Kerke staan saam teen korrupsie
Kerke staan saam teen korrupsie
Lees deur internet, klik hier >>
28 Augustus 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Kerke staan saam teen korrupsie
In reaksie op die diepliggende en landwye korrupsie het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke bekendgemaak dat hulle in September die veldtog Anti-COVID-19-korrupsie loods. Die bekendstelling vind plaas met behulp van ‘n webinaar en aanlyn-erediens op Sondag 30 Augustus van 12:00 tot 14:00.

Mzwandile Molo skryf watter belangrike rol kerkleiers in hierdie moeilike tye speel en noem dat SARK se openbare verklarings teen COVID-19-korrupsie met ‘n gevoel van hoop deur die nasie ontvang is en dat daar na die SARK gekyk word om leierskap te verskaf. Lees sy volledige brief asook ‘n mediaverklaring hier

Gemeentes word aangemoedig om hierdie veldtog te ondersteun deur in te skakel vir die digitale gebedsdiens vir die land eerskomende Sondag om 12:00. Besoek die South African Council of Churches se Facebook-blad om die direkte uitsending van die diens te kyk. 

Kerkleiers word gevra om teen Vrydag 28 Augustus 18:00 met behulp van die volgende skakel te registreer om toegang tot die webinaar te verkry. Kerkleiers word aangemoedig om reeds teen 11:45 in te skakel, aangesien daar slegs kapasiteit vir 500 mense in die webinaar is. 

Wenke vir ouers: kinders se emosies
Kinders mag dalk sterk emosies ervaar in hierdie tyd van inperkingsmaatreëls te midde die COVID-19-pandemie. 
Spanning, frustrasie, depressie, geïrriteerdheid, hopeloosheid of bekommernis is voorbeelde van emosies wat tydens hierdie ongekende tyd in kinders se gemoedere kan fluktueer. 
Daarom deel DinkJeug enkele wenke wat kinders of tieners kan help om dit te hanteer. Hierdie tegnieke kan ook van hulp wees vir volwassenes. 
Klik hier om die wenke te besigtig. 
Diens vir God en die medemens
"Dit is die leuse waaraan studente van die Minnie Hofmeyr Kollege vir amper ‘n eeu gehoor gegee en hul plek as spoorwegmaatskaplike werkers, kindersorgwerkers, gemeentewerksters en kraamverpleegsters volgestaan het. 

Die ontstaansgeskiedenis van die Minnie Hofmeyr Kollege is op ‘n besondere wyse vervleg met die lewe van Minnie en ds Louw Hofmeyr (foto links bo): hulle enigste kind Jannie moes hulle binne ‘n uur nadat hy siek geword het op Kongwe, Nayassaland, aan die dood afstaan. Hulle het nie ander kinders gehad nie en God gevra om hulle hartseer en leegheid te vul met sy opdrag. “Jare later het die Here ‘n nuwe troetelkind in hul skoot gelê. Die Here het hulle toe op die nood van die Kleurlingbevolking in Wes-Kaapland gewys en terwyl hul in die VSA op reis was ‘n oplossing aangewys. Daar het Minnie  gesien hoedat christelike werkers onder hul eie mense werk. Dit het haar geïnspireer om ‘n skool in Suid-Afrika tot stand te bring waar meisies opgelei kan word om christelike maatskaplike werk onder hul eie mense te doen. In geloof het sy biddend voorgetrek en langs die kanaal van die Vroue-Sendingbond gewerk” (1975-brosjure, NG Kerk Argief).
Klik hier om meer oor die geskiedenis en werk van die kollege te lees. Met dank ontvang van die Argief wat hierdie reeks Voortvarende Vroue Voor 1930 ter herdenking van Vrouemaand saamgestel het.  Kloksgewys van links bo: Minnie en Louw Hofmeyr en hulle seun Jannie, 1931-studente Mathilda Sylvester (née Johannes)  en Susanna Opperman (née Albertus), 1990 klasfoto, die Minnie Hofmeyr Opleidingsentrum in Worcester, huishoudkunde en noodhulpklasse.
Plan vir haweloses in noordelike voorstede 
Die afgelope tyd het die Sentrum vir Publieke Getuienis heelwat nagedink oor hulle aanbod as gelowiges op die uitdaging van haweloosheid in die omgewing, spesifiek in Bellville, Durbanville en Kraaifontein. Verskeie vergaderings het met rolspelers plaasgevind en ‘n kort-, medium- en langtermyn strategie het begin vorm aanneem.
Die sentrum is deeglik bewus van die uitdagings en ook vrese wat by gemeentes bestaan om betrokke te raak by projekte rondom die huisvesting van haweloses. Tog wil hulle graag die volgende twee versoek aan gemeentes rig:
1. Ons benodig ‘n aantal gemeentes wat hul sale beskikbaar sal stel om op ‘n rotasiebasis haweloses te huisves. Dit sal vir ‘n maksimum van 3 nagte wees tydens erge stormweer. 'n Ooreenkoms is opgestel wat die gemeente beskerm en ook duidelik maak wat verwag word en wat nie verwag word nie. Klik hier om die ooreenkoms af te laai. Die dokument is beskikbaar in Afrikaans en Engels. 
2. Ons benodig ‘n “bank van vrywilligers” wat opgelei en dan genader kan word om vir beperkte ure diens te doen tydens hierdie geleenthede.
Die nie-regeringsorganisasie, MES, sal steeds al die koördinering doen, maar ons kan eenvoudig nie al die logistieke druk op hulle alleen plaas nie. Intussen is ons dankbaar om te sê dat ‘n aantal ander kerke in ons omgewing besig is om in te koop. Dit word dus ‘n heerlike ekumeniese oefening.
Rig enige navrae aan braam@kaapkerk.co.za
Verslegtende situasie in Zimbabwe
Van alle oorde hoor ons die afgelope maande hoe Zimbabwe se politieke krisis verdiep – blykbaar nou op ‘n daaglikse skaal. Ons hoor van vriende wat onregmatig in tronke beland, mense wat aangekla word van korrupsie as hulle ongerymdhede ontbloot en lidmate wat as gevolg van die gepaardgaande sosio-ekonomiese agteruitgang nou nog swaarder kry as voorheen. Getuienisaksie het gaan hoor hoe dit met ons familie daar gaan en het die volgende verslag van die algemene sekretaris van een van ons susterskerke daar, die CCAP Sinode van Harare, ontvang. Lees hier meer.
Foto-erkenning: Al Jazeera
Little Seeds leesgroepe soek steeds naam
Die sluitingsdatum vir Little Seeds ('n gesamentlike inisiatief van Badisa en Diaconia) se kompetisie om 'n nuwe naam vir hulle leesgroepe te kry, is verleng. Stuur asseblief jou voorstel/voorstelle per e-pos aan Nicola Vermeulen om vir lekker pryse in aanmerking te kom. Besoek hulle Little Seeds ECD se Facebook-blad vir handige lesplanne en wenke vir kleuters.
Ons getuienis voor en na COVID-19
Ons beleef die afgelope tyd dat gelowiges om ‘n verskeidenheid van redes ‘n onsekerheid beleef oor hulle getuienis oor die Woord en die boodskap van Christus. In kort, moet ons nog evangeliseer? Daarmee saam het COVID-19 verdere uitdagings, maar ook nuwe geleenthede, geskep.
Op Dinsdag 1 September 2020 om 11:30 gaan ‘n paar predikante in sinodale diens en kundiges saam gesels oor die bogenoemde onderwerp. 
Ons nooi graag kollegas en enige lid van jou getuieniskommissie uit na die Zoom-gesprek. Dit sal ‘n voorlopige en verkennende gesprek wees wat verder bou op die Sentrum vir Publieke Getuienis se eerste werkswinkels hiervan voor COVID-19, asook die boekie Vertel DRA DIE GOEIE NUUS. wat die sinode onlangs uitgebring het.
Indien jy belangstel om hierdie geleentheid by te woon, bevestig asseblief by Annelie sodat die skakel aan jou gestuur kan word.
EKOLOGIE
Ken jou grond
Volgens die Hoop en Versoening Trust is dit belangrik dat enigiemand wat van plan is om ernstig te raak oor tuinmaak, moet weet met watter grondtipe hulle te doen het. Dit maak nie saak hoe hard jy aan jou tuin werk of hoeveel tyd jy aan tuinmaak spandeer nie, al die noukeurige saai, verwydering van onkruid en aandagtige versorging kan tevergeefs wees as jy nie op hoogte is van jou grondtipe nie.
Grond voorsien plante van die nodige voedingstowwe, water en suurstof wat hulle benodig vir gesonde groei en ontwikkeling. Maar elke stuk grond het sy eie mengsel van minerale, organiese en anorganiese stowwe wat grootliks bepaal watter gewasse, struike of bome suksesvol gekweek kan word.
Daar is ses hoofgrondgroepe: klei, sand, slik, turfagtig, kalk en leem. Elkeen het verskillende eienskappe en dit is belangrik om onderskeid te kan tref tussen die groep sodat jy die beste keuses vir jou tuin kan maak. Klik hier vir meer inligting oor die verskillende tipes grond of kyk die onderstaande video vir ‘n maklike manier waarop jy self kan toets watter grond in jou tuin voorkom. 
Eko-wenk: Seisoen van die Skepping
Die Groen Span se leier Dewald Hoffmann deel hierdie week opwindende nuus oor die jaarlikse Seisoen van die Skepping wat op 1 September begin. Hiermee ‘n aanvullende liturgiese hulpbron vir preke in hierdie tyd, sowel as nuus oor die ekumeniese Together4Creation projek en die Hoop en Versoening Trust se GROEI-projek.
Weskus spog met pragtige blomme
Die Wes-Kaap is werklik geseënd met ongelooflike fauna en flora wat die besoek aan die provinsie se nasionale parke beslis die moeite werd maak. Die Weskus se blomseisoen vind jaarliks tussen Augustus en September plaas en die Weskus Nasionale Park het onlangs bevestig dat hulle oop sal wees vir 2020 se blomseisoen.
Besoekers aan die park sal gedurende hierdie twee maande 'n groot verskeidenheid blomme sien: van madeliefies tot vygies! Die park skryf op hulle webblad dat groot blommevelde in die Seeberg/Mooimaak en Postberg gebiede te sien is.
Klik hier vir foto’s wat besoekers van hierdie jaar se asemrowende natuurskou gedeel het.  
GEMEENTENUUS
Die verskil tussen hoor en luister
Stellenbosch Moedergemeente-Kruiskerk tree in gesprek met De La Bat-gemeente vir Dowes, as deel van hulle jongste preekreeks, SIN-TUIG. Johan van der Merwe het vandeesweek gesels oor die verlies van die gehoorsintuig en wou by ons Dowe lidmate uitvind hoe hul as Dowes luister en vir God ervaar.
Niël de Vaal, ‘n lidmaat van De La Bat, vertel dat Dowes met hulle oë luister. Hy gebaar dat gesigsuitdrukkings, gebaretaal en liplees baie belangrike vaardighede is om te bemeester as jy doof is. Hy noem ook dat net omdat hy doof is, dit nie beteken dat hy nie vir God kan hoor nie. Hy hoor God se stem deur dit wat hy sien.
Chris Wheeler, predikant by die gemeente vir Dowes, vertel dat horendes baie by Dowes kan leer oor hoe om te luister. “Dowes leer vir ons om meer as net met ons ore te luister. As jy regtig wil luister na wat om jou aangaan, of ingestel wil wees op wat God vir jou sê, moet jy meer as net jou ore gebruik. Jy kan ook met jou oë, neus en hande luister.” 
Klik gerus hier om na die onderhoud te kyk wat Kruiskerk met gemeentelede van De La Bat gevoer het.  
V.l.n.r. Chris Wheeler, Johan van der Merwe, Marsanne Neethling en Niël De Vaal
Helderberg beradingsentrum
Die Helderberg Beradingsentrum, deel van Helderberg Uitreik, streef daarna om ‘n ruimte te skep waar individue, gesinne en families van die gemeenskap emosionele ondersteuning kan ontvang en bemagtig word in die proses van heelwording.

‘n Uitgebreide groep vrywillige pastorale hulpwerkers met besondere gawes, gerugsteun deur professionele persone, stel hulself beskikbaar om te werk aan hierdie missie deur te luister, om te gee, te ondersteun en hoop te bring.
Onderwerpe wat aangespreek kan word tydens beradingsgesprekke sluit in rou, uitdagings van ouerskap, stres, angs, uitbranding en ander uitdagings in die werksplek, verhoudings, trauma en egskeiding.
Volg hulle op Facebook vir gereelde motivering en jy is welkom om uit te reik as jy 'n ondersteunende gesprek benodig. Besoek gerus hulle webtuiste vir meer inligting. 
Gordonsbaai deurry-geleentheid
Vandeesweek het die gemeente van Gordonsbaai ‘n deurry-geleentheid vir families gehou. Verskeie stasies is opgestel om te hoor hoe dit met die lidmate gaan. Besoekers was by die hek deur die verwelkomingspan gegroet en daarna het hulle beweeg na die stasie waar die gemeente se predikante gewag het om met hulle te gesels en te hoor hoe dit met hulle gaan.
By die volgende stasie is werk- en leesboekies aan lidmate uitgedeel wat gebruik kan word vir gesinne se huisgeloof. Die materiaal help ook gesinne om sinvol na te dink oor hoe hulle God tydens hierdie tyd van COVID ervaar. Die volgende stasie was beman deur die gemeente se gebedsbediening en lidmate was die geleentheid gegee om vir mekaar te bid of selfs om vir voorbidding vir hulle gesin te vra.  
Gemeentelede was aangemoedig om self hulle eie musiekbediening te wees en musiek vanuit die motors te speel terwyl hulle hierdie geleentheid geniet het. 
Erik Brits gee die volgende terugvoer op die gemeente se Facebook-blad: “Ek is oorweldig deur die 41 motors wat kom deelneem het en die gemeenskap van geloof wat beleef is. Ons het agtergekom dat mense na die samesyn van die gemeente verlang en hulle wil kerk toe kom. Dié geleentheid het ons hoop gegee dat ons gemeente sal 'survive'.”
Omdat hierdie geleentheid so groot sukses was, beoog die gemeente om in die nabye toekoms ‘n soortgelyke byeenkoms te hou. 
Vredendal se inrydiens
Anton Verwey, predikant by Vredendal-gemeente deel die nuus oor hulle eerste inrydiens. "Ons het Sondag 23 Augustus ons eerste inry-erediens gehou. Hoewel die gemeente sedert die begin van die tyd van inperking via YouTube eredienste aanlyn gebied het, het die groeiende behoefte om as gelowiges saam te kom, die behoefte na so diens versterk. Na afloop van die diens is ʼn opname van die erediens steeds op YouTube gelaai vir diegene wat dit nie kon bywoon nie. Ons glo dat dit die eerste van baie sulke dienste sal wees."
PREDIKANTENUUS
In Memoriam: Pieter Pieterse
“Oranjemund se dominee, Pieter Pieterse, het verlede Saterdag na middagete gaan lê, en nie weer wakker geword nie.” So het die sinode van Namibië berig oor Pieter Pieterse se dood op 8 Augustus 2020.

Sy studentevriend en kollega Pieter van der Walt bring die volgende huldeblyk. "Pieter was ‘n alumnus van die Fakulteit Teologie in Stellenbosch. Sy dood het gekom as ‘n groot skok vir sy vrou, dogter, ma, suster, vriende, kennisse en gemeente.

Sy studentemaats het hom “George” genoem. Hierdie bynaam het hy in 1982 tydens sy eerstejaar gekry toe hy die skoollewe van Viljoenskroon vir die destydse PUK verruil het. Hy het begin met onderwys, maar in sy tweedejaar geskuif na teologie, want die gemeentebediening het hom getrek. ‘n Klompie van ons Matie-studente het hom tydens ‘n Juniemaand-skoolverlaterskamp in die Magaliesberge leer ken, waar ons saam as groepleiers opgetree het. Kort voor lank het ons die Vrystater Kaap toe gelok. Hy het sy kweekskooljare op Stellenbosch deurgebring.

Pieter Pieterse was ‘n geliefde persoon - nie net in sy eie kring nie, maar ook veel wyer. Hy het maklik met mense oor die weg gekom. Hy het ‘n groot hart gehad en belanggestel in ander se stories. Hy wou homself nie té ernstig neem nie. Hy sou meestal die geselskap probeer inkleur en opvrolik.

Sy portuurgroep het nie die indruk gehad dat klasse en boeke sy eerste liefde was nie. Tog sou hy hulle verras met sy deelname aan gesprekke oor God, met sy persoonlike belangstelling in kerkwees en sy strewe na sinvolle predikantwees. Pieter wou min anders doen met sy lewe as om die evangelie te dra, mense te versorg en te dien.

Pieter Pieterse se bediening het wye draaie gemaak. Hy was vir korter en langer periodes in Bellville, Witbank, Laingsburg, Pofadder en Oranjemund.

In April laat hy weet dat hy en sy vrou Ruth in ‘n hotelkamer in Rome in kwarantyn sit op pad terug van hulle een groot droomvakansie. Hulle het vele weke in die hotelkamer gesit. Hy stuur ‘n voice note. Dieselfde humor as altyd. Hy kleur die storie in. Hy draai die gesprek om, want hy wil ons in Suid-Afrika bemoedig.

Pieter sal onthou word vir sy besorgdheid oor mense wat deur die hoofstroom verwerp word. Ons sal aan hom dink, en onthou dat ons voete op die grond is … nog nie in die hemel nie."


Ons innige simpatie aan sy familie, vriende en kollegas.
GEBEDSVERSOEK
Klik om na Drieankerbaai se straatgebed te luister.
VAKATURES
Leraarspos: Victoria-Wes
Die gemeente van Victoria-Wes adverteer tans 'n 3-jaar vaste termyn leraarspos. 
Hierdie plattelandse gemeente het spesifieke bedieningsbehoeftes na binne, maar wil ook, op voetspoor van Jesus, ‘n verskil in die gemeenskap maak. 
Klik hier vir meer besonderhede. Aansoeke sluit op 7 September.
Huis Wittekruin: Algemene assistent
Aansoeke word ingewag vir 'n tweetalige kandidaat by Huis Wittekruin in Vredenburg. 'n Geldige bestuurslisensie en matrieksertifikaat is vereistes. Klik hier vir die volledige posbeskrywing. Aansoeke sluit 4 September. 
Goue Aar Tehuis: Ingeskrewe en geregistreerde verpleegkundiges
Goue Aar Tehuis in Malmesbury adverteer tans die twee bogenoemde poste - vir 'n ingeskrewe verpleegkundige en geregistreerde verpleegkundige. Kandidate moet by die Suid-Afrikaanse Verplegingsraad geregistreer wees. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit op 1 September.   
Huis Wittekruin: Geregistreerde, ingeskrewe en assistent verpleegkundiges
Huis Wittekruin in Vredendal het tans die bogenoemde beskikbare vakatures. Registrasie by SANC is 'n moet. Die suksesvolle kandidate moet so spoedig as moontlik kan begin. Meer inligting oor die onderskeie betrekkings kan hier gelees word. Aansoeke sluit 11 September. 
Huis Uitsig: Bestuurder 
Aansoeke van gemotiveerde persone met 'n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes word vir hierdie betrekking in Parow-Noord ingewag. Die ideale kandidaat beskik oor 'n geskikte naskoolse kwalifikasie en 'n geldige rybewys. Lees die volledige posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 4 September.
Herberg kinder- en jeugsorgsentrum: Kinderversorger
Die Herberg kinder- en jeugsorgsentrum in Robertson is op soek na 'n kinderversorger. Die suksesvolle kandidaat moet beskik  oor ‘n FETC Sertifikaat in Kinderversorging. 'n Geldige kode-B rybewys is ook 'n vereiste. Klik hier vir meer besonderhede. Aansoeke sluit 11 September. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Geroep om te dien
Hoe voel die maatskaplike werkers van môre oor die probleme van vandag? Wat motiveer hulle en speel geloof ’n rol in hulle loopbaankeuse? Kerkbode het met sewe studente aan Hugenote Kollege op Wellington gesels waar hulle besig is met ’n Baccalaureus in Maatskaplike Werk. Lees hier meer.

Interaktiewe tydlyn: 200 jaar van Bybelwerk in Suid-Afrika
Kom leer meer oor die ontstaan en geskiedenis van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 
Mother Earth, Mother Africa
African women have always had a prominent place and role in shaping the religious, economic, political, intellectual and cultural life of African societies. The authors in this volume recount religious events and experiences from individual perspectives as they are unfolding on the continent. Are the relevance of African women’s insights being erased by African patriarchal social systems?
Join the discussion on how indigenous communities draw on traditional resources in creative and innovative ways to survive environmental degradation and hear the perspectives from African womanist studies, ecotheology and African indigenous religions.
Click here to join the online launch and discussion on 28 August. The launch will also be streamed on YouTube and Facebook.
ALGEMEEN
Leer meer oor emosionele logika
Volgens maatskaplike werker en afrigter Annette de la Porte, bied Emosionele Logika ‘n raamwerk om die logika agter jou emosies te begryp.  "Wanneer jy die nuttige doel van jou emosies leer verstaan, kan jy nuwe keuses maak en dit as ‘n uitnodiging vir groei benut."
Haar inleidingskursus word op 11 September van 08:30 tot 16:00 via Zoom aangebied (aanbieding en handleiding in Engels).  Op 16 September word daar gekyk na praktyk-gerigte sessies en hoe die gereedskap van Emosionele Logika op die internet vir afstandberading gebruik kan word. 

Registreer teen 4 September per e-pos of kontak 083 794 3537. Besoek die webblad vir meer inligting en registrasievorms. 
Kursus vir spirituele begeleiers
Die kursus word in sewe blokke van drie dae oor ’n tydperk van 15 maande aangebied. Die klem lê op ervaring en inoefening. Dit val onder toesig van die NG Ring van Suidoos-Pretoria en is ook met Excelsus gekoppel. Predikante kan 150 VBO-punte verdien. Daar is sewe aanbieders betrokke. 

Aansoeke sluit 30 September 2020 en die kursus begin op 22 Februarie 2021. Besoek die webblad vir meer inligting of kontak Willem Nicol per e-pos of skakel 083 966 7831.
Raakgelees: Skilpad op soek na liefde
“Eensame man (50) op soek na ‘n vroulike metgesel wat daarvan hou om gate te grou, tamaties te eet en baie stadige wandelinge in die tuin te neem…”
Hierdie is nie presies jou tipiese lonely hearts advertensie nie, maar Fred is nie juis jou tipiese eensame hart nie. 
Dié 50-jarige man is eintlik glad nie 'n man nie, maar 'n skilpad en die eienaardige advertensie is deur sy besorgde eienaar Angela Matchett geskryf.
Angela verduidelik dat sy glo dat haar troeteldier desperaat is vir een of ander geselskap van sy eie soort omdat hy voortdurend in die tuin ronddwaal om vriende te maak met skulpe of ander dopvormige voorwerpe.
Die volledige advertensie, wat op sosiale media gedeel is, lui dat Fred "'n geharde wyfie benodig wat lief is vir die buitelewe en gewoond is om in 'n tuin te woon."
Kyk gerus die video (onder) vir meer inligting oor Fred se soeke na liefde! 
VIRTUELE KUIERKANSE
Proteahoogte se aanlynmark
NGK Proteahoogte se eerste aanlynmark bied 'n heerlike verskeidenheid lekkernye en geskenke aan. Loer gerus op www.proteahoogtemark.co.za vir die jongste winskopies! Aankope stop elke week om 12:00 op 'n Donderdagmiddag sodat die stalletjies hulle produkte gereed kan kry om afgehaal te word daardie Saterdag tussen 10:00 en 14:00 by die kerk.
Die aanlynmark is 24uur aanlyn en alle produkte wat ná 'n Donderdag 12:00 gekoop word, kan die volgende Saterdag afgehaal word. 
Heidekoppie hou basaar
September is basaartyd vir die gemeente van Heidekoppie. Jy sal dalk kan vra: hoe hou ‘n mens basaar as daar maar net 50 mense mag wees? Jy maak allerhande ander oulike planne! Heidekoppie het vir die maand wat voorlê watertand wegneemetes, ‘n virtuele pretloop, ‘n foto-skattejag en hulle gewilde gevriesde pasteie wat bestel kan word.
Bestellings vir die wegneemetes moet verkieslik deur Google Forms gedoen word. 
TEN LAASTE
Die inperking duur voort en onsekerheid bly klop. Waar, wanneer, hoe lank nog?
'n Onbekende skrywer het hierdie aangrypende Corona-verwerking van Psalm 121 geskryf. Ons plaas 'n kort uittreksel, maar klik gerus hier om die volledige verwerking te lees. 
Ek kyk op na die berg wat so stil-stil in my wêreld kom staan het.
Waar sal my hulp vandaan kom?
Wie gaan my help om verby hierdie berg te kom?
My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
My hulp is van Hom wat die son elke oggend wakker maak en vir die maan sê hoe laat hy moet gaan slaap.
My hulp is van Hom wat vir die see 'n lyn in die sand trek en vir die branders sê waar hulle mag breek.

Met dank ontvang van Karlie Liebenberg, wat tans haar praktiese jaar by Franschhoek-gemeente doen. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.