Lees deur internet, klik hier >>
25 Februarie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Totsiens Bossie
Bossie Minnaar se afskeidsgeleentheid is Woensdagaand by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit gehou. Familie, vriende, sinodale personeel, kollegas en lede van die moderatuur het die funksie bygewoon om ons voormalige Saakgelastigde te groet. Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland, het die akte van demissie aan Bossie oorhandig.
Wêreldbiddag vir Vroue: 4 Maart
Wêreldbiddag (World Day of Prayer) is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging wat deur Christenvroue gelei word. Hulle nooi ons om deel te neem met gebed en aksie om vrede en geregtigheid te bewerkstellig.

Die Wêreldbiddag word jaarliks in meer as 170 lande op die eerste Vrydag in Maart gevier. 2022 se tema is deur Engeland, Wallis en Noord-Ierland voorberei en is: “I know the plans I have for you.”
Klik hier vir agtergrond oor die land en tema, asook gratis hulpbronne en aktiwiteite vir kinders. 
Kapelmeester Elna Mouton groet
Op Maandag 28 Februarie tree professor Elna Mouton na drie jaar uit as kapelmeester van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington. Sy sal om 18:00 vir eers haar laaste kapelbeurt waarneem en daarna is daar 'n afskeidsfunksie saam met familie en vriende. Dit is egter nie vaarwel nie, aangesien Elna só deel geword het van die geloofsgemeenskap by die sentrum dat sy graag haar verbintenis wil behou. Sy sal in die toekoms as inwonende teoloog op ‘n ad hoc basis ondersteunende gesprekke voer met skrywers by die sentrum en waar nodig kapelle aanbied. Kamer 17, waar sy as student gewoon het, sal tot haar beskikking gestel word.
Lees hier die groetboodskap van die sentrum se bedryfspan.
Kontekstuele Bybellees verskerp jeugfokus
Op Saterdag 19 Februarie het 24 jongmense van die VGKSA Ring van Port Elizabeth ’n werkswinkel Kontekstuele Bybellees (KBL) bygewoon. Dit is gefasiliteer deur ds. Babalwa Sifuba, KBL-koördineerder en -opleier en ds. Mawande Soga, leraar van VGK Motherwell en KBL-fasiliteerder. Dit was ’n besondere ervaring vir die jeug – iets wat hulle veral nou in die skadu van COVID-19 baie nodig het. Lees meer daarvan hier
Foto: Van ons jongmense tydens die KBL-werkswinkel
Aswoensdag vir gesinne
DinkJeug deel ‘n hulpmiddel vir gesinne om saam oor Aswoensdag (2 Maart) te dink en te gesels. Aswoensdag is die eerste dag van Lydenstyd, tradisioneel ‘n tyd van vas en bekering. Gesels saam oor hierdie vier Bybelverse en dink na oor die betekenis van as en stof in die groter storie van die Bybel.
Laai die hulpmiddel hier af. 
Getuienisaksie herfokus vir ’n nuwe normaal 
Op Maandag 14 Februarie het die dagbestuur van Getuienisaksie (foto bo) by die Zikomo vakansiewoonstelle in die Strand vir hul eerste belangrike vergadering van die jaar byeengekom. Dit is gedoen onder die bekwame voorsitterskap van Danie Möller en Getuienisaksie se diensgroepkoördineerder Stephen Pedro. Die byeenkoms is afgeskop met ‘n strategiese beplanningsessie waartydens daar onder andere besin is oor hul fokusareas en waarop daar in die toekoms binne hierdie areas gekonsentreer moet word, gegewe die impak van die COVID-19-pandemie op ons gemeentes. Tydens die bestuursvergadering later die middag is ds. Clive Jacobs van VGK Stellenbosch as nuwe mede-voorsitter gekies.
Lees meer hier
GHBM neem afskeid
Na meer as 32 jaar by die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid (SKDB) en Goeie Hoop Behuisingsmaatskappy (GHBM) groet ons die maand vir Antoinette Joubert, wat met vervroegde pensioen gaan.
Antoinette het by SKDB begin werk en was verantwoordelik vir die medies en pensioene van die instansies. Sedert 1992 het sy ook die boekhouding van die GHBM behartig. Die werksaamhede vir die mediese fonds is later aan Badisa oorhandig.
Marius Wethmar skryf: "Antoinette en haar unieke persoonlikheid sal gemis word.  Ons wens haar net alles wat mooi is vir die toekoms. Alle voorspoed met hierdie nuwe seisoen in jou lewe. Sweef soos ‘n arend."
Seënwense vir jou pad vorentoe, Antoinette.
Vriende van Arbeidsbediening Mosselbaai
Op Donderdag 10 Februarie was Hartenbos Rolbalklub weer die gasheer van Arbeidsbediening se gewilde jaarlikse geleentheid. Soos gewoonlik is daar aan die Vriende van Arbeidsbediening terugvoer gegee oor hul evangelisasiebediening in Mosselbaai en omgewing. Lees meer oor hierdie inspirerende byeenkoms hier
Hoe lyk die toekoms?
Die Sentrum vir Publieke Getuienis bied op 3 Maart 'n dagkonferensie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington aan waar hulle na die toekoms kyk deur 'n aantal lense: ekonomiese, politieke, sosiaal-maatskaplike, kerklike en gelowige. 
Die kundige paneel van sprekers sluit in: prof. André Roux (IFR), Christine Quickfall (Badisa), Zanne Horrell (IFR), Heindrich Wyngaard en prof. Kobus Schoeman (UV).
Kostes hiervoor beloop R100 per persoon. Daar is ook die opsie om by die AMSS oor te slaap teen R400 per persoon om dan deel te neem aan die debriefing-gesprekke tot 10:30 op 4 Maart. Kontak gerus vir Annelie om te registreer by spg@kaapkerk.co.za. Meer inligting is hier beskikbaar. 
KleuterKIX nou hier
Die eerste Afrikaanse handleiding van KIX Kinderbediening se splinternuwe kleutermateriaal is nou op hul webwerf beskikbaar!
Hierdie materiaal is vir almal wat met 3-5 jariges werk en ideaal om in ‘n VKO-dagprogram te gebruik. Elke handleiding bevat 20 Bybelstories en elke storie het vyf idees met aktiwiteite en speletjies wat daarby pas. Dit is jou keuse of jy die aktiwiteite apart doen of op een dag kombineer en aanpas (tuis of by die skool) volgens jou kleuter of groep se behoeftes.
Kyk uit vir die res van hierdie materiaal wat (ook in Engels) stelselmatig bygevoeg sal word. Laai die handleiding hier af. 
Member Care
Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Getuienisaksie se Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, het verlede week met Marina Prins, bestuurder van Member Care Southern Africa, in Stellenbosch ontmoet. Marina is ook die Member Care-konsultant vir die Movement for African National Initiatives. Member Care is ’n nie-winsgewende sendelingondersteuningsorganisasie wat fokus op die versorging van sendelinge.
Aangesien Marina vir jare lank ’n sendeling in Malawi was, ken sy die uitdagings en vreugdes van kruiskulturele werksomstandighede. Sy het ook ‘n baie goeie idee wat die geestelike en emosionele behoeftes van sendelinge is en ook as hulle moet terugkeer en weer hier in Suid-Afrika moet aanpas. Marina help ook gemeentes om, voordat hulle sendelinge uitstuur, hulle voor te berei om die onbekende konteks te verstaan en hoe die kruiskulturele kommunikasie werk. Sy is betrokke by die ontwikkeling van Member Care-materiaal en -opleiding, spesifiek vir die Afrikakonteks. Kontak haar gerus by membercaremc@gmail.com vir meer inligting.
EKOLOGIE
Wêreld Ysbeerdag
Internasionale Ysbeerdag vind elke jaar op 27 Februarie plaas met die doel om bewustheid oor die kwessies wat ysbere in die gesig staar te verhoog. Ysbere is reeds sedert 1973 op die International Union for Conservation of Nature (IUCN) se rooilys van bedreigde spesies en hierdie dag van bewusmaking is amptelik in 2011 begin om die spesie te beskerm.  
Klimaatsverandering is tans ysbere se grootste vyand en dit is aan ons oorgelaat om aksie te neem en hulle toekoms te verseker. Met hulle habitat wat onder hulle wegsmelt, is Wêreld Ysbeerdag 'n belangrike geleentheid vir ons om onsself te herinner wat hier op die spel is sodat ons hierdie manjifieke soogdiere kan bewaar. Klik hier om 'n feiteblad te besigtig met meer inligting oor ysbere of kyk na die video onder. 
Maak jou eie voëltjievoerbak
Wat is nou meer wonderlik as om in die oggend met die vrolike getjirp van voëltjies voor jou kamervenster wakker te word? Dis aansienlik sagter op die oor as die sesuur-nuus. Maar hoe kan jy hulle daarheen lok? Dis maklik. Hierdie week vertel ons Groenspanlid Marizanne Pfeil-Wessels hoe jy met 'n keramiekpot en tou 'n voëltjievoerbak (bird feeder) in jou tuin kan prakseer. Kyk die video hier.
UIT ONS RINGE
Wesland vergader in Moorreesburg
Die Wesland Verenigende Ring (NGK Ring van Vredenburg en VGK Ring van Malmesbury) het op Maandag 21 Februarie hul sestiende Ringsitting by die Koringbedryfmuseum in  Moorreesburg gehou. Sestien gemeentes word in die Ring verteenwoordig. Die twee Ringe se grondwet is op 17 September 2004 geteken, maar die visie van die Ring is reeds in 1990 opgestel. Dit lees as volg: "As kinders van een Vader, deur een Verlosser en gedring deur een Gees verbind ons ons tot een gemeenskaplike bediening - sigbaar en wesenlik - getrou aan die Woord, in vertroue in mekaar, ter wille van mekaar, saam op weg na versoening, waarin ons mekaar help om mure af te breek en geregtigheid na 'n nuwe gemeenskap tot stand te bring."
PREDIKANTENUUS
Stellenberg groet Hanno Ackerman
Hanno Ackerman beëindig einde Februarie sy bediening as jeugleraar in Stellenberg-gemeente. Sy afskeidsdiens vind op Sondag 27 Februarie om 18:00 in die kerk plaas. Hy rig graag die volgende boodskappe aan lidmate en kerkraadslede.
"Ek wil dankie sê vir die ondersteuning en die pad wat ek saam met julle by Stellenberg-gemeente kon stap. Ek het in Maart 2020 my MBA voltooi en is dankbaar vir die ondersteuning wat ek in dié verband van die kerkraad en kollegas ontvang het. Ek is opgewonde en ook hartseer om bekend te maak dat ek ’n korporatiewe pos by ’n internasionale maatskappy in Amsterdam, Nederland aanvaar het en sal op 2 Maart my diens by Stellenberg beëindig.  Dankie vir die geleenthede, die ondersteuning, hulp, eerlikheid en die veilige huis wat Stellenberg die afgelope jare vir my en my vrou Liaan gebied het.”
Die gemeentenuusbrief Die Stellenberger het met hom gesels oor die groot avontuur wat hy en Liaannou gaan aanpak. Klik hier om die onderhoud te lees. 
Drakenstein verwelkom Van Veldens
Enslin van Velden word op Sondag 6 Maart by NG Gemeente Drakenstein in die Paarl bevestig. Hy is in 'n vastetermyn leraarspos vir die volgende drie jaar aangestel. Louwrens Scheepers sal die bevestiging waarneem.
Enslin was 'n kapelaan in die weermag en het die gemeentes van Philipstown, Harrismith Moedergemeente, Ventersdorp, Suiderkruis Potchefstroom, Bergtuin Pretoria en Somerset-Oos bedien. Hy was ook 'n dosent by Petra Kollege.
Enslin se pa, twee broers, 'n skoonseun en skoondogter is almal predikante. Hy is getroud met Susarie, 'n opgeleide musiekon­derwyseres en gekwalifiseerde orreliste. Hulle het drie kinders.
Baie welkom in die Boland, Enslin en Susarie.
GEMEENTENUUS
Montagu op RSG
Elsabé Wright, skriba van Montagu-gemeente, het vandeesmaand met Lizelle de Bruin van Sondag-Joernaal op RSG gesels oor die gemeente se bediening aan hulle gemeenskap. Hulle barmhartigheidskomitee het 'n projek begin om inwoners te help met kwessies soos munisipale waardasies. Hulle het 'n netwerk geskep met plaaslike eiendomsagente om hulle eie lidmate sowel as mense uit die breër gemeenskap te help met geskille rondom eiendomswaardasies.
Luister gerus hier na die program - Elsabé se onderhoud begin op 11min10s.
Dowe Bybels vir Afrika
Rocco Hough, wat betrokke is by die vertaling van die Bybel vir Dowes in beide Afrikaans en Engels, vertel dat die Here die Dowes van Afrika geseën het en ’n uitkoms gegee het aan hulle groot behoefte om ’n Bybel te kry wat hulle kan verstaan.
“Een van die Dowe pastore van Ghana wou baie graag van hierdie Bybels koop, maar dit het langer as ’n jaar geneem voordat hy twaalf Bybels kon kry. Die probleem is die vervoer en aflewering wat in verskillende lande in Afrika baie groot uitdagings bied. Ons het uiteindelik daardie twaalf Bybels met ’n koerier na Ghana gestuur, waarvoor ons vier maal meer moes betaal as wat die Bybels self kos. Daar is baie van die tien miljoen Dowes in Afrika wat graag ’n verstaanbare Bybel wil hê. 
Daarom het ons begin met ’n projek: Dowe Bybels vir Afrika. Ons wil ’n netwerk skep en vir alle gelowiges wat in Afrika reis, vra of hulle ’n paar Bybels kan vervoer tot daar waar hulle gaan. Ons wil graag vir elke gemeente vir Dowes in Afrika drie Bybels skenk en gaan probeer om met ons netwerk hierdie Bybels by hulle te kry. Indien hulle meer as drie Bybels wil hê (waarvoor ons bid) kan hulle ’n bestelling plaas by die Bybelgenootskap en ons sal ook probeer om daardie Bybels vir hulle kosteloos te vervoer. Daar is ’n paar van die Christen-organisasies soos Lewende Woord en Getuienisaksie wat graag vir ons hierin wil help." Klik hier om sy volledige skrywe te lees. 
Kontak gerus vir Rocco vir meer inligting by 083 292 7306 of rh@delabat.co.za. Meer inligting kan ook by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika by 021 910 8777 of die De la Bat Gemeente vir Dowes by 021 948 5000 verkry word.
Biddag vir Vroue 
Nog gemeentes beplan geleenthede rondom vanjaar se Wêreldbiddag vir Vroue. Sien gerus die onderstaande grafika vir meer besonderhede oor byeenkomste in Bellville, Welgemoed, Barrydale en Citrusdal. 
Welgemoed nooi lidmate om hulle vriendinne en huiswerkers saam te bring. Hulle begin reeds om 18:45 met mooi musiek deur Liesl Stoltz (fluit) en Michael Hoole (kitaar).
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Die Algemene Sinode het hom nie in 2019 ten gunste van selfdegeslagverhoudings of daarteen uitgespreek nie. Dit is nie ’n skande dat daar onsekerheid is nie, skryf Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk, in sy jongste Kerkbode-rubriek.
Na prof. Wentzel van Huyssteen se aftrede in 2014 as professor aan die Universiteit van Princeton in die VSA, keer hy en sy vrou Hester (Hasie) terug na Suid-Afrika en word hy buitengewone professor aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch. In 2013 beleef prof. Wentzel en sy vrou Hester ’n groot hartseer toe hulle een seun Daniël op 42-jarige leeftyd in Amerika sterf. Minder as ’n dekade later sterf prof. Wentzel en hy word oorleef deur sy vrou Hasie, seun Henk, dogters Ilze en Nina, skoon- en kleinkinders. Lees meer hier.
"Ons erken die akademiese vryheid (van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch), maar vra ook vir die fakulteit om die diversiteit van standpunte in die kerk in berekening te bring. Vryheid staan nie los van verantwoordelikheid nie," lui 'n verklaring van die dagbestuur van die kuratorium van die Wes-Kaap op 18 Februarie 2022. Die verklaring volg na ‘n week waarin heftig op sosiale media asook in Kerkbode se brieweblad beswaar gemaak is teen ‘n beplande konferensie, getiteld “Queering the prophet” van die Gendereenheid by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch.
Lizelle de Bruin se fokus op hoop en dankbaarheid het in COVID-tyd die luistertal van RSG se gewilde godsdienstige leefstylprogram Sondag-Joernaal sien opskiet. Waarvoor is sy dankbaar en wat gee haar hoop - ook vir die NG Kerk? vra Heléne Meissenheimer haar met ’n onlangse besoek by Lizelle se ateljee by Wordwise Media in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Die artikel en video is hier beskikbaar.  
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
ALGEMEEN
Bekende ontbytsessie is terug
Innovation for the Blind se gewilde Boss Breakfast vind op Woensdag 23 Maart van 09:00 tot 11:30 plaas. Dr. Marius Oosthuizen is die gasspreker en almal word vriendelik genooi om saam te kuier by Nuy on the Hill Restaurant buite Worcester.
Marius was onlangs ‘n gas op KykNet se Ontbytsake. Hy is ‘n scenario-beplanner en "global futurist” wat graag gesels oor scenarios vir die toekoms van Suid-Afrika.
Vir meer inligting of besprekings, kontak vir Chimoné Maartens by 023 347 2745 of stuur ‘n e-pos aan info@innovationfortheblind.org. Kostes beloop R250 per persoon (sluit ete in).
Raakgelees: Wie is jy werklik?
Persoonlikheidsvraelyste is deesdae gewild aanlyn. Dit wil voorkom asof jy nie deur Facebook of Instagram kan blaai sonder om oorval te word met verskeie vasvrae wat voorgee om jou verborge persoonlikheidseienskappe op te spoor, die "regte jy" te onthul of te identifiseer met watter voedselsoort of natuurverskynsel jy die meeste gemeenskaplike eienskappe deel.
Alhoewel dit dalk nie nuttig is om uit te vind watter soort toebroodjie of boom jy is nie kan assesserings soos die Myers-Briggs persoonliksheidstoets jou help om ‘n beter begrip van jouself en ander te kry. Hierdie toets is spesifiek ontwerp om mense se voorkeure te assesseer en deel persone binne sestien persoonlikheidstipes in. Dit help jou om uit te vind hoe jy die wêreld interpreteer, in die samelewing funksioneer en besluite neem.
Wil jy jouself beter leer ken? Klik gerus hier om die gratis 16 Personalities toets te doen. Dit neem ongeveer vyftien minute om te voltooi.  
TEN LAASTE
Verheerlikingsondag is die viering van Jesus se verheerliking of die Godheid van Jesus. Volgens Woord en Fees word hierdie Sondag in Engels Transfiguration Sunday genoem en dit "dui op iets wat van vorm verander, wat getransformeer word, of om iets op ’n nuwe manier te sien – soos om ’n sluier voor iemand se oë weg te neem. Dit is die ervaring wat die dissipels gehad het toe hulle gesién het hoe Jesus verheerlik word. Die sleutelteks vir hierdie Sondag (2 Korintiërs 3:12 - 4:2) fokus op gelowiges se ervaring van ’n sluier wat weggeneem word en hulle bewussyn dat dit ’n voortdurende proses in ’n mens se lewe is. Dit is ’n proses waardeur ons deurlopend nuwe perspektiewe ontdek omdat ons die heerlikheid van die Here herontdek."
Luister gerus hier na Niel van der Watt se verwerking van Heilig, Heilig, Heilig soos gesing deur die kamerkoor van die Universiteit van Missouri. 
Foto: @jadegreen/FreeImages.com
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.