Lees deur internet, klik hier >>
15 Februarie 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Aanhaling
SINODENUUS
1. Sentrum vir Publieke Getuienis
1.1 Dorpe in gesprek

Op Woensdag 13 Februarie het 17 NG Kerk en VGK leraars van 12 dorpe wat deur protesaksie geaffekteer word, bymekaargekom by NG Stellenberg (foto onder) om gedagtes uit te ruil, terugvoering te gee en stories van hoop met mekaar te deel. Ook hier was die konsensus dat gebrekkige eenheid onder kerke 'n groot struikelblok is. Die rol wat die kerk kan speel, is egter opnuut beklemtoon. Daar is ook genoem dat die dalende impak van die kerk 'n veel groter krisis kan word as dalende getalle.
1.2 Kerkeberaad in Rustenburg
Nagenoeg 50 kerkleiers van die groter Rustenburg-omgewing het op 12 Februarie op Rustenburg byeengekom om sosiale uitdagings en die volhoubaarheid van die streek te bespreek. Diverse kerklike groeperinge en ringe is verteenwoordig. Volgens Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis, wat die gesprek gefasiliteer het, is daar opnuut besef dat gebrekkige eenheid onder kerke tans een van die grootste struikelblokke op die pad na sinvolle antwoorde is. 
Uitdagings vir die kerk om opnuut by die skoolstelsel betrokke te raak, gebroke families, werkloosheid, misdaad en die volhoubaarheid van die myne is ook bespreek. 'n Loods-komitee wat verdere aksies sal koördineer, is gestig en 'n opvolgvergadering met mynhuise, plaaslike regering, die sakekamer en NRO’s is reeds in beplanning. "Die omvang van die uitdaging wil mens soms verlam, maar die hoop en energie wat ontsluit word wanneer gelowiges hande vat, is onbeperk," meen Braam na sy ervaring op Rustenburg. 

Pastoor Hellen Manyaka aan die woord
Bywoners
Meer kerkleiers by die beraad
 2. Echo Jeugontwikkeling
Getuienisaksie ondersteun ‘n paar bedie-ninge in Kaapstad, soos bv. die Echo Jeugontwikkeling. Hier vind jongmense in nood  ‘n nuwe familie wat vir hulle omgee en ‘n veilige ruimte waar hulle weer hul voete kan vind. Daar is reeds Echo huise in Ysterplaat en Table View. Niel Steyn is die bestuurder van hierdie projek en vertel meer.
3. Kinders raak speel-speel slim
Teen die tyd dat 'n kleuter sy vyfde verjaarsdag vier, het 90% van sy brein reeds ontwikkel. Die eerste vyf jaar is dus 'n kritiese tyd waartydens alles wat 'n kleuter beleef, ervaar, leer, sien, hoor en voel 'n impak het op die manier waarop sy brein ontwikkel. Kleuters speel sodat hulle kan leer, kan groei en kan ontwikkel! Speel is ook die manier waarop kleuters deelneem aan die alledaagse lewe. Spierontwikkeling, kreatiwiteit, taalverwerwing, sowel as emosionele ontwikkeling vind alles plaas deur speel. In Suid-Afrika word ’n kind se reg om te speel erken deur die United Nations’ Convention of the Rights of the Child en die African Charter on the Rights and Welfare of the Child (ACRWC). Vroeëkindontwikkeling is een van die sinode se 16 fokusareas. Met erkenning aan Badisa.  
 4. Tyd vir #imagine
Vanjaar se #imagine beloof om ʼn onvergeetlike byeenkoms te wees! Berei voor vir sprekers, kleingroepe, kreatiewe gebed, werkswinkels, lofprysing, speletjies, kamp en nog vele ander vorme van pret en avontuur waartydens tieners kans kry om dieper in hul geloof te delf. Stuur 'n e-pos na Luané vir meer inligting. Duisende tieners sal in die Wes-Kaap, Vrystaat, Oos-Kaap en Limpopo bymekaarkom.  #imagine 2019 vind van 29-31 Maart in Bredasdorp plaas. Laai vandag julle inskrywingsvorms af of hou hierdie ruimte dop vir aanlyn-inskrywings, wat eersdaags oopmaak!  Laai gerus die promo af en deel dit op sosiale media! 

NG Kuilsrivier-Suid bied op Vrydag 22 Februarie om 19:00 'n spesiale inligtingsaand vir ouers en tieners van Kuilsrivier aan.  Vir meer inligting, besoek
#imagine.
Logo
5. VBO-kursus: Uitreik of inreik?
Die NG Kerk doen tans navorsing om ʼn nuwe manier van uitreik te ontwerp en te toets. Hierdie nuwe metodiek word "inreik" genoem en is ontwerp om die missionêre roeping van die plaaslike gemeente aan te wakker sonder om skade aan gemeenskappe aan te rig. ’n Voldagkursus/-werkswinkel word van 12 tot 14 Maart by Communitas op Stellenbosch aangebied en het ten doel om kursusgangers sensitief te maak vir die onbeplande gevolge van uitreike. Navorsing wys onder andere dat veral kinders negatief beïnvloed word nadat ʼn gemeente ʼn naweek- of weekuitreik in hulle gemeenskap kom doen het. Klik hier vir meer inligting oor die kursus. Kontak Wilma le Roux met navrae. 
6. Ongepubliseerde Andrew Murray preek nou beskikbaar
Olea Nel, skrywer van die trilogie oor Andrew Murray, bied aan VrydagNuus lesers die geleentheid om 'n gratis kopie van 'n voorheen ongepubliseerde 1895-Keswick preek te ontvang.  Murray het drie agtereenvolgende preke by die Keswick konferensie in Engeland gelewer en is as volg deur die British Weekly  beskryf.  

7. Willie Jonker lesing
Die jaarlikse Willie Jonker Gedenklesing vind plaas op Donderdag 28 Februarie 2019 om 18:00 in die Attie van Wijk Ouditorium by die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch, Dorpstr. 171. Nadia Marais sal die gedenklesing lewer met die tema: "Water by die wyn - Willie Jonker as digter-teoloog". Die lesing sal in Afrikaans wees, maar 'n uitdeelstuk sal in Engels beskikbaar wees. Verversings word bedien vanaf 17:30. RSVP teen Maandag 25 Februarie 2019 by hvdwest@sun.ac.za.

Sentrum
8. AMSS-opening en konferensie
Ons herinner aan die konferensie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (Jan van Riebeeckstraat 15b, Wellington) op 25 en 26 Februarie wat saamval met die opening van hierdie sentrum. Om 19:00 op Sondag 24 Februarie word Elna Mouton in die kapel as kapelmeester bevestig. Bevestig asb. teen 18 Feb. as jy die konferensie wil bywoon. Klik hier vir die inskrywingsvorm, program en temas.

GEMEENTENUUS
Kerkgebou
1. Gesoek: Merweville Dankfeeshelpers!
Die bekende dankfeesbasaar wat jaarliks op Merweville plaasvind (vanjaar 26-28 April 2019), het geen bekendstelling nodig nie. Daar word reeds volstoom gewerk aan vanjaar se fees en Lourens van Vuuren (tot Junie 2018 leraar by NG Heidelberg) doen 'n ernstige beroep op enigiemand wat kan help, om te kom hand bysit met die voorbereidingswerk. "So beleef die nou al besondere gemeente van Merweville in die hart van die Karoo, dat haar lidmate al minder en al ouer word. Die hande om steeds 'n groot sukses van hul befaamde Dankfees te maak, raak nou net te min." Indien jy geroepe voel om te kom help, skakel vir Ester by die kerkkantoor (023 5014061) of vir Herman Burger by 023 5014011. Klik hier om meer te lees oor die take waarvoor hulp verwelkom sal word.
2. Parowvallei-Oos soek orkeslede
Die NG Gemeente Parowvallei-Oos het jong musikante nodig vir hulle kerkorkes. Ere-dienste is Sondae om 09:30.  Musikante wat tromme, kitaar en baskitaar speel, is welkom en as jy kan sing, is dit ’n bonus! ’n Bedraggie word betaal vir elke Sondag se optrede. Hierdie gemeente is inklusief vir alle mense in die gemeenskap, eredienste is informeel en vind afwisselend in Afrikaans en Engels plaas. Kom deel jou talente hier in ’n baie unieke gemeente!  Kontak Theo Swart by tswart@netactive.co.za of 021 919 6511 of 083 457 1647 vir verdere inligting.
UIT ONS RINGE
Paarl dominees maak ‘n weefstuk tussen die dolfyne
Theunis Botha, PSD vir Predikantebegeleiding, stuur die volgende nuus oor dominees uit die Paarl ring wat die afgelope week in Jongensfontein bymekaargekom het: "Terwyl skole dolfyne in die baai branders ry, ontrafel 'n elftal manne en vroue die tapisserie van hul gesinne van afkoms, luister na mekaar se verhale - die broosheid en soms seer daarvan, maar ook die spesiale betekenis van 'aflosstokkies' wat oorgegee word generasie na generasie. Hulle gee hulle in deelname aan verhale van Jesus se bediening en skep diep vanuit hul eie roeping, want die lewe en die bediening roep elkeen om op te daag al kos dit offers! So word hulle bewus gemaak van die kunswerk wat hulle onder mekaar begin weef het. Dank aan die inisiatief en kerkrade wat hul leraars hierdie ruimte gegee het! Dit is 'n belegging in die koninkryk". 

Agter: Karel van der Westhuizen, Theo Hay, Bernhard Malherbe, Hugo Biermann, Christo vanWyk, Schalk Kotzé
Voor: Tilana Meyer-Morkel, Jana van den Munckhof, André Fourie, Fanie Kriel, Theunis Botha, Carel van Wyk
PREDIKANTENUUS
Van Schoor egpaar
1. NG Redelinghuys groet Jan en Gerda van Schoor
Op 17 Februarie lewer Jan van Schoor in Redelinghuys sy afskeidspreek om amptelik op 28 Februarie sy diens na 33 jaar in die gemeente te beëindig. Hy beskryf sy bediening as 'n voorreg: "Vir my en Gerda was dit 'n vreugde om ons Here in Sy gemeente van Redelinghuys te dien. Dit is waar ons as huisgesin soveel liefde ontvang het, en waar ons ook geleer het om onsself te gee vir die gemeente." Lees hier meer.
Beste wense aan julle, Jan en Gerda! 

Louis
2. Parke-gemeente ontvang Louis van der Riet
Ons sien saam met Louis van der Riet uit na die volgende twee jaar - 'n tyd waarin hy as deel van die sinode se internskapprogram in Parke-gemeente (voorheen Kraaifontein-Die Parke) sal bedien. Op 17 Feb. om 19:00 word Louis se bevestiging deur kollega Charl Stander behartig terwyl Robert Vosloo die bevestigingsrede (preek) sal doen. Louis se  intreepreek is op 24 Februarie 08:30 en hy skryf oor sy bevestiging: "Ek sien uit om hierdie bedieningspad met waagmoed, deernis en in waarheid te stap" - lees hier verder. Mag jou bediening in hierdie gemeente tot seën vir almal "as 'n stap van getuienis en gehoorsaamheid" wees!
GEBEDSVERSOEKE
ALGEMEEN
Ds. Viljoen
1. In Memoriam
Ds. Errol Viljoen (10.11.1932 - 04.02.2019)
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds. Errol Viljoen. Ds. Viljoen is in 1967 in die Mtubatuba gemeente in Jozini, Noord-Natal, georden en het daarna ook in Barkley-Oos bedien. Sedert 1975 tot sy aftrede in 1998 was hy leraar by die NG Gemeente Strand-Noord.
'n Roudiens word gehou op Saterdag 16 Februarie om 11:00 by NG Strand-Noord. Vir navrae, kontak die kerkkantoor by 021 853 7223.
Ons innige simpatie aan sy vrou, Anna, kinders, kleinkinders en ander familie in hierdie tyd van rou en verlies. 
2. #Thursdays in Black - LOVE HEALS, NOT HURTS
Die Wêreld Raad van Kerke het ’n spesiale veldtog geloods om mishandeling en geweld binne "liefdevolle" verhoudings aan te spreek.  Aangesien Valentynsdag vanjaar op ’n Donderdag val, word dit met die veldtog verbind om teen verkragting en geweld standpunt in te neem. Die WRK erken dat Valentynsdag ’n tyd is om die liefde te vier, maar reken dat die sg. "liefde" vir baie die teenoorgestelde inhou. Deel gerus die logo links op sosiale mediaplatforms. Die bekende 1 Kor. 13: 4-7 word voorgehou as inspirasie vir nadenke. Lees meer hier.

3. Raakgelees 
3.1 Tiener Selfdoodvoorkomings-wee 
11-18 Februarie
Prof. Jason Bantjes van die Universiteit van Stellenbosch voer aan dat ten minste 25% van Suid-Afrikaanse universiteitstudente idees oor selfdood het, ten minste 12% aan depressie ly en ’n verdere 15% met angs worstel. In baie gevalle weet die studente nie waar hulle vir hulp kan aanklop nie.  As deel van Tiener Selfdoodvoorkomingsweek loods The South African Depression and Anxiety Group op 15 Februarie ’n #FacebookFriday "Ask the Dr"-veldtog. 
Belangstellendes kan aanlyn tussen 13:00-14:00 en 19:00-20:00 met kliniese sielkundiges gesels.  
Me me me
 3.2 The value of not seeking the limelight
In a recent article in ChurchTimes, Angela Tilby poses the question whether we have become too focussed on individual fulfilment and recognition: "The demand to be seen as special was once seen as presumptuous, but now it is regarded as a right. It is encouraged by the way in which some parents tend to over-praise their offspring’s achievements. It is there in the way that young people are encouraged to see themselves as winners. It is there in the way that we have to write our CVs, constantly trying to prove that we are exceptional. The Church is not exempt".
Read the full article here

PUBLIKASIES
EKOLOGIE
1.Hoe groot moet die krisis word?
As die evangelie ons nie wakker skud nie, sal die krisis dit tog sekerlik doen? Christen klimaatswetenskaplikes wat veral diep besorg is oor die kerk se stilte en afwesigheid by die plekke waar oor hierdie saak gepraat word,  kry egter nie genoeg ondersteuning van die kerk nie. Lees meer.
Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.

2.Gletsersmelting kan klimaat-chaos veroorsaak
Die publikasie van ’n onlangse studie deur die Universiteit van Victoria se Antarktiese Navorsingsentrum in Nieu-Seeland waarsku dat ons mik na drie tot vier grade klimaats-verwarming teen 2100, wat ’n beduidende effek op die smelting van gletsers sal hê.  Die studie gelei deur mede-professor Nic Golledge dui daarop dat die huidige internasionale klimaatsbeleid nie die volle impak wat dit op die globale klimaat kan hê, in berekening bring nie. Hierdie tendens sal lei tot dramatiese veranderinge in die oseaanvlakke sowel as wêreldwye temperature. Lees meer oor die studie. Foto: Natalya Gomez, McGill Universiteit
Planet or plastic
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Logo
Logo
.1 Badisa Huis van Heerde: Inwonende kinder- en jeugsorgwerkers
Huis van Heerde Kinder- en Jeugsorgsentrum bied residensiële versorging en ontwikkelings- en terapeutiese dienste aan 70 sorg-behoewende kinders. Aansoeke van gemotiveerde en dinamiese persone met 'n positiewe lewensingesteldheid teenoor kinders en jeugdiges word vir die betrekkings as inwonende kinder- en jeugsorgwerkers ingewag. Doen aansoek voor 21 Februarie - klik hier vir meer.

.2 Huis Klippe Drift: Ingeskrewe en Geregistreerde Verpleegkundige
Huis Klippe Drift, ’n Badisa tehuis vir bejaardes op Napier, beskik oor vakatures vir ’n Ingeskrewe Verpleegkundige (Stafverpleegster), sowel as ‘n Geregistreerde Verpleeg-kundige. Klik hier om meer oor beide vakatures te lees. Aansoeke sluit 25 Februarie.
TEN LAASTE
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.