Lees deur internet, klik hier >>
13 Mei 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Terugvoer oor streeksbyeenkomste
'n Sinodale span bestaande uit verteenwoordigers van die moderatuur en predikante in sinodale diens het vandeesweek hulle belangrike streeksbesoeke afgesluit in Bellville. Nioma Venter gee die volgende terugvoer oor die byeenkomste: 
"Om Jesus met waagmoed te volg, beteken per implikasie dat jy jouself dikwels op onseker plekke gaan bevind, maar blindelings bly vertrou; dat jy uitermate uitgedaag mag word, maar doelgerig kan voortbeur; dat jy nie al die antwoorde het nie, maar dat jy Hom vertrou wat wel weet; dat jy soms sal voel om eerder te vlug, maar jou staan bly staan omdat jy weet dat jy geroep is en nie alleen is nie. 
Daar loop ’n paar goue drade deur die gesprekke van al ses byeenkomste. Ons hoor van verdieping in mense se geloof en vertroue in God. Ons hoor en besef dat hierdie groei vir baie met groot pyn en ongemak gepaard gegaan het. Ons hoor en beleef hoe die Here mense se passies lewend gemaak het en hoe roeping mense in beweging gebring het. By elkeen van die besoekpunte, sonder uitsondering, hoor ons dat mure van verdeling in gemeenskappe geval het; hoe netwerke en vennootskappe ontstaan het en hoe impak en effektiwiteit verhoog is. Ons staan verwonderd oor die kreatiwiteit waarmee gemeentebediening voortgegaan het, nuwe fokusse ontdek is en nuwe benaderings ingespan is. Ons hoor ook die waardering vir kerkverband en onderlinge verbondenheid en die pyn wat met verdeeldheid gepaard gaan.
Wanneer die vraag aan tafel gevra word wat ons aanvoeling oor die pad vorentoe is, raak ons bewus van ’n sensitiwiteit en besorgdheid oor die ekonomiese implikasies van die droogte en die pandemie en die nadraai daarvan wat nog nie duidelik is nie. ’n Pro-aktiewe gesprek oor die moontlike implikasies vir die florering van gemeenskappe behoort op ons agenda te bly. Die feit word tydens meer as een van die besoeke geopper dat die kerk baie hard sal moet werk aan inklusiwiteit. Ons wil ’n kerk wees wat sag met mense omgaan en ruimte maak vir mense. Oor een ding is daar regdeur al die besoeke eenstemmigheid: ons kan nie en durf nie net terugval in ou weë van kerkwees nie, maar moet die versnelling van transformasie wat COVID teweeg gebring het, gebruik om oor die pad van bediening vorentoe te besin. Tafelgesprekke neig in dié sin meer na herlewing as na oorlewing! Die gesprekke is hoopvol. God is getrou!"
Die moderatuur sal nou ’n volledige oorsig neem op die gespreksuitkomste van die streeksbesoeke en temas wat navore gekom het in die beplanning van ons Wes-Kaapse Sinode van 2023 opneem. Klik hier om Nioma se volledige skrywe te lees.  
Foto's van links na regs: Die binnelandse roete van meer as 1400km wat in week twee van die streeksbesoeke afgelê is, die sinodale span in Meiringspoort onderweg na die Suid-Kaap en die laaste byeenkoms wat vandeesweek in Bellville gehou is.
Proponentefonds help om droom te verwesenlik 
Aangesien meer as die helfte van ons VGK Streeksinode Kaapland-gemeentes sonder 'n predikant moet funksioneer, het die gesamentlike VGK, NGK en RCA-diensgroep, Getuienisaksie, sedert 2018 saam met die ander VGK-bedieninge ’n Proponentefonds in die lewe geroep. Hierdie fonds ondersteun gemeentes om proponente te kan beroep. Dit behels ’n bedrag van R5 000 per maand vir 12 maande wat op aansoek van gemeentes beskikbaar gestel kan word.
Ons is dus baie opgewonde oor ds. Msawenkosi Ntshongwana wat op 30 April by die VGK (URCSA) Vredenburg as leraar bevestig is. Hy was vanaf Junie 2021 tydelik as hulpprediker vir ses maande aangestel nadat die ringskommissie sy seën daarop geplaas het. Die ring het ook onderneem om met die gemeente saam te werk sodat dit finansieel in staat kan wees om hom moontlik permanent as tentmaker aan te stel. Hierdie bevestigingsgeleentheid was dus die vrug op baie aanvoorwerk wat hierdie aanstelling moontlik gemaak het en waarvoor ons die Here dank.
Wat die bevestiging van ds. Ntsongwana ekstra spesiaal maak, is dat hy ook die eerste swart, Xhosasprekende predikant in die gemeente en hul ring is. Lees meer van proponent Ntshongwana HIER. Kom meer te wete oor die Proponentefonds HIER.
Foto: Ds. Ntshongwana tydens die bevestigingserediens by die VGK Vredenburg op 30 April.
BIBLIA Kalkbaai – baken van hoop 
Marvin Petersen, die PWO (Port Welfare Officer) van Biblia Kalkbaai, bedien die vissersgemeenskap daar nie net met die wonderlike boodskap van Christus nie, maar pas dit ook prakties toe. As organiseerder en bestuurder van die Mercy Ministry-projek word hy bygestaan deur sy vrou Veronika en sorg hulle ook dat die gemeenskap daar van praktiese hulp voorsien word om ’n beter lewe te kan help maak. Lees meer oor hulle werk hier.  
Foto: Veronika Petersen (regs) by een van die vroue van Kalkbaai wat danksy die Mercy Ministry-projek weer kos op die tafel kan sit.
SPG hou konferensie oor haweloses
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het in samewerking met MES, Straatwerk en Groote Kerk ‘n insiggewende konferensie oor haweloses aangebied. Dit is deur verskeie rolspelers bygewoon wat ds. De La Harpe le Roux van die Torings van Hoop-gemeente in Bloemfontein ingesluit het. Daar is ook na die stemme van voormalige haweloses geluister. Braam Hanekom lig van die belangrikste insigte uit:
"Die komplekse en gelaagdheid van die uitdaging. Haweloses is nie ‘n homogene groep nie en daar is ook nie ‘n enkelvoudige en eenvoudige oplossing nie. Daar moet ‘n onderskeid gemaak word tussen 'houseless' en 'homeless' mense. Wat ons sien, is die resultaat van ‘n gebroke en stukkende gemeenskap waarvan ons deel is. Die kerk sal op reis moet gaan en dit gaan vra dat ons fisies veel nader aan hierdie hawelose gemeenskappe sal moet beweeg. Hoe verander ons ons eksklusiewe ruimtes na ware inklusiewe ruimtes? Die aanbod van oortollige kerkgeboue  en ruimtes is in detail bespreek, asook omvattende en holistiese strategieë wat kulmineer by die herintegrering van haweloses in die breë samelewing. 
Ons soek egter dringend gemeentes wat bereid is om hul hande 'vuil te maak' en in die 'messiness' van so ‘n reis betrokke te raak. Dit hoef nie chaoties te wees nie. Ons soek egter gemeentes wat bereid is om klein lewegewende gemeenskappe te bou. Verhoudinge is hier die sleutel. Intussen moet ons veel beter data oor die uitdaging insamel en dringende gesprekke behoort nou met die stad te volg. Die WCEN praat ook volgende week verder oor die saak."
Vir meer inligting kontak braam@kaapkerk.co.za.
'n Hupstoot vir gemeenskapsgroentetuine
Die Hoop en Versoening Trust wil graag gemeenskappe help om gemeenskapstuine te begin met behulp van hulle #GROEI-projek. Die trust poog om volhoubare voedselvoorsiening vir gemeenskappe moontlik te maak (ook finansieel) en sal alle moontlike ondersteuning gee.
Al wat jy moet doen, is om die grond beskikbaar te stel (dit kan bv. by ‘n kerk of skool wees) en 'n klein span toegewyde mense saam te stel wat die projek sal dryf. Ons doen die res. Die bestuurspan moet meer as een gemeenskap verteenwoordig. Vir meer inligting kontak vir Braam Hanekom by braam@kaapkerk.co.za
EKOLOGIE
Doen wat saak maak – dis maklik!
Moenie dat al die ekologiese probleme jou oorweldig nie - daar is goeie nuus! As ons ALMAL saamstaan, kan die hele wêreld 'n beter plek word om in te woon. Baie dankie aan Rudolph Scharneck vir sy inspirerende bydrae oor wat gedoen kan word. Kyk na die kort video hieronder en lees ’n artikel daaroor hier
Wêrelddag vir Swerfvoëls
Die Verenigde Nasies fokus twee keer per jaar (14 Mei en 8 Oktober) op swerfvoëls wat seisoenaal migreer. Hierdie jaar is die tema Dim the Lights for Birds at Night en word daar gekyk na die effek wat ligbesoedeling op die migrasiepatrone van hierdie voëls het. Ligbesoedeling neem jaarliks met 2% toe en het 'n beduidende effek op die voëls omdat die kunsmatige beligting veral in stedelike gebiede tot disoriëntasie kan lei. Lees hier meer oor die veldtog en hoe om betrokke te raak.
GEMEENTENUUS
Graafwater vier 75ste bestaansjaar 
Die gemeente van Graafwater vier vanjaar hulle 75ste bestaansjaar. Die afgelope naweek het ds. Frik Kleinhans, 'n voormalige dominee van die gemeente, 'n spesiale erediens gelei. Die sleutelteks is uit Openbaring 7 gehaal. Om Moedersdag te herdenk, is daar tydens die diens 'n ruiker aan mev. Betsie Stols, die oudste moeder in die gemeente, oorhandig en al die ander ma's het 'n sjokoladebederf en bemoedigende versie ontvang. Daar word ook nog 'n gemeente-ete beplan.
Houtbaai soek stoele 
Houtbaai-gemeente is op soek na bekostigbare stoele vir hulle om tydens hulle eredienste te gebruik. As jou gemeente stoele beskikbaar het wat nog in 'n goeie toestand is, kontak asseblief vir Colitha van Rensburg weeksoggende by 021 791 0022.
UIT ONS RINGE
Ring van Beaufort ontvang skenking na sterrestap
Diaconia het verlede week 'n skenking van R240 000 aan die Ring van Beaufort gemaak na die Stargazing Camino fondsinsameling. Nioma Venter van Diaconia noem dat ons geroep is om barmhartig te wees soos ons Vader barmhartig is (Lukas 6:36).
"Dit is ook by Jesus dat ons barmhartigheid sien en beleef as ’n diepe beroering oor die lot van mense. Jesus reik oor alle grense uit na mense in nood, eenvoudig omdat Hy nie anders kan nie. Sy wese is dié van barmhartigheid, net soos die wese van sy Vader. Die afgelope aantal jare was ons as geloofsfamilie intens bewus, besorgd en in ons binneste geroer oor die druk waaronder die gemeenskappe in die Ring van Beaufort verkeer.
Daarom het ons uitgereik deur die Ring te besoek en ook terselfdertyd die res van die land op te roep tot deelname. Dit het aanleiding gegee tot die skenking van veevoer, die ondersteuning van ’n Kerskoekie-projek en die Stargazing Camino. Laasgenoemde het fondse ingesamel wat deur die gemeenskappe in die Ring aangewend kan word vir die versorging en heropbou na soveel jare se beproewing. 
Die fondse kan na goeddenke verdeel en aangewend word in die gemeenskappe waar daar die grootste nood is. Die Ring word hierdeur bemagtig om iets sigbaars en daadwerkliks te doen, al is dit hoe gering, om mense te herinner dat God ons sien en hoor wanneer dit met ons swaar gaan. Aangesien Diaconia 'n eenheidsbediening is, moedig ons altyd ’n ekumeniese benadering aan en hoop dat die Ring veral in oorleg met die VG Kerk oor die aanwending kan besin." 
Foto van links na regs: Japie van Straaten (Beaufort-Wes), Nioma Venter (PSD: Diaconia), Kallie le Roux (emeritusleraar Merweville), Theo Badenhorst (Richmond), Dirk Steyn (Victoria-Wes), Suléne du Toit (Fraserburg) en Herman Burger (Merweville).
ONS FAMILIE IN AFRIKA
NetACT op besoek in Mosambiek
Hannes Theron, NetACT-programkoördineerder sedert Januarie vanjaar, was vanaf 29 April tot 6 Mei op besoek aan Hefsiba, Noordwes-Mosambiek. Hierdie besoek is van groot belang omdat Hefsiba groot baat vind by die voordele wat hul verbintenis aan NetACT hulle bied. Hefsiba is een van die staatsgeakkrediteerde opleidingsinstellings vir predikante van die IRM, een van ons susterskerke in Mosambiek. Lees meer daarvan hier.
Foto: Ds. Hannes Theron van NetACT, dr. Manasse Matiquele, algemene direkteur van Hefsiba Instituut vir Christelike Hoër Onderwys, en ds. José Teixeira van INFORTE, ‘n Christelike organisasie wat op diplomavlak opleiding gee aan toekomstige predikante.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Koster, Pinelands
Die kerkraad van NG Kerk Pinelands het die dienste van ʼn koster nodig. Dit behels die nodige bystand tydens dienste en om na die instandhouding van die kerk en tuin om te sien. Hierdie is ʼn permanente kontrak, maar die dienste word op ʼn ooreengekome deeltydse basis verwag (minimum 20 werksure per maand). 
Die ideale kandidaat moet beskik oor matriek as minimum kwalifikasie, moet bereid wees om naweke en na-ure te werk en moet binne maklike bereik van die kerkgebou woon. Twee jaar se ondervinding in ʼn soortgelyke aanstelling sal sterk in die kandidaat se guns tel. Verdere vereistes sluit die vermoë om basiese praktiese herstelwerk te doen, effektiewe kommunikasievaardighede, basiese rekenaargeletterdheid, kennis van basiese elektroniese en klanktoerusting in. Eie vervoer is noodsaaklik. Aansoekers moet ʼn motiveringsbrief van 200 woorde en ʼn CV (nie langer as twee bladsye nie) na heleen.m@iafrica.com stuur. Sluitingsdatum vir aansoeke is Maandag 16 Mei 2022 om 17:00. Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Skriba, George
NG Kerk George-Tuinedal benodig die dienste van ‘n skriba/kantoorbestuurder in hulle kerkkantoor. Dit is 'n permanente betrekking met diensaanvaarding op 1 Augustus 2022. 
Die suksesvolle kandidaat moet oor bewese vaardighede en naskoolse opleiding in kantooradministrasie beskik, rekenaargeletterd wees (veral in die nuutste MS Office pakket), bewese vaardighede in kommunikasie en bemarking hê, goeie menseverhoudinge kan handhaaf en in spanverband kan werk. Ondervinding in finansiële administrasie en veral Pastel-sagteware sal voordelig wees. Die persoon moet ‘n belydende Christen en verkieslik ‘n lidmaat van die NG Kerk wees met ‘n sensitiwiteit vir die eise en konteks van die kerklike werksomgewing. Aansoeke sluit Maandag 30 Mei 2022 om 10:00. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Medeleraar/diensleraar, Montagu
Die kerkraad wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van bedienaar van die Woord vir die gemeente van Montagu. 
Montagu-gemeente is 168 jaar oud en is in die Ring van Swellendam. Die gemeente bedien die dorp en omliggende plase se lidmate asook die breër gemeenskap. 
Gewone predikantspligte volgens Artikel 9 van die Kerkorde, met spesifieke fokus op families en jeug is van besondere belang met die oog op ’n beroep. Die ideale kandidaat is iemand wat oortuig is dat hy/sy geroep is deur God om in die bediening te wees en sy/haar verhouding met God sigbaar uitleef. Die leraar moet ’n persoon wees met kreatiewe en vernuwende denke (met respek vir tradisies) en ’n  passie vir die diversiteit van ’n plattelandse gemeente. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 17 Junie 2022. Klik hier om die volledige advertensie te besigtig. 
Hulpleraar, St. Helenabaai
Die gemeente en kerkraad van die VGKSA St. Helenabaai maak in dankbaarheid aan die Hemelse Vader dié vakature van hulppredikant bekend. Die posbeskrywing kan met verwysing na Algemene Sinodale Bepaling 9 nageslaan word. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 Mei om 16:00. Klik hier vir die volledige advertensie. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
ALGEMEEN
Sensus 2022
Statistiek Suid-Afrika het vir huishoudings in die Wes-Kaap tot 14 Mei gegee om sensusdata aanlyn in te dien. Die uitstel van die oorspronklike spertyd volg op 'n sterk reaksie deur inwoners van die provinsie in die oproep om getel te word, aangesien sensusinligting noodsaaklik is vir die bepaling van die befondsingstoekenning aan provinsies en munisipaliteite. Sensusdata sal gedetailleerde inligting verskaf oor waar skole, klinieke en huise gebou moet word en waar elektrisiteit, water en rioolinfrastruktuur benodig word. Sensus het dus 'n impak op die lewe van elke inwoner en almal word aangemoedig om getel te word. 
Premier Alan Winde het 'n spesiale beroep op inwoners gedoen om aan die sensusopname deel te neem. Hy het beklemtoon dat dienslewering direk deur sensusdata beïnvloed word aangesien dit verreikende gevolge vir die provinsiale begrotings het. Teen 5 Mei het nog net 61% van die provinsie se bevolking aan die sensus deelgeneem.
Die voltooiing van die vraelys neem slegs 15 – 30 minute. StatsSA verseker respondente dat alle persoonlike inligting wat vir die doel van die sensus ingesamel word, streng vertroulik gehou word.
Die vraelys is aanlyn beskikbaar op https://getcounted.statssa.gov.za en is data free sodat inwoners die vrae kan beantwoord op 'n tyd en plek wat vir hulself gerieflik is. 
Bybelgenootskap-hoof internasionaal aangestel
Dirk Gevers, die uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, is onlangs aangewys as die nuwe direkteur-generaal van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe. Hierdie wêreldwye netwerk van Bybelgenootskappe is in meer as 240 lande en gebiede werksaam. Hy is die eerste ampsdraer van ’n Bybelgenootskap in Afrika om hierdie rol te beklee. 
In 'n mediaverklaring noem Gewers dat hy opgewonde is oor die nuwe uitdaging. “Ek is hartseer om van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika afskeid te neem, maar dankbaar vir die vormende rol wat dit gespeel het om my te help om die Bybelgenootskapmissie te verstaan.”
Raakgelees: Hou vakansie tussen die sterre  
Dit blyk dat ruimtetoerisme nader as ooit is. Voyager Station, die eerste kommersiële ruimtehotel in ons geskiedenis, beoog om hulle deure teen 2027 oop te maak en sal 280 gaste en 112 bemanningslede kan akkommodeer. Die projek word deur Orbital Assembly Corporation (OAC) beplan. 
Voyager Station sal tradisionele 'ruimtekos' soos gevriesdroogde roomys bedien terwyl hulle ook poog om ontspanningsruimtes vir aktiwiteite soos basketbal te hê, wat voordeel trek uit gewigloosheid in die ruimte. Maar die astronomiese prys wat gepaard gaan met ‘n ruimtereis, maak dit onmoontlik vir meeste mense om ‘n ruimtevakansie te oorweeg. Business Insider rapporteer dat die Voyager Station reeds besprekings het, maar dat dit jou R76 miljoen uit die sak sal jaag om vir drie dae oor te slaap. Die ORC-span hoop om eendag die koste soortgelyk aan 'n vaartkaartjie te verlaag. Lees meer hieroor op Astronomy se webblad
TEN LAASTE
Vir die vyfde Sondag in Paastyd word die tema van sing in die sleuteltekste beklemtoon. Volgens Woord en Fees se liturgiese voorstelle uit die tekste (Openbaring 21, Psalm 148 en Handelinge 11) word daar gefokus op die lofprysing en verheerliking van God, maar terselfdertyd ook op hernuwing. "Die hoop wat dit bring om te weet God kan nuut maak, is iets wat deur die liturgie gebruik kan word saam met lof aan hierdie Skepper-God."
Coenie Burger herinner in sy onlangse boek oor Openbaring (Oop deure: Wat Openbaring ons oor die kerk se lewe en roeping leer) dat dit ook aan werklike gemeentes geskryf is in ’n moeilike tyd in die kerk se bestaan. "Openbaring help ons, net soos daardie vroeë gelowiges, om ons broosheid en kwesbaarheid in die oë te kyk."
Klik hier om na Retief Burger se verwerking van Ek sien 'n nuwe hemel kom te luister.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.