Aansoeke vir internskappe nou oop!
Aansoeke vir internskappe nou oop!
Lees deur internet, klik hier >>
17 Julie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Doen nou aansoek vir internskap
Theunis Botha (PSD: Predikantebegeleiding) laat weet dat aansoeke vir internskappe nou oop is. Hierdie gesamentlike inisiatief deur die Sinode van Wes-Kaapland, die Kuratorium en Communitas bied aan afgestudeerde proponente die geleentheid om in die kerk opgeneem te word met ‘n toepaslike werksgeleentheid. Klik hier vir meer inligting.
Indien u gemeente dit oorweeg om aan die internskapprogram deel te neem, kan u kontak maak met Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za vir die aansoekvorm om te registreer. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 22 September 2020.  Let daarop dat die beroeping eers ná legitimasie op 25 November 2020 kan plaasvind.
Praktiese grensdraad-bediening
Jaco en Sandra Leeuwner, pastorale werkers van Arbeidsbediening in die Kaapse Metropool, is tans besig om tydens die COVID-19-grendeltyd vanaf hul basis in Namakwaland diens te doen. As gevolg van die jarelange droogte het hulle besluit om in dié tyd nie net op e-bediening te fokus nie, maar om ook fisies van hulp te wees vir die boere in die omgewing en lyndrade te help heelmaak. Skaapboere en hul families sal weet hoe belangrik heel lyndrade is en hoeveel skade ‘n stukkende een jou kudde kan berokken, veral as honger roofdiere begin deurglip. 
Lees meer daarvan hier.
DinkJeug maak planne vir Mandela Dag
Mandela Dag word eerskomende Saterdag 18 Julie gevier. Oudpresident Nelson Mandela se voorbeeld as dienende leier inspireer Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde om jaarliks deel te neem aan hierdie veldtog om ‘n verskil te maak deur 67 minute gemeenskapsdiens te doen.
As Christene en jeugleiers kan ons beslis hierby aanhaak, omdat dit so sterk resoneer met ons eie geloofsoortuigings. 
Lees meer of luister na die potgooi by DinkJeug se webblad hier of besoek DinkJeug op Facebook vir nog praktiese Madiba Dag idees.
'n Halwe kerk? 
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf dat die COVID-19-pandemie baie uitdagings aan ons almal kom stel het. Vir die kerk ook. "Laat ek egter eers dit sê. Gelukkig hou Christus self sy kerk in stand, oor alle eeue. Ons hoef dus nie paniekerig te raak nie, maar dit beteken nie dat ons moet ophou dink nie.
Laat ek nou my probleem verduidelik. Na die grendeltyd begin het, het gemeentes verwoed begin om aanlyn kerk te hou. Dit het onder omstandighede goed gewerk en verrassende nuwe moontlikhede vir die kerk geopen. Tog is daar beslis wesenlike dele van kerkwees wat nie aangespreek word nie." 
Klik hier om Braam se volledige skrywe te lees. 
Wat doen ons gemeentes in grendeltyd?
Met die kruin van die COVID-19-pandemie nog onderweg is baie gemeentes huiwerig om met eredienste te begin. Ons word al hoe meer bewus dat daar baie gemeentes is wat besondere uitdagings in die gesig staar om digitale bediening te lewer. Ekonomiese faktore, beskikbare tegnologie en vaardigheid speel hier 'n groot rol. Ons wil graag hoor hoe gemeentes op 'n bekostigbare, tog effektiewe manier met hulle lidmate kommunikeer. Stuur gerus vir ons stories na kommunikasie@kaapkerk om ander gemeentes te inspireer en bemoedig.
Raak deel van die GROEI-projek
Die Hoop en Versoening Trust het 'n aansoekvorm beskikbaar gemaak vir diegene wat belangstel om deel te raak van hierdie groentesaadprojek.
Gemeentes of individue word aangemoedig om aan te sluit by hierdie groen en volhoubare projek wat ook 'n geestelike oefening is wat jou nader aan God bring en jou laat besef hoe afhanklik jy van Hom is. 
Die aansoekvorm is beskikbaar in Afrikaans en Engels.  
EKOLOGIE
Pandemies is ons eie ekologiese maaksel en voorland
'n Mens hoef maar net na luisteraars en gespreksprogramme op die radio te luister en mense se bydraes op sosiale media te lees om onder die indruk te kom van hoe geïrriteerd ons nasie in hierdie grendeltyd is.
Die meeste van ons hoop heimlik dat die pandemie nou moet end kry sodat ons met ons lewens soos dit was, kan voortgaan. Of ons dring daarop aan dat die regering ten minste al die grendelinperkinge ophef sodat ons kan terugkeer na dit waaraan ons gewoond was om te doen. Hierdie hoop of aandrang hou egter nie rekening met die onontkombare werklikheid dat dit waaraan ons gewoond was, verby is nie. Klik hier om meer te lees oor wat ons eko-korrespondent David Botha hieroor te sê het.
Varkboere voed 'n miljoen bye
Mark en Paul Hayward (foto), twee broers aan die stuur van Dingley Dell Pork in Suffolk, het daarin geslaag om een miljoen bye per dag te voed nadat hulle nektarryke veldblomme op 33 hektaar van hulle plaasgrond geplant het. Hulle het hierdie projek vier jaar gelede geloods om te wys dat meer eko-vriendelike en volhoubare maniere van boer moontlik is.
Onder leiding van die Bumblebee Conservation Trust is 'n wetenskaplike studie uitgevoer om die insekaktiwiteit op die stuk grond te monitor. Die totale aantal bye wat tydens die telling op die land geskat is, was 1 186 300.
Die boerdery het 'n rotasiestelsel vir sy varkvleisproduksie ontwikkel, wat dit moontlik maak om gras- sowel as veldblommengsels te kweek. Paul Hayward sê dat die mens opsigters van die land op aarde is en dat huidige generasies ‘n voorbeeld moet wees vir komende geslagte. “Tussen ons het ons ses kinders en ons is dit aan hulle verskuldig om nou al aan die volhoubaarheid van boerderye te dink. Die moderne lewe het die natuur uitgestoot en die wêreld weet dat ons 'n probleem het. Ons speel 'n baie klein rol om die samelewing te help om 'n gunstiger balans te herstel en moedig meer mense aan om dit ook te begin doen.” 
Kyk gerus die onderstaande video wat beeldmateriaal van die projek wys.
GEMEENTENUUS
Stellenberg hou Bybelskool aanlyn
Stellenberg-gemeente gaan Op reis saam met Paulus in hierdie aanlynreeks wat in Paulus se voetspore loop. Ontdek hoe nuwe moontlikhede vir gelowiges onder leiding van God se Gees in hulle eie leefwêrelde gerealiseer het deur te kyk na briewe in die Nuwe Testament wat deur Paulus aan die vroeë gemeentes geskryf is.  
Klik hier om na die videoreeks te kyk en die handleidings af te laai.  Nuwe materiaal word Dinsdae beskikbaar gestel.
Suidkerk BEWEEG!
André Kritzinger van Mosselbaai-Suid skryf dat oefening, oefentye en oefenmaats een van die gewilde besprekingspunte tydens die aanvanklike grendelperiode was. Hulle gemeente het hierdie tendens ingespan vir pret, samehorigheid en fondsinsameling. “Dit lyk amper asof meer mense die afgelope tyd begin stap of draf of fietsry het. Dit het gelei tot die SUIDKERK BEWEEG-projek. Elke deelnemer borg hulself teen R1/minuut se stap/draf/fietsry. Die lidmate is aangemoedig om vir ‘n tydperk van twee weke te beweeg waar elkeen kan en wanneer elkeen kan. Ongeag van ouderdom of fiksheid kon elkeen self die pas en oefentyd bepaal. Mense kon in die aftree-oord of siekeboeg se gange beweeg en so deelneem. Daar is geen medaljes of pryse nie, daarom hoef ons nie inskrywings en verifikasie te kry nie.”
Teen 15 Julie het die BEWEEG-inisiatief reeds 6 500 minute geklok.
Huwelikskursus by Durbanville
Durbanville-gemeente herinner aan hulle huwelikskursus wat op 30 Julie afskop. Die kursus word weekliks op Donderdae van 19:00 tot 21:00 via Zoom aangebied.
Onderwerpe soos verantwoordelikhede, finansies, seksualiteit, geestesgesondheid, persoonlikhede en kommunikasie word bespreek.
Vir meer inligting of om te registreer, e-pos ontvangs@durbanvillegemeente.co.za. Die kursus is gratis.
 
Op-die-Berg sê kerkgaan is belangrik
Kerke regoor die wêreld stoei en worstel met die beplanning om na hulle erediensruimtes terug te keer. Weens die pandemie gaan eredienste baie anders moet wees. Lidmate mag nie sing, tee drink of selfs met mekaar gesels in die voorportaal nie. Vir ’n gemeente wat in sy wese gaan oor ’n verhouding met God en verhoudings met mekaar gaan hierdie moeilik wees. 
Daarom skryf Op-die-Berg-gemeente op hulle Facebook-blad waarom kerkgaan te midde COVID-19 nog steeds belangrik is. “Ek glo die woorde ‘ek ook’ kan ons help. Wanneer ons Sondag in groepe van 50 saamkom, wil ek jou nooi om vir die mense te groet met die Wifive (ek lig my hand op en waai op ’n veilige afstand vir jou) en hulle dan in die oë te kyk. Om vir mense te wys dat ons elkeen nie alleen deur hierdie tyd gaan nie. 
Dit is nie net ek en my huisgesin wat emosioneel moeg is vir die afsondering en al die vreemdheid in ons wêreld nie. Dit is nie net ek wat graag saam met my vriende wil gaan braai, rondbeweeg, skool toe gaan en winkels wil besoek sonder ’n masker nie.
Ek is ook moeg vir al hierdie dinge. Ek is ook bekommerd oor alles wat vir ons as ’n gemeenskap en ’n land voorlê. Ek wil ook hê alles moet meer normaal wees... Ek voel ook soos jy. Ons is nie alleen nie. Ons stap saam op hierdie pad. En ons wat gelowiges is, glo en weet dat God ook saam met ons op hierdie pad beweeg. So baie van ons ervarings rondom kerk gaan Sondag anders wees en ek bid dat ons juis in die andersheid sal besef dat God binne hierdie omstandighede met ons is." 
Goudini se dankbaarheidsmarathon
Een van Goudini-gemeente se lidmate, tannie Elize Viljoen, het vandeesweek op die ouderdom van 70 ‘n dankbaarheidsmarathon van 21 kilometer binne drie ure gestap. Ter ondersteuning hiervan het WP du Plessis, die predikant van die gemeente, die 21 kilometer gedraf. Van die gemeentelede het ook langs haar staproete bymekaar gekom om haar sterkte toe te wens en aan te moedig.  
Die gemeente skryf in hulle nuusbrief dat hulle baie trots op tannie Elize is. “Dit wil gedoen wees! Maar soos sy self gesê het, sy wil nie die eer kry nie. Dit gaan alles oor die eer en verheerliking van die Here. Dis Hy wat haar die vermoë gegee het om dit te kan doen.”
Viljoen het hierdie halfmarathon aangepak ten spyte van uitdagings met haar gesondheid en ander struikelblokke wat sy in haar lewe beleef. Sy wou graag die boodskap verkondig dat niemand 'n verskoning moet hê om die wonderlike gawes wat die Here vir hulle gegee het voluit te gebruik tot sy eer nie. “Vir my was dit heerlik om weer binne die lockdown die gemeenskap van gelowiges so in aksie te kon sien. Dis heerlik om kerk te kan wees! Die gebou is dalk toe, maar die kerk is wyd oop.”
Lees meer oor tannie Elize se storie in die gemeente se nuusbrief
Tannie Elize Viljoen (links) en WP du Plessis (regs) nadat hulle die halfmarathon voltooi het. 
Vishoek woeker voort
Martin Barnard van Vishoek-gemeente laat weet dat hulle Soppenaars steeds druk besig is. Die spankoördineerder Gideon Roos voorsien dat daar steeds 'n groot aanvraag gaan wees. "Alhoewel baie kinders terug skool toe is en daar by skoolvoedingskemas ingesluit word, is daar baie ouers wat nog werk soek."
Hulle beoog om onbepaald voort te gaan om sop en toebroodjies op Donderdae uit te deel en bestanddele vir ontbyt en middagete aan die voedingskema in Vishoek te verskaf.
Graaff-Reinet gee om vir hospitaalwerkers
Die gemeente in Graaff-Reinet moedig die gemeenskap aan om saam die hospitaalpersoneel van die dorp te ondersteun deur omgeepakkies vir hulle te maak. Hierdie projek vorm deel van The Exceptional Nurse veldtog wat poog om waardering en ondersteuning vir hospitaalpersoneel te verhoog tydens hierdie pandemie. Die pakkies kan by die kerkkantoor afgelaai word van 08:00 - 13:00. Die gemeente vra ook dat almal sal bid vir alle hospitaalwerkers en dokters vir moed, krag en wysheid in hierdie moeilike tyd.
Klik hier vir ‘n voorbeeld van ‘n omgeepakkie of besoek gerus The Exceptional Nurse veldtog se webblad vir meer inligting.  
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Deeltydse rekenkundige beampte - Bellville
Die Sinode van Wes-Kaapland het 'n vakante posisie beskikbaar vir 'n deeltydse rekenkundige beampte by die Predikante Pensioenfonds in die sinodale kantoor in Bellville. Toepaslike tersiêre kwalifikasies, bewese rekenaarvaardighede, insluitend kennis en ervaring van die Sage Evolution boekhouprogram sal ‘n aanbeveling wees. 
Aansoeke sluit 28 Julie. Klik hier vir meer inligting.
Geregistreerde verpleegkundige - Napier
Huis Klippe Drift in Napier het tans 'n vakature vir 'n geregistreerde verpleegster. 'n Minimum van vyf jaar verpleegsorgondervinding en registrasie by SANC is noodsaaklik. Klik hier vir verdere posvereistes. Sluitingsdatum: 27 Julie.
Maatskaplike hulpwerker - Vredenburg
Badisa Weskus wag aansoeke in vir die betrekking van maatskaplike hulpwerker.  Die aangewese kandidaat sal onder andere verantwoordelik wees vir die individuele sorg en ondersteuningsdienste aan kinders en gesinne, onder toesig van die maatskaplike werker. Sien meer inligting hier. Aansoeke sluit 24 Julie.
Ontvangsdame - Citrusdal
Badisa Citrusdal adverteer die pos van ontvangsdame/administreerder in hul Citrusdal-kantoor. Goeie interpersoonlike en kommunikasievaardighede sowel as rekenaargeletterd en ondervinding in Word en Excel sal 'n aanbeveling wees. Lees posvereistes hier. Doen aansoek teen 24 Julie.
Maatskaplike werker - Robertson
Die Herberg kinder- en jeugsorgsentrum in Robertson het 'n vakante posisie vir 'n maatskaplike werker. 'n Graad in Maatskaplike Werk, registrasie by SACSSP en geldige rybewys is 'n vereiste. Onlangse ondervinding van werk met en assessering van sorgbehoewende, gedragsmoeilike kinders sal as sterk aanbeveling dien.  Klik hier vir meer inligting. Sluitingsdatum vir aansoeke is 23 Julie.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir IAM se Julie nuusbrief.
Lees die jongste nuus van Missie Japan deur op bostaande grafika te klik.
PUBLIKASIES
Op Bybel-Media se boekrak
Uit die Beek 2021 lui ’n nuwe reeks van hierdie klassieke Bybeldagboek in. Vanjaar verskyn Uit die Beek weer uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Die oogmerk is om die Bybel binne die volgende klompie jare deur te lees. Soos altyd word daar gepoog om die Bybel op ’n verantwoordelike manier te lees, deur die konteks van die betrokke Skrifgedeeltes in ag te neem.
Klik hier vir die spesiale voorverskyningsaanbod vir gemeentes en Bybelstudiegroepe. Vir meer inligting en bestellings, kontak 0860 26 33 42 of bestel@bmedia.co.za.
Augustus se LiG nou uit
Die Augustus-uitgawe van die tydskrif word opgedra aan elke ouma en oupa in Suid-Afrika wat tans in afsondering, en dalk eensaamheid, tydens die COVID-19-pandemie leef. Daar is wenke vir kuberkuiers met kleinkinders. Bekende kokke en huiskokke soos Tiaan Langenegger vertel hoe sekere geure en geregte herinneringe aan ’n geliefde ouma oproep. 
Lees ook voorbladvrou en immergewilde sangeres Anneli van Rooyen se  woorde van vertroosting. 
LiG is nou landswyd by jou naaste winkel beskikbaar.
ALGEMEEN
Alpha konferensie 'n reusesukses
Die Alpha konferensie was hierdie jaar aanlyn aangebied en ‘n paneel kundige sprekers het meer gesels oor hoe om evangelisasie op die digitale grens te verken, veral weens die impak wat die globale pandemie op elke geloofsgemeenskap het. 
Hulle het onder andere gesels oor gemeentes in London wat verdubbeling in bywoning gerapporteer het weens die toename van aanlyn-eredienste. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis het hierdie geleentheid bygewoon en dit as verrykend ervaar. “Die Alpha konferensie het my diep laat nadink oor die moontlikhede van evangelisasie op die aanlynplatform. Aanlynplatforms is baie minder bedreigend en mense kan amper anoniem betrokke raak.” 
Gedurende oomblikke van onsekerheid en sosiale afstand, is dit nou belangriker as ooit om kreatiewe maniere te vind om mekaar te ontmoet. Daarom het Nicky Gumble, die stigter van hierdie konferensie, laat weet dat Alpha as organisasie intens bid vir die einde van hierdie uitbreking. “Ons bid dat ons leiers wyse, vinnige besluite neem. Ons bid vir volledige beskerming vir diegene wat die kwesbaarstes is. En ons bid dat mense in die onbekende persoonlik sal ervaar dat God nie 'n God van vrees is nie, maar 'n God van vrede.”
Kyk gerus die video (onder) vir terugvoer van Lex Loizides, die predikant van die Jubilee Community Church in Kaapstad, wat meer vertel oor hoe hierdie jaar se Alpha konferensie hulle gemeente se verwagtinge op nege onverwagse maniere oortref het.
Raakgelees: Zoom-vergaderings saam met plaasdiere 
Videokonferensies met dienste soos Zoom, Microsoft Teams en Google Meet het oornag die belangrikste wyse geword waarop baie mense verbind bly tydens inperkings regoor die wêreld.
Statistieke toon dat meer as 300 miljoen mense daagliks aanlynvergaderings via Zoom bywoon. Om gereeld aan vergaderings deel te neem,  mag vermoeiend wees, daarom het mense maniere gevind om besigheidsvergaderings en oproepe na familie en vriende op hierdie platforms interessanter te maak deur gebruik te maak van verskillende komiese agtergronde of skoonheidsfilters. Maar nou het daar nog 'n Zoom-tendens aangebreek: jy kan 'n plaasdier uitnooi om jou vergadering by te woon. 
‘n Boerdery in Noord-Carolina is een van die plase wat hulle donkies, perde, hoenders en eende uitverhuur om in te skakel by Zoom-vergaderings tydens die inperking. "Tot dusver geniet almal die oproepe, want mense is so verbaas om 'n snaakse perd of donkie wat wei  saam met hulle in nog 'n vervelige vergadering te sien," sê Francie Dunlap van Peace and Peas Farm.
Jy kan ook een van hierdie diere huur om deel te neem aan jou volgende vergadering. Dit gaan jou maar net R830 uit die sak jaag! Lees meer hiervan op die plaas se webwerf of kyk die video onder vir meer inligting. 
VIRTUELE KUIERKANSE
Helderberg steeds kunstig
Helderberg-gemeente het tans twee projekte wat kunssinniges sal geniet. 'n Virtuele kunsuitstalling word tans op die gemeente se Facebook-blad gehou, wat onder ander lidmate se skeppings insluit. 25 Gemeentelede het skilderye en foto's ingedien en is saam met hulle werke afgeneem om op die Facebook-blad bekendgestel te word. Corneille Barnard skryf: "Dit was heerlik om die kunstenaars beter te leer ken tydens die fotosessie. En die reaksie op die Facebook-plasing van die album was uitstekend. Ek dink ‘n stukkie goeie nuus, iets moois en om te connect met nuwe mense is wat ons almal nodig het in die tyd."

Helderberg Uitreik is terselfdertyd besig met 'n nuwe fondsinsamlingsinisiatief, genaamd Colours of India. Donasies van kunswerke is ontvang vir hulle aanlynkunsveiling. Die skilderye kan by die kerkkantoor besigtig word en belangstellendes kan dan 'n bod deurstuur aan Mariana Cook by crook.mariana@gmail.com voor 31 Julie. Sien meer inligting onder.
TEN LAASTE
Die COVID-skaduwee sprei terselfdertyd wyer en nader. Ons hoor daagliks van kollegas, lidmate en vriende asook duisende ander Suid-Afrikaners wat positief toets en die gepaardgaande uitdagings van die virus moet trotseer. Ons gebede is met hulle en ons wens hulle spoedige beterskap. Terselfdertyd dra ons ook ons mediese personeel in die voorste linies aan die beskerming en genade van Christus op.
Die koor van Hoërskool Durbanville het tydens die grendeltyd die volgende weergawe van Psalm 134 opgeneem, danksy ongelooflike toewyding deur die koorleier en indrukwekkende tegnologie. "Laat Heer U seën op ons daal" is inderdaad ons gebed in hierdie tye. Klik hier vir video.
Wees veilig en dra asseblief jou masker as jy uitgaan. So beskerm jy jouself en ander.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.