Subscribe to our email list
 23 September 2016

Beste Leser
"... U is die wind
wat warrelend oor die vlamwit
vlaktes waai 
van die heelal,
dat die blink stof van die sterre staan."
- WEG Louw
SINODENUUS
1. Wes-Kaapse Jeug- en Familiebediening
Verras met mekaar se Stories!

'n Groep jong predikante en jeugwerkers het op 20 September op Stellenbosch gesels oor bediening aan naskoolse jeug, studente en jong werkendes. Die groep was verbaas om onder mekaar soveel stories te hoor van aksies wat werk.
Wynand Breytenbach het vertel van "Bybel en Bier aande" - weeklikse byeenkomste wat hy in ’n pub hou waar gelowiges en ongelowiges welkom is. Mizelle Prinsloo vertel van hulle jong-mammas-en-baba’s groep en Christi Thirion van die omgeegroepe onder studente in hulle gemeente. Hanno Ackermann vind dat aktuele sesweek kursusse baie jong werkendes met vrae trek. Wat duidelik was, is dat die naskoolse groep nie homogeen is nie en dat daar kontekstueel gesoek moet word na vars maniere om hulle te bereik en in te trek.
Verhoudingsbou, dissipelskap en ’n gerigtheid na buite, blyk kernaspekte te wees van enige benadering.  Die groep sal eersdaags vier artikels publiseer wat meer vertel van hulle nadenke hieroor. Navrae: kontak José by jeug@sun.ac.za 
Jeug- en Familiebediening - jongwerkendes
Anriëtte de Ridder, Divan Vrey, Hanno Ackerman, Schalk Treurnicht, Christi Thirion, Wynand Breytenbach, Elzanne van der Westhuizen, Jana Dickason, Mizelle Prinsloo
2. NG Sinode van Wes-Kaapland: Uit die Moderatuur
Die jongste brief van die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland - "Uit die Moderatuur" - is Dinsdag aan predikante en kerkkantore gestuur. In hierdie uitgawe is nuus oor nuwe energiepunte in die kerk, word gemeentes gevra om jongmense aan te moedig om teologie as roeping ernstig te oorweeg (sien die video onder) en word sake vir voorbidding onder gemeentes se aandag gebring. Lees gerus aangeheg
Op die foto onder is agter vlnr Elize Morkel, Bossie Minnaar, Tinus van Zyl, Frik Bosman, Melanie Thirion, Leon Venter. Voor vlnr is Charl Stander (skriba), Nelis Janse van Rensburg (voorsitter), Frederick Marais (ondervoorsitter) en Quintus Heine (aktuarius). Kontak die kantoor van die moderatuur by skriba@kaapkerk.co.za.
Sinode van Wes-Kaapland moderatuur
Charl Stander
3. Wes-Kaapland Streeksbyeenkomste uitgestel
Van die skriba van die sinode, Charl Stander, ontvang ons die volgende kennisgewing aan predikante: 
“Jy sou al via verskillende roetes kennis gekry het van die streeksbyeenkomste wat die moderatuur vir 24-28 Oktober en 3 November in die vooruitsig gestel het. Hierdie skrywe is om jou in te lig dat die streeksbyeenkomste, weens die buitengewone Algemene Sinode in November, uitgestel is tot aanstaande jaar. Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat dit mag meebring". 
Verder is dit ook nodig om (weer) kennis te neem dat die nasionale predikantekonferensie wat beplan is vir April 2017, ook uitgestel is weens die Algemene Sinode van November. Die nuwe datum moet nog bepaal word.

4. Teologiese Opleiding
Met wie kan ek Praat oor my Roeping?
Roeping is 'n lewensbelangrike saak en vra dus diep en ernstige oorweging.
Daarom is dit uiters belangrik om te gesels met die mense om jou, mense wat jou ken, en mense wat jou liefhet.
Jy kan natuurlik ook met die predikante verbonde aan die Kuratoruim, Seminarium en dosente van die Fakulteit Teologie gesels oor jou roeping. Hulle roeping is immers om mense te begelei tot bedienaars van die evangelie.
Eddie Orsmond nooi jou uit om hieroor te gesels …
Hierdie reeks video's (waarvan daar nou reeds vyf beskikbaar is), is op die sinode se webwerf by Nuus - Algemene Nuus of soek bloot "teologiese opleiding".
Teologiese Opleiding - praat oor roeping
5. Getuienisaksie: Alpha-evangelisasiewerkswinkel
Op Woensdagaand 28 September bied Getuienisaksie hul volgende Alpha-evangelisasiewerkswinkel aan. Dit begin om 18:30 by die NG Gemeente Sonnekus (Milnerton). Die gasspreker is die bekende sakeleier, Archie de Jongh, wat self 'n drastiese lewensverandering ondergaan het en Alpha in gevangenisbediening gebruik. Fanie Heyns (Alpha) en Kobus Odendaal (Getuienisaksie) sal verduidelik hoe die Alpha-evangelisasiemetode in gemeentes geïmplementeer kan word. Registreer by Dawn Erasmus: 021 957 7184 of kga2@kaapkerk.co.za. Koste: R50 pp, aandete en materiaal ingesluit. Lees hier meer oor Alpha.
Alpha werkswinkel
Van die mense wat die eerste Alpha-werkswinkel op 12 September bygewoon het.
Boekrak
6. 'n Tweede lewe vir jou Boeke
Van die Diensgroep Toerusting ontvang ons hierdie uitnodiging: enigeen wat hulle boekery wil minder maak of heeltemal moet wegdoen daarmee, is welkom om dit by Amanda van Niekerk (K 1009, Fakulteit Teologie, Stellenbosch) af te gee as 'n welkome bydrae tot hulle boekrak/stofrak.
Amanda administreer hierdie rak as 'n gratis diens aan studente wat boeke daar kan neem en gebruik. Dit sluit enige boeke in, nie net teologiese boeke nie. Navrae: Amanda by toerusting@sun.ac.za of 021 808 9138. Welkome nuus vir enigeen wat swaar sluk aan die gedagte om 'n boek weg te gooi. 
7. Kaapkerk: Predikante-inligting
Persoonlike of kontakinligting van ons predikante word volgens ooreenkoms nie op die sinode se webwerf verskaf nie.
Die personeel van die Argief van die NG Kerk in Suid-Afrika (geleë in Stellenbosch) is op die hoogte van The Protection of Personal Information (POPI)-wetgewing en weet gevolglik watter persoonlike en kontakinligting van predikante hulle mag verskaf. Gemeentes se webwerwe het ook meer inligting oor predikante. Klik hier en maak seker julle webwerf is korrek.
8. Hoëveld Sinode: Missionale werkswinkel
Goeie praktyke = Nuwe Energie vir Gemeentebediening
Van ons kollegas in die Hoëveld Sinode ontvang ons hierdie inligting. Indien jy op 22 Oktober in die Kempton Park-omgewing is, kan jy gerus hiervan kennis neem.

Sluitingsdatum: 14 Oktober. Klik hier vir die inskrywingsvorm en lees meer hier.
Hoëveld Sinode Missionale Werkswinkel
VGK SA Gestig
ALGEMEEN
1. Die Belydenis van Belhar: Dertig jaar gevier!
Die Ring van SA Gestig van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) nooi alle belangstellendes na 'n dankseggingsdiens ter viering van die 30ste herdenking van die aanvaarding van die Belydenis van Belhar op Maandag 26 September om 19:00 in die kerkgebou van die gemeente SA Gestig, hoek van Watsonia- en Orgideeweg, Belhar. Die prediker is prof Dirkie Smit.
Klik hier en kontak Llewellyn MacMaster (llmmacmaster@gmail.com of by 083 413 0400) vir meer besonderhede. Seënwense vir die geleentheid - red.
2. Wes-Kaapland Ringsittings
2.1 Wesland Verenigende Ring saam by Hopefield

Richard Holloway berig: “Die Wesland Verenigde Ring  het vanjaar op ‘n ander wyse vergader as in die verlede.  Die VGK-  en die NGK-komponente het eers apart vergader voordat ons op Sondag 18 September by Hopefield byeengekom het. Die rede hiervoor is dat die eenheid van die ring tans ernstig bedreig word deur ‘n paar faktore, waaronder die “nee” stem vir Artikel 1 die belangrikste is. In hierdie onstuimige tyd is Communitas se hulp ingeroep om te fasiliteer.” 
Dankie vir voorbidding vir elke fasiliteringsproses wat in hierdie dae in ons kerk plaasvind. Hier is meer inligting oor die gemeentes wat deel van hierdie ring uitmaak. 
Wesland Ring
Wesland Verenigde Ring saam by Hopefield
2.2 Ring van Piketberg byeen
Die Ring van Piketberg (wat bestaan uit Aurora, Eendekuil, Hopefield, Koringberg, Moorreesburg, Piketberg, Porterville en Redelinghuys) het op Ma 19 September by die NG Gemeente Piketberg vergader. Jannie le Roux het onder meer aan die hand van drie hooflyne (inspirasie, identiteit en impak) met die ring gesels oor geestelike leierskap.  So berig Johan Smit (voorsitter en predikant van Piketberg).
Ring van Piketberg
Agter: Johan Smit, Jurie van Dyk, Morné Bruwer, Leopold Human, Albé Theunissen,
Gert Kok, Jan van Schoor, Giel Esterhuyse, John Loxton
Middel: Hannes van Wyk,  Gerhard Louw,  Pierre Joubert,  Martin Goosen,
Clifford James, Willem Tolken 
Voor: Erica Kretschmer, Arnold van der Westhuizen, Jan Brink, Bessie Brand, Marié Grobbelaar 
2.3 Helderberg ontvang Ring van Somerset-Wes 
Die Ring van Somerset-Wes het op Woensdag 21 September in Somerset-Wes by die NG Gemeente Helderberg vergader. Die voorsitter van die ring, Christo Benadé (predikant van NG Suider-Strand) berig: "Die fokus van die verskillende gesprekke was op die demografie binne die ring en groter tendense binne die NG Kerk, terwyl daar ook na die predikanteprofiel gekyk is in die lig van aftredes binne die volgende vyf jaar. 'n Gesprek oor twee opwindende nuwe gemeenteontwikkelings in die ring skep ook nuwe energie."
Hierdie ring bestaan uit die volgende gemeentes: Die Strand, Gordonsbaai, Helderberg, Hottentots-Holland, Lourensrivier-Strand, Somerset-Wes, Strand-Noord en Suider-Strand. Op Facebook is nog meer foto's, met dank aan Jan Branders, Helderberg se kommunikasiebeampte.

Ring van Somerset-Wes
Somerset-Wes se ringslede byeen
Danie O'Kennedy, Hennie Fouche, Hannes Theron, Jannie le Roux, Breda Ludik
Danie O'Kennedy, Hennie Fouché, Hannes Theron, Jannie le Roux, Breda Ludik
2.4 Ring van Swellendam bedink Missionaliteit
"Die Ring van Swellendam het die afgelope week hul 144ste ringsitting gehad. NG Gemeente Buffeljagsrivier was die gasheer, met hulle predikant, Dirkie van Heerden, wat ons herinner dat hulle nie die gemeente langs die pad is nie (hulle is nie 'n plek waar mense stop om vol te maak nie), maar hulle is die gemeente op pad. Op pad na Jesus en op pad saam met mekaar.
Tydens Sondagaand se gespreksgeleentheid het lidmate van elke gemeente se onderskeie bedieninge saamgesels oor 'n missionale roeping vir die Ring van Swellendam." So skryf Francois Herselman van Ashton. Lees hier verder en bekyk die lekker verskeidenheid foto's van almal wat daar saam was op Facebook.

Spesiale seënwense aan Almo Zietsman van NG Gemeente Robertson-Oos (onder in die middel voor). Na 41 jaar in die ring, was dit sy laaste ringsitting voor sy aftrede volgende jaar.
Ring van Swellendam
Die Ring van Swellendam
3. Sentrum vir Publieke Getuienis
Leonard Sweet by in Harmonie

Die Sentrum vir Publieke Getuienis se Braam Hanekom stuur inligting oor twee besondere geleenthede waar die invloedryke prediker en skrywer, Leonard Sweet (foto onder), gedurende Oktober by in Harmonie (net buite Franschhoek) optree. Onderskeidelik 3 en 16 VBO-punte kan deur bywoning verdien word.

Op 6 Oktober 2016 gesels hy tydens ’n oggend-gespreksgeleentheid oor “The bad habits of Jesus”: "He emphasises that we need to understand who Jesus really is if we are to follow him wholeheartedly. That it is crucial to see the ‘rebellious rabbi’ for who He is and not for who we may imagine him to be.” Lees hier meer en reageer voor 26 September 2016.

Van 6 tot 9 Oktober 2016 bied Leonard ’n driedagkursus in die vorm van ’n mountain advance oor "The G.O.O.D News" aan. Hy vra: " 'What if the church were to become a G.O.O.D. church, a 'Get-Out-Of-Doors-Church?’ Furthermore the beauty of nature, and what we can learn from God as creator-gardener affords us the opportunity to explore the G.O.O.D. life Jesus promised to give us." Lees hier meer en reageer voor 26 September 2016.  
Leonard Sweet by in Harmonie
Nadia Marais
4. Internasionale Toekenning aan US-dosent
Hartlike gelukwense gaan aan Nadia Marais (dosent in sistematiese teologie, Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie), wat as een van die wenners van die Louise and Richard Goodwin Prize for Excellence in Theological Writing aangewys is! 'n Besondere eer.
Van hierdie prys word soos volg geskryf: "The Louise and Richard Goodwin Writing Prizes for Excellence in Theological Writing are given to graduate students in recognition of essays that demonstrate:
•creative theological thinking,
•excellence in scholarship,
•faithful witness to the Christian tradition, and
•engagement with the community of faith."
Uittreksels uit die wenners se essays sal teen 15 Oktober op Theological Horizons se webwerf beskikbaar wees.
Hendrik Bosman
5. Dawid W de Villiers Gedenklesing
Tydens die tweejaarlikse Dawid W de Villiers Gedenklesing op Dinsdag 20 September 2016, aangebied in die Hofmeyr lesingsaal op Stellenbosch, was prof Dirkie Smit die spreker met die tema: "Speaking of Evil" . 
Die waarnemende dekaan van die Fakulteit Teologie, prof Hendrik Bosman (regs), het hom aan die woord gestel. 
(Foto's met dank en erkenning aan Dion Forster en Anton Jordaan).
Dirkie Smit lewer Dawid W de Villiers Gedenklesing
Dirkie Smit aan die woord met die foto van Dawid de Villiers links
Etienne de Villiers (seun), Coenie Burger (Communitas), Dirkie Smit (spreker), Dawid de Villiers (seun)
Etienne de Villiers (seun), Coenie Burger (Communitas),
Dirkie Smit (spreker) en Dawid de Villiers (seun)
Ben du Toit, Wentzel van Huyssteen, Jaap Durand
Drie bekende sistematiese teoloë: Ben du Toit (voormalige PSD, NG Sinode van Wes-Kaapland), Wentzel van Huyssteen en Jaap Durand
6. Bybelgenootskaphoofde in Bellville byeen
Uitvoerende Hoofde van 21 verskillende Bybelgenootskappe in Afrika het onlangs in die Bybelhuis in Bellville byeengekom vir 'n werkswinkel oor Bybelvertaling. Die werkswinkel was 'n geleentheid om te verseker dat uitvoerende hoofde vertroud is met onder andere die verskillende vertalingsprosesse, die keuses en aanstellings van vertalers en die taak van vertalingskonsultante. Klik hier.
Wereldbond van Bybelgenootskappe
Voor vlnr: Mev Christiana Jones (Sierra Leone), mev Chippo Maringe (Zimbabwe), mev Beatriz Hupa (Angola), dr Brigitte Rabarijaona (WBG Vertalingsraadgewer vanMadagaskar),
mev Elizabeth Muriuki (Kenia)
Middel vlnr: Mnr Ajiboye Dare (Nigerië), mnr Simon Peter Mukhama (Uganda), mnrEmmanuel Mbindyo (WBG fasiliteerder van Kenia); eerw dr EdwardKajivora (Suid-Soedan), eerw dr Mkunga Mtingele (Tanzanië), eerw IsmailAbdulrahman Kanani (Soedan), dr Misheck Nyirenda (WBG Vertalingsraadgewer vanZambië), mnr Clapperton Mayuni (Malawi)
 Agter vlnr: Mnr Ngcebo Mbuli (Swaziland), mnr Paul Stevens (Liberië), eerw Gabriël Tsuaneng (Botswana), mnr Everisto Mambwe (Zambië), ds Dirk Gevers(Suid-Afrika), eerw Erasmus Odonkor (Ghana), ds Barnie van der Walt (Namibië), mnr Inahaneng Tsekana (Lesotho),
dr Samy Tioyé (WBG Vertalingsraadgewer, Burkina Faso tans woonagtig in Kenia),
eerw Valente Tseco (Mosambiek), mnr Minasse Haileab (Eritrea)
Fourie Rossouw
7. Raakgelees: Sy's 'n basaartannie!
Dalk is jy hierdie tyd van die jaar effe onseker of moedeloos oor waar die kerk heen op pad is, hoe die kerk moet wees, of die kerk nog ’n geloofwaardige stem het. Dan kan jy gerus oorweeg om te lees hoe Fourie Rossouw van Wellington vertel van die basaartafel, "die partytjieweergawe van die nagmaalstafel. Dis die kerk se kans om haar ware kleure te wys. Sy is toe al die tyd ’n basaartannie."
"Mag ons in die tye wat kom meer baljaar as bulder.
Mag ons gebede so opreg wees soos ons braaivleisvuurgesprekke.
Mag ons mense so bont soos basaarkuikens wees.
En mag ons leef met harte so helend soos kerrie en kaneel."

Klik hier.
8. NG Gemeente Durbanville-Bergsig 
Visuele Voorstelling van Kerkjaar

Van Alida Vorster by NG Durbanville-Bergsig ontvang ons die nuwe weergawe van hulle visuele voorstelling en interpretasie van die kerklike jaar. Dit is gegrond op die bronne soos op die dokument aangedui en gee simbole en doendinge om geloof beter te verstaan as deel van 'n totale leefwyse. Die kerkjaar begin met die eerste Sondag van Advent. 
Hierdie kerkjaarkalender is ook elektronies vir belangstellendes beskikbaar op die sinode se webwerf onder Algemene Dokumente. Klik hier vir meer inligting en die kalender.
Kerkkalender 2017
9. About Ubuntu, Forgiveness and Relationship
In an interview between Graham Hill (The Global Church Project) and René August (Anglican Church of SA) discuss rediscovering bonds of Christian community, kindness, sharing, love and connection. René refers to two things that go hand in hand with ubuntu: forgiveness and relationship. Click here for more - and watch the abridged version of the interview.  
Rene August on ubuntu, forgiveness and relationship
In 1962 a student asked Karl Barth (one of the most influential theologians of the twentieth century) if he could summarize his whole life’s work in theology in a sentence. Barth allegedly said something like “Yes, I can. In the words of a song I learned at my mother’s knee: ‘Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so.'”  
Twitter Facebook
GEMEENTENUUS
1. As Buurgemeentes hul Seëninge deel ...
Vanjaar se dankfees (die naweek van 29 April 2016) was nogmaals 'n besonder geseënde fees vir die NG Gemeente Merweville. Met 'n inkomste van heelwat meer as waarvoor begroot is, het die gedagte ontstaan om deur hierdie seën ook tot seën van ander te wees. 
En wat 'n spesiale gebaar was dit nie vir Merweville se kleiner buurman, die NG Gemeente Leeu-Gamka nie: oorskot vleis is aan Leeu-Gamka geskenk om as deel van hulle dankfeesbasaar te verkoop. Soos dit in 'n boerderygemeenskap gaan, is die dankfees die grootste enkele bydrae tot hulle begroting en daarom was hierdie skenking 'n tasbare teken van die Here se voorsiening. Hierdie sigbaarmaking van die gemeenskap van gelowiges oor gemeentegrense heen, is die evangelie in aksie. En Merweville se nederigheid oor die geskenk, hulle klem op Matt 6:3 ('laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie'), is 'n getuienis op sy eie. 
In die woorde van Leeu-Gamka "Mag hierdie Here wat ons saam met julle aanbid, sy liefde in oorvloed in julle gemeente sigbaar maak. God is waarlik 'Alles in Almal'."

Merweville en Leeu-Gamka
2. Nuwe adres vir NG Durbanville se Kerkkantoor
Durbanville gemeente laat weet dat hulle kerkkantoor op 19 September geskuif het na San Dominico 2, Kerkstraat 10, Durbanville. Alle kontakinligting bly nog dieselfde. Kontak Cindy van der Merwe, kommunikasiebeampte, by 021 975 6370  of kommunikasie@durbanvillegemeente.co.za.
NG Durbanville: nuwe kantoor
Die gebou waarin die nuwe kantoor van NG Durbanville geleë is
PREDIKANTENUUS
St Stephen's verwelkom Roelien Karsten
Op Sondag 21 Augustus 2016 is Roelien Karsten in die NG Gemeente St Stephen's (Breëstraat, Kaapstad) as predikant bevestig. Sy was voorheen onder meer in die NG Gemeente Onder-Molopo (Noord-Kaap) en NG Gemeente Die Strand betrokke in verskillende hoedanighede. Haar bevestiging is waargeneem deur dr Francois Wessels, verbonde aan die Cape Peninsula Reformed (CPRC) gemeente.
Roelien, ons se
ënwense vir jou en jou man, Johan, in hierdie nuwe hoofstuk in jou bediening. Mag die unieke, liefdevolle St Stephen's-atmosfeer jou daagliks dra.
Roelien Karsten bevestiging
EKOLOGIE
1. Maak jou Tuis in die Tuin
Dalk is hierdie net die kreatiewe projek waarna jy op soek is vir jou kategese- of Bybelstudiegroep! Die "Terra Grass" stoel (sien onder) bestaan uit 'n eenvoudige kartonstruktuur wat opgerig en met grond bedek word. Saai nou grassaad hierop, maak gereeld nat en ... siedaar! Jou eie doen-dit-self tuinmeubels! (Wonder wat die manne van Kweek vir die Here hiervan dink?!)
Jou eie doen-dit-self tuinmeubels
Jou eie tuinmeubels - met dank en erkenning aan Webecoist.
Slak
2. God se inklusiewe Liefde
In 1 Tim 2 pleit Paulus by gelowiges om vir "alle mense" te bid. Hoekom vir almal? Omdat God se liefde inklusief is. Thomas van Celano vertel die volgende van Fransiskus van Asissi: "Toward little worms even he glowed with a very great love ..." Behoort God se inklusiewe liefde ons besorg te maak oor die voortbestaan van slakke ook? Lees gerus hier  en besluit self. (Met dank aan Getuienisaksie se Taakspan Ekologie)
PUBLIKASIES
1. Lees in die jongste Kerkbode ...
Kerkbode van 23 September 2016 vertel weer ’n uiteenlopende klomp verhale uit die NG Kerk. 
• Dit wissel van poppe wat gebruik word om kinders van Jesus te leer op Worcester, tot by 'n jong vrou wat misbruik in haar kinderjare so verwerk het dat sy ander mense nou leer om gelukkig te wees. 
• Daar word vertel hoe gelowiges die kinders van Hasie-in-die-Holte-kleuterskool in Danville en by Die Vleie-gemeente in Hoekwil help om volgens hulle potensiaal te groei. 
• Lees van die nuwe Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit wat in Wellington ontwikkel word, van ’n Vrystaatse plan om dominees te help om te rus, en oor ’n sendeling wat seemanne wat soos slawe werk, help om hulle vryheid te herwin. 
Kerkbode vertel van 'n versoeningsdiens op Worcester, van die komende buitengewone Algemene Sinode en daar is 'n bydrae oor 'n kunswerk wat Jesus in 'n Duitse konsentrasiekamp plaas. 

Kerkbode
 is die amptelike kerkkoerant van die NG Kerk in Suid-Afrika - sedert 1849. Vir meer inligting, kontak Bybel-Media by 0860 263 342 of bestel hier.
Kerkbode
2. LiG: Donnalee oor Drome, Stories en Meer ...
LiG gesels met Donnalee Roberts oor haar drome en die uitleef daarvan, en sy vertel hoe stories haar bekoor.  Die nuutste uitgawe van LiG (met Donnalee op die voorblad) is pas op die winkelrakke beskikbaar of teken gerus hier in om jou kopie maandeliks eerstehands in die pos te ontvang.
Donnalee Roberts
NUUSBRIEWE
CLF Fokus op Bejaardes

Christelike Lektuurfonds (CLF) het ʼn pragtige pamflet “Wanneer die amandelboom in bloei staan” wat  raadgee hoe om sinvol na aftrede te lewe – ten spyte van omstandighede wat verander. Ander pamfletonderwerpe wat waarde kan toevoeg tot bejaardes se lewens is “Kry weer Hoop”, "God se troos wanneer ek siek is", "Om te rou", "Onse Vader/Ps 23" en "Vergifnis".
Maak tydens Oktober spesiaal tyd vir die bejaardes in jul gemeente en omgewing en kyk hoe jou lewe self daardeur verryk word. Bestel van genoemde gratis pamflette en bring weer GELOOF, HOOP EN LIEFDE (en omgee) in ons bejaardes se lewens. Lees hier verder.
KUIERKANS
Geniet elke basaar, konsert en fees! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting. Ons Facebook het ook inligting hieroor. 
Stellenberg Feesmark
NG Stellenberg Feesmark
19 Okt tot 5 Nov 2016
NG Wellington MurrayMark
NG Wellington MurrayMark
29 Nov - 3 Des 2016
Magdalena Huis FOndsinsameling
Magdalena Huis
Kerskonsert  
13 Nov 2016
Heidekoppie Kermis
NG Heidekoppie Kermis
24 September 2016
NG Swartland-Noord basaar
NG Swartland-Noord Basaar
24 September 2016
Huis Zonnekus Gholfdag
Huis Zonnekus Gholfdag
13 Oktober 2016
Badisa-logo
VAKATURES
Badisa Breedevallei
Maatskaplike Hulpwerker
Badisa Breedevallei in Rawsonville het 'n vakature vir 'n maatskaplike hulpwerker. Belangstellendes kan hier meer oor die verantwoordelikhede en vereistes lees.
Reageer asb teen Vrydag 30 September 2016.

Kerkbode
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Jaap Durand
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Jaap Durand

Is ons erfernis mooi?
In die direkte vertaling van die Psalms word die ou vertaling van Ps 16:6 weer opgeneem. Dit praat van " 'n erfenis wat mooi" is.   

Maar is ons erfenis mooi? Kan ons erfenis vier op Erfenisdag? Daar is baie wat ons daartoe verbied. Ons het baie skuld daaraan.

Ons eie skuld? Wil iemand ontken dat die erfenis wat ons nagelaat het, minder mooi is? 

Tog moet ons twee dinge raaksien. Die Psalmis weet dat God ons erfdeel, ons lot, bepaal (v5) wat kragtens die volle getuienis van die Bybel vergewing en vernuwing is; daarom is medemenslikheid in ons samelewing weer moontlik.  

Omdat God ons lot op hierdie wyse bepaal, kan ons ons erfenis vier. Anders nie.

***
Die welbekende en veelbekroonde skrywer, Jaap Durand, het na voltooiing van studies in Nederland in NGKA Cala, ou Transkei, leraar geword, later NGKA KwaZakhele.  In dié tyd was hy moderator van die NGKA Kaapland en aktuarius van die NGKA Algemene Sinode. Hy was later onder andere professor in Sistematiese Teologie (en rektor) aan UWK en besoekende professor aan verskeie universiteite in die VSA.
Dankie vir u bydrae, Professor!  
                                          
True prayer is in reality, being out of control. 
It is to trust God with everything. 
It is to confess
that everything I am and everything I have comes from Him
– that He alone is in control of my life. 
True prayer is to empty myself of me.

- Stephan Joubert
'n Vredevolle ERFENIS-naweek toegewens.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za