Lees deur internet, klik hier >>
29April 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Streeksbyeenkomste vind weer plaas
Volgens Nelis Janse van Rensburg is die streeksbyeenkomste van 2022 tot dusver ‘n inspirerende ervaring. "Streeksbyeenkomste speel ‘n baie belangrike rol in ons sinodale verhoudinge en samewerking. Dit is nie net ‘n plek waar die sinodale leierskap en PSD’s gemeenteleiers kan ontmoet nie, maar dit is ook ‘n geleentheid vir gemeenteleiers uit groter gebiede om ‘n slag met mekaar kontak te hê.  Voeg hierby die belangrike inligting en perspektiewe vanuit die moderatuur en bestuurspan wat gedeel word, asook die geleentheid om te help bou aan die agenda van die sinodevergadering van 2023, en dit word duidelik waarom die streeksbyeenkomste weereens so goed bygewoon word.

COVID-19 het veroorsaak dat die moderatuur nie in 2020 en 2021 streeksbyeenkomste kon hou nie. Die moderatuur was daarom baie opgewonde oor die voorreg om vanjaar weer gemeenteleiers byeen te bring. Die sinodale span staan vanjaar onder leiding van Nioma Venter, ondervoorsiter van die moderatuur. Die nuwe saakgelastigde Stephan Pretorius is ook ‘n lid van die span wat van plek tot plek saamreis. Hy word ook tydens die byeenkomste bekendgestel. Die eerste byeenkoms vir die Overberg-streek is Maandag by Caledon-gemeente gehou. Dinsdag was dit die Boland-streek se beurt met ‘n byeenkoms by Wellington-Oos. Beide byeenkomste is baie goed bygewoon. Dit was klaarblyklik vir almal lekker om ‘n slag mekaar te sien en saam te dink oor die pad vorentoe.
Nioma Venter het in haar positiewe en belanghebbende aanbieding betekenisgewende opmerkings gemaak oor die stand van die kerk. Sy het ook met behulp van die navorsing wat deur die Diensgroep vir Toerusting en Navorsing gedoen is, aangedui hoe gemeentes die COVID-19-tyd benut het om hulself te herposisioneer met die oog daarop om ‘n lewegewende getuienis te lewer in nuwe omstandighede. Sy het ook gepraat oor gemeentes wat doleer in die groter NG Kerk en die Algemene Sinode se hantering daarvan. Charl Stander het ook hieroor ‘n aantal perspektiewe gebied.  
‘n Aantal videogrepe waarin leraars uit die onderskeie streke en die groter sinodale gebied getuig van nuwe inisiatiewe wat ontstaan het tydens die COVID-tyd, was besonder inspirerend. Dit het duidelik geblyk dat daar genoeg redes is waarom ons baie positief kan wees oor die NG Kerk as ‘n geankerde, maar ook aanpasbare kerk wat die uitdagings van die tyd die hoof bied."
Help só in KZN
Na gesprekke met kollegas in Kwa-Zulu Natal stuur Nioma Venter die volgende terugvoer. “Ons is moeg,” sê ds. Nola Malan van die NG Gemeente Durban-Oos. “Bid asseblief vir ons.  Die skade van die huidige vloede gaan mense in hierdie omgewing nog lank verontrief.” Nola beskou haarself as een van die gelukkiges. Haar woonplek is veilig, maar sy het, net soos diegene rondom haar, die afgelope tien dae geen water gehad nie. Water wat te koop is, is vinniger van die rakke af as wat dit beskikbaar raak. Elektrisiteit kom en gaan ook maar.
Dele van KZN het nog skaars herstel van die skade wat daar einde 2021 deur onrus en  plundering veroorsaak is. Voeg hierby die huidige krisis en ’n mens kan verstaan as Nola sê dat afgesien van die materiële verlies, die gemeenskap getraumatiseer is.  Dit is ondenkbaar watter skade deur water aangerig kan word.
Die NG Gemeente Durban-Oos dien as ’n afsetpunt vir enige donasies wat gemaak word. Die gemeente werk saam met ringsgemeentes, ander organisasies en kerke in die omgewing om by mense uit te kom wat hulp en ondersteuning nodig het. Die grootste behoeftes tans is water, klere en nie-bederfbare kos. Die Sinode van KZN wil in die heropboufase van hierdie ramp boorgate sink wat water vir omliggende gemeenskappe sal verseker.
  • Gemeentes en die publiek wat wil help, kan skenkings van water, nie-bederfbare kos of klere afgelewer by NG Gemeente Durban-Oos, 49 Mission Road, Bluff, Durban. 
  • Finansiële bydraes wat aangewend sal word vir rampondersteuning kan inbetaal word by: NG Kerk van Natal, ABSA, 1140000082. Verwysing: KZN vloede.
Enige navrae oor hulp aan KZN kan gerig word aan ds. Nola Malan by 084 522 8322.
Foto: Die vloedwaters het die oprit voor dr. Barry Tolmay van die NG Gemeente Krantzkloof se huis weggespoel. Beide sy motors is sedertdien onbereikbaar in die motorhuis vanweë die risiko dat dié deel van die huis onveilig is. Die Tolmays wag op ’n verslag van die bou-ingenieurs en kan tans net die agterste gedeelte van hul huis gebruik. Die ongerief en onsekerheid is ongelooflik, maar nietemin getuig Barry dat daar ander is wat soveel meer verloor het en dat hierdie gemeenskap diep getraumatiseer is.
Haweloses: Die kerk se antwoord gebore uit Christus se liefde
Die Sentrum vir Publieke Getuienis in samewerking met MES, Straatwerk, WCEN en Groote Kerk Kaapstand nooi gemeentes hartlik uit om saam te kom gesels oor haweloses. Dit is ‘n bekende feit dat die getal haweloses plaaslik en internasionaal groei. Die kerk mag nooit voorgee dat ons al die antwoorde het nie, maar die kerk mag ook nie van hierdie uitdaging wegkyk nie. Ons word geroep om met deernis saam met die spreekwoordelike Lasarus op ons stoep te soek na moontlike oplossings. 
Hierdie gespreksgeleentheid vind Woensdag 11 Mei plaas te Groote Kerk Kaapstad tussen 09:00 en 13:00. Kundiges, NRO’s en haweloses self sal 'n spreekbeurt kry. Bevestig asseblief by spg@kaapkerk.co.za.
'n Petrolsubsidie word aangebied vir gemeentes wat verder as 150 km van Kaapstad is.
Moedersdag 
KiX Kinderbediening deel bogenoemde idees vir Moedersdag op Sondag 8 Mei. Kyk gerus ook hier vir wenke van vorige jare. 
Murray Jubileumfees vind volgende naweek plaas
Die geskiedkundige Murray Jubileumfees vind volgende naweek van 6-8 Mei in Wellington plaas. Hiermee die laaste artikel uit die Argief oor Eliza Murray. 
Eliza Murray is op 20 November 1855 gebore as die laaste kind. Sy tree in 1875 in die huwelik met ds. HL Neethling van Utrecht. Sy is vanaf 1897 stigtershoof van die Neethlingshof kosskool vir meisies in Utrecht, Natal. Na die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) skryf Eliza die boek "Should we Forget" oor haar herinneringe tydens die gebruik van Neethlingshof as hospitaal vir siek en gewonde Boerekrygers.
By die konferensie sal Elna Mouton ‘n denkbeeldige gesprek tussen haarself en Andrew Murray jr. op die stoep van Clairvaux voer - waar Murray baie van sy boeke geskryf het. Die twee gespreksgenote dink na oor ons “vereniging met Christus” en oor die verhouding tussen die warmte wat ons ervaar in God se huishouding en die tuiste wat ons bied vir vervreemde, hartseer, wanhopige, ontwrigte en tuistelose mense.
Moenie die Jubileumfees misloop nie. Die naweek se verrigtinge sluit 'n dagkonferensie, boekbekendstelling en 'n naweekretraite in. Bespreek by argief@kaapkerk.co.za of aanlyn voor 2 Mei. Klik hier vir die volledige program. 
Kinderpinksterreeks: Fees van die Gees 
DinkJeug deel graag hierdie voorstel om te gebruik as ‘n Kinderpinksterreeks, vir kindermomente tydens die gewone Pinksterdienste of as ‘n inter-ouderdom/familie Pinksterreeks. Die tekste volg die kronologiese gebeure in Handelinge 1 en 2. Die metafoor van ‘n partytjie word gebruik.
Die simbole van ‘n partytjie gaan ons help om te onthou wat alles gebeur het, maar dit gaan ons ook help om te gesels oor hoe die Gees steeds deel is van ons lewe en deur ons werk. 'n Kort beskrywing van elke tema se boodskap, asook hulpbronne vir elke tema kan hier op Google Drive gevind word - dit sal mettertyd aangevul word met bypassende hulpbronne.
EKOLOGIE
Jy moet die aarde liefhê soos jouself
Hierdie is die eerste bydrae van ’n nuwe reeks deur ons eko-korrespondent David Botha. Dit gaan oor ’n seleksie van prominente eko-teoloë en hoe hulle ons help om te verstaan dat omgee vir die skepping (veral die aarde) deel is van die evangelie en daarom ook van ons geloofslewe.
David is ook deel van ons Groenspan wat gemeentes en gelowiges met die WAT van ’n ekologies-sensitiewe lewe help. Hulle maak praktiese voorstelle van wat ons kan doen. Hierdie reeks gaan ons help met die begronding - die HOEKOM - vir ’n ekologies-sensitiewe geloofslewe. Lees die eerste bydrae hier.
Spesiale herdenking vir SAFCEI
SAFCEI (Southern African Faith Communities' Environment Institute) het vandeesweek 'n spesiale herdenking gevier. Op 26 April vyf jaar gelede het hulle saam met ander partye die hofsaak gewen teen die beraamde R1-triljoen kernkragprojek wat deur Jacob Zuma gedryf is. Die hof het beslis dat die hele projek onwettig was. Hier is SAFCEI-lede en ondersteuners saam met Braam Handekom, voorsitter van die raad, voor die parlement. Lees hier meer oor die geskiedkundige hofgeding.
GEMEENTENUUS
Ons is vry!
Clement Martin van NG Gemeente Vredelust se musiekbediening laat weet dat die groep oor Paasnaweek nuwe musiek vrygestel het.
"Vredelust Worship se splinternuwe lied ‘Ons is Vry’ het reeds wonderlike terugvoer ontvang sedert die vrystelling van die lied op Goeie Vrydag 15 April. Op Opstandingsondag het die aanbiddingsgroep ook die lied se amptelike musiekvideo vrygestel.
Luister daarna op al ons digitale platforms en kyk gerus die video (onder). Ons glo dat die boodskap van hierdie lied, dat Jesus gekruisig is én opgestaan het en ons daarom vry kan lewe, in almal se harte sal resoneer." 
Stellenbosch-Wes vier Vryheidsdag
100 Vroue het Woensdag bymekaar gekom om aan NG Gemeente Stellenbosch-Wes se eerste Vryheidsdag-wingerdstap deel te neem. Die sirkelroete van 9 km het by The Silo and Shed afgeskop en deur die asemrowende Devonvallei gekronkel. Stoppunte het Louisvale wynlandgoed en The Devon Valley Hotel ingesluit.
Die fondse wat tydens die geleentheid ingesamel is, word in die plaaslike gemeenskap teruggeploeg. Gemeenteleraar Marinus Theron hoop dat dit 'n jaarlikse instelling sal word.
Beaufort-Wes bevestig diensleraar
Die gemeente van Beaufort-Wes het laat weet dat Jan Stadler verlede naweek as diensleraar bevestig is. Jan is 'n sakeman op die dorp wat tans besig is met sy BTh-graad by Hugenote Kollege as deel van die kerk se nuwe bane vir teologiese opleiding.
Foto: Jan Stadler (regs) en Japie van Straaten. Ons wens Jan alle seën toe.
UIT ONS RINGE
Lekker Laaiplek-kuier
Die Verenigende Ring van Wesland het onlangs 'n heerlike ontspanne oggend op Laaiplek geniet. Charl van Rensburg vertel: "Tydens 'n besoek aan die museum op Laaiplek het Felicity Ströhfeldt vir ons meer vertel oor die dorp se interessante geskiedenis. Daarna het Makkie Bester en sy wonderlike personeel van die Laaiplek hotel ons heerlik bederf."
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Veritas-opleiding groot bate vir ons susterskerk in Mosambiek
Vanaf 18 tot 22 April het Riaan Terblanche (opleidingsorganiseerder van Veritas College in Mosambiek) saam met dr. Davidson Chifungo (opleidingsorganiseerder van Veritas College in Malawi) 44 leraars van ons susterskerk, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), Mphatso Sinode in Vila Ulónguè, Noordwes-Mosambiek opgelei. Getuienisaksie het hierdie opleidingsgeleentheid geborg. Lees meer oor die impak daarvan hier
Foto: Die 44 predikante wat onlangs die Veritas-opleiding in Noordwes-Mosambiek gedoen het.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraar, Riversdal-Wes
Gelegitimeerde predikante in die NG Kerk word uitgenooi om aansoek te doen vir hierdie permanente pos van voltydse leraar by NG Gemeente Riversdal-Wes. Daar is twee NG gemeentes op die dorp en Riversdal-Wes bestaan uit sowat 567 belydende lidmate en 123 dooplidmate. Skole en ouetehuise is deel van die bedieningsfokus. Die gemeente beskou hulself as ’n meelewende en omgee-gemeente met die visie: Christus is ons vreugde. 
Die geskikte kandidaat sal verantwoordelikheid en aanspreeklikheid vir alle fasette van die bediening en gemeentewerk aanvaar, soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde. Die ideale kandidaat het ’n minimum van 10 jaar (en verkieslik nie meer as 15 jaar) se ervaring in voltydse gemeentebediening en is 'n inspirerende en effektiewe Skrifgetroue prediker. Vaardighede in interaktiewe bediening in ’n digitale wêreld en aanlynbediening word sterk aanbeveel. Verdere vereistes sluit sterk leierseienskappe, goeie kommunikasievermoë en verhoudingsvaardighede, bewese rekenaargeletterdheid en kennis van sosiale mediaplatforms, selfdissipline en die vermoë om onafhanklik en in spanverband te werk in. Die volledige advertensie kan hier besigtig word. Aansoeke sluit 7 Junie. 
Voltydse leraar, Ladismith
Die gemeente van Ladismith (Wes-Kaap) adverteer tans die posisie van voltydse leraar. Hierdie plattelandse gemeente in die Klein Karoo soek na 'n geesvervulde, energieke, jong leraar wat oud en jonk passievol kan bedien.
Die geskikte kandidaat moet nuut kan dink oor kerkwees binne die konteks van die Ladismith- gemeente en ook beskik oor 'n missionale gerigtheid op die gemeenskap. Vorige ondervinding sal 'n aanbeveling wees.
Klik hier vir die gemeenteprofiel, posvereistes asook meer inligting rondom die aansoekproses. Sluitingsdatum vir aansoeke is 13 Mei.
Admin- en terreinbeampte, George Blanco
Blanco-gemeente in George adverteer die bogenoemde vakature. Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die hantering van die administrasiefunksie (finansies uitgesluit) van die kantoor asook vir die versorging/instandhouding van die gemeente se terrein en geboue.
Die ideale kandidaat beskik oor 'n verwante diploma of graad, 'n minimum van drie jaar se verwante ondervinding, eie vervoer en rekenaarvaardighede. Die kandidaat moet bereid wees om Sondae voor en na die eredienste die fasiliteite oop en toe te sluit soos benodig.
Kwalifiserende kandidate kan hul volledige CV met stawende dokumente asook verwysings e-pos na essie@promattron.com met duidelike verwysing na die pos waarvoor aansoek gedoen word. Essie Esterhuizen kan gekontak word by 082 552 9218 vir 'n volledige posbeskrywing en inligting. Sluitingsdatum vir aansoeke is 29 April 2022.
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
L’Chaim – Mesiaans-Joodse nuusbrief
Lees gerus die jongste nuusbrief van die Simcha Bediening aan Jode wat deur Jeanie de Wet in Kaapstad en omgewing behartig word. Lees meer oor hul Bybelstudiehoogtepunte, ’n paar getuienisstories, sake vir voorbidding, die betekenis wat Paasfees vir Christene kan hê, en nog vele meer. Lees dit hier
PUBLIKASIES
Pinksterreeks ook in Engels
CLF se Pinksterreeks 2022 is nou in Engels beskikbaar. Die reeks is saamgestel deur Llewellyn MacMaster, predikant by die VGKSA Gemeente SA Gestig in Belhar. Hy is ook moderator van die VGKSA Sinode van Kaapland (Wes- en Oos-Kaap).
Die reeks is uiters relevant en baie toepaslik vir gebruik tydens Pinkster, maar kan ook vir die res van die jaar gebruik word. Die reeks laat die lig val op verskillende fasette van die gebrokenheid in ons land en vra die dringende vraag: wat kan en behoort die kerk te doen? Laai die reeks af by CLF se hulpbronsentrum
ALGEMEEN
Raakgesien: SmartStart in die kollig
Die SmartStart-program het vandeesweek internasionale blootstelling gekry toe 'n foto van een van hulle plaaslike programme deur die toonaangewende koerant The Guardian geplaas is. Die foto is deur die bekroonde fotojoernalis Nic Bothma/EPA in De Doorns geneem en is gekies as een van die publikasie se Foto's van die Week. 
Raakgelees: Slim hond help kind
‘n Oulike oomblik is vasgevang op ‘n gesin se sekuriteitskamera wat wys hoe hulle slim hond keer dat hulle seuntjie in ‘n dammetjie val agter sy verlore speelding aan. Die beeldmateriaal wys verder hoe hierdie Duitse Herdershond self die speelding met ‘n net uitvis.
Aan die begin van die video kan ons sien hoe die hond rustig in die tuin in Shenzhen, China, sit en kyk hoe die twee jong kinders ‘n bal tussen mekaar gooi. Die speelding beland per ongeluk in die visdam, waar dit in die water verdwyn. Terwyl die ouer meisie weghardloop om haar ma se aandag te trek, probeer die seun self om die bal uit die water te kry. 
Die hond is vinnig om te reageer en gryp die kind aan sy hemp om hom terug te trek na veiligheid. Daarna tel die hond die gesin se visnet op en gebruik sy mond om die net onder die oranje bal te rig. Na 'n paar sekondes skep hy die bal suksesvol uit, tel dit dan op en neem dit na die jong seun. Kyk die video onder om die merkwaardige oomblik te beleef! 
BrightStar-program via Zoom
Wil jy uitnemend en doelgerig lewe? Wil jy ‘n groter impak in jou gemeenskap en gemeente maak? Met behulp van die Brightstar Lifestyle-program kan jy ook opgelei word as fasiliteerder om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak. Brightstar bestaan uit drie modules, naamlik Skitterende Self, Skitterende Verhoudings en Skitterende Leierskap.
Hierdie program word Saterdae (4 Junie, 25 Junie en 2 Jullie) van 09:00-16:00 aanlyn aangebied deur die fasiliteerders dr. Hennie Swanepoel en Chrislea Nel. Meer inligting is op die webwerf beskikbaar. Verdere navrae kan aan Hennie gerig word by 082 781 6330 en hjswanepoel09@gmail.com
KUIERKANS
Parow-Welgelegen hou herfsmark
Loer gerus by Parow-Welgelegen in vir hulle jaarlikse herfsmark met lekker winskopies en wegneemetes.
Dis tyd vir Merweville se dankfees
Merweville se dankfees is altyd 'n hoogtepunt op die kalender en vanjaar gaan beslis nie 'n uitsondering wees nie. Die gemeente sien daarna uit om na die inperkings weer behoorlik te woeker. Daar is verskillende geleenthede om hulle hierdie naweek te ondersteun deur heerlike eetgoed teen billike pryse aan te koop. Vrydagmiddag word sop en brood verkoop, Vrydagaand braaivleis en worsbroodjies. Saterdag is daar lekker potjieskos op die spyskaart en Saterdagaand kuier hulle met 'n snoek/steakete by die Springbok Lodge. Sondag is daar tradisionele boerekos met poeding.
Kontak vir Tinka by 072 087 1008 of ds. Herman by 084 581 6669 om jou kaartjies te bespreek. Hulle immergewilde vleistafel begin Vrydagmiddag om 14:00 met verkope.
TEN LAASTE
Woord en Fees se fokusteks vir die derde Sondag in Paastyd kom uit Openbaring 5 waar die opgestane Jesus Christus op die hemelse troon aanbid word deur miljoene engele. In die 2020-vertaling lees die jubelboodskap: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig."
Kom ons loof Hom met die lewe wat ons leef! Ons lewe is die lied voor sy troon.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.