Lees deur internet, klik hier >>
25 Augustus 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
SINODENUUS
1. VGKSA en NG Kerk moderature byeen
Die moderators en lede van die moderature van die NG Kerk en VGKSA het op 22 en 23 Augustus by eMseni in Benoni vergader om kerkhereniging te bespreek. Daar is onder meer gepraat oor die World Communion of Reformed Churches (WCRC) se onlangse vergadering in Leipzig, Duitsland, die tussenorde en padkaart na kerkeenheid, sowel as die Seisoen van Menswaardigheid.
Ons is dankbaar vir hierdie positiewe nuus - red. (Sien foto onder.)
Moderature
Agter vlnr is Godfrey Betha, Dirkie van der Spuy, Elize Morkel, Pieter Grove, Eric Ngema, André Olivier, MH Moima, Barry Tolmay, Dewyk Ungerer, Chris van Wyk en Christina Landman
Voor vlnr is William Julius, DP Carelse, Leepo Modise, Nelis Janse van Rensburg,
Gustav Claassen en Elize Bezuidenhout
2. Diaconia en RCJ dink na oor kerklike meelewing
'n Finansiële bydrae van die Reformed Church in Japan (RCJ) tot die Suid-Kaapse rampfonds in Junie vanjaar, het gelei tot 'n rondetafelgesprek op 17 Augustus oor die diakonaat van die kerk tydens Stéphan van der Watt (Missie Japan) se besoek aan Suid-Afrika. (Foto onder.) Die gesprek is deur die Diensgroep Diaconia gereël.
Hier is die rol en reaksie van die kerk in rampgebeure bespreek, met talle raakpunte wat ons uit die verskillende kontekste raaksien. Rampgebeure het 'n unieke uitwerking op die meelewing waarmee mense reageer.
"Ons wil graag as gespreksgenote verder saamdink oor die missionale geleentheid en 'n spiritualiteit (en teologie) van diakonaat wat verder strek as net die aanvanklike verligting van nood," vertel Nioma Venter (PSD: Diaconia).
Diaconia het opdrag om 'n pro-aktiewe operasionele plan te skryf na aanleiding van die onlangse Suid-Kaapse ramp. Kontak Diaconia by omgee@kaapkerk.co.za.
Gespreksgenote
Betrokke by die gesprek was vlnr Stéphan van der Watt (Missie Japan), Johan Winterbach en Pieter van Santen (Ring van George), Nioma Venter en Sean Esterhuizen (Diaconia)
asook  Willie van der Merwe (Taakspan Diakonaat)
Vrygemaak
3. Barmhartigheidsmaand
Ek gee, omdat ek vry is om te dien 
Reformasie en Barmhartigheid
“Ek help nie sodat ek beloon word nie. Ek gee, omdat ek vry is om te dien en ook omdat ek die beeld van God in die ander kan raaksien.” Só word een van die kerngedagtes van die invloed van die Reformasie op diensbaarheid, deernis of barmhartigheid opgesom.
Ons deel graag Lisel Joubert (Taakspan Reformasie) se verdere gedagtes hieroor. Ons is vry om te dien, daarom kan ons van onsself gee. En volgens Calvyn (Institusie 3.19.5) is ons geringste en grofste pogings tot diensbaarheid aanvaarbaar in die aangesig van God. Die bespreking bevat ook vrae vir Bybelstudie.
(Materiaal met dank en erkenning aan CLF. Sien ook PUBLIKASIES elders.)
4. Kerkgerigte navorsers byeen
Die Diensgroep Toerusting en Navorsing het dié week 'n werkswinkel gehou met kerkgerigte navorsers. Op die foto onder is agter vlnr Adriaan Haasbroek, Marié Britz, Andri Eloff, Nioma Venter, Tom Smith, Wynand Breytenbach, Jaco Botha, Pieter van der Walt, Kobus Schoeman, Ankia du Plooÿ, Frederick Marais, Carike Noeth en Jandré Viljoen. Voor vlnr is Len Hansen, Nelus Niemandt en Dion Forster.
Klik hier om meer oor hulle navorsing te lees.
Groep
5. Sentrum vir Publieke Getuienis
Die SPG het die afgelope week ’n byeenkoms in die Paarl gefasiliteer waar die toekoms van die nuutgeproklameerde stad Paarl bespreek is. Talle sosiaal-maatskaplike uitdagings is bespreek, maar groot klem is ook gelê op die daarstel van ’n nuwe sosiale kontrak wat nuwe sosiale kohesie en ’n verenigde gemeenskap moet help bou. Min, indien enige van die uitdagings wat ons in die gesig staar, sal deur die afsonderlike segmente  van ’n gemeenskap op hul eie opgelos word. Kontak die kantoor by spg@kaapkerk.co.za.
Gespreksgroep
Braam Hanekom (PSD:Publieke Getuienis), Herman Bailey (oud-burgemeester, Wellington), Johan Muller (raadslid), Carel Stander (mentor), Mark van Eyssen (organiseerder), Kosie Möller (eienaar, Oppiestoep)
Voorblad
6. Moderamen van Wes-Kaapland byeen
Die vyfde vergadering van hierdie moderamen vind op 29 en 30 Augustus by die NG Gemeente Vredelust in Bellville plaas. Dankie vir voorbidding dat hierdie vergadering betekenisvol sal wees en ’n sinvolle bydrae tot die funksionering van die sinode sal lewer. Mag almal veilig reis en die weersiens en saamwees opbouend en verrykend vir elkeen teenwoordig wees.
ALGEMEEN
1.
  Badisa Trio Herbou HOOP
Dis byna die einde van Barmhartigheidsmaand. As jy steeds wonder hoe en waar jy betrokke kan raak, gun jouself drie minute en kyk die onderstaande video
Badisa Trio het 14 835 kinders in 2016 gehelp. Jy kan deel daarvan wees. Hulle benodig vrywilligers, soos sielkundiges, psigiaters, arbeidsterapeute, maatskaplike werkers, onderwysers, verpleegsters, versorgers, rekenmeesters, kreatiewe siele vir teater en rolspel, poppemeesters en baie meer. Om HOOP te herstel. Kontak Sjean Smit by 021 987 2940 en raak deel van iets groter as jouself.
Badisa Trio video
Prof Nico Koopman en Marnus Havenga
2. WRK: Ecumenical School on Governance, Economics & Management
Suid-Afrikaners deel van uitgelese groep!

Ons is saam trots en dankbaar: Marnus Havenga (tans tussen Duitsland en Stellenbosch hard besig met doktorale studies in die sistematiese teologie, en as verteenwoordiger van die NG Kerk) is deur die Wêreldraad van Kerke (WRK) genooi om hulle "Ecumenical School on Governance, Economics and Management" (GEM) van 21 Augustus tot 1 September in Lusaka, Zambië, by te woon.
By hierdie geleentheid maak tien gevestigde en vyf jong, opkomende teoloë en ekonome (vanuit WRK-lidkerke van oor die wêreld) ’n intensiewe tiendag-program mee, gefokus op die stem van die ekumeniese kerk (en die teologie) met betrekking tot huidige ekonomiese en ekologiese kwessies.
Van Suid-Afrika is dit Marnus en prof Nico Koopman van die Universiteit Stellenbosch (een van die aanbieders/fasiliteerders) wat GEM bywoon. Ons stuur hartlike seënwense aan beide kollegas. Mag julle dit as 'n verrykende tyd beleef!
Willem Nicol
3. Sentrum vir Geloofsvorming: Retraite met Willem Nicol
Hier is ’n uitnodiging om te oefen om teenwoordiger te leef, nader aan die hier en nou met die Here. Dié VBO-geakkrediteerde retraite vind van 18-21 September in Greyton plaas; inskrywings voor 31 Augustus. (Die Sentrum vir Geloofsvorming is ’n vennoot van VBO en Communitas.) Lees hier meer.
Logo
4. Ken jou kerk: VBO
"Waarvoor staan 'VBO'?" vra ’n leser onlangs tereg. Frederick Marais (PSD: Teologiese Opleiding en Navorsing) verduidelik: 
VBO staan vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling. Die kursusse is gemik daarop om predikante, en dikwels ook lidmate met bedieninge, op ‘n voortgesette basis te ontwikkel ten opsigte van hulle eie persoons- en roepingsontwikkeling; hulle kennis van die onderskeie teologiese dissiplines en die ontwikkeling van bedieningsvaardighede. Daar is jaarliks ‘n uitgebreide program kursusse waaruit predikante kan kies om die punte te verdien waarop daar gekontrakteer is. Kontak Wilma le Roux by wler@sun.ac.za vir meer inligting.
Logo
5. Raakgelees:
5.1 Anglikane besin ook oor selfdegeslagverbintenisse
Ander kerkgenootskappe besin ook indringend oor seksualiteit en selfdegeslagverbintenisse. Die Weekend Argus berig op 20 Augustus: "The Anglican bishops will be urged to finalise guidelines on how its leaders should respond to same-sex partnerships of a 'faithful commitment', following a motion tabled on the matter in Cape Town at the weekend." Die 31 biskoppe (van Suid-Afrika, Lesotho, Swaziland, Mosambiek, Angola, Namibië en St Helena) ontmoet in September. Dan sal die versoek om 'n verslag hieroor beskikbaar te stel, bespreek word. Klik hier vir meer.
Church makes me happy
5.2 Kerke verbind tot kinders?
Een van ons sinode se fokusse is die jeug. Daarom mag dit vir gemeentes se jeug- en kinderwerkers interessant wees om die Wêreldraad van Kerke (WRK) se verslag, "Churches’ Commitment to Children" te bekyk.
Die vraag hoe kerke hulle invloed kan gebruik om kinderlewens te verbeter, is hier in ons konteks net so relevant soos elders in die wêreld. Hulle fokus op drie areas: die veiligheid van kinders, deelname van kinders en om die planeet vir ons kinders te bewaar. Gemeentes kan steeds deelneem en leesstof is hier beskikbaar.
5.3 Barmhartigheid en hulp - waarvandaan ...? 
Kerkbode se redaksionele kommentaar betrek die vraag waar ons hulp vandaan kom. In 'n maand wat ons oor barmhartigheid praat, ervaar sommige dalk min daarvan tussen mense.
Dalk help dit om weer stil na te dink oor dié God wat die hemel en die aarde gemaak het. Dit is Hy wat hierdie wêreld in sy hand hou. Dis Hy wat gewone gelowiges roep tot sy medewerkers om ... te help om gesond te maak, te dien, sy liefde verder te dra. En dit kan God se mense doen, omdat hulle weet op wie hulle vertrou. (Met erkenning aan e-Kerkbode.)
Ps121 - e-Kerkbode
GEMEENTENUUS
Doringdraadbal
1. Suid-Kaapse dankie: Tussen "eina" en "amen"
Ons deel graag hierdie getuienis van 'n spesiale dankie van die NG Gemeente Knysna aan die Ring van George, met terugslae versinnebeeld deur 'n doringdraadbal ... klik hier.
Dit raak aan 'n mens se hart: as kollegas en gemeenskappe mekaar só ondersteun. Net een van vele verhale wat vertel hoe die goeie en mooie selfs uit die trauma van verwoestende brande en as kan voortspruit.
Dankie vir die voorbeeld wat julle vir ons hierin is, Eugene en NG Knysna, saam met julle kollegas in George, Karatara/Segdefield en Plettenbergbaai - én elders in ons land.
*Lees gerus ook hoe Nelis Janse van Rensburg na aanleiding van die Suid-Kaapse brande in e-Kerkbode skryf oor hulp, ondersteuning en 'n nuwe vuur in die NG Kerk
Eugene en Pieter
Eugene Barnard (Knysna) en Pieter van Santen (George-Tuinedal)
2. NG Parowvallei-Oos: Kerkwees met koffie
"It started with a cup of coffee and now we serve the community!"

Wat 'n spesiale uitdrukking van kerkwees, hierdie! Theo Swart en sy wonderlike span van die NG Gemeente Parowvallei-Oos, het weer op Vrydagoggend 18 Augustus hulle gereelde "Care Coffee Corner" aangebied. Waar hulle begin het met sowat 85 koppies koffie, het hierdie missionale bediening wat maandeliks rondom 05:00 plaasvind, Vrydagoggend 250 koppies koffie en beskuit en sowat 150 Johannes evangelies in Afrikaans, Engels en Xhosa aan verbygangers uitgedeel! Klik hier.

Care Coffee Corner 1 Care Coffee Corner 2
Qumran grot
3. Tieners besoek Bybelse tuin
Op Sondag 6 Aug het 'n paar tieners van die Agter-Paarl Geloofsgemeenskap 'n baie unieke ervaring gehad: die groep het besoek afgelê by die Salem Biblical Garden, net 1.2 km van die gemeente geleë.
Dit het die Bybelwêreld beter vir elkeen ingekleur en daar is by verskillende beelde stilgestaan en gesels. Van die hoogtepunte was die uitbeelding van die Qumran-grotte (foto langsaan), die drie groot kruise en die besoek aan 'n graf wat moontlik soos Jesus s'n gelyk het. Lees hier meer.
Groep tieners
Toit Wessels (agter) met die tieners voor die ingang van die tuin
Swartland Mannekonferensie
NG Swartland-Noord
Interkerklike mannekonferensie
5. NG Durbanville-Bergsig: Beradingskursus
Van Philip Scholtz ontvang ons inligting oor hierdie bevrydings- en beradingskursus, aangebied deur Pieter en Helene Theron, wat van 25-27 Augustus by Durbanville-Bergsig aangebied word. Die koste is R540 – om in te skryf kontak Liezl by 021 976 4106 of geestelikeversorging@bergsigdv.co.za.
Philip en Elmien Botha
PREDIKANTENUUS
1. Philip en Elmien Botha gegroet
Philip Botha (voorheen in 'n 50% PSD-pos vir Gemeenteontwikkeling en Kerklike Samewerking [GKS] in ons sinode) bereik emeritaat aan die einde van Augustus 2017. In sy bediening was Philip in Philippolis, Bethlehem-Eureka, Tafelbaai en sedert 2006 in Die Gemeenskapskerk in Sunningdale werksaam.
Peter Adams, wat Philip reeds in 2003 leer ken het toe beide in die Skiereilandse Raad vir Kerklike Samewerking (SRKS) gedien het, vertel meer oor Philip se passie vir evangelisasie en kerkplanting. Ons seënwense aan Philip en Elmien op die pad vorentoe: geniet die vreugde van grootouers-wees en 'n nuwe ritme!
Willie en Charmaine Smith
2. Willie en Charmaine Smith
2.1 Plettenbergbaai neem afskeid
Op Sondag 20 Augustus is tydens die erediens in Plettenbergbaai besondere moeite gedoen om vir Willie en Charmaine Smith, predikantspaar vir 23 jaar in die gemeente, te bedank vir hulle toewyding in die bediening.
Willie het vroeër in Simonstad, in Saldanha met die vlootbasis en die Militêre Akademie, tot in die noorde na Pretoria en Rietfontein-Suid gedien. Ons bid hierdie geliefde en entoesiastiese egpaar baie seën in Port Elizabeth en Jansenville toe. Lees meer. (Die Facebook-reaksie op hul aftrede vertel self 'n verhaal van die impak wat hulle op mense gehad het!)

2. Willie en Charmaine Smith
2.2 Reisgenote kyk terug ...
Anton Louw, voorsitter van die Ring van Knysna, het op Sondag 20 Augustus die voorreg gehad om deel te hê aan Plettenbergbaai se erediens waar Willie demissie met die oog op emeritaat ontvang het. Hy kyk met waardering terug op die werk van die Smith-egpaar, wat "die liefde van Christus op baie praktiese maniere sigbaar gemaak het in die gemeenskap van Plettenbergbaai." Klik hier.
Ook Elize Schnether, wat Willie destyds op die beheerraad van Loeriehof-tehuis in Knysna leer ken het, onthou hom met groot waardering. Lees gerus hier verder
Laaste gebed - Willie en Charmaine Smith
Anton Louw (George-Bergsig), Chris du Preez (Plettenbergbaai), Hennie Kritzinger (VGK emeritus) en Geo Knoetze (Gereformeerde Kerk Eden) lê hul hande op Charmaine en Willie Smith
EKOLOGIE
1. #DinkWater! 87ℓ of minder
Die Stad Kaapstad raai waterverbruikers aan om huise se waterdruk te verminder deur waterdrukkleppe aan te pas. Dit verg slegs vyf maklike stappe en kan jou help om die teiken van 87ℓ per dag te bereik. Klik op die video onder.
Dink water!
2. Klein dade - groot impak!
Jadav Payeng het toegekyk hoe die Majuli-eiland in Indië ’n dorre woestynlandskap ontaard weens die ongekontroleerde afkap van bome (lees hier). Toe DOEN hy iets daaraan: hy plant elke dag vir 37 jaar lank ’n boom. Klik op die video onder om die gevolge te sien – en besluit waar jou dade ’n verskil kan maak.
Jadav Payeng video
Handevat
3. Mense van geloof vat hande
David Botha van Getuienisaksie se Ekologietaakspan skryf: "Verskille in geloof kan diep verdeeldheid veroorsaak. Baie oorloë is in die geskiedenis geveg op grond van geloofsverskille. Gelukkig kan mense van geloof ook hande vat – al is daar diep verskille in wat, waarin en hoe hulle glo.
Klimaatsverandering met al sy ontstellende gevolge bring op die oomblik mense van verskillende geloofsoortuigings bymekaar. Twee organisasies wat mense van geloof kans gee om hande te vat, is SAFCEI (Southern African Faith Communities’ Environment Institute) en ARRCC (Australian Religious Response to Climate Change)".  Lees meer hier.
BEHOU DIE HUMOR
Humor
CLF
NUUSBRIEWE
CLF: Gemeentes getuig en reik uit 
Missionale omgee in gemeenskappe neem verskillende vorms aan. CLF deel graag drie getuienisse waar hulle materiaal gehelp het om uit te reik en God se hande, voete en stem vir ander te wees. Lees gerus hoe gemeentes in die Paarl na Msinga uitgereik het, van die NG Gemeente Robertson wat in die Junie-vakansie by Canzibe in Transkei gaan besoek aflê het en meer! 
CLF Toep
PUBLIKASIES
1. CLF: 
Boodskap van geloof, hoop en liefde
Vandag, na 60 jaar, is Christelike Lektuurfonds steeds die grootste verspreider van Christelike leesstof in vele tale in Suid-Afrika en selfs oor ons landsgrense heen. Laai gerus CLF se jongste PowerPoint-aanbieding (14 MB) hier af. Dit is veral geskik om voor ’n erediens aan gemeentelede te wys. Dit verskaf nie net meer inligting oor CLF nie, maar ook hoe mense betrokke kan raak.
2. CLF: Uit genade deur Christus vrygemaak
Ons kerkfamilie is geseënd met allerlei materiaal om ons te help in ons nadenke oor Reformasie 500. Christelike Lektuurfonds (CLF), een van ons mediavennote, het vanjaar  ʼn pamfletreeks bestaande uit 12 publikasies – een vir elke maand van die jaar ter viering van hierdie herdenking – gepubliseer. Die oorkoepelende tema vir die reeks is heel gepas “Vrygemaak”, aangesien die Reformasie gesien kan word as die herontdekking dat ons uit genade deur Christus vrygemaak is. 
Individue en gemeentes wat leesstof soek oor die praktiese implikasies van die Reformasie vir vandag se gelowige, kan gerus
hiervan gebruik maak.
Pamfletreeks
CLF-pamfletreeks vir Reformasie
Kerkbode 25 Aug
KUIERKANS
Klik onder vir meer inligting en ondersteun gerus hierdie heerlike kuiergeleenthede.
Kuierkans
Kerkbode-logo
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 25 Augustus 2017.
Kerkgebou
1. NG Gemeente Nuwerus: Voltydse leraarspos
Nuwerus is ’n plattelandse gemeente en sowat 70 km noord van Vanrhynsdorp op die N7-snelweg geleë. Hier is tans ’n vakature vir ’n voltydse predikant. Reageer voor 30 September. Aangeheg is meer inligting.
Kerkgebou
2. NG Op-die-Berg: Vakature vir leraar
Hierdie gemeente is in die hart van die Koue Bokkeveld, tussen Ceres en Citrusdal en ongeveer 200 km vanaf Kaapstad, geleë. Die gemeente het ‘n baie goeie verhouding met die VGK asook met Badisa, wat ‘n sterk kantoor op die dorp het. Belangstellendes kan aansoek doen vir die pos as leraar - die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Augustus en  hier is meer inligting. 
Kerkgebou
3. NG Gemeente Ottery: Musiekbegeleier
Die NG Gemeente Ottery, in die suidelike voorstede van Kaapstad, het ‘n vakature vir ‘n musiekbegeleier (orrel, klavier of kitaar) beskikbaar. Aansoeke kan gestuur word na Louna Erasmus by rassie@sanlam4u.co.za. Die sluitingsdatum is 30 September - kry die volledige inligting hier.
Logo
4. Badisa vakatures
4.1 Badisa Silbaai Bejaardesorg: Finansiële beampte

Stilbaai Bejaardesorg is ’n program van Badisa, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking (5/8) as finansiële beampte ingewag. Lees hier en reageer voor 1 September 2017.
Logo
4.2 Badisa Trio Kraaifontein
Twee halfdagvakatures:
Maatskaplike werker en bemarker/fondswerwer

Badisa Trio Kraaifontein wag aansoeke in vir die vakature van ’n maatskaplike werker, sowel as ’n bemarkingskenner om vir ’n tydperk van vier maande op 'n halfdagbasis twee vakatures te vul. Meer inligting is hier. Aansoeke sluit op 31 Augustus 2017.
Steven Sass
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Steven Sass
Ek wil graag in my bediening bly groei. Een van die veilige riglyne van die liefde en die waarheid lui: "Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe (Ef 4:15).”
Staan jy by waarheid sonder liefde, verval jy in fundamentalisme en bedryf ’n wettiese godsdiens. Sodoende word die waarheid koud en klinies. Vroeër was die dominee ’n soort hemelse polisieman wat Sondae die nuutste sonde moet aanspreek. As lidmate uit die kerk stap, kon jy as’t ware die swael ruik!
Staan jy by liefde sonder waarheid, verval jy in ’n sekulêre godsdiens wat al wat sonde is, omarm. Sodoende word liefde vals en sentimenteel. Deesdae word oor sonde nie eintlik meer gepreek nie. Jy moenie aanstoot gee nie, want sien: mense het eintlik nie sonde nie, slegs foute en tekortkominge – en jy mag niemand se grondwetlike reg aantas nie!
Waarheid en liefde is twee kante van dieselfde munt, die een kan nie sonder die ander nie. 

                                                                  ***

Steven was vantevore leraar by die NG gemeentes Elliot en Gamtoosvallei-Oos en deur die proses van standplaasruiling is hy sedert November 2015 by Kleinmond Gemeente. Hy kan gekontak word by sasssteven@hotmail.com.

Ek slat my twee oge op
my kyk vang die verste kop: 
waavanaf sal my hulp nou kom? 
My hulp is van die Jirre, van Hom:
Hy't nou die jimmel an Prieska gekom maak. 
Sonner lat jou voete klipperse raak, 
is Hy skoene agterrie skaap. 
Hy dink nooit nie eers oor slaap. 
Sontyd is Hy hoed op jou kop, 
innie nag hou Hy gevaarlikeit dop. 
Hy's mos nou da om jou op te pas: 
jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas. 
Gan jy nou in of gan jy nou yt: 
Hy's oor jou vi ewig an vi altyd.

Griekwapsalm 121 - Hans du Plessis -
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.