Lees deur internet, klik hier >>
 19 Augustus 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
SA by Wêreldraad van Kerke
Die Wêreldraad van Kerke se algemene vergadering vind vanjaar van die 31ste Augustus tot die 8ste September in Karlsruhe, Duitsland plaas. Hierdie bly een van die grootste gebeurtenisse op die wêreld se kerklike kalender en vind elke agt jaar plaas.
Meer as 4 000 afgevaardigdes van 352 lidkerke gaan hierdie keer onder die tema "Christ's love moves the world to reconciliation and unity" aan talle wegbreeksessies, besprekings en besluitnemingsprosesse deelneem.  Dit is die eerste keer sedert die hertoelating van die NG Kerk in 2016 dat ons weer as lede sitting neem by ’n algemene vergadering van die Wêreldraad. Ons word verteenwoordig deur ds. Nelis Janse van Rensburg en dr. Gustav Claassen. Die Algemene Sinode het egter gereël dat drs. Nadia Marais, Henco van der Westhuizen, Nico Mostert en prof. Hannes Knoetze as waarnemers die vergadering kan bywoon en kan deelneem aan die prosesse tydens die vergadering.

Die nuus is vroëer bekend gemaak dat prof. Jerry Pillay, dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria,  aangewys is as die nuwe algemene sekretaris van die Wêreldraad van Kerke. Hy is ’n gereformeerde uit Suid-Afrika en 'n leraar van die Verenigende Presbiteriaanse Kerk in Suider-Afrika. Hy is baie bekend in kerkkringe en was vroeër die president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke. Tydens die laaste vergadering van die WGGK, wat in 2017 in Leipzig plaasgevind het, was hy die voorsitter. Hy is ook vroeër deur die WGGK aangewys as fasiliteerder in gesprekke tussen die susterskerke van die NG Kerkfamilie.

Verskeie belangrike temas sal vanjaar by die Wêrelraad aan die orde kom. Die ondervinding is dat die vergadering invloedryk is en ’n groot impak het op die gang van denke in die wêreldkerk. Die NG Kerk se afwesigheid sedert 1962 het ons vir baie lank uitgeskakel uit onderskeidingsprosesse in die ekumeniese wêreld. Die WRK het byvoorbeeld al dekades gelede oor missionaliteit gedink en die betrokkenheid van die kerk in die wêreld herdink. Hierdie is die elfde algemene vergadering van die WRK en belangrike temas soos onder meer die kerk se rol met betrekking tot die ekologiese krisis waarin die aarde verkeer, sal indringende aandag geniet. 
Ons hoop dat al ons gemeentes met voorbidding betrokke sal bly by die vergadering. 
#100DorpeDialoog op Graaff-Reinet
Gemeenskapsleiers wat uit die burgerlike samelewing, sakesektor en plaaslike regering kom, het verlede week op Graaff-Reinet vergader om saam oor die toekoms van die dorp te besin. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis vertel ons meer: "Terwyl daar dele van Graaff-Reinet is wat pragtig daaruitsien, is daar ook groot ellende, armoede en ongelyke ekonomiese ontwikkeling. Soos op baie van ons dorpe is daar groot bekommernis oor ons jeug, dwelmmisbruik, werkloosheid en verhoogde kriminaliteit. Die groot vraag en bekommernis is egter die funksionaliteit van ons plaaslike regerings. Die SPG werk tans aan ‘n model wat die vraag wil beantwoord: Hoe kan ons plaaslike regerings meer verantwoordbaar hou? Daar is ook ‘n gemeenskapsforum gestig wat met die plaaslike ekonomiese forum sal ontmoet. Raak deel van die gesprek! Kry meer inligting oor hierdie projek op die Sentrum vir Publieke Getuienis se webblad
“Japan gaan ALLES van jou vra”
Tobie en Annalie de Wet is in 1974 as die eerste sendelinge vanuit die NG Kerk na Japan gestuur en hulle het jare lank baie waardevolle sendingwerk daar gedoen. Hulle het intussen afgetree en woon in Swellendam. Tans is daar egter om verskeie redes weer ’n leemte om Missie Japan op Shikoku Eiland, een van die behoeftigste areas van die Reformed Church in Japan (RCJ), te verteenwoordig.
Op Maandag 18 Julie het die Komitee Missie Japan besluit om die De Wets amptelik te beroep na die Christian Reformed Church of Japan (RCJ) Shikoku Ring. Daar is wedersyds besluit dat die De Wets vir ’n periode van drie jaar as brugsendelinge sal gaan. Intussen sal Missie Japan nuwe jong sendelinge kan werf en voorberei om op langtermyn voort te gaan om die missie van die NG Kerk saam met die Ring van RCJ Shikoku voort te sit. Daniël de Wet, Getuienisaksie se taakspanbestuurder: Ekumeniese Vennootskappe, het met hulle gaan gesels. Kyk die video onder vir meer inligting.
Retraites vir predikante 
Geestelike leiers speel 'n kardinale rol as ons 'n kerk wil wees wat gemeenskappe transformeer. Dit verg n diepgaande konneksie en verhouding met die Drie-enige God. 

"Die begin van gebed is stilte. As ons regtig wil bid, moet ons eers leer om te luister, want dit is in die stilte van die hart wat God praat. Om hierdie stilte te kan vind, om God te kan hoor, het ons ‘n skoon hart nodig, want ‘n skoon hart kan God sien, kan God hoor, kan luister na God en slegs dan, vanuit die volheid van ons hart kan ons met God praat. Maar ons kan nie praat tensy ons eers geluister het nie, tensy ons daardie konneksie met God in die stilte van ons hart gemaak het nie." (Moeder Teresa en Broer Roger van Taizé).

Theunis Botha van Predikantebegeleiding verduidelik dat daar tydens die verskillende predikante-retraites ruimtes geskep word waarbinne God met die fluisteringe van sy Gees vir ons die melodie en ritme van sy wêreld laat hoor en voel." In 2022 word daar aan elke predikant 'n beurs beskikbaar gestel om een stil-retraite met geestelike begeleiding by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington by te woon.
Alle navrae kan aan Adrienne Bester by bestera@kaapkerk.co.za gerig word. 'n Beurskontrak word met registrasie verskaf. 30 VBO-punte kan verdien word. Klik op die grafika hieronder om te registreer.
“Ek het vir hom gebid en nou is hy my vriend”
So getuig ons Port Welfare Officer (PWO) van BIBLIA, Collins Bomali, wat die seemanne wat by Kaapstad Hawe aandoen met die Woord en hulp bedien. Hy word tans touwys gemaak deur die ervare Robert Wileman wat jarelange ervaring in dié veld het. Biblia-koördineerder Jaco Leeuwner het boonop goeie voorstelle wat baie tot Collins se verdere toerusting kan bydra vir hierdie uitdagende taak. Lees meer daarvan hier asook wat Collins getuig van hoe sy besondere bediening mense se lewens nuwe betekenis gee.
Foto: Collins Bomali (regs) met sy nuwe vriend.
EKOLOGIE
Dit wat ons weggooi, gaan eintlik nie weg nie
Hierdie week begin ons met ’n nuwe reeks Kom ons wys ons liefde. Estelle Botha deel praktiese idees oor haar en ons eko-korrespondent David se persoonlike reis ten opsigte van groener leef. Haar eerste bydrae is Dit wat ons weggooi, gaan eintlik nie weg nie en help ons om na te dink oor wát ons alles weggooi, wáárom ons dit weggooi en hóé ons dit weggooi. Lees hier meer.
De Aar sluit Plastiekvrye Julie af met dorpskoonmaak!
NG Gemeente De Aar het op 13 Augustus saam met Hoërskool De Aar ’n dorpskoonmaak gereël as afsluiting van Plastiekvrye Julie waaraan die gemeente deelgeneem het. Terwyl die groep besig was om skoon te maak, het munisipale werkers opgedaag met hulle toerusting om die groep te help – wat ‘n riem onder die hart om so saam te kon werk!  Ds. Marizanne skryf: “Ek het gedink daar gaan net ’n handjievol mense opdaag – 20 op die meeste – maar soos wat ons skoongemaak het, het al hoe meer mense opgedaag sodat ons aan die einde van die dag gedraai het by meer as 50 mense wat elkeen hulle deel kom doen het!
Wat ’n getuienis oor die verskil wat gemaak kan word, as ons net die eerste tree gee!  Hierdie skoonmaakaksie sal nou ’n gereelde instelling in De Aar word met die hoop dat dit in die toekoms ’n lewenstyl sal word as ons daarmee aanhou,” sê sy opgewonde.
Kontak ds. Marizanne Pfeil-Wessels by marizannepfeil@gmail.com vir meer inligting.
Die verband tussen ons Godstaal en klimaatsverandering
Susan Rakoczy is die volgende eko-teoloog waaroor ons eko-korrespondent David Botha in ons reeks oor ekoteoloë skryf. Sy het vanjaar se CLF Elise Tempelhoff-prys ontvang. In hierdie bydrae fokus David op die inhoud van haar artikel waarvoor die prys aan haar toegeken is. Die titel van haar bydrae wat aan haar die prys besorg het, is God as Father: Patriarchy and climate change. Dit verskyn onder deel 5 van die T&T Clark Handbook wat handel oor Christene se verstaan van God se identiteit en karakter. Lees hier meer.
GEMEENTENUUS
Nuwe lofprysingslied
NG Gemeente Parow-Welgelegen se musiekspan deel met vreugde hulle jongste treffer, Word Verheerlik. "Word Verheerlik is in Mei 2021 deur ons musiekspan geskryf en vroeër hierdie jaar (deur God se genade) opgeneem. 
Dit is ’n maklik singbare gemeentesanglied, trots Afrikaans en vol vreugde! Dit is ons hart om hierdie liedjie met gemeentes te deel, in ’n tyd waar daar nie baie nuwe Afrikaanse gemeentesangliedjies beskikbaar is nie. Die teks-inspirasie vir die liedjie is Psalm 100:4, 'Dien die Here. Loof Hom veral daar waar die gelowiges bymekaarkom. Sing lofliedere saam met almal wat die Here Liefhet. Loof sy Naam,' en Kronieke 16:23, 'Kom sing vir die Here, almal op aarde. Vertel elke dag hoe Hy ons uit die nood gered het. Moenie stilby by die volke nie. Vertel vir die nasies hoe sterk die Here is en wat Hy alles kan doen.'
Of ‘n gemeente net ’n klavier of kitaar, of ’n volle orkes tot hul beskikking het, sal Word Verheerlik maklik bedien kan word en gemeentelede dit maklik kan leer en saamsing tot eer van Pappa Vader. Ons glo hierdie liedjie sal ’n geseënde toevoeging tot gemeentes se lofprysing arsinaal wees en ons voel dankbaar om dit met almal te kan deel."
Gemeentes kan vir Tania Olivier via e-pos kontak en sy sal die akoorde van die liedjie aanstuur. Klik op die skakel onder om na die lied te luister. 
Parowvallei-Oos vier inklusiwiteit
Theo Swart van Parowvallei-Oos skryf: "Hier het ons geleer om dankbaar en bly te wees oor gebeure wat vir ander mense bitter klein en onbelangrik kan lyk.

Op Sondag 14 Augustus het twee nuwe jong lidmate Hannah van Reenen en LeMonté Vries belydenis van geloof afgelê. Die diens was soos gewoonlik volledig tweetalig, ook as gevolg van die twee jongmense se uitlopende taalvoorkeure. Die formulier is spesiaal aangepas om afwisselend Afrikaans en Engels te wees.
Dit was ’n baie mooi oomblik toe Kobus Smit, ons leierouderling wat self byna 60 jaar gelede in die gemeente belydenis afgelê het, die jong dames verwelkom en gelukgewens het! Ons het Lied 537 uit die Liedboek gesing en die woorde verander na 'Vader neem ons hande en maak ons een'. Die hele gemeente (so 80 plus) het ook almal hande gevat. Dit was ’n ongelooflike geseënde en emosionele oomblik. So het ’n klein gebeurtenis tussen ’n paar gelowiges ’n wonderlike oomblik van genade geword."
Foto: die nuwe belydenislidmate saam met hulle ma's aan die nagmaaltafel. Van links na regs: Desiré en LeMonté Vries, Theo Swart en Hannah en Marian van Reenen.
PREDIKANTENUUS
Laingsburg ontvang Heinrich Niehaus
Heinrich Niehaus is op 17 Julie as leraar bevestig by NG Gemeente Laingsburg. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, het sy bevestiging behartig. Heinrich vertel vir ons meer oor wat vir hom opgewonde maak oor die pad vorentoe.
"Die plattelandse opset kom op 'n tyd in ons lewens waar ek en my vrou 'n behoefte het om in 'n gemeenskap tuis te kom en vir die eerste keer saam wortels op 'n plek te lê. So daar is iets voorsienig daaraan, wat my verbeelding te bowe gegaan het; boonop het ons die geleentheid hier om saam te dien. Daar is, so lees ek die situasie, 'n duidelikheid in hierdie gemeente dat die Here hier en nou spreek tot hierdie spesifieke stukkie aarde en die mense wat dit bewerk. My roeping om saam, oor tot die grond en skouer tot skouer te luister vir die Gees wat waai, is net so duidelik. (Terloops, hoeveel ander NG-kerkgeboue is daar met gargoyles wat vir jou loer? Dis fantasties goties.)
Gebed en voorbidding staan heel bo aan die lys van bedieningsverantwoordelikhede. Dan het ons 'n ryke tradisie - dit is soms verbasend watter skatte daarin te vinde is, eerder as om voortdurend die wiel te wil herontdek. En prakties gesproke - bly nederig, want die Here is lank reeds besig voor ek die kansel bestyg. Dis gewone mense wat die banier van die evangelie ophys, werk en kommunikeer en droom daar waar dit aan die gebeur is."
Alles wat mooi is vir jou pad vorentoe, Heinrich!
Oudtshoorn-Noord groet Wilmar Matthee
Wilmar Matthee aanvaar op 28 Augustus vervroegde emeritaat by die NG Gemeente Oudtshoorn-Noord na 33 jaar en agt maande se diens. "Die bedryfsvereistes van die gemeente het te veeleisend geraak om verder 'n voltydse leraarspos te kon dra en daar was ongelukkig geen ander uitweg meer nie. Die afgelope maande was vir almal uitdagend en stresvol. Na soveel jaar van deel in mekaar se lief en leed het daar 'n band tot stand gekom wat met baie gepaardgaande emosies moeilik gesny word, maar die realiteit, wat vererger is deur die COVID-pandemie, het uiteindelik die laaste sê."
Wilmar en sy vrou Pauline bid vir die gemeente die Here se seën toe om in die toekoms met 'n nuwe bedieningsmodel nog baie jare te kan voortbestaan as gemeente en hulle roeping as kerk te vervul. 
Ottery verwelkom Boonzaaiers
Derick Boonzaaier is op 31 Julie by Ottery-gemeente deur Willem Lötter van Kenridge bevestig. "My voete kon nog nie die vloer geraak in die kerk nie, toe moes mamma my keer (in die era van koppiespelde), want ek het altyd ervaar ek moet voor gaan staan en praat. Dit nadat ek Saterdagnagte probeer het om die liturgiese orde te onthou ingeval ek gevra word om die diens te lei. Ottery, met sy diverse multi-kulturele, -sosiale en -ekonomiese gemeenskap, het my omarm en in die laaste 18 maande geleentheid gegee om die roeping te kan uitleef. Wat ‘n voorreg! Die bevestiging was dan bevestigend van sy roepstem!  Die oes is groot, sowel as die uitdagings, maar ons Here is reeds aan die werk. Ek is opgewonde oor woordbediening, pastoraat, sang, hande vat oor grense heen, saam soek na die Here se plan vir ‘n groeiende komplekse samelewing en wêreld, sowel as die samewerking met Zwaanswyk waar ek ook die laaste paar maande begin bedien het. Dankbaar!"
Ons seënwense vergesel jou met jou bediening.
Op die foto geneem deur Marli Fourie is van links na regs: Jeandré, Rouché, Derick en Misha Boonzaaier met Willem Lötter.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Administratiewe beampte, Getuienisaksie
Aansoeke word ingewag vir die bogenoemde betrekking by Getuienisaksie se sinodale kantoor in Bellville. Getuienisaksie is ’n eenheidsbediening van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, die Verenigende Gereformeerde Kerk Suid-Afrika (VGKSA) Streeksinode Kaapland en die Gereformeerde Kerk in Afrika. Die aangewese kandidaat sal verantwoordelik wees vir sekretariële ondersteuning en administratiewe pligte. 
Die geskikte kandidaat moet kennis van en aanvoeling vir die kerklike omgewing hê, veral vir die VGK Streeksinode Kaapland. Noukeurige kantoorbestuur en administrasie, goeie interpersoonlike en telefoonvaardighede asook die vermoë om dagboeke na behore te bestuur en te integreer word ook vereis tesame met rekenaarvaardigheid (MS Office) en bewese taal- en skryfvaardighede. Aansoeke sluit 29 Augustus. Kry meer inligting op https://www.kaapkerkadmin.co.za/poste/.
Musiekkoördineerder, Worcester
Die NG Gemeente Worcester-Audenberg stel hiermee, in biddende afhanklikheid van God, ’n vakature bekend vir ’n musiekkoördineerder. Die ideale kandidaat is ’n NG lidmaat wat op pro-aktiewe wyse ’n musiekbediening tot stand kan bring en bestuur. ’n Toepaslike musiekkwalifikasie met orrel of klavier as instrument en/of bewese toepaslike ervaring word vereis.
Grondige kennis van kerkmusiek (o.a. Die Liedboek, Flam en Vonkk) en klassieke en kontemporêre begeleiding saam met ‘n aanvoeling vir die verskillende tipes spiritualiteite is noodsaaklik. Verder moet die persoon beskik oor goeie bladleesvermoë, ervaring van koorafrigting, goeie interpersoonlike vaardighede en die vermoë om insette te lewer.
Die gemeente droom dat ‘n musiekkoördineerder met passie die hele gemeente sal help begelei om deur musiek en sang mee te werk tot die uitlewing van die visie en God met oorgawe te loof en te aanbid. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Oop Deure in Japannees beskikbaar
Op 15 Julie is “Hirakareteiru Mon,” die Japannese vertaling van dr. Coenie Burger se boek Oop Deure van CLF uitgewers deur Kyobunkwan in Japan uitgegee.  
"Die algemene statistieke wys dat die Christelike geloof ‘n baie klein aanhang van sowat 1.9 miljoen self-erkende, aktiewe Christene in Japan het. Die land is bekend daarvoor dat sendingwerk baie moeilik is en dat die kerk nie dramatiese groei toon nie. In hierdie omstandighede is Christene egter baie getrou aan Hom en soek hulle daagliks om Hom beter te ken en in sy Wil te bly. Daar is `n diep Christelike invloed op baie vlakke van die samelewing in Japan. Aangesien dr. Mino van die Reformed Church of Japan graag nog vir sy eie kerk van waarde wou wees en terselfdertyd vir die NG Kerk sy dankbaarheid wou betoon, het hy besluit om hierdie boek na Japannees te vertaal. 
Dit was ‘n moeilike werk weens die totaal verskillende grammatika van Japannees en Afrikaans en ‘n tekort aan bruikbare woordeboeke, sowel as die probleem om altyd ‘n sekere nuanse korrek uit te druk. Nadat hy die voltooide manuskrip aan regisseurs by Kyobunkwan voorgelê het, wou hulle graag die werk publiseer omdat hulle die inhoud hoog geag het. Dit was egter nog ‘n relatief tydrowende taak om die fyner afwerking van die boek te doen. 
Nou staan die boek egter op die boekwinkels se rakke en ons glo dat God dit ook verder sal neem om hierdie boek ook in Japan te gebruik om sy wil aan sy kerk bekend te maak," lui 'n verklaring van uitgewers CLF.
Argief kry kopie van RFF publikasie
Mariëtte Odendaal oorhandig die hersiene en uitgebreide tweede uitgawe van die publikasie “A Family of Reformed Churches in Africa” aan NG Kerk Argiefbestuurder Andrew Kok.
Mariëtte Odendaal is medeskrywer van hierdie publikasie saam met dr. Gideon van der Watt, redakteur van CLF. Mariëtte is ’n kommunikasiekonsultant vir die diensgroep Getuienisaksie, eenheidsbediening van die VGK Streeksinode Kaapland, die NG Kerk Sinode Wes-Kaapland en die RCA (Reformed Church in Afrika).
Andrew Kok se rol is om die Argief van die NG Kerk in SA te bestuur en toe te sien dat die rekordbestuursprosesse van insameling, ontsluiting, bewaring en vernietiging waar nodig goed bestuur word. Voorts is Andrew verantwoordelik vir finansiële en personeelbestuur van die afdeling en daarmee saam ook skakeling en reklame.
Die publikasie is by al CLF se boekwinkels beskikbaar kan aanlyn gekoop word. 
Hoogtepunte uit Kerkbode
“Daar is nie plek vir ‘skeurmakery’ in die kerk van Christus nie... Ons is oortuig dat daar binne die verband van die NG Kerk genoegsame ruimte is om opreg met mekaar te kan praat, in die hart van ons belydenis mekaar te vind en waar daar verskille is, met respek en deernis op weg te gaan,” luidens ’n verklaring wat die dagbestuur van die Algemene Sinodale Moderamen die week uitgereik het. Klik hier om die verklaring te lees.
Die NG Kerk se Taakspan Navorsing het vandeesweek die tweede Slypskool vir Skrywers in samewerking met Kerkbode by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington aangebied. Die taakspan het 'n pleidooi aan deelnemers gerig om te help om mensestories van data te maak. Lees hier meer. 
Kerklike nuus oor wie is beroep, afgedank of emeriteer het, is nuus wat gemeentes en lidmate in Kerkbode soek. Dit geld ook vir skuiwe by gemeentes asook nuus oor rings- en sinodesittings. Daarom is dit nie verbasend dat die Amptelike Nuus-afdeling (sien grafika onder) een van die gewildste blaaie op Kerkbode se webwerf is nie. Die publikasie doen 'n beroep op ringe en gemeentes om kennisgewings te plaas. Stuur net ’n bondige e-pos aan kerkbode@tydskrifte.co.za met die nodige inligting (‘n goeie kwaliteit kleurfoto byvoorbeeld van ’n nuwe leraar of emeritus-leraar is ook welkom).
ALGEMEEN
Raakgelees: Meer hulp vir slagoffers van GBV
TEARS Foundation bied ondersteuning vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en danksy ‘n borgskap van AVBOB kan hulle selfs meer vroue bereik met die nuttige Help-At-Your-Fingertips-ondersteuningslyn en toepassing.
Die TEARS Foundation is begin deur Mara Glennie, wat self ‘n slagoffer is van geslagsgebaseerde geweld. Mara het tydens haar eie stryd met GBV opgemerk dat dit baie moeilik is om uit te reik vir hulp. Dit het haar geïnspireer om 'n hulplyn te skep wat werk om vroue te verbind met dienste wat hulle sal help om weg te kom van gevaarlike situasies of toegang te verkry tot die mediese sorg wat nodig is om seksuele trauma te oorkom.
Meer as 99 000 slagoffers is met behulp van Help-At-Your-Fingertips tot dusver bygestaan. Die hulplyn het beide 'n telefoonlyn en 'n nuwe toepassing wat 'n vrou in nood voorsien van 'n databasis van meer as 3 000 gratis fasiliteite regoor die land. Bel *134*7355# vir toegang tot die gratis hulpdiens. 
Nuwe sentrum vir MES Kaapstad
MES Kaapstad bewaarheid vandeesmaand 'n droom wanneer die nuwe Parow Sentrum van Hoop oopmaak.
Die organisasie wou graag 'n sentrum skep waar 'n verskeidenheid diensverskaffers onder een dak oplossings vir haweloses kan skaal. "Ons reaksie was nog altyd om professionele dienste aan hawelose en kwesbare gemeenskappe te verskaf deur 'n holistiese benadering van maatskaplike verligting en uitreik, veranderingsgereedheid, werkgereedheid en integrasie. Alle programme is gestruktureer om elke kliënt een stap op 'n slag suksesvol te help," meld Franita Knudsen.
"Die Parow Sentrum van Hoop is die eerste van sy soort en ons nooi die gemeenskap, kerke en besighede om deel te word van hierdie reis. Die Parow Gesamentlike Operasionele Komitee, wat 'n kollektief van verteenwoordigers van die staat, kerk en sekuriteitsektor is, het die sentrum aangeneem en sal saamwerk om 'n mandjie dienste by die sentrum te lewer, maar daar is nog baie wat nodig is, ons is nog ver van om aan al die behoeftes te voldoen."

As jy enige van MES se inisiatiewe wil ondersteun, sluit gerus by hulle Be More-groepe aan deur 'n WhatsApp te stuur aan 082 440 7055 of e-pos Franita by cptfundraising@mes.org.za.
KUIERKANSE
TEN LAASTE
Hierdie Sondag val die fokus in al vier leesroostertekste (insluitend Jeremia 4: 4-10) op roeping.
Volgens Woord en Fees is roeping vir ons as gelowiges die ruggraat van ons geloof. "Steeds bly die misterie van God se roepingswerk ongeskonde en is sy werk altyd van wêreldwye betekenis."
Mag ons hierdie week luister en werklik ons roeping hoor en deurentyd bewus wees dat God altyd by ons is. Luister gerus hier na Hillsong in Afrikaans se Wie U sê ek is.
Foto: Patrick Fore/Unsplash
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.