie - pos jou kunswerk op sosiale media en wen lekker pryse - #repurpose! Kyk die onderstaande video vir meer inligting.  
GROEI-projek kry ondersteuning uit plaaslike gemeenskappe
Die Blanckenberg boere van Philadelphia het twee groot vragmotors kompos gegee vir groentetuine in Atlantis! Daar word begin op die gronde van Orion, 'n nie-winsgewende organisasie wat werk verskaf aan gestremdes. Die video (onder) wys hoe die tonne kompos op die vragmotors gelaai word. Orion se hoof uitvoerende beampte Hannl Cronjé vertel dat Orion nou ook saailinge gaan kweek vir skole en ander instansies in Atlantis. Hulle werk nou saam met Danny Pietersen en die Rotariërs en 'n vrywilliger van Atlantis het na vore getree om alles te struktureer en bestuur.
Gratis toegang by Cape Nature
Ter viering van Erfenisdag bied Cape Nature gratis toegang tot spesifieke natuurreservate vir 'n hele week.
Dit sluit aktiwiteite soos stap, bergfietsry en pieknieks in. Besoek gerus hulle webblad om te kyk watter reservate deel van hierdie inisiatief is.
Met lente in die lug en die inperkings wat verslap is, is dit die ideale tyd om die wonder van Moeder Natuur op jou drumpel te ontdek. Nooi jou familie en vriende saam.
GEMEENTENUUS
Caledon Help 
Gerome Haupt van VGK Caledon deel die onderstaande video om te wys hoe plaaslike ekumeniese aksienetwerke in die Overbergse dorp op die been gebring is tydens COVID-19 om 'n daadwerklike impak om gemeenskappe in nood te bewerkstellig. Verskeie gemeentes, nie-winsgewende organisasies en die korporatiewe sektor het saamgespan om sewe verspreidingspunte sowel as 'n klerebank in Caledon en omliggende areas te vestig. Met die aanbreek van die grendeltyd het hulle 450 families gediens, maar later maaltye aan 2000 mense per dag verskaf. 
 
Albertinia se Lentesondag 
Die gemeente van Albertinia verlang na só baie dinge in hierdie grendeltyd! Daarom het hulle besluit om verlede Lentesondag met oorgawe te vier! Hierdie erediens was spesiaal gemaak deur hulle eie kontreiblomme as versiering uit te stal, ’n gaskunstenaar en ’n heerlike lente-ete. 
Lidmate is ook gevra om hierdie lente spesiaal vir ‘n ander persoon te maak deur ’n blommetjie vir ‘n persoon in hulle omgewing met liefde te gee om iemand wat dit dalk regtig nodig het, se dag op te vrolik. Gemeentelede wat nie ’n blom in die hande kon kry nie, was aangemoedig om ’n prentjie van ’n blom met ’n boodskap aan iemand oor WhatsApp te stuur. 
“Ons dank die Here vir die wonderlike seën wat ons vanjaar in die natuurskoon om ons raaksien,” skryf NG Albertinia op hulle Facebook-blad. 
Hartenbos deel stories van hoop
Hartenbos se Bos-Bulletin het begin in die latere stadiums van die COVID-19-pandemie, toe algemene inperkings die hele wêreld se lewens reeds omver gegooi het. Dit lyk nou dikwels vir hierdie gemeente of daar net negatiwiteit en slegte nuus versprei word. Daarom het hulle die Bos-Bulletin begin as 'n straal van hoop in 'n tyd van hopeloosheid.
'n Brokkie goeie nuus word elke twee weke gedeel. Hierdie stories is gevul met vreugde en nuwe lewe om die gemeentelede in hierdie vreemde jaar, en ook in die toekoms, te inspireer. Die stories wat in die Bos-Bulletin verskyn, het altyd te doen met die kerk en sy mense. Dit fokus op lekker gebeurtenisse en onderwerpe, in 'n tyd wat ons geneig is om soms van die prettige en lekker dinge in die lewe te vergeet. In die Bos-Bulletin kan jy elke week oor die opwindende en interessante dinge lees wat by die kerk en in die gemeenskap aan die gang is. 
Klik hier om die nuutste uitgawe te lees of besoek die gemeente se webblad hier
Barrydale vier 140ste bestaansjaar
Ter viering van hulle 140ste bestaansjaar het NG Barrydale 'n video aan die gemeente opgedra.
Die video bevat beeldmateriaal van dié kerk se geskiedenis. Klik hier om die video saam met hulle te geniet. 
Ons wens hulle hartlike geluk met hierdie mylpaal.
PREDIKANTENUUS
Almatine groet Stellenbosch-Wes
Almatine Leene groet die gemeente van Stellenbosch-Wes aan die einde van September en hoop om in Oktober saam met haar gesin na Nederland terug te keer. Sy skryf: "Dit voel nog baie onwerlik om Suid-Afrika te verlaat na sestien jaar in hierdie land. Die beroep na Hattem (Open Poort Gereformeerde Kerk Vrijgemaakt) het soos 'n verrassing gekom. Drie jaar terug het die sinode van die kerk waar ek grootgeword het, besluit om die ampte vir vroue oop te stel. Ek het nog altyd gehoop om een dag in my eie kerk 'n leraar te kan wees, maar die pad was lank en ek het nie verwag om die eerste vroueleraar te wees nie. Maar ons het die Here se leiding ervaar in die hele proses en is baie opgewonde om te gaan. Die afskeid is net moeilik. Ek het so lief geraak vir Suid-Afrika en sy mense, die NG Kerk en Stellenbosch. Ek is baie dankbaar vir alles wat ek hier geleer het en dat die NG Kerk my erkenning gegee het wat ek nie in my eie kerk kon kry nie. A Dieu!"

Ons wens vir die Leene-familie (van links na regs) Gideon, Almatine, Frederik, Sebastiaan en baba Johanan (voor) alle sukses toe vir hierdie nuwe episode van hulle lewensreis. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraarspos: Prins Albert
Die NG Gemeente Prins Albert adverteer 'n voltydse drie-jaar termynspos vir 'n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk met 'n liefde vir alle mense, en veral bejaardes en ook begrip vir die omvattende rol wat landbou in die daaglikse lewe van lidmate speel.

Hierdie plattelandse dorp in die Karoo is ongeveer 120km van Oudtshoorn en die boerdery-gemeenskap vorm 'n sterk deel van die struktuur en funksionering van die gemeenskap. 

Die geskikte kandidaat moet geheg wees aan die gereformeerde leer met entoesiastiese prediking gebaseer op die Bybel en die NG Kerk se belydenisskrifte.

Aansoeke sluit 2 Oktober met diensaanvaarding in Januarie 2020. Klik hier vir meer inligting.

Verpleegassistent: Alta du Toit
Die Alta du Toit nasorgsentrum in Bellville adverteer tans 'n pos vir 'n verpleegassistent. Kandidate met werkservaring met intellektueel-gestremdes en psigiatriese pasiënte sal voorkeur geniet. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 18 September.
Bestuurdersposte: Wortelgat, Stanford
Die Christelike kampeerterrein en konferensiesentrum in Stanford in die Overberg is op soek na 'n voltydse algemene bestuurder asook 'n kantoor/gasvryheidsbestuurder.
Wortelgat is geleë aan die oewer van die Kleinrivier-strandmeer tussen natuurlike fynbos en eeuoue melkhoutbome. Daar is geriewe vir kampering, konferensies en retraites vir skool-, kerk- en Christelike organisasies. Daar is vier terreine met akkommodasie, 'n saal en kookgeriewe. 
Klik hier vir posbeskrywings vir algemene bestuurder en kantoor/gasvryheidsbestuurder. Sluitingsdatum vir aansoeke is 30 September.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Op Bybel-Media se rakke
Besoek Bybel-Media se aanlynwinkel vir hulle katalogus van CUM se 50 topverkopers. Daar is oordenkings, dagstukkies, Bybelstudies, huwelikshulp, Kinderbybels en nog vele meer deur welbekende skrywers soos Melanie Prinsloo, Stephan Joubert, Arnold Mol, Angus Buchan en Nina Smit. Bestellings kan ook by bestel@bmedia.co.za of telefonies by 021 864 8211 geplaas word.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Inclusive and Affirmative Ministries se September nuusbrief.
Ysterplaat Gemeenskapskerk deel hierbo nuus oor die nuutgestigde Isibindi Inisiatief.
VIRTUELE KUIERKANSE
Buffeljagsrivier vleisfees
Die gemeente van Buffeljagsrivier hou jaarliks dié gewilde vleisfees; waar vleis van hoë gehalte aangekoop kan word. Vanjaar het hulle ook vars produkte bygevoeg. Bestellings sluit 18 September en die aankope kan op 2 Oktober by die kerk afgehaal word. 
Besoek hulle op Facebook vir meer inligting. 
George Moedergemeente deurry-ete
Die gemeente beplan hulle volgende deurry-ete vir Vrydag 2 Oktober. Op die spyskaart is ‘n heerlike hoender schnitzel, groente, aartappelslaai en poeding teen slegs R60. Bestel sommer vandag nog jou ete om teleurstelling te voorkom.
Bestellings sluit 29 September en kan by die kerkkantoor geplaas word - 044 874 2036. 
Darling en Yzerfontein hou woekerbasaar. Sien besonderhede bo.
ALGEMEEN
The power to discriminate
This webinar series was hosted by the Gender Unit of the Beyers Naudé Centre of the Faculty of Theology, Stellenbosch University, in conjunction with the Institut für Alttestamentliche Wissenschaft at the Faculty of Theology, Leipzig University from 29 July to 2 September 2020 in lieu of the original conference scheduled for March 2020,  which had to be cancelled due to COVID-19.  

Participants from across South Africa, Germany and the USA investigated the language of ‘perversion’ that often is used in the Hebrew Bible. The goal of this series is to explore the thick descriptions that are used to establish normative boundaries between what is deemed normal and abnormal, natural and unnatural. Most often associated with sexuality, these questions also extend to other areas that frequently have been deemed perverse including also gender, ethnicity and disability.
Click here to read more and find links to the various sessions.
Weltevrede Akkommodasie weer oop
Nelia Botes van Weltevrede Akkommodasie (voormalig bekend as die NG Kerk Oornaghuis) laat weet dat hulle weer oop is en besprekings ontvang. Hulle het ook heerlik in die tuin gewoeker tydens grendeltyd. 
Die geloofsgebaseerde, nie-winsgewende organisasie bied bekostigbare en gemaklike selfsorgverblyf in ‘n veilige omgewing vir besoekers aan die noordelike voorstede van Kaapstad vir die doeleindes van opleiding, sake en sosiale geleenthede, met spesiale tariewe vir mediese langtermynverblyf. Daar is 14 selfsorgeenhede met 27 beddens.
Vir meer inligting kontak vir Nelia Botes by nelia@weltevrede.org.za of skakel 021 913 3733.
Call for papers
The Faculty of Theology are inviting academics and professionals from a wide variety of background to submit proposals for the Between Trust and Justice: Seeking for Hope conference to be held from 25 to 28 May 2021 in Stellenbosch. Submissions from theologians and theological students, but also social workers, therapists and other relevant professionals will be welcomed. Send proposals to Christo Thesnaar.

Click here for more information. For any other enquiries, please e-mail to Marita Snyman.
Erfenisdag - 24 September 
Op hierdie dag word Suid-Afrikaners aangemoedig om hulle kultuur en die diversiteit van hul oortuigings en tradisies te vier.
Erfenisdag is ‘n herinnering dat al Suid-Afrika se burgers uniek is. Dit is 'n dag waarop jy trots moet voel oor wie jy is en jou kultuur, geskiedenis, taal en tradisies met oorgawe vier. Die dag gaan egter nie net oor jou eie kultuur nie, maar ook oor die uitreiking en samehorigheid oor die verskillende kultuurgrense heen.
Raakgelees: Pad gebou deur Pontius Pilates ontdek
'n Opgrawingsprojek in die antieke Stad van Dawid het ‘n merkwaardige ontdekking aan die lig gebring - 'n 2 000 jaar oue wandelpad glo opgestel in opdrag van Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur wat die kruisiging van Jesus beveel het. 
Argeoloë wat binne die grense van Jerusalem Walls - City of David National Park werk, het 'n 220 meter lange gedeelte van die antieke straat ontbloot. Daar word geglo dat hierdie antieke straat gedien het as 'n wandelpad vir godsdienstige volgelinge - dit strek tussen die swembad van Siloam ('n heilige rotspoel wat net buite die stad in die suide geleë is) na die
Tempelberg, 'n belangrike heilige plek vir Christene en Jode. 
Die straat is 600 meter lank en ongeveer 8 meter breed en is geplavei met groot klipplate wat algemeen tydens die Romeinse Ryk gebruik is. Argeoloë skat dat dit 10 000 ton kalksteenrots en groot vaardigheid sou verg om dié pad te bou. Die straat is gevind onder puinlae wat vermoedelik die resultaat was van die Romeine wat die stad in 70 n.C. ingeneem en vernietig het.
Binne die puin is wapens, pylpunte, afgebrande bome en ineengestorte klippe van nabygeleë geboue gevind. Argeoloë was verbaas om ook meer as 100 muntstukke onder die plaveisel te vind. Hierdie muntstukke dateer uit 17 tot 31 n.C. - die tyd toe Pontius Pilatus oor die antieke stad regeer het.
Lees meer oor hierdie ontdekking op National Geographic se webblad of kyk die video (onder) vir beeldmateriaal van die merkwaardige wandelpad. 
TEN LAASTE
Let asseblief daarop dat daar as gevolg van die langnaweek volgende week geen VrydagNuus sal verskyn nie. Wees op die uitkyk vir die uitgawe van 2 Oktober en hou ons gerus op datum van die jongste gemeentenuus en aktiwiteite deur 'n e-pos te stuur aan kommunikasie@kaapkerk.co.za.

VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.