'n Boodskap van bemoediging van die moderatuur
'n Boodskap van bemoediging van die moderatuur
Lees deur internet, klik hier >>
20 Augustus 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Uit die moderatuur
Die apostel Paulus skryf in 2 Korintiërs 1: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”
Mag dit ons inspireer om daagliks ook die mooi in die lewe raak te sien en met waardering te leef.
Met bogenoemde in gedagte:
  • Wil ons dankie sê vir gemeentes en gelowiges wat in hierdie uitdagende tyd getrou op die vars spoor van Jesus leef deur “sout en lig” in hulle gemeenskap te wees.
  • Ons wil graag gemeentes en mede-gelowiges aanmoedig om steeds te onderskei waarop ons roeping werklik aankom en soos Jesus self gesê het: “Ek het vir julle `n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen."
  • Waar dit nou in Augustus Barmhartigheidsmaand is, is  ons besig om ons navolging van Jesus in te oefen sodat ons ná Augustus steeds barmhartig sal wees teenoor ander.
  • Kom ons gaan daarmee voort om mense wat in ons gemeenskappe diensbaar is en dit onder moeilike omstandighede met toewyding doen, in gebed en met blyke van waardering te bemoedig.

    Ons doen voorbidding en wys ons dankbaarheid onder andere aan:

  • Opvoeders – skoolhoofde, onderwysers en ondersteuningspersoneel by skole.
  • Mediese personeel – dokters, verpleegsters en almal wat in versorgingsberoepe staan.
  • Gemeenskapleiers en munisipale werkers wat hulle gemeenskap eerste stel en dien.

    Groete en seën vir die laaste skof van 2021.
    Marinus Theron (namens die moderatuur) 
Versorging - oorvloed en skaaarste 
Diaconia en Badisa dink hierdie maand saam oor barmhartigheid en deel die volgende:
"Iemand maak die week ’n sosiale media plasing: “Hoe minder brood daar is, hoe groter is die wonderwerk van vermeerdering.” Die vermeerdering van die brode en vissies is interessant genoeg die enigste wonderwerk wat in al vier evangelies oorvertel word (Matt. 14:15-21; Mark 6:34-44; Luk. 9:12-17; Joh. 6:5-14). Wat mens laat dink dat ‘Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is (Luk 6:36)” seker nog nooit so eenvoudig was soos om vir iemand wat honger is, iets te gee om te eet nie. Hierdie eienskap van God se sorg is selfs versteek in die betekenis van die naam van die plek waar sy Seun, Jesus gebore is! Bethlehem beteken letterlik ‘huis van brood’! In een asem versadig Jesus se koms die fisiese, sowel as die geestelike honger van alle mense. Dit is amper ondenkbaar. En dan word die aflosstokkie aangegee en huisves God se sorgkarakter in sy kinders sodat ons saam met Hom sal versorg.
Die Russiese filosoof Nicolai Berdyaev interpreteer dit so: “Brood vir my is altyd ʼn liggaamlike kwessie, maar brood vir ander is altyd ’n geestelike kwessie, ja, ’n liefdeskwessie”.  Ons worstel met hierdie versorging ding. Aan die eenkant maak ons somme en notuleer gereeld dat daar nie fondse was nie en die uitreik nie kon plaasvind nie. Aan die anderkant is ons gesprekke teologies gesofistikeerd en wil ons nie iemand in sy kwaad sterk deur vir hom ‘n vis te gee nie. 
Ons het inderdaad nog baie om te leer oor geloof in God se voorsiening en hoe ons met die oorvloed van sy liefde kan uitreik om fisies en geestelik die wonderwerk van vermeerdering te beleef. Party noem dit ‘n mentaliteit van oorvloed of skaarste. Glo ons werklik in die vermeerdering van brood of sien ons soos die dissipels die massas en moedig Jesus aan om hulle liefs huis toe te stuur vir die aand? As die oorvloed by God lê, waarom kyk ons dan teen die skaarste vas? Is dit omdat ons net aan die brood dink en nie aan die liefde ook nie? Versorging is immers meer as net brood." 
Klik hier vir meer stories, narrafore, kinderoomblikke (Sakkie-video’s), kleingroepmateriaal, tuisgeloofmateriaal en Power Point-raamwerke en grafika vir hierdie week se tema oor versorging as rimpeleffek van barmhartigheid.  In die video hieronder vertel Erika Hougaard (Little Seeds) en Maryna Klein (Sonskyn Dagsorgsentrum) hoe barmhartigheid uitkoms en voorsiening bied.
SPG in gesprek met My Mooi Dorp
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis was onlangs in gesprek met Mari Hudson, aanbieder van RSG se My Mooi Dorp-program. Hulle gesels saam oor die sentrum se #100DorpeDialoog en hoe hulle met hierdie projek gemeenskappe kon help deur middel van die fasilitering van gespreksforums.
Braam deel die lesse wat hy geleer het tydens die dialoogsessies wat hy reeds bygewoon het op meer as 40 dorpe. Hy deel ook ‘n getuienis van ‘n vrou in Harare, Zimbabwe, wat met ‘n groot maatskappy hande gevat het en so 'n span vrywilligers gebou het wat oor naweke hulle stad skoonmaak. “As dit daar moontlik is, dan is dit op enige plek in Suid-Afrika moontlik. Jy het daardie span nodig. Jy het die leierskap nodig. Jy het mense nodig wat nie moed opgee nie.”
Klik hier om na die potgooi te luister.  
Hoe vroue stilgemaak word
Die volgende bydrae is met dank ontvang van die Taakspan Gendergeregtigheid.
"Shamsia Hassani, 'n bekende Afghaanse kunstenaar, het hierdie skildery gemaak in reaksie op die huidige gebeure in Afghanistan. Die skildery se naam is nightmare en beeld iets uit van die nagmerrie waarin veral vroue hulleself bevind. Dit wys hoe vroue stilgemaak word en hoe al die vooruitgang wat gemaak is in die bemagtiging van vroue in 'n oogwink  uitgewis is.
Rethie van Niekerk het 'n treffende video gemaak van vroue in die Hebreeuse geskrifte - vroue wat ook dikwels stilgemaak is, maar wat maniere gevind het om op te staan. Klik gerus hier om die video te kyk. Kom ons bid in hierdie tyd spesifiek vir die mense van Afghanistan vir hulle veiligheid en spesifiek vir die vroue vir hulle vryheid en dat hulle kan voortgaan om onderrig te ontvang."
Hoop en Versoening Trust
Die Hoop en Versoening Trust laat weet dat hulle ‘n skenking van R100 000 by Marina Sea Salt in die Oos-Kaap ontvang het en onlangs daarmee vyf ander instansies gehelp met befondsing. Klik hier om 'n video te kyk waarin hulle meer terugvoer oor hulle projekte gee. 
EKOLOGIE
Die noodsaaklikheid van RUS
Hierdie week deel Dewald Hoffman van ons Groenspan 'n baie eenvoudige, maar uiters belangrike eko-wenk met ons. Ons gebruiksgewoontes plaas al hoe meer druk op die aarde, maar wat sal gebeur as ons dit begin verander? Die sisteem wat die mens vir homself geskep het, is dikwels ten koste van die mens self. Rus is 'n sentrale konsep in die Bybel en selfs 'n toppunt van God se skepping. Kyk gerus na die video hieronder en lees die jongste Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC)-verslae van die Verenigde Nasies hier.
Lentedag
Lentedag is om die draai. KIX Kinderbediening gaan tuin toe en gee idees om ‘n voëltjie voerbottel (foto onder) te maak.
Dit is in Afrikaans en Engels beskikbaar hier.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Hefsiba nog veilig in die pandemiese vaarwaters
Almal wat tans aan die stuur van ’n skool of tersiêre inrigting staan, sal getuig van die uitdagende vaarwaters wat die pandemie meegebring het en waarmee hulle daagliks rekening moet hou. Dis ontsettend uitdagend om jou skip veilig en uit die moeilikheid te bly hou. Almal is onkant gevang en daar moes sedert vroeg verlede jaar vinnig op jou voete gedink word. So was dit dan ook met die welbekende Hefsiba Christelike Instituut vir Hoër Onderwys in Noordwes-Mosambiek, die universiteit wat vanuit ons susterskerk in Mosambiek, die IRM, ontstaan het.
Op 2 Augustus het die Gesamentlike Sendingkommissie vir Mosambiek (GSM), wat uit ons sinode en die Oostelike en die Goudland sinodes in die noorde bestaan, via Zoom vergader. Hulle het verslae ontvang en bespreek van die uitdagings van die drie IRM-sinodes en veral gefokus op dié van Hefsiba. Ons ondersteunende betrokkenheid bly ‘n groot prioriteit. Lees ’n opsomming van Hefsiba se verslag hier.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Verwelkomingspraktyk
Die VBO-forum en Sinode Oos-Kaapland stel 'n inleiding tot verwelkomingspraktyk bekend. Die aanlynsessie word vanaf 2 September deur Wilhelm Verwoerd en kollegas van die NG Kerk aangebied. Klik hier vir meer inligting.
Daar word gekyk hoe om die toenemende oorvloed van onwelkome ervarings te hanteer. Hierdie ervarings soos die COVID-19-pandemie wat van dag tot dag opduik, roep meestal uiters ongemaklike gevoelens van angstigheid, onsekerheid en oorweldiging by meeste van ons op. Die vrae word gevra: Hoe hanteer ons hierdie ontstellende, uitputtende emosies, sonder onderdrukking of ontvlugting in ons koppe? Hoe kan ons die uiters onwelkome ervarings van ons tye dieper deel maak van ons dissipelskap?
Die gereelde beoefening van die verwelkomingsgebed bied broodnodige ondersteuning soos bevestig deur 'n vorige NGK-deelnemer: "Die verwelkomingspraktyk dra by tot die groei van my verhouding met God; ook tot die ontwikkeling van 'n leefwyse waarin ek volkome oorgegee is aan God en voortdurend met Hom in gesprek is.  Ek is nog nie naastenby daar nie, maar die verwelkomingsgebed is een van die geloofsgewoontes wat my help op hierdie lewenslange reis."
Kry die inskrywingsvorm hier.
Registreer nou vir Lentekonferensie 2021
Die Lentekonferensie 2021 aangebied deur die VBO-forum en Excelcus vind vanjaar volledig aanlyn plaas van 14 - 16 September. Die tema vir 2021 is: Brave New World. Saam met Jesus ‘n vreemde toekoms in.
Die hoofsprekers vir die drie oop sessies is Elna Mouton, Max du Preez en Michael Lapsley. Die oggendkeusetemas word aangebied deur Fanie Cronjé en Kobus Myburgh, Marina Strydom, Lourens Bosman en Camille Castelyn.
Besoek die webblad vir die volledige brosjure en die skakel vir aanlyninskrywings. Vir enige navrae, stuur 'n e-pos aan excelsus@up.ac.za.
Andrew Root Webinare
Hierdie reeks van drie webinare skop op 31 Augustus af. Die Amerikaanse teoloog Andrew Root gesels oor Ministry in a Secular Age aan die hand van sy drie boeke oor hierdie onderwerp. Hier is ‘n voorsmakie van die eerste webinaar: Faith Formation in a Secular Age.
Klik hier om te registreer. 
Optimaliseer jou en ander se leierskapseffektiwiteit
Hugenote Kollege en Communitas bied 30 gratis beurse aan predikante, lidmate, kerkraadslede, ouderlinge en leiers binne NG en VGK-gemeentes. Die aanlyn uitvoerende kortkursusse word aangebied deur Erwin en Lyzette Schwella, wat leiers wil toerus om gemeentes en gemeenskappe met groter effektiwiteit te bedien. Skryf jouself en 'n paar lidmate in om visionerend oor plaaslike gemeentes te droom en die drome te implementeer.
Registreer by ulrike@civinovus.co.za om aansoek te doen. Aangesien plekke beperk is, sal die eerste dertig aansoeke voorkeur geniet. Moenie hierdie geleentheid misloop nie. Klik hier vir meer inligting.
GEMEENTENUUS
Verjaarsdagkersies van vreugde
NG Kerk Tulbagh, in samewerking met Steinthal Kinderhuis, kon met behulp van skenkings sedert 1 Junie vanjaar vir elke Steinthal-verjaarsdagmaatjie ‘n koek en geskenkie op hulle verjaarsdag gee. Erika Jordaan, voorsitter van die gemeente se vrouediens, vertel dat die opgewondenheid en vreugde hierin ongekend is!
“Dit is inderdaad ’n besonderse paadjie wat ons met die kinders se verjaarsdagkoeke begin loop het. Steinthal se maatskaplike werker het ons in Mei hierdie jaar gekontak oor die moontlikheid om dalk een maal of meer per maand ’n koek vir die maand se verjaarsdagmaatjies as skenking te gee. Hierdie kindertjies het nog nooit voorheen hulle eie verjaarsdagkoeke gehad nie en ken glad nie die opgewondenheid om na iets op hulle spesiale dag uit te sien nie. 
Ek het die plaaslike belangstelling getoets en die terugvoer was fantasties. Ons het binne ’n dag borge vir ’n hele maand se maatjies ingesamel, plus ’n klein geskenkie by elke koek. Elke kind kry sedert die begin van Junie sy/haar eie verjaarsdag-bederf en die impak wat dit op hulle het, is wonderlik om te beleef.”  
Die gemeente wil graag hierdie projek langwerkend maak. Indien jy graag ‘n verjaarsdagkoek en klein geskenkie teen R150 wil borg, kan die geld direk aan NG Kerk Tulbagh oorbetaal word. Klik hier vir meer inligting. 
Helderberg se Boekehoekie
NG Gemeente Helderberg skryf op hulle Facebook-blad dat die kerk se Boekehoekie die afgelope maande heelwat boeke en CD skenkings ontvang het, soveel so dat hulle selfs 'n paar nuwe boekrakke moes bykry! "Ons het onder andere 'n hele rak vol Bybelverhale vir kinders, heelwat nuwe Afrikaanse verhale vir volwassenes, die volledige Lord of the Rings-trilogie op CD en 'n uitgebreide verskeidenheid geestelike boeke.
Ons het ook onlangs 'n mooi versameling musiek CD's ontvang, wat bestaan uit klassieke musiek, ligter musiek van bekendes soos Frank Sinatra en Laurika Rauch en selfs Kersfeesmusiek."
Alle boeke en CD's is slegs R10 per item. Kontak vir Grazie by ontvangs@nghelder.co.za vir meer inligting. 
Prince Alfred's Hamlet woeker
Die gemeente van Prince Alfred's Hamlet was omtrent bedrywig. Die vrouens van Gydosig aftree-oord het talle mussies gebrei, wat die gemeente namens hulle gaan uitdeel het aan kinders in die gemeenskap. Die gemeente het ook verpakking en  gevriesde tjips vir Sutherland se mini-basaar geskenk en die orrelis Rietha Winterbach en haar man Dawid het gaan help om die tjips te bak.
Die kerkkantoor laat weet: "Dankbaar vir elke bydrae en hulp. So help ons mekaar, wat ‘n voorreg!"
Citrusdal maak musiek vir Ons Huis se inwoners
Die ouetehuis op Citrusdal, Ons Huis, is soos meeste ouetehuise regoor die land al vir 'n geruime tyd toe; die inwoners kan nie in en uit nie en hulle mag ook nie besoekers ontvang nie. Dit het die gemeente van Citrusdal in die laaste tyd laat beleef dat die bejaardes baie alleen en eensaam voel.
"Ons as kerkspan het toe met die idee vorendag gekom om vir hulle proteas af te lewer - vir elkeen van hulle en dan vir hulle 'n 'praise and worship' oggend te hou buite die hekke van die tehuis. En dit is wat ons gedoen het en toe aan die einde het die sanggroep vir hulle 'n paar 'golden oldies' gespeel waarop die mense heerlik gedans het. Dit was baie spesiaal en het beslis die gemoedere gelig en vir hulle weer krag gegee vir die pad vorentoe. Ons kan almal 'n verskil maak. Ons moet net begin!" Klik hier om video's van die optrede te kyk. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraar, Stellenbosch 
NG Kerk Stellenbosch-Wes nooi hiermee graag belangstellendes, wat geroepe voel om betrokke te raak met die daadwerklike uitleef van die gemeente se getuienisskrif, om aansoek te doen vir die vakante permanente pos van voltydse leraar.
Stellenbosch-Wes is ʼn diverse gemeente wat kleuters, die jeug, jongmense, werkendes in ʼn wye verskeidenheid beroepe, afgetredenes, verswakte bejaardes en mense met gestremdhede bedien.  Die jeug en ʼn bediening wat met hulle styl in pas is, is vir hulle baie belangrik. Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Michéle Erwee (die gemeentebestuurder) kan gekontak word by kerkkantoor@stellenboschwes.co.za vir aansoekinligting. Aansoeke sluit op Vrydag 17 September 2021 om 13h00.  
Vastetermyn leraarspos, Kraaifontein 
Gelegitimeerdes van die NG Kerk wat ampspligte sal nakom soos omskryf, met Artikel 9 van die Kerkorde as riglyn, word uitgenooi om aansoek te doen vir hierdie pos by NG Kerk Kraaifontein. Die ideale kandidaat is Skrifgetrou, iemand met 'n gawe vir pastoraat, het goeie menseverhoudinge om in ’n multikulturele omgewing die gemeente te kan uitbou en is gemaklik in die gebruik van multimedia om die prediking en gemeente-aktiwiteite te ondersteun.

Klik hier om die volle gemeente- en leraarsproefiel te lees. Aansoeke sluit 20 Augustus.
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir nuus van Inclusive & Affirming Ministries.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
In die tweede aflewering van Kerkbode se Vrouemaand-rubriekreeks skryf Annelet Slazus oor “Hoe gesels ek met my kind oor hulle liggaam en die liggame van ander?” Die reeks word in samewerking met die Sinode van Wes-Kaapland se Taakspan Gendergeregtigheid aangebied. Lees die storie hier.
Lisel Joubert is die nuwe dosent in Kerkgeskiedenis by die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch. Klik hier vir die gesprek met hierdie bekroonde skrywer  oor gedeelde gebrokenheid en werklikhede.
ALGEMEEN
Raakgelees: Wie woon in 'n pynappel onder die see?
Christopher Mah, marienebioloog by die Smithsonian Nasionale Museum van Natuurgeskiedenis, verklap dat hy die alombekende SpongeBob SquarePants en sy maat, Patrick Star, se tuiste ontdek het! Die geel en pienk duo uit die ikoniese tekenprent wat buurmanne in die fiktiewe Bikini Bottom is, is langs mekaar opgemerk deur 'n afstandsbeheerde dompelaar 400 km buite die kus van New England (Amerika) in die Atlantiese Oseaan.
'n Seesterkenner het die foto van die twee see-organismes op Twitter geplaas en gelag oor die opvallende ooreenkomste wat hulle met hul tekenprent-eweknieë deel. Hierdie seespons is so vierkantig soos enige iemand dit ooit sal sien (die diere is gewoonlik rond, langwerpig of in geen vorm nie) en Mah identifiseer die spons as die genus Hertwigia, wat normaalweg wit of oranje lyk om met hul omgewing te kamoefleer. Hy het ook die seester geïdentifiseer as Chondraster grandis, ‘n algemene pienk seester. Klik hier om die video van die ontdekking te besigtig. 
Owerhede maan teen vierde golf
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en die Stad Kaapstad het hierdie week bevestig dat 'n vierde COVID-golf bykans onafwendbaar is. Die owerhede het hulle amptelik uitgespreek oor die inentinghuiwering wat landswyd ondervind word. Dit kom na die amptelike opening van 'n enorme inentingstasie by die Athlone Stadion, wat soveel as 4 000 inentings per dag sal kan behartig. Volgens mediaberigte is die regering bekommerd oor die daling in die aantal mense wat daagliks inentings ontvang, aangesien dit aansienlik laer as verwagtings is. Daar is gehoop dat ongeveer 28 miljoen Suid-Afrikaners teen Desember ingeënt sal wees, maar teen die huidige inentingskoers is dit twyfelagtig. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging skryf die huiwering aan verskillende faktore toe, onder andere die verspreiding van valse inligting, die anti-inentingsgroepe asook bekommernis oor moontlike newe-effekte.
Terselfdertyd het die Wêreldgesondheidsorganisasie ook gemaan dat selfs mense wat reeds ingeënt is steeds die standaard COVID-protokolle moet volg.
Kom sing saam in ons taal!
Die Nasionale Instituut vir Dowes laat weet: "Wat ‘n groot voorreg om God te kan loof en prys in jou eie taal – Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Dowes of Gebaretaal gebruikers kan aanbiddingsliedere in hul eie taal geniet, dit is 'n seën. Dit is nie meer nodig om dit net te kan hoor nie, maar nou kan die woorde gesien word. Lofprysing en aanbidding is 'n belangrike deel van baie mense se lewens, dit het verseker sy voordele en verbeter ‘n mens se geestesgesondheid."
Suid-Afrikaanse Gebaretaal is ‘n baie mooi taal. Die Nasionale Instituut vir Dowes se steundienste-afdeling werk daagliks daaraan om meer Doof-toeganklike materiaal te ontwikkel. Kyk gerus hier na beskikbare SAGT aanbiddingsliedere.
KUIERKANSE
Klik op die grafika vir meer inligting.
TEN LAASTE
Ons het die week van talle gemeentes en dominees gehoor dat die realiteit van die derde golf van die COVID-19-pandemie tans diep gevoel word. Die hoeveelheid sterftes en hospitalisasies in gemeenskappe skep kommer en die soeke na vertroosting in hierdie ontsaglike moeilike tye is groot. Ons gebede is met elke leser, gemeente, predikant en gemeenskap.
Mag David Muller se weergawe van U ken my troos en bemoediging bring.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.