STELLENBERGER
Mei 2020

Pinkster 2020

’n Geloof wat van die onbekende sin maak
deur: Ds. Marius Breytenbach
Na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag lewer Petrus in Handelinge 2 ’n toespraak waarin hy met gelowiges oor die betekenis van Jesus se opstanding praat. Daarna vra die mense toe vir hom en die ander dissipels: “Wat moet ons doen, broers?” (Handelinge 2:37) In die daaropvolgende driehonderd jaar ontstaan ’n ryke verskeidenheid geloofsgemeenskappe regoor die antieke wêreld en in 325 n.C. bely hulle almal saam hul eenvormige geloof in een God ( die geloofsbelydenis van Nicea). Hierdie belydenis vertel die indrukwekkende verhaal van hoe God se Gees geloofsgemeenskappe telkens in veranderende en uitdagende omstandighede geïnspireer het om steeds sinvol te leef.

Nou, in Pinkstertyd  2020, bevind ons ons in soortgelyke omstandighede as die samelewing waarna in Handelinge verwys word en moet ons opnuut weer vir die Heilige Gees vra: Wat moet ons nou in hierdie unieke omstandighede doen? Lees meer . . .

My storie . . .

deur: Karen Cilliers
Ek glo dat ek een van die gelukkigste mense op aarde is.  Ek het grootgeword in ’n huis waar my ouers ons vier kinders met baie liefde grootgemaak het en vir ons wonderlike geleenthede gebied het. 

Ons was ’n baie sportiewe gesin en al vier kinders het provinsiale kleure in een of ander sportsoort verwerf.  Ek en my suster beide in netbal.  Ons hele gesin het ook graag tennis gespeel. Ek het tot in my dertigs netbal en aksienetbal gespeel en afgerig.  Enige sportaktiwiteit was altyd vir my lekker. 

Ek het my man, Nickey, tydens ons studentejare op Stellenbosch ontmoet en ons is in 1988 getroud.  Vir die eerste paar jaar na ons troue het ek nog ernstig netbal gespeel en ons eersteling, Nicolaas, is eers in 1994 gebore.  Kort daarna het Charl sy opwagting gemaak en met Henri se aankoms in 1998, was ons voltallig.  In 1999, toe Henri een jaar oud was, is ek met die sogenaamde oumenssiekte, Parkinson’s, gediagnoseer.  Lees meer . . .

Op die foto is die hele Cilliers-gesin met van links Charl, Henri, skoondogter, Inari, Nicolaas, Karen en Nickey.

Die kerk moet dringend aanpas by die Covid-19- samelewing

Deur: Ds. Callie Visagie
Die ongekende ontwrigting wat die koronapandemie op byna elke vlak van die samelewing veroorsaak, impliseer dat ons voorwaar sal kan praat, nie net van n.C.  as aanduiding van na Christus nie, maar ook v.C. en n.C. met verwysing na vóór die Covid-19-pandemie en ná die Covid-19-pandemie.

In ons gemeentebelydenis spreek ons die wyse waarop ons wil leef, uit: Nader aan God, nader aan mekaar, om voortdurend te vernuwe en ’n verskil in die wêreld te maak.   In ’n onlangse artikel deur Eben Human op Netwerk24, verwys hy na die aanpasbaarheid van verskillende spesies oor lang tydperke heen en spesifiek na die luiperd wat ’n voorbeeld is van die dier wat dit waarskynlik die beste reggekry het.  Afhangende van die natuurlike omgewing en die area tot hulle beskikking vir jag, pas hierdie katsoort hom aan.  In die Krugerwildtuin is mannetjies se gewig gemiddeld 58 kg teenoor die 35 kg van mannetjies in die Wes-Kaap.   Eersgenoemde se jaggebied is 25 - 50 vierkante kilometer groot, teenoor dié in die Sederberge se 200 - 1 000 vierkante kilometer. In Indië het daar mettertyd ’n swart mutasie in die velkleur gevestig, wat die luiperd in die skadu kamoefleer en hom toelaat om meer suksesvol te jag.  Lees meer . . .

Agter die skerms tydens eredienste


Gavin Watson is Stellenberg-gemeente se voltydse klankman.  Hy was voor die grendeltyd Sondae  tydens die oggend- en jeugdiens vir die klank verantwoordelik en is die man wat weet waar al die kabels ingeprop moet word sodat elke lidmaat in die kerk die dominees, die kitaar, die orrel en die sangers kan hoor.  Met die skielike wegval van eredienste op Sondae as gevolg van die Covid-19-pandemie, moes baie aanpassings gemaak word, maar Gavin is steeds op sy pos agter die skerms en betrokke by die opname en redigering van ons eredienste in nuwe formaat. 
“Ek het ongeveer ag jaar gelede by die gemeente betrokke geraak,” vertel Gavin.  “Dit het toevallig gebeur toe die jeugband, Plofstof, een aand ’n lofprysingsessie by Stellenberg Hoërskool, waar ek toe ’n leerling was, aangebied het.  Ek was deel van die skool se tegniese span wat die klank, multimedia en beligting moes hanteer.  Die leier van die jeugband het my ontmoet en gevra of ek hulle nie op ’n meer gereelde basis met klank tydens die jeugdiens wil help nie en hier is ek steeds – ag jaar later.  Lees meer . . . 

Stellenbergers maak nuwe planne tydens die inperking

’n Omgeegroep ontmoet virtueel

Jan Dawid Luttig se omgeegroep, bestaande uit ses gesinne, het in die verlede tweeweekliks op Sondagmiddae bymekaargekom.  Die byeenkomste het gewoonlik tussen die groeplede se huise geroteer.  Sedert die inperking ontmoet die groep stééds tweeweekliks, maar nou deur middel van ’n virtuele gespreksplatform.  Tussen die ses gesinne het hulle ’n somtotaal van 13 kinders, waarvan die jongste in graad 2 en die oudste in graad 9 is.  Jan Dawid sê dat die kinders ook aan die Bybelstudiebesprekings deelneem.  "Ons kies juis onderwerpe waaroor die kinders ook kan saamgesels.  Ds. Marius Breytenbach het ook al per geleentheid vir ons leiding rakende Bybelstudiemateriaal gegee."

Op die foto's bo is vyf van die gesinne wat ingeskakel het by ’n byeenkoms wat tydens Paasnaweek gehou is.

Eredienste in jou sitkamer, of met 'n panoramiese uitsig

Foto links: Die Burgers kyk saam na die oggenddiens.  Inneke Burger sê dat die videospeletjies onderaan die TV-skerm naweke ingespan word om die jongmanne besig te hou.  

Dankie dat jy die foto met ons gedeel het, Inneke. Sterkte met die besig hou van die twee manne. Dit bly seker in dié dae ouers se grootste uitdaging. 

Foto regs: Abrie en Susan Visagie verwyl die grendeltyd op hulle plaas.  Hulle het Sondagoggend 26 April een van die koppies op die plaas uitgeklim en daar saam na die erediens gekyk.  Met die foto hieronder deel hulle hul pragtige uitsig met ons.  

Daar is sekerlik geen beter plek om God se woord te hoor as in sy pragtige skepping nie. Dankie vir die pragtige foto.

Jongwerkendes ZOOM saam

Deur: Ds. Hanno Ackerman
Voorheen kon werkende jongmense elke Woensdagaand ’n glasie wyn of ’n bier saam met medegelowiges in die markplein geniet terwyl hulle na relevante beskouings en opvattings luister en daarna kon hulle húl mening en siening met ander jong volwassenes om die geselstafel deel. Om te luister na jou vriende se uitkyk oor werk, geloof en die lewe, was die kern van Woensdagaande se Bliss-byeenkomste in die markplein.

Sedert die landwye inperking vergader Bliss, die jongvolwassenebediening, op ’n splinternuwe  manier sodat dié groep in die bediening nie verlore gaan nie.  Aanlyn platforms soos Zoom en Skype bied aan die jong volwassenes die geleentheid om met mekaar kontak te behou.   Lees meer . . .

Nuus van Raponsie in Pole

In die April-uitgawe van die Stellenberger het Sanet Hattingh vir ons van haar en manlief, Theuns, se inperking in Kraków, Pole, vertel. Theuns werk tans in Pole en Sanet het aan die begin van Maart gaan kuier.  Die kuier het met die landwye inperkingsmaatreëls, wat onverwags eers in Pole en toe in Suid-Afrika ingestel is, eensklaps van ’n sprokieskuier in ’n effense nagmerrie verander.  Die twee is toe vir 40 dae  in ’n hotelkamer, met net ’n ketel en ’n piepklein kroegyskassie toegerus, en alle restaurante in die omgewing gesluit, vasgevang. 

Sanet het daarom maar besluit om haar te verbeel sy is in ’n storieboek en leef die sprokiesverhaal van Raponsie uit.                  Sy vertel: “Die sprokie ondergaan toe skielik nóg ’n gedaanteverwisseling toe ek skielik produktief moet raak en aanlyn begin skoolhou,” vertel Sanet.               Lees meer . . .

Handwerk hou die seniors positief

Op die foto links onder pryk die bykans 200 serpe wat Ria McMicken al vir minderbevoorregtes gebrei het.  Sy vertel dat inwoners van die ouetehuis waar sy woon, glad nie die terrein of hulle woonstelle mag verlaat nie.  Sy brei en krap in haar klein tuintjie om aan die gang te bly.  Sy is dankbaar dat sy voor die inperking genoeg wol aangekoop het sodat sy haar daarmee kan besig hou.  Sy sê sy dwing haarself om positief te bly en aanvaar dat dié omstandighede buite haar beheer is.

Op die foto regs is Pieter Pienaar aan die brei.  Hy het reeds 200 musse tydens die inperking gebrei en werk steeds volstoom voort.

Volgens ds. Why Duvenhage hoop hy dat uitreike in ’n kleiner, of afgeskaalde formaat sal kan voortgaan.  Dit sal afhang van hoeveel jongmense beskikbaar is om saam te gaan en op watter vlak van inperking die land dan sal funksioneer.  Why en ’n groep volwassenes beoog egter om al die uitreikdorpe in Julie te besoek, waartydens hulle die serpe en musse aan minderbevoorregtes sal uitdeel.

Kuier saam in die virtuele markplein

“Dit was altyd wonderlik om Sondae nader aan God, maar ook nader aan mekaar te groei,” sê ds. Marius Breytenbach.  “Na eredienste kon lidmate in ons markplein en teetuin saamkuier.  In die lig van die grendeltyd wil ons saam met ons aanlyn dienste, ook ’n virtuele markplein (gespreksgroep) skep. 
“Dit werk soos volg:  Indien jou foon of rekenaar internettoegang bied, kan jy via ’n skakel wat jy per e-pos sal ontvang, op die byeenkoms inteken.  Die twee predikante wat die oggenddienste aanbied, sal ook die gespreksgroep vanaf 16:00-16:40 lei.  Die betrokke predikante se e-posadresse sal elke Sondag net voor die eredienste op die skerm vertoon word.  Stuur jou naam, van en e-posadres vir een van hulle en hulle sal die skakel of uitnodiging na die gespreksgroep per e-pos vir jou stuur.  Om 16:00 kan jy op die skakel kliek en jy sal tot die gespreksgroep toegelaat word.  Lees meer . . .

Finansies – ons moet herbesin

Deur: Danie Claassen

Die aanvanklike beplanning van die inhoud vir hierdie finansiële verslaggie, was om inligting oor die nuwe boekjaar te verstrek – die resultaat van strategiese beplanning in geloof, gepaardgaande met gebed deur al die kommissies.  Maar, met die Covid-19-uitdaging lyk die finansiële begrotings en balansstate van individue en ondernemings tans dramaties anders – ook dié van Stellenberg-gemeente.

Ons almal het die afgelope ses weke die gemeenskap van gelowiges op 'n ander manier beleef – aan die een kant is ons op nuwe maniere elektronies bedien en aan die ander kant kon ons vanuit ons staat van inperking,  ook weer op ’n ander manier dien.  Ons is dankbaar vir elke bankoordrag en SnapScan-betaling waarmee lidmate voortgegaan het om hulle Sondagkollekte en maandelikse dankoffer te gee – by die skrywe hiervan het ons vir Aprilmaand 57% van die begrote bankkollektes en 9% bo die begrote bedrag vir die maandelikse dankoffers ontvang.  Ons was in staat om personeellede se volle salarisse vir Maart en April te betaal, asook om alle ander noodsaaklike uitgawes te dek.  Alle ánder uitgaweprojekte is egter vir eers opgeskort.  Lees meer . . .

So help ons met kosnood

Ons gemeente het reeds sedert die instelling van die landwye inperking gereageer op voedselnood onder hulpbehoewendes in ons omgewing.  Die eerstes wat onder ons aandag gekom het, was die hawelose mense in Bellville. Ons het een keer per week, met MES as koördineerder en met die samewerking van heelwat ander kerke, sop aan hawelose mense in die middestad van Bellville begin bedien.

Intussen het Shiloh ons genader en gevra of hulle ons saalkompleks as ’n depot en verspreidingspunt vir die verpakking van meer as R1 miljoen se kos kan gebruik.  Die kos, wat deur die Wes-Kaapse regering gefinansier is, is hoofsaaklik onder TB-pasiënte in die metropool versprei. Heelwat van ons lidmate iss betrokke by die verpakking van die pakkies.  Lees meer . . .

Gesinne wat kospakkies ontvang het in Khayelitsha en Uitsig, Ravensmead.

Annibrand-groepe vat weer vlam

“Ons kategesegroepe, juniors en seniors, is weer aan die gang,” sê ds. Hanno Ackerman, jeugleraar.  “Die aanbieding van die onderskeie kategesegroepe lyk natuurlik heeltemal anders as in die verlede, maar dit is tog vir ons belangrik om weer met kategese te kon begin.”

Brenda Visser, kinderwerker, sê dat die Annibrand Juniorgroepe se weeklikse lesse is op die inhoud van die gesamentlike oggend-en-gesinsdiens gebaseer.  “In elke erediens is ’n kort insetsel spesiaal vir kinders en die les vloei dan ook daaruit voort. Lees meer . . .
Subscribe to our email list.