Lees deur internet, klik hier >>
8 Mei 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Dankie aan Badisa personeel
Llewellyn MacMaster van die VGKSA Streeksinode Kaapland en Nelis Janse van Rensburg van die Sinode van Wes-Kaapland stuur 'n spesiale boodskap van waardering en bemoediging aan alle Badisa personeel. Kyk gerus video hieronder.

COVID-19 en die ekonomie
Registreer nou vir hierdie aanlynseminaar aangebied deur die VBO-forum en vooraanstaande ekonoom Piet  Naudé. Teken in op Woensdag 13 Mei om 14:00 vir die gesprek rondom teologiese vertrekpunte vir COVID-19 en die ekonomie.
Registreer voor Dinsdag 12 Mei om 08:00. Kliek hier vir registrasievorms. 
DinkJeug webinare
Na die sukses van #DinkJeug se eerste webinaar volg daar binnekort verdere aanlyn- geleenthede. Op Vrydag 8 Mei deel hulle wenke om huisgeloof in hierdie tyd van afsondering te bevorder. Klik hier om te registreer en deel van die gesprek te wees. Predikante en jeugwerkers landswyd kan deelneem.
Maak ook solank ’n nota in jou dagboek vir die derde webinaar op Woensdag 13 Mei. Kom luister na wenke vir ’n aanlynjeugbediening. Registrasie kan hier gedoen word.
Buitelandse studente in grendeltyd
Dis nie aldag maklik om ‘n student in ‘n vreemde land te wees nie; soveel te meer as dit onder COVID-19 grendeltydomstandighede is. Timoteo Fabiao, een van ons susterskerke se nagraadse studente by Weidenhoff Huis in Stellenbosch, vertel hier meer oor sy ervaring in hierdie omstandighede. 
Living with and after COVID-19
The Graduate Programme in Theology of the Pontifical Catholic University of Paraná at Curitiba, Brazil and the Beyers Naudé Centre for Public Theology of the University of Stellenbosch, South Africa would like to invite you to participate in an online ZOOM seminar on Wednesday 13 May (14.00-21.00 SA time, 9.00-16.00 Brazil time). Click here to see the programme and line-up of speakers. Space is limited to 100 participants. Register by sending an e-mail to maritasnyman@sun.ac.za.
Ons jong VGK-predikante in die Oos-Kaap
Meer as 50% van ons VGK Streeksinode Kaapland-gemeentes moet sonder ‘n predikant funksioneer; iets wat vir die sinode ‘n reuse-uitdaging is. Die goeie nuus is dat daar die afgelope twee jaar gelukkig vier nuwe predikante na die voormalige Transkei beroep is. Gemeentegetuienis het gaan hoor hoe hulle as gemeentes funksioneer in hierdie uitdagende tyd. Lees meer oor predikante Wiseman Calvary (Mthatha) en Thanduxolo Mountain (Canzibe) se ervaringe hier.
GEMEENTENUUS
Die potte prut in Paarl-Vallei
Die gemeente van Paarl-Vallei se Middelpos uitreikspan is deur gemeenskapslede genader vir voedselhulp en so het hulle potprojek ontstaan. Tot dusver is daar sewe potte met wildsvleis, hoender en ’n verskeidenheid van groente en pasta gemaak danksy skenkers binne en buite die gemeente. Die potjiekos wat op die kerkterrein voorberei word, is versprei na gebiede soos Smartietown, Mbekweni en Chicago waar bykans 1500 mense, hoofsaaklik kinders, voedsame maaltye geniet het.
Die gemeente betuig opregte dankbaarheid vir almal wat betrokke is by hierdie projek: “Ons is bevoorreg om te kan help en sal graag met die projek wil voortgaan, soos volhoubaar. Dankie aan almal wat bydra en ons ondersteun!” 
Barrydale sorg vir hulle gemeenskap
NG lidmate en gemeenskapslede uit Barrydale (foto onder) bedryf deesdae ‘n sopkombuis vanuit die dorp se beroemde melkskommelrestaurant Diesel en Créme. Daar word weekliks sop voorberei vir hulpbehoewendes binne die Barrydale munisipale area. Gemeentebestuurder Elsabé Crafford deel haar groot waardering vir hierdie inisiatief. “Groot dank aan almal wat betrokke is by hierdie projek tesame met die eienaar van Diesel & Créme, wat die winkel beskikbaar gestel het vir hierdie doeleinde.”
Deurry-projek in Brackenfell-Wes
Brackenfell-Wes se gemeente verstaan dat die nood groot is en dat baie gesinne sonder inkomste sit tydens die Koronavirus-pandemie in Suid-Afrika. Daarom het hulle verlede Vrydag ‘n geleentheid geskep vir die gemeenskap om te help. Hierdie "drive-through" inisiatief het mense toegelaat om enige kosskenkings by die kerk af te gee. 

Met hulle vorige kospakkieprojek, aan die begin van die grendeltydperk, kon die gemeente kospakkies uitdeel vir 41 gesinne en het op hierdie manier vir 104 mense in nood uitkoms gebring. Met die deurry-projek hoop hulle om selfs meer gesinne te kan help. Kyk gerus 'n video van die projek, geneem deur Marietjie Van Wyk Vollgraaff, hier
Kenridge help waar hul kan
Kenridge se gemeentelede het saamgespan om ‘n groot donasie van kospakkies en vrugte aan Badisa Trio  te skenk. Badisa Trio is ‘n nie-winsgewende welsynsorganisasie wat kinderbeskerming- en gesinsdienste lewer in die Kaapse Noordelike voorstede. Hierdie donasie stel hulle in staat om verskeie gesinne in die gemeenskap te help. 
Vrywilligers sing hulle harte uit
Twee van Arbeidsbediening se vrywilligers in Mosselbaai, Annette Strydom en Yolandè Kotze, gebruik hul sangbediening op kreatiewe maniere om mense tydens die grendeltyd te bemoedig. "Sang raak mense emosioneel en maak die seer oop – op so ‘n wyse kry ons ‘n geleentheid om mense te bemoedig."
Hulle het die afgelope tyd in verskeie plekke sangbediening gedoen soos by die OK Minimark, Foodzone en Nedbank.  Van die personeel het uitgekom en saam begin lofprys en dans.
Jesus-in-Aksie in Brackenfell
Heidekoppie en ander NG gemeentes in Brackenfell het hande gevat met ander organisasies en die plaaslike owerhede om die nood van die gemeenskap te verlig. Jesus-in-Aksie is ‘n beweging waaraan enige Christelike groep kan behoort en Heidekoppie sowel as die ander drie NG gemeentes in Brackenfell maak deel van die groep uit. Op die oomblik word daar groot werk gedoen, veral in die Brackenfell-omgewing en die Here se goedheid en sy voorsiening word elke dag beleef! Daar is reeds in April 2 000 kospakkies versprei en daar word ‘n minimum van 3 200 kospakkies vir Mei beoog. Daar word vier keer per week ook voorbereide maaltye uitgedeel by Brackenfell stasie (foto links onder). Daar is nou samewerking met ander nie-winsgewende organisasies soos onder andere Shiloh Synergy en MES asook die plaaslike regering. Anton Roux, Quinton Bosch en Ettienne Pio (foto middel onder) van Heidekoppie sit hand by met die verpakking van kospakkies. 
Laaiplek se snoekseëninge
Charl van Rensburg van Laaiplek vertel dat die plaaslike polisie alle kerke, nie-regeringsorganisasies, sopkombuise, die Departement van Maatskaplike Dienste en die plaaslike munisipaliteit genooi het om deel van 'n gekoördineerde hulpverleningsprojek te wees. NG Laaiplek maak deel uit van die loodskomitee, wat sal kyk na voedselverspreiding.  
Hulle het reeds ‘n oproep gehad van Nossab Vis om oortollige snoek te help verwerk en te versprei. As ‘n redelike nuweling aan die Weskus noem Charl dat hy nie veel van viswerk geweet het nie, maar dat ‘n span bekwame mense dadelik ingespring het om te help (foto's onder). Honderde snoeke is reeds aan kinderhuise, tehuise, dienssentrums, sopkombuise en ander organisasies in dorpe so ver as Moorreesburg, St. Helenabaai, Vredenburg, Laaiplek, Velddrif en Darling versprei, waar dit in snoeksmoor, viskoekies, lasagne en ander geregte verwerk word.
Moenie bang wees nie...
Kuilsrivier Moerdergemeente gee graag ‘n boodskap van al die kinders van hulle gemeente aan elkeen van julle! 
GEBEDSVERSOEK
EKOLOGIE
Moet asb. nie daai plastiekdoppies weggooi nie!
Dink net hoeveel fisies-beperkte mense kan jy help as jy en jou maats of gesinslede alle plastiekdoppies van nou af gaan herwin. Janneke Marais, jeug- en maatskaplike werker van die NG Toringkerk in die Paarl, vertel in die video onder hoe maklik dit is om met plastiekdoppies 'n rolstoel vir iemand te waarborg. 
Grendeltyd sluit nie net toe nie; dit maak ook oop!
Grendeltyd maak baie deure en geleenthede toe. Maar dan sluit dit ook weer ander en nuwe deure vir ons oop. Een van die deure wat vir ons wawyd oopgaan, is die maak van ons eie tuin en die kweek van ons eie groente en vrugte. Tuinmaak is natuurlik nie 'n nuwe deur nie. Dit was voor die industriële revolusie die manier waarop daar gesorg is vir kos op die tafel. Nie net is die maak van 'n eie tuin 'n uitstekende manier om te sorg vir gesonde en vars kos nie, maar dit bring ons ook (weer) in kontak met die grond en die ekosisteme wat deel uitmaak van die grond, plant en diere lewe. Lees hier wat ons eko-korrespondent David Botha hieroor te sê het.

'n Seeskilpad se verstommende ontdekking
Yoshi die seeskilpad het 'n paar titels agter haar naam: sy is ‘n wêreldrekordhouer omdat sy 1 000km binne ‘n jaar geswem het en sy word ook beskou as die wêreld se bekendste seeskilpad! Ons kan nou ook 'ontdekker' en 'wetenskaplike' by hierdie lys voeg! Yoshi het Australiese wetenskaplikes na 'n voorheen onbekende seeskilpad-habitat langs die kus van Wes-Australië gelei. Hierdie ontdekking beteken dat die seeskilpadspesie groter is as wat wetenskaplikes aanvanklik gedink het!

Yoshi het in Julie 1997 in Kaapstad aangekom toe sy maar nog net 2kg geweeg het. Na twintig jaar se rehabilitasie by die Twee Oseane-akwarium is sy in Desember 2017 weer in die see vrygelaat. Sy het toe 183kg geweeg. Met die hulp van 'n opsporingstoestel kan Yoshi se reise effektief gemonitor word. Haar reis kan hier gevolg word. 

PREDIKANTENUUS
In memoriam: Ds. Christian Stephanus Roberts (15.10.1926 – 29.04.2020) 
Ons innige simpatie aan die naasbestaandes van ds. Chris Roberts, wat laasweek op ouderdom van 92 oorlede is.
Hy het onder meer in Oos-Londen-Wes, Kemptonpark-Noord en Zwaanswyk bedien en was tot met sy aftrede betrokke by die Sinode van Wes-Kaapland se Barmhartigheidsdiens. 
Ds. Chris het na sy aftrede by Chrismar Villas in Bellville gewoon en tot voor die inperking nog die weeklikse gebedsbrief van die NG Gemeente Bellville-Oos versorg. Met dank ontvang van Kerkbode.
PUBLIKASIES
Kerkbode deel hulle top stories
Le Roux Schoeman van KerkBode deel van hulle gewildste stories van die afgelope week.
Geroep om ’n verskil te maak 
“Op ’n dag het ek só verlang na die Kaap, maar toe voel ek of die Here vir my sê, maak die geboue jou berge, embrace wat voor jou en by jou is en leef in die nou,” vertel Leona Pienaar, hoof-uitvoerende beampte van MES in hierdie onderhoud met Jaco Strydom. Lees die volledige artikel hier.
Dán voel hele wêreld na ’n kerk
Dana Snyman skryf: “Ek glo nie ek het al ooit na die Onse Vader buite ’n kerkgebou geluister nie. Nou ry ek baie oggende deur Saldanha se vreemde strate en luister na ’n opname van Engelette Kruger wat die Onse Vader in die NG Elarduspark in Pretoria speel … dan voel dit vir my of die hele wêreld skielik ’n kerk is.” Lees meer hier.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Child protection month
May is child protection month and Badisa Trio continues to focus on children's rights and responsibilities. One of their social workers shares her fears during COVID-19. Learn more about the reality facing many families during lockdown and how you can help us make a difference.  Click below to read their newsletter.
Christelike Lektuurfonds
CLF het gratis hulpbronne en ondersteunende materiaal ontwikkel om kerkleiers en predikante in hierdie ongekende tyd te ondersteun, maar ook om kerkfamilies en gemeenskappe met spesiale oordenkings en meditasies te bedien. Klik hier om Rudi Swanepoel se bydrae "But what about you the pastor?" in hulle reeks oor pastorale versorging te lees. 
ALGEMEEN
Sondag vir Vigsherdenking 
Aneleh Fourie herinner gemeentes en gelowiges namens CABSA en die Gesamentlike Vigstaakgroep daaraan dat Sondag 17 Mei Vigsherdenkingsondag is. "In ‘n tyd waarin ons almal die effek van die COVID-epidemie op een of ander manier voel, moet ons mekaar ook net weer herinner aan van die ander epidemies wat al veel langer en heelwat stiller om ons woed. Met ongeveer 7.7 miljoen mense net in Suid-Afrika wat met MIV leef en daaglikse Vigsverwante sterftes, is dit steeds belangrik en ook dringend om hierdie Sondag bewusmaking van en solidariteit met mense wat met MIV lewe te verskerp.

Erediensriglyne is vanjaar aangepas vir die huidige konteks en sluit ook ‘n persoonlike refleksie in wat individue of gesinne tuis op hulle eie kan doen. Ons wil graag ‘n beroep op elkeen doen om in die afwesigheid van ons openbare eredienste tog moeite te doen om bewusmaking en solidariteit te bevorder." Lees gerus meer hier.

Vir meer inligting, kontak Aneleh by management@cabsa.org.za of 083 292 5358. Sien hulpbronne van #candlelightmemorial2020 deur op grafika hieronder te klik.
TEN LAASTE
Sondag is Moedersdag en vanjaar sal hierdie dag beslis anders as gewoonlik wees. Ons dink aan al ons ma's, moederfigure en die versorgers ver en naby (en in grendeltyd meestal buite bereik) en dra hulle in ons gebede op.
Ons sluit af met die aangrypende weergawe van Ave Maria deur Italiaanse tenoor Andrea Bocelli.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.