Lees deur internet, klik hier >>
26 Junie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
CPK vat hande met GROEI-projek
Die Calvyn Protestantse Kerk het op entoesiastiese wyse ingekoop in die GROEI-groentesaadprojek. Braam Hanekom het die week saad vir 22 gemeentes aan die moderatuur (foto onder) oorhandig. Dit sal sover as Kommagas versprei word.
Vir meer inligting oor die projek gaan na www.hopetrusts.org.
Agter die maskers is v.l.n.r.  Deon Jantjies, Darryl Mackriel, Braam Hanekom, Jan Cloete (moderator) en William Williams.
Streaming of #WeAreDyingHere
Gender-based violence has unfortunately once again become a topical conversation with GBV stories emerging at an alarming rate. The Beyers Naudé Centre for Public Theology has announced that there will be a screening of the pre-recorded performance of #WeAreDyingHere online from 22 June - 6 July.
This thought-provoking stage production shares the responses of three women to the prevalence of the violent culture of harassment, abuse, rape and femicide in South Africa and around the world.
Click on the following link to get more information on the streaming platform and to buy tickets that can be used to view the performance any time within the two-week period.  Watch the trailer here.
DinkJeug Podcast
Grendeltyd is en was ‘n uitdaging vir almal. Daarom dink DinkJeug dat dit baie belangrik is dat die grendeltyd ge-“debrief” of ontlont word by kinders en tieners. Vir enige ervaring, positief, negatief of om ‘n geloofsvormende belewenis te wees, is dit belangrik om introspeksie te doen en daaroor te gesels.
Lees of luister gerus na hulle jongste potgooi hier vir wenke hoe jy so 'n gesprek kan fasiliteer.
40 dinge wat COVID-19 kom onderstreep het
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf: "Dit is al meermale gesê dat COVID-19 baie dinge onherroeplik verander het. Dit het nie net baie dinge verander nie, maar ook sekere dinge kom onderstreep en as’t ware onder die vergrootglas geplaas. Dit het onder meer dinge uitgewys wat, as dit nog nie verander het nie, sal moet verander. Die volgende het by my opgekom:
1. Ons is deel van ‘n baie ongelyke samelewing waarin daar baie agterstande is. Sekere dele van ons samelewing is baie swaarder getref as ander.
2. Ons leef steeds met ‘n ongelyke onderwysstelsel.
3. In tye van relatiewe voorspoed kan jy wegkom met twak. In tye van krisis soos COVID-19 word werklikhede gedefinieer.
4. 'n Soberder lewenstyl is glad nie sleg nie… Inteendeel."
Klik hier om sy volledige skrywe te lees. 
GEMEENTENUUS
Brackenfell-Wes groet geliefde skriba
Guillaume Smit van Brackenfell-Wes skryf: "Anna Olivier, ons gemeente se vorige kerkkantoorbeampte, is vandeesweek na ‘n kort siekbed oorlede. Sy en haar man, Attie, het diep spore in die gemeente getrap. Nie alleen was hulle in 1984 stigterslede van die gemeente nie, maar hulle het ook die administrasie van die jong gemeente by hulle huis behartig totdat sy permanent aangestel is as skriba. Hierdie pos het Anna vir 35 jaar gevul met ywer en toewyding tot haar aftrede in Februarie 2020.
Tannie Anna, soos ek haar leer ken het, het die gemeente van Brackenfell-Wes soos die palm van haar hand geken. Sy kon sonder huiwering vertel waar mense woon en selfs hoe lank hulle al in die gemeente is. Sy het die kantoor met vaardigheid bestuur en nooit weggeskram van enige uitdagings nie. Boonop was Anna ‘n hoflike, liefdevolle mens wat altyd net ‘n goeie woord van mense te sê gehad het. 
Tannie Anna se afsterwe laat ‘n diep leemte in ons gemeente se harte. Sy was die verpersoonliking van Brackenfell-Wes se familiehart en saam met Attie was hulle steunpilare in die gemeenskap."
Ons innige meegevoel met haar familie en die gemeente.
Mosselbaai hou eerste deurry-basaar 
Die algehele inperking het gemeentes aangemoedig om kreatief te dink oor kerklike aktiwiteite in die lig van sosiale afstand. Daarom het Mosselbaai Moedergemeente besluit om hulle eerste deurry-basaar te hou en dit was 'n groot sukses!
Gemeentelede en besoekers het die basaar in die gemak van hulle voertuie geniet. "Dit was 'n fantastiese idee wat seepglad verloop het. Die kerrie-en-rys was heerlik, so ook die pannekoeke en daai regte basaarpoedings - uit die boonste basaar rakke!" skryf Louvaine Combrinck op die gemeente se Facebook-blad.  
Die gemeente sê graag dankie vir almal wat hulle basaar ondersteun het, asook aan die span agter die skerms wat alles gereël het en diegene wat die heerlike eetgoed gemaak het. Klik hier om 'n video van die basaar te kyk. 
Parke-gemeente hou deurry-snoekbraai
Parke-gemeente gaan op 11 Julie hulle bekende en gewilde snoekbraai hou, maar hierdie jaar is dit 'n bietjie anders. Aangesien dit nog nie toegelaat word vir ‘n groot groep mense om saam te kuier nie, sal die braai ‘n deurry-geleentheid wees.
Die gemeente verseker dat alle COVID-19-veiligheidsmaatreëls en beperkinge streng nagekom sal word om te verseker dat daar geen risiko vir infeksie sal wees vir die besoekers nie. Kaartjies is aanlyn beskikbaar hier. Kostes beloop R45 per ete. Hierdie winskoop sluit snoek, patat en ‘n heerlike slaai in. Aanlynverkope sluit 8 Julie 2020. 
Ons kan nie net kospakkies uitdeel nie
So sê Arné Leuvennink van die Herenigde Bredasdorp Gemeente in die Overberg en verduidelik: “Maar ons moet ook langs ons medemens in nood kom staan om ’n leefbare omgewing te help skep en die lang pad na herstel saam met hulle help stap.” Geen maklike taak nie, veral nie as jy al mooi gewoond geraak het aan jou gemaklike leunstoel en huiwering om vreemdes as vriende te leer ken nie. Bredasdorp is een van die vele gemeenskappe wat hul mense in nood bystaan met kospakkies – ‘n enorme hulp aan tientalle gesinne, maar in hierdie proses ook tot ander, nuwe insigte gekom het. Klik hier om die volle artikel te lees.
Plett soppakkieprojek is ‘n getuienis 
Nadat Chris du Preez van Plettenberg-Noorderkruis tyd gehad het om ‘n voorraadopname te doen van die soppakkies wat gemeentelede deernisvol verpak het, het hy besef dit is ‘n getuienis wat gedeel moet word. 
“Die projek staan einde se kant toe. Daar is nog ongeveer 250 pakkies in die 'produksielyn.' Vir eers gaan ek nie nog voorraad aankoop nie, fondse raak ook iets om dop te hou. Oor die fondse wat ons in oorvloed ontvang het, sal ek op ‘n ander keer iets skryf. Dít is ‘n verstommende getuienis wat wag om gedeel te word!” skryf hy op die gemeente se Facebook-blad. 
Hy vertel ook dat die gemeente tans oor 995 soppakkies beskik, wat elk vir vier volwassenes ‘n maaltyd kan gee - in totaal is dit dus 3 980 monde wat nog gevoer kan word. Die gemeente het deur die loop van die grendeltyd meer as 8 000 etes aan behoeftiges voorsien om te verseker dat diegene wat negatief deur die grendeltyd geraak is, nie honger sal gaan slaap nie.
Mense in onder andere Green Valley en Kwanokuthula, sowel as buitelanders in die gemeenskap, eet al weke lank van hierdie pakkies. "As ‘n mens die hoeveelheid etes wat alreeds uitgedeel is in berekening bring, dan kry jy koue rillings," sê Du Preez. 
Gordonsbaai-gemeente se tydelike nagskuiling 
Om op straat te woon is 'n uitdaging, veral in die winter. 'n Warm bed met komberse of selfs 'n warm, tuisgemaakte maaltyd op 'n koue wintersaand, is net 'n droom vir diegene wat op straat bly. Ongelukkig is dit die realiteit vir die duisende haweloses in ons provinsie. 
Daarom het Gordonsbaai-gemeente besluit om hul kerksaal in te rig sodat hulle tydelike nagskuiling beskikbaar kan stel vir haweloses. Die gemeente het saamgespan om benodighede vir die projek, soos komberse, koffie, tandeborsels en warm klere in te samel. Indien jy ook 'n bydrae wil maak, kontak vir Johan Botes per e-pos by sondagoggend@gmail.com. Kyk gerus ook die video hier waarin hy meer vertel oor die projek. 
Gebedsmarathon in Namakwaland
Op Sondag 14 Junie het die ekumeniese kerkleiers van Namakwaland 'n gebedsmarathon "gehardloop" op radio NFM 98.1. Annelet Slazus vertel dat hulle die oggend om 06:00 weggespring het en die eindstreep gehaal om 18:00 die aand. “Die fokus van die dag het gespruit uit Hebreërs 12:2: Ons oog gevestig op Jesus in hierdie tyd met soveel uitdagings. Met die impak van COVID-19 word daar ook 'n groot lig geskyn op die uitdagings in ons gemeenskap en die kerklike leiers kan nie meer 'n blinde oog gooi nie. Die dag was hoofsaaklik opgedra aan die jeug, ter viering van Jeugdag, tog was alle gelowiges aangemoedig om ons hoop en fokus op God te hou en daar was verskillende temas uitgewerk om op elke aspek van ons lewens te fokus. Verskeie geestelike leiers het om die uur gesels oor onderwerpe soos jeug, manne, vroue, werkloosheid, volharding en eenheid." Agter die mikrofoon (foto bo) is Eddie Swartbooi wat deur die Namakhoi Munisipaliteit aangestel is vir geestelike en emosionele ondersteuning van die distrik. Die ekumeniese netwerk het die dag afgesluit deur 'n donasie te maak aan radio NFM se Soup drive, wat weekliks regdeur die streek warm sop uitdeel.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Plant jou eie groente
Marizanne Pfeil van ons Groen Span en predikant by Hoop Geloofsgemeenskap in Somerset-Wes, gesels hierdie week oor hoe om jou eie groente te kweek. Jy het nie 'n groot tuin daarvoor nodig nie; heelwat groente kan in 'n gewone pot ook groei. Kyk die video (onder) om te sien hoe dit gedoen kan word. 
Sardienloop 2020: 'n Goudmyn van vis  
Dr. Ryan Daly, ‘n navorser van Durban verbonde aan die Oseanografiese Navorsingsinstituut, het betowerende onderwaterfoto’s (onder) geneem terwyl hy geduik het te midde van die sardientjies wat jaarliks by Suid-Afrika se kuslyn aankom.
In 'n verklaring wat Woensdag uitgereik is, het Daly gemaan dat hy nog nooit so baie sardientjies gesien het soos by hierdie jaar se sardienloop nie. “Wat ‘n goudmyn van vis! Die duiktog was oorweldigend met soveel sardientjies! As 'n wetenskaplike en iemand wat die sardientjies al jare volg, was dit verstommend om die groot hoeveelheid te sien,” het Daly die afgelope week gesê.
Daly vertel ook dat hy gevrees het dat die omgewingsveranderinge die sardienloop negatief sou beïnvloed het, maar dat dit egter nie die geval was nie. “Dit is sekerlik die meeste sardientjies wat ek nog ooit aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gesien het. Weens klimaatsverandering, die moontlike druk van kommersiële visvang en veranderinge in die manier waarop diere op omgewings reageer, was baie wetenskaplikes bekommerd dat groot sardienlope iets van die verlede sou wees. Dit is dus fantasties om die oplewing in bedrywighede te sien. Dit behoort 'n goeie seisoen te wees.”
Klik hier om 'n video te kyk wat South Coast Tourism van hierdie jaar se sardienloop saamgestel het.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Bybelgenootskap se nuusbrief.


Click above for the latest news from URCSA.


PUBLIKASIES
Julie-uitgawe van LiG nou op die rakke
Die Julie-uitgawe van LiG tydskrif is nou beskikbaar en is propvol inspirasie.
* Voorbladnooi Sonja Herold vertel hoe sy rustiger en vol vrede ouer word.
* Daar word gesels met COVID-19 se voorste linie-vegters onder andere ‘n internis en tehuisbestuurder.
* Dan word daar ook gekyk na tienerdepressie, waarop gelet moet word en hoe mens betyds ingryp. 

Join the launch of Fault Lines
Gain insight into unanswered post-apartheid questions with the introduction of this new book by Jonathan Jansen and Cyrill Walters. Join the book’s editors on Thursday 25 June at 16:00 as they respond to a panel of accomplished speakers at this Leader’s Angle Series event. Key speakers are award-winning journalists Max du Preez and Ferial Haffajee with an introduction from USB Director Piet Naudé. Armand Bam will facilitate the discussion as they delve into the book’s harrowing insights that highlight the lingering effects of racism in South Africa and beyond. Click here to book.  
Oop deure nou beskikbaar
Coenie Burger se boek Oop deure - wat Openbaring ons oor die kerk se lewe en roeping leer, is meer as net ‘n blote uitleg van die boek Openbaring. Dit is uiters aktueel geskryf, toepaslik vir ons onseker tye van pandemies, toenemende konflik, morele verval, ekologiese rampe en die kerk se besinning oor identiteit en roeping te midde van al hierdie uitdagings. 
Dit bied ook ‘n praktiese en kreatiewe weg waarop gemeentes gehelp kan word om missionaal te transformeer. Die boek word dus aanbeveel vir leraars, pastore, kerkleiers en teologiese studente, maar dit kan ook met groot vrug deur lidmate in gemeentes gelees en bespreek word.
Die boek is uitgegee deur CLF Uitgewers. Dit kos R220. Dit kan bestel word by order@clf.co.za of kliek hier om dit aanlyn aan te koop.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Swaar sielkundige druk op leerders?
Die heropening van skole na die staat van inperking kan verdere druk plaas op leerders se geestesgesondheid, berig Marietjie Warrington. Lees meer hier.
Bybel: Afrikaanse vertaling onder die loep 
Veroorsaak die baie vertalings nie verwarring onder Bybellesers nie? Watter vertaling is nou “reg” of “die beste”, wil Frits Gaum in dié onderhoud met prof. Bernard Combrink weet.
Oor God se ‘ICU’ (I see you)
By hom het die gemeente gehoor van “kat-teologie” en “honde-teologie”, van God se “ICU” (I see you), van “ballon-Christene” (wat van doer bo op ander neerkyk) en van manne se “meno-Porsche”, skryf Hennie van Deventer in dié profiel oor dr. Francois Hanekom, wat ná 38 jaar vrugbare diens afgetree het. 
ALGEMEEN
Spaanse operahuis hou konsert vir potplante
Maskers, ontsmettingsmiddels en sosiale afstand was glad nie nodig by die Liceo-operahuis in Barcelona se heropeningskonsert nie, omdat die konsert aangebied was vir plante en nie mense nie. Om die aangrypende verhouding tussen mense en die natuur uit te beeld het die konsert van Chrisantemi Maandag ‘n opvoering gelewer vir 2 292 potplante, wat die hele operahuis volgepak was. 
Volgens die artistieke direkteur van die Liceu-operahuis, Víctor García de Gomar, is die konsert bedoel om ons te help om oor die huidige menslike toestand na te dink en hoe ons as mens die natuur ontneem het van die moontlikheid om gehoor te word.
“In 'n tyd waarin 'n groot deel van die mensdom ingeperk was weens die pandemie, het die natuur vorentoe gekruip om die ruimtes te beset wat ons gesedeer het," sê Eugenio Ampudia, 'n konseptuele kunstenaar en een van die meesterbreine agter die unieke idee.
Kyk gerus die video (onder) van hierdie oorspronklike opvoering.  
TEN LAASTE
Ons weet van etlike gemeentes wat stelselmatig weer eredienste hervat. Deel met ons julle stories hoe julle die logistieke hanteer, by die COVID-19-regulasies hou en veral lidmate se reaksies om weer eredienste by te woon. Ons wens al ons gemeentes voorspoed toe. Wees veilig!
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.