Lees deur internet, klik hier >>
2 Julie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Spesiale boodskap 
In hierdie tyd van ontwrigting het ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland, 'n spesiale boodskap van bemoediging en ondersteuning vir dominees en gemeentes. In die onderstaande video vertel hy meer van die verskillende ondersteuningstelsels wat binne die sinodale struktuur beskikbaar is en moedig mense aan om hulp te vra waar nodig.
Aangepaste Vlak 4-regulasies 
President Cyril Ramaphosa het na aanleiding van die derde vlaag COVID-infeksies aangepaste Vlak 4-inperkings aangekondig. Lees die volledige maatreëls soos gepubliseer in die Staatskoerant hier. Hiermee van die belangrikste veranderinge wat sedert Maandag 28 Junie van krag is: 
  • Die aandklokreël geld tussen saans om 21:00 en soggens om 04:00. 
  • Restaurante moet saans om 20:00 (agt uur) sluit! Hulle mag slegs wegneemetes voorsien en aflewerings doen.
  • GEEN godsdienstige, politieke, sosiale of kulturele byeenkomste mag binnenshuis of in die buitelug gehou word nie.
  • Geen alkohol mag verkoop word nie.
  • Maskers moet ten alle tye in die openbaar gedra word.  Dit is steeds ‘n misdaad om sonder ’n masker in die openbaar te verskyn.
  • Begrafnisse is wettig, maar nagwake voor en byeenkomste na ’n begrafnis bly steeds verbode. Die beperking vir begrafnisse (predikant, koster, orrelis en begrafnisondernemer ingesluit!) is net 50 mense en dit mag ’n maksimum van twee ure duur.
  • Huwelike:  Die afleiding is dat huwelike uitgestel moet word, want geen godsdienstige, politieke, sosiale of kulturele byeenkomste mag binnenshuis of in die buitelug gehou word nie.
  • Skole is gesluit vanaf Woensdag 30 Junie 2021.
VrydagNuus en die POPIA-wetgewing 
Ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) moet ons lesers in kennisgestel word dat ons hulle kontakbesonderhede in ons databasis het. Hiermee hou ons jou op hoogte van nuus en gebeure van die Sinode van Wes-Kaapland. Jou privaatheid word ten alle tye beskerm. Die data (jou naam en e-posadres) sal nie versprei word nie en dit word veilig bewaar. Indien jy nie meer hierdie elektroniese kommunikasie wil ontvang nie, kan jy enige tyd uitteken deur op TEKEN UIT onderaan die nuusbrief te klik.
Vir meer inligting, bestudeer gerus die NG Kerk in SA se POPIA Privaatheidsbeleid en POPIA Privaatheidsverklaring.
Selfoontoepassing nou in Google Play
Die NG Kerk App is nou in die Google Play-winkel beskikbaar. Hierdie selfoontoepassing bied aan individuele gemeentes 'n sakpas platform om gemeente-spesifieke inligting met lidmate te deel, terwyl die verskillende diensgroepe van die sinode ook hulle werksaamhede kan blootstel. Elke gemeente kan video's en klankgrepe van eredienste, inligting oor Bybelstudies, kleingroepe en ander aktiwiteite nou fisies in die palm van lidmate se hand plaas. Daar is ook 'n handige kalender. Die eerste gemeentes is reeds aanlyn en die volgende groep word in Julie opgelei.
As jou gemeente sou belangstel om hierdie tegnologie te gebruik, stuur asseblief 'n e-pos aan Ronelda Visser by kommunikasie@kaapkerk.co.za. 
Nuwe predikant in sinodale diens
Die NG Kerk in SA (Sinode van Wes-Kaapland) is dankbaar om bekend te maak dat dr. Daniël de Wet van die NG Gemeente Stellenbosch-Wes die benoeming as PSD: Missionale Begeleiding en Afrika Ekumene aanvaar het. Hy sal van 1 September die posisie vul.
Daniël is in Tulbagh gebore en het teologie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy is in 1998 as predikant bevestig en het gemeentes in die Paarl, Durbanville, Amsterdam (Nederland) en Knysna bedien. Terwyl hy in Nederland was, het hy ook deeltyds Ou Testament teologie doseer by die Tyndale teologiese seminarium in Badhoevedorp, naby Amsterdam.
Wenners van danskompetisie aangewys
Badisa het die week die wenners van hulle Go Turquoise danskompetisie aangewys. Baie geluk aan die wenspan van Huis Aristea in Bellville en die ander dertien groepe wat ingeskryf het. Meer as 5000 mense het die inskrywings op Facebook beskou. Huis De Kuilen in Kuilsrivier was tweede met Wolseley Dienssentrum derde en Huis Andries Hamman in die vierde plek. Badisa bedank graag ArjoHuntleigh en die ander borge wat die kompetisie moontlik gemaak het. Kyk gerus na die video hieronder.
Piketberg praat saam oor die toekoms
Die versterking van sosiale kohesie bly steeds hoog op die Sentrum vir Publieke Getuienis se lys. Daarom het hulle in Mei die “onafgehandelde familiegesprek” tussen die VGK Gemeente Piketberg en die NG Gemeente Piketberg gefasiliteer. ‘n Opvolggesprek het op 23 Junie plaasgevind en na ‘n heerlike ete saam het die verteenwoordigers in kleingroepe hulle seer gedeel.
“Die VGK-groep deel dat die seer van mense wat verskuif is en hulle huise verloor het, diep lê. Die gevoel van miskenning, om op neergekyk te word en wedersydse wantroue was veral oplettend. Mense in die NG-groep deel dat hulle voel asof hulle nooit los kan kom van hul skuld nie.” 
Daarna het almal weer saamgesels en toe gepraat oor wedersydse waardering en behoeftes. Mense wil graag nader aan mekaar beweeg!
Die hoogtepunt vir Braam Hanekom was toe almal saam met die Here gepraat het. “Ons het in die groot ou saal saamgebid. Wens julle kon die gebede hoor! Ons is verbind om in die lente weer bymekaar te kom. Mag die Gees intussen die denke van alle mense op die dorp verander.” 
Foto van links na regs: Gert Coetzee, Jan Truter, Willie Ficks, Walter Philander, Pierre Joubert, CP Smit. 
PREDIKANTENUUS
Goodwoodpark groet Swanepoels
Na tien jaar by NG Gemeente Goodwoodpark het Cobus Swanepoel verlede week afskeid geneem van die gemeente waar hy as 'n proponent begin werk het. Weens COVID-19 is  die afskeidsdiens op 27 Junie deur 'n klein aantal mense bygewoon en deur middel van 'n video-opname met die gemeente gedeel.
Fanie Marais skryf: "Cobus het op die voetspoor van Jesus die gemeente tot die uiterste liefgehad. In die COVID-tyd het hy konsekwent die gemeente aangemoedig om vreesloos versigtig te wees by byeenkomste, te isoleer, maskers te dra en alle regulasies na te kom as uitvoering van praktiese naasteliefde. Goodwoodpark wens vir Cobus, sy vrou Emene en dogters Clara en Jana alle voorspoed toe met die nuwe seisoen in hul lewens."
VGK Vredenburg verwelkom Ntshongwana
Meer as 50% van ons VGK Streeksinode Kaapland-gemeentes moet sonder 'n predikant funksioneer; iets wat vir die sinode 'n reuse-uitdaging is.
Die gesamentlike VG- en NG Kerk-diensgroep, Getuienisaksie, het in die lig hiervan sedert 2018 saam met die ander VGK-bedieninge ’n fonds ter ondersteuning van gemeentes begin om dit vir gemeentes moontlik te help maak om proponente te kan beroep. Dit behels ‘n bedrag van R5 000 per maand vir twaalf maande wat op aansoek van gemeentes beskikbaar gestel kan word. 

Die afgelope twee jaar is daar byvoorbeeld in die voormalige Transkei vier nuwe predikante beroep. Hulle is Wiseman Calvary (Mthatha), Thanduxolo Mountain (Canzibe), Thembinkosi Mene (Rietvlei) en Zukile Bloro (Lusiksiki en Bambisana).

Die jongste goeie nuus wat dit betref, is dat die VGK Vredenburg (Xhosa-lidmate) vir proponent Msawenkosi (Musa) Ntshongwana, ‘n boorling van Lusikisiki in die voormalige Transkei, vanaf 1 Junie tydelik as hulpprediker vir ses maande aangestel het. Die ringskommissie het sy seën daarop geplaas en onderneem om met die gemeente saam te werk sodat dit finansieel in staat kan wees om hom moontlik permanent as tentmaker aan te stel. Lees hier meer van proponent Ntshongwana.
GEMEENTENUUS
Gratis kategesemateriaal beskikbaar
La Rochelle-gemeente het 'n volledige Modcast kategese-stel van graad 1 tot 11 beskikbaar. Dit sluit handige leiergidse en aktiwiteitsboeke in. 
As jy van hierdie aanbod gebruik wil maak, kontak Maretha van Tonder by nglarochelle@gmail.com of 083 222 6018.
EKOLOGIE
Plastiekvrye Julie
Plastiekvrye Julie is 'n globale beweging wat poog om miljoene mense betrokke te kry by die voorkoming en bekamping van plastiekbesoedeling en so skoner strate, oseane en gemeenskappe te skep. Die veldtog stel hulpbronne beskikbaar en verskaf idees om jou te help om deel van die wêreldwye poging te raak. Neem deel aan die uitdaging om enkelgebruik-plastiek te verminder. Kyk hoe slegs een klein verandering 'n reuse-impak kan maak. Lees hier meer oor die beweging.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Betekenisvolle veroudering
Petrus Moolman gesels hier oor ’n nuwe benadering ten opsigte van senior volwasse bediening in die gemeente. Wees deel van die Zoom-bespreking op Dinsdag 20 Julie wanneer Petrus sy boek Meaningful Ageing bespreek en kyk hoe die bediening aan en behoeftes van senior lidmate verander het. Registreer hier voor 9 Julie.
Dui tydens registrasie aan of jy verkies om die boek by Communitas (Wes-Kaap) of by Petrus Moolman (Gauteng) af te haal. Daar is ook 'n koerieropsie teen addisionele koste beskikbaar.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Ons susterskerk in Lesotho
Vir dié van ons wat al Max du Preez se verhale oor die groot pre-koloniale opperhoof en wysgeer Mohlomi (wat hy ook die Sokrates van Afrika noem) gelees het, sal dit baie interessant vind dat een van sy studente hoofman Moshoeshoe was. Moshoeshoe was later een van die mees suksesvolle en innoverende leiers wat Afrika ooit opgelewer het. 
Hy het ook ’n onontbeerlike rol gespeel in die vestiging van ons susterskerk in Lesotho: “Moshoeshoe 1 heard of their (Paris Evangelical Mission Society missionaries) arrival and sent a Griqua hunter Adam Krotz as an emissary to Adam Kok, the Griqua leader at Philippolis, expressing his desire to also obtain the services of missionaries... This mission station at Thaba Bosiu grew rapidly. King Moshoeshoe also attended the worship services and an intimate relationship of mutual trust developed between him and the Paris Evangelical Mission Society (P.E.M.S.) missionaries.” Lees gerus meer van hierdie susterskerk van ons in Lesotho, die Lesotho Evangelical Church in Southern Africa met wie Getuienisaksie steeds sterk bande het.    
Foto onder: Die jaarlikse Pilgrimage of Justice and Peace wat ‘n week voor die Leeto la Thapelo (Journey of Prayer) gevier word.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Bestuursposte, Skiereiland en Boland
Badisa beskik tans oor twee bestuurdersposte in die Skiereiland en Boland area. Die suksesvolle kandidaat benodig minstens vyf jaar toepaslike ervaring binne die kinder- en gesinsorgveld. Verdere vereistes sluit in uitstekende fasiliteringsvaardighede, die vermoë om op alle vlakke te kommunikeer, konflikhantering, strategiese denke en rekenaarvaardighede. Registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe is verpligtend. Aansoeke sluit 9 Julie. Klik hier vir meer inligting.  
Geregistreerde verpleegkundige, Ladismith
Huis Izak van Tonder in Ladismith wag aansoeke in vir hierdie betrekking. Die aangewese kandidaat sal volle verantwoordelikheid hê vir die versorgingseenheid. Goeie kennis van bejaardes, die vermoë om goeie menseverhoudinge te handhaaf en uitmuntende kommunikasievaardighede is van die vereistes. Registrasie by SARV is ook noodsaaklik. Aansoeke sluit 15 Julie.  Lees die volle vakature hier
Geregistreerde en ingeskrewe verpleegkundiges, Parow-Vallei
Huis Martina in Parowvallei adverteer tans die twee bogenoemde poste. Die aangewese kandidaat moet oor die volgende beskik: goeie kennis van bejaardes en persone met gestremdhede se fisiese, psigiese en liggaamlike gesondheidstoestande, sterk leierseienskappe en ‘n bestuurslisensie. Registrasie by SARV as Professionele Verpleegkundige is ‘n moet. Aansoeke vir beide poste sluit 10 Julie. Lees meer hier.  
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die Junie-uitgawe van die VGK Streeksinode Kaapland.
PUBLIKASIES
CLF hou winteruitverkoping
Die Christelike Lektuurfonds se winteruitverkoping begin Donderdag, 1 Julie 2021 en behels ’n 30% afslag op alle kerklike benodighede, Bybels en liedboeke.
Die promosionele kode CMBH21 moet vir alle aanlyn-aankope gebruik word. Bestellings kan ook per e-pos na order@clf.co.za gestuur word. Die uitverkoping duur tot 31 Julie. Let asseblief daarop dat Kinderbybels nie ingesluit is nie.
Kinderpret met Bybel-Media
Die skoolvakansie is op ons en Bybel-Media het gesorg vir talle opsies om die kleinspan skermloos bedrywig te hou. Kyk gerus hier na hulle versameling prettige aktiwiteitsboeke, Aktiwiteitsbybels en storieboeke.
Daar is inkleurboeke wat hulle sal help om versies te onthou en pretboeke met speletjies om kritiese denke en kreatiewe probleemoplossing te ontwikkel. Vindingryke vingerverfboeke neem hulle op avonture met bekende Bybelstories en die plakkerboeke sal hulle vir ure besig hou.
Klik hier vir Bybel-Media se aanlynwinkel.
ALGEMEEN
Baanbrekerswerk verryk lewens van Dowes
Die fokus van die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) se Geïntegreerde Steundienste (ISS) afdeling, is om toeganklikheid te bevorder deur multi-dissiplinêre steundienste aan Dowes te lewer. “Geen bron van inligting en kennis moet ontoeganklik wees vir Dowes en persone met gehoorverlies nie,” meld ‘n onlangse verklaring.
NID ISS poog om hindernisse af te breek en te help om die uitdagings te oorkom wat Dowes in hul alledaagse lewens ervaar. Die fokus is om Dowes in staat te stel om te doen wat hulle kan, so goed soos hulle kan, en hulle te help deur ondersteuning te bied waar nodig.
In die nege jaar van hulle bestaan het hierdie dinamiese, multi-dissiplinêre span baanbrekerswerk gedoen ten opsigte van die ondersteuning, opleiding en ontwikkeling van persone met gehoorverlies. Kommunikasie-hindernisse word op talle klein en groot maniere uit die weg geruim. Binne die diversiteit van gehoorverlies en met die jongste tegnologie word daar voortdurend maniere ondersoek en gevind om inligting toeganklik en Doof-vriendelik te maak. Lees gerus hier meer.
Is jy brei-willig?
Dis wintertyd in die Kaap en Innovation for the Blind het 'n vernuftige projek geloods om fondse in te samel en ook hulle inwoners, wat tans in isolasie in die tehuise is, besig te hou. 
Raak betrokke by hulle BREI-willigheidsprojek deur wol en afvalstukkies te skenk, maak 'n donasie waarmee hulle wol kan aankoop of koop 'n bolletjie wol teen R30 by The Wool Spot in Worcester, wat dit aan siggestremde inwoners sal skenk.
Die inwoners brei en hekel dan ‘n verskeidenheid items wat weer aan behoeftige persone in die gemeenskap geskenk word. Vir meer inligting, kontak 023 347 2745. 
Raakgesien: Oscar-benoeming vir fliek oor Doof-Blinde
Die kortfilm Feeling through is onlangs benoem vir 'n Oscar-toekenning. Skrywer Doug Roland vertel hoe 'n laat-nag ontmoeting met 'n Doof-Blinde man sy lewe ingrypend verander het. Roland het ook die eerste regisseur geword om 'n Doof-Blinde persoon in die rolverdeling te gebruik. In die dokumentêr vertel Roland meer van die uitdagings en oorwinnings van hierdie aangrypende storie. Die aktrise Marlee Matlin, wat in 1986 die eerste (en tot dusver enigste) Dowe geword het om 'n Oscar in te palm vir haar rol in die fliek Children of a Lesser God, is die uitvoerende regisseur. 
Innovation for the Blind op die kassie!
Dankie Lottoland is 'n program op kykNET waar Suid Afrikaners se wense verwesenlik en behoeftes gehoor word.
Die doel van Dankie Lottoland is om individue en liefdadigheidsorganisasies, soos Innovation for the Blind, te identifiseer sodat Lottoland in Suid Afrika kan ingryp en 'n daadwerklike verskil kan maak met blywende impak.

Jak de Priester kuier saam met Maryke Haywood van Dankie Lottoland in Worcester om van die besonderse inwoners van Innovation te ontmoet. Kyk gerus Saterdag 3 Julie om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) saam om te sien watter verskil die span in die lewens van persone met visuele gestremdhede kon maak. Kyk hier na die voorskou van die episode.   
KUIERKANSE
TEN LAASTE
Volgende week (9 Julie) verskyn ons laaste uitgawe vir hierdie kwartaal - al het die Departement van Onderwys ons effens voorgespring met die sluit van skole. Ons wens al ons leerders en onderwyspersoneel 'n goeie ruskans toe. Ons dra hierdie weergawe van Hillsong se What a beautiful name spesiaal aan julle op.
Indien julle op reis gaan na ander bestemmings, ry veilig en wees asseblief verantwoordelik deur streng by die COVID-maatreëls te hou.
Die POPIA-wetgewing rakende die beskerming van persoonlike inligting het vandeesweek in werking getree. Let daarop dat VrydagNuus net aan intekenare gestuur word. Indien jy die nuusbrief nie meer wil ontvang nie, is daar 'n opsie om uit te teken (Teken Uit) onderaan hierdie e-pos. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.