Subscribe to our email list
 25 November 2016

Beste Leser
Adventkerse
Eerste Adventsondag: Hoop en Verwagting
Op Sondag 27 November word die eerste Adventkers in gemeentes aangesteek: Die kers is purper van kleur en die tema vir die week is verwagting/hoop. 
Mag dit ons herinner dat God telkens op verrassende maniere ons bestaan binnekom om ons met liefde en sorg te omvou. Kom ons onthou in Wie se naam ons gedoop is. Dit is ons diepste sekuriteit en uit dié troos kry ons krag om vol hoop en verwagting te leef.
Sinode-logo Wes-Kaapland
SINODENUUS
1. Wes-Kaapland: Uit die Moderatuur
Na aanleiding van die Algemene Sinode se onlangse SGV-besluit, het die Wes-Kaapse moderatuur op 22 November deur die gebruiklike "Uit die Moderatuur" aan predikante en gemeentes gekommunikeer.
Die klem val op die soeke na middelgrond en daarom word gemeentes uitgedaag om te bly luister - na die Woord, na die Gees en na mekaar - en te bly praat. Hier word gefokus op 'n proses, eerder as enige reaksie wat tot verdere verdeeldheid sou kon bydra. Dankie aan elke gemeente wat reeds geruime tyd besig is met hierdie proses om in die lig van eie konteks (en altyd luisterend) uiteindelik by antwoorde uit te kom.  
"En wanneer ons van mekaar verskil, kom ons doen dit met respek wat ruimte vir mekaar laat. So kan ons bou aan die onderlinge vertroue en die eenheid wat daar in Jesus Christus is".
 Lees die brief hier.
2. NG Kerk Selfdegeslagbesluit
2.1 Video ter Verduideliking

Die uiteenlopende reaksie op die besluit van die 2016 buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk is 'n aanduiding dat die fokus nie op "wen" en "verloor" moet wees nie, maar eerder op die hantering van hierdie diversiteit van standpunte.
Daarom is dit belangrik om te let op die eerste punt van die besluit, wat sê: "Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie."
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen (ASM), verduidelik in 'n video wat die besluit beteken.  
Jasper Louw
2.2 Oos-Kaapland vra Gasvryheid, Openheid
Die moderator van die jongste Oos-Kaaplandse sinode, Jasper Louw, vra in 'n skrywe aan predikante vir openheid en gasvryheid teenoor alle lidmate van die kerk. Die versoek volg op die besluit van die buitengewone Algemene Sinode. Hy skryf:
"Dit is ons taak as leraars om ons lidmate te begelei om alle mense wat deur God se genade Sy kinders is, in die gemeente(s) te laat tuis voel en alle lidmate op te roep tot onderlinge liefde en omgee vir mekaar, sodat ons deur ons optrede, die wêreld kan bewus maak daarvan dat ons 'n God van Liefde en Omgee dien." Die volledige brief is hier beskikbaar. (Met dank aan Grens.Pos van 24 November 2016).
Getuienisaksie logo
3. Getuienisaksie
3.1 Strategiese Beplanning

Die Eenheidsbediening van Getuienisaksie, bestaande uit die RCA (Reformed Church in Africa), VGK en die NGK het Dinsdag opnuut besin oor die uitdagings van ons NG Kerkfamilie se getuienistaak in ons streek. Die areas wat as fokus vir die komende jaar geteiken word, is  Evangelisasie, Bendegeweld, en die Oos-Kaap-bediening. Getuienisaksie het ook opnuut sy begronding as eenheidskommissie, oor die afgelope meer as 20 jaar, bevestig en onderneem om onverpoosd aan die eenheid van die kerk te werk.
Op die foto onder is Getuienisaksie se Uitvoerende Komitee besig om te besin oor hul getuienistaakuitdagings.
Getuienisaksie beplanning
Vlnr: Chris Vergotine, Carin Brink, Llewellyn MacMaster, Eddie Orsmond, Robert Knobel, Vuyani Minya, Braam Hanekom, Xolile Simon, Joseph Ntlatywa, Francois Wessels (kyk af), Jan Grobbelaar (net deels sigbaar), Dondald Gantana (sy gedraai na die kamera) en Kobus Odendaal
Werkers tel rommel op
3.2 Straatwerk:
Sigbaarheid en Stille protes

Vir Straatwerk is dit belangrik dat al hul bedieninge ’n praktiese, sigbare getuie-nis in die middestad van Kaapstad moet uitdra. Dikwels ook in die middel van die nag.
Deur die jare het hulle besef dat, deur die dra van helderkleurige glimbaadjies met ’n boodskap op, ’n klomp dinge gelyktydig gebeur – jou bediening raak bekend, dit kweek vertroue en jy raak deel van ’n stille protes met glimbaadjie-woorde soos: "Valuable to Jesus – stop abuse, prostitution and pornography". Op die foto is werkers besig met opruimwerk as deel van Straatwerk se Ophelp Projek. Op die rugkant van hul baadjies staan die woorde "Jesus Saves". Lees meer hier
Plaasbediening
4. Arbeidsbediening George
Die Bestuurspan van Arbeidsbediening George nooi alle plase en ander sake-ondernemings uit om hulle te nader tov die geestelike ondersteuning van hul personeel. Dié groep se plaasbediening en dissipelskapgroepe groei daagliks en daar word sommer hier op die oujaar nog so 'n paar nuwe groepe begin!
Daar heers ook groot opwinding oor die Lewensvaardigheidsprogram vir die plaasopset, wat nou 'n uitbreidende fase ingaan. Hulle wil graag saamwerk met alle plaaslike denominasies.
Kontak Betsie Fourie by tuinroete.arbeidsbediening@gmail.com. Lees meer van Arbeidsbediening by http://www.arbeidsbediening.co.za/.
5. Badisa: 16 Dae van Aktivisme
Belegging in Voorkoming

Met die fokus op die 16 Dae van Aktivisme Veldtog vir Geen Geweld teenoor Vrouens en Kinders (jaarliks tussen 25 Nov en 10 Des), wil Badisa die feit beklemtoon dat geweld aangeleerde gedrag is wat voorkom kan word. 
Gedurende die afgelope jaar het Badisa kinderbeskermings- en intervensiedienste aan 26 719 kinders in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap gelewer. Badisa wil gemeenskappe bewus maak daarvan dat geweld teen kinders en vroue nié ‘n regerings- of kriminele aangeleentheid is nie, maar ’n samelewingsprobleem. Lees hulle mediaverklaring.
16 Dae van Aktivisme - Badisa
Stephan Joubert
6. Sinode van Oos-Kaapland
6.1 Stephan Joubert reis saam met Sinode
Die formidabele kenner van die Nuwe Testament en spreker van formaat, Stephan Joubert van e-Kerk, het die sinode bygewoon en elke dag opgetree. Hy het wonderlike geestelike insette gelewer. Naas sy kort boodskap by elk van die vier dae se dagwydings, het hy ook 'n lesing oor leierskap en missionale gemeentes gelewer.
Klankopnames van Stephan se insette is hier beskikbaar (klik op die onderstreepte gedeelte):  Dag 1, Dag 2, Dag 3 en Dag 4.  
Lesers is ook welkom om te luister na sy bydrae oor Leierskap in Gemeentes en Missionale (Gestuurde) Gemeentes.
Met dank en erkenning aan Grens.Pos, die NG Kerk in Oos-Kaapland se nuusbrief.
Theuns Eloff
6.2 #FeesMustFall: inset deur Theuns Eloff
Theuns Eloff, voormalige rektor van die Noordwes Universiteit en tans uitvoerende direkteur van die FW De Klerk-stigting, het tydens die sinode gesê die #FeesMustFall-beweging gaan oor baie meer as klasgeld. Dit is 'n middelklasverskynsel van mense wat meer wil hê. Dit het ook te doen met swart studente wat ontuis op kampusse voel, en die filosofie van mense soos Steve Biko.
Die afgevaardigdes het Eloff se voorlegging uiters relevant en ter sake gevind. Klik hier vir 'n klankopname van sy toespraak. (Met dank aan Grens.Pos van 17 November 2016). 
Afrika Kersboom
7. Sinode van Wes-Kaapland
Kersvakansie 2016
Die Sinode van Wes-Kaapland se verskillende afdelings (diensgroepe en taakspanne) word in die sinodale kantore in Bellville en op Stellenbosch gehuisves. 
Die meeste afdelings sluit vanjaar op 15 Desember vir die Kersvakansie. Spesifieke datums vir die sluiting vir die Kersvakansie, sowel as kontakinligting vir dringende navrae, word aangeheg. Let asb daarop dat Vrydag 16 Desember EN Dinsdag 27 Desember vanjaar openbare vakansiedae is (klik hier). 
Ons waardeer elke gemeente, diensverskaffer en ander individue se ondersteuning, gebede, kundige raad en vriendelike hulp aan die sinodale kantore. Mag ons in 2017 daarin slaag om steeds goeie diens te lewer tot uitbreiding van die koninkryk.
US Teologie
ALGEMEEN
1. Gesamentlike legitimasie - Stellenbosch
Die Kuratorium berig: die Kuratoria en Proponents-kommissies van die NGK Wes-Kaapland en die VGK Kaapland vergader vanjaar op 24 November.
Die legitimasie van kandidate vind op Sondag 27 November om 15:00 plaas in die VGK SA Gestig in Belhar. Die prediker is prof Dirkie Smit en tydens hierdie besonderse geleentheid ontvang hy ook die Akte van Emeritaat.
Ons wens elke kandidaat by voorbaat die Here se seën vir hulle toekomstige bediening toe.
Gelukwense aan elke trotse ouer en ondersteuner!
(Meer hieroor volgende week.)
2. Hugenote Kollege bied Splinternuwe Kursus!
Hugenote Kollege kondig met trots aan dat hulle van volgende jaar af 'n splinternuwe kursus in die Program: Teologie en Bediening aanbied, nl "Sertifikaat vir Nuwe Geloofsgemeenskappioniers".
“Dié kursus sorg vir groot opwinding in die kerklike konteks, asook in die geskiedenis van Hugenote Kollege, want die ontwikkeling van nuwe geloofsgemeenskappe is iets was wat baie na aan die hart van die stigter van Hugenote Kollege, Andrew Murray, was,” sê Willie van der Merwe, rektor van Hugenote Kollege. Klik hier om meer te lees en 'n brosjure met inligting oor die kursus af te laai.
Hugenote Kollege collage
3. Wêreldbiddag vir Vroue: 3 Maart 2017
"My genade is vir almal"

Diegene wat besig is met beplanning vir volgende jaar, kan gerus kennis neem van die datum en tema vir 2017 se Wêreldbiddag vir vroue. Dit word altyd op die eerste Vrydag in Maart gedenk en volgende jaar is die skrywersland die Fillipyne. Hulle het "My genade is vir almal" ("Am I being unfair to you?" in Engels) as tema gekies, met Matt 20: 1-16 as teks. Kry inligting hier en bestel vroegtydig die brosjure. 
Wereldbiddag vir vroue 2017
4. US Woordfees: Geloof op die Markplein
Die gespreksreeks “Geloof op die Markplein” is volgende jaar weer deel van die US Woordfeesprogram (3 -12 Maart 2017) – en iets om na uit te sien as jy krities dink oor die aktuele sake van die dag.
Johan van der Merwe (NG Moedergemeente Stellenbosch) is die bekwame gespreksleier en die volledige program vir sy gespreksreeks sal op 1 Februarie 2017 aanlyn by www.woordfees.co.za beskikbaar wees. Vir diegene wat solank die Woordfeesprogram wil bekyk, klik hier
Woordfees 2017
5. Land Cruiser of Land Rover: ek wéd jou!
Die stryd tussen ’n Toyota Land Cruiser en ’n Land Rover kom ’n lang pad in ons land. As jy een van die 4X4-brigade is, iemand ken wat sweer by dié model of daardie naam – of self al in die Transkei gereis het, kan jy gerus hierdie verhaaltjie op ’n ligter trant uit die ou sendingdae in Transkei lees. 
“Vandag ry ek nog dikwels die pad tussen Lusikisiki en Bambisana. En wanneer ek in die Mthafufuvallei afry, wonder ek om watter draai die gebeure afgespeel het,” skryf Christo Wooding. 

Christo en Deleste Wooding is die predikantspaar van die VGK Kokstad. Hulle besondere verbintenis met ons sinode (onder meer deur Getuienisaksie en individuele gemeentes) strek oor baie jare.
Wooding-egpaar en voertuie
Sharon Cithabathwa
6. Sharing Bread – with Love
A baker in Hout Bay is using her gift to give teenagers a chance.
Sharon Cithabathwa is the owner of Nourish Bakery in Imizamo Yethu, an informal settlement in Cape Town. She makes cost- effective, high quality bread and baked goods for her community, while persuading local teenagers to help her. The kids learn a skill, stay out of trouble and gain oppor-tunities for future employment.
Volg die skakel om geïnspireer te word deur ‘n vrou se eenvoudige droom, haar geloof en hoop. En harde werk.

7. Die Pelgrimstappers Stap Voort
Vyftien dae, 330 km, moeë lywe . . . maar agt harte vol hoop vir Suider-Afrika, skryf Michiel Strauss oor die ervaring van agt stappers op die Pelgrimstog van Hoop. Die staptog het op Sondag 9 Oktober voor die Rynse kerkgebou op die Braak in Stellenbosch begin. Agt mense, wat mekaar van geen kant af ken nie, het om 08:00 bymekaargekom om vir die eerste keer aan die Pelgrimstog van Hoop deel te neem. Lees die hele storie hier. Met dank oorgeneem uit Netwerk24.
Kontak Adrienne Bester by pelgrim@sun.ac.za of 021 808 3382 oor die staptog.
Pelgrimstappers
Bo: Die agt stappers staan reg,  en op dag vier voor die Wolfkloof gasteplaas naby Caledon 
Onder links: Die eindpunt by Kaap Aghullas en die Franschhoek berge (dag drie)
8. Skilder vir Bybels
Toe John Morgenrood as jongmens begin skilder het, moes hy sy eie kwassies maak uit riete, maar hy sê hy het sy skildertalent van die Here ontvang en wou graag iets teruggee. In 1982 het hy 'n skildery wat hy gemaak het van Tafelberg aan die destydse Bybelfonds van Die Burger geskenk.
Vanjaar het hy 'n soortgelyke skildery vir die Bybelgenootskap geskilder, 'n gebaar wat as inspirasie vir die "Een siel tot bekering"-projek gedien het. Die skildery is opgeveil ten bate hiervan.
Klik op John se foto onder om te hoor hoe hy self sy verhaal vertel en hier om die hele berig op die Bybelgenootskap van SA se webwerf te lees.
John Morgenrood
Post-truth
9. Kerkwees in 'n Nuwe Wêreld
Met Brexit en Donald Trump steeds hoofnuus, het Oxford Dictionaries pas aangekondig dat "post-truth" hulle internasionale woord van die jaar is.
“Post-truth” word gedefinieer as “relating to or denoting circumstances in which objective facts are less influential in shaping public opinion than appeals to emotion and personal belief”. Die gebruik van die woord het in die konteks van die EU-referendum en VSA-verkiesing blykbaar met ongeveer 2000% in vergelyking met 2015 toege-neem.
Om relevant kerk te wees in ’n tyd waar sosiale media toenemend ons menings beïnvloed – en “die waarheid” skynbaar meer irrelevant word, is ’n uitdaging soos min. Lees hier verder.
Dankie vir elkeen wat ons predikante en ander kerkleiers ondersteun in hulle groot taak om leiding in hierdie "post-truth" samelewing te gee.
En terloops, ’n kykie na die woorde wat oorweeg is vir HAT se woord van die jaar, vertel ’n eie verhaal oor die wêreld waarin die kerk en geloof mense moet help om sin en betekenis te vind. Sien hier.
Ken Carter
 10. Fresh Expressions and Networks
“Networks are displacing neighborhoods as our source of community.” (Ken Carter). Instead of going to church, "third places" (like coffee shops, digital media, sport clubs) are becoming essential for civic engagement and community. 
How does your church compare to some of the basic characteristics of these places? 
* there are no economic barriers to entrance; 
* there is food and drink; 
* the space is highly accessible; 
* there are regulars, who are usually present, and
* newcomers, who are welcomed and received with ease,
* it has the quality of a neutral space, 
* the dominant mode of communication is conversation, and
* the mood is playful.
Read more here.

11. Stryd of Diens? Perd en Donkie ...
Neels Jackson, redakteur van Kerkbode, is 'n gesiene joernalis en altyd op soek na 'n beter verstaan van Jesus.
Klik op die foto langsaan om te luister na sy voorlesing van sy gedig, "Perd en donkie". Dit bied ook 'n blik op Jesus, gepas vir ons tyd. Belangstellendes kan die volledige teks hier lees. Dankie, Neels!
GEMEENTENUUS
Jeugkoor by Parowvallei-Oos belydenisaflegging

Die SA Youth Choir het die NG Gemeente Parowvallei-Oos by die belydenis-aflegging op Sondag 20 November besoek. Een van hulle lede, Samantha Koegelenberg, (heel links op die foto in rooi) was deel van die groep wat belydenis afgelê het. Hulle het pragtig gesing in die kerk en sommer ’n impromptu vertoning gelewer terwyl daar na die tyd saam verversings geniet is. 
Eric en Adri Botha
PREDIKANTENUUS
1. NG Gemeente Richmond
Eric en Adri Botha gegroet

"Dit voel so 'n kort tydjie tussen my ordening en emeritaat. Dit is egter met groot dankbaarheid wat 'n mens oor die jare en die groot voorreg om in die bediening te wees in die kerk waarvoor ek baie lief is, terugdink.
My voltydse gemeentes was Newcastle-Suid, Eldoraigne, Badplaas en Richmond. Dit was verrykend om deel van vier sinodes te wees en ek is bly dat ek in die Wes-Kaap kon eindig.
Dit is genade om met so baie mense in lief en leed ‘n pad te loop en die Blye Boodskap te verkondig. ‘n Groot dankie vir alle predikante, broers en susters vir die besondere belewenis van eenheid by konferensies, ringe, sinodes en ander geleenthede. Die Here het vir my in Adri ook ‘n wonderlike vrou gegee wat ook met entoesiasme die pad saam met my geloop het.”
Eric en Adri verhuis na Hartenbos. Sy afskeidspreek is op So 27 November in die NG Gemeente Richmond, waar hy sedert 2007 in die bediening was. Ons bid julle baie seën toe vir die nuwe paaie wat voorlê.
Johan en Riette Morkel
2. Johan en Riëtte Morkel neem afskeid
Na 36 jaar in die bediening, tree Johan Morkel van NG Kuilsrivier-De Eike op 30 November af. Hy lewer sy afskeidspreek op Sondag 4 Desember.
Johan skryf soos volg oor sy jare as leraar: "As ek oor my bediening terugkyk, besef ek watter voorreg ek gehad het om 36 jaar lank met mense te kon werk.  En dan nog die verdere voorreg om met mense te gesels oor die Here en sy koninkryk! Dit sluit alle fasette van die bediening in: huisbesoeke, kleingroepe, jeugkampe, pastoraat en prediking! 'n Verdere hoogtepunt was om verlede jaar gemeentes in die afgeleë dele van Mosambiek te besoek. Ek en Riëtte gaan in Kuilsrivier aftree en ek sal graag nog betrokke wil wees waar ook al geleenthede vir my kom.  Ek sal voortgaan om my stokperdjie, bonsais, te beoefen en bly verder fiks(!) deur rolbal te speel". 
Johan en Riëtte, vele gesonde en gelukkige jare toegebid!
Chris en Mientjie Malab
3. NG Gemeente Kleinmond
Welkom aan die Malans!

Hartlik welkom aan Chris en Mientjie Malan, nuwe leraarspaar in die NG Gemeente Kleinmond. Chris was tot onlangs leraar in die NG Gemeente Lynnwoodrif.
Hy vertel: "Ons gesin lief ons baie cute, pavement-special troeteldiere, saam-kuier en kaart speel, saam-lag en lekker saam-eet, ons lief die see, berge en die Bosveld, en ons lief om die Here se goedheid oor ons te vier.
Ek lief prediking en nuwe lewensverhale saam met mense maak, en natuurlik ‘n lekker pot tennis en tuinmaak."
Mientjie is 'n Graad 1-onderwyseres en die
Malan-kinders, Christiaan en Lize, is volgende jaar albei met studies besig. Chris is vanaf 1 Desember amptelik in diens van die NG Gemeente Kleinmond, met sy intreepreek eers na afloop van die skoolvakansie op So 15 Januarie 2017. Mag julle ervaar hoe die Here julle op nuwe maniere seën en lei – julle is baie welkom!
4. NG Stellenbosch-Wes bevestig Pieter van der Walt
Die bevestiging van Pieter van der Walt (PSD: Teologiese Navorsing) as gekoppelde leraar aan die NG Gemeente Stellenbosch-Wes, vind plaas op Sondag 27 November om 09:30. Daniël de Wet is die prediker, met Frederick Marais wat Pieter sal bevestig. Almal is baie welkom.
Baie seën vir hierdie besondere geleentheid, Pieter!
Pieter vd Walt bevestiging
5. Charl van Schalkwyk gegroet
Spesiale Geskiedenis van Bevestiging

Charl van Schalkwyk, sedert 2008 predikant by die NG Gemeente Velddrif (en voorheen by NG Lichtenburg-Oos en Augrabies) het 'n beroep na die NG Gemeente Volksrust in die Oostelike Sinode aanvaar. Sy intreepreek vind op So 11 Desember plaas.
Charl vertel 'n mooi verhaal: hy was besonder bevoorreg deurdat hy op 27 November 1993 in sy eerste gemeente, NG Lichtenburg–Oos, deur sy vader, ds Charl van Schalkwyk (sr), bevestig is. Op 4 Junie 2016 het hy sy dogter, Etresia, in haar eerste gemeente, NG Escombe, bevestig. Op 9 Desember vanjaar sal Etresia op haar beurt die voorreg hê om haar pa in Volksrust te bevestig … voorwaar 'n spesiale stukkie geskiedenis vir die familie (en dalk ook uniek in die NG Kerk?). 
Baie seën in die nuwe omgewing, Charl en Annerine!

Die Van Schalkwyk-gesin
Annerine, Etresia en Charl van Schalkwyk
Cassie Wait
6. NG Kuilsrivier-Digtebij bou brug saam met Cassie Wait
Op Sondag 20 November 2016 is Cassie Wait (voorheen NG Sonstraal) as brugpredikant in die NG Gemeente Kuilsrivier-Digtebij bevestig.
Cassie laat weet dat hy dankbaar is om deel te wees van hierdie kleiner geloofsgemeenskap - hy beskryf die liefde en waardering wat hy daar geniet, as absolute vreugde.
Baie seën en insig vir jou bediening toegewens, Cassie.

7. Ons hoor die Klokke lui ...
VrydagNuus deel graag in die vreugde van twee kollegas.

Vir Anton Duvenage (NG Gemeente Onrusrivier) en sy mooie Bianca Engelbrecht lui die huweliksklokke op Vrydag 25 November, wanneer hulle deur Anton se pa, Why Duvenage (NG Stellenberg), in Riebeek-Wes in die huwelik bevestig word.

Ons is terselfdertyd saam met Peter Kotze (NG Gemeente Stellenberg) dankbaar en opgewonde, want sy vriendin, Chané Pienaar, het hom verlede naweek die ja-woord gegee! Chané verhuis aan die einde van die jaar uit Rustenburg Kaap toe om haar loopbaan as arbeidsterapeut hier voort te sit.

Mag julle elkeen die Here se seën en sorg op julle gesamentlike paaie ervaar.

Bianca en Anton Duvenage
Bianca en Anton
Peter Kotze en Chane Pienaar
Peter en Chané
EKOLOGIE
1. Een met God en die Natuur
Die tradisie van die mistiek het dit nog altyd reggekry om die beste te verstaan dat ons verhouding as Christene met God die natuur insluit, omdat ons een is met die natuur en met God.  Lees hier hoe Thomas Merton (1915 -1968) vanuit 'n plek van vereenselwiging met en deelwees van die natuur met God praat.
2. Die See rig 'n Waarskuwing
In die meegaande video (klik langsaan) praat akteur Harrison Ford namens die oseane van die aarde.
Hierdie is een van 'n reeks kort video's wat deur Conservation International gemaak is en waarin bekendes (oa ook Julia Roberts, Kevin Spacey en Liam Neeson) elk 'n faset van die natuur verteenwoordig en die kyker daarvan probeer bewus maak dat die aarde versorg moet word, en nie langer uitgebuit, geplunder en vernietig kan word nie.
Die slotboodskap is telkens: Die natuur het nie mense nodig nie. Mense het die natuur nodig. 
Versoening
PUBLIKASIES
1. CLF: 
Versoening, Hartsverandering!
“Versoening is ’n gesindheidsverandering ..., dis leer om mekaar in die oë te kyk en mekaar se harte raak te sien.”
Met die oog op 16 Desember, Versoeningsdag, verskaf CLF (Christelike Lektuurfonds) wenke en materiaal wat jou kan help om met nuwe oë na ander te kyk en ’n positiewe versoeningsrol in jou eie omgewing te speel. Lees meer hier.
2. Week van Gebed 2017: Vrygemaak deur God wat Hoop gee
Riglyne vir 2017 se Week van Gebed, soos saamgestel deur die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis van die NG Kerk-familie, is nou in Afrikaans en Engels beskikbaar.
Helené Fouché (NG Kuilsrivier), Akash Sirpal (RCA), Henco van der Westhuizen (NGK), Derick Myburgh (VGK), Myrtle Joubert (VGK) en Ntozakhe Simon Cezula (VGK) is die lede wat die riglyne verskaf het. Kry dit hier op CLF se webwerf.

CFL-mashoof
KUIERKANS
Gemeentes is druk besig met Kersmarkte en Kerssangdienste. Hou gerus die sinode se Facebookblad en Twitter hiervoor dop en ondersteun hulle waar moontlik.
Verplaas
NG Sonstraal Kabaret
1 Desember 2016
NG Swellendam Kerssangdiens
NG Swellendam Kerssangdiens
4 Desember 2016
3. NG Greyton Kerssangdiens 27 November
Marius Greeff van Greyton laat weet dat hul Kerssangdiens vanjaar weer die hele gemeenskap betrek. Kore wat optree is die Greyton Gemeenskapkoor, die skoolkoor van Greyton Primêr, die kleuterskoolkoor en die Genadendal Koper-blaasorkes wat van die begeleiding saam met die orrel gaan doen.  Sien onder vir meer besonderhede.

Greyton Kerssangdiens 2016
Sinode-logo
VAKATURES
1. NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland)
Twee PSD-vakatures

Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) maak twee vakatures vir predikante in sinodale diens (PSD's) bekend. Kry meer inligting hieronder.
1.1 PSD: Predikantebegeleiding
Die Sinode van Wes-Kaapland maak 'n vakature vir 'n Predikant in Sinodale Diens: Predikantebegeleiding bekend en nooi alle belangstellendes wat daartoe geroepe voel om hulle vir hierdie pos beskikbaar te stel. Die sluitingsdatum is 27 Januarie 2017. Lees hier meer.
1.2 PSD: SKDB (Barmhartigheid)
Die Sinode van Wes-Kaapland maak ook die vakature vir ’n PSD: SKDB – Sinodale Diensgroep vir Barmhartigheid – bekend. 
Die ideale kandidaat is ’n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk wat aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit in ervaring en kennis met betrekking tot missionale diakonaat en 'n duidelike roeping om gemeentes in hulle dienswerk te ondersteun. Lees aangheg meer hieroor en let op die sluitingsdatum van 10 Januarie 2017.
Badisa logo
2. Badisa 
Maatskaplike Werker Koue Bokkeveld
Badisa Koue Bokkeveld is ’n program van Badisa, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke word vir hierdie voltydse betrekking ingewag. Die sluitingsdatum is 15 Desember 2016. Lees hier meer oor die vereistes, verantwoor-delikhede en byvoordele.
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

KB-mashoof
Andre Olivier
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Andre Olivier
In "The Alchemist" gaan die skaapwagtertjie op reis om sy droom te verwesenlik. Hy eindig dan waar hy begin het, net om dit beter te verstaan. So leef en werk ek waar my lewe begin het, in Namibië. In hierdie semi-woestyn met sy stryd tussen water en woestyn.

In die bediening vloei die water van die evangelie altyd teen die weerstand van die woestyn in, soos in Esegiël 47. Die woestyn is die simbool van leweloosheid of die groot leuen dat die kerk liefdeloos, onbeholpe en uit pas is. Die kerk het altyd 'n gebroke gestalte in die wêreld, en tog is dit Christus se liggaam. Ons gebrokenes en alle gebrokenes se tuiste.

Die goeie nuus is dat die water altyd sterker is as die woestyn. Ek bly glo in die Water, en in die liggaam van Christus. 
                                                                 ***
Andre Olivier is 'n gewaardeerde ou bekende in ons sinode: hy was voorheen predikant in Villiersdorp, Piketberg en Kaapstad, voordat hy hom in 2011 in Aranos in Namibië as boer gaan vestig het. Hy is predikant van die NG Gemeente Aranos en moderator van Namibië. Kontak hom by arolivier@iway.na.
“On the basis of the eternal will of God we have to think
of EVERY HUMAN BEING, even the oddest, most villainous or miserable,
as one to whom Jesus Christ is Brother and God is Father;
and we have to deal with him on this assumption.
If the other person knows that already, then we have to strengthen him
in the knowledge. If he does no know it yet or no longer knows it,
our business is to transmit this knowledge to him.” 
- Karl Barth, The Humanity of God

Vriendelike groete - tot ons laaste uitgawe van 2016 volgende week verskyn.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za