Lees deur internet, klik hier >>
11 Maart 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Terugvoer van die moderamen
Die moderamen van die Wes-Kaapse Sinode het vandeesweek (7-9 Maart) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington vergader. Dit was 'n geseënde byeenkoms van verteenwoordigers van ons ringe, taakspanne en diensgroepe. Daar is verslag gedoen oor die begroting en sinodale werksaamhede. 'n Opsomming van die vergadering sal eersdaags aan gemeentes gestuur word.
Huldeblyk aan Carin van Schalkwyk
Die moderatuur en moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland het met hartseer kennis geneem van die heengaan van dr. Carin van Schalkwyk. Ons is bewus daarvan dat Carin ’n betekenisvolle leiersrol in die Vrystaatse sinodale sisteem vervul het. Ook op algemene sinodale vlak het ons haar leer ken as iemand wat haar stem beginselvas laat hoor het en onselfsugtig gedien het. Sy was ’n talentvolle leier wat Jesus Christus met integriteit en vreesloos gevolg het. Haar dood is ’n groot verlies vir die kerk in die algemeen, maar in besonder vir die Vrystaatse Sinode. Ons bede is dat die Here u sal vertroos en dat Hy iemand sal voorsien om die groot leemte wat hierdeur gelaat word, weer met onderskeiding te vul. Ons bid vir julle baie genade toe in hierdie tyd en vertrou dat die Here julle reeds met sy liefde en sorg omvou. 
Moderature ontmoet by Volmoed
Die wonderskoonheid van harmonie tussen medegelowiges word in die welbekende pelgrimslied van Dawid in Psalm 133 besing. Die twee leiersgroepe van die VG Kerk (Kaapland) en NG Kerk (Wes-Kaapland) was verlede week (1-3 Maart) saam op reis by Volmoed in die Hemel-en-Aarde Vallei buite Hermanus en kan getuig van olie en dou, soos Goddelike seën digterlik in die Psalm beskryf word.
Die motivering en uitkoms van die ontmoeting van die twee moderature kan aan die hand van drie woorde beskryf word: intensie, inspirasie en uitnodiging. Mettertyd sal daar meer breedvoerig verslag gedoen word, maar vir die oomblik is dit vir ons (die twee moderature) belangrik dat ons gemeentes bemoedig word deur ons ervaring oor hierdie paar dae.
Lees gerus die pastorale brief aan gemeentes in Afrikaans en Engels hier.
Kontekstuele Bybellees-nuusbrief
Een van Stephen Pedro se belangrikste projekte as bestuurder van die Taakspan Gemeentegetuienis is Kontekstuele Bybellees (Contextual Bible Reading). Dit bied ’n baie effektiewe manier om die Bybel op só ’n manier te leer lees dat kerkleiers en gemeentelede dit sinvol in hul onderskeie gemeenskapskontekste kan toepas. Lees gerus meer oor hul strategiese beplanning, opleidingswerkswinkels en aanbiedinge daarvan aan gemeentes. Ons jeug vind veral baie baat hierby. Lees ons jongste Kontekstuele Bybellees-nuusbrief hier.
Halfpadmerk vir stappers
Stappers wat hierdie week die 108 km Stargazing Camino tussen Merweville en Sutherland stap, getuig van die gasvryheid van die gemeenskappe wat hulle ontmoet, maar ook die blywende impak wat die langdurende droogte gehad het. 
Nioma Venter van Diaconia laat weet dat die afstand en uitmergelende hitte groot uitdagings stel. "Soos ons kontak met mense het, kom ons diep onder die indruk van die beproewing waardeur die mense van hierdie streek die afgelope aantal jare is. Ons land se mense moet tog nie nou ophou bid of vergeet van die boere en die uitkringeffek van die droogte op totale gemeenskappe nie. Dit sal 'n kosbare getuienis van meelewing wees as ons daarin kan slaag om ons doel te bereik, naamlik om R600 000 vir hierdie gemeenskappe te kan insamel en dit deur ons gemeentes na ondersteuningsprojekte te kanaliseer."
Jy kan steeds die stappers ondersteun deur as individu, gemeente of besigheid 'n donasie of borgskap te doen. Die inisiatief loop tot einde April. Die bankbesonderhede vir Diaconia se ramphulpfonds is: Nedbank, tjekrekeningnommer 1135900337. Gebruik Stargazing Camino met jou gemeente/naam/besigheid as verwysing.
Murray Jubileumfees
Die 200ste verjaarsdag van Andrew Murray word van 6-8 Mei met 'n jubileumfees op Wellington gevier. Die program sluit 'n dagkonferensie, boekbekendstelling en retraite in. Klik hier vir die naweekprogram en bespreek aanlyn voor 2 Mei. Kontak asseblief vir Bridget Leibbrandt by bleibbrandt@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Bespreek nou vir volgende skribakursus 
Andrew Kok en Collette de Wet van die Argief bied van 6-7 April 'n skribakursus in Wellington aan. Hierdie uiters gewilde kursus is gemik op skribas van gemeentes en ringe, saakgelastigdes, kerkkantoorpersoneel en diegene wat in rekordbestuur belangstel.
Onderwerpe soos kerklike organisasie, strukture en terminologie, administrasie, finansies, personeel en kommunikasie is op die agenda. Klik hier om te bespreek. Die program vir die twee dae is hier beskikbaar.
EKOLOGIE
Wêreld Herwinningsdag – maak dit ooit saak?
Op 18 Maart vier ons Wêreld Herwinningsdag. Op hierdie dag word mense aangemoedig om produkte te hergebruik, minder te verbruik en om te herwin (of soos almal dit ken: “reuse, reduce, recycle”). Die vraag is egter hoe ons behoort te praat oor herwinning in die Suid-Afrikaanse konteks. Hoe lyk herwinning in een van die mees ongelyke lande in die wêreld? Moet ons ooit omgee oor herwinning? Kyk asseblief na ons video hieronder.
GEMEENTENUUS
Stellenberg kry 'n koffiewinkel!
Coffee & Crumbs, die koffiewinkel op die Stellenberg-gemeente se kerkterrein, het onlangs hulle deure oopgemaak. Besoek hulle gerus op weeksdae vanaf 07:00 tot 17:00, Saterdae vanaf 08:00 tot 13:00 en Sondae vanaf 08:00 tot 17:00. Heerlike ontbyt, ligte middagetes en slaaie word saam met 'n groot verskeidenheid drinkgoed bedien.
Die koffiewinkel funksioneer heeltemal onafhanklik van die gemeente. Die eienaars is Jessica Vice en Lionel van Rensburg. Jessica het elf jaar ondervinding in die restaurantbedryf en vertel dat sy en Lionel baie opgewonde is om dié nuwe projek van stapel te stuur. Hulle is geesdriftig en dankbaar dat hulle die perseel kan benut aangesien hulle oortuig is dat dit die ideale ruimte vir ’n koffiewinkel bied.
Meer oor Coffee & Crumbs kan op Stellenberg se webtuiste gelees word. 
Aswoensdag by La Rochelle
Lydenstyd is ’n tyd vir selfondersoek, skuldbelydenis, gebed en diens aan ander. Daarom wou La Rochelle-gemeente graag ‘n spasie skep waarbinne hierdie selfondersoek en gebed nie net deur individue in elkeen se eie persoonlike spasie plaasvind nie, maar ook binne die geloofsgemeenskap. Jana Dickason skryf: "Ons probeer elke jaar gebedsruimtes skep waar ons hoop mense ‘n ontmoeting met Christus kan hê. Die laaste twee jaar moes ons dit egter virtueel doen. Daarom was dit ‘n besonderse voorreg om weer hierdie jaar vir ons gemeente ‘n gebedsreis saam te stel waar elkeen op hul eie deur die kerkgebou kon wandel. Ons is dankbaar vir ‘n ongelooflike span mense wat elke jaar met opwinding en passie gereedstaan vir hierdie taak.
Hierdie jaar het ons gebedstasies vir Aswoensdag aangesluit by ons gemeente se jaartema: Jesus Christus is Here (Fil 2:11). Ons gebed is dat hierdie ruimtes ook ‘n geleentheid skep waar lidmate ’n ontmoeting met Jesus Christus sal hê. Ons glo dat die sewe stasies wat ons gebou het, elk met sy eie teksgedeelte en gebedshandeling, ons help om voor te berei vir die Paasfees, wat die hoogtepunt van die kerklike jaar is.
Baie dankie aan elkeen wat agter die skerms hard gewerk het. As julle iets wil beleef van hierdie gebedsreis, kan julle hierdie skakel volg." 
Lydenstyd op Piketberg
Het jy onlangs verby Piketberg-gemeente gery en gewonder waarom sommige bome rooi jassies aanhet? “Ons bevind ons tans in Lydenstyd en ons dink na oor die lyding wat Jesus vir jou en my moes deurmaak op sy pad na die kruis. Die rooi jassies om die bome is ‘n herinnering hieraan. Lydenstyd is ‘n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, vas, gebed en diens aan ander om sodoende ons voor te berei vir Paasfees wat die hoogtepunt van die kerklike jaar is,” skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. 
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
MALAWI – Bewusmaking: Geslagsgebaseerde Geweld
Geslagsgebaseerde geweld is oral ter wêreld ’n groot probleem. Dit was om hierdie rede dat die Fishers, Trainers and Senders (FTS)-bediening in Lilongwe, Malawi, 'n bewusmakingsprogram hieroor ontwikkel het en dit onlangs baie suksesvol aan 13 egpare (van wie die meeste van hulle kerkleiers was) sowel as aan 9 117 skoolkinders, aangebied het. Louise Laubscher, direkteur van FTS, deel meer oor die program hier
Foto: Heel links is Stonard Banda (adjunkdirekteur van FTS), langs hom is Louise Laubscher (direkteur van FTS), 6 van die 13 paartjies en heel regs is Ishmael Devison (boekhouer van FTS).
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraar, Parow
Parow-gemeente is geleë in die sentrale stadsgebied van Parow en bestaan tans grootliks uit senior burgers. Die gemeente grens aan Voortrekkerweg en hierdie deel van die gemeenskap is sosio-ekonomies en kultureel baie divers en word nog nie bedien nie. Binne die gemeentegrense is twee laerskole, asook Parow Dienssentrum (Hernus Kriel Behuising). Die gemeente se visie is: “Die liefde van God maak ons ’n oop deur.” 
Hulle is tans op soek na verkieslik 'n jonger (tot en met die ouderdom van 30 jaar) predikant om hierdie pos te vul. Verder moet die persoon ’n "all-rounder" wees wat in noue skakeling met die kerkraad oor al die huidige bedieninge en diensterreine kan werk. Die ideale kandidaat is verkieslik iemand wat ’n aanvoeling het vir die uitbou van die gemeente oor tradisionele grense en moet ook rekenaar- en digitaalvaardig wees. Aansoeke sluit 31 Maart. Die volledige advertensie kan op Kerkbode se webblad gelees word. 
Medeleraar (Jeug), Stellenberg
NG Gemeente Stellenberg is ’n makrogemeente op die grens tussen Bellville en Durbanville. Die gemeente bestaan uit die volle spektrum van ouderdomsgroepe en het 'n dinamiese jeugbediening.  
Die suksesvolle kandidaat moet kan leiding neem om die jeugbediening tot nuwe hoogtes te voer.  Hy/sy moet onder andere ’n span vrywilligers identifiseer en as gids optree om hulle te motiveer en te inspireer. Die span moet deur die bou van verhoudinge en geestelike begeleiding die jongmense in die gemeente kan lei en ondersteun om in ’n verhouding met die Here te leef.  Die suksesvolle kandidaat sal ook as lid van die leraarspan bereid en in staat moet wees om die groter gemeente, soos nodig, te bedien. Aansoeke sluit 31 Maart. Klik hier vir meer inligting. 
Terreinbestuurder
Stellenberg-gemeente benodig ook die dienste van ’n terreinbestuurder wat verantwoordelik sal wees vir die algemene bestuur van die terrein, geboue, terreinpersoneel en bates asook die verhuring en bespreking van lokale. Die geskikte kandidaat moet rekenaarvaardig wees en oor goeie organisasievermoë en menseverhoudinge beskik. Diensaanvaarding is 1 April. Stuur ’n dekbrief en kort CV voor 25 Maart aan odette@stellenberg.co.za. Rig navrae aan ds. René Potgieter by 021 976 4519 of rene@stellenberg.co.za.
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Nuut op CLF se rak
CLF se jongste publikasie Ons sal sterwe, ons sal lewe – gedagtes oor verganklikheid en ewigheid geskryf deur Johan Cilliers, is nou beskikbaar teen slegs R250.
Die titel verklap reeds veel oor dié boek se inhoud. “Ja, die dood is dodelik; maar God se trou maak die hek na die hemel oop”, skryf Cilliers. Vier van Johan se pragtige skilderye van die Karoo-landskap, ryk aan simboliek, is in die boek opgeneem. Hierdie boek is bedoel vir ons ontwrigtende tyd; dit bring egte troos, vaste hoop. Koop dit aanlyn of stuur ’n e-pos na order@clf.co.za.
KUIERKANSE
ALGEMEEN
Raakgekyk: Pa's naweek
Lekkeslaap, 'n Afrikaanse aanlynplatform wat gebruikers help om verblyf in Suid-Afrika te bespreek, is alom bekend vir hulle skreeusnaakse advertensies. Dié reisplatform laat Afrikaanssprekendes regoor die wêreld lag met hulle komediesketse waarin die karakter Hannes slim woordspeling gebruik om ‘n verskeidenheid van situasies waarin hy homself bevind op te helder. Hannes word deur die Suid-Afrikaanse akteur en komediant Pierre Breytenbach vertolk. Kyk na die video onder om te sien wat afspeel nadat Hannes “Pa’s naweek” verkeerd verstaan het. Die volledige lys van Lekkeslaap se lagwekkende video’s kan op hulle YouTube-kanaal gekyk word.
TEN LAASTE
Die sleutelteks vir eerskomende Sondag kom uit Psalm 27 met 'n unieke boodskap oor die gestalte van geloof. Volgens Woord en Fees word Die Here is my lig en my redder gekenmerk deur vertroue in God te midde van uitdagings, aanvegtings, teenspoed en gevaar. "Dit verwys na geloof wat nie afhanklik is van die verdwyning van alle gevaar, die oplossing van alle probleme en helder of duidelike antwoord op elke gebed voordat jy God kan vertrou nie. Die psalm verwoord Dawid se worsteling om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teenstand en teenspoed."
Hierdie teks is vandag steeds relevant. Ons dink hierdie week aan die mense van Oekraïne en Rusland, asook die res van Oos-Europa. Mag die God van Genade sy beskermende hand oor hulle hou. Luister gerus hier na die verwerking van 'n Oekraïniese gebed deur Rooted in Christ. Met dank aan Gordonsbaai-gemeente.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.