Subscribe to our email list
 3 Junie 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. NG Algemene Sinode
Nuwe Lied vir SA Nodig

Veertig jaar gelede het ons samelewing gebrand met jeugopstande in Soweto en elders. Twintig jaar later is die nuwe grondwet aanvaar, Nou, met die veertigste herdenking van die onrus van 1976, wil SA-kerke help om die ideale van die grondwet prakties lewe te gee. Dit is kortliks die boodskap agter die versoeningsbyeenkoms wat die kerke saam met die SA Weermagvereniging en die June 16 Foundation vir 11 Junie in Orlando, Soweto, beplan.
"Dit is 'n geleentheid vir SA om onder God te begin met 'n nuwe reis van belydenis, vergifnis, versoening en heling. Die nuwe tyd vra van alle Suid-Afrikaners om saam te sing aan 'n nuwe lied, soos Psalm 98:1 sê: 'Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here.'" Lees gerus hoe Kerkbode verder hieroor berig

Fay van Eeden
2. Biddag vir die Ekologie: 5 Junie
Hierdie Sondag, 5 Junie 2016, is Internasionale Omgewingsondag. Fay van Eeden, sameroeper van die Taakspan vir Ekologie (en predikant in die NG Gemeente Lynnwood), het 'n preek en PowerPoint-aanbieding beskikbaar gestel vir dié geleentheid.
Die titel is "Om botter te eet of nie" en die inligting is beskikbaar vir gebruik deur enige predikant of gemeente wat Sondag oor hierdie belangrike saak wil preek. Ons sê graag dankie aan Fay en die Algemene Sinode hiervoor.
Marie Britz
3. So werk ons Sinode
Die werk van die Sinode van Wes-Kaapland word deur vyf diensgroepe hanteer. Elke diensgroep bestaan uit verskillende taakspanne. Die vyf diensgroepe is:
Armoede en Sorg, Gemeentebegeleiding, Getuienisaksie,
Ondersteuningsdienste en Toerusting.

Die bestuurder van die Diensgroep Toerusting is Frederick Marais (Predikant in Sinodale Diens: Teologiese Opleiding), met Marié Britz van Stellenbosch Moedergemeente (foto) as voorsitter. 
Die taakspanne wat deel van Toerusting uitmaak, is Dissipelvorming, Leer en Aktuele Sake, Menswaardigheid en Voortgesette Bedieningsopleiding (VBO), met die Kuratorium (Dosenteraad en Seminarium) ook in die pakkie.
Kontak Amanda van Niekerk by 021 808 9138 of toerusting@kaapkerk.co.za vir meer inligting oor hierdie diensgroep. Wilma le Roux (e-pos) hanteer die VBO-inligting.
Frederick Marais
Frederick Marais
PSD 
Amanda van Niekerk
Toerusting
Wilma le Roux
Wilma le Roux
VBO
3.1 Frederick Marais: PSD Teologiese Opleiding
In gesprek met Frederick Marais, PSD:Teologiese opleiding hoor ons meer van hul visionêre planne vir die Kuratorium, die kultuurskuif wat hulle in die Kuratorium aan die maak is, wat gedoen word om hul studente bedieningsgereed te kry, die rol wat die Seminarium speel tov die geestelike vorming van predikante en van die afgestudeerde studente se internskapprogramme. Hoor meer in die video onder.  
Frederick Marais - PSD: Teologiese Opleiding
Anriette de Ridder
4. Beplanning: Biddag vir Jeug en Kategese
Met die oog op beplanning vir die Biddag vir Jeug en Kategese (Sondag 12 Junie) verskaf Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Familie) preekriglyne, 'n liturgiese moment, PP-aanbieding en vier gebede (met erkenning aan oa Die Groot Gebedeboek):
- vir kinders met uitdagende omstandighede (klik hier)
- vir ouers, kerkleiers, onderwysers (klik hier)
- vir 'n spesifieke kind of jongmens (klik hier)
- vir jongmense om 'n verskil te maak (klik hier).
Die liturgiese voorstel sluit ook netjies aan by die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid - oorweeg gerus om hiervan gebruik te maak op 12 Junie. (Baie dankie, Anriëtte!)
#Imagine Matriekfees
5. #Imagine Matriekfees 2016!
Die #Imagine Matriekfees is vanjaar van 30 November tot 6 Desember 2016 in Heroldsbaai. Matrieks van regoor die land kom dan bymekaar vir 'n week van son en see, kuier, ontspan, vriende maak en "chill" naby die natuur en naby God. Moenie hierdie ongelooflike ervaring misloop nie! Hulle splinternuwe promosie video en die inskrywingsvorms is op die fees se Facebook-blad
6. Namibië: Regering wil met Kerke hande vat
Feldmuis, die NG Kerk in Namibië (NGKN) se nuusbrief, berig oor hulle president, Hage Geingob, se strewe om as regering met die kerke in Namibië hande te vat om van die land 'n suksesverhaal te maak. Die staatshoof en geloofsleiers van oor die hele spektrum het op 13 Mei ontmoet. Die NGKN is deur dr André Olivier en ds Johannes Maritz verteenwoordig.
Die president het weer na Namibië verwys as 'n huis waarin elkeen moet welkom en veilig voel. Niemand in hierdie huis is veronderstel om swaar te kry nie. Daarom het hy veral aangesluit by armoede uitwissing en die bestryding van korrupsie. Hy het die regering se plan, Harambee Prosperity Plan 2016/17 – 2019/20, ter tafel geneem. Harambee beteken “Pull together in the same direction”, en is 'n neutrale Afrika-woord uit Kiswahili, om  bevoorregting van een taal te vermy. 
Werklik 'n vars bries in vergelyking met die politieke toneel in SA. Lees hier meer.
Pres Hage Geingob ontmoet geloofsleiers
Pres Hage Geingob ontmoet geloofsleiers. André Olivier is tweede van regs.
Isabelle Murray
ALGEMEEN
1. Argief verwelkom Isabelle Murray

Isabelle Murray het op 1 Junie 2016 begin as Argiefbeampte - en ons heet haar graag hartlik welkom!
Sy was vir baie jare maatskaplike werker, en het ʼn indrukwekkende agtergrond wat wissel van die diplomatieke diens tot gemeenskap-ontwikkeling. Sy besit ook ʼn PhD in Praktiese Teologie. Haar ontmoeting met die argief was meer persoonlik, met die ontdekking van 21 dagboeke van haar oupa Andrew George Murray (ʼn broerskind van dr Andrew Murray) in die argief.
Isabelle sal verantwoordelik wees vir die byhou van ons predikante se biografiese besonderhede en databasis, sowel as 'ʼn paar versamelings, waaronder die persoons- en predikanteversameling. Sy sal ook hulp verleen aan Karen Minnaar, wat die argief se toenemende navorsers bedien.
Kontak die vriendelike Argief-personeel by 021 882 9923 of besoek die webwerf.
Winterhoop
2. Warm Klere en Kos vir Winterhoop! 
Almal word vriendelik uitgenooi om deel te wees van die sestiende landwye Winterhoop-veldtog (van 1 tot 20 Junie).
Winterhoop is 'n veldtog waar verskeie organsiasies, kerke, koerante en maatskappye saamwerk om die nood in ons land gedurende die winter aan te spreek. In die Kaap-omgewing word almal versoek om warm winterklere en nie-bederfbare voedsel aan MES te skenk, wat sal toesien dat dit versprei word waar die nood die grootste is. Dit kan afgelaai word by MES se kantore (Daviesstraat 3, Boston). In noodgevalle kan dit deur MES opgelaai word - kontak gerus vir Clarina Hanekom by 021 949 8736. Lees hier meer.
3. DiacAfric Konferensie: Armoede - Geleentheid? Verleentheid?
Die NG Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Diakonaat, in samewerking met Hugenote Kollege, het die afgelope week die DiacAfric-konferensie in die ooste van Pretoria aangebied met die tema: "Armoede – geleentheid of verleentheid vir 'n missionale gemeente."
Die NG Kerk (en Sinode van Wes-Kaapland) se moderator, Nelis Janse van Rensburg, het as openingspreker opgetree; sy toespraak kan hier gelees word. Die Wes-Kaap is goed verteenwoordig by hierdie besonder aktuele konferensie.
DiacAfric
Botha van Aarde, Elize Bezuidenhout, Elize Morkel,
Nelis Janse van Rensburg, Willie van der Merwe
Olav Fykse Tveit
4. End AIDS by 2030
"The United Nations General Assembly High-Level Meeting on Ending AIDS will be held in New York, United States of America, from 8 to 10 June. United Nations Member States will draft a Political Declaration on Ending AIDS designed to reach the end of AIDS as a public health threat by 2030 as part of the United Nations Sustainable Development Goals." Lees hier meer.
On 24 May, Olav Fykse Tveit, Secretary-General of the World Council of Churches, released a video message, entitled “World Council of Churches General-Secretary Olav Fykse Tveit’s message on interfaith action on HIV.” Kyk die video hier.
Evangelisasie
5. Evangeliseer nou!
Die stand van Brittanje se Christendom is kommerwekkend. Nou het 'n onlangse meningsopname boonop vir die eerste maal in die geskiedenis aangedui dat meer Britte hulleself tans beskou as "sonder geloof" as diegene wat hulleself as Christene bestempel. Tog is dit egter nie noodwendig 'n teken van die Christendom se einde nie.
Wat kortkom, is evangelisasie, aldus 'n artikel in die Telegraph van 28 Mei 2016. Daar skryf Tim Stanley dat Christene hul eie grootste vyand geword het deur hul geloof met stilswye te vermoor. Hier mag waardevolle insigte en lesse in die artikel opgesluit wees vir die NG Kerk-familie. Klik hier om meer te lees.  
Elna Mouton
6. Elna Mouton: Maatskaplike Werker, Bybelkunde dosent, Prof, Dekaan
Elna Mouton is die mederedakteur van vanjaar se wenboek van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys.
Die jongste Kerkbode het interessante inligting oor die projek wat tot hierdie boek gelei het - en vertel sommer ook meer oor hierdie merkwaardige vrou, wie se pad via Stellenbosch en die Hugenote Kollege op Wellington na die Oos-Kaap gelei het ... en uiteindelik na die Fakulteit Teologie op Stellenbosch waar sy dekaan was. Lees hier meer.
Haar droom vir die pad vorentoe? Sien onder.
Elna Mouton se droom vir die toekoms
Henk Gous
7. Beskikbaar vir Preekbeurte
Uit die Wes-Transvaal Sinode ontvang ons die nuus dat dr Henk Gous, emeritus leraar wat vroeër in die bediening in die NG Gemeentes Vanderbijlpark-Suid, Puk-kandelaar en Quellerina was, beskikbaar is vir preekbeurte landswyd. Kontak hom by 083 267 0108 of henkgous@mweb.co.za.
8. Bybelgenootskap van SA: Mary Jones se Storie
Dalk vir 'n kindermoment of 'n Sondagskoolles? 
In 1800 het die 15-jarige Mary Jones 40 km gestap om vir haarself 'n Bybel te koop. Mary se passie en toewyding het tot die stigting van die eerste Bybelgenootskap in Wallis gelei. Haar storie word in die onderstaande video vertel. Ondersteun gerus die werk van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika - klik hier.

Mary Jones se verhaal
9. Oor Inkleur vir Volwassenes ... 
Miskienis jy een van diegene wat effens neersien op die (groterwordende) groep volwassenes wat inkleur as vorm van meditasie of fokus ontdek het. Die feite is dat die verkope van inkleurboeke verlede jaar ongekend verhoog het. In Suid-Afrika verskyn 'n wye verskeidenheid inkleurboeke van 'n Christelike aard as deel van hierdie gier.
As jy wil lees hoe Christianity Today hieroor berig, klik hierOnderaan is enkele van Bybel-Media se inkleurboeke. Klik op die voorblaaie vir meer ...
My inspirasie-joernaal Inspirerende Inkleurboek vir grootmense 365 Beloftes uit die Woord in Kleur
GEMEENTENUUS
1. VGK-jonges op die Spore van Belhar
Hoe ingelig en toegerus is ons oor die geskiedenis en ontstaan van die Belydenis van Belhar? Om jongmense blootstelling aan die kerk se geskiedenis (met besondere klem op die Belydenis van Belhar) te gee, het "toergids" Reggie Philips op Saterdag 28 Mei 'n groep jong katkisante van die VGK vanaf SA Gestig in Belhar tot by die Distrik Ses museum en SA Gestig in Langstraat geneem.
Dr Llewellyn MacMaster het die groep terug by SA Gestig in Belhar meer vertel oor dié ryke geskiedenis. Groot dank aan Mike Maatjan en ds Willa McKay vir die inisiatief en reëlings! 
VGK-uitstappie na SA Gestig
Alida en Cliffie
2. NG Gemeente Suider-Strand
Inspirasie van Eagle Yard

Christo Benadé vertel 'n verhaal van hoop en inspirasie uit hulle gemeente.
"Twee van ons lidmate, Cliffie en Alida, bly in 'n pragtige huis wat hulle van afvalmateriaal gebou het in 'n informele nedersetting, “Eagle Yard”. Daar woon 20 gesinne in die "yard", met so tussen 6-10 voorskoolse kinders. Al die volwassenes (met die uitsondering van Cliffie, Alida en 1 of 2 ander) gebruik dwelms.
Die jongste inwoner daar is 24 uur oud. Alida het haar om 02:10 gevang. Sy het in die wêreld gekom sonder pa, ooievaarstee, babakamer, doek of "babygrow". Sy is haar ma se sesde kind. Maar Cliffie en Alida (foto) het 'n visie vir die “yard” se kinders: om hulle kos te gee, droog te hou en te leer. Hulle het nou 'n vertrek aangebou (met afvalmateriaal) wat Alida wil gebruik om dit te doen. Hierdie twee mense inspireer ons gemeente oor wat dit beteken om 'n verskil te maak."
Apologetiek Werkswinkel
3. NG Gemeente Parow-Welgelegen
Apologetiek Werkswinkel

Divan Vrey, predikant by NG Gemeente Parow-Welgelegen, laat weet: "In ons (post)moderne kultuur ontstaan daar 'n behoefte by mense om geloof te verstaan vanuit 'n wetenskaplike en filosofiese oogpunt. Dario Carzola en sy span van NG Parow-Welgelegen het 'n apologetiek kommissie by die Ring van Tygerberg gevorm en bied 'n apologetiek werkswinkel gratis aan vir gemeentes. 
Die span het 'n verbruikersvriendelike filosofiese inslag waarmee hulle met mense omgaan en verduidelik op 'n eenvoudige en toeganklike manier hoekom Christenskap nie 'n feëverhaal is nie." Kry die inligtingstuk met meer besonderhede. Kontak die gemeente deur hulle webwerf.
Twitter Facebook YouTube
PREDIKANTENUUS
1. Chris Barnardo: Word wat jy Weet ...
Diegene wat 'n kans gehad het om VrydagNuus van 20 Mei te bekyk, sal Chris Barnardo (NG Kuilsrivier-De Eike) se treffende "Ten Laaste" bydrae onthou. Daarin het hy iets van sy persoonlike reis met vergifnis gedeel.
Op die voorblad van die jongste Kerkbode (3 Junie se uitgawe) vertel Chris meer hieroor. Belangstellendes kan dié inspirerende verhaal, geskryf deur Annalise Wiid, lees deur hier te klik. (Foto - Annalise Wiid)
Chris en Carina Barnardo met kleindogter Carlien
Chris en Carina Barnardo met kleindogter Carlien
Grappie
Herman Burger en Deon Smit
EKOLOGIE
1. Kerk vat Hande vir Water!

In die gees van Sondag se Biddag vir die Ekologie, deel ons graag hierdie inisiatief van Herman Burger (predikant by die NG Moedergemeente Bellville).
'n Jare lange vriendskap tussen Deon Smit en Herman Burger het die water-skaarste in die platteland tot in die middestad van Bellville gebring. Deon, Wes-Kaapse verteenwoordiger van Water Shortage South Africa (WSSA) het Herman (leraar van Bellville Moedergemeente) genader vir samewerking met die NG Kerk. Bellville gemeente wil ander stedelinge uitdaag om ook landswyd WSSA se hande te vat en nood van mens en dier te verlig. Lees hier verder.
Kontak Deon by 082 738 2702; besoek die NG Droogtehulp-webwerf of skakel Herman Burger by 083 777 9896. (Foto: Herman en Deon)
Water vervoer
'n Vrag water onderweg
Carin van Schalkwyk
2. Water en Kerk is deel van Mekaar
Waarom 'n konferensie oor water hou? Waarom drie dae spandeer om predikante en gemeenteleiers bymekaar te laat kom om oor water te praat? Water kry nuwe betekenis wanneer:
- groen weivelde in woestyne verander
- daar letterlik net lewe rondom 'n windpomp is
- krane in dorpe leegloop en die inwoners nie drinkwater het nie
- 'n gemeente die een biddag vir reën na die ander hou en die sluise van die hemel gesluit bly.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die Eenheid vir Bedieningsbegeleiding in die NG Kerk Vrystaat vanjaar hulle gemeentekonferensie by die Gariepdam gehou het. Lees gerus hoe Carin van Schalkwyk (skriba van die Vrystaat Sinode) in die e-Kerkbode hieroor skryf.
3. Rentmeesters van die Aarde
"Ons is rentmeesters, nie meesters van ons aarde nie. Elkeen van ons het 'n persoonlike verantwoordelikheid om te sorg vir die kosbare gawe van God se skepping." - Pous Fransiskus (30 Mei 2016)
Pous Franciskus tweet oor rentmeesterskap
NUUSBRIEWE
Bybel-Media Nuusbrief
Hans Steyn, hoof van Bybel-Media (BM) se Departement Fondswerwing, skryf: "Die week is die fokus by BM op die jongste Kerkbode en twee unieke Bybelkor-publikasies." (Lees die nuusbrief hier.)
Neem gerus ook kennis van ons eie Chris Barnardo, predikant in die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike, se verhaal op die voorblad van hierdie uitgawe van Kerkbode.
Kerkbode 3 Junie 2016 Oop vir die Oomblik
Serpe met Hart
PUBLIKASIES
1. LiG en Laingsburg
Serpe met Hart vir die Winter!

Wie sou kon dink dat 'n mens so vinnig en maklik 'n klomp serpe kan maak? In die nuutste LiG-uitgawe, wys Lisa Cronjé, voormalige predikantsvrou van Laingsburg, hoe om ou T-hemde te omskep in buisserpe vir die winter wat voorlê. Lees gerus hoe jy te werk kan gaan om op hierdie bekostigbare manier 'n verskil aan iemand se lewe te maak. 
Het jou gemeente ’n soortgelyke projek wat julle met LiG wil deel? Stuur ’n e-pos aan Sonja-Marié Brand by smb@tydskrifte.co.za. Om in te teken op LiG, klik hier. (Met dank en erkenning aan LiG, een van die NG Kerk se amptelike mediavennote.)
2. CLF: Geloofsgroei vir die Kinders van Afrika
CLF se Vertel! Vertel! geloofsgroei reeks vir kinders tussen 8 en 16 (en in ses inheemse tale) is goed nagevors met die behoeftes en uitdagings in ons verskillende taalgroepe en kultuurkontekste in gedagte.  Dit is veral geskik in landelike, armer gemeenskappe waar allerlei tegniese hulpmiddele nie beskikbaar is nie.
Die reeks van vyf boeke is beskikbaar teen R70 per boek - 'n bekostigbare hulpmiddel om ander gemeentes of gesinne mee te seën. Bestellings: skakel CLF by 021 873 6964 of by order@clf.co.za.
Vertel! Vertel!
3. Kerkbode: Ons moet Twee liedere saam Sing
In Kerkbode van 3 Junie deel Nelis Janse van Rensburg enkele indrukke oor die afskeidsdiens vir Winnie Rust in Wellington. (Sien hier.)
As deel van die diens word die isiXhosalied Indodana gesing. 'n Lied wat huil oor die stukkendheid van ons land en mense wat rou en treur. (Luister onder.)
In pas met die versoeningsveldtog waaraan die NG Kerk-familie vir die volgende maande deelneem, word egter ook melding gemaak van 'n nuwe, ander lied wat ons moet sing. Soos die Oorwinningslied waarmee Winnie Rust se diens afgesluit is. 'n Lied van hoop. Mag ons mekaar hiermee help - ook en veral as die hartseer groot is.
Stellenbosch Universiteitskoor sing Indodana
Die Stellenbosse Universiteitskoor sing "Indodana"
e-Kerkbode-logo
4. Kerkbode En e-Kerkbode: Twee maal so goed!
Die NG Kerk se kommunikasie het 'n reuse voorwaartse stap geneem met die bekendstelling van e-Kerkbode. 
Die gedrukte Kerkbode word aangevul deur die nuwe e-Kerkbode wat kerknuus nou gratis by www.kerkbode.co.za beskikbaar stel. Bybel-Media werk intussen aan 'n toepassing ("app") om die nuwe e-Kerkbode selfs makliker toeganklik te maak dmv tablette en selfone.

Oorweeg asb om lidmate aan te moedig om by www.kerkbode.co.za in te teken vir vars en aktuele nuus van die NG Kerk-familie direk in jou "inbox".

KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor basaars en vieringe! Hou ook die sinode se Facebook dop. 
NG Worcester-Noord Basaar
NG Worcester-Noord Basaar
3 Junie 
Alta du Toit Teeparty
Alta du Toit Teeparty
25 Junie
VAKATURES
1. NG Heidekoppie: Jeugwerker (Kontrakpos)
Aansoeke word ingewag van 'n jong, energieke persoon met 'n lewende verhouding met Jesus Christus vir die vakature van jeugwerker (kontrakpos vir 12 maande) by Heidekoppie, Die Gemeente met Oop Deure, in Brackenfell. Lees aangeheg meer en reageer voor 15 Julie. 
NG Parow-Welgelegen logo
2. NG Gemeente Parow-Wegelegen: Kantoorhoof
Aansoeke vir die vulling van hierdie nuut geskepte pos by Parow-Welgelegen (La Provenceweg 47, Welgelegen) word ingewag. Belangstellendes kan volledige inligting oor die primêre uitsette, kwalifikasies, ondervinding vir die pos en meer verkry deur per e-pos navraag te doen by kantoor@ngkwelgelegen.co.za.  Let asb op die sluitingsdatum van 17 Junie.
Stuur ’n volledige CV vir aandag:  Pieter Koornhof, Die Voorsitter, Menslike Hulpbronbestuur-werkgroep. Indien aansoekers teen 27 Junie nie ingelig is dat hulle suksesvol met hul aansoek was nie, kan aanvaar word dat dit onsuksesvol was.
NG Stellenbosch-Noord
3. NG Gemeente Stellenbosch-Noord: Skriba/Kassier
Die NG Gemeente Stellenbosch-Noord is 'ʼn klein gemeente wat reeds sedert 1953 in die hart van Stellenbosch geleë is. Een leraar en twee ander leraars wat aan die gemeente gekoppel is, bedien tans 250 lidmate. Aansoeke word ingewag vir die aanstelling van 'ʼn skriba/kassier. Reageer voor 15 Junie 2016 - lees hier verder.
Badisa-logo
4. Badisa - Huis Klippe Drift
Geregistreerde Verpleegkundige

Huis Klippe Drift tehuis vir bejaardes, 'n program van Badisa in Napier, het 'n vakante pos vir 'n geregistreerde verpleegkundige. Aansoeke sluit op 23 Junie en belangstellendes kan hier verder lees
Vakatures op Kerkbode se webwerf
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante en ander kerklike amptenare. Klik hier vir die jongste inligting.
Arnold van der Westhuizen
TEN LAASTE
Uit die Pen van ...
Arnold van der Westhuizen


My oupa op die Karooplaas het altyd gesê dat die groot reën kom as die skilpaaie opdraend begin loop. Snags hoor ek soms tot sewe uile uit verskillende rigtings roep. Planttyd in ons omgewing is pas agter die rug, die reuk van klam grond het swaar in die lug gehang. 'n Sonsopkoms in Mei oor die Winterhoekberge is keuriger geskilder as die mooiste skildery van 'n Grootmeester (sien onderaan).
Die natuur leer vir ons om te:
S – Staan 'n slag stil
T – Dink (Think) 'n bietjie na
O – Kyk (Observe) 'n slag fyn
P – Praat (Preach) oor die mooi wat jy waarneem!

Raak opnuut bewus van die skepping – loop kaalvoet in die reën, ruik aan 'n blom, bekyk 'n insekkie – kom ons help om hierdie wonder wat God aan ons toevertrou het, te koester.

"die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug voor die Here, want Hy kom, Hy kom om oor die aarde te heers." – Ps 96:12-13

* * *
Arnold was vir 18 jaar op Aliwal-Noord predikant, het toe vir twee jaar 'n sabbatstyd as voëlnavorser op voorgestelde windplase deurgebring (hy het 'n passie vir die ekologie) en is tans leraar op Koringberg. Kontak hom by vdwarnold@gmail.com.

Morning in May
"Morning in May" 
- Fotograaf: Arnold van der Westhuizen
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za