Vlak 1 regulasies
Vlak 1 regulasies
Lees deur internet, klik hier >>
15 Oktober 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Terug op Vlak 1!
Die nasionale inperking is op 1 Oktober aangepas na Vlak 1. Die volgende regulasies geld:
  • Binnenshuise byeenkomste (hetsy godsdienstig, polities, sosiaal of kultureel) is nou oop vir groepe van tot 750 mense. Plekke wat nie 750 mense veilig kan akkommodeer nie, is beperk tot 50% van hulle toegelate kapasiteit.
  • Buitenshuise byeenkomste (hetsy godsdienstig, polities, sosiaal of kultureel – maar nie vir sport of begrafnisse nie) is nou oop vir groepe van tot 2000 mense.
  • Die aandklokreël is van toepassing tussen middernag en 04:00 soggens. Restaurante moet saans om 23:00 (elfuur) sluit. 
  • Alkohol mag nou verkoop word volgens die handelaar se dranklisensie. Restaurante mag drank bedien.
  • Maskers moet ten alle tye in die openbaar gedra word en moet die mond en neus bedek.  Dit is ’n misdaad om sonder ’n masker in die openbaar te verskyn.
  • Begrafnisse is wettig, maar nagwake voor en byeenkomste na ’n begrafnis bly steeds verbode. Die beperking vir begrafnisse (predikant, koster, orrelis en begrafnis-ondernemer ingesluit!) is verhoog na 100 mense en dit mag ’n maksimum van twee ure duur.
  • Huwelike: Huwelikseremonies en onthale is toelaatbaar.
Hoop en Versoening Trust deel hoop
Te danke aan ‘n donasie van R100 000 wat die Hoop en Versoening Trust van Marina Sea Salt ontvang het, kon hulle sover vyf ander organisasies bystaan. Een van hierdie organisasies is die Sinethemba Special Skills Center in die Oos-Kaap.
Hierdie sentrum is sedert 2003 besig om kinders met verstandelike en liggaamlike gestremdhede te versorg en te onderrig.
Felicia N. Ntwantwa, die bestuurder van die Sinethemba Special Skills Center, het aansoek gedoen vir die R15 000-befondsing omdat hulle finansieel al hoe meer sukkel sedert die aanvang van die COVID-19 nasionale inperking in 2020. 
Hulle huisves tans 60 kinders. "Hier by Sinethemba word die kinders met die grootste sorg en liefde basiese geletterdheid geleer. Hulle leer ook landbouvaardighede soos tuinmaak en die versorging van hoenders en varke. Die Here het hulle geseën met die wonderlike vermoë om pragtige kralewerk te doen, wat verkoop word om geld te bekom vir voedsel en ander benodigdhede. Aangesien ons kinders se gestremdhede van mekaar verskil, doen sommige van hulle spesiale vaardighede soos pluimveeproduksie, kralewerk, groenteproduksie, sorg vir varke of bak."
Danksy die Hoop en Versoening Trust se skenking van R15 000 kon hulle varke, hoenders en groente vir hul tuin aanskaf en onderhou. Hulle is baie bly oor die skenking en is dankbaar vir die impak wat dit op die kinders se lewens gemaak het. Lees meer oor die projek hier
Makhathini Vennootskap vier Koninkrykswerk 
As jy dalk al ooit gewonder het waarvoor jy deuroffers gee of hoe donasies nou eintlik ’n verskil kan maak, hoef jy net een keer te kom insit by ’n Makhathini Vennootskaps-vergadering. Hier sal jy gou aangeraak word deur die sterk verbondheid wat deur die jare oor verskillende grense heen gevorm is – hoe duisende mense se lewens al deur hierdie bediening geraak is (en steeds word) en hoe daar in in uitsiglose situasies weer nuwe Hoop ontstaan.
Op Saterdag 9 Oktober is die jaarlikse Makhathini Vennootskapsvergadering weer eens by die NG Gemeente Hartenbos gehou; ’n vennootskap wat uit beide VGK- en NG-lidmate en gemeentes bestaan en wat die VGK-gemeente Makhathini in Noordoos-KwaZulu-Natal met gebed, uitreike en finansies ondersteun. Lees meer hier.
Foto: Lede wat die Makhathini Vennootskapsvergadering bygewoon het.
Werkswinkel vir koshuisbediening
Die Taakspan vir Jeug en Familiebediening wil ‘n saamdink-geleentheid reël met predikante wat koshuise in hulle gemeentes het, asook predikante van gemeentes waar die meerderheid van hulle jeug op ander dorpe skoolgaan en dus in koshuise woon. Ons dink hierdie is ‘n groter wordende realiteit en dit sal goed wees as ons die kerk kan help met ‘n strategie en idees oor hoe geloofsvorming van hierdie kinders en tieners kan plaasvind.
Ons vra net dat jy kom saamdink en deel (jy hoef nie iets voor te berei of langtermyn te commit nie). Vanuit hierdie groep sal ‘n kleiner groepie saamgestel word wat verantwoordelikheid neem vir enige verdere werk wat gedoen kan word.
Datum: 10 en 11 November
Plek: Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit, Wellington
Tyd: Woensdag 11:30 tot Donderdag 13:00
Kontak jeug@kaapkerk.co.za teen 15 Oktober indien jy dit wil bywoon.
Die geweld wat vloei uit ‘n stukkende lewe
Braam Hanekom wonder in hierdie week se Godsdiens Aktueel hoe die psige of gees van ‘n mens donker word, dat die hulpelose so deur magsmisbruik verniel word. "Op ‘n manier was die onlangse nuusberig oor ‘n kliniek wat aangeval is en hoe werkers en pasiënte toe beroof is, van die mees ontstellende berigte wat ek die afgelope tyd gelees het. Dieselfde geld natuurlik ook vir aanvalle op bejaardes en plase, asook moorde op onskuldige kinders en vroue. 
President Ramaphosa was reg toe hy met verwysing na korrupsie gesê het: “Ons is nie so nie.” Die vraag bly dus hang: Hoe en hoekom het ons so geword?
Ons het reeds na die invloed van trauma verwys. Die hartseer bly dat stukkende mense soms stukkende lewens lei. Sulke stukkende lewens maak dikwels dan ook ander mense se lewens stukkend en so word ‘n bose siklus geskep.
‘n Tweede rede mag wees dat ons langs die pad ‘n vals lewe begin lewe en self die leuens begin glo wat ons lewe. Dit mag enige iets wees van dit is my reg, tot hulle verdien dit en meer. Integriteit gaan verder maklik verlore wanneer mense onder druk verkeer. Dit gebeur met armes en rykes. Bestuurders en werkers. 
Maar dalk is die belangrikste rede vir verlies aan karakter en integriteit, die oersonde, om ingebuig op jouself te wees. Ons praat van selfsug en `n beheptheid met die self, wat maklik verander in jaloesie en afguns." Klik hier om sy volle skrywe te lees.
Opvolgwerkswinkel met beroep-afwagtende proponente en ringskribas
Proponente wat moedeloos gewag is op beroepe en gemeentes wat swaar trek en nie predikante kan bekostig nie, is van die grootste uitdagings in ons kerk. As daar dan moeite gedoen word om saam met hulle om ’n tafel te gaan sit en te help planne maak, is dit ’n groot vertroosting. Hulle moet kan sê: “Ons staan nie alleen nie.” Die afgelope naweek het Stephen Pedro, taakspanbestuurder van Gemeentegetuienis, ’n opvolgwerkswinkel gehad met ons VGK-proponente en ’n -predikant wat nog op beroepe wag. Hy is hierin bygestaan deur Danny Bock en Brian Handel.
Die doel van die werkswinkel was om ons proponente op te lei in fasiliteringsvaardighede en hoe om ’n gemeente te begelei in die geloofsonderskeidende proses om ’n missionale gemeente te word. Die werkswinkel is afgesluit met ’n ontmoeting van ses ringskribas waarvan drie van dié ringe vyf of meer ‘vakante’ gemeentes het. Lees meer hier.
Foto: Proponente en ringskribas wat die opvolgwerkswinkel bygewoon het.
EKOLOGIE
GEMEENTENUUS
Troeteldiere hou saam lidmate kerk
NG Gemeente Rondebosch, in samewerking met InVia Kaapstad, het lidmate op 3 Oktober genooi om hulle troeteldiere saam te bring kerk toe ter viering van St. Francis Dag. Pierre du Plessis, predikant by InVia-gemeente vertel meer oor hierdie spesiale geleentheid.
“St. Francis Dag vind plaas aan die einde van die Seisoen van die Skepping, waarin ons ons verantwoordelikheid as God se beelddraers in sy skepping bevestig en so ook mense nooi om aktief te werk in sake wat ons ekologie raak. St. Francis is die beskermheilige van die diere en die skepping en op dié dag word mense tradisioneel genooi om hul troeteldiere na die diens toe te bring en dan seën ons die diere: 
‘Almagtige en ewige God, Skepper van alle dinge en Gewer van alle lewe, laat U seën op al hierdie diere wees. Mag ons verhoudings met hulle U liefde weerspieël en ons sorg vir hulle ‘n voorbeeld wees van U oorvloedige genade. Gee die diere gesondheid en vrede. Versterk ons om hulle lief te hê en te versorg terwyl ons daarna streef om die liefde van Jesus Christus ons Here, en ook soos U dienskneg Francis, na te volg.
Diere is altyd welkom in ons dienste (hulle is mos maar soos mense se kinders) maar ons maak 'n ophef van hulle op St. Francis Dag."
NG Gemeente Rondebosch en InVia-gemeente hou een keer per maand ‘n gesamentlike diens. Dié twee gemeentes droom saam om ‘n kultuur, plek en gemeenskap te vestig wat ‘n ritme van gebed, kontemplasie en aksie in die stad hou. Lees meer oor hulle droom hier
Brackenfell-Wes plant bome
Die gemeente van Brackenfell-Wes laat weet dat hulle geologiese lentedag gevier het vanjaar! Vier Waterbessies (Syzygium Cordatum) het 'n tuiste gekry op hulle kerkterrein met 'n spesiale boomplantgeleentheid wat op 21 September gehou is. 
Hulle sê graag dankie vir Morné Pretorius van Stad Kaapstad vir hierdie ruim skenking, John en Muggie Kitching van Brackenfell Staal vir die vervoer van die bome, Brahm en Nina Koekemoer, Clement en die ander vrywilligers wat gehelp het om die gate vir die bome te grawe en toe te gooi. Die gemeente vertel graag die storie verder met foto's wat van die geleentheid geneem is. Klik hier om daarna te kyk. 
Graaff-Reinet se herinneringstuin
NG Gemeente Graaff-Reinet laat weet dat hulle wit-vlaggie-herinneringstuin in die eerste week van hierdie maand afgeskop het. Die projek is begin om die gemeenskap die geleentheid te gee om saam te dra aan gedeelde verliese. "Dit gee vir elkeen ook die ruimte om deur simboliek hulle verliese te verwerk. Iemand op ons Facebook-blad het dit pragtig verwoord: 'Gedeelde smart is ligte smart'." 
Die gemeente nooi die gemeenskap om deel te neem: kry ‘n vlaggie by die kerkkantoor en plant dit in Oktobermaand in die gedenktuin ter herdenking aan ‘n geliefde wat in die afgelope maande oorlede is. 
Orrelkonsert op Citrusdal
Musiekliefhebbers kan hulle gereedmaak vir 'n bederf met die uitvoering van Classics Broadway 2 - 'n keurspel van bekende liedjies uit musiekblyspele soos Mary Poppins, Beauty and the Beast, Chess, Hercules en Les Misérables.
Die uiters talentvolle orrelis Johann Enslin en sanger Jan Olivier sal die gehoor vermaak op Sondag 31 Oktober by die NG Gemeente Citrusdal. In plaas van toegangsgeld word konsertgangers gevra om 'n donasie te maak.
Kontak die kerkkantoor by 022 921 2843 of stuur 'n e-pos na ngkcitrusdal@telkomsa.net vir meer inligting.
DivorceCare-kursus
Indien jy iemand ken wat deur 'n egskeiding is, maak nie saak hoe onlangs of hoe lank gelede, kan DivorceCare, 'n kursus aangebied deur Knysna-gemeente, jou bystaan.
Die kursus word aangebied oor 'n tydperk van 13 weke op Dinsdagaande tussen 18:00 en 20:00 en skop amptelik af op 19 Oktober. Die koste is slegs die R300 vir die werksboek. Annemari van den Berg, kerkraadslid en die persoon in beheer van die gemeente se genesingsbediening, vertel dat hulle goeie reaksie van verlede jaar se kursus ontvang het. "Ons het verlede jaar wonderlike getuienis ontvang van hoe hierdie kurses so 'n besondere betekenis gehad het vir almal wat dit bygewoon het. Dit het 'n wonderlike samehorigheidsgevoel gevestig met 'n veilige plek om te kan deel en bemoedig."
Hulle begin terselfdertyd met DivorceCare4Kids wat ook oor 13 weke strek. Die gemeente poog om vir die kinders borge te kry vir hulle werksboeke sodat enkelouers nie nog moet betaal vir hul kinders ook nie. In die DivorceCare se werksboeke is daar elke week 'n bladsy oor wat met die kinders in DivorceCare4Kids behandel word en dit gee die ouers ook dan insae in waarmee hulle kinders besig is. Kontak gerus vir Annemari (082 420 9996) vir meer inligting.  
PREDIKANTENUUS
Bredasdorp verwelkom Karlie Liebenberg
Karlie Liebenberg vertel dat sy nog altyd gevoel het dat sy geroep is vir die platteland. Daarom is sy vreeslik opgewonde oor die eenheidspad in Bredasdorp wat vir haar voorlê.  
"Ek sien uit om saam met die hele Bredasdorp-gemeenskap ‘n pad te stap, ruimte te skep vir storievertelling, mense te help om te floreer en om kerk te wees soos ons daarvan in Handelinge 2 lees." 
Sy besin verder oor die les waarmee sy van Bellville-Wes, Bellville-Vallei en Ligstad wegstap. 
"Vroeër die jaar, gedurende die grendeltyd, kry ons die geleentheid om ‘n Community Dinner vir straatmense te hou. Daar het ek besef dat die kerk meer moeite moet maak om sulke geleenthede te skep waar mense werklik mekaar kan leer ken en die geleentheid het om saam te kan eet soos ons daarvan in die Evangelies lees. Hierdie tipe geleenthede is vir my belangriker as formele vergaderings." 
Karlie word op Sondag 31 Oktober bevestig in die VG-kerkgebou waar haar intreepreek ook op 7 November sal plaasvind. 'n MP3-weergawe van hierdie preek sal op die gemeente se webtuiste beskikbaar wees.
Mag God jou ryklik seën tydens hierdie nuwe fase van jou bediening, Karlie!    
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
 Klik op die grafika om meer inligting en skakels vir registrasie te kry.
Andrew Root Webinare
Die laaste webinaar in die reeks van drie vind op 19 Oktober plaas.
Kom luister en gesels saam oor die tema "The Congregation in a Secular Age" – kyk hier na ‘n voorsmakie van die tema.
Koste: R250 vir die reeks van 3.
VBO punte: 5 per sessie (15 in totaal).
Registreer hier
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Vastetermynpos - senior bediening, Durbanville
Durbanville-gemeente is 195 jaar oud. Die gemeente staan in die hartjie van Durbanville, ‘n voorstad van Kaapstad wat vinnig ontwikkel en uitbrei. Daar is sewe aftreeoorde in die onmiddelike omgewing en groot getalle senior lidmate wat in hulle eie wonings woon. 
Ampspligte sluit in: bediening van die Woord en sakramente in die eredienste van die gemeente en aftreeoorde, begeleiding van Bybelstudiegroepe of Bybelkursusse, pastorale versorging deur huis- en siekebesoeke, sterwensbegeleiding, begrafnisse en roupastoraat, toerusting van lidmate (bv. hantering van aftrede) en bemagtiging van senior lidmate wat nog aktief is om hulle roeping uit te leef. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober 2021. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Bedienings- en verhoudingebestuurders, Kuilsrivier
NG Gemeente Kuilsrivier-Suid adverteer tans die twee bogenoemde poste. Kandidate (vir albei poste) moet beskik oor: Graad 12, 'n geldige bestuurslisensie, goeie organisasievaardighede en moet rekenaargeletterd wees. Die suksesvolle kandidate moet vlot wees in Afrikaans en Engels - praat en skryf.
Die poste vereis verder dat die suksesvolle kandidate bereid moet wees om fleksietyd te werk en per geleentheid na-ure. Aansoeke sluit 29 Oktober 2021. Die volle advertensies kan hier besigtig word: bedieningsbestuurder en verhoudingebestuurder
Voltydse leraar, Velddrif
Velddrif-gemeente nooi alle gelegitimeerde predikante van die NG Kerk wat saam met die gemeente vissers van mense wil wees om aansoek te doen. Hulle vertrou die Heilige Gees vir ‘n leraar wat sterk geroepe voel om aansoek te doen en wat saam met die leiers die gemeente in ‘n nuwe seisoen/toekoms sal begelei. Velddrif is ‘n groeiende plattelandse dorp langs die monding van die Bergrivier, sowat 130 km noord van Kaapstad. Hier is 700 belydende- en 150 dooplidmate, met ‘n groot persentasie bo sestig jaar oud. 
Aansoeke sluit 29 Oktober 2021. Kry meer inligting oor die pos hier.
Jeugwerker, Saldanha
Die NG Gemeente Saldanha het die voorreg om ’n jeugwerker te beroep om die hand van die gemeente (en gemeenskap) te vat in die geestelike bediening van die jeug en jong volwassenes van ons gemeente en omgewing binne hulle unieke leefwêreld.
Belangrike karaktereienskappe: ’n passie vir God en die jeug; entoesiasme; kreatiwiteit; integriteit en ’n goeie spanwerker.
Gewenste vaardighede: sterk interpersoonlike vaardighede; sterk menseverhoudings; vriendelike en professionele hantering van mense; goeie netwerker,  beplanner en organiseerder; rekenaargeletterdheid. Musikale aanleg sal ’n bate wees.
Aansoeke sluit 27 Oktober. Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Leraarspos, Drakenstein
Drakenstein-gemeente is tans op soek na ’n geskikte kandidaat wat sal fokus op die versorging en toerusting van huidige lidmate. Gelegitimeerdes van die NG Kerk wat ampspligte sal nakom soos omskryf, met Artikel 9 van die Kerkorde as riglyn, kan nou aansoek doen. ’n Gawe vir pastorale versorging en kommunikasievaardighede om almal (oud en jonk) welkom te laat voel en aan te moedig om deel van die gemeente en groter gemeenskap te wees, is noodsaaklik. Vaardigheid met sosiale media en multimedia om die prediking en gemeente-aktiwiteite te ondersteun, sal as aanbeveling dien.
Kry die volledige advertensie insluitend die gemeenteprofiel en -droom hier.
Verpleegkundiges, Boston
Alta du Toit Nasorgsentrum vra verantwoordelike en gemotiveerde persone om aansoek te doen vir hierdie twee betrekkings: geregistreerde professionele verpleegkundige en stafverpleegster. 
Die aangewese kandidate moet geregistreer wees by die SARV. Verder word die volgende vereis: bewese ervaring in die verpleging van intellektueel gestremde persone, uitstekende verpleegsorgvaardighede, bekwaamheid in beplanning, probleemoplossing en organisering. Bewese rekenaarvaardighede en goeie kommunikasievaardighede is ook noodsaaklik. Aansoeke sluit 22 Oktober. Klik hier vir meer inligting. 
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir KIX se laaste nuusbrief van 2021 met interessante Advent-hulpmiddels.
PUBLIKASIES
Die volledige Makhua Bybel is hier!
As jy jou Bybel oopmaak en sonder om twee keer te dink ’n vers van vertroosting of bemoediging daaruit kan lees, is dit moeilik om te dink dat daar nog soveel mense is wat dit glad nie in hul eie taal kan doen nie. Om dit wel moontlik te kan maak, verg jare van taalkundige interpretasies, kontekstuele kennis en diepe kulturele insig.
Na 22 jaar se harde werk en toegewyde deursettingsvermoë, het die Makhua Shirima Bybelvertalingsprojek 'n hoogtepunt bereik toe die volledige Makhua Bybel die naweek van 9 tot 10 Oktober amptelik by Muapula in Noord-Mosambiek in ontvangs geneem is. Lees meer hier.
Foto: Die vertalingspan van links na regs: Alfonso Fabio Daimone, Bernardo Manuel Dinala, Gerard Olivier, Domingos Manuel Assibo en Raimundo Luis Nande.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Twee gelykop stemmings, ’n gebed en toe word Chris van Wyk se naam met die lot getrek as die nuwe moderator van die Sinode van Oos-Kaapland. Lees die volledige storie hier
Maricus le Grange, orrelis van die NG Gemeente Stellastraat in Pretoria, het verlede jaar tydens die grendeltyd kragte saamgesnoer het met Rolf Rencken, orrelis van die buurgemeente Lynnwood. As die Organ Buddies het hulle ’n reeks orrelkonserte aanlyn gehou wat op YouTube te sien is. Klik hier om meer uit te vind.
In sy reeks waarin Christo Benadé poog om die kontoere van die teologiese middelgrond vir die NG Kerk te beskryf, kyk hy hoe die liefde binne die Drie-eenheid oorspoel in die wêreld en ons daarmee saamsleur. Volg hierdie skakel om die tweede artikel in die reeks te lees. 
Nuut op die rak
CLF bied vir Oktober 'n spesiale aanbod op die jeuggids Jy is goed genoeg/You are good enough. Dit is die ideale geskenk vir 'n tiener, matrikulant of kategeet.
Shawn Basson se eerste boek neem jongmense op 'n geloofsreis van 40 dae met inspirerende gedagtes van hoop, gebedsfokus en pragtige illustrasies. Daar is selfs joernaalspasies.
Koop dit aanlyn of bestel deur ’n e-pos aan order@clf.co.za te stuur.
ALGEMEEN
Raakgekyk: Am se legendariese aangee
Die Springbokke se buitesenter, Lukhanyo Am, het die kritici daaraan herinner dat die Suid-Afrikaanse rugbyspan meer as net interessante voetwerk kan doen. Sy asemrowende aangee het gelei tot die span se eerste drie, aangeteken deur Damian de Allende. Beeldmateriaal van die aangee kan in die onderste video gekyk word.
Na drie agtereenvolgende verliese by die Rugbykampioenskap, twee aan die hande van die Wallabies en een teen Nieu-Seeland, het die Suid-Afrikaanse spelers hul toer met 'n positiewe uitslag afgesluit in die epiese kragmeting teen die All Blacks. Die manne in groen en goud het nie net goed geskop, geskrum en gemaal nie, maar ook meedoënloos op die All Blacks afgepyl in hulle sege van 31-29. Die Springbokke het derde geëindig in die kampioenskap, maar hul laaste oorwinning oor Nieu-Seeland het verseker dat hulle hul posisie as die beste span ter wêreld behou. Klik hier om die wedstyd se hoogtepunte te sien. 
Geestesgesondheidsmaand
Alta du Toit Nasorg vier vanjaar Geestesgesondheidsmaand met twee spesiale geleenthede in Oktober. Op 15 Oktober ondersteun hulle Cape Mental Health se Vliëerfeesprojek  #EveryoneDeservesToFly deur saam met die bekende sangeres Andriëtte Norman, hulle welwillendheidsambassadeur, vliëers te maak en te vlieg. Lees hier meer oor die besonderse veldtog. Op 29 Oktober hou hulle 'n lentekarnival met tradisionele sportspeletjies.  
17 Oktober is Tuinedag
Maak 'n nota in jou dagboek om eerskomende Sondag in jou tuin te ontspan om Tuinedag in Suid-Afrika te vier. Garden Day SA moedig tuiniers aan om hulle gereedskap neer te lê en die vrug van hulle arbeid te geniet. Besoek hulle webwerf vir inspirasie hoe om feestelik in jou tuin te kuier, lees meer oor die gesondheidsvoordele wat tuinmaak inhou en sien waar spesiale Tuinedag geleenthede aangebied word. Kyk ook hier na Stellenberg Gardens se virtuele toer ten bate van die St. Josephs. Foto: Garden Day SA
Kuier saam met Innovation for the Blind
Innovation for the Blind, in samewerking met Efficient Wealth, bied op Dinsdag 2 November hulle gewilde Boss Breakfast en Boss Brunch aan. Bekende sprekers Dawie Roodt en Willem Basson deel hulle kennis en insigte ten opsigte van die nuutste ekonomiese tendense en gebeure. 
Geniet tipiese Weskus gasvryheid by die Horizon restaurant by die Langebaan Country Estate. Bespreek nou jou oggend- of middagsessie by Chimoné Maartens op 023 347 2745 of stuur ‘n e-pos na info@innovationfortheblind.org
Klik hier vir meer inligting of om aanlyn te bespreek.
KUIERKANSE
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag is Biddag vir Gesondheidsdienste. Die COVID-19-pandemie, wat nou reeds vir meer as negentien maande met ons is, het ons mediese personeel en gesondheidswerkers onder geweldige druk geplaas. Die dokumentêr Zero to Zero, wat tans op M-Net uitgesaai word, gee 'n eerstehandse oorsig van die impak wat die pandemie op gesondheidspersoneel het.
Ons sien hulle heldhaftige pogings, vasberadenheid, deursettingsvermoë en ongekende opofferings raak. Ons dra Kari Jobe se Healer aan ons dokters, verpleegsters, hospitaalpersoneel, gesondheidsdiensverskaffers en nooddienswerkers op. Mag die Here julle voortdurend ondersteun en beskerm.
Illustrasie: Shutterstock
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.