Lees deur internet, klik hier >>
6 Augustus 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Saakgelastigde vakature
Die pos van Saakgelastigde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) word vakant op 1 Februarie 2022. Die sinode wag nou aansoeke in om die pos van PSD (predikant in sinodale diens) in die Diensgroep vir Ondersteuningsdienste te vul.
Die sinode hoop om aansoeke te ontvang van leraars wat passievol is oor die rol van die kerk in die wêreld, maar ook oor vaardighede en kennis beskik om finansies te bestuur en ondersteuning te verleen aan ons gemeentes en bedieninge. Die sinode se belangrikste funksie is ondersteuning aan gemeentes. Daarom is dit belangrik dat die Saakgelastigde gemeentebediening verstaan en ook ‘n rolmodel is van diensbaarheid aan die Here.  
Klik hier vir die volledige posbeskrywing en -vereistes. Stuur jou aansoek as een PDF-dokument aan ngkadmin@kaapkerk.co.za. Die aansoekproses sluit op Maandag 23 Augustus om 12:00.  
Dis Vrouemaand 2021!
Die Taakspan vir Gender Geregtigheid is toegewyd om hierdie maand spesiaal aan die kant van vroueliggame en vrouepersone te getuig. Hulle skryf: "Ons nooi graag gemeentes, ander taakspanne en individue om hierdie maand saam met ons te vier, maar om ook saam met ons te werk vir bewusmaking en ondersteuning van alle vroue!
Ons deel liturgiese voorstelle vir komende Sondag hier, maar stuur ook elke week in hierdie maand inligting, hulpmiddels en ander hulpbronne in hierdie verband uit - hou gerus  Kerkbode en VrydagNuus hiervoor dop!
Rupi Kaur skryf die onderstaande gedig as belydenis van haar eie deelname aan die vernedering van vroue - sy getuig dat vroue ook skuldig is daaraan om ander vroue te onderskat en te minag.
Hiermee stel ons dus 'n eerste uitdaging aan veral vroue: maak dit hierdie maand jou werk om agter die stoel van vroue te staan! Werk vir bewusmaking, luister na vroue se stories en wees self 'n vennoot vir vroueliggame en vrouepersone!"
DinkJeug skep hulpmiddels vir Vrouedag
Maandag 9 Augustus is Vrouedag en DinkJeug het vernuftige hulpmiddels saamgestel. Dit sluit 'n uitdeelstuk vir kinders, vier familie-podcasts oor inspirerende vroue en kinderlesse oor vroue in die Bybel as inspirasie vir Vrouemaand. Klik hier om dit af te laai. Indien jy weekliks 'n moment vir die erediens, familietuisblad, podcast vir kategete en ander hulpmiddels van DinkJeug per e-pos wil ontvang, gebruik hierdie skakel om daarvoor in te skryf (jy kan dit ook enige tyd weer staak.)
Barmhartigheidsmaand: Waardeer mekaar
Hierdie week se kort oordenking sluit aan by Lukas 6:31-36: “…julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes.” Dank God dat Hy met sagte oë na mý kyk!
Om met Jesus se hart te leef, het gevolge: dit verander jou lewensuitkyk ingrypend. Soms kyk ons te vinnig en te vlak. “Jy is altyd aan die hardloop. Jy is net in jou eie geselskap. Jy is selde in die geselskap met die wêreld rondom jou,” verduidelik ’n karakter in die film Rainmaker as iemand kla dat die wêreld in sy kop dikwels baie mooier is as die werklikheid rondom hom. “Sal dit ’n verskil maak?” vra hy dan. “Sal ek leer om die wêreld lief te hê?”
Die enigste manier om die wêreld en mense rondom jou werklik lief te kry, is om met God se oë na hulle te kyk. Dit laat mens wonder hoe God dit regkry om met barmhartigheid en genade na mense te kyk wat altyd maar rondval tussen die hunkering na Hom enersyds en herhaaldelike afvalligheid andersyds. God se antwoord is om deur sy Seun, Jesus Christus, in die skoene van mense te kom staan. Dieselfde proses geld vir ons. Wanneer ons toelaat dat die barmhartige Gees van God ons lei, kom ons letterlik op plekke (of in skoene) wat ons andersins dalk spontaan sou wou vermy.  Blootstelling het die potensiaal om ons harte te verander en empatiese begrip te bring wat oorgaan in lewegewende meelewing en ondersteuning. 
Wanneer ’n mens omgee, ontstaan daar allereers verhouding. Barmhartigheid is onvoltooid as dit nie op ’n manier ook mense se harte aan mekaar verbind nie, oftewel respek en waardering vir mekaar bewerk nie. Barmhartigheid sonder verhouding, sal niks verder as die gewone ‘hand-outs’ gaan nie. Om barmhartig te wees, soos God barmhartig is, sal altyd tot dieper waardering, respek en opregte omgee lei. Dan kyk jy dieper as die opsigtelike gebrek, siekte, aggressie of stryd. Dan ly jy regtig saam met die persoon totdat omstandighede beter is vir beide van julle.
Kllik hier vir meer preektemas, beelde, stories, narrafore, kinderoomblikke (Sakkie-video’s), kleingroepmateriaal, tuisgeloofmateriaal en Power Point-raamwerke asook grafika vir week 2 se tema. Die video hieronder vertel Badisa se eietydse barmhartige Samaritaan-storie. 
Voorbidding is protes
Kyk gerus na die volgende video in die reeks #LeerVersoen aanlyngesprekke - 'n inisiatief van die NG Kerk se Algemene Sinode Taakspan vir Versoening en Identiteit. In hierdie video gesels Rudi Swanepoel en Marinda van Niekerk met professor Klippies Kritzinger. Uittreksels uit hierdie gesprek: “Voorbidding is protes teen hoe dinge nou is. Ons klop nie vir God wakker nie – ons beweeg saam met God na lyding. Vriendskap met mense wat anders as jy is, breek ons ‘vergeesteliking’ af. Kom ons treur oor ons gebroke ‘ons’ [Suid-Afrika] en skep medemenslikheid en versoening. As ons nie nou hoop kan lewer nie, moet ons maar die kerk toemaak.”
Vir meer inligting of om betrokke te raak, stuur 'n e-pos aan versoen.africa@gmail.com.
Nuus uit KZN
Francois Maritz van Pietermaritzburg deel die goeie nuus dat hulle ramphulpfonds vir KwaZulu-Natal vroeër die week die R1 miljoen-kerf verbygesteek het.
"Dit is vir ons 'n voorreg om al hoe meer aansoeke vir verligting te kan oorweeg en uit te betaal. Ons het ook verlede week die voorreg gehad om 195 kospakkies na verskeie areas in KZN te versprei deur donasies van voedsel. Dit is heerlik om te kan getuig hoe die Gees oor grense heen werk en ons diverse gemeenskap al meer en meer saambind. Prys die Here vir Sy wonderlike werk."
Werkswinkel ter ondersteunning van “vakante” gemeentes
Verlede week het ds. Stephen Pedro (PSD Gemeentegetuienis) met behulp van die twee Contextual Bible Reading-implementeerders, di. Babalwa Sifuba en Moses Baartman, asook di. André Agenbag (PSD Gemeentebegeleiding) en Bossie Muller (Communitas-opleier) 'n werkswinkel met 'n groep leraars (wat ook opgeleide brugpredikante is) by die AMSS in Wellington gefasiliteer. Hierdie brugpredikante gaan ds. Pedro help in die begeleiding van ons "vakante" VGK-gemeentes om hul Godgegewe roeping duideliker te help verstaan. Lees meer daarvan hier
Nederigheid 
"Dikwels, as ek my Bybel oopslaan, kom ek agter dat dié reeks geskrifte die wêreld op sy kop omkeer," skryf dr. Leopold Scholtz, navorsingsgenoot aan die Noordwes-Universiteit. Hy woon in Delft, Nederland, waar hy gereeld ontledings van die internasionale politiek skryf.
"Ons mense is van nature dikwels geneig om die wêreld op ’n bepaalde manier te benader – om krag te toon, om ander te imponeer, noem maar op. En dan kom die Bybel wat, as jy hom goed lees, alles omkeer en juis die teenoorgestelde predik. Ons – en dit geld maar vir alle lewensterreine – is so dikwels geneig om deur ons dade en woorde te sê 'hier is ek; ek laat nie met my speel nie; ek is sterk en besonder.' 
Nou moet ’n mens die begrip nederigheid (Paulus self praat van astheneia of swakheid) goed begryp. Dit beteken nie dat jy by wyse van spreke in ’n hoekie wegkruip en hoop mense sien jou nie raak nie. Dit beteken nie dat jy met jou kop onderstebo rondloop en ekskuus vra dat jy leef nie. 
Dit beteken wel dat jy nie grootmond is nie, dat jy jouself nie die hele tyd op jou bors slaan nie, dat jy steeds aan almal duidelik wil maak hoe besonder jy is nie. Nederigheid beteken dat jy jouself goed ken en dat jy respek het vir ander.
Dít is égte krag, in teenstelling tot die valse krag wat ’n oordrewe kragdadigheid meebring." Leopold se volle skrywe is op die Sentrum vir Publieke Getuienis se webblad beskikbaar. 
Meer as 200 000 seelui ter see gestrand!
Dink twee keer voordat jy weer aan daardie heerlike visgeregte uit jou supermark se vrieskas begin smul. Daar is ’n hele industrie wat sorg dat dit op jou bord kan kom. BIBLIA speel ’n onontbeerlike rol om veral vir die seelui en vissermanne in hierdie bedryf langs ons enorme seekus geestelik te versorg en veral vir hulle in te tree as hulle uitgebuit word. Die beloofde opsomming oor die ICMA Partnership Crew Connect Conference wat Jaco Leeuwner, koördineerder van die BIBLIA Kaapstreek, in Junie bygewoon het, kan hier gelees word. Dit is 'n goeie opsomming en inligtingsdokument oor wat in die maritieme bedryf gebeur en die druk wat daar in Biblia ervaar word.
Daar is ook onlangs 'n wonderlike dokumentêr gemaak deur Al Jazeera wat op YouTube te sien is. Kontak Jaco Leeuwner, BIBLIA Kaapstreek-koördineerder, by contact@biblia.partners vir meer inligting en om uit te vind hoe om betrokke te raak.
Die merkwaardige Alice Brink van Nigerië
Augustus is Vrouemaand – die ideale geleentheid om weer eens op die formidabele vroue in ons NG Kerk Argief-geskiedenis te fokus. Hierdie week laat val Bianca Truter-Botha, tans aflosleraar by die NG Gemeente Pinelands, die lig op Alice Brink, vrou van ds. Attie Brink, wat saam met haar man sendingwerk in Nigerië gedoen het. Hierdie sendelingsvroue was sterk steunpilare en ankers in hul mans se bedieninge, meestal sonder enige erkenning van hul onontbeerlike bydraes in die geskiedenis van ons kerk. Kyk gerus na die video onder.
PREDIKANTENUUS
In memoriam: Bianca van Graan
(29.01.1988 - 26.07.2021) 
Ons het met hartseer verneem dat Bianca van Graan aan COVID-verwante oorsake oorlede is. Bianca het bedien by gemeentes Lyttleton-Oos en Migdol in Sinode Goudland en was tentmaker by Kenhardt in die Noord-Kaap. Sy het ook meer onlangs in die ring van Vredenburg gepreek en was betrokke by Laaiplek, waar haar ouers bly. Haar roudiens vind Saterdag 7 Augustus in Laaiplek-gemeente plaas. 
Ons innige simpatie aan haar ouers, familie en vriende.
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Vraghouer met literatuur op pad vir CAVA
CAVA (Christian Audio-Visual Action) in Harare Zimbabwe het as nie-winsgewende bediening in die 1970’s ontstaan. Dit was nadat ons NG Kerk-sendelinge die nood van die Zimbabwe-plaaswerkers raakgesien en stelletjies literatuur, oudio-kassette en prenteboeke aan hulle begin beskikbaar stel het. Sedertdien het CAVA se fokus uitgebrei en ’n hele reeks verskillende publikasies is ontwikkel. Mev. Christine Chanza, bestuurder van CAVA, het ons verlede week ingelig dat vriende uit die VSA vir hulle so pas ‘n skeepsvraghouer met Christelike literatuur geskenk het – iets wat in hierdie uitdagende tye wonderlike nuus vir ons is. Lees meer hier
Foto: Die span van Eagles Nest Ministries in die VSA wat die vraghouer vir CAVA gepak het.
GEMEENTENUUS
Citrusdal deel warmte uit
Die kerkspan van Citrusdal-gemeente het verlede week komberse uitgedeel by hulle plaaslike kliniek. Volgens die SA Weerdiens (SAWD) is 19 rekords vir lae temperature tydens hierdie winter regoor Suid-Afrika gebreek. Daar is dus 'n groot behoefte aan komberse. En dié gemeente vertel dat mense in lang rye buite in die koue staan en wag by die kliniek op die dorp. Hulle het reeds 25 komberse ontvang wat aan mense uitgedeel is en vra die gemeenskap om hulle projek te ondersteun. 
"As u 'n ekstra kombers het, kom gee dit asseblief by die kliniek of by die kerk af en ons sal dit neem na die kliniek." Mense het tot einde Augustus tyd om komberse by die kerkkantoor af te gee. 
Oostersee brei fluks
Oostersee-gemeente laat weet dat hulle breigroep aan die brand is. "Die groep bestaan uit lidmate van Oostersee, Parow Senior Sentrum en vriendinne. Die dames is gedurig besig met projekte deur die jaar.
Onlangs het hulle vir die ACVV Huis Bergsig slaapsokkies en mussies gebrei.  26 Mussies is ook aan die Graad 3-klas van Glen Heatlie Primêr in Worcester geskenk. Projek Flamingo het nou tot ‘n einde gekom en die 86 slaapsokkies, 90 musse, 2 serpe en 9 pare handskoene is reg om versprei te word. Hierdie projek se breiwerk word geskenk aan kankerpasiënte, wat op operasies wag.
Baie dankie aan almal wat bydraes lewer, skenkings van wol is altyd welkom."
Huwelikskursus by Durbanville
Registreer nou vir Durbanville-gemeente se 2021 huwelikskursus. Die kursus bestaan uit 'n reeks van ses sessies wat in die konsistorie aangebied word. Sien onderstaande grafika vir meer besonderhede. Klik hier om die inskrywingsvorm af te laai.
EKOLOGIE
Wêreld se eerste onderwater groentetuin 
Landbou kom in baie verskillende vorme voor - van die ou rysterrasse van Yunnan tot moderne vertikale hidroponika. Nou het 'n groep Italianers die wêreld se eerste onderwater groentetuin ontwerp. Hulle gebruik dompelbare glashouers om potte basiliekruid, blaarslaai, tamaties en selfs zucchini, groen ertjies, aloe vera en sampioene te laat groei soos in enige ander tuin op land.
Die projek se naam is Nemo's Garden en is deur die Ocean Reef Group geloods as 'n manier om te eksperimenteer met unieke vorms van voedselvoorsiening, indien klimaatsverandering veroorsaak dat dele van wêreld te droog raak om te boer.
Nemo's Garden is tans bloot net ‘n navorsingsprojek, maar projekleiers hoop die idee word uitgebrei sodat dit na verwagting voedselsekerheid vir verskeie dele van die wêreld kan verbeter. Kyk gerus na die video onder om te sien hoe die projek uitgevoer is. 
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Lentekonferensie 2021 vind aanlyn plaas
Inskrywings vir die Lentekonferensie 2021 van 14 - 16 September maak binnekort oop. Dit word aangebied deur Excelsus in samewerking met die VBO-forum. Vir navrae, kontak Rika by excelsus@up.ac.za.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Vastetermyn leraarspos, Kraaifontein
Gelegitimeerdes van die NG Kerk wat ampspligte sal nakom soos omskryf, met Artikel 9 van die Kerkorde as riglyn, word uitgenooi om aansoek te doen vir hierdie pos by NG Kerk Kraaifontein. Die ideale kandidaat is Skrifgetrou, iemand met 'n gawe vir pastoraat, het goeie menseverhoudinge om in ’n multikulturele omgewing die gemeente te kan uitbou en is gemaklik in die gebruik van multimedia om die prediking en gemeente-aktiwiteite te ondersteun.
Klik hier om die volle gemeente- en leraarsproefiel te lees. Aansoeke sluit 20 Augustus. 
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik op grafika vir KiX se Nuusbrief Kwartaal 3.
PUBLIKASIES
Boekbekendstelling in Stellenbosch
Covid Diaries: Women’s Experience of the Pandemic is 'n versameling essays deur 'n diverse groep skrywers wat die daaglikse realiteit van die COVID-pandemie vasvang. Redakteurs Amanda Gouws en Olivia Ezeobi help om uiting te gee aan die gevoel van angs en onsekerheid wat die pandemie meegebring het.
Die bekendstelling vind op Woensdag 11 Augustus om 17:00 by die STIAS (Stellenbosch Institute for Advanced Studies) in Maraisstraat plaas. Slegs die eerste 40 belangstellendes kan akkommodeer word. Die geleentheid sal ook op MS Teams gestroom word. Klik hier vir die skakel. 
RSVP teen Vrydag 6 Augustus by Marieta Snyman
ALGEMEEN
Raakgelees: Voertuie met vlerke
Die fantasie van voertuie wat kan vlieg, beweeg elke jaar nader aan die werklikheid. Verskeie maatskappye werk aan hierdie tegnologie en het ook al innoverende prototipes gebou om toetsvlugte te neem en hoop dat vliegmotors teen 2030 in stede regoor die wêreld sal funksioneer.
‘n Prototipe vlieënde motor, AirCar, het verlede week 'n vlug van 35 minute in Bratislava, Slowakye, voltooi.
Dié hibriede motorvliegtuig, ontwerp deur prof. Stefan Klein, is toegerus met 'n BMW-enjin en werk met dieselfde brandstof as huidige motors. Klein spog dat die AirCar ongeveer 1000km ver kan vlieg, op 'n hoogte van 2500m. Die video onder wys die motorvliegtuig in aksie.  
KUIERKANSE
Ondersteun gerus die Gemeente van Suidpunt Struisbaai/Agulhas se verkoping.
TEN LAASTE
En so speel Tokyo 2020 die afgelope paar weke op ons TV-skerms af. Die Olimpiese Spele wat in Maart 2020 sou plaasvind, is weens die COVID-pandemie uitgestel en derduisende atlete van meer as 200 lande neem tans aan hierdie geleentheid deel. Tussen die glorie van goud, drama en opwinding was daar egter ook twee inspirerende Suid-Afrikaanse atlete, wat openlik oor hulle geloof getuig het.
Swemmer Tatjana Schoenmaker, wat 'n goue en 'n silwer medalje losgeswem het, se swempet het die leuse Soli deo Gloria  (Aan God alleen die eer) uitbasuin, terwyl foto's van 'n biddende Bianca Buitendag globaal deur Getty Images gestroom is. Die branderplankryer het 'n silwer medalje verower en op haar Facebook-blad geplaas: "Ek wil my Hemelse Vader erken, wat my hand deur al hierdie jare styf vasgehou het."
Mag ons in doodgewone oomblikke die geleentheid vind om aan Hom al die eer te gee.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.