Lees deur internet, klik hier >>
19 Junie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Retraite in Wellington
Predikantebegeleiding nooi alle dominees vir ‘n COVID-19 midweek retraite gedurende 2020. Begeleidingsmateriaal word voorsien en dominees verdien VBO punte vir hulle bywoning van die retraite. Theunis Botha skryf: "Ek is wel bewus van die impak wat hierdie grendeltyd op jou, jou bediening en jou persoonlike lewe het. Daarom bied ons jou die geleentheid om deel te word van die weekritme by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington. Kom woon ’n driedag-retraite by, skakel af en kom ontvang rus uit God se hand. Jy kan self die datum bepaal." Lees gerus hier verder. 
Vir meer inligting of om jou retraite te bespreek, kontak vir Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za.
Wat beteken dit om missionaal kerk te wees?
Op Donderdagaand 11 Junie is daar 'n belangrike Zoom-gesprek gehou oor wat dit beteken om missionaal kerk te wees, veral binne VGK-gemeentes. Die gesprek is gefasiliteer deur Stephen Pedro (PSD Gemeentegetuienis).
Gasspreker Tjeert de Boer, missioloog, akademikus en ook verbonde aan die Protestantse Kerk in Nederland, se bydrae was van groot belang.
Lees meer hier
Briewe van Andrew Murray aan sy kinders
Die videoreeks Celebration of Family: Letters to his children fokus op Andrew Murray se briefwisseling met sy kinders.  Ons sien hoe Andrew sy kinders bemoedig en op God rig tydens voorspoed, siekte, dood, finansiële swaarkry, huweliksprobleme en oorlog. In episode agt en nege ontmoet ons Haldane en John, onderskeidelik 'n luitenant en kapelaan tydens die Tweede Wêreldoorlog. Klik hier om die reeks te volg. Op die foto (onder) word John Neethling Murray gedurende die Anglo-Boereoorlog tydens 'n militêre parade gevonnis om as krygsgevangene na Indië te gaan. Die historiese aanname dat hy tereggestel sou word, is deur P Moolman se navorsing foutief bewys.
Nkhoma Hospitaal in Malawi gereed vir COVID-19
Anna Slingerland, projek- en ontwikkelingsbestuurder van die hospitaal op Nkhoma in Malawi, laat weet hoe hulle die hospitaal en personeel help voorberei het om op ‘n gereedheidsgrondslag te wees in afwagting op COVID-19 – geen maklike taak nie. Lees hier van die uitdagings en hulp wat uit allerhande oorde ontvang is om die hospitaal in hierdie tyd by te staan. 
Anna Slingerland (regs) besig om gesigsmaskers met haar kollegas Evelyn en Esther in hul kantoor te toets. 
Hoop en Versoening Trust, Diaconia en Groen Span vat hande in groentesaadprojek
Daar is tans wêreldwyd 'n nuwe bewuswording rondom die kweek van groente in kleiner tuine. COVID-19 het verder kom onderstreep hoe belangrik volhoubare voedselvoorsiening is.
Daarom het die Hoop en Versoening Trust, Diaconia en die Groen Span (ekologie) onlangs  saamgespan om die GROEI-projek van stapel te stuur. Mense regoor die ekonomiese spektrum word aangemoedig om tuine te begin by hulle huise, kerke en skole.
As jy wil deel word van hierdie projek, kan jy saad by die GROEI-projek aankoop teen ‘n aansienlike gesubsidieerde prys. Die saad word gekry teen spesiale pryse by leweransiers en die projek het ook skenkings hiervoor ontvang. Jy kan ook aansoek doen vir 'n skenking of 'n finansiële bydrae maak vir die projek. 
'n Verskeidenheid van produkte is beskikbaar. Hulle versprei tans wintergewasse wat maklik groei in verskillende hoeveelhede (vir van so klein soos 'n deur tot 150 vierkante meter). Binne die volgende week sal boksies beskikbaar wees teen R250 (5 wintergewasse, 5 somergewasse, inligting en bemesting). Dit kan ‘n gesin die hele jaar van groente voorsien. GROEI sou ook in die geval kon subsidieer en/of skenk.
Om ‘n suksesvolle groenteboer te wees het jy saad, water, vrugbare grond, passie en geduld nodig. GROEI verskaf die saad. Water word in seisoen deur die Vader verskaf, maar soms is jy ook gelukkig met ‘n boorgat, rivier of selfs 'n watertenk. Verstommend wat jy met laasgenoemde kan doen.
Die vrugbare grond word verkry deur `n gat so groot soos ‘n deur in die grond te maak en dan al jou organiese kombuisafval daarin te gooi. Na ‘n maand of wat word dit met grond bedek en dan saai jy daarop. Dit werk soos ‘n bom. Organiese of anorganiese kunsmis is ook ‘n moontlikheid.
Hoekom is die projek so belangrik? Dit bring ons nader aan God en leer ons afhanklikheid van Hom. Dit is eintlik ‘n geestelike oefening. Dit bring ons nader aan die grond. Dit leer ons dat kos eintlik nie uit ‘n winkel kom nie. Dit is groen en volhoubaar. Dit is gesond en hou mense sinvol besig. Ook bejaardes.
Vir enige navrae, kontak gerus vir: 
Braam Hanekom of Annelie Brits (spg@kaapkerk.co.za)

Sean Esterhuizen (sean@kaapkerk.co.za)
Nioma Venter (nioma@kaapkerk.co.za)
Dewald Hoffman (ds.dewaldh@gmail.com)
Met dank ontvang van Sentrum vir Publieke Getuienis.
GEMEENTENUUS
Graaff-Reinet maak planne vir Vadersdag
Vadersdag is om die draai en NG Gemeente Graaff-Reinet wil graag toesien dat elke pa op hierdie spesiale dag bederf word! Daarom het hulle 'n verskeidenheid bederfkoepons gemaak waarvan jy kan kies en vir jou pa kan aanstuur op Whatsapp, Facebook of selfs uitdruk en in 'n koevertjie gee op Vadersdag!
Kyk op die foto onder vir 'n voorbeel van so 'n bederfkoepon. Besoek gerus hulle Facebook-blad hier om die ander koepons te sien. Deel gerus hierdie Vadersdagkoepons ook met jou vriende en familie en help so om elke pa hierdie Sondag gewaardeer en geliefd te laat voel! 
Durbanville gespreksgeleentheid
Durbanville-gemeente gesels met Nadine Bowers-Du Toit en Wilhelm Verwoerd oor #BlackLivesMatter. Nadine is verbonde aan die Fakulteit Teologie by Stellenbosch Universiteit. Wilhelm is 'n outeur en werk tans as navorser en fasiliteerder verbonde aan die Historiese Trauma en Transformasie Eenheid, Universiteit van Stellenbosch. Skryf in by ontvangs@durbanvillegemeente.co.za. Stuur ook gerus 'n e-pos as jy 'n spesifieke vraag oor die kwessie het. Die datum en die tyd wanneer die gesprek op YouTube uitgesaai gaan word, sal nog bekend gemaak word. 

Stellenberg blog verenig kerke wêreldwyd 
Dirk Brand van Stellenberg-gemeente het die inisiatief #Connected Church tydens inperking begin om vir kerke regoor die wêreld die geleentheid te skep om op 'n visuele wyse met mekaar te deel hoe die COVID-19-pandemie hulle algemene funksionering beïnvloed het. 
Gemeentes word aangemoedig om foto’s en videos met byskrifte te stuur aan sanel@stellenberg.co.za of dirkjbrand1@gmail.com
Loer gerus hier na die blog met bydraes van onder andere Bavaria in Duitsland en Milan, Italië.
Deurry-kinderkerk in George
Weens die grendeltydperk kon Sondagskool vir die afgelope paar maande nie in persoon plaasvind nie. Daarom het die gemeente van George-Bergsig se kinderkerkleiers ‘n deurry- geleentheid geskep vir die kinders in die gemeente. Meer as vyftig opgewonde kinder-gesiggies het by motorvensters uitgeloer tydens hierdie deurry-kinderkerk. Elke kind het 'n verrassingspakkie gekry waarin 'n resep, aktiwiteite en lekkergoed verpak is. Van die gemeente se baksters het ook saamgespan en smullekker kolwyntjies gemaak wat ook op die dag aan die besoekers versprei is.  
Worcester-Noord hou mini-basaar
Die COVID-19-pandemie het gemeentes geleer om op hulle voete te dink en vinnig dinge op ‘n innoverende manier uit te sorteer. Dus het lidmate by Worcester-Noord nie net met die voorstel van ‘n inrykerkdiens vorendag gekom nie, maar het ook besluit om hulle eerste deurry mini-basaar te hou op 26 Junie 2020. 
Alle COVID-19-veiligheidsmaatreëls en beperkinge sal streng nagekom word om te verseker dat daar geen risiko vir infeksie sal wees nie.
‘n Spyskaart is reeds bekendgemaak en is beskikbaar op hulle Facebook-blad hier. Plaas bestellings voor Dinsdag 23 Junie om 12:00. Stuur 'n Whatsapp met jou naam, van en bestelling na 064 911 5521 of stuur 'n e-pos na worcesternoord@gmail.com. Jy kan ook die kerkkantoor skakel tussen 08:00 en 12:00 op 023 347 2891. 
Ondersteun gerus hierdie geleentheid. Almal is welkom!
Laaiplek stap vir Bybels
Laaiplek-gemeente het besluit om tydens Vlak 4 van die inperking soggens 'n Bybelstap te hou. Hulle het R23 200 ingesamel en met die hulp van Quintus Heine van die Bybelgenootskap altesaam 232 Bybels geborg. Charl van Rensburg skryf: "Die oorbetaling dien as ons gelukwensing met hulle 200ste bestaansjaar en as bewys van ons dankbaarheid dat ons ‘n Bybel kan hê. Ons weet almal kry swaar en almal het dit nie breed in die tye nie en te midde van dit het ons gestap en geborg. Ons is trots op elke lidmaat en dankie vir Quintus vir die goeie motivering."
Sonstraal-gemeente deel sop uit
Verlede Vrydag was sopdag by Sonstaal-gemeente! Op hierdie dag het gemeentelede saamgespan om seker te maak dat elke honger persoon wat kom aanklop het 'n warm ete te midde van die koue weer ontvang het. Die gemeente is dankbaar vir die persone wat op hierdie koue Vrydagoggend hul gevriesde sop by die kerksentrum kom afgee het. Sommige gemeentelede het ook gehelp deur bestanddele vir hierdie projek te skenk.
As jy ook ‘n bydrae wil maak, klik hier om vir die gemeente ‘n e-pos te stuur. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Die aarde behoort aan God
Ons eko-korrespondent David Botha fokus hierdie week op Ps. 24:1 en een van die gebede in die Keltiese Gebedeboek. Hy laat ons stilstaan by die volle implikasie van wat ons belydenis, dat die aarde aan God behoort, beteken en hoe ons ons verantwoordelikheid ten opsigte hiervan moet verstaan. Wat sal moet verander in ons verhouding met die aarde en met dit wat ons “ons s’n” noem? Lees meer hier en dink na oor die uitdagings en implikasies van dié gebed vir ons lewe.
Die kleurvolle wêreld van ‘n kolibrie
‘n Kolibrie sien die wêreld in kleure wat die mens nie eens kan indink nie. "Mense is kleurblind in vergelyking met hierdie voëls," sê Mary Caswell Stoddard, 'n assistent-professor by die Princeton Universiteit se departement van ekologie en evolusionêre biologie. 
Sy verduidelik dat mense drie soorte kleursensitiewe keëls in hul oë het, wat ingestel is op rooi, groen en blou lig, maar ‘n kolibrie het 'n vierde tipe wat sensitief is vir ultravioletlig. Stoddard en haar navorsingspan stel vir die afgelope drie jaar al ondersoek in oor hoe hierdie voëls hul kleurryke wêreld waarneem. Hulle het 'n nuwe veldstelsel op die been gebring om die kleurvisie van dié voëls in 'n natuurlike omgewing te verken.
Die eksperimente het getoon dat kolibries 'n verskeidenheid van kleure kan identifiseer wat die menslike oog nie in staat is om raak te sien nie. 
"Dit was ongelooflik om na te kyk," sê Harold Eyster, 'n student en mede-outeur van die studie. “Die ultraviolet groen lig en gewone groen lig het identies vir ons gelyk, maar die kolibries het die ultraviolet groen lig, wat met suikerwater geassosieer word, korrek gekies." Hulle eksperimente het ons in staat gestel om 'n blik te kry na hoe die wêreld vir 'n kolibrie lyk. 
Klik hier om meer van dié studie te lees. As jy ‘n voëlkenner is, klik hier om jou kennis oor kolibries op die proef te stel. 
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Vir Mans - rus jouself toe om vervuld te leef
Hierdie boek van Bybel-Media skep ’n bewustheid by mense, en nie net mans nie, van die alledaagse en mees algemene lewensuitdagings waarvoor mans te staan kom en probeer hulle toerus met relevante inligting, wat hulle sal help om meer doeltreffende, emosioneel gelukkige en  vervulde lewens te lei.
Die boek, geskryf deur Johan Ferreira, word verdeel in uitdagings met verhoudings en verskillende lewensfases, verslawing, gemoedsprobleme en traumatiese ervarings.
Bestel by Bybel-Media se aanlynwinkel hier.

CLF boeke nou by Van Schaik en Christian Connexion
Die Christelike Lektuurfonds se boeke is nou by 23 Van Schaik boekwinkels landswyd, sowel as by drie Christian Connexion winkels beskikbaar. Besoek gerus jou naaste tak. Die organisasie is in 1957 gestig en ontwikkel en versprei gratis Christelike materiaal. Hulle het ook 'n verskeidenheid van meer as 250 bekostigbare boeke.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Die kat kom weer
Dit is weke se Zoom-vergaderings, WhatsApp-berading en preke via regstreekse Facebook-websendings... Met grendeltyd wat soveel eise ook aan dominees se tegnologiese vermoëns stel, is dit miskien onafwendbaar dat daar iewers ’n glips sou kom. Kyk hier hoe sluip die kat tydens die seën voor die kamera verby.

Meer as 300 by deurry-nagmaal bedien 
“Ons het vir mekaar gesê, dit moenie voel soos ’n worsmasjien nie,” vertel Wimpie Wasserman, predikant by Rant en Dal Prisma. Kyk video hier.
'Die vrae wat Job gevra het, vra ons ook nou' - Piet Naudé
Sowat 716 mense regoor Suid-Afrika en sover as die VSA en Nieu-Seeland het onlangs aanlyn ingeskakel vir ’n digitale leergeleentheid oor hoe die kerk en gelowiges op die nuwe werklikhede wat die Koronavirus-pandemie na vore bring, kan reageer. Lees Jacobie M Helena se verslag

Die fluistering van die Gees
Impulse wat jou meer ekkerig, aggressief, veroordelend, materialisties en selfsugtig maak, kom vanuit jou sondige natuur en versoekings,” skryf Lourens Bosman in sy DINKSTOF-rubriek. Lees dit hier.
Pret vir die kleinspan op koue wintersdae
Bybel-Media het 'n reeks publikasies beskikbaar geskik vir die kleinspan. Daar is verskeie Doen en Leer Bybelverhale, sowel as aktiwiteitsboeke oor die Ou en Nuwe Testament. Vir meer inligting en bestellings, kontak asb. 0860 26 33 42 of bestel@bmedia.co.za. Besoek gerus ook die aanlynwinkel op hulle webblad
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag is Vadersdag in Suid-Afrika en ons maak van hierdie geleentheid gebruik om al die vaderfigure in ons gemeenskappe te bedank vir hulle waardevolle bydraes. Ons bid dat hulle spesifiek in hierdie tyd gelei word om as leiers, beskermers en versorgers op te tree.
Ons refrein bly: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee! (Filippense 4:13)
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.