navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Erediens | Sondag 8 Desember 2024

Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Phililpp Dietmann
Kategesegroepe en kleuterkerk het reeds afgesluit.

Doop vandag
 - Etienne en Aurette Esterhuizen, laat doop vir Zeah Esterhuizen.

 - Matthew en Liezle Mill, laat doop vir Amelia Leonore Mill.

 - Chris en Liandri Theron, laat doop vir Chrisli Theron.

  - Charl en Ernamarie van Wyk, laat doop vir Marli van Wyk.

 - Bert-Louw en Lisa Versfeld, laat doop vir Nina Versfeld.  

Rugsakke vir Klippie-kids


Deur: Brenda Visser
Ons wil namens Annibrand Junior vir elke lidmaat en in besonder die kategeseouers dankie sê vir die ondersteuning wat ons vir die Klippie-kids-projek ontvang het.  Julle bydraes het dit vir ons moontlik gemaak om aan elke graad R-leerder by die Klipheuwel Primêre Skool ’n splinternuwe skooltassie met skryfbehoeftes te oorhandig. Lees meer . . .

Die Kinderkerssangdiens verskaf vermaak aan ’n breë gehoor


Toe Jaco en Almelda Olivier op Sondag 1 Desember die aanlyn stroming van die Kinderkerssangdiens tuis op hulle TV-skerm kyk, het die vertoning ook die gesin se twee katte geboei.  Dié twee viervoetkykers was gefasineer deur die jongspan se uitbeelding van die Kersverhaal.
Ons oggenddienste en Kersdienste word deur die loop van die skoolvakansie aanlyn uitgesaai.  Besoek gerus die gemeente se YouTube-kanaal, of die webwerf om na die eredienste te kyk.

Bybelstudiegroep vir mans - vroeg uit die vere

Die Mansbybelstudiegroep wat elke Donderdagoggend om 06:00 in die kafeteria byeenkom het op Donderdag 5 Desember die jaar se verrigtinge met ’n lekker stewige ontbyt afgesluit.  Stellenberg se Bybelstudiegroep het ook ander mannegroepe van aangrensende gemeentes uitgenooi om die afsluiting en die belangrikste maaltyd van die dag, saam met hulle te geniet.  Die groep se byeenkomste sal weer op Donderdag 16 Januarie 2025 hervat.  Skakel gerus by dié besonderse byeenkomste in.  Jy kan inskakel soos dit jou program pas.  Vir enige verdere navrae kontak gerus vir ds. Johan Visser by johan@stellenberg.co.za.

Bybelstudiegroep vir huiswerkers verf die Kaap rooi

Die Bybelstudiegroep vir huiswerkers het Saterdag 30 November die Kaap behoorlik rooi geverf. Die groep vroue het die jaar se byeenkomste met ’n bootrit in die Kaapse hawe afgesluit. Die groep kom tweeweekliks bymekaar en nooi enige huiswerkers wat in die omgewing woon, of werk om by die groep in te skakel. Kry gerus kontakbesonderhede by die kerkkantoor.

Program tydens die feesgety

Sondag 15 Desember
Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Potgieter
2 Kor. 5:16-21 | Die daad van versoening
Sondag 22 Desember
Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Potgieter
Jesaja 12:1-6  | Drink uit die fontein van redding

Oukersaand 24 Desember
Samesang van Kersliedere 19:00 tot 19:30 in die kerk | Ds. Potgieter

Kersdag 25 Desember
Kersdienste 07:30, 08:30, 09:30 in die kerk en aanlyn | Ds. Potgieter
Lukas 2:1-20 | Wat maak ek met die Kersgety?

Deuroffer: Projekte in Klipheuwel

Sondag 29 Desember
Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Breytenbach
Skrifgedeelte | Lukas 2:41-52

Oujaarsdag 31 Desember

Oujaarsdiens om 19:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Breytenbach

Sondag 5 Januarie
Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Breytenbach
Skrifgedeelte | Jesaja 60:1-6 

Tiendemaandinsameling

Ons is opreg dankbaar teenoor elke lidmaat wat tot vanjaar se tiendemaandinsameling bygedra het.  Lidmate het geleentheid om tot einde Januarie 2025 tot die tiendemaandinsameling by te dra.  Bydraes kan elektronies ( ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005)  of d.m.v. SnapScan (QR-kode onderaan die nuusblad) oorbetaal word.
Verkies tot die kerkraad
Hilde Uys is tot die kerkraad verkies en sal as diaken die voorsitter van die eredienskommissie wees.

Breigroep

Die groep ontmoet weer op Maandag 13 Januarie 2025 om 09:30 in die markplein.
Die vakansie wink 

Kantoorpersoneel en leraars het Donderdag 5 Desember die kantoordeur vir ’n rukkie toegetrek en die jaar gepas aan Stellenberg-gemeente se styl met iets te ete en ’n lekker saamkuier afgesluit.  Ons kyk met dankbaarheid terug op ’n goeie jaar van hard werk, saamwerk en spanwerk.   

Neem asseblief kennis dat die kerkkantoor vanaf 23 Desember 2024 tot 3 Januarie 2025 gesluit sal wees.  Kontak gerus die leraar aan diens in geval van nood.  Ds. René Potgieter is tot 25 Desember aan diens en vanaf 26 Desember is ds. Marius Breytenbach aan diens.

Maria Eatery

Neem asseblief kennis dat Maria Eatery vanaf  24 Desember 2024 tot  6 Januarie 2025 gesluit sal wees.

Gemeente-almanak  

Die nuwe gemeente-almanak vir 2025 is in die voorportaal van die kerk beskikbaar.  Neem asseblief slegs een per huishouding wanneer jy dié eredienste bywoon.  
Jonathan Mitchell, voorsitter van die kommunikasiekommissie, het ’n pragtige agterblad wat die gees van Stellenberg-gemeente visueel uitbeeld, vir die almanak ontwerp.
Bo en behalwe die gedrukte kalenders is daar ook ’n aanlyn almanak op die gemeente se werbwerf beskikbaar.  Klik gerus HIER om daarna te kyk.  Die aanlyn almanak bevat meer besonderhede oor gebeure en sal ook gereeld opgedateer word.  Lidmate word ook uitgenooi om op die Google-kalender te registreer indien jy die kalender aan jou persoonlike dagboek wil koppel, of aan gemeenteaktiwiteite herinner wil word.  

Kategeseregistrasie 2025

Kategeseregistrasie vir 2025 is nou oop.  Klik op dié skakel om aanlyn te registreer.  Inskrywingsgeld is R200 per kind en betaalbaar saam met die inskrywing. Die inskrywingsgeld word gebruik om materiaalkoste te dek.  Neem asseblief kennis dat ons versoek dat almal weer registreer vir kategese, al was jy voorheen geregistreer.  Ons wil graag weet vir hoeveel kinders ons per graadgroep moet voorberei. 

Graad 8-kamp | 10 tot 12 Januarie 2025

Stellenberg-gemeente, in vennootskap met Hoërskool Stellenberg, bied aan: Into The Unknown, 'n kamp waar ons jou gaan help om ’n gemaklike oorgang na die onbekende van hoërskool te maak.

Bybelstudiegroep vir vroue groet mekaar tot volgende jaar

Die Vrouebybelstudiegroep ontmoet elke Maandagoggend om 10:00 in die kafeteria.  Sluit gerus in 2025 by dié groep aan. Jy kan die geleenthede bywoon soos dit jou pas. Kontak die kerkkantoor vir meer besonderhede oor die groep se werksaamhede.

Vroue-retraite

Skryf die datum vir 2025 se vroue-retraite nou reeds in jou dagboek.

Ons gaan vanaf 14 tot 16 Februarie 2025 ’n naweek by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum deurbring.  Die koste sal R1 200 per persoon beloop.  Bespreek jou plek by Charlotte, ontvangs@stellenberg.co.za.


Stellenberg-sokkies – die ideale Kersgeskenk

Ons nooi alle drawwers, stappers, tuiniers en tekkieliefhebbers om ’n paar Versus-sokkies met die gemeente-embleem op, aan te skaf.  Sokkies in nommer 4 tot 7 en 8 tot 12 is teen slegs R150 per paar by die kerkkantoor te koop.  Kaartfasiliteite is beskikbaar.

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

In die omgewing . . .

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .
- Inslaapwerk vir huiswerker: Yolanda Olyn ’n baie betroubare huiswerker benodig inslaapwerk.  Sy kan in Januarie 2025 begin werk.  Kontak haar by 082 085 4498.
- Verblyf gesoek: Ian Coetzé beoog om in 2025 ’n apteker-internskap by Dis-Chem- apteek, Okavango Crossing, te doen. Hy is van Langebaan en op soek na verblyf in ’n tuinwoonstel, teen ’n billike tarief in die omliggende omgewing.  Hy volg ’n netjiese, skoon en rustige leefstyl, is ’n nie-roker en nie-drinker en respekteer ander se eiendom. Kontak asseblief vir Ian by 072 592 1183.

- Geregistreerde verpleegkundige word by Edelweiss ACVV Dienstak, ’n residensiële fasiliteit vir ouer persone, benodig.   Aansoeke word ingewag vir ’n geregistreerde suster/stafverpleegster om permanent nagdiens te doen in die versorgingseenheid (ag nagte per maand). Rig CV’s  aan edelweisshoof@acvv.org.za.  Sluitingsdatum : 31 Desember 2024 
- Matskoonmaakdiens: Kontak Leon by 082 448 2438 vir ’n gratis kwotasie.

-Ateljee (Studio) 6 x 5.5 m2 te huur:  Maandag - Vrydag (Dinsdag- en Woensdagoggende 07:30 - 10:30 nie beskikbaar nie). Geskik vir pilates-, dans-, jogaklasse, of menige ander vorme/tipe van klasse Geleë naby Eversdal Laerskool. Kontak Aldea Anker by 083 446 0906 of aldeaanker@gmail.com.

- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486/ 079 590 1070.
Subscribe to our email list.