Geseënde Kersfees en voorspoedige 2022!
Geseënde Kersfees en voorspoedige 2022!
Lees deur internet, klik hier >>
10 Desember 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Kersboodskap van die moderatuur
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland gesels in die onderstaande videoboodskap oor die uitdagings van 2021, maar ook oor die vreugde en vrede wat in Advent opgesluit is.
16 Dae van Aktivisme
Nina Müller van Velden skryf die volgende om die laaste dag van die 16 Dae-veldtog met 'n getuienis af te sluit. "Veral gedurende 16 Dae van Aktivisme hoor ons soveel negatiewe statistieke. Dit maak my kwaad, hartseer en moedeloos. Ek vra myself, wanneer is genoeg, genoeg? Hoe bewerkstellig mens volhoubare verandering? Vandag is #ThursdaysinBlack en terwyl ek sit met die vrae, kom my 8-jarige seun na my toe.

'Mamma, jy weet *Ruan (naam verander om identiteit te beskerm) het geen maniere nie. Hy is baie lelik met sy mamma en sussie. Hy sê vir hulle, hulle is 'stupid'. Hy sê vir my ek is 'lucky' dat ek nie ‘n sussie het nie. Maar hy is die 'lucky' een! Ek het vir hom gesê mens praat nie so met jou ma en sussie nie. Dis lelik, maar hy luister nie vir my nie.'
In daardie oomblik swel my hart van trots. Trots vir my seun wat die moed het om op te staan vir dit wat hy voel verkeerd is. Trots vir my man wat so ‘n wonderlike rolmodel is. Trots vir die manier hoe hulle onwetend vir my hoop gee vir ons land.
Verandering is soos die rimpeleffek van ‘n klein klippie wat in ‘n dam gegooi word. Al voel dit vir ons asof ons stem verdwyn in die massas, het dit tog ‘n rimpeleffek van verandering en hoop vir die mense om ons. As ons genoeg klippies in die water gooi, kan die rimpeleffek nie gekeer word nie.
Mag hierdie storie van hoop jou moed gee om aan te hou om verandering te bewerkstellig."
Sinode verwelkom nuwe saakgelastigde
‘n Nuwe saakgelastigde vir die NG Kerk in Wes-Kaapland is pas aangestel. Stephan Pretorius is ‘n geoktrooieerde rekenmeester van Deloitte in Johannesburg. Die pos van saakgelastige is vroeër geadverteer en persone sonder formele teologiese opleiding is ook genooi om aansoek te doen. Stephan sal dus die eerste persoon in hierdie pos wees wat nie ‘n predikant is nie.
Stephan het sy BRek-graad  aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en het hom as ouditeer bekwaam. Hy het egter deurlopend sy belangstelling in teologie en kerksake behou en laat groei. Hy ken die NG Kerk in Wes-Kaapland baie goed. Hy het voorheen as ouderling in die moderamen gedien en was al afgevaardig na die Algemene en plaaslike sinode. Hy was ook ‘n lid van die beleggings- en ouditkomitee van die Sinode van Wes-Kaapland. 
Hy het ook met leeswerk en deelname aan kerklike en geloofsgesprekke  diep insigte in die gereformeerde teologie, en by name die missionale teologie van ons kerk, verwerf. Hy was ook voorsitter van die kerkraad en finansiële kommissie van die NG Kerk Durbanville. Tydens sy verblyf in die Sonstraal-gemeente was hy ook daar betrokke en ‘n lid van ‘n Bybelstudiegroep. 
Stephan sien baie daarna uit om  weer na die Kaap te verhuis en hier sy kundigheid op finansiële en bestuursvlak te kom aanwend. Hy beskou sy benoeming in die pos van saakgelastigde as ‘n bevestiging van sy lankgekoesterde roeping om die Here binne die kerklike strukture te dien. Hy aanvaar diens op 1 Februarie 2022.
Ons vertrou dat die Here hom ruim sal gebruik in hierdie sleutelpos in ons sinodale bedeling. 
Spesiale aanbod op selfoontoepassing
Neem jou gemeentekommunikasie na die volgende vlak. Kry die NG Kerk Wes-Kaap se selfoontoepassing en jy sit jou kommunikasie letterlik in jou lidmate se hande. Die platform gee vir jou opsies om preke, video's, podcasts, dokumente en ander hulpbronne te laai. Daar is ook 'n handige dagboek en 'n boodskapdiens waar jy notifikasies aan lidmate kan stuur.
Die eerste tien gemeentes wat inskryf vir Januarie 2022, kom in aanspraak vir 'n spesiale korting wat beteken dat hulle geen aansluitingsfooi hoef te betaal nie. Kontak gerus vir kommunikasie@kaapkerk.co.za as jou gemeente sou belangstel om aanboord te kom. Skakel vir Ronelda Visser by 021 957 7195 vir 'n demonstrasie.
KIX vir 2022 nou beskikbaar
KIX Kinderbediening se materiaal vir die eerste kwartaal van 2022 is nou in Afrikaans en Engels op hul webtuiste beskikbaar. Die storie van Jesus sluit in: die voorspellings oor Jesus se koms; sy geboorte; Jesus in die tempel; die dissipels se roeping; Jesus se eerste wonderwerk en Jesus se intog in Jerusalem.
Hierdie materiaal kan gratis afgelaai word en is geskik vir laerskoolkinders. 
Tot aan die eindes van die aarde - Japan
Ek onthou nog as kind hoe die dominee daar van die preekstoel af vertel van Christus se laaste opdrag – dat sy dissipels sy Goeie Boodskap tot aan die uiteindes van die aarde moes bring. Dit was natuurlik nie ’n maklike taak nie, want dit het beteken dat jy in ’n vreemde taal en kultuur moes gaan werk, maar hoe anders moes die res van die wêreld dié Goeie Nuus hoor? Tobie de Wet was een van ons NG Kerk-predikante wat destyds dié roeping ontvang en toe ons susterskerk in Japan saam met sy vrou Annalie gaan dien het. Lees sy storie hier (met dank aan Vrypos, NG Kerk Sinode Vrystaat).
Foto: Annalie en Tobie de Wet
#GROEI terugvoer 
Daar is tans wêreldwyd ‘n nuwe bewuswording rondom die kweek van groente in kleiner tuine. COVID-19 het verder kom onderstreep hoe belangrik volhoubare voedselvoorsiening is. Daarom moedig die Hoop en Versoening Trust steeds mense oor die hele ekonomiese spektrum aan om tuine te begin. Hulle het gedurende 2021 talle organisasies en gemeentes gehelp met skenkings van saad wat hulle in staat gestel het om groentetuine te begin ten bate van die breër gemeenskap.
Die trust het ook in hierdie jaar hande gevat met Agrico en het so enkele watertenke en besproeiingsmateriaal aan gemeentes en organisasies geskenk. Klik hier om die volledige verslag oor die saadprojek te lees. 
Gesprek oor evangelisasie
Die Sentrum vir Publieke Getuienis en Getuienisaksie bied op 8 en 9 Februarie 2022 ‘n gesprek oor evangelisasie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington aan. Dit is gemik op predikante en gewone lidmate in die gemeente wat ‘n roeping vir evangelisasie het.
Die werkswinkel word volledig gesubsidieer en belangstellendes kan navrae doen by spg@kaapkerk.co.za indien hulle wil inskryf. Slegs die eerste 30 persone wat inskryf, kan geakkommodeer word. Klik hier vir meer inligting. 
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
EKOLOGIE
Kroon, krip, kruis en ekologie
Gedurende Koninkrykstyd vier Christene elke jaar die koningskap van Jesus Christus. In hierdie laaste en langste seisoen van die kerklike jaar lê ons groot klem op die heerskappy en mag van Jesus Christus. Die fokus op Jesus Christus se grootheid en heerskappy word dan oorgedra na die seisoen van Advent. Jesus Christus self het egter geen erg aan die titel “koning” gehad nie. Hy het glad nie daarin belanggestel nie. Niks aan Jesus se persoon of sy optrede is tipies koninklik nie. Inteendeel, die kontras is opvallend.
Lees hier meer oor wat ons eko-korrespondent David Botha daaroor skryf. 
Hoe lyk dit met ‘n GROENER Kersfees vanjaar?
Marizanne Pfeil-Wessels en Fay van Eeden se gunsteling minder-plastiek-resepte vir die vakansie en Kersdag kan hier gelees word. Kyk ook na die video onder waarin Marizanne en Dewald Hoffman verduidelik hoe jy vanjaar 'n groener Kersfees kan vier.
SAFCEI neem sterk standpunt in teen Shell se eksplorasie
Braam Hanekom laat weet dat SAFCEI sterk standpunt ingeneem het teen Shell se voorgenome eksplorasie vir gas aan die Wildekus. Vir diegene wat meen dat Shell se pogings dalk ‘n vinnige oplossing vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme is, kan die volgende perspektiewe dalk help. Ons praat tans van gas en nie olie nie. Selfs al kry ons olie moet ons onthou wat met Angola en Nigerië gebeur het wat baie olie gekry het. Ons standpunt is duidelik dat ons tyd en geld nou spandeer moet word om volhoubare groen energie te vind. Daarby moet druk op die regering geplaas word om die talle groen projekte wat wag om “afgeteken te word” so spoedig moontlik af te teken. Die vertraging hiervan laat talle wenkbroue lig.
Voeg hierby die oorvloedige wetenskaplike verslae wat wys op die skade wat aan die omgewing gedoen word deur die voorgenome eksplorasie en ‘n mens verstaan waarom aktiviste so ontsteld is. SAFCEI voeg graag hul stem by die groep. Lees hulle volledige verklaring hier.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Op besoek aan ons geloofsfamilie in Kenia
“Ons is Kerk in Afrika en wat ’n voorreg is dit nie!” So sê een lid van ’n klein groepie uit Suid-Afrika wat so pas teruggekeer het na ’n besoek aan ons susterskerk in Kenia en diep geraak is deur dié besondere ervaring. Vanaf Maandag 22 November tot Dinsdag 30 November was dr. Daniël de Wet, die VGK Streeksinode Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, dr. Nico Mostert, Vrystaat Sinode se direkteur van Vennote in Getuienis en uitvoerende direkteur van NetACT, en ds. Hannes Theron wat op 1 Januarie 2022 as NetACT-programkoördineerder by Jurgens Hendriks sal oorneem, op besoek aan ons susterskerk in Kenia, die Reformed Church in East Africa. Lees hier meer (met dank aan Vrypos).
Foto van links na regs: Prof. Nathan Chiroma (Pan Africa Christian University), dr. Daniël de Wet (Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Kaapland), ds. Hannes Theron (NetACT programkoördineerder), prof. Margaret Muthwii (visekanselier van PAC), dr. Nico Mostert (Vennote in Getuienis, Vrystaat), dr. Sas Conradie (Tearfund) en prof. Dan Kiambi (adjunk-visekanselier Akademiese Sake van PAC).
PREDIKANTENUUS
Wilhelm Burger tree af
Anton Duvenhage, een van Wilhelm Burger se kollegas by NG Gemeente Onrusrivier, vertel vir ons meer oor Wilhelm se pad saam met die gemeente deur die jare. "Intelligent, sagmoedig, liefdevol, nederig, behulpsaam... Hierdie is slegs 'n paar van die woorde wat na vore kom wanneer ek aan Wilhelm dink. Vir die ses jaar wat ek die voorreg gehad het om saam met hom die Here se gemeente in Onrusrivier te kan bedien, het ek só baie geleer! Sy liefde vir die individu, sowel as die gemeente in die geheel; sy doelgerigtheid wanneer dit kom by take, maar ook sy vermoë om mense bo take te plaas en sy absolute skerp sin vir humor, het my in verwondering gelaat.
Die gange van NG Kerk Onrusrivier sal nog vir baie jare gons oor Wilhelm, nie omdat hy sy teenwoordigheid ooit uitbasuin het nie, maar omdat sy afwesigheid gevoel sal word. Vergaderings, oproepe, eredienste, sosiale en ander geleenthede – hulle is altyd lekker (en geseënd) wanneer Wilhelm daar is en ons prys die Here daarvoor! 
Ons kon nie vir Wilhelm só vinnig uit ons vingers laat glip nie, en daarom is ons baie bly dat hy ingestem het om steeds in die gemeente se bediening betrokke te bly na sy aftrede. Ons is die Here diep dankbaar vir Wilhelm en Alna – hulle sal vir altyd `n spesiale plek in ons harte hê."
Wilhelm gaan nie ‘n tradisionele afskeidspreek doen nie. Alhoewel hy aftree, gaan hy nog steeds betrokke wees by die gemeente en baie gesien en gehoor word. Sterkte met jou pad vorentoe, Wilhelm! 
Ladismith groet Francois Naudé
Francois en Aneen Naudé het op 2 Desember 2018 hulle dienstydperk van drie jaar by NG Gemeente Ladismith begin. Die gemeente laat weet dat die egpaar se weggaan beslis 'n leemte gaan los. 
"Min sou enige iemand kon indink dat hulle maar net 'n enkele jaar die tipiese wel en weë van 'n klein plattelandse Karoodorpie sou kon ervaar. Kort voor lank het die pandemie toegeslaan en was die saamkuiers by basaars, dankfeeste en wyksbyeenkomste 'n ongekende ding.
Francois sal onthou word vir die vernuwing en inisiatief wat hy in Ladismith gebring het. Gedurende die inperking het ons hom hoeveel kere in die kerkkombuis aangetref besig om voorrade vir die sopkombuise af te weeg en 'hampers' te pak. Bo-op die geweldige impak van die pandemie, was Ladismith ook nog steeds geknel in 'n jarelange droogte.
Benewens sy toegewydheid en sy diepe hart vir barmhartigheid, dink ons ook aan sy sin vir geregtigheid en gemeenskapsbetrokkenheid - hy het onder meer gemeenskapsleiers byeengebring om te besin oor morele en gemeenskapskwessies.
Hierdie hardwerkende egpaar se nalatenskap sal voorwaar in hierdie dorp onthou word. Die leraar met die opgerolde moue en sy pragtige, saggeaarde vrou ('n groot verlies van 'n uitmuntende Wiskunde-juffrou vir ons kinders)."
Alle voorspoed vir julle pad vorentoe!
GEBEDSVERSOEK
GEMEENTENUUS
Welgemoed reik uit na hospitale
Welgemoed-gemeente se gasvryheidskommissie het onlangs tuisgebakte koekies verpak en uitgedeel aan die personeel van Louis Leipoldt en Panorama Mediclinic hospitale, wat verantwoordelik is vir die versorging van COVID-pasiënte. 
Dit is saaityd by La Rochelle! 
Vanaf 7 November tot 5 Desember het lidmate van NG Gemeente La Rochelle die geleentheid gehad om vanuit hulle wenakkers produkte te skenk aan agt verskillende behoeftige instansies. Inkopiesakkies met behoeftelyste is aan lidmate beskikbaar gestel en die lidmate het mildelik bygedra tot die WENAKKER-PROJEK.
"Wat is jou wenakker? Lev. 19:9-10 praat van ‘n wenakker: 'Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en vreemdelinge.'
Hierdie ekstra koring moet op die land agterbly sodat die armes en vreemdelinge, weduwees en weeskinders die are kan optel en kos het om te eet. Die wenakker-beginsel is God se manier om vir die behoeftiges te sorg. Jy saai dalk nie koring nie, maar die vraag is wat is in jou WENAKKER? Wat het jy waarmee jy behoeftige mense kan help?" 
Bakkievragte is van die wenakkers ge-oes en aan die instansies oorhandig! Die gemeente glo dat hierdie inisiatief verligting, maar ook vreugde sal bring tydens die Kersgety in baie mense se lewens. 
As Hy kom op die wolke
Vredelust Worship het Sondag 5 Desember die derde musiekvideo op hulle Anker van Hoop album vrygestel. Wolke vertel van Jesus wat terugkom om sy bruid te kom haal, die beste nuus wat gelowiges ooit sal hoor. Dit is hoekom die lied lig, vrolik en vol energie is.
Kyk na die video onder en deel gerus. "Ons glo dit gaan vir mense met nuwe oë laat uitsien na die GROOTSTE BRUILOFSFEES OOIT!" vertel Clement Martin van die musiekgroep. 
Tulbagh-gemeente se e-mark
Die idee van ’n e-winkel vir NG Kerk Tulbagh is reeds sedert 2020 ’n droom wat net gewag het om, met behulp van wonderlike kreatiewe en tegniese insette, ’n werklikheid te word. "Die beweegrede daaragter is tweeledig – eerstens om ’n meer konstante invloei van fondse vir ons gemeente te genereer en tweedens om ons plaaslike klein entrepreneurs ’n platform te gee waarop hulle hul produkte kan verkoop. ’n Klein persentasie van hul verkope word aan die kerk afgestaan, asook ’n jaarlikse registrasiefooi. 
Ons eerste proeflopie was in Oktober hierdie jaar, met ’n aanlynbasaar wat dieselfde e-platform gebruik het om die basaarprodukte te adverteer en bestellings te neem. Al was dit aanvanklik ’n vreemde konsep, was dit ’n groot sukses en die gerief daarvan het by oud en jonk aanklank gevind. Met afloop van die basaar kon produkte wat  oorgebly het, steeds aanlyn bestel word en bykomende produkte is bygevoeg. Dit wissel van olyfolie, amandels en pruimedante tot tuisgebakte beskuit, koekies en pasteie en selfs boeke uit die kerk se Boekhoek."
Die T-Mark is net ’n klik van die vinger of muis ver – loer gerus hier.
VAKATURES
Voltydse medeleraar, Durbanville-Bergsig
Die  gemeente van  Durbanville-Bergsig nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om aansoek te doen vir ’n voltydse medeleraarspos. 
Durbanville-Bergsig bedien ongeveer 5000 belydende- en dooplidmate. ‘n Groot persentasie van die gemeente  bestaan uit gesinne met kinders, maar alle ouderdomme word goed verteenwoordig. Kandidate moet voldoen aan en uitvoering gee aan alle verantwoordelikhede van die amp van predikant soos vervat in die Kerkorde en Reglemente 2019, Kerkorde Artikel 9. Klik hier om die volledige gemeente- en leraarsprofiel te lees. Aansoeke sluit 31 Desember. 
Jeugwerker, Kaapstad
Groote Kerk se visie is om as vredemakers Jesus te volg en Kaapstad met hoop, hulp en heling te omarm. Hulle glo dat hulle geroep is om die stad te dien met die hulpbronne tot hulle beskikking. Dit beteken dat ‘n jeugwerkpos geensins net op die gemeente se dooplidmate sal fokus nie. Hulle verwagting is dat ‘n jeugwerker, in samewerking met die predikant verantwoordelik vir jeug, ruimte sal skep vir bedieninge wat wyer as die gemeente se dooplidmate strek. 
Persone wat die omarmende liefde van Jesus ken en uitleef en met ‘n roepingsbewustheid onder leiding van die Heilige Gees leef, is welkom om vir hierdie pos aansoek te doen. Aansoeke sluit 31 Januarie 2022. Klik hier vir meer inligting.
Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Ondersteun gerus Bybel-Media (én Kerkbode) met hul Kinderkerskous-projek. Jou bydrae kan help om ’n boodskap van omgee en hoop in moeilike tye aan kinders en jongmense oor te dra sodat hulle hul geloof kan versterk. Lees meer by hierdie skakel.
Die nuwe aanlyn-kortkursus in pelgrimsteologie is oop vir enigeen wat al ‘n pelgrimstog gestap het of beplan om een te doen, sê dr. Nico de Klerk, die ‘pelgrim-prof’ van Hugenote Kollege op Wellington. Lees hier meer.
’n Video van die hele program van die prestigeryke Andrew Murray-prysfonds se pryse-partytjie Sondag 5 Desember kan nou op Kerkbode se webblad gekyk word. Klik op hierdie skakel.
Nuut op die rak
As jy daarvan hou om 'n boek of twee in die Kerskous te sit, het Bybel-Media 'n wye verskeidenheid om van te kies. 'n Hand vol hoop met Willem Pretorius as redakteur gee 'n ander perspektief hoe om vrees te hanteer. In My hart se baie punte vertel Lizette Murray hartstories wat die doodgewone momente in haar lewe vasvang. Ligvoets is 'n bundel van storieverteller Fourie Rossouw se rubrieke wat jou met blymoedigheid en innerlike warmte laat. Die boeke is tans in Bybel-Media se aanlynwinkel beskikbaar.
How to cope with trauma
CLF has introduced another free resource to address the challenges, crises, traumatic events and disruptions, which have become part of our everyday life. WELLBEING in traumatic times looks at the impact trauma has on our mental, physical, emotional and social health and what is required to recover from trauma and reorientate towards a healthy and balanced life rhythm. 
Click here to download the document.
ALGEMEEN
Raakgelees: Braaibroodjies met 'n twist
Van vleis tot malvalekkers, Jan Braai raak kreatief met braaibroodjievulsels. Van sy jongste treffers sluit braaibroodjies in wat gevul is met macaroni en kaas, piesang en spek, kerrie en rys sowel as biltong en kaas: die wêreld se gunsteling trooskos alles in een happie.
Die braaibroodjie sal altyd die mees ikoniese item op die spyskaart by enige braai wees en hierdie veelsydige dis kan ook as ‘n nagereg voorberei word. Karamel, sjokolade, malvalekkers en appeltert braaibroodjies is kombinasies wat Jan Braai bemeester het en ten sterkste aanbeveel. Nou kan ‘n braaibroodjie as’t ware vir voorgereg, hoofmaaltye en nagereg bedien word! 
Die geheim om hulle te maak, sê Jan, is om te onthou dat “braaibroodjies is draaibroodjies.” Braaibroodjies moet gereeld omgedraai word en in 'n geslote skarnierrooster gebraai word.
Bederf jouself en jou familie hierdie Kerstyd met hierdie smullekker braaibroodjies. Klik hier om die resepte te lees. 
Maak iemand anders se Kerslysie waar
NID (Nasionale Instituut vir Dowes) laat weet dat Kersfees so bietjie anders lyk vir hulle 73 bejaarde en meervoudig-gestremde Dowe inwoners. Vir sommige is NID hierdie Kersfees hul enigste heenkome en familie.
"Hul wenslysies bestaan nie uit duur geskenke of die nuutste tegnologiese foefies nie. Hul wens hierdie Kersfees is eenvoudig, maar tog noemenswaardig. Liefde, deernis, begrip, aanvaarding en versorging. Hierdie is dinge wat nie eers ons Kersfees-wenslysies haal nie, omdat ons dit elke dag as vanselfsprekend aanvaar. Vir ons Dowe inwoners by NID is dit egter lewensveranderende geskenke. Dit is die dinge wat maak dat hulle hier hul lewe voluit kan leef ten spyte van hul gehoorverlies."
Help NID om hierdie Kersseisoen ‘n bejaarde of meervoudig-gestremde Dowe inwoner by NID se wenslysie te vervul deur 'n donasie te maak. Klik hier vir aanlyndonasies of stuur 'n e-pos aan fr.nid@nid.org.za vir bankbesonderhede. 
TEN LAASTE
Dit is ons laaste uitgawe van 2021. Ons wil graag ons diensgroepe en taakspanne, wat gereeld bydraes lewer, bedank vir hulle ondersteuning.
Die sinodale kantore in Bellville sluit Woensdag 15 Desember en maak weer op Maandag 10 Januarie 2022 oop.
Aan ons lesers wens ons 'n geseënde Kersseisoen en 'n voorspoedige Nuwejaar. Mag julle 'n ware Somerkersfees ervaar. Luister gerus hier na die weergawe op Kersfees Bekoor.
Wees asseblief veilig op die paaie en onthou om steeds die COVID-protokolle streng na te kom. Ons hoop julle geniet die samesyn met familie en vriende en kom uitgerus terug vir 2022.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.