Lees deur internet, klik hier >>
11 Desember 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland, stuur hierdie spesiale boodskap vir feestyd.
2020 Adventsgetuienis
Die moderatuur, PSD’s en lede van die NG dosenteraad wil graag hierdie openbare getuienis lewer. Dit kom te midde van die ontwrigting en verlies wat die COVID-19-pandemie meebring, juis in die tyd van Advent.
Die getuienis is met deelname van verskeie lede van die moderatuur, dosenteraad en PSD-groep ontwikkel. Almal wat deel is van hierdie spanne ondersteun die getuienis.
Mag hierdie Adventsgetuienis vir elkeen wat dit hoor versterkend wees. Klik hier om die volledige getuienis te lees.
16 Dae van Aktivisme
Vandag is Dag 16 van 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders: Eugene Malan van Sonstraal-gemeente vertel in die video onder watter bydrae jy kan lewer om geweld teen vroue en kinders te stop.
Sinodale kantore gesluit
Neem asseblief kennis dat die sinodale kantore in Bellville gesluit sal wees vanaf Vrydag 11 Desember. Ons heropen weer op Maandag 4 Januarie 2021. 
COVID-infeksies in Oos-Kaap neem toe
Stephen Pedro, bestuurder van Getuienisaksie se Taakspan Gemeentegetuienis, en ‘n paar ander predikante in sinodale diens (PSD's) het verlede week via ’n Zoom-vergadering uitgereik na ons kerkleiers in twee VGK-ringe in die Oos-Kaap, naamlik dié van Port Elizabeth en Uitenhage. Hulle word tans baie swaar getref deur nuwe vlae van COVID-19-infeksies. Lees meer daaroor hier
Konflik en gebrek aan sosiale kohesie in SA
Die jaar storm einde se kant toe en almal slaak ‘n sug van verligting. 2020 was ‘n jaar wat niemand sien kom het nie en ook nie kon voorspel het nie. COVID-19, droogtes, die ekonomie en werkloosheid, uitdagings vir die kerk en gemeentes en les bes, kwynende sosiale kohesie in ons land, het ons bykans verlam.
Ons is egter ook dankbaar oor die talle mooi stories wat ons gemeentes bly skryf het en sien uit na 2021. Ons is vol hoop dat ons mooi stories sal bly skryf. 
Daarom het ons hier by die Sentrum vir Publieke Getuienis voorlopig ‘n stukkie gereedskap ontwikkel wat ons hoop gemeentes sal bemagtig om saam eenheid en sosiale kohesie in die land te bou. Klik hier om die dokument af te laai. 
#integritas
Prof Erwin Schwella van die #integritas-beweging gee die volgende terugvoer oor die konferensie wat verlede week in Wellington plaasgevind het.
“My esteemed colleague professor Thuli Madonsela was the keynote speaker at the #integritas conference and spoke about integrity."
During her speech she mentioned: "In SA we need an ecosystem that builds values. Laws do not guarantee integrity. If the social fibre of values lack, corruption finds its way around laws. The broad ecosystem needs to create a culture that rewards honesty. In SA none of this will happen if we do not understand and apply purposeful, pragmatic leadership to address social justice with integrity. Our challenges are complex, but also remember, integrity starts at home."
Together we will contribute to promote integrity and combat corruption in our beloved country. If you are interested in joining the #integritas movement, please like our Facebook page and post interested in the comments. Integrity is Dignity. Corruption Kills.”
Klik hier om meer foto’s van die geleentheid te besigtig. 
DinkJeug se wenk van die week
DinkJeug gaan vanaf 2021 weekliks (tydens skoolkwartale) ‘n Wenk van die Week vir predikante en jeugwerkers per e-pos uitstuur. Dit sal ‘n intergenerasionele moment insluit wat predikante in die daaropvolgende Sondag se erediens kan gebruik. Dit sal aansluit by die leesrooster asook die DinkJeug Familie App. Die e-pos sal ook weeklikse skakels vir ‘n kategete podcast en ander hulpmiddels bevat. Hierdie kort en kragtige e-pos sal leraars in staat stel om familiebediening makliker toe te pas. Die e-pos sal Maandae gratis versprei word. 
Klik hier om op die e-pos in te teken. Jy kan enige tyd kies om uit te teken (unsubscribe ) indien jy nie meer die e-posse wil ontvang nie.
#GROEI 
Die Hoop en Versoening Trust, in samewerking met Diaconia en die Groen Span (Getuienisaksie), deel hulle groentesaadprojek, #GROEI, se vorderingsverslag van 2020. 
Hierdie innoverende projek het vanjaar geloods met die visie om 'n volhoubare leefstyl in gemeenskappe regoor Suid-Afrika te bewerkstellig. Sover het 45 instansies en kontakpersone saam handegevat om hulle gemeenskappe met #GROEI te verryk. #GROEI het ook 417 bedieningspunte bereik en drie groeipunte is in gemeenskappe begin deur eie inisiatiewe. Hulle is tans besig om nog ses nuwe groeipunte te stig.
Die volledige jaarverslag kan hier gelees word.
#imagine 2021
DinkJeug deel graag die volgende nuus oor #imagine 2021! Ons visie om jong SA met hoop te inspireer is nou, meer as ooit tevore, uiters relevant. Hulle skop af met 'n Zoom-inligtingsessie vop Dinsdag 2 Februarie 2021 van 10:00 - 12:00. Kontak Maryke indien jy die inligtingsessie wil bywoon.
#imagine 2021 besonderhede: 
* Wanneer? Saterdag 10 April 2021
* Wie en waar? Verskeie kleiner #imagine local  byeenkomste in elke dorp/streek met drie tot agt kerke wat saamspan om ’n byeenkoms te reël 50-250 mense, afhangend van die COVID-protokol in April.
Hoe? 3-6 ure byeenkoms in ‘n sentrale saal.  Een pakket word voorsien sodat almal dieselfde tema volg: die fokus is brugbou en diensbaarheid, lofprysing, #imagine hype and fun, grootgroepsessie, kleingroepsessie, aksiestasies en uitreikgeleentheid.
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae in Desember
Baie geluk aan die onderstaande gemeentes wat in Desember hulle bestaansjaar vier. Indien daar enige veranderinge is, stel asseblief die Kerkargief in kennis deur 'n e-pos te stuur aan argief@kaapkerk.co.za.
Strand-Noord buitelug-Kerssangdiens
Die gemeente van Strand-Noord hou hierdie jaar hulle Kerssangdiens onder die sterre en nooi ieder en elk om Sondagaand 13 Desember die feesgeleentheid by te woon! Aanvanklik sou die diens einde November plaasgevind het, maar 2020 se vermoë om datums omver te gooi, het helaas ook die beplanning vir die Kerssangdiens beïnvloed. Die gemeente is egter baie opgewonde oor die buitelug-formaat van hierdie jaar se Kersdiens. Dit gaan ’n heerlike geleentheid wees om saam met familie, vriende en bure al die bekende Kersliedere te sing!
Tyd: 19:00
Plek: Parkeerterrein van Gemeentesentrum
Bring saam: masker, kampstoel en kontant vir koffie en lekkernye.
Saaityd by La Rochelle
Tussen 15 November en 6 Desember was dit saaityd by die gemeente van La Rochelle! "Weens die pandemie was daar nog nooit vantevore soveel kwesbare mense tussen ons nie en daarom het die gemeente dit as ‘n unieke geleentheid beskou om te saai. As daar al ooit ’n tyd was vir saai, is dit juis nou! Ons het ons eie kwesbaarheid leer ken in 2020. Laat ons God se wil doen en saai om tot seën vir ander te wees.”
Die gemeente het by verskeie instansies soos die Lucky Lucy Foundation, Alta du Toit Nasorg en Stikland Hospitaal betrokke geraak en lidmate gevra om bydraes te lewer soos wat die Here hul lei.
Kyk die video onder om te sien waaroor hierdie projek gaan en waar lidmate in die gemeente en gemeenskap kon saai. Die pamflet op die gemeente se webtuiste bevat ook meer inligting. 
Dankbaar in Desember
Die gemeente van Durbanville-Bergsig deel vir 31 dae waarvoor hulle gemeente dankbaar is.
"Ons is dankbaar in Desember vir soveel uiteenlopende dinge! Omdat ons lief is vir die Here gun ons mekaar se vreugdes, prestasies en welvaart. Ons leef ook mee waar hartseer en verliese ervaar word. Ons reik uit na ons naaste en gaan voort om goeie werke te doen te midde van moeilike omstandighede in die groter wêreld. Ons beleef die tyd van Advent en die jaar meer as ooit met gemengde gevoelens, maar is dankbaar dat ons die dae kan aftel saam met ander Christene (en nie-Christene). Ons tel die dae in oordenking af. Ons dink aan Christus se eerste koms, maar ook aan sy wederkoms. Vertel dit vir die mense rondom jou. Vergewe mekaar. Praat dinge uit wat krap. Bêre die strydbyl. Begin nuut. Rig jou gedagtes op God en begin elke dag so. Vind jou rus in Hom en moenie skuil agter die wêreld se besige program nie. Geniet die feesseisoen en maak God die middelpunt daarvan."
Klik hier om te sien waarvoor die gemeente alles dankbaar is hierdie maand. 
Versoeningsdag stilmars - 16 Desember 2020
Kerke, besigheidsmense, gemeenskapleiers en die plaaslike owerheid vat hande in solidariteit met die ontwrigting wat COVID-19 in ons land se huishoudings, besighede en gemeenskappe veroorsaak het hierdie jaar. Daar was baie verliese, maar daar was ook tekens van hoop. Daarom nooi Stellenbosch Moederkerk die hele gemeenskap om saam met hulle deel te neem aan ‘n stilmars op Woensdag 16 Desember. 
Almal gaan op die Braak voor die Rynse Kerk om 07:00 ontmoet en dan afstap in Kerkstraat tot voor Moederkerk en dan weer links af in Pleinstraat tot op die Braak. Daar sal almal saam ‘n teksgedeelte lees en bid in Engels, Afrikaans en Xhosa. Deelnemers word ook uitgenooi om ‘n fles koffie of tee saam te bring om na die tyd met mekaar te deel.
"Met hierdie mars wil ons iets van ons afhanklikheid van mekaar demonstreer en ‘n boodskap van versoening uitstuur in ons gemeenskap." 
Sonstraal hou damesontbyt in Laingsburg
Sonstraal-gemeente laat weet dat hulle hierdie jaar 'n mini-Laingsburg Vleisfees geniet het, maar dat selfs die mini-fees ure se harde werk en inspanning van mense van Laingsburg geverg het. COVID-19 het die tradisionele kuier in 'n wegneem-ete verander en die samesyn tussen die gemeentes is veral gemis. “Min het ons geweet dat die Here in 'n gemeentelid se oor gefluister het om in Laingsburg te gaan kuier en hulle met ‘n damesontbyt te gaan bederf.”
'n Klein groepie van agt Sonstralers het begin woeker met hulle talente en uiteindelik op Saterdag 5 Desember om 9:00 die Laingsburg kerksaal se deure oopgemaak om oud en jonk te verwelkom. “Wat 'n voorreg om elke dame te kon seën met 'n eetdingetjie en 'n Sonstraal-sak vol bederfies!! Die Laingsburg gemeenskap kry regtig swaar - die lang droogte is sigbaar op elke gesig en die trane lê vlak.
Gasspreker Bianca Welsch het ons vroue aangemoedig om God se wapenrusting aan te trek en weer met nuwe hoop die toekoms aan te durf. Ons het beleef hoe 63 vroue met breë glimlagte en kop omhoog die Here prys! Laingsburg, ons gebede vergesel julle tot ons mekaar weer sien. Sonstraal-groete van gemeente tot gemeente!”
Dankie aan bogenoemde gemeentes wat hulle kalenders vir 2021 ingestuur het.
GEBEDSVERSOEK
UIT ONS RINGE
Wesland Verenigde Ring bymekaar
Na 'n uitdagende jaar het die lede van die Wesland Verenigde Ring vir ontbyt bymekaar gekom. Kloksgewys van links voor is: 
Quinton Minnaar, Nico Cloete, Kobus van Schalkwyk, Kotze Olivier, Charl van Rensburg, Johan van Rooyen,  Christof Koch, Cassie Zinke, Gert Oosthuizen, André Botha,  Lysander Prins, Richard Holloway,  Kobus de Kock, Konette Louw en Willie Greeff.
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Voedselhulp aan ons susterskerke versterk ekumeniese bande
Die pandemie van die afgelope jaar was rampspoedig vir gemeentes van ons susterkerke en ook vir talle gemeenskappe waarbinne hulle lewe.  In Zimbabwe is die moeilike ekonomiese toestande vererger deur die pandemie en talle gemeenskappe ervaar voedseltekorte.  Die Barnabasfonds, ‘n hulporganisasie in die Verenigde Koninkryk wat veral fokus op kerke wat steeds vervolg word, het onlangs ook na gemeenskappe in Suider-Afrika uitgereik en geld geskenk vir hongerverligting.  Die CCAP Sinode Harare is een van die begunstigdes en kon ’n groot aantal gesinne met kos help.  Die Barnabasfonds werk nou saam met ons susterkerke binne die Reformed Family Forum en Getuienisaksie wat dan die fondse kanaliseer na waar dit dringend nodig is. Uit die verslag van die CCAP se General Secretary, ds Kingstar Chipata, is dit duidelik dat die hulp vir baie gesinne tot groot hulp is. Hy laat weet: “I would like to inform you that we managed to withdraw the money for relief. We bought 1,050 by 20 kg of maize meal that was distributed to 1,050 households who are in need. We gave 20 kg per family. Thank you for the help. They received it with joy.” Kontak Kobus Odendaal by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
VAKATURES
Maatskaplike Hulpwerker: Prins Albert
Die beheerraad van Badisa Maatskaplike Dienste,  Prins Albert, wag aansoeke in vir die bogenoemde betrekking.  Opleiding as maatskaplike hulpwerker, registrasie by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe en 'n geldige Kode B-rybewys is vereistes. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 18 Desember. 
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Internasionale Bergdag -11 Desember
Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het 11 Desember as Internasionale Bergdag aangewys. Sedert 2003 word hierdie dag elke jaar gebruik om bewustheid te skep oor die belangrikheid van berge en om geleenthede en beperkings in bergontwikkeling uit te lig.
Maar Suid-Afrikaners het nog 'n rede om hierdie spesiale dag te vier: Tafelberg is onlangs genomineer as die wêreld se grootste aantreklikheid in die jaarlikse World Travel Awards. Die toekenning is 'n wêreldwye inisiatief om uitnemendheid in reis en toerisme te erken en te beloon.    
Ter viering hiervan het die Table Mountain Aerial Cableway 'n paar interessante feite saamgestel oor Suid-Afrika se 1 085 meter hoë aantreklikheid. Dit kan hier gelees word. 
Eko-vriendelike Kersgeskenke, -bome en -klappers
Ons Groen Span help ons om hierdie jaar se Kersgeskenke op 'n meer ekonomiese en eko-vriendelike manier te verpak. Hulle gee ook wenke oor batterye wat dikwels in ons Kersgeskenke te vinde is. Die span wys ook hoe jy 'n alternatiewe Kersboom en mooi Kersklappers vir die pragtige gedekte tafel kan maak.
Kyk gerus na hierdie video en word wys. 
Die dieper waarde van bome tydens Advent
In die meeste van ons huise staan die versierde Kersbome waarskynlik al reg vir die groot familiefeeste wat aan die kom is - almal in afwagting op die viering van die koms van Christus. In hierdie tyd van Advent, beklemtoon ons eko-korrespondent, David Botha, die waarde daarvan om tot stilte te kom en God se stem te hoor. En ons kan dit regkry deur diep na te dink oor bome. Lees gerus hier meer.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir meer oor Badisa Trio.
Click above for festive wishes and more from Inclusive and Affirming Ministries.
Klik bo vir Missie Japan se Kersfeesflits.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Predikant-kunstenaar sterf aan COVID
Predikant-kunstenaar Marius Lourens (64) het Saterdag na ’n kort siekbed aan COVID-19 in die St George-hospitaal gesterf. Lees berig hier.
Verhale verklap: Jy's 'plekdeler', nie net prediker 
Ja, dis preke, vergaderings en uitreike. Maar daar is ook goed waarvoor teologiese opleiding jou glad nie voorberei nie. Soms is mense se stories ongemaklik en weerloos en dit is juis dáár waar dominees so gereeld ingenooi word, skryf Marileen Steyn en Melanie Thirion hier.
Ná ’n inkeer agter tralies, leef Danny Arendse ‘nou vir versoening’  
Hierdie gevangene het in 1982 in die tronk tot bekering gekom, maar sy vonnis was nog ver van klaar, berig Jacobie M Helena. Klik hier vir die storie en video. 
ALGEMEEN
Raakgelees: Videospeletjies het voordele
Volgens 'n onlangse artikel in National Geographic hoef ouers nie onnodig paniekerig te wees omdat hulle kinders videospeletjies speel nie. Deskundiges reken selfs dat aanlynspeletjies in huidige tye van kwarantyn 'n belangrike sosiale gaping kan vul. Sommige speletjies kan selfs help om betekenisvolle netwerke te kweek en vaardighede soos konflikoplossing, samewerking en selfs empatie aan te leer. Lees hier hoe jy jou kind se digitale speelgrond kan verken.
Vul Dowes se mae en harte hierdie Kersfees
Het jy geweet? Vir slegs R52 kan jy etes vir een bejaarde of meervoudig-gestremde Dowe inwoner by NID vir een dag borg.
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) is hul tuiste waar hulle geliefd voel en versorg word met groot deernis en begrip vir hul spesiale behoeftes. Voedselsekerheid en voorsiening vir hierdie inwoners is een van hulle top prioriteite, maar terselfdertyd ook een van die grootste uitgawes. NID as nie-winsgewende organisasie is verantwoordelik om 90% van hulle fondse self te ontwikkel. Met behulp van skenkings kan NID Sorg voortgaan om voedsame en volhoubare maaltye te voorsien wat voldoen aan hulle bejaarde en meervoudig-gestremde Dowes se voedingsbehoeftes vir 'n aktiewe en gesonde leefstyl. 
Donasies kan aanlyn gemaak word by www.givengain.com/cc/sponsor-a-meal/ of via bankoordrag gedoen word. Vir meer inligting, kontak fr.nid@nid.org.za.
KUIERKANSE
Proteahoogte hou Kersmark
Daar is nog 'n dag of wat oor om in te loer by Proteahoogte se Kersmark. 'n Uitgebreide spyskaart met ligte etes, toebroodjies, pasteie, quiches, slaai, koek en nagereg is beskikbaar as wegneemetes of om in hulle restaurant te geniet.
TEN LAASTE
Dit is ons laaste VrydagNuus vir 2020 en ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om al ons lesers 'n geseënde Kersfees toe te wens. Mag julle feestyd gevul wees met vreugde, vrede, liefde en (waar moontlik) samesyn.
Vir diegene wat na ander bestemmings gaan reis, wens ons 'n veilige rit en tuiskoms. Bly veilig, dra maskers en behou sosiale afstand waar moontlik.
Dit was vir my en Wilmi 'n besondere voorreg om hierdie jaar met julle te kan deel. Ons groet graag met die luisterryke weergawe van O Holy Night deur die groep Il Divo.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.