Logo
4 Mei 2015

Beste Leser

SINODE 2015:
OMDAT ONS DIE EVANGELIE GLO, LEEF ONS MET HOOP

Al die gemeentes van die Wes-en-Suid-Kaap Sinode kom hierdie week by Goudini byeen as 'n vergadering van gemeentes - 'n sinode. Daar heers 'n atmosfeer van opwinding en afwagting onder die net meer as 700 mense wat hier byeen is.
Dit is inderdaad 'n voorreg om in so 'n pragtige omgewing bymekaar te kom. Ons verwagting is om 'n ontmoeting met God,
op Wie ons geloof en hoop gerig is (1 Pet 1:21), te hê.

Hiermee enkele hoofgebeure van die dag.
Braam Hanekom
1. Die begin ...
Dr Braam Hanekom is deur die Taakspan Sinode 2015 aangewys om die vergadering te open en te lei totdat ’n nuwe voorsitter verkies is. 

2. Afgevaardigdes en Konstituering
Elke kerkraad besluit maande voor die tyd wie hulle afvaardig na die sinode. Die afvaardiging bestaan uit al die predikante van 'n gemeente plus 'n kerkraadslid vir elke predikant. Hierdie name word ingestuur na die skriba van sinode en in die agenda opgeneem. Ons noem dit geloofsbriewe. Dit beteken elke lid kom met die mandaat van die gemeente na die sinode.
'n Volstrekte meerderheid (met ander woorde 50% +1) van die afgevaardigdes wie se geloofsbriewe vooraf ontvang is, moet teenwoordig wees by die vergadering om te konstitueer. Dan is dit 'n wettige vergadering en kan bindende besluite geneem word.
Nadat Braam die sinode wettig gekonstitueer verklaar het in terme van Kerkorde bepaling 33, het hy die vergadering met 'n gebed geopen.
Elektroniese stemming
3. Verkiesing van Moderatuur
Die verkiesing van die moderatuur (leierskap) van die vergadering geniet normaalweg 'n  hoë prioriteit, sodat so gou as moontlik met die agenda begin kan word.
Die moderatuur tree op as die dagbestuur van die moderamen van ons sinode.
Vanjaar word vir die eerste maal in ons sinode gebruik gemaak van 'n elektroniese stemproses. Dit word reeds met groot sukses elders in die korporatiewe omgewing ingespan en die proses is vooraf deeglik deur die Sinodale Taakspan Regte, onder voorsitterskap van Charl Stander (NG Die Parke in Kraaifontein) nagegaan om te verseker dat dit aan alle vereistes van die Kerkorde voldoen. 
Nelis Janse van Rensburg
3.1 Moderator
Die moderator tree op as die voorsitter van die moderamen van ons sinode.  
Vandag is ds Nelis Janse van Rensburg van die NG Gemeente Welgemoed as moderator aangewys.
Hiermee word interessante geskiedenis gemaak, aangesien Nelis sover bekend die enigste persoon in ons kerk is wat ook voorheen die voorsitter van 'n ander sinode was. Lees gerus hier verder ...

Nelis en Lucas Plaatjie
Nelis en Lucas Plaatjie
Nelis op besoek aan Nigerie
Nelis op besoek aan Nigerië
Frederick Marais
3.2 Assessor
Die assessor is die ondervoorsitter van die dagbestuur van die moderamen. Dr Frederick Marais (PSD: Gemeentebegeleiding op Stellenbosch) is vandag aangewys as assessor van ons sinode.
"Wat is die Drie-enige God se sending vir 'n kerk soos ons in hierdie tyd?" Dis die eerste vraag vir ons sinode in 'n tyd soos vandag. Al die bronne-belange van ons kerk moet net een saak dien: hoe word dit deel van die sending van ons kerk?" - Frederick nadat hy verkies is.
Quintus Heine
3.3 Aktuarius
Die aktuarius is die kenner van die kerkreg. 
Dit is aangenaam om aan te kondig dat dr Quintus Heine herkies is as aktuarius van die sinode, 'n taak wat hy die afgelope termyn reeds vervul het.
Quintus se kennis en passie vir hierdie harde werk - 'n diens aan die kerk - is vandag weer onderstreep tydens die vergadering.
"Mag dit wees dat ons ons wysheid bo alles in die Woord van God sal soek," is Quintus se wens vir ons sinode, maar ook vir ons kerk.

Elsje Buchner
3.4 Skriba
Na aandete is die stemming vir 'n nuwe skriba afgehandel.
Elsje Buchner (NG La Rochelle, Bellville) is die nuwe persoon in hierdie pos. 
Elsje was voorheen verbonde aan NG Lux Mundi (Oostelike Sinode).
Ons dra jou en jou nuwe taak aan die Here op, Elsje!

Coenie Burger
4. Missionale Kerk: Coenie Burger
In aansluiting by die dagtema van Missionale Kerkwees, het dr Coenie Burger vanaand die openingsgeleentheid waargeneem. Sy tema is " ... om hier en nou 'n missionale kerk te wees".
Hy verwys spesifiek na Handelinge. "Wat is die rol van die kerk in die wêreld? Die kerk moet die evangelie opneem en daarmee woeker - dit is God se plan vir die wêreld!"

5. Dinsdag op die Agenda
Môre op die agenda is die belangrike saak van Getuienis.
Ons sien daarna uit om onder meer vir proff Nelus Niemandt en Piet Naudé (sien foto's onder) te verwelkom om met ons te gesels oor missionale gemeentewees en die wêreld waarin ons kerk moet wees.
Dankie vir voorbidding hiervoor.
Nelus Niemandt Piet Naude
Goudini
6. Nuus uit die Sinode
Belangrike sake word deurentyd op Facebook en Twitter gekommunikeer aan belangstellendes. 
Enigeen kan inteken vir SinodeNuus deur 'n e-pos met 'n naam en e-posadres na kommunikasie@kaapkerk.co.za te stuur.
Like asseblief die sinode op Facebook by NGWesSuidKaap.
Volg gerus ook die gesprekke op Twitter by @WSKaap.

Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.