Lees deur internet, klik hier >>
 2 Oktober 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Arbeidsbediening se BrightStar-program skop af!
Arbeidsbediening het verlede week weer begin om hul gewilde lewensvaardigheidsprogram BrightStar aan te bied. Daar is weggespring met ’n aanbieding aan 25 pleegkinders, wat danksy die medewerking van BADISA as die ideale kandidate geïdentifiseer kon word vir hierdie opleiding. Dit is die afgelope naweek deur ds. Jannie Booysen (foto onder) tydens 'n demonstrasie met Lene November as fasiliteerder, in die Cravenby Gemeenskapsentrum aangebied. Hulle volgende opleiding vind plaas in Vredendal. Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Goeie nuus van sinode se mediese komitee
Die mediese komitee van die NG Kerk in Suid-Afrika laat weet dat hulle kennis ontvang het van Alexander Forbes Health dat Discovery Health ‘n 0% styging in bydraes van Januarie tot Junie 2021 aangekondig het. 
Die jaarlikse verhoging sal in Mei 2021 aangekondig word en van 1 Julie effek neem.
Die vasbyt-Van der Merwes van Muapula
Fritz en Nickey van der Merwe wat sedert 1995 as sendelingspaar deur die NG Gemeente Port Elizabeth na Muapula in Noord-Mosambiek gestuur is, het besluit om ten spyte van Fritz se besluit om op 25 Oktober met vroeë pensioen te gaan, steeds daar aan te bly. Fritz laat weet: “…ons het nie bereik wat ons wou bereik nie. Ons is nie tevrede nie. Ja, daar is ’n kerk waar daar nie een was nie. Daar is ’n handjievol mense wat Jesus volg met oorgawe, maar wil die Here nie dalk nog méér hier doen nie? Ons hoop so, en hoop dat ons bruikbaar kan wees daarvoor. Kort gestel: ons het ook nog nie toestemming om hier te loop nie.” Lees hier meer. 
Leierskamp vir haweloses 
Die Sentrum vir Publieke Getuienis, MES en Stellenberg-gemeente het saamgespan om verlede week 'n kamp vir leiers in die hawelose gemeenskap by die Apostel Battery in Llandadno te hou (foto's onder). Die kamp het oor drie dae gestrek en leiers is deur MES geïdentifiseer. Geestelike, lewens- en leierskapvaardighede is bespreek. "Ons glo dat saadjies geplant is wat verder in die broos gemeenskap sal ontkiem," vertel Braam Hanekom. Lees meer hier
Word 'n ‘eerste 1000 dae-vriendelike’ gemeente 
Little Seeds beklemtoon dat die eerste 1000 dae van ‘n kind se lewe (van konsepsie tot en met twee jaar oud) vir gemeentes die geleentheid bied om ‘n positiewe impak te maak in die ontwikkeling van kinders en die versterking van families.
Sikunye is ‘n inisiatief van Common Good wat daarop gerig is om die kerk toe te rus en te bemagtig om ouers en versorgers te ondersteun en hulle kapasiteit uit te bou sodat hulle jong kinders kan versorg sodat hulle kan floreer en ontwikkel.
Gedurende Oktober en November word verskeie webinare oor die onderwerp The church and early life aangebied waarby belangstellendes kan inskakel. Besoek die webblad vir meer inligting oor die werksaamhede van Sikunye en lees hulle jongste nuusbrief. Sien inligting oor die reeks webinare hieronder en klik hier om te registreer. Lees ook hier hoe gemeentes betrokke kan raak. 
Braam Hanekom in gesprek met Quinton Adams (The Shackbuilder)
Dit is op hierdie stadium duidelik dat grond en behuising ‘n baie warm patat geword het. Feitlik oral is daar nuwe aansprake en druk op grond en behuising. Selfs in van ons kleinste dorpies. Die Sentrum vir Publieke Getuienis gee tans aandag aan die saak. Intussen is daar gesprek gevoer met Quinton Adams, sielkundige, aktivis, maar veral omgee-mens wat poog om die lewensomstandighede van ons armste mense te verbeter. Braam Hanekom het met hom gesprek gevoer. Die gesprek gee ook belangrike perspektiewe op die groter uitdagings.
Kerkwees in grendeltyd
Na die onlangse blitsnavorsing wat onder gemeentes gedoen is, gesels Angelique Havenga van Kruiskerk oor kerkwees in die grendeltyd. Luister gerus na die onderhoud hier.
Luister ook hier na Marnus Havenga se voorlesing van Cas Wepener se refleksie oor gemeentes in die grendeltyd.
EKOLOGIE
Biodiversiteit voorwaarde vir die mens se voortbestaan
Die verlies aan biodiversiteit hou vir ons 'n baie groter gevaar in as wat COVID-19 het. Dit is lewensnoodsaaklik vir die voortbestaan van ons eie spesie dat ons die WWF-verslag (World Wildlife Fund) oor biodiversiteitsnavorsing die afgelope 50 jaar baie ernstig sal opneem. Dit bevat ontstellende inligting, maar ook voorstelle wat die verlies aan biodiversiteit kan stop en omkeer. Lees hier meer.
Hoe begin ek my eie groentetuin in ‘n klein spasie?
Die winter is besig om (baie traag) sy wyk te neem en die lente is op ons voorstoep. Jy is opgewonde oor die nuwe lewe wat oral bot en jy wil dalk nou jou eie groentetuin begin, maar het net ‘n balkon of baie klein tuintjie. Hoe nou gemaak? Marizanne Pheil-Wessels verduidelik hoe maklik dit is om jou eie groentetuin te begin. Watter groente is die geskikste? Watter potte of houers kan ek gebruik? Hoe maak ek my eie kompos met my kombuisafval?
Alles baie maklik! Kyk na hierdie video en word wys.
Nuwe Attenborough dokumentêr op pad
Die 94-jarige Sir David Attenborough se jongste dokumentêr word Sondag 4 Oktober op Netflix bekendgestel. Attenborough het wêreldberoemd geraak vir sy BBC reeks Life on Earth, wat deur meer as 500-miljoen kykers gesien is. In sy nuwe film A Life on Our Planet stel Attenborough die soeklig op die vernietigende gevolge van klimaatsverandering. In 'n onderhoud met Anderson Cooper van 60 Minutes meen hy dat die mensdom 'n misdaad teen die planeet gepleeg het en dat die jeug ons groot hoop is om die verwoesting te stop. Kyk gerus na die onderhoud hieronder.
GEMEENTENUUS
TLC-liefdadigheidsnetwerk help duisende deur inperking
Dit was op 6 April dat ’n handvol Worcesteriete inderhaas noodsaaklikhede soos meel, melk, seep en waspoeier in bokse begin pak het. Die nood was groot en die behoefte dringend om gesinne te help wat hulle inkomste oornag weens die inperking verloor het.
Teen einde Augustus was dit ’n reuseprojek wat 200 gesinne regdeur die inperking onderhou het en 800 kinders verskeie kere per week deur 11 sopkombuise gevoed het.
Ds. Hans Steyn van die gemeente van Worcester-Vallei vertel dat die projek begin het by gemeentelede wat reeds noue bande met plaaslike liefdadigheidsorganisasies soos sopkombuise en die ACVV gehad het. Hulle kon dus onmiddellik die impak van die inperking sien. Deur hulle besighede is groot bedrae geld vir ’n hulpfonds beskikbaar gestel en die TLC-gemeenskapsprojek is op die been gebring.
Verpakking is aanvanklik by Worcester Radiologie gedoen omdat hulle noodsaaklike personeel beskikbaar gehad het om te help. Dit het egter na die NG Gemeente Worcester-Vallei verskuif toe inperkingsreëls mettertyd verslap is en ’n netwerk van vrywilligers weekliks kon kom help.
’n Netwerk van vroue het 2 000 lapmaskers gestik en die ACVV is ingespan om die 200 behoeftige gesinne deur die hele gemeenskap te identifiseer, insluitend die Nasionale Instituut vir Dowes, Innovation for the Blind en feitlik elke woonbuurt van die dorp. Vennootskappe is ook gesluit met 11 sopkombuise, deur wie uiteindelik 20 000 warm etes per maand uitgedeel is.
Ds. Steyn sê niks hiervan sou moontlik gewees het sonder die liefde en omgee van individue wat die oproep om hulp beantwoord en ruimhartig bygedra het nie, hetsy deur hulle besighede of uit hul eie sak. Hy bedank die barmhartigheidsdienste van die NG en Anglikaanse Kerke, die Reformed Church in Japan (RCJ), die Solidariteitsfonds, Worcester Radiologie, Pool Vervoer, Albany, APL Cartons, Swannies Aartappels, Water Boys Plumbing en RCL Foods se Do More Foundation en sê dat hulle vir baie gesinne letterlik die verskil was tussen hongersnood en ’n bord kos op die tafel. Hy het ook groot waardering vir die ondersteuning van die sinode, wat die gemeente in staat gestel het om die netwerk saam te roep en liefdadigheidswerk op so ’n groot skaal vol te hou.
Die TLC-projek het intussen sedert September ’n nuwe fase betree. Voedselhulp word steeds verleen, maar meer selektief aan 20 gesinne en ses sopkombuise. Groter fokus sal nou op langtermynverhoudings geplaas word en handevat oor historiese grense in die gemeenskap en geloofsgemeenskap heen. Die finale projek wat beoog word, is om ’n crèche en vroeëkindontwikkelingsentrum in die bendegeteisterde woonbuurt Avianpark tot stand te bring en te onderhou.
Woord en brood in Riebeek Kasteel
Die VGK gemeente van Riebeek Kasteel is een van die eerste tien gemeentes vir wie CLF met R10 000 vir voedselhulp kon ondersteun deur middel van hulle Woord en brood-projek.
Ds. KP Frantz het aan CLF geskryf dat hulle onmiddellik van die fondse kon gebruik om verskeie projekte te loods, naamlik twee sop- en broodprojekte waarby meer as 100 kinders elk gevoed is, ’n voedingsprojek vir volwassenes waar 181 mense elk ’n gekookte maaltyd ontvang het en ses verdere projekte by lidmate se huise waar hulle sop aan tussen 200-240 gemeenskapslede gegee het.
Die gemeente poog om elke Dinsdag, Woensdag en Donderdag kos aan behoeftiges te voorsien. Volg hulle op Facebook vir meer inligting.
Alphakursus by Helderberg
Helderberg-gemeente bied die internasionale Christelike Alpha huweliksverrykingskursus aan vanaf 8 Oktober. Die fokus is op sewe verskillende temas, insluitende kommunikasie, hoe om mekaar se behoeftes te verstaan, hoe om konflik op te los, en nog baie meer. "Die kursus word so gefasiliteer dat jy en jou geliefde alleen aan tafel sit, die eerste deel van die aand saam na ‘n video kyk en ‘n piekniek/aandete geniet. Daarna ontvang julle gesprekspunte wat julle self deurwerk in die veilige, romantiese omgewing wat ons gaan skep."
Die kursus word op Donderdae vanaf 18:00 - 20:00 by Helderberg-gemeente in die Tent aangebied op die volgende datums: 8 Oktober, 15 Oktober, 22 Oktober, 29 Oktober, 5 November, 12 November, 19 November. Kostes: R250 per paartjie vir sewe weke (2 joernale ingesluit).
Doen inskrywings hier of kontak vir Meagin van der Westhuizen by berading@nghelder.co.za of 079 417 3863. Sluitingsdatum vir inskrywings is 5 Oktober 2020.
Brekvis op die berg
Lidmate van Toringkerk het een oggend hierdie maand saam vroeg opgestaan en ‘n staproete op een van Paarl-Vallei se omliggende berge aangedurf. Die asemrowende uitsig (foto) het die 05:30 opstaan 100% die moeite werd gemaak! 
Iemand het êrens op die pad gesê: "Dit sal my leer om nooit weer vir sewe maande op my bed te lê nie!"
Die stappers het tydens die roete besef hoe bevoorreg hulle is om so pragtige berg op hulle voorstoep te hê en dat hulle gelukkig is om so in die Here se tuin saam te kan kuier.  Hulle het ook gesels oor wat vir hulle mooi en moeilik was in hierdie COVID-tydperk en het gedeel waar hul vir God tydens die pandemie raakgesien het.
Klik hier om nog foto’s van hierdie geleentheid op Toringkerk se Facebook-blad te besigtig.
De Eike "drop & go"
Die gemeente van De Eike in Kuilsrivier is steeds ywerig besig om broers en susters in nood te help met hulle Drop & Go-projek. Hulle het hierdie projek al in April hierdie jaar geloods om te verseker dat geen gemeentelede tydens die tyd van inperking honger sal ly nie.
Hulle rapporteer met groot dankbaarheid dat hierdie projek alle verwagtinge oortref het!
Lidmate of gemeenskapslede kan elke Dinsdagoggend tussen 10:00 en 11:00 kos of ander huishoudelike inkopies as bydraes by die kerk aflaai. 
Klik gerus hier om meer van hierdie projek op De Eike se webblad te lees. 
Koffiekuiers by Kenridge
Kenridge-gemeente in samewerking met TGIF en The Boston Board Room, ‘n mobiele vlytkoffiestaanplek, het ‘n deurry koffiegeleenheid vir hulle lidmate gereël. Dit was vir die gemeente lekker om soveel van hulle lidmate weer as gemeenskap van gelowiges saam te kan sien!
Jaco-Chris Koorts skryf die volgende terugvoer op Kenridge se Facebook-blad: “Die koffie (en warm sjokolade) was absoluut heerlik! Baie dankie vir die reëlings en die moeite. Dit het vir ons soos 'n reünie-kermis gevoel om almal se vriendelike gesigte te sien!” 
Gemeenteverjaarsdae in Oktober
Baie geluk aan die volgende gemeentes wat in Oktober hulle bestaansjaar vier. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, stel asb. die Kerkargief in kennis by argief@kaapkerk.co.za.

PREDIKANTENUUS
In memoriam: Kobus Conradie
(26.01.1935 - 14.09.2020)
Ons het met leedwese kennis geneem van die heengaan van Kobus Conradie op 14 September. Sy eerste aanstelling was vir NGKA Suidwestelike Distrikte, maar hy het ook gemeentes in Steytlerville, Montagu, Loeriesfontein, Ashton en Parowvallei bedien. Hy het in 1994 emiriteer en die egpaar het na hulle aftrede in Kleinmond, Oudtshoorn en laastens in Durbanville gebly.
Sy kinders en kleinkinders onthou hom as liefdevol, saggeaard en stil en dat hy baie in hul wel en weë belanggestel het. 
Ons innige simpatie aan sy vrou Ina, kinders Jackie en Cobus en skoonkinders Jaco en Helena. Hy is ook geseën met 5 kleinkinders, 2 skoonseun-kleinkinders en vier agterkleinkinders.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Masedoniese oproep tot Paulusse met nagraadse kwalifikasies
Die donker wolk van COVID-19 het vir sommige van ons ook ’n silwer randjie meegebring, soos dat teologiese skole en netwerke in Afrika hierdie jaar begin saamwerk het soos nog nooit vantevore nie. NetACT wat oorspronklik geskep is met die doel om teologiese skole (voortspruitend uit sendingwerk vanuit die NG Kerk) beter op ons vasteland te laat saamwerk, het intussen uitgebrei tot meer as 50 teologiese skole van verskillende denominasies regoor Sub-Sahara Afrika. Hierdie jaar is teologie-opleiding weens COVID-19 egter in ’n krisis gedompel. Behalwe dat personeel noodgedwonge verminder moes word, kon studente vir langer as ses maande nie klasse bywoon nie – iets wat vir die meeste skole in Afrika beteken dat daar geen finansiële inkomste was nie. Hierdie nagraadse studente het nou alle moontlike hulp van predikante met nagraadse kwalifikasies, verkieslik PhD-, DTh- of DLitt-grade (in teologie) nodig. Daar word ’n dringende beroep gedoen op M- of PhD-gegradueerdes om hul kennis pro bono met hierdie studente te deel deur met die onderrig van sekere modules as moontlike studieleier/medestudieleier vir hierdie nagraadse studente op te tree. Klik hier om meer oor die projek te lees. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Medeleraarspos: Parow-Panorama
Die kerkraad van Parow-Panorama wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van medeleraar senior bediening (30 uur per week) vir 'n vaste termyn van twee jaar. Alle gelegitimeerde leraars van die NG Kerk van Suid-Afrika wat geroepe voel om die gemeente te bedien, word genooi om aansoek te doen. Klik hier vir gemeenteprofiel en posvereistes. Aansoeke sluit 9 Oktober.
Leraarspos: Calitzdorp
Die NG Gemeente Calitzdorp maak die pos bekend vir 'n geestelike leier (emiritus). Hoewel hierdie pos in alle opsigte en behoefte fokus op ’n emeritus-predikant, word enige gelegitimeerde NG predikant, wat in só ’n omraming tuis voel en beskikbaar is, genooi om aansoek vir die pos te doen. Klik hier vir gemeenteprofiel en posvereistes. Aansoeke sluit Maandag 12 Oktober om 12:00.
Bestuurder/matrone: Huis Driefontein, Richmond
Huis Driefontein in Richmond wag aansoeke in vir die pos van bestuurder/matrone. Die ideale kandidaat moet oor goeie menseverhoudings en organisasievermoë beskik en geduld met bejaardes hê.  Verpleegkundige opleiding en ondervinding sal 'n aanbeveling wees. Sien verdere posvereistes hier. Aansoeke sluit 12 Oktober.
Social worker/senior childcare worker: SA Children's Home, Cape Town
The SA Children's Home in Gardens, Cape Town is advertising positions for a qualified full-time social worker as well as a senior childcare worker. Click here for job requirements and e-mail applications to sakinderhuis@telkomsa.net. Closing date for applications is Wednesday 7 October. 
Geregistreerde en ingeskrewe verpleegkundiges: Huis Lettie Theron, Hermanus
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekkings ingewag. Registrasie by SARV en persoonlike indemniteitsversekering is verpligtend. Klik hier vir meer inligting.
Maatskaplike hulpwerker: George
Badisa George adverteer tans 'n pos vir 'n maatskaplike hulpwerker. Die aangewese kandidaat sal regstreeks aan die beheerraad rapporteer. Registrasie by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe en 'n geakkrediteerde kwalifikasie in Maatskaplike Hulpwerk is vereistes. Lees volledige posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 9 Oktober. 
Ingeskrewe verpleegkundige: Huis Uitsig, Parow-Noord
Geskikte kandidate vir hierdie betrekking moet by SAVR geregistreer wees. Toepaslike opleiding en ondervinding in bejaardesorg en 'n bereidheid om skofte te werk (nag & dag) is ook vereistes. Klik hier vir die volle posbeskrywing. 
Bestuurder: Huis Boesmanland, Loeriesfontein
Aansoeke van persone met ’n sterk verpleegsorgagtergrond en leierskapvaardighede word vir hierdie bestuursposisie ingewag. ’n Toepaslike professionele verpleegkundige kwalifikasie en ervaring van die bestuur van ‘n tehuis vir bejaardes sal as sterk aanbeveling dien. Lees meer hier. Aansoeke sluit 9 Oktober. 
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Eredienste: ‘Tyd dat ons kerke oopmaak’ 
Nelis Janse van Rensburg noem vandeesweek in 'n kort nabetragting oor die impak van COVID-19 dat die feit dat predikante nie siekes in hospitale kon bystaan nie, ’n yslike pastorale vakuum gelaat het. Lees hier verder. 
Stap-fundi meen plaaslike pelgrimstog is gulde geleentheid vir binnewerk
'n Nuwe reisreeks oor 'n pelgrimstog met diep wortels in plaaslike geloofsgemeenskappe draai nou op kykNET. Erns Grundling gesels hier oor Elders: Pelgrimstog van Hoop. Vir meer inligting, besoek die webblad.

Dana Snyman: Hoop in ’n land vol geweld en woede
Dana skryf: "Saterdagoggend ry ons van die Wes­kus af Kaap toe. Op pad piep Erna se selfoon. Dit is ’n WhatsApp van haar vriendin op ’n plaas in die Oos-Kaap af: Hulle buurman is gisternag vermoor. Nog ’n plaasmoord." Klik hier vir die volledige artikel.
Bybel-Media se topverkoper teologiese boeke
Besoek Bybel-Media se aanlynwinkel vir hulle topverkoper teologiese titels. Dit wissel van riglyne oor dissipelskap, gesprekke met jong teoloë oor God, gemeentes en geloof asook liturgiese voorstelle vir algemene of spesiale eredienste.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Jongste IMSA Nuusbrief
Hoe word ons werksmag in hul plekke van werk geestelik versorg? Hoe seker kan jy wees dat hierdie bedienaars geakkrediteerd is? Wat word alles agter die skerms gedoen om seelui teen uitbuiting te beskerm? Hoe kan Bybelstudiegroepe op plase gemeenskappe verander? Hoe belangrik is verhoudinge in die uitleef van die evangelie? Hoe kan ons gemeenskappe bemagtig deur hul selfwaarde te ontdek?
Dit alles kan jy hier lees in ons jongste IMSA (Industrial Ministry SA) nuusbrief.

VIRTUELE KUIERKANSE
Kraaifontein-Noord hou aanlynbasaar
Die gemeente van Kraaifontein-Noord hou op 2 en 16 Oktober 'n aanlynbasaar en drive-thru. Loer na die spyskaart en ondersteun hulle gerus. Kontak die kerkkantoor vir navrae by 021 988 3384.
ALGEMEEN
Wêreld Onderwysersdag – 5 Oktober
Hierdie dag is in 1994 deur UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) ingestel as 'n poging om bewustheid, begrip en waardering te verhoog vir die belangrike bydrae wat onderwysers lewer tot onderwys en ontwikkeling regoor die wêreld.
In 2020 word hierdie spesiale dag herdenk met die tema "Teachers: Leading in crisis, reimagining the future."
Die COVID-19-pandemie het die uitdagings wat talle onderwysstelsels regoor die wêreld in die gesig gestaar het, aansienlik verhoog. Die wêreld staan tans op 'n kruispad en ons moet nou, meer as ooit tevore, saam met onderwysers werk om die reg op onderwys te beskerm.
Meer inligting oor hierdie dag kan op UNESCO se webblad gelees word. Kyk of jy iets kan doen om 'n onderwyser spesiaal te laat voel.
Ekumeniese netwerk vergader 
Die WCEN (Western Cape Ecumenical Network) het verlede week by die Andrew Murray Sentrum vir Spriritualiteit op Wellington vergader. Dit sluit verteenwoordigers van hoofstroom en onafhanklike kerke, asook die WPRK, TEASA, SACLI, Concerned Clergy en Great Commision in. Gespreksonderwerpe het grond, behuising, ekonomie, geweld en korrupsie ingesluit.
Elna Mouton het ook ‘n aangrypende kapeldiens gehou. Edwin Arrison het na afloop van die vergadering die volgende pragtige gebed vir die WCEN geskryf het.
Almighty God
We are nothing without you
And if our unity is not based on the unity of love as displayed by you, Father, Son and Holy Spirit
We are truly nothing...

Help WCEN to love and serve the whole of the Western Cape
To bring healing
To oppose oppression
And to restore justice
Especially for the poorest 
So that your image may shine in all your people
As their dignity is restored
And so that new social systems be built that has compassion and beloved community as its aim
So that we may truly glorify and honour your Name
Through Jesus Christ, our crucified and risen Lord.
Klik hier vir meer foto's van die geleentheid op die Sentrum vir Publieke Getuienis se webblad. 
HospiVisie verwelkom nuwe streeksbestuurder
HospiVisie verwelkom Derick Boonzaaier as die nuwe waarnemende streeksbestuurder vir die Wes-Kaap in die plek van André de la Porte. Sy MBA-kwalifikasie en besigheidservaring maak hom ‘n groot aanwins vir ‘n nie-winsgewende organisasie wat altyd innoverend moet dink oor die ontgin van nuwe bronne.  Hulle skryf: "Derick, jou opgewondenheid oor HospiVisie se bediening steek ‘n nuwe vlam in ons span se hart aan. Ons sien daarna uit om saam met jou ons leuse "Touching lives, Giving hope" uit te leef." 
Op die foto oorhandig Annette de la Porte (regs) die sleutels vir die HospiVisie Tygerberg hospitaal se kantore aan Derick.
Kortkursusse in uitvoerende leierskap nou aanlyn
CiviNovus se professionele 3-dag kursusse is nou met behulp van afstandonderrig beskikbaar. Inskrywings is nou oop vir
Inleiding tot Sosiale Innovasie, Sosiale Ondernemerskap en Sosiale Besighede asook Netwerke vir Nou: Sosiaal Innoverende Samewerkende Leierskap.
Die kursusse word aangebied deur Erwin Schwella, ‘n kundige en ervare akademikus, sosiale innoveerder en entrepreneur. Die kursusse kombineer ‘n rigtinggewende selfstudiegids wat interaktief, insiggewend en pret is met webinare deur Zoom. Klik hier vir meer besonderhede of kontak ulrike@civinovus.co.za of erwin@civinovus.co.za
Russel Botman gedenklesing
Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie nooi belangstellendes graag na die jaarlikse Russel Botman gedenklesing wat vanjaar vir die eerste keer aanlyn sal plaasvind. Sien meer inligting oor die geleentheid hieronder. Registreer by maritasnyman@sun.ac.za teen 15 Oktober om jou skakel vir die lesing te ontvang. 
Practices of faith in times of global and national crises
The Gender Unit of the Beyers Naudé Centre is calling for the submission of papers for their conference taking place from 15 – 17 March 2021 at the Faculty of Theology, Stellenbosch University. The conference will explore how practices such as liturgy, preaching and church music have been and continue to be impacted in times of global and national crises. Click here for more information. 
Entries now open for MTh in Ministry Practise
The Faculty of Theology at Stellenbosch University has been running a structured MTh course in Ministerial Practice with a focus on missional leadership within the African context for more than a decade. Enrolment for 2021 is now open and a limited number of places is available.
All prospective candidates have to complete the official application process in accordance with the procedure and requirements for MTh applications at Stellenbosch University. Apply online - a full academic transcript will be required of all prospective applicants. After completing the online application, also submit the application documents as well as a short CV in one PDF document to Divine Robertson. Remember to include your student number in all correspondence.
Pastors describe their journey before, during and after attending the course in the video below. 
Latest guidelines from SARS 
TERS payments are exempt from taxable income in terms of section 10(1)(mB) of the Income Tax Act (i.e. not subject to PAYE, UIF, SDL etc.).
The PAGSA (Payroll Authors Group South Africa) has received confirmation from SARS that no IRP5 code should be used for TERS payments.  If TERS was/is paid to you, the employer, to pay to your employees, you are simply acting as a paying agent, therefore, it was/is not mandatory to process the TERS payment through the payroll, but could have/can be done through the payroll for payment, reporting and record keeping purposes.
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag is Biddag vir Bejaardes en dit voel asof dit op 'n baie noodsaaklike tyd kom. Ons bejaardes het spesifiek deur 'n ongelooflike moeilike tyd gegaan tydens die grendeltyd.
Veral ons bejaardes in aftree-oorde en tehuise het swaar gekry as gevolg van die inperkings. Die verlies aan kontak met geliefdes, beperkte sosialisering met vriende en verbod op vrye beweging het 'n geweldige sielkundige impak gemaak. Kyk of jy dalk die bejaardes in jou familie en gemeenskap spesiaal kan ondersteun deur nie net vir hulle te bid nie, maar ook op ander maniere kontak te maak.
Ons dra hierdie weergawe van Nader my God deur Du Preez Stolz aan al ons bejaardes op en hoop dat die gedagte hulle ook in hierdie tye sal dra.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.