Lees deur internet, klik hier >>
9 April 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Woelige maand vir Gemeentegetuienis
Die afgelope Maartmaand was 'n baie bedrywige tyd vir PSD Stephen Pedro, bestuurder van Gemeentegetuienis. Hy het 'n hele paar geloofsonderskeidende prosesse met gemeentes gefasiliteer wat werkswinkels en verkenningsgesprekke ingesluit het. Tydens hierdie gesprekke is gefokus op die missionale roeping en taak van die gemeentes, asook op hul vakante leraarsposte en nog vele meer. Lees meer oor hierdie sinvolle besoeke hier.
Foto: Stephen Pedro besig met ’n opvolg-verkenningsgesprek met die kerkleiers van die VGK Bergsig.
Waarom glo ons?
Die volgende gespreksgeleentheid in die reeks handel oor Om te kan rekenskap gee van die hoop wat in ons leef en word op 19 April 2021 by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington aangebied. 
Die Sentrum vir Publieke Getuienis was die afgelope tyd in ‘n reeks Zoom-gesprekke met kundiges betrokke om meer duidelikheid te probeer kry oor ‘n raamwerk vir genoemde gesprek.
Danksy nuwe COVID-regulasies kan hierdie gespreksgeleentheid nou fisies plaasvind. Ons nooi graag predikante, lidmate en ander belangstellendes om te kom deelneem. Slaapplek is ook die vorige aand beskikbaar. Plek is beperk, so bespreek asb. so gou moontlik by spg@kaapkerk.co.za of skakel 021 957 7202.
Arbeidsbediening groet Lene November
Lene November is ‘n geliefde kollega in die Getuienisaksiespan wat voor COVID-19 gereeld op Maandagoggende om 10:00 in hul raadsaaltjie vergader het. Die personeellede van die vier taakspanne van Getuienisaksie, waarvan Arbeidsbediening een is, Zoom steeds Maandagoggende om 09:00 om kontak te behou en op hoogte te bly van mekaar se wel en wee. Intussen het Lene se pos ongelukkig aan die einde van Maart noodgedwonge tot ‘n einde gekom. Ons sal egter vir Lene en haar kosbare insette vanaf April baie mis. 
Carin Brink, streeksbestuurder van Arbeidsbediening, en die persoon aan wie se sy Lene die afgelope jare gewerk het, stuur die volgende afskeidsboodskap: “Lene, of Lien, soos ek haar genoem het, was die afgelope nege jaar en tien maande by Arbeidsbediening werksaam. Wat ’n ongelooflike voorreg was dit nie, Lien, om jou as my sekretaresse/regterhand te kon hê nie.
‘Om te kan lag,’ sê Honore de Balzac, ‘is ‘n voorreg wat aan die mens alleen beskore is.’ En ‘jou lag’ is iets wat my altyd sal bybly, Lien. Jy is iemand wat deur lag en swaarkry altyd daar was – vir almal na aan jou. 
Dankie dat jy Arbeidsbediening as ’n kollega, werknemer en vriendin gedien het – ’n voorbeeld van opregtheid en egtheid. Jou positiwiteit is aansteeklik!
Jou betrokkenheid as fasiliteerder van BrightStar gaan gelukkig voort en jy kan jouself steeds daarin uitleef. Daaroor is ek baie, baie dankbaar.
Ek en al jou kollegas gaan jou werklik baie mis – jy is ’n besondere mens en die manier hoe jy die lewe leef, sal ons altyd bybly! Die kantoor staan altyd oop vir jou vir ’n vinnige inloer en koppie koffie. Jou stoel in my kantoor gaan leeg wees, maar ek is seker ek sal selfs in die stilte jou daar sien sit en jou lag geniet.
Alles wat mooi is vir die nuwe geleenthede op jou pad.”
GEMEENTENUUS
Oggendbyeenkomste by Sonstraal
Sonstraal-gemeente bied in April twee unieke geleenthede aan. Op Vrydag 16 April is daar 'n oggend vir seniors en op Saterdag 17 April 'n vroue-ontbyt wat deur die Eva-bediening aangebied word. Francois Boyce is die spreker by beide funksies.
Bespreek by die kerkkantoor teen 14 April of boek aanlyn op hulle webbladSien meer inligting hieronder.
Paasfees in Plettenbergbaai
Die gemeente van Plettenbergbaai-Noorderkruis vertel dat 'n hele klomp gelowiges (55) die opkomende son op Nature’s Valley se strand ingewag het op Paassondag. Hierdie geleentheid was 'n spesiale belewenis vir elkeen wat dit bygewoon het.
"Dankie, Here, dat ons met U tyd kan spandeer. Ons onthou ‘n jaar gelede, toe ons nie in eredienste bymekaar kon kom nie. U het ons deur hierdie moeilike tyd begelei. Dit gee ons hoop en troos vir die pad verder," skryf die gemeente op hulle Facebook-blad.  
Klik bo en ondersteun gerus Parow-Welgelegen se fondsinsameling.
Oordenkings vir mans
Quintes Scholtz van NG Kerk Oudtshoorn-Park rig 'n ope uitnodiging aan al ons manlike lidmate om deel te raak van hulle WhatsApp broadcast groep. Vyf minute oordenkings word elke Woensdag om 06:00 op die groep gedeel. Indien jy wil deelraak van hierdie groep, stuur 'n WhatsApp met jou naam na 079 899 4017.
GEBEDSVERSOEK
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Ons Geloofsfamilie in Afrika: ANGOLA
Heelwat van ons het in die vorige eeu iemand geken, of was dalk self betrokke, in die destydse gevegte op die grens tussen Namibië en Angola. En as jy op ‘n dag ontdek dat ons selfs dáár ‘n geloofsfamilie het wat noue bande met ons NG Kerk hier in Suid-Afrika het, raak dit ‘n mens baie diep. Getuienisaksie is deel van die Reformed Family Forum wat gereeld kontak met hierdie groep algemene sekretarisse van al ons susterskerke in Afrika bly behou – ‘n onskatbare en verrykende ervaring. Lees gerus meer van ons susterskerk in Angola hier
Foto: Die nuwe kerkgebou op Kinkuni.
VAKATURES
Medeleraarspos, Bredasdorp
Die eenheidsgemeente van Bredasdorp adverteer tans 'n medeleraarspos. Hulle droom is om 'n nuwe generasie dissipels op te rig wat in die Koninkryk van God werk.  Alle gelegitimeerdes in die VGK en NGK wat geroep voel om hulle te help om hierdie droom te vervul, word genooi om aansoek te doen. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 3 Mei.
Rekeningkundige beampte, Pretoria
Die Algemene Sinode adverteer 'n halfdag posisie vir 'n rekeningkundige beampte. Twee jaar toepaslike rekeningkundige ondervinding sowel as kerklike ondervinding sal gunstig oorweeg word. Die geskikte kandidaat moet in staat wees om sy/haar eie werk te beplan, te organiseer en te implementeer. Goeie interpersoonlike vaardighede is 'n vereiste. Sluitingsdatum vir aansoeke is 20 April. Klik hier vir posbeskrywing en meer inligting.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Oor kategese en geloofsvorming: Gee Anriëtte de Ridder die geleentheid en sy sal jou ure kan besig hou met gedagtes oor en toerusting vir jeug- en familiebediening – en dit gaan altyd gepaard met ’n glinster in die oog en groot handbewegings. Klik hier vir Marileen Steyn se onderhoud. 
Paasfees dui op ’nuwe lewe in oorvloed’: Vir die eerste keer kon die lidmate van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) op Touwsrivier nie in aparte kerkgeboue nie, maar saam in een gebou Paasfees vier, berig Conette le Roux hier
Voedseltuin lewer eerste oes by Goue Aar-tehuis vir bejaardes:  Inwoners by dié tehuis het uit hulle nuwe groentetuin begin oes en só nie net iets gevind waarin hulle hulle kan uitleef nie, maar ook vars groenigheid kombuis toe begin stuur by ’n tehuis wat elke sent moet omdraai. Lees die storie hier.
NUUSBRIEWE
Klik bo en lees meer oor Bybel-Media se boublokprojek in hulle jongste nuusbrief.
ALGEMEEN
Raakgelees: Afgetredenes deel pêrels van wysheid 
Meer as 1 000 afgetrede individue regoor die wêreld het hulle top 40 “wysheidspêrels” in ‘n peiling deur Voltarol geopenbaar en wil hierdie lewenswaarhede graag aan jonger geslagte oordra, onder andere om meer "Ek is lief vir jou" te sê en om selfversekerd te wees.
Die afgetredenes raai ook jongmense aan om hulself nooit met ander te vergelyk nie en om een keer per week hulle familie te bel. Ander het die jongklomp herinner om hul jeug te geniet, meer gereeld te oefen en soms buite hul gemaksone te beweeg.
'n Woordvoerder van Voltarol dink dit was beslis interessant om die insig en wysheid te sien wat die ouer geslag aan die jeug van vandag sou oordra. “’n Groot deel van die insig gaan daaroor om die lewe te geniet, om ander te respekteer en om die beste te wees wat jy kan wees, waarmee ek seker die meeste sal saamstem.”
Klik hier vir die volledige lys van wyshede of kyk die video onder. 
Die Heilige Gees maak heel en nuut
CLF se 2021 Pinksterreeks is nou beskikbaar en hulle laat weet as volg: "Die fokus is op die heling van ons gebroke werklikheid te midde van die COVID-19-pandemie en baie ander uitdagings wat ons land tans in die gesig staar.  Daar is ‘n donkerte aan die tyd waarin ons leef en ons smag na lig, na heling, na lewe. 
Hierdie ontwrigtende tyd roep allerlei vrae en temas op: vrae oor God se teenwoordigheid/afwesigheid/versluiering in hierdie tyd; die mens se verlange na hoop/troos/betekenis; die heelmaak van verhoudinge; die heelmaak van die kerk, die heelmaak van die natuur; die heelmaak van waarheid; die heelmaak van gemeenskappe; die heelmaak van geloof ens.  Hierdie heel- en nuutmaak is veral die werk van die Heilige Gees, as derde Persoon in die Drie-eenheid. Verskillende fasette van die Gees se werksaamhede word hier belig. 
Die reeks is vanjaar uitgewerk deur leraars van die NG Kerk, VGKSA en NGKA verbonde aan die Departemente Praktiese en Missionale Teologie en Historiese en Konstruktiewe Teologie van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat. Ons is dankbaar vir hulle gewilligheid en kundige bydraes."
Klik hier om die PDF-formaat in Afrikaans af te laai. Die Engelse weergawe volg binnekort.
Kom ons lees die Bybel
Die Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling se eerste in 'n reeks aanbiedinge oor die lees van die Bybel vind van 20 - 21 April plaas.  
In die werkswinkel Kom ons lees die Ou Testamentiese Profete word daar gefokus op die profetiese boeke van die Ou Testament en nagedink oor die vraag: Wat beteken dit as mens die Ou Testament deur die lens van missionaliteit lees? 
André Bartlett bied die aanlynkursus via Zoom aan. 25 VBO-punte kan verdien word. Klik hier om te registreer voor 14 April.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Senior teegeleentheid by Durbanville
Esther Blackaller en Rian Verster sien baie uit om lidmate daar te verwelkom! Streng COVID-19-protokol sal gehandhaaf word. Verseker jou plek by: 079 249 0666 of 082 779 3356.
Ondersteun VGK Tulbagh
Uitvoergehalte swart pitlose druiwe te koop teen R100 vir 5 kilogram. Bestel direk by Reggie Simpson (072 909 0748) teen 'n Donderdagoggend om dit op 'n Vrydagoggend af te haal.
Bel en bestel - Moorreesburg
Ondersteun gerus NG Kerk Moorreesburg se Bel en Bestel Basaar van 16 April 2021. Bel gerus die kerkkantoor by 022 433 1105 vir jou bestelling.
TEN LAASTE
Paasfees is die hoogtepunt van die kerklike jaar wanneer ons die opstanding van Jesus Christus herdenk – en baie gemeentes het laat weet dat Paasfees 2021 spesiaal was omdat hulle dit saam kon vier met besondere eredienste en byeenkomste. 
Volgens Woord & Fees word die implikasies van die opstanding verder verken in die seisoen wat op Paasfees volg. Die seisoen strek vanaf Paasfees tot en met Pinkster en sluit die viering van Jesus se hemelvaart (13 Mei) in. “Hierdie seisoen staan in teenstelling met die voorafgaande meer somber en sober herdenkings van Lydenstyd. Net soos die opstanding van Jesus nooit afwesig was tydens Lydenstyd nie, so is die kruis ook nooit heeltemal buite sig in Paastyd nie. Dit is belangrik dat ons oorweldig word deur die wonder van die opstanding met die vreugde van die feestelikheid.”
Die Psalmdigter skryf daar is “Niks goeds nie behalwe by God”. Luister gerus hier na die verwerking van Psalm 16 soos gesing deur die Drakensberg seunskoor.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.