Lees deur internet, klik hier >>
2 Junie 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Pinksterfees
Poppie-projek
SINODENUUS
1.1 Kinderbeskermingsweek
Ondersteun Badisa se Poppies!

Badisa se Poppie-projek dien as simbool van hulle onbaatsugtige dienslewering op die gebied van kinderbeskerming.
Geld wat ingesamel word met hierdie projek word op verskillende maniere tot voordeel van mishandelde kinders gebruik. 'n Poppie kos R120 en 'n plakker slegs R10. Die vlakke van kindermishandeling in SA is ontstellend hoog. Ons mag nooit "gewoond raak" daaraan bloot omdat ons gereeld daarvan lees en hoor nie.
In 'n spesiale skrywe versoek Nelis Janse van Rensburg dat elke lidmaat ernstig oorweeg om betrokke te raak -
lees hier. By
www.badisa.org.za is selfs meer inligting. Die jaarlikse Kinderbeskermingsweek is afhanklik van ons almal se ondersteuning. 
Grafika
1.2 Kinderbeskermingsweek 
Nasionale Kinderbeskermingsweek (27 Mei tot 3 Junie) word jaarliks in SA herdenk om bewusmaking rakende kinderregte te kweek. Op 28 Mei is 2017 se Kinderbeskermingsweek amptelik geloods  by 'n geleentheid buite Langa. Die Dept van Sosiale Ontwikkeling beoog om met vanjaar se tema bewustheid te verhoog en die gemeenskap op te voed oor kinderregte. Negentien kinders is reeds sedert die begin van die jaar in die Wes-Kaap alleen vermoor. Lees hier verder en onthou ook Badisa se mediaverklaring.
2. Getuienisaksie
Straatwerk – Liggaam van Christus in Aksie

Ons gesels met Fourie Truter, direkteur van Straatwerk, een van Getuienisaksie se bedieninge. Hy vertel meer van hul uitreike onder haweloses, vroue vasgevang in prostitusie en hul naguitreike waartydens gemeentes, belydenisklasgroepe, en ander belangstellendes op 'n Vrydagaand saam met Straatwerk uitgaan en mense in Kaapstad se middestad met Christus se liefde bedien. Klik op die video onder. 
Straatwerk
3. Jeug- en Familiebediening: Materiaal oor Paulus vir kampe
Het jy geweet #imagine maak hul eie video's vir elke fees? Hier is drie van die 2017 fees wat handel oor die agtergrond, bekering, eienskappe en sending van Paulus. Gebruik dit gerus as jy 'n reeks of kamp oor Paulus doen, nooi Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebediening). Klik onder om  die drie video's te sien.
Paulus video 1
Paulus video 1
Paulus video 2
Paulus video 2
Paulus video 3
Paulus video 3
Imagine 2018 Save the date
5. Communitas: Opleiding vir Mentorskap
As deel van Communitas se kursusse het 'n groep predikante wat as mentors vir teologiese studente optree, van 9-11 Mei 2017 'n mentorskapkursus in Durbanville bygewoon. Die kursus, gelei deur Edgar Geissmar, is van groot waarde vir enigeen in 'n mentorskaprol, vertel Johan Smit, een van die kursusgangers. Dankie aan Eddie Orsmond (Kuratorium) vir die reëlings (foto onder).
Mentorskapkursus
Voor: Nati Philander (VGK Wesfleur-Atlantis), Edgar Geissmar,
Gert Schreiner (VGK Retreat)
Agter: Desmond Meyer (VGK Koelenhof), Kobus Swarts (NG Bellville-Vallei), Freddie Ayford (VGK Paarl), Christo Klopper (NG Brackenfell-Wes), Jan Hendricks (VGK Bergrivier), Hennie Fouche (NG Hottentots-Holland) en Johan Smit (NG Piketberg)
6. Argiefkronieke
Kamera, Ligte, Aksie!

"Op Vrydag 26 Mei is die Argief oorval met kameramense, klankmanne, 'n 'klappertjie', produksiebestuurder, navorser (aha, uiteindelik iets waarmee ons bekend is!). Die rede? Niemand minder as Diaan Lawrenson en Jody Abrahams wat hul familienavorsing kom voortsit nie - op kamera vasgelê vir 'n hele volk wat wag op die volgende episode van 'Watter liefde vloei in jou are'...
Soos altyd, trek die Argiefspan laer en span saam om 'n meesterlike 'script' (lees: geboorte- en huweliksregisters so ver terug as 1665, familiefoto's uit die jare toet, krygsgevangenekampdode, -geboortes en -aannemings en yslike groot Familiebybels met soms haas onleesbare, maar insiggewende  inskripsies - alles verweef met kosbare familiestories) kameragereed te kry.
Lees hier verder hoe Isabel Murray dié lekker storie vertel!
Collette, Jodi, Diaan en ma
Collette de Wet, Jody Abrahams, Diaan Lawrenson
en Tertia Luntz, Diaan se ma
David Kinnaman
7. Sentrum vir Publieke Getuienis
 David Kinnaman: 
Wat impakteer tans op die kerk?
David Kinnaman, die nuwe president van die Barna Instituut in die VSA, was onlangs in die Kaap. Die Barna-groep doen al jare navorsing oor kerklike en samelewingstendense.
Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) het David se gesprek bygewoon en gee 'n kort opsomming van enkele belangrike feite wat genoem is. Lees die volledige dokument hier. Kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.
Dr Basson
ALGEMEEN
1. Innige Simpatie
1.1 Dr TJ (Tobie) Basson 

(02.12.1927 - 28.05.2017)
Ons het die hartseer nuus ontvang dat dr Tobie Basson op Sondag 28 Mei oorlede is. Hy en sy vrou, Kotie, het in Serenitas in die Strand gewoon.
Dr Tobie Basson het in 1956 tot die bediening toegetree en was oa leraar by Hendrina, Malelane en Witbank-Suid. Hy was van 1980 tot 1990 die direkteur ontwikkeling van die Instituut vir Blindes.
Ons dink met medelye aan die gesin (sy vrou Kotie, die kinders: Erika, Conrad, Stefan en Tobie jr) en uitgebreide familie in hierdie hartseer tyd. 'n Roudiens word op 2 Junie om 14:30 deur ds Bennie Fourie by Serenitas in die Strand gelei.
Ds Crause
1.2 Ds HJP (Herman) Crause
(19.02.1949 - 29.05.2017)

Ons het met hartseer kennis geneem van die dood van ds Herman Crause, wat op Ma 29 Mei na 'n siekbed van twee maande oorlede is.
Ds Crause was in die klas van 1973 op Stellenbosch, waarna hy Stilfontein, Vryburg-Wes, Kroonheuwel-Noord en Welgemoed bedien het. Sedert sy aftrede woon die gesin op Hermanus. Ons dink in hierdie tyd aan sy vrou, Anette, hul vier kinders en die uitgebreide familie. 
'n Troosdiens word 14:00 op Vrydag 2 Junie in Hermanus gehou. 
Madalene Nel
1.3 Met medelye: Madalene Nel
(06.07.1955 - 24.05.2017)

Ons deel in die groot hartseer en verlies van Barend Nel (tot 2014 predikant in die NG Gemeente Kraaifontein en vroeër Leeu-Gamka) en sy familie (onder wie vier dogters en twee peetdogters) met die skielike dood van sy vrou, Madalene, op Wo 24 Mei 2017.

Nadat die Nels van 'n jare lange droomreis deur Namibië, Botswana en Zimbabwe terug in Suid-Afrika was, is Madalene onverwags in Polokwane gehospitaliseer. Haar toestand is uiteindelik gediagnoseer as "Primary Central Nervous System Vasculitis" (inflammasie van die brein). 

'n Kerkdiens om Madalene Nel se lewe te herdenk, vind op Vr 2 Junie om 12:00 by die NG Moedergemeente Kraaifontein (op die hoek van Negendelaan en Stasiestraat) plaas. Die diens word gelei deur ds Andrie Kilian. Barend en Madalene was vir 30 jaar predikantspaar in hierdie gemeente.
Winterhoop logo
2. Hoop vir Winterkoue!
Almal word vriendelik maar dringend uitgenooi om deel te word van die sewentiende Winterhoop-veldtog van 1 tot 30 Junie vanjaar.
Dit is 'n landswye veldtog wat PEN, MES, Isinkwa Setheku en Torings van Hoop in samewerking met verskeie kerke, welsyns-organisasies. RSG, KykNET en verskeie koerante aanbied om die nood in ons land gedurende die winter aan te spreek. Lees hier – en kontak Clarina Hanekom by prcapetown@mes.co.za of 021 949 8736. Dalk is dit die plek waar jy, jou selgroep/vriendekring/ge
meente vanjaar betrokke moet wees?
3. SARK en die Staatskaping
E-Kerkbode berig oor die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se opsomming van die sewe maniere waarop die president se magselite die staat ondermyn. Lees die volledige artikel hier.
Die SARK het ook 'n verslag uitgereik na aanleiding van hierdie tendense. Die hele saak val vir die SARK binne hulle groter projek "Die Suid-Afrika waarvoor ons bid".
Hierdie proses fokus op veral vyf sake: gesinne se welsyn, armoede en ongelykheid, heling en versoening, die versterking van demokrasie en ekonomiese transformasie.
(Met erkenning aan e-Kerkbode)
(Skets met erkenning aan Nico Simpson)
4. Kerk in Nederland laat jou nie Onaangeraak
In Mei 2017 het vyf Suid-Afrikaners die groot voorreg gehad om na Nederland te reis met die doel om iets van die kerk in Nederland te beleef.
Jetro Cloete (VGK Strand), Louis Smith (NG Gemeente Murray, De Doorns), Lettie Büchner (NG Gemeente Wellington), Rafle Cloete (VGK Elsiesrivier) en Helené Fouché (NG Gemeente Kuilsrivier) het saam met kollegas uit Nederland die "getemde Weste" gaan verken. Helené deel enkele indrukke van hierdie spesiale geleentheid – klik hier.
Groep besoekers
Agter vlnr: Fred Kapinga, Louis Smith,  Zwanine Siedenburg, Helené Fouché, Ploni Robbers, Lettie Büchner, Petra van Oorsten, Ditske Tanja, Herrianne Allewijn
Voor: Rafle Cloete, Jetro Cloete, Christo Thesnaar
Dirkie Smit
5. Raakgelees
5.1 
Dirkie Smit en belydenisvorming
'n Artikel oor prof Dirkie Smit se bydrae tot belydenisvorming het uit die pen van kerkhistorikus prof Mary-Anne Plaatjies-van Huffel verskyn. Dit is die moeite werd om te lees, berig Danie Mouton in Grens.Pos van 25 Mei.
Mary-Anne skryf: "During the past 28 years Dirkie Smit has  played a  pivotal role in the advocacy in many forums, explaining of the decision to declare a status confessionis and promoting the reception of the Belhar Confession. Smit knew first and foremost that the term status confessionis calls for explication (explicatio) which he very eloquently gave. Smit has not only repeatedly emphasized  the need for  the church should stand where God stands in all situations of injustice – that is, in solidarity with the wronged, against injustice – but also that the Belhar has clear implications for church unity.”
Klik hier vir die artikel. (Met dank oorgeneem.)
Duif
5.2 Dirkie Smit: Pinkster by NG Durbanville-Bergsig
Durbanville-Bergsig se Pinksterreeks maak deel uit van vanjaar se wêreldwye 500-jarige herdenking van die Hervorming. Prof Dirkie Smit se lerende reeks (28 Mei tot 31 Mei) word aangebied rondom die tema "Die Werk van die Heilige Gees volgens die Reformasie:  Verlang – Verlig – Vertroos – Vernuwe – Verbind".
Hy herinner hiermee aan die belangrikste oortuigings van die Gereformeerde tradisie aangaande die werk van die Heilige Gees. Belangstellendes kan gerus oorweeg om na die klankopnames te luister. (Die laaste bydrae sal spoedig ook beskikbaar wees.) Klik hier.
Naambord
5.3 SA se ou én nuwe verhale beïnvloed ons 
"Vanoggend weet ek, die Grondwet alleen en skoon regering alleen sal nie die storms in Suid-Afrika stilmaak nie. Ons sal almal mekaar as ewebeeld van God moet ken en respekteer. En al die jong priesters en profete van die land, geleerd en ongeleerd, swart en wit, sal die droom van God se koninkryk wat aanbreek in Suid-Afrika, passievol moet glo .... ten koste van die 'forces of evil.'" - Nelis Janse van Rensburg. Hieroor het Nelis geskryf pas na die moderatuur en ons jong predikante Robbeneiland besoek het. (Foto's onder).
Lees die hele berig hier. (Met erkenning aan Netwerk24.)
Fritz Kotze in Anglikaanse Kerk
Fritz Kotze (Fraserburg) lees aandagtig in Anglikaanse Kerk
Riaan de Villiers
Riaan de Villiers (Kaapstad) beduie passievol voor die deure van die Groote Kerk
Thabo en Lungi Makgoba
Thabo and Lungi Makgoba
5.4 SA Archbishop at Reformation Ceremony:
Preaches for World of One Humanity 

South African Archbishop Thabo Makgoba, speaking in Germany, has said the Reformation can become like a GPS system opening global awareness for the next 500 years and has called for a world of one humanity. Makgoba, the Anglican archbishop of Cape Town was delivering the May 28 closing sermon of the biennial German Protestant Kirchentag, or "church festival," before tens of thousands of people on the banks of the river Elbe in the German town of Wittenberg.  Read the full article by Anli Serfontein here.
Gesamentlike lofprysing
GEMEENTENUUS
1. Beaufort-Wes
Getuienis: Gesamentlike lofprysing

Die gawe van musiek is ’n geskenk uit God se hand. Wat ’n voorreg is dit nie om dit met mekaar te kan deel nie. Hierdie voorreg het Beaufort-Wes op Vrydagaand 19 Mei gehad, laat weet René Potgieter (NG Gamkavallei). Wat die aand so besonders gemaak het, is dat die twee VGK Kerke van Beaufort-Wes saam met die NG Gemeente Gamkavallei die Here kom loof en prys het. Lees hier.
Tema
2. Gemeentes, praat asb met ons!
2.1 Jaartema
Goeie kommunikasie is mos tweerigting. Daarom versoek ons gemeentes om te laat weet wat julle fokus of jaartema is. Hoewel heelwat gemeentes aansluit by Refo500, formuleer julle waarskynlik ’n eie jaartema met die Hervorming as vertrekpunt. 
Dalk het julle ’n eie gemeenteteks waarmee die gemeente reeds etlike jare aankom? Rondom watter temas werk julle vanjaar? Voorbeelde is NG Ceres se "Is ek 'n Bybelmens?" of NG Stellenbosch-Wes se "Snoei, groei, dien" as temas vir 2017.
Klik hier om deur lg se pragtige visuele herinnering hieraan geïnspireer te word.
Stuur gerus ’n foto of kort inligting wat ons op die sinode se webwerf kan deel. Dis deel van ons getuienis hoe God deur gemeentes gemeenskappe laat floreer.
2.2 Kalenders
Terloops: met ’n vorige versoek vir gemeentes om ’n foto van 2017-kalenders te stuur, was die reaksie verblydend. Het jy al na die pragtige kalenders gekyk? Is jou gemeente s’n deel van die versameling? Kyk hier – en stuur gerus ’n foto van julle kalender se voorblad na kommunikasie@kaapkerk.co.za. Dis deel van ons gemeenskaplike getuienis! Onder is Bredasdorp, George-Tuinedal en Laaiplek se kalenders.
Bredasdorp kalender George-Tuinedal kalender Laaiplek kalender
Viljoens
PREDIKANTENUUS
Jandré Viljoen, welkom! 
Op 1 Junie 2017 word Jandré en Christelle Viljoen (en klein Daniël!) deel van die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike se span as deel van die internskapprogram. Jandré beskryf sy roeping eenvoudig met "Dit gaan oor God en God se mense" en vertel dat hy bewus van verhoudings en ’n lewenslange proses van geloofsvorming leef.
Jandré se bevestiging en intreepreek is op So 25 Junie 2017 om 09:30. Mag jy vele geleenthede kry om mense te help om hulle kreatiewe identiteit uit te leef, Jandré. Julle is welkom in ons midde! 
Koolstofvoetspoor
EKOLOGIE
1. Voorbeeldige Leierskap

Dis ’n algemeen aanvaarde opvoedkundige beginsel: woorde wek, maar voorbeelde trek.  Jakobus sê: “Wys my jou geloof deur jou dade.” 
Die VGK- en NGK-lidmate (onder andere) verlang na dominees wat vir hulle 'n voorbeeld sal stel met betrekking tot allerlei uitdagings – ook die uitdaging van klimaatsverandering. Lees hier hoe kerkleiers die voortou in hierdie verband kan neem.
Theewaterskloofdamvlak
2. Verantwoordelike Rentmeesters van ons Water
Tot hoe 'n mate is ons verantwoordelike rentmeesters van die water wat ons van God ontvang? Hoe volhoubaar dink, doen en beplan ons as dit by water kom?
Met die huidige droogte in die Wes-Kaap wat voortduur, is dit nodig om die water wat ons het, goed op te pas. Ander opsies, soos ontsouting en die gebruik van gryswater, word ook ondersoek.
Die omstrede vraag wie vir gratis water behoort te kwalifiseer, moet volgens die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, ook aandag geniet. Die foto is van die Theewaterskloofdam (www.ewn.co.za). Lees Netwerk24 se berig hier.
Damvlakke Mei 2017
Wes-Kaapse damvlakke 29 Mei 2017 - Bron: Netwerk24
BEHOU DIE HUMOR
Church parking
PUBLIKASIES
1. CLF stel bekend
Klik op die grafika onder vir meer oor hierdie opwindende publikasies.
Die eerste, Reformation 500 - Some SA perspectives, is onder die gerespekteerde hande van Kobus Gerber (voormalige alg sekretaris van die NG Alg Sinode) deur, terwyl A famliy of Reformed Churches in Africa, waaraan Gideon van der Watt en Mariëtte Odendaal gewerk het, 'n unieke blik op die geskiedenis, groei en huidige stand van die Gereformeerde kerke in Suider-Afrika bied. 
Met die hernude oproep om ons land met gebed te deurdrenk, is die derde publikasie, Our Family Prayer Book, 'n nuttige hulpmiddel vir gesinne wat erns met hulle gebedslewe maak.
 
 
Refo500 SA Perspectives A Family of Reformed Churces in Africa Our family prayer book
2. Kerkbode
Hans Steyn se nuusbrief het inligting oor Kerkbode van 2 Junie.
Is jy al ingeteken om e-Kerkbode se gereelde nuusbrief per e-pos te ontvang? Volg jy ons NG Kerk-familie se nuus reeds op e-Kerkbode se gebruikersvriendelike webwerf? Dis so maklik: klik net hier vir toegang tot 'n interessante verskeidenheid nuus en inligting. Die jongste redaksionele kommentaar is getiteld "God is liefde" (sien onder, met dank oorgeneem).
Liefde is die sleutel
KUIERKANS
Klik onder vir meer inligting. 
Kuierkans
Kerkbode
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures.
Die volgende gedrukte Kerkbode verskyn op 23 Junie 2017.

Aroab logo
1. NG Gemeente Aroab: Brugleraar
Die kerkraad van Aroab maak in afhanklikheid aan die Here die pos vir brugleraar bekend aan gepaste gekwalifiseerde predikante of proponente van die NG Kerk. Die pos is vir 'n periode van 18 maande waarna die brugleraar in samewerking met die konsulent die gemeente help om 'n leraar op kontrakbasis te beroep. Reageer voor of op 31 Julie 2017. Hier is meer inligting.
Badisa-logo
2. Badisa
2.1
Koördineerder: Bejaardesorg
(Standplaas Bellville)
Lees hier meer oor die vereistes waaraan die aangewese kandidaat moet voldoen, sowel as die verantwoordelikhede wat die pos behels. Aansoeke sluit op 9 Junie.
2.2 Durbanville Kinderhuis: Adminstratiewe Assistent
'n Vakature bestaan vir 'n adminstratiewe assistent (junior posisie). Die  datum waarop aansoeke sluit, is 23 Junie. Kontak Louise Coetzee met navrae by 021 975 6822 tydens kantoorure en lees meer hier.

Logo
3. NG Gemeente Durbanville
Deeltydse pos: Klankoperateur

Hierdie pos se werksure val hoofsaaklik na-ure en oor naweke. Lees hier meer oor die eienskappe van die geskikte kandidaat. Aansoeke sluit 2 Junie. Vir navrae, kontak Jackie Pretorius by  jackie@durbanvillegemeente.co.za .
Ankia
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Ankia du Plooÿ
Augustinus het op 'n keer gesê: "Getuig en indien nodig – gebruik woorde".  Met Pinksterfees vier ons dit dat die belofte van Jesus waar geword het: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees…".  Ek dink nogal die laaste tyd baie aan hierdie "getuies-wees". Om getuies te wees gaan nie net daaroor dat ons vertel  van God nie, maar ons lewer ook getuienis deur die manier waarop ons met die skepping omgaan.  Ons glo mos dat die sturende God die hele skepping insluit by God se verlossingswerk en dat ons, as kerk, die voorreg het en ingenooi word om saam met God op weg te wees na die nuwe hemel en aarde. Daarom: mag ons nie net in kerke opstaan en getuig nie, maar mag ons ook in die sugtende skepping aansluit by God wat besig is om alles nuut te maak.    
***
Ankia du Plooÿ is tans die uitvoerende bestuurder van die Vrouebediening: Wes-Kaapland en doen ook navorsingswerk by die Eenheid vir Innovasie en Transformasie, Ekklesia, op Stellenbosch. Kontak haar by ngkvroue@sun.ac.za.
God se somer
Vriendelike groete.

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.